Die Koning Van Die Eeue

83/88

“Waarom Ween Jy?”

DIE vroue wat by die kruis van Christus gestaan het, het gewag vir die ure van die Sabbat om verby te gaan. Op die eerste dag van die week, baie vroeg, is hulle weer na die graf met die speserye en salf wat hulle vir die Heiland se liggaam berei het. Hulle het nie daaraan gedink dat Hy miskien uit die dode sou opstaan nie. Die son van hulle hoop het ondergegaan, en die nag het in hulle harte toegesak. Terwyl hulle geloop het, het hulle gepraat van Christus se werke van barmhartigheid en Sy woorde van vertroosting. Maar Sy woorde, “Ek sal julle weer sien” Joh. 16: 22, het hulle nie onthou nie. KE 806.1

Onbewus van wat juis toe plaasgevind het, het hulle naby die tuin gekom, en gevra, terwyl hulle geloop het, “Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?” Hulle het geweet dat hulle nie die klip sou kon verwyder nie, maar nogtans het hulle voortgegaan. Skielik is die hemele verlig met 'n heerlikheid wat nie gekom het van die opkomende son nie. Die aarde het gebewe. Hulle het gesien dat die groot klip weg was. Die graf was leeg. KE 806.2

Die vroue het nie almal uit dieselfde rigting na die graf gekom nie. Maria Magdalena was die eerste om die plek te bereik; en toe sy sien dat die klip weggerol was, het sy gehaas om die dissipels te gaan verwittig. In die tussentyd het die ander vroue ook daar aangekom. Daar het 'n lig rondom die graf geskyn, maar die liggaam van Jesus was nie daar nie. Terwyl hulle daar getalm het, het hulle skielik besef dat hulle nie alleen was nie. Daar het 'n jongman in glinsterende klere by die graf gesit. Dit was die engel wat die klip weggerol het. Hy het die gedaante van 'n mens aangeneem sodat hy nie miskien die vriende van Jesus sou verskrik nie. Maar die lig van die hemelse heerlikheid het nog rondom hom geskyn, en die vroue was bang. Hulle het om- gedraai om te vlug, maar die engel se woorde het hulle weer laat stilstaan. “Moenie vrees nie,” het hy gesê, “want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir Sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode.” Weer het hulle in die graf gekyk, en weer het hulle die wonderbaarlike nuus gehoor. Daar was nog 'n ander engel in menslike gedaante, en hy vra, “Waarom soek julle die Lewende by die dode? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.” KE 806.3

Hy het opgestaan, Hy het opgestaan! Die vroue herhaal die woorde oor en oor. Nou is die speserye nie meer nodig nie. Die Heiland lewe, Hy is nie dood nie. Hulle het nou onthou dat toe Hy van Sy dood gepraat het, Hy ook gesê het dat Hy weer sou opstaan. Wat 'n dag was dit vir die wêreld! Haastig is die vroue daar van die graf af weg “met vrees en groot blydskap en gehardloop om dit vir Sy dissipels te vertel.” KE 808.1

Maria het nie die goeie nuus gehoor nie. Sy het na Petrus en Johannes gegaan met die droewige tyding, “Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. Die dissipels het na die graf gehardloop en dit gevind soos Maria gesê het. Hulle het die grafdoeke sien lê, maar het nie hulle Here gevind nie. Selfs hier was ook 'n bewys dat Hy opgestaan het. Die grafdoeke was nie sommer daar neergegooi nie, maar elkeen was sorg- vuldig opgevou en afsonderlik neergesit. Johannes het “gesien en geglo.” Hy het toe nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dode moes opstaan nie; maar hy het nou Jesus se woorde onthou wat Sy opstanding voorspel het. KE 808.2

Dit was Christus self wat die grafdoeke so sorgvuldig opgevou het. Toe die magtige engel na die graf neergedaal het, het daar nog een by hom aangesluit wat met sy groep waggehou het oor die Here se liggaam. Toe die engel uit die hemel die klip weggerol het, het die ander een die graf binnegegaan en die doeke van die liggaam van Jesus losgemaak. Maar dit was die Heiland self wat elkeen opgevou en op sy plek gesit het. In die oë van Hom wat sowel ster as atoom beheers, is daar niks wat onbelangrik is nie. Ordelikheid en volmaaktheid word in al Sy werk gesien. KE 809.1

Maria het Petrus en Johannes na die graf gevolg; toe hulle terug is na Jerusalem, het sy agtergebly. Toe sy weer in die leë graf kyk, is haar hart met droefheid vervul. Toe sy kyk, het sy die twee engele gesien, een by die hoof en een by die voete van die plek waar Jesus gelê het. “Vrou, waarom ween jy?” het hulle haar gevra. Sy het geantwoord, “Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” KE 809.2

