Die Koning Van Die Eeue

81/88

ln Josef se Graf

EINDELIK het Jesus gerus. Die lang dag van skande en marteling het ten einde geloop. Die laaste strale van die ondergaande son het die Sabbat ingelei, en die Seun van God het stil gelê in Josef se graf. Sy werk gedaan, en met Sy hande in vrede gevou, het Hy gerus gedurende die heilige ure van die Sabbat. KE 786.1

In die begin het die Vader en die Seun op die Sabbat gerus ná Hulle skeppingswerk. Ná die “hemel en die aarde met hulle ganse leërmag” voltooi was Gen. 2:1, het die Skepper en al die hemelse wesens hulle verbly in die betragting van die heerlike toneel. “Die moresterre . . . en al die seuns van God” het saam gejubel en gejuig. Job 38: 7. Nou het Jesus gerus van Sy verlossingswerk; en alhoewel diegene wat Hom op die aarde liefgehad het, bedroef was, was daar blydskap in die hemel. Heerlik in die oë van die hemelse wesens was die belofte van die toekoms. 'n Herstelde skepping, 'n verloste geslag wat, omdat die sonde oorwin is, nooit kan val nie — dit, die gevolge van Christus se voltooide werk, het God en die engele gesien. Die dag waarop Christus gerus het, is vir altyd verbind met hierdie toneel. Want Sy werk is volkome; en daar is gesien “dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan.” Deut. 32: 4; Pred. 3: 14. Wanneer die tyd kom vir die “wederoprigting van alle dinge waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete Hand.” 3: 21, sal die skepping-Sabbat, die dag waarop Jesus gelê en rus het in Josef se graf, nog die dag van rus en blydskap wees. Die hemel en die aarde sal saam juig wanneer alle vlees “elke week op die Sabbat” Jes. 66: 23, met blydskap in aanbidding neerbuig voor God en die Lam. KE 786.2

In die slottonele van die kruisiging, is daar nuwe bewys gegee van die vervulling van profesie, en daar is opnuut getuig van die Godheid van Christus. Toe die duisternis om die kruis opgehef, en die Heiland se sterwenswoorde geuiter is, is daar onmiddellik weer 'n ander stem gehoor wat sê, “Waarlik, Hy was die Seun van God.” Matt. 27: 54. KE 788.1

Hierdie woorde is nie met 'n fluisterstem gespreek nie. Alle oe is gedraai in die rigting waarvandaan hulle gekom het. Wie het gepraat? Dit was die kaptein, die Romeinse soldaat. Die goddelike lydsaamheid van die Heiland, en Sy skielike dood, met die woorde van oorwinning op Sy lippe, het 'n indruk gemaak op hierdie heiden. In die verbryselde, gebroke liggaam wat daar aan die kruis gehang het, het die kaptein die gestalte van die Seun van God herken. Hy kon nie nalaat om sy geloof te bely nie. So is daar weer bewys gegee dat ons Verlosser die moeitevolle arbeid van Sy siel sou sien. Op die dag toe Hy gesterf het, het drie manne, wat grootliks van mekaar verskil het, hulle geloof betuig, naamlik die kaptein van die Romeinse wag, die een wat die kruis van die Heiland gedra het, en die een wat gesterf het aan die kruis langs Hom. KE 788.2

Dit het aand geword, en 'n bonatuurlike stilte het geheers op Golgota. Die skare is uiteen, en baie is terug na Jerusalem, met 'n heeltemal ander gees as wat hulle daardie more gehad het. Baie het uit nuuskierigheid gaan kyk na die kruisiging, en nie omdat hulle Christus gehaat het nie. Maar hulle het tog die beskuldigings van die priesters geglo, en Christus beskou as 'n misdadiger. Onder 'n onna- tuurlike opwinding het hulle saam met die gepeupel teen Hom geskreeu. Maar toe die aarde in duisternis gehul is, en hulle aangekla deur hulle eie gewete daar gestaan het, het hulle skuldig gevoel aan 'n groot onreg. Daar is geen geskerts of spotlag gehoor in daardie vreeslike duisternis nie; en toe die duisternis opgehef is, is hulle in stilte na hulle huise terug. Hulle was oortuig dat die aanklagte van die priesters vals was, en dat Jesus geen bedrieër was nie; 'n paar weke later toe Petrus op Pinksterdag gepreek het, was hulle onder die duisende wat hulle tot Christus bekeer het. KE 788.3

