Die Koning Van Die Eeue
Dae van Stryd
VAN sy prille jeug af was die Joodse kind omring van die voorskrifte van die rabbi's. Vir elke handeling is onbuigbare reëls voorgeskryf, selfs in die geringste besonderhede van die lewe. Deur die onderwysers van die sinagoge is die jeug onderrig in die menigvuldige regulasies wat hulle as ortodokse Israeliete moes onderhou. Maar Jesus het nie belanggestel in hierdie sake nie. Van kindsbeen af het Hy onafhanklik gehandel van die rabbynse wette. Hy het gedurig die geskrifte van die Ou Testament gestudeer; en die woorde, “So spreek die Here” was altyd op Sy lippe. KE 78.1
Namate die toestand van die volk voor Hom geopen is, het Hy gesien dat die voorskrifte van die samelewing en die voorskrifte van God gedurig gebots het. Mense het die Woord van God versaak en hulle eie teorieë verhef. Hulle het tradisionele rites nageleef wat geen waarde gehad het nie. Hulle diens het uit blote seremonies bestaan; die heilige waarhede wat daardeur geleer moes word, was vir die aanbidders bedek. Hy het gesien dat hulle in hulle diens sonder geloof, geen vrede gevind het nie. Hulle het nie daardie vryheid van gees geken wat sou kom deur God in waarheid te dien nie. Jesus het gekom om hulle die betekenis van die godsdiens te leer, en Hy kon die vermenging van menslike voorskrifte met die goddelike gebooie nie goedkeur nie. Hy het nie die voorskrifte en gebruike van die leraars aangeval nie, maar toe Hy bestraf is vir Sy eie eenvoudige gewoontes, het Hy die Woord van God aangehaal om Sy handelwyse te regverdig. KE 78.2
Sagmoedig en onderdanig het Jesus probeer om diegene te behaag met wie Hy in aanraking gekom het. Omdat Hy so sagmoedig en beskeie was, het die skrifgeleerdes en ouderlinge gemeen dat Hy baie maklik beïnvloed sou word deur hulle leer. Hulle het by Hom aangedring om die voorskrifte en tradisies wat deur oorlewering van die outydse rabbi's gekom het, aan te neem, maar Hy het aangedring op die gesag van die Heilige Skrifte daarvoor. Hy sou luister na elke woord wat uit die mond van God uitgaan, maar Hy sou nie die verdigsels van mense gehoorsaam nie. Dit het geskyn of Jesus die Skrifte van begin tot einde geken het, en Hy het hulle in hulle ware betekenis voorgestel. Die rabbi's het hulle geskaam om deur 'n kind geleer te word. Hulle het gesê dat dit hulle werk was om die Skrifte te verduidelik, en dat dit Sy plig was om hulle vertolking daarvan aan te neem. Hulle was verontwaardig dat Hy hulle woord sou bestry. KE 79.1
Hulle het geweet dat daar geen gesag was in die Skrifte vir hulle tradisies nie. Hulle het besef dat Jesus, wat geestelike insig betref, hulle ver voor was; maar hulle was nogtans kwaad omdat Hy nie hulle bevele gehoorsaam het nie. Omdat hulle Hom nie kon oortuig nie, het hulle Josef en Maria opgesoek, en hulle vertel van Sy weiering om te gehoorsaam. Hy is bestraf en berispe. KE 80.1
Op vroeë leeftyd reeds het Jesus self begin handel in die vorming van Sy karakter, en selfs nie Sy eerbied en liefde vir Sy ouers kon Hom laat afwyk van Sy gehoorsaamheid aan Gods Woord nie. “Daar is geskrywe” was Sy rede vir elke afwyking van die familiegewoontes. Maar die invloed van die rabbi's het Sy lewe bitter gemaak. Selfs in Sy jeug moes Hy die swaar les van stilswye en geduldige verdraagsaamheid leer. KE 80.2
Sy broers, soos die seuns van Josef genoem is, het kant gekies vir die rabbi's. Hulle het daarop aangedring dat die tradisies gehoorsaam moes word asof hulle vereistes van God was. Hulle het selfs die gebooie van mense hoër geag as die Woord van God, en hulle het hulle baie vererg oor die helder insig van Jesus waar Hy onderskeid gemaak het tussen die valse en die ware. Hulle het Sy nougesette gehoorsaamheid aan die wet van God veroordeel as koppigheid. Hulle was verbaas oor die wysheid en kennis wat Hy geopenbaar het in Sy antwoorde aan die rabbi's. Hulle het geweet dat Hy nie deur die wyse manne onderrig is nie, maar hulle kon nie help om te sien dat Hy hulle geleer het nie. Hulle het besef dat Sy opvoeding van 'n hoër tipe was as hulle eie, maar hulle het nie gesien dat Hy toegang gehad het tot die boom van die lewe nie, 'n bron van kennis waarvan hulle nie geweet het nie. KE 80.3