Toe het sy weggedraai, selfs van die engele, omdat sy gemeen het dat sy iemand moes vind wat haar kon sê wat hulle gedoen het met die liggaam van Jesus. Nou het n ander stem haar aangespreek, “Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy?” Deur haar trane het Maria die gedaante van 'n man gesien, en menende dat dit die tuinier was, het sy gesê, “Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” As daar miskien gereken is dat hierdie ryk man se graf 'n te geëerde graf was vir Jesus, sou sy self 'n plek vir Hom soek. Daar was 'n graf wat Christus se eie stem leeggemaak het, die graf waar Lasarus gelê het. Sou dit dan nie as graf vir haar Here kan dien nie? Sy het gevoel dat dit vir haar in haar droefheid, 'n baie groot troos sou wees as sy Sy gekruisigde liggaam kon versorg. KE 809.3

Maar nou het Jesus in Sy eie welbekende stem aan haar gesê, “Maria!” Nou het sy geweet dat dit nie 'n vreemdeling was wat haar aangespreek het nie, en toe sy omdraai het sy voor haar die lewende Christus gesien. In haar blydskap het sy vergeet dat Hy gekruisig was. Sy het vorentoe gespring asof sy Sy voete wou omhels, en sy het uitgeroep, “Rabboeni!” Maar Christus het Sy hand opgehef en gesê, Moet My nie ophou nie, “want Ek het nog nie opgevaar na My Vader nie; maar gaan na My broers en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en My God en julle God.” Maria is toe weg na die dissipels met die blye boodskap. KE 809.4

Jesus het geweier om die hulde van Sy mense te ontvang voordat Hy die versekering gehad het dat Sy offer deur die Vader aangeneem is. Hy het na die hemel opgevaar, en van God self het Hy die versekering verkry dat Sy versoening vir die sondes van die mense voldoende was, en dat almal deur Sy bloed die ewige lewe mag deelagtig word. Die Vader het Sy verbond met Christus bekragtig, naamlik dat Hy boetvaardige en gehoorsame mense sou aanneem, en sou liefhê net soos Hy Sy Seun liefhet. Christus moes Sy werk klaarmaak, en Sy belofte vervul om “sterwelinge skaarser [te] maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” Jes. 13: 12. Alle mag in hemel en op aarde is aan die Vors van die Lewe gegee, en Hy het teruggekom na Sy volgelinge in 'n wêreld van sonde, sodat Hy aan hulle Sy krag en heerlikheid kon meedeel. KE 810.1

Terwyl die Heiland in Gods teenwoordigheid was, en gawes vir Sy kerk ontvang het, het die dissipels gedink aan die leë graf, en getreur en geween. Die dag wat n dag van blydskap was vir die ganse hemel, was vir die dissipels 'n dag van onsekerheid, verwarring en verbystering. Hulle ongeloof in wat die vroue vertel het, was bewys van hoe laag hulle geloof wel gedaal het. Die nuus van Christus se opstanding was so anders as wat hulle verwag het, dat hulle dit nie kon glo nie. Dit kan nie waar wees nie, het hulle gedink. Hulle het soveel gehoor van die leerstellings en die sogenaamde wetenskaplike teorieë van die Sadduseërs, dat die indruk wat hulle gehad het van die opstanding uit die dode, baie vaag was. Hulle het feitlik nie geweet wat die opstanding uit die dode beteken nie. Hulle was nie in staat om hierdie groot onderwerp te begryp nie. KE 810.2

“Maar gaan,” het die engele aan die vroue gesê, “sê vir Sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” Die engele was by Christus as Sy skutengele gedurende Sy aardse lewe. Hulle was getuies van Sy verhoor en kruisiging. Hulle het Sy woorde aan Sy dissipels gehoor. Dit is bewys deur hulle boodskap aan die dissipels, en dit moes hulle oortuig het. Sulke woorde kon alleen gekom het van die bood- skappers van hulle verrese Here. KE 810.3

“Sê vir Sy dissipels en vir Petrus,” het die engele gesê. Sedert die dood van Christus was Petrus baie hartseer. Sy skandelike verloëning van die Here, en die Here se blik van liefde en angs, het hom maar gedurig voor die gees gebly. Van al die dissipels het hy die bitterste gely. Aan hom word die versekering gegee dat Sy boetvaardigheid aangeneem, en sy sonde vergewe is. Hy word by name genoem. KE 811.1