Maar die Joodse leiers is nie verander deur die dinge wat hulle gesien het nie. Hulle haat vir Jesus het nie afgekoel nie. Die duisternis wat die aarde bedek het by die kruisiging, was nie digter as dié wat die harte van die priesters en owerstes nog bedek het nie. By Sy geboorte het die ster Christus geken en die wyse manne na die krip gelei waar Hy gelê het. Die hemelse leërskare het Hom geken en het Sy lof gesing oor die vlaktes van Betlehem. Die see het Sy stem geken en Sy bevel gehoorsaam. Siekte en die dood het Sy gesag erken, en hulle slagoffers tot Hom vrygelaat. Die son het Hom geken, en het by die aanskouing van Sy doodsangs sy gesig van lig verberg. Die rotse het Hom geken, en in stukke geskeur op Sy geroep. Die lewenlose natuur het Christus geken, en getuig van Sy Godheid. Maar die priesters en owerstes van Israel het die Seun van God nie geken nie. KE 789.1

Die priesters en owerstes het nie gerus nie. Hulle het hulle plan volvoer om Christus om die lewe te bring; maar die tevredenheid van oorwinning wat hulle verwag het, het ontbreek. Selfs in die uur van hulle skynbare sege, was hulle baie onrustig oor wat daarna mag gebeur. Hulle het die uitroepe gehoor, “Dit is volbring.” “Vader, in U hande gee Ek My gees oor.” Joh. 19: 30; Lukas 23: 46. Hulle het die rotse sien skeur, en die geweldige aardbewing gevoel, en hulle was onrustig en ongemaklik. KE 789.2

Hulle was jaloers op Christus se invloed by die mense toe Hy nog gelewe het; hulle was jaloers op Hom selfs in Sy dood. Hulle het die gestorwe Christus meer gevrees, baie meer gevrees, as die lewende Christus. Hulle wou nie hê dat die aandag van die mense verder gevestig moes word op die gebeurtenisse by Sy kruisiging nie. Hulle het die resultate van die dag se werk gevrees. Onder geen omstan- dighede sou hulle toelaat dat Sy liggaam op die Sabbat aan die kruis hang nie. Die Sabbat was nou aan kom, en dit sou die Sabbat ontheilig as die liggame daar aan die kruis gebly het. Met daardie ekskuus het van die vooraanstaande Jode Pilatus genader met die versoek dat die dood van die gekruisigdes verhaas moes word, sodat hulle liggame verwyder kon word vóór die son ondergaan. KE 789.3

Pilatus wou net so min hê dat die liggaam van Jesus aan die kruis moes bly. Ná sy toestemming verkry is, is die bene van die twee diewe gebreek om hulle dood te verhaas; maar daar is gevind dat Jesus alreeds dood was. Die ongevoelige soldate se harte is versag deur wat hulle van Christus gehoor en gesien het, en hulle wou nie Sy bene breek nie. So is daar, in die offer van die Lam van God, voldoen aan die voorskrifte van die wet van die Paasfees, wat gelui het: “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die more toe of 'n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.” Numeri 9: 12. KE 790.1

