Die Koning Van Die Eeue

82/88

Die Here het Opgestaan

DIE nag van die eerste dag van die week was amper verby. Die donkerste uur, net voor die dageraad, het aangebreek. Christus was nog 'n gevangene in Sy nou graf. Die groot klip was nog op sy plek en die Romeinse seël ongeskonde; die Romeinse wagte was op hulle poste. En daar was ook onsigbare wagte. 'n Leërskare van bose engele het rondom die plek gestaan. As dit moontlik was, sou die vors van die duisternis met sy bose leërmagte die graf waarin die Seun van God was, vir ewig verseël gehou het. Maar 'n hemelse leërskare het die graf omring. Engele wat baie magtig is, het waggehou by die graf om die Vors van die Lewe te verwelkom. KE 798.1

“En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal.” In die wapenrusting van God het hierdie engel die hemelse howe verlaat; die strale van Gods heerlikheid het voor hom uitgegaan en sy pad verlig. “Sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagters gebewe en soos dooies geword.” KE 798.2

En nou, priesters en owerstes, waar is nou julle wagte? Dapper soldate wat nooit gevrees het vir menslike mag nie, was nou soos gevangenes, geneem sonder swaard of spies. Die aangesig wat hulle aanskou, is nie die gelaat van 'n sterflike soldaat nie; dit is die gelaat van die magtigste engel van die Here se leërskare. Hierdie boodskap- per het die plek gevul waaruit die Satan geval het. Dit was hy wat op die vlaktes van Betlehem Christus se geboorte aangekondig het. Die aarde het gebewe toe hy naderkom; die leërskare van duisternis het gevlug, en toe hy die klip wegrol, was dit asof die hemel neergedaal het na die aarde toe. Die soldate sien hoedat hy die klip wegneem asof dit sommer 'n klippie was, en hulle hoor hom roep: Seun van God, kom uit; U Vader roep U! Hulle sien Jesus uit die graf uitkom, en hulle hoor Hom uitroep oor die geskeurde graf, “Ek is die opstanding en die lewe.” Toe Hy daar verskyn in majesteit en heerlikheid, het die engeleskaar laag neergebuig in aanbidding voor die Verlosser, en Hom verwelkom met lofliedere. KE 798.3

Daar was 'n aardbewing toe Christus Sy lewe afgelê het, en daar was weer 'n aardbewing op die oomblik toe Hy dit in oorwinning opgeneem het. Hy wat die dood en die graf verslind het, het uit die graf voortgekom as oorwinnaar terwyl die aarde gebewe het, en dit gedonder en geblits het. Wanneer Hy weer na hierdie aarde terugkom, sal “nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.” “Die aarde sal waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n hangmat.” “Die hemel sal inmekaar gerol word soos 'n boek;” “die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” “Maar die Here sal 'n toevlug wees vir Sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.” Heb. 12: 26; Jes. 24: 20; 34: 4; 2 Pet. 3: 10; Joël 3: 16. KE 799.1

By die dood van Jesus het die soldate die aarde gesien, gehul in duisternis op die middag; maar by die opstanding het hulle gesien hoe die lig van die engele die nag verlig, en hulle het die hemelbewoners hoor sing in groot blydskap en oorwinning: U het die Satan en die magte van die duisternis verslaan; U het die dood verslind in oorwinning! KE 799.2

Christus het verheerlik uit die graf verskyn, en die Romeinse wagte het Hom gesien. Hulle oë was gevestig op die gesig van Hom wat hulle so 'n klein rukkie tevore beskimp en bespot het. In hierdie verheerlikte Wese het hulle die gevangene aanskou wat hulle in die gereg- saal gesien het, die een vir wie hulle die doringkroon gevleg het. Dit is Hy wat gedwee voor Pilatus gestaan het, Sy liggaam stuk- kend gesny soos Hy gestriem is. Dit is Hy wat aan die kruis genael is, en oor wie die priesters en owerstes, vol selftevredenheid, hulle hoofde geskud en gesê het, “Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie.” Matt. 27: 42. Dit is Hy wat in Josef se nuwe graf gelê is. Die dekreet van die hemel het die gevangene vrygestel. Al sou berge op berge op Sy graf gestapel gewees het, sou hulle Hom nie kon belet het om uit te kom nie. KE 799.3