Christus was nie eksklusief nie, en juis daardeur het Hy die Fariseërs spesiaal aanstoot gegee deur in hierdie opsig af te wyk van hulle strenge reëls. Hy het gevind dat die godsdiens afgekamp was met hoë skeidsmure, as iets wat te heilig was vir die alledaagse lewe. Hierdie skeidsmure het Hy afgebreek. In Sy kontak met mense het Hy nie gevra, watter belydenis hulle toegedaan is, of aan watter kerk hulle behoort nie Hy het hulp verleen aan almal wat hulp nodig gehad het. Pleks van Homself op te sluit in 'n kluisenaarskerker as bewys van Sy hemelse karakter, het Hy met erns gewerk vir die mensdom. Hy het die beginsel geleer dat die godsdiens van die Bybel nie bestaan uit die marteling van die liggaam nie. Hy het geleer dat reine godsdiens nie bedoel was vir net bepaalde tye en spesiale geleenthede nie. Te alle tye en op alle plekke het Hy 'n liefdevolle belangstelling getoon in mense, en rondom Hom was die lig van 'n opgeruimde vroomheid. Dit alles was 'n bestraffing vir die Fariseërs. Dit het gewys dat godsdiens nie in selfsug bestaan het nie, en dat hulle sieklike ywer vir eiebelang glad nie ware godsaligheid was nie. Dit het hulle vyandig gemaak teenoor Jesus, en daarom wou hulle Hom dwing om te voldoen aan hulle insettinge. KE 80.4
Jesus het gewerk om verligting te gee in elke geval van lyding wat Hy teëgekom het. Hy het min geld gehad om te gee, maar Hy het dikwels self honger gely om ander te help wat behoeftiger was as Hy. Sy broers het gevoel dat Sy invloed hulle eie kragteloos gemaak het. Hy het takt geopenbaar wat nie een van hulle gehad het, of begeer het nie. Wanneer hulle arme, verlaagde mense hard aangespreek het, het Jesus daardie mense opgesoek en hulle bemoedig. Aan die behoeftiges het Hy 'n beker koue water gegee, en sonder om iets te sê Sy eie voedsel aan hulle gegee. Waar Hy hulle ellende versag het, het Hy die waarhede wat Hy geleer het, prakties toegepas, en so is hulle in die geheue bevestig. KE 81.1
Hierdie handelwyse het Sy broers mishaag. Omdat hulle ouer as Jesus was, het hulle gevoel dat hulle Hom kon hiet en gebied. Hulle het Hom beskuldig dat Hy gedink het dat Hy hoër as hulle was, en hulle het Hom bestraf omdat Hy Homself bokant hulle leraars en die priesters en die owerstes van die volk gestel het. Dikwels het hulle Hom gedreig en probeer bangmaak; maar Hy het voortgegaan en die Skrifte as Sy gids geneem. KE 82.1
Jesus het Sy broers liefgehad en altyd vriendelik behandel; maar hulle was jaloers op Hom; hulle het Hom verag en glad nie in Hom geglo nie. Hulle kon nie Sy gedrag begryp nie. In Jesus is daar groot teenstrydighede geopenbaar. Hy was die Seun van God, en nogtans 'n hulpelose kind. As Skepper van die wêrelde was die aarde Sy eiendom, en tog het armoede Hom op elke stap van Sy lewe agtervolg. Hy het 'n waardigheid en persoonlikheid gehad waar hoogmoed en verwaandheid heeltemal uitgesluit was; Hy het nie gestrewe na wêreldse grootheid nie, en selfs in die nederigste posisie was Hy tevrede. Dit het Sy broers kwaadgemaak. Hulle kon Sy kalmte in beproewing en ontbering nie verklaar nie. Hulle het nie geweet dat Hy om ons ontwil arm geword het, sodat ons “deur Sy armoede ryk kan word” nie. 2 Kor. 8: 9. Hulle kon die verborgenheid van Sy sending net so min verstaan as die vriende van Job sy vernedering en ellende kon verstaan. KE 82.2