Die priesters en die owerstes was verbaas om te vind dat Christus reeds dood was. Die dood aan die kruis was 'n langdurige proses; en dit was moeilik om vas te stel wanneer die dood ingetree het. Dit was iets ongehoords vir 'n persoon om binne ses uur ná die kruisiging te sterf. Die priesters wou seker maak dat Jesus werklik dood was, en op hulle voorstel het 'n soldaat sy spies in die Heiland se sy gesteek. Uit die wond wat gemaak is, het daar twee verskillende strome gevloei, die een bloed en die ander water. Dit is opgemerk deur almal wat daar gestaan het, en Johannes het dit duidelik beskryf. Hy sê: “Een van die soldate het met 'n spies in Sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.” Joh. 19: 34-37. KE 790.2

Ná die opstanding het die priesters en owerstes die gerug versprei dat Christus nie aan die kruis gesterf het nie, maar dat Hy net flou geword, en later weer bygekom het. 'n Ander gerug het gelui dat dit nie 'n werklike liggaam van vlees en been was wat in die graf gelê is nie, maar iets soos 'n liggaam. Die handelwyse van die Romeinse soldate bewys dat dit pure leuens was. Hulle het nie Sy bene gebreek nie, omdat Hy reeds dood was. Om die priesters tevrede te stel, het hulle in Sy sy gesteek; as Hy toe nie reeds dood was nie, sou hierdie wond dadelik Sy dood veroorsaak het. KE 790.3

Maar dit was nie die spies, of die foltering aan die kruis wat die dood van Jesus veroorsaak het nie. Daardie geroep “met 'n groot stem” Matt. 27: 50; Lukas 23: 46 op die oomblik van die dood, die stroom van water en bloed uit Sy sy, is bewys dat Hy aan 'n gebroke hart gesterf het. Sy hart is gebreek ten gevolge van Sy gemoedsangs. Hy is gedood deur die sonde van die wêreld. KE 790.4

Met die dood van Christus het die hoop van Sy dissipels vergaan. Hulle het Sy toe oë, Sy hangende hoof, Sy met bloed-gekoekte hare, Sy deurboorde hande en voete aanskou, en hulle neerslagtigheid was on- beskryflik. Tot op die laaste dag het hulle nie geglo dat Hy sou sterf nie; hulle kon nie glo dat Hy regtig dood was nie. Oorweldig deur droefheid, het hulle nie gedink aan Sy woorde wat juis hierdie toneel beskryf het nie. Niks wat Hy gesê het, het hulle nou vertroos nie. Al wat hulle gesien het, was die kruis met sy bebloede slagoffer. Die toekoms het donker en hopeloos geskyn. Hulle geloof in Jesus het vergaan, maar nooit het hulle hulle Here liefgehad soos nou nie. Nog nooit het hulle Sy waarde so besef, en hulle behoefte aan Sy teen- woordigheid so erg gevoel nie. KE 791.1

Selfs in die dood was Christus se liggaam baie dierbaar. Hulle het verlang om Hom 'n waardige begrafnis te gee, maar hulle het nie geweet hoe om dit te doen nie. Hoogverraad teen die Romeinse regering was die misdaad waarvoor Christus tereggestel is, en persone wat vir hierdie misdaad om die lewe gebring is, is begrawe in 'n begraafplaas spesiaal afgesonder vir sulke misdadigers. Die dissipel Johannes, met die vroue van Galilea, het by die kruis gebly. Hulle wou nie die liggaam van hulle Here agterlaat om gehanteer te word deur die gevoellose soldate, en in 'n skandgraf begrawe te word nie. Maar hulle kon dit nie verhoed nie. Hulle sou geen guns ontvang van die Joodse owerheid nie, en by Pilatus het hulle geen invloed gehad nie. KE 791.2

In hierdie nood het Josef van Arimethea en Nikodemus die dissipels te hulp gekom. Albei hierdie manne was lede van die Sanhedrin, en hulle was bekend aan Pilatus. Altwee was welgestelde en invloedryke manne. Hulle sou toesien dat die liggaam van Jesus op eerbare wyse begrawe word. KE 791.3