By die aanskouing van die engele en die verheerlikte Heiland, het die Romeinse wagte teen die grond geval en soos dooies geword. Toe hulle die hemelse stoet nie langer kon sien nie, het hulle opgestaan, en so gou as wat hulle bene hulle kon dra, na die poort van die tuin gehardloop. Waggelende soos dronk manne het hulle na die stad gehaas, en aan almal wat hulle teëgekom het, die wonderbaarlike nuus vertel. Hulle was op weg na Pilatus, maar hulle berig is na die Joodse gesaghebbendes geneem, en die owerpriesters en die owerstes het hulle laat roep om eers voor hulle te verskyn. Daardie soldate het 'n baie vreemde voorkoms gehad. Bewende van vrees, en bleek, het hulle getuig van die opstanding van Christus. Die soldate het alles vertel, net soos hulle dit gesien het; hulle het nie tyd gehad om iets te versin nie, maar het net die waarheid gepraat. Met beswaarde tonge het hulle gesê, Dit was die Seun van God wat gekruisig is; ons het die engel Hom hoor aankondig as die Majesteit van die hemel, die Koning van heerlikheid. KE 800.1

Die gesigte van die priesters was soos die van dooie mense. Kajafas het geprobeer om te praat. Sy lippe het beweeg, maar daar het geen klank uitgekom nie. Die soldate wou net die raadsaal verlaat, toe 'n stem hulle beveel het om te bly. Kajafas se stem het weer teruggekom. Wag, wag, het hy gesê. Vertel aan niemand die dinge wat julle gesien het nie. KE 800.2

Toe is daar 'n valse berig in die monde van die soldate gelê. “Julie moet sê,” het die priesters gesê, “Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.” Hier het die priesters 'n bietjie te ver gegaan. Hoe kon die soldate sê dat die dissipels die liggaam gesteel het terwyl hulle geslaap het? As hulle geslaap het, hoe kon hulle dit weet? En as die dissipels werklik die liggaam van Christus gesteel het, sou die priesters nie die eerste gewees het om hulle te veroordeel nie? Of, as die wagte by die graf geslaap het, sou die priesters hulle nie dadelik by Pilatus gaan verkla het nie? KE 800.3

Dit was 'n vreeslike gedagte vir die soldate om vir hulleself die beskuldiging op die hals te haal dat hulle op hulle poste geslaap het. Dit was iets wat met die dood strafbaar was. Behoort hulle dan valse getuienis te gee, die mense te bedrieg, en ook hulle eie lewens in gevaar te stel? Het hulle dan nie getrou waggestaan nie? As hulle dan vir geld gaan lieg, hoe sou hulle daarna in hulle verhoor vaar? KE 802.1

Om die getuienis wat hulle gevrees het stil te maak, het die priesters belowe om toe te sien dat die wagte niks oorkom nie, en hulle het gesê, dat Pilatus net so min soos hulleself so 'n gerug versprei wou hê. Die Romeinse soldate het hulle eerlikheid aan die Jode verkoop vir geld. Hulle het voor die priesters verskyn met 'n ontstellende boodskap van waarheid; hulle is daar weg met geld, en 'n leuenagtige verslag in hul monde wat vir hulle opgestel is deur die priesters. KE 802.2

In die tussentyd het die berig van Christus se opstanding Pilatus bereik. Alhoewel Pilatus verantwoordelik was vir die oorlewering van Christus om te sterf, het hy hom nie baie daaroor gekwel nie. Terwyl hy die Heiland onwillig veroordeel het, en met 'n gevoel van jammerte, het sy gewete hom nou eers regtig begin kwel. Vreesbevange het hy hom in sy huis toegesluit, en besluit om niemand te spreek nie. Maar die priesters het daar ingedring, die storie vcrtel wat hulle opgemaak het, en by hom aangedring om die pligsversuim van die wagte oor die hoof te sien. Vóór hy sy toestemming gegee het, het hy eers die wagte privaat ondervra. Hulle, wat vir hulle eie veiligheid gevrees het, het met die hele waarheid voor die dag gekom, en Pilatus het van hulle gehoor wat gebeur het. Hy het geen verdere stappe in die saak gedoen nie, maar van daardie tyd af het hy geen vrede in sy gemoed gehad nie. KE 802.3

