Die Koning Van Die Eeue
“Vrede vir Julle”
BY Jerusalem aangekom, het die twee dissipels die stad deur die oos- poort binnegegaan, wat met feestye snags altyd oop was. Die huise was donker en stil, maar die reisigers baan hulle weg deur die nou strate in die lig van die opkomende maan. Hulle gaan na die bovertrek waar Jesus die tyd die laaste aand vóór Sy dood deurgebring het. Daar, het hulle geweet, sou hulle hulle broeders kry. Laat soos dit reeds is, weet hulle dat die dissipels nie sou gaan slaap voordat hulle met sekerheid geweet het wat van die liggaam van hulle Here geword het nie. Die deur tot die vertrek was gesluit. Hulle klop om binne- gelaat te word, maar hulle hoor niks. Alles is Stil. Hulle roep hulle name uit; die deur word oopgemaak, hulle gaan binne, maar nog Iemand, onsigbaar, gaan saam met hulle in. Weer is die deur gesluit om spioene buite te hou. KE 819.1
Die reisigers vind almal in n toestand van opgewondenheid. Die stemme van diegene in die saal word gehoor in lof en danksegging, en hulle sê, “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.” En toe het die twee reisigers, nog half uitasem weens die haas waarmee hulle die terugreis afgelê het, die wonderbaarlike verhaal vertel van hoe Jesus aan hulle verskyn het. Hulle was net klaar, en sommige het openlik verklaar dat hulle dit nie kan glo nie, want dit het ongelooflik geklink, toe daar skielik 'n ander Persoon voor hulle staan. Alle oë is gevestig op die Vreemdeling. Niemand het geklop om binnegelaat te word nie. Geen voetstappe is gehoor nie. Die dissipels is ontstel, en hulle wonder wat dit kan beteken. Toe hoor hulle 'n stem wat niemand anders s n was as die van hulle Meester nie. Duidelik en helder kom die woorde van Sy lippe, “Vrede vir julle.” KE 819.2
“Toe het hulle geskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na My hande en My voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle Sy hande en voete.” KE 820.1
Hulle het Sy hande en voete gesien met die merke van die wrede spykers daarin. Hulle het Sy stem herken, wat anders was as enige ander stem wat hulle nog ooit gehoor het. “En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.” “En die dissipels was bly toe hulle die Here sien.” Geloof en vreugde het die plek ingeneem van ongeloof, en met gevoelens wat nie in woorde kon uitgedruk word nie, het hulle hulle verrese Heiland herken. KE 820.2
By die geboorte van Jesus het die engel aangekondig, Vrede op aarde, in die mense n welbehae. En nou, by Sy eerste verskyning aan die dissipels, ná Sy opstanding, het die Heiland hulle toegespreek met die woorde, “Vrede vir julle.” Jesus is altyd gereed om vrede te spreek tot siele wat gebuk gaan onder die las van vrees en twyfel. Hy wag op ons om die deur van ons hart vir Hom oop te maak en te sê, Bly by ons. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na Hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Openb. 3: 20. KE 821.1
Die opstanding van Jesus was 'n tipe van die laaste opstanding van almal wat in Hom ontslaap het. Die gelaat van die verrese Heiland, Sy gedrag, en Sy spraak was alles welbekend aan Sy dissipels. Soos Jesus uit die dode opgestaan het, so sal ook diegene wat in Hom ontslaap het, weer opstaan. Ons sal ons vriende weer ken, net soos die dissipels Jesus geken het. Hulle mag misvorm gewees het, of siek, of mismaak in hierdie aardse lewe, maar hulle sal opstaan in volmaakte gesondheid en welgeskapenheid; hulle identiteit sal in hulle verheerlikte liggaam volkome bewaar bly. Dan sal ons ten volle ken, net soos ons ten volle geken is. 1 Kor. 13: 12. In gesigte wat glinster van die lig wat skyn van die aangesig van Jesus, sal ons die gelaatstrekke herken van diegene wat ons liefhet. KE 821.2
Toe Jesus Sy dissipels ontmoet het, het Hy hulle herinner aan die woorde wat Hy tot hulle gespreek het vóór Sy dood, naamlik, dat alles vervul moet word wat aangaande Hom geskryf is in die wet van Moses, die profete en in die Psalms. “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” En Hy sê vir hulle: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan; en bekering en vergewing van sondes in Sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuie van hierdie dinge.” KE 822.1