Josef het onbevrees na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Toe het Pilatus vir die eerste maal verneem dat Jesus reeds dood was. Teenstrydige berigte het hom bereik aangaande die gebeurtenisse in verband met die kruisiging, maar die feit dat Christus reeds dood was, is met opset van hom weerhou. Pilatus is gewaarsku deur die priesters en owerstes dat Christus se dissipels bedrog mag pleeg in verband met Sy liggaam. Nadat hy Josef se versoek gehoor het, het hy die kaptein laat roep wat in bevel by die kruis was, om met sekerheid te hoor of Jesus dood was. Van hom het hy ook n beskry- wing gekry van die tonele op Golgota, en dit het bevestig wat Josef gesê het. KE 791.4

Die versoek van Josef is toegestaan. Terwyl Johannes hom bekommer het oor die begrafnis van sy Meester, het Josef teruggekom met Pilatus se bevel dat die liggaam van Jesus oorhandig moes word, en Nikodemus het gekom met die kosbare mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig, om Sy liggaam te balsem. Aan die mees geëerdes in die hele Jerusalem kon nie groter eer bewys gewees het in hulle dood nie. Die dissipels was verbaas om hierdie welgestelde owerstes te sien, wie se belangstelling in die begrafnis van hulle Here net so groot soos hulle eie was. KE 792.1

Nòg Josef, nòg Nikodemus het die Heiland openlik aangeneem terwyl Hy nog gelewe het. Hulle het geweet dat so n stap hulle sou ban uit die Sanhedrin, en hulle het gehoop om Hom te beskerm deur hulle invloed en hulle raadgewing. Vir 'n tyd het dit geskyn of hulle daarin geslaag het; maar die listige priesters wat gesien het dat hulle Christus goedgesind was, het hulle planne gedwarsboom. Jesus is in hulle afwesigheid veroordeel en oorgelewer om gekruisig te word. Nou dat Hy dood was, het hulle nie langer hulle liefde vir Hom verberg nie. Terwyl die dissipels gevrees het om openlik te toon dat hulle Sy volgelinge was, het Josef en Nikodemus onverskrokke tot hulle hulp gekom. Die hulp van hierdie ryk en geëerde manne was baie nodig in hierdie tyd. Wat die arm dissipels nie vir hulle gestorwe Meester kon doen nie, het hierdie manne wel gedoen; en hulle rykdom en invloed het hulle in 'n groot mate beskerm teen die kwaadwilligheid van die priesters en owerstes. KE 792.2

Saggies en met eerbied het hulle met hulle eie hande die liggaam van Jesus van die kruis afgehaal. Hulle het trane van medelyde gestort by die aanskouing van Sy verbryselde en geskeurde liggaam. Josef het 'n nuwe graf gehad, uit 'n rots gekap. Dit het hy vir homself reserveer; maar dit was naby Golgota, en hy het dit nou reggemaak vir Jesus. Die liggaam, saam met die speserye van Nikodemus, is sorg- vuldig in 'n linnelaken gewikkel, en na die graf gedra. Daar het die drie dissipels die liggaam uitgelê, en die deurboorde hande op die bors gevou. Die Galilese vroue het kom kyk of alles gedoen is wat gedoen kon word vir die lewenlose liggaam van hulle geliefde Leraar. Toe het hulle gesien hoe die swaar klip in die ingang van die graf gerol is, en die Heiland is daar gelaat om te rus. Die vroue was laaste by die kruis, en laaste by die graf van Christus. Terwyl dit begin donker word het, het Maria Magdalena en die ander Maria by die rusplek van hulle Here getalm, en trane van droefheid gestort oor Hom wat hulle liefgehad het. “Daarop het hulle teruggegaan . . . en op die sabbat gerus volgens die gebod.” Lukas 23: 56. KE 792.3