Toe Jesus in die graf gelê is, het die Satan getriomfeer. Hy het hom verstout om te hoop dat die Here nie weer Sy lewe sou opneem nie. Hy het aanspraak gemaak op die Here se liggaam, en hy het sy wag rondom die graf opgestel in 'n poging om Christus daarin gevange te hou. Hy was woedend toe sy engele gevlug het by die aankoms van die hemelse boodskapper. Toe hy Christus seëvierend sien uitkom, het hy geweet dat sy koninkryk tot 'n einde sou kom, en dat hy uiteindelik sal moet sterf. KE 802.4

Toe die priesters Christus om die lewe gebring het, het hulle hulle- self die werktuie van die Satan gemaak. Nou was hulle heeltemal in sy mag. Hulle was gevang in 'n strik waaruit hulle nie kon loskom nie, en hulle moes maar hulle stryd teen Christus voortsit. Toe hulle die gerug van Sy opstanding hoor, het hulle die woede van die mense gevrees. Hulle het gevoel dat hulle eie lewens in gevaar was. Die enigste hoop vir hulle was om te bewys dat Christus 'n bedrieër was deur Sy opstanding te loën. Hulle het die soldate omgekoop, en Pilatus oorgehaal om stil te bly. Hulle het die leuenagtige gerugte wyd en syd versprei. Maar daar was getuies wat hulle nie kon stilmaak nie. Baie het gehoor wat die soldate oor Christus se opstanding gesê het. En van die dode wat saam met Christus opgestaan het, het aan baie verskyn en verklaar dat Hy opgestaan het. Die priesters het verslae ontvang van persone wat die verrese dode gesien en hulle getuienis gehoor het. Die priesters en owerstes het gedurig in vrees verkeer dat hulle miskien, terwyl hulle op straat is, of in hulle eie private wonings, Christus van aangesig tot aangesig mag ontmoet. Hulle het gevoel dat daar geen veiligheid vir hulle was nie. Slotte en versperrings sou maar skrale beskerming wees teen die Seun van God. Dag en nag het daardie vreeslike toneel in die geregsaal hulle voor die gees gebly, toe hulle uitgeroep het, “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom!” Matt. 27: 25. Die gedagte aan daardie toneel sou nooit uit hulle geheues uitgewis kan word nie. Nooit meer sou hulle rustig op hulle kussings kon slaap nie. KE 803.1

Toe die stem van die magtige engel wat gesê het, U Vader roep U, by Christus se graf gehoor is, het die Heiland voortgekom uit die graf deur die lewe wat in Homself was. Nou is die waarheid van Sy woorde bewys, “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek My lewe aflê om dit weer op te neem. . . . Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.” Nou is die profesie wat Hy tot die priesters en owerstes gespreek het, vervul: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” Joh. 10: 17, 18; 2: 19. KE 803.2

Oor die geskeurde graf van Josef het Jesus seëvierend uitgeroep, “Ek is die opstanding en die lewe.” Hierdie woorde kon alleen deur die Godheid gespreek word. Alle geskape wesens lewe deur die wil en krag van God. Hulle is afhanklike ontvangers van die lewe van God. Van die hoogste seraf tot die nederigste lewende skepsel, ontvang almal lewe van die Bron van die Lewe. Alleen een wat gelyk is aan God kon sê, Ek het mag om My lewe af te lê, en Ek het mag om dit weer op te neem. In Sy Godheid het Christus die mag gehad om die bande van die dood te verbreek. KE 803.3