Die dissipels het die aard en omvang van hulle werk begin verstaan. Hulle moes aan die wêreld die wonderbare waarhede verkondig wat Christus aan hulle toevertrou het. Die gebeurtenisse van Sy lewe, Sy dood, en Sy opstanding, die profesieë wat na daardie gebeurtenisse verwys het, die heiligheid van die wet van God, die verborgenhede van die verlossingsplan, die mag van Jesus om sondes te vergewe — hulle was getuies van al hierdie dinge, en hulle moes dit aan die wêreld bekendmaak. Hulle moes die evangelie van vrede en verlossing deur bekering en die krag van die Heiland verkondig. KE 822.2
“En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. En as julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; en as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Die Heilige Gees was toe nog nie ten volle uitgestort nie, want Christus was nog nie verheerlik nie. Die voller uitstorting van die Heilige Gees het plaasgevind eers ná die hemelvaart van Christus. Nie alvorens dit ontvang was, kon die dissipels hulle opdrag vervul om die evangelie aan die wêreld te verkondig nie. Maar die Gees is toe gegee vir 'n spesiale doel. Voordat die dissipels hulle offisiële pligte kon vervul in verband met die kerk, het Christus die Heilige Gees op hulle geplaas. Hy het 'n baie heilige pand aan hulle toevertrou, en Hy wou hulle onder die indruk bring van die feit dat hierdie werk nie gedoen kon word sonder die Heilige Gees nie. KE 822.3
Die Heilige Gees is die asem van geestelike lewe in die siel. Die gawe van die Heilige Gees is die meedeling van die lewe van Christus. Dit besiel die ontvanger met die eienskappe van Christus. Alleen diegene wat so deur God geleer is, diegene wat die werking van die Gees in die binneste het, en in wie se lewe die lewe van Christus geopenbaar is, moet arbei as verteenwoordigende manne om te dien namens die kerk. KE 823.1
“As julle die mense hulle sondes vergewe,” het Christus gesê, “dan word dit hulle vergewe; . . . as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Christus gee hier aan niemand die reg om die oordeel oor ander te vel nie. In die Bergpredikasie word dit ten sterkste afgekeur. Dit is God se alleenreg. Maar op die georganiseerde kerk berus die verantwoordelikheid vir sy indiwiduele lede. Teenoor diegene wat in die sonde val, het die kerk 'n plig, om hulle te waarsku, te onderrig, en waar moontlik, te herstel. “Weerlê, bestraf, vermaan,” sê die Here, “in alle lankmoedigheid en lering.” 2 Tim. 4: 2. Bestraf verkeerde dinge getrou. Waarsku elke siel wat in gevaar verkeer. Laat niemand toe om homself te bedrieg nie. Noem die sonde op sy regte naam. Verklaar duidelik wat God gesê het oor leuentaal, Sabbatsont- heiliging, diefstal, afgodediens, en alle ander sondes. “Die wat sulke dinge doen [sal] die koninkryk van God nie beërwe nie.” Gal. 5: 21. As hulle volhard in die sonde, sal die oordeel wat u uit Gods Woord aangehaal het, in die hemel op hulle uitgespreek word. Deur die sonde te verkies, verwerp hulle Christus; die kerk moet wys dat hy nie hulle dade goedkeur nie, of hy sal self sy Here onteer. Die kerk moet van die sonde sê wat Christus daarvan sê. Hy moet met die sonde handel soos God voorgeskryf het, en sy optrede sal in die hemel bekragtig word. Hy wat die gesag van die kerk verag, verag die gesag van Christus self. KE 823.2
Maar hierdie prentjie het ook sy blink kant. “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe.” Laat ons dit nie vergeet nie. In die vermaning van sondaars, moet hulle op Christus gewys word. Die herders moet sagmoedig sorg vir die kudde van die Here. Hulle moet diegene wat sondig, vertel van die vergewende genade van die Heiland. Hulle moet die sondaar aanmoedig om hom te bekeer, en te glo in die Een wat hom kan vergewe. Laat hulle sê, op gesag van Gods Woord, “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh. 1: 9. Almal wat hulle bekeer, het die versekering, “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede met die voete vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” Miga 7: 19. KE 823.3
Die kerk moet die bekering van die sondaar met dankbaarheid aanneem. Die boetvaardige moet uit die duisternis van ongeloof gelei word tot die lig van geloof en geregtigheid. Die bewende hand moet geplaas word in die liefdevolle hand van Jesus. So n vergifnis sal in die hemel bekragtig word. KE 824.1
Alleen in hierdie sin het die kerk die mag om die sondaar vry te spreek. Die vergifnis van sondes kan alleen verkry word deur die Verdienstes van Christus. Aan geen mens, of groep mense, is die mag gegee om die siel van skuld te bevry nie. Christus het aan Sy dissipels opdrag gegee om vergifnis van sondes in Sy Naam te preek onder alle nasies; maar hulleself het nie die mag gekry om die vlek van die sonde uit te wis nie. Die Naam van Jesus is die enigste Naam “onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word.” Hand. 4: 12. KE 824.2