Dit was n onvergeetlike Sabbat vir die droewige dissipels, en ook vir die priesters, die owerstes, die skrifgeleerdes, en die volk. Met sonsondergang op die voorbereidingsdag, is die basuine geblaas as teken dat die Sabbat begin het. Die Pasga is gehou soos dit vir eeue reeds gehou is, terwyl die Een na wie dit vooruitgewys het, deur bose hande om die lewe gebring is, en in Josef se graf gelê het. Op die Sabbat was die voorhowe van die tempel vol aanbidders. Die hoëpriester van Golgota was daar, pragtig gekleed in sy heilige gewaad. Priesters met hulle wit tulbande, het met groot bedrywigheid hulle werk gedoen. Maar sommige van die aanwesiges het nie gemoedsrus gevind toe die bloed van stiere en bokke vir die sonde geoffer is nie. Hulle het nie geweet dat die beeld vervul is deur die teenbeeid nie, en dat 'n ewige Offer gegee is vir die sondes van die wêreld nie. Hulle het nie geweet dat die uitvoering van die rituaal geen waarde meer gehad het nie. Nog nooit tevore is daardie diens gadegeslaan met so baie botsende gevoelens nie. Die basuine en musiekinstrumente en die stemme van die sangers was so luid en helder as gewoonlik, maar 'n vreemdheid het oor alles gekom. Baie het navraag gedoen oor die vreemde dinge wat plaasgevind het. Tot op daardie dag was die allerheiligste plek beskerm teen indringing, maar nou was dit oop vir alle oë. Die swaar voorhangsel van suiwer linne en pragtig uitgewerk met goud en skarlaken en purper, was geskeur van bo tot onder. Die plek waar Jehova die hoëpriester ontmoet het, waar Sy heerlikheid geopenbaar is, die heilige troonkamer van God, was nou sigbaar vir elke oog — n plek wat die Here nie langer erken het nie. Met onrustige voorgevoelens het die priesters voor die altaar gedien. Die blootstelling van die heilige misterie van die allerheiligste plek, het hulle vervul met vrees van 'n aanstaande ramp. KE 793.1

Baie was besig met gedagtes, aan die gang gesit deur die tonele van Golgota. Van die kruisiging tot by die opstanding, het baie slapelose oë onafgebroke die profesieë ondersoek om die volle betekenis te verstaan van die fees wat hulle besig was om te vier; ander het na bewyse gesoek dat Jesus nie was wat Hy gesê het nie; en nog ander het met harte vol droefheid gesoek na bewyse dat Hy die ware Messias was. Alhoewel hulle met afsonderlike doelwitte gesoek het, was almal oortuig van dieselfde waarheid, naamlik dat profesie vervul is met die gebeurtenisse van die afgelope paar dae, en dat die Gekruisigde die Verlosser van die wêreld was. Baie van diegene wat daardie dag die Pasga gevier het, het nooit weer daarna daaraan deelgeneem nie. Selfs onder die priesters was daar baie wat oortuig was van die ware karakter van Jesus. Hulle ondersoeking van die profesieë was nie tevergeefs nie, en ná Sy opstanding het hulle Hom aangeneem as die Seun van God. KE 794.1

Toe Nikodemus sien hoe hulle Jesus aan die kruis verhoog het, het hy hom die woorde herinner wat Hy tot hom gespreek het daardie aand op die Olyfberg: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh. 3: 14, 15. Op die Sabbat, toe Christus in die graf gelê het, het Nikodemus geleentheid vir oorpeinsing gehad, 'n Helderder lig het nou sy verstand verlig, en die woorde wat Jesus tot hom gespreek het, was nie langer vir hom 'n verborgenheid nie. Hy het gevoel dat hy baie verloor het omdat hy nie by die Heiland aangesluit het in Sy lewe nie. Nou het hy gedink oor die gebeurtenisse van Golgota. Die gebed van Christus vir Sy moordenaars, en Sy verhoring van die smeekbede van die sterwende dief, het gespreek tot die hart van hierdie geleerde raadslid. Voor sy gees het hy weer die Heiland in Sy lyde gesien; weer het hy die laaste geroep gehoor: “Dit is volbring”, gespreek soos die woorde van 'n oorwinnaar. Weer het hy die bewende aarde gesien, die verduistering van die hemele, die geskeurde voorhangsel, die skuddende rotse, en sy geloof is vir ewig bevestig. Juis daardie gebeur-tenisse wat die hoop van die dissipels vernietig het, het Josef en Nikodemus oortuig van die Godheid van Jesus. Hulle vrees is oorwin deur die moedigheid van 'n sterk en onwrikbare geloof. KE 794.2