Jesus se broers het Hom nie verstaan nie omdat Hy anders as hulle was. Sy maatstaf was nie hulle maatstaf nie. Deur op mense te sien, het hulle afgewyk van God en hulle het nie Sy krag in hulle lewens gehad nie. Die godsdienstige vorms waaraan hulle voldoen het, kon hulle karakter nie verander nie. Hulle het tiendes gegee van “kruisement en anys en koljander,” maar die “swaarste van die wet” nagelaat, naamlik “die reg en die barmhartigheid en die trou.” (Matt. 23. 23.) Die voorbeeld van Jesus het hulle gedurig aanstoot gegee. Daar is net een ding in die wêreld wat Hy gehaat het, en dit was die sonde. Hy kon nie 'n verkeerde daad sien sonder pyn wat Hy nie kon verberg nie. Tussen die formaliste wie se skynheiligheid hulle lief de vir die sonde bedek het, en 'n karakter waarin die ywer vir God altyd die botoon gevier het, was die teenstelling onmiskenbaar. Omdat die lewe van Jesus die sonde veroordeel het, moes Hy teenstand verduur beide tuis en daar buite. Van Sy onselfsugtigheid en opregtheid is daar met veragting gepraat. Sy verdraagsaamheid en vriendelikheid is lafhartigheid genoem. KE 82.3
Van die bitterheid wat die mens moes verduur, was daar niks wat Christus nie self ook gesmaak het nie. Daar was sommige wat getrag het om Hom te smaad oor die omstandighede van Sy geboorte, en selfs in Sy kinderjare moes Hy hulle veragting sien en hulle gefluister hoor. As Hy daarop sou gereageer het deur 'n ongeduldige woord of uitdrukking, as Hy aan Sy broers sou toegegee het deur slegs een verkeerde daad, sou Hy nie daarin geslaag het om ons volmaakte voorbeeld te wees nie. F.n Hy sou nie geslaag het met die uitvoering van die plan vir ons verlossing nie. As Hy maar selfs sou toegegee het dat daar 'n verskoning vir die sonde is, sou die Satan getriomfeer, en die wêreld verlore gegaan het. Dit is om hierdie rede dat die versoeker Sy lewe so swaar gemaak het, sodat hy Hom tot die sonde kon verlei. KE 83.1
Maar vir elke versoeking het Hy een antwoord gehad, “Daar is geskrywe.” Selde het Hy Sy broers bestraf, of Hy het 'n woord van God daarvoor gehad. Dikwels het hulle Hom van lafhartigheid beskuldig omdat Hy nie wou. meedoen aan 'n verkeerde daad nie; maar Sy antwoord was altyd, Daar is geskrywe, “Die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand”. Job 28: 28. KE 83.2
Daar was sommige wat Sy geselskap opgesoek het en wat in Sy teenwoordigheid vrede in hulle gemoed gevoel het; maar baie het Hom vermy omdat Sy vlekkelose lewe hulle bestraf het. Sy jong maats het by Hom aangedring om te maak soos hulle. Hy was opgeruimd; hulle het van Sy teenwoordigheid gehou en Sy voorstelle aangeneem; maar Sy gewetensbesware kon hulle nie duld nie, en hulle het gemeen dat Hy eng en bekrompe was. Jesus het geantwoord, Daar staan geskrywe, “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.” “Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” Ps. 119: 9, 11. KE 83.3
Dikwels is aan Hom gevra, Waarom is jou gedrag so Sonderling, so anders as ons s'n? Daar staan geskrywe, het Hy gesê, “Welgeluksalig is die opregtes van weg wat in die wet van die Here wandel. Welgeluksalig is die wat Sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in Sy weë wandel”. Ps. 119: 1-3. KE 83.4
Toe aan Hom gevra is waarom Hy nie aan die pret van die jongmense van Nasaret meedoen nie, het Hy geantwoord, Daar staan geskrywe, “Ek is vrolik in die weg van U getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil U bevele oordink en op U paaie let. Ek sal my verlustig in U insettinge, U woord sal ek nie vergeet nie.” Ps. 119: 14-16. KE 84.1
Jesus het nie gestry vir Sy regte nie. Dikwels moes Hy baie swaar werk omdat Hy gewillig was en nooit gekla het nie. Maar nogtans het Hy nie gefaal of moedeloos geword nie. Hy het bokant die moeilikhede gelewe, soos in die lig van Gods aanskyn. Hy het nie weerwraak geneem wanneer Hy sleg behandel is nie, maar Hy het alle beledigings geduldig verdra. KE 84.2
Herhaaldelik is aan Hom gevra, Waarom gedoog jy sulke behandeling, selfs van jou broers? Daar staan geskrywe, het Hy gesê, “My seun, vergeet My onderwysing nie, en laat jou hart My gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense.” Spr. 3: 1-4. KE 84.3
Van die tyd af dat Sy ouers Jesus in die tempel gevind het, was Sy handelwyse 'n misterie vir hulle. Hy het nooit gestry nie, maar nogtans was Sy voorbeeld 'n gedurige les. Hy was soos een wat afgesonder is. Sy gelukkigste ure was wanneer Hy alleen met die natuur en met God was. Wanneer Hy die kans gehad het, het Hy Sy werkspiek verlaat en die veld ingegaan om in die groen klowe te peins, om met God gemeenskap te hou op die berg, of onder die bome van die bos. In die vroeë more is Hy dikwels gevind in die een of ander afgesonderde plek waar Hy gepeins, die Skrifte ondersoek, of gebid het. Van hierdie stil tye het Hy teruggekeer na Sy huis om weer Sy werk te hervat en die voorbeeld van geduldige arbeid te stel. KE 84.4