Toe Jesus die eerste maal aan die dissipels daar in die bo-vertrek verskyn het, was Thomas nie by hulle nie. Hy het die berigte van die ander gehoor, en voldoende bewys ontvang dat Jesus opgestaan het; maar duisternis en ongeloof het sy hart vervul. Terwyl hy gehoor het hoe die dissipels vertel van die verskynings van die verrese Heiland, het dit hom slegs in groter wanhoop gedompel. As Jesus werklik uit die dode opgestaan het, kon daar geen hoop op 'n letterlike aardse koninkryk meer wees nie. Dit het sy hoogmoed gekwes om te dink dat sy Meester Hom sou openbaar aan al die ander dissipels in sy afwesigheid. Hy het hom voorgeneem om nie te glo nie, en vir 'n hele week was hy swartgallig, en die teenstellende hoop en geloof van sy broeders het dit vererger. KE 824.3
In daardie tyd het hy herhaaldelik gesê, “As ek nie in Sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in Sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Hy wou nie deur die oë van sy broeders sien of glo op gesag van hulle getuienis nie. Hy het sy Here vuriglik liefgehad, maar hy het toegelaat dat jaloesie en ongeloof van sy hart besit neem. KE 824.4
n Aantal van die dissipels het nou daardie bo-vertrek hulle tydelike tuiste gemaak, en in die aand het almal, behalwe Thomas, daar vergader. Een aand het Thomas besluit om saam met die ander te vergader. Ondanks sy ongeloof, het hy 'n floue hoop gekoester dat die goeie nuus tog waar mag wees. Terwyl die dissipels besig was met hulle aandete, het hulle die bewyse bespreek wat Christus hulle gegee het in die profesieë. “En Jesus het gekom terwyl die deur gesluit was en het onder hulle gestaan en gesê: Vrede vir julle!” KE 825.1
Hy het Thomas aangespreek en gesê, “Bring jou vinger hier, en kyk na My hande; en bring jou hand en steek dit in My sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” Hierdie woorde het bewys dat Hy bekend was met die gedagtes en woorde van Thomas. Hierdie ongelowige dissipel het geweet dat elkeen van sy mededissipels Jesus vir 'n week nie gesien het nie. Hulle kon die Meester dus nie van sy ongeloof vertel het nie. Hy het die Een voor Hom herken as sy Here. Hy wou nie verdere bewys hê nie. Sy hart het gebons van vreugde, en hy het aan Jesus se voete neergeval en uitgeroep. “My Here en my God.” KE 825.2
Jesus het sy belydenis aangeneem, maar hom saggies bestraf vir sy ongeloof: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” Die geloof van Thomas sou Christus meer behaag het as hy gewillig was om te glo op die getuienis van sy broeders. As die wêreld vandag die voorbeeld van Thomas moes volg, sou niemand geglo het tot verlossing nie; want almal wat Christus aanneem, moet dit doen op die getuienis van ander. KE 826.1
Baie wat die neiging het om te twyfel, maak die verskoning dat hulle sou geglo het as hulle die getuienis gehad het wat Thomas van sy mededissipels ontvang het. Hulle besef nie dat hulle nie slegs daardie getuienis het nie, maar nog baie meer. Mense wat soos Thomas wag totdat alle rede vir twyfel eers uit die weg geruim is, sal nooit hulle begeerte verwesenlik sien nie. Geleidelik word hulle volslae ongelowiges. Diegene wat hulleself gewoond maak om altyd op die donker kant te kyk, en murmureer en kla, weet nie wat hulle doen nie. Hulle saai die saad van twyfel, en daar sal vir hulle 'n oes van twyfel wees. In 'n tyd wanneer geloof en vertroue so nodig is, sal baie ontdek dat hulle magteloos is om te hoop en te glo. KE 826.2
In Sy handelwyse met Thomas het Jesus 'n les aan al Sy navolgers gegee. Sy voorbeeld toon hoe ons moet handel met diegene wie se geloof swak is, en wat hulle twyfel op die voorgrond stoot. Jesus het Thomas nie verwyt nie, ook het Hy nie met hom gestry nie. Hy het Homself geopenbaar aan die een wat getwyfel het. Thomas was baie onredelik toe hy die voorwaardes gestel het waarop Hy sou glo, maar Jesus, deur Sy liefde en sagmoedigheid, het al die struikelblokke uit die weg geruim. Deur te stry, sal mens nooit ongeloof oorwin nie, want die persoon sal sy stelling verdedig en steeds met nuwe ekskuse kom. Maar laat Jesus, in Sy liefde en genade geopenbaar word as die gekruisigde Heiland, en dan sal die belydenis gehoor word van baie lippe wat eers onwillig was, “My Here en my God.” KE 826.3