Nog nooit het Christus die aandag van die skare so getrek as toe Hy daar in die graf weggelê is nie. Soos hulle gewoond was, het die mense hulle siekes na die tempelhowe gebring, en gevra, Wie kan ons vertel van Jesus van Nasaret? Baie het van ver gekom om Hom te soek wat die siekes gesondgemaak, en die dode opgewek het. Aan alle kante is die geroep gehoor, Ons wil Christus, die Geneesheer hê! By hierdie geleentheid is diegene wat gemeen het dat hulle tekens van melaatsheid toon, deur die priesters ondersoek. Baie moes die uitspraak hoor dat hulle mans, vroue, of kinders melaats is, en gedoem is om die skuiling van hulle huise en die sorg van vriende te verlaat, en die naderende vreemde te waarsku met die geroep, “Onrein, onrein!” Die vriendelike hande van Jesus van Nasaret, wat nooit geweier het om met geneeskrag die afskuwelike melaatse aan te raak nie, het nou gevou op Sy bors gelê. Die lippe wat die smeekbede verhoor het met die vertroostende woorde, “Ek wil; word gereinig!” Matt. 8:3, was nou stil. Baie het hulle beroep op die priesters en owerstes vir simpatie en verligting, maar tevergeefs. Hulle was skynbaar vas- beslote om die lewende Christus weer onder hulle te hê. Met dringende erns het hulle na Hom gevra. Hulle wou nie nee, as antwoord neem nie. Maar hulle is verdryf uit die tempelhowe, en soldate is by die poorte geplaas om die skares te keer wat met hulle siekes en sterwendes wou inkom. KE 795.1

Die lyers wat gekom het om deur die Heiland genees te word, het neergesak van teleurstelling. Daar is geweeklaag op die strate. Die siekes het gesterf omdat Jesus nie daar was om hulle met geneeskrag aan te raak nie. Die geneeshere is tevergeefs geraadpleeg; niemand het die bekwaamheid gehad van Hom wat in Josef se graf gelê het nie. KE 795.2

Die gekerm van die lydendes het duisende weer laat besef dat 'n groot Lig uit die wêreld verdwyn het. Sonder Christus was die aarde in duisternis en donkerheid. Baie van hulle wat saamgeskreeu het, “Kruisig Hom! kruisig Hom!” het nou die ramp besef wat oor hulle gekom het, en hulle sou gretig geskreeu het, Gee ons Jesus! as Hy nog gelewe het. KE 795.3

Toe die mense hoor dat Jesus om die lewe gebring is deur die priesters, is daar navraag gedoen in verband met Sy dood. Die besonderhede van Sy verhoor is so geheim moontlik gehou, maar terwyl Hy in die graf was, was Sy Naam op duisende lippe, en berigte oor Sy skynverhoor, en die onmenslikheid van die priesters en owerstes, is orals versprei. Intellektuele manne het die priesters en owerstes gevra om die profesieë van die Ou Testament aangaanae die Messias te verduidelik, en terwyl hulle geprobeer het om die een of ander antwoord op te stel, het hulle soos waansinniges geword. Die profesieë wat verwys het na Christus se lyde en dood, kon hulle nie verklaar nie, en baie van die wat navraag gedoen het, was oortuig dat die Skrifte vervul is. KE 795.4