“Sê vir Sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien.” Al die dissipels het Jesus verlaat, en die boodskap om Hom weer te ontmoet het almal ingesluit. Hy het hulle nie verwerp nie. Toe Maria Magdalena hulle meegedeel het dat sy die Here gesien het, het sy hulle ook die boodskap gegee om Hom in Galilea te ontmoet. En die boodskap is vir die derde maal aan hulle gegee. Nadat Hy opgevaar het na die Vader, het Jesus aan die ander vroue verskyn, en gesê, “Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp Sy voete en aanbid Hom; En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel My broeders dat hulle na Galilea moet gaan; en daar sal hulle My sien.” KE 811.2

Christus se eerste werk op aarde, ná Sy opstanding, was om Sy dissipels te oortuig van Sy onverminderde liefde en agting vir hulle. Om aan hulle bewys te gee dat Hy hulle lewende Heiland was, dat Hy die bande van die graf verbreek het, en dat die vyand, die dood, Hom nie langer kon hou nie; en om aan hulle te openbaar dat Hy nog dieselfde hart van liefde het as toe Hy met hulle was as hulle geliefde Leraar, het Hy keer op keer aan hulle verskyn. Hy het die bande van liefde nog nouer getrek. Gaan sê aan My broers, het Hy gesê, dat hulle My in Galilea moet ontmoet. KE 811.3

Nadat hulle hierdie bepaalde boodskap gehoor het, het die dissipels begin dink aan Christus se woorde aan hulle, wat Sy opstanding voorspel het. Maar selfs toe nog was hulle nie bly nie. Hulle kon nie ont- slae raak van hulle twyfel nie. Selfs nadat die vroue verklaar het dat hulle die Here gesien het, wou die dissipels nie glo nie. Hulle het gemeen dat dit maar 'n illusie was. KE 811.4

Dit het geskyn of moeilikheid op moeilikheid gekom het. Op die sesde dag van die week het hulle hulle Meester sien sterf; op die eerste dag van die volgende week is hulle beroof van Sy liggaam, en hulle word daarvan beskuldig dat hulle dit gesteel het om die mense te bedrieg. Hulle het gevrees dat hulle nooit die valse beskuldigings sou kon verwyder wat teen hulle opgehoop is nie. Hulle het die vyandigheid van die priesters en die woede van die mense gevrees. Hulle het verlang na die teenwoordigheid van Jesus wat hulle altyd uit elke moeilikheid gehelp het. KE 811.5

Dikwels het hulle die woorde herhaal, “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” Eensaam, en neerslagtig, het hulle gedink aan Sy woorde, “As hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur?” Lukas 24: 21; 23: 31. Hulle het saamgekom in die bo-vertrek, en die deur op grendel gesit, wetende dat die lot wat hulle geliefde Leraar getref het, hulle ook enige tyd mag tref. KE 812.1

En al die tyd kon hulle hulle verbly het in die wete dat hulle Heiland opgestaan het. In die tuin het Maria gestaan en ween terwyl Jesus feitlik aan haar sy gestaan het. Haar oë was so verblind deur trane dat sy Hom nie gesien het nie. En die harte van die dissipels was so vol droefheid dat hulle nie die engele se boodskap, of die woorde van Christus self, geglo het nie. KE 812.2

Hoeveel is daar nie wat vandag nog doen wat daardie dissipels gedoen het nie! Hoeveel sê wanhopig soos Maria, “Hulle het die Here“ . . . weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie! Tot hoeveel kan die Heiland se woorde gespreek word, “Waarom ween jy? Wie soek jy?” Hy is dig aan hulle sy, maar hulle oë is so deur die trane verblind dat hulle Hom nie kan sien nie. Hy spreek tot hulle,maar hulle verstaan nie. KE 812.3

O dat die geboë hoof weer opgehef mag word, dat die oë weer mag oopgaan om Hom te sien, en dat die ore weer mag luister na Sy stem! “Gaan haastig, sê vir Sy dissipels: Hy het opgestaan. Sê vir hulle om nie na Josef se nuwe graf te kyk wat met 'n groot klip toegemaak, en met die Romeinse seël verseël is nie. Christus is nie daar nie. Moenie na die leë graf kyk nie.“ Moenie treur soos diegene wat hopeloos en hulpeloos is nie. Jesus lewe, en omdat Hy lewe, sal ons ook lewe. Laat uit dankbare harte, en met lippe, aangeraak deur heilige vuur, die blye lied weergalm, Christus het opgestaan! Hy lewe om vir ons in te tree. Gryp hierdie hoop aan; dit sal die siel vashou soos n hegte, beproefde anker. Glo, en u sal die heerlikheid van God sien KE 812.4