Christus het uit die dode opgestaan as die eersteling van diegene wat ontslaap het. Hy was die teenbeeid van die eerstelingsgerf, en Sy opstanding het plaasgevind op die juiste dag toe die gerf voor die Here gehef is. Vir meer as duisend jaar is hierdie seremonie elke jaar nagekom. Van die graanlande is die eerste ryp are versamel, en wanneer die mense opgegaan het na Jerusalem vir die Paasfees, is die eerstelingsgerf voor die Here gehef as dankoffer. Eers ná hierdie seremonie kon hulle die sekel insteek, en die graan in gerwe bind. Die gerf wat aan die Here gewy is, het die oes voorgestel. So ook was Christus, die eersteling, die verteenwoordiger van die groot geestelike oes wat ingesamel sal word vir die koninkryk van God. Sy opstanding was die tipe en die pand van die opstanding van al die regverdige dode. “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.” 1 Thess. 4: 14. KE 804.1

Toe Christus opgestaan het, het Hy 'n menigte gevangenes uit die graf gebring. Die aardbewing tydens Sy dood het hulle grafte oop- geskeur, en toe Hy opgestaan het, het hulle saam met Hom uitgekom. Hulle was diegene wat medewerkers van God was, en wat ten koste van hulle eie lewens vir die waarheid getuig het. Nou sou hulle getuies wees vir Hom wat hulle uit die dode opgewek het. KE 804.2

Tydens Sy bediening het Christus die dode opgewek. Hy het die seun van die weduwee van Nain, die dogtertjie van die owerste, en vir Lasarus opgewek. Maar hulle is nie met die onsterflikheid beklee nie. Na hulle opwekking, was hulle nog aan die dood onderworpe. Maar diegene wat uit die graf voortgekom het by Christus se opstanding, is opgewek tot die ewige lewe. Hulle het saam met Hom opgevaar as trofeë van Sy oorwinning oor die graf en die dood. Hulle, het Christus gesê, is nie langer die gevangenes van die Satan nie; Ek het hulle losgekoop. Ek het hulle uit die graf gebring as die eerstelinge van My krag, om saam met My te wees waar Ek is, en om nooit meer die dood of droefheid te smaak nie. KE 804.3

Hulle het in die stad gegaan, aan baie verskyn, en gesê, Christus het uit die dode opgestaan, en ons het saam met Hom opgestaan. So is die heilige waarheid van die opstanding onsterflik gemaak. Die verrese heiliges het getüig van die waarheid van die woorde, “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan.” Hulle opstanding was 'n illustrasie van die vervulling van die profesie, “Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.” Jes. 26: 19. KE 804.4

Vir die gelowige is Christus die opstanding en die lewe. In ons Heiland is die lewe wat verlore is deur die sonde, herstel; want Hy het lewe in Homself om lewendig te maak wie Hy wil. Hy is beklee met die reg om die onsterflikheid te gee. Die lewe wat Hy in Sy mensheid afgelê het, neem Hy weer op en gee dit aan die mensheid. “Ek het gekom”, het Hy gesê, “dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” ” Hy wat My vlees eet en My bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Joh. 10: 10; 4: 14; 6: 54. KE 805.1

Vir die gelowige is die dood maar 'n geringe saak. Christus spreek daarvan asof dit nie van veel betekenis is nie. “As iemand My woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie,” hy sal “die dood in die ewigheid nie smaak nie.” Vir die Christen is die dood maar n slaap, n oomblik van stilte en duisternis. Die lewe is verborge met Christus in God, en “wanneer Christus wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Joh. 8: 51, 52; Kol. 3: 4. KE 805.2

Die stem wat aan die kruis uitgeroep het, “Dit is volbring,” is deur die dode gehoor. Dit het die mure van die grafte deurdring, en die slapendes geroep om op te staan. So sal dit ook wees wanneer die stem van Christus van die hemel gehoor sal word. Daardie stem sal die grafte binnedring en hulle oopsluit, en die dode in Christus sal opstaan. Tydens die opstanding van die Heiland is 'n paar grafte geopen, maar by Sy tweede koms sal al die dierbare dode Sy stem hoor, en hulle sal uitkom tot 'n heerlike, onsterflike lewe. Dieselfde mag wat Christus uit die dode opgewek het, sal ook Sy kerk opwek en dit saam met Hom verheerlik bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. KE 805.3