Die wraak wat soos die priesters gemeen het, baie soet sou wees, het alreeds baie bitter vir hulle geword. Hulle het geweet dat hulle nou deur die mense bestraf word; hulle het geweet dat juis daardie mense wat hulle teen Jesus beïnvloed het, nou met afsku vervul was oor hulle eie skandelike werk. Die priesters het geprobeer om te glo dat Jesus 'n bedrieër was, maar dit was tevergeefs. Sommige van hulle was teenwoordig by die graf van Lasarus, en het gesien hoe die dode opgewek is. Die gedagte dat Christus self uit die dode sou opstaan en weer voor hulle sou verskyn, het hulle laat sidder. Hulle het Hom hoor sê dat Hy mag gehad het om Sy lewe neer te lê en dit weer op te neem. Hulle het onthou dat Hy gesê het, “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” Joh. 2:19. Judas het hulle vertel wat Jesus aan Sy dissipels gesê het op hulle laaste reis na Jerusalem: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel, en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.” Matt. 20:18, 19. Toe hulle hierdie woorde gehoor het, het hulle gespot en gesê dis belaglik. Maar nou het hulle onthou dat Christus se voorspellings tot dusver vervul is. Hy het gesê dat Hy op die derde dag weer sou opstaan, en wie kon sê of dit nie ook sou gebeur nie? Hulle wou baie graag hierdie gedagtes verban, maar hulle kon nie. Soos hulle vader, die duiwel, het hulle geglo en gesidder. KE 796.1

Noudat die waansinnigheid en opgewondenheid n bietjie bedaar het, het die beeid van Christus weer voor hulle opgedoem. Hulle het Hom gesien waar Hy daar so kalm voor Sy vyande gestaan het sonder om te kla, en hoe Hy hulle geskimp en mishandeling verdra het sonder om Sy mond oop te maak. Al die tonele in verband met Sy verhoor en kruisiging het weer voor hulle gekom met n kragtige oortuiging dat Hy die Seun van God was. Hulle het gevoel dat Hy enige oomblik voor hulle mag verskyn in die veranderde rol, waar aangeklaagde die aanklaer is, waar die veroordeelde veroordeel, en waar die vermoorde geregtigheid eis deur die dood van Sy moordenaars. KE 796.2

Hulle het maar min gerus op die Sabbat. Hoewel hulle kastig nie hulle voet oor die drumpel van 'n heiden sou sit uit vrees vir besoedeling nie, het hulle tog raad gehou oor die liggaam van Christus. KE 797.1

Die dood en die graf moet die Een bewaar wat hulle gekruisig het. “Die volgende dag . . . kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: Meneer, ons herinner ons dat die Verleier, toe Hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat Sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julie sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan.” Matt. 27: 62-65. KE 797.2

Die priesters het opdrag gegee vir die versekering van die graf. Daar was 'n groot klip geplaas in die opening. Oor hierdie klip het hulle toue gespan en die ente aan die soliede rots vasgeheg en dit verseël met die Romeinse seël. Die klip kon nie verwyder word sonder om die seël te breek nie. Toe is daar 'n wag van honderd soldate rondom die graf opgestel om te verhoed dat iemand daaraan kom peuter. Die priesters het alles gedoen wat hulle kon om die liggaam van Christus te laat bly waar dit gelê is. Hy is so deeglik daar in Sy graf verseël asof Hy tot in ewigheid daar moes bly. KE 797.3

So het nietige mense planne gemaak en beraadslaag. Min het daardie moordenaars besef hoe tevergeefs hulle planne was. Maar God is verheerlik deur wat hulle gedoen het. Juis die pogings wat aangewend is om Christus se opstanding te verhoed, het die sterkste bewys daarvan geword. Hoe groter die getal van die soldate rondom die graf opgestel, hoe meer getuienis sou daar wees dat Hy opgestaan het. Honderde jare vóór die dood van Christus, het die Heilige Gees deur die psalmis verklaar: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen Sy Gesalfde. . . . Hy wat in die hemel woon, sal lag; die Here sal met hulle spot.” Ps. 2: 1-4. Die Romeinse wagte en die Romeinse wapens was magteloos om die Here van die lewe in die graf te hou. Die uur van Sy vrylating was naby. KE 797.4