Die lewe van Christus was gekenmerk deur respek en liefde vir Sy moeder. Maria het in haar hart geglo dat die heilige kind wat uit haar gebore is, die langverwagte Messias was, maar sy het nie gewaag om te getuig van haar geloof nie. Deur Sy hele lewe op aarde het sy gedeel in Sy lyde. Met droefheid was sy getuie van die beproewings van Sy kinder- en jongelingsjare. Deur Sy kant te kies vir die dinge wat reg was in Sy gedrag, het sy haarseif moeilikhede op die hals gehaal. Sy het die huislike lewe en haar moedersorg vir die kinders as 'n belangrike deel van karaktervorming beskou. Die seuns en dogters van Josef het dit geweet, en deur hulle te beroep op die angs van haar moederhart, het hulle probeer om die gedrag van Jesus te reël volgens hulle standaard. KE 84.5
Maria het Jesus dikwels berispe en Hom vermaan om te handel volgens die gebruike van die rabbi s. Maar sy kon Hom nie beweeg om Sy gewoontes te verander ten opsigte van die oorpeinsing van die werke van God, en die leniging van die nood van mense en selfs van stomme diere nie. Waanneer die priesters en leraars Maria se hulp ingeroep het om Jesus te bedwing, het sy in groot moeilikheid verkeer: maar daar het vrede in haar hart gekom wanneer Hy skrifgedeeltes aangehaal het om Sy gebruike te staaf. KE 85.1
Dikwels was sy wankelend tussen Jesus en Sy broers wat nie geglo het dat Hy van God gestuur is nie; maar die bewyse was oorvloedig dat Hy van 'n goddelike karakter was. Sy het gesien hoedat Hy Homself opgeoffer het vir die voordeel van ander. Sy teenwoordigheid het 'n reiner atmosfeer in die huis gebring, en Sy lewe was soos suurdeeg wat in die elemente van die samelewing gewerk het. Onskuldig en onbesoedel het Hy gewandel onder die onbedagsames, die onbeskofdes, die onhoflikes; en onder die onregverdige tollenaars, die roekelose afgedwaaldes, die ongeregtige Samaritane, die heidense soldate, die eenvoudige werksmense, en die gemengde skare. Hier en daar het Hy woorde van medelyde gespreek waar Hy mense gesien het, afgemat en swaar belas. Hy het hulle laste help dra, en aan hulle die lesse meegedeel wat Hy uit die natuur geleer het van die liefde, die vriendelikheid, en die goedheid van God. KE 85.2
Hy het almal geleer om hulleself te beskou as bedeel met ryke talente, wat, as hulle dit reg bestee, vir hulle ewige rykdom sou besorg. Alle ydelheid het Hy uit die lewe uitgeroei, en deur Sy eie voorbeeld het Hy geleer dat elke oomblik van tyd ewige resultate kan hê, dat dit as 'n skat moet vertroetel word en gebruik moes word vir heilige doeleindes. Hy het geen mens as waardeloos beskou nie, maar het getrag om die redmiddel op elke siel toe te pas. In watter geselskap Hy ook al was, het Hy lesse gegee wat gepas het by die tyd en die omstandighede. Selfs diegene wat hopeloos gelyk het, het Hy met hoop besiel, en hulle voor die moontlikheid gestel om onberispelik te word met 'n karakter wat van hulle die kinders van God sou maak. Dikwels het Hy in aanraking gekom met diegene wat onder die beheer van die Satan was, en wat geen mag gehad het om uit sy strikke los te kom nie. Vir so iemand, moedeloos, siek, in die sonde geval, het Jesus woorde van die teerste ontferming gehad—woorde op die regte tyd en wat verstaan kon word. Ander het Hy ontmoet wat handgemeen met die sielevyand geraak het. Hulle het Hy aangemoedig om te volhard, en Hy het hulle verseker dat hulle sou win; want engele van God was aan hulle kant en sou hulle die oorwinning gee. Diegene wat Hy so gehelp het, was oortuig dat Hy iemand was in wie hulle die volste vertroue kon stel. Hy sou nooit die geheime verklap wat hulle aan Hom vertrouelik vertel het nie. KE 86.1
Jesus het die liggaam sowel as die siel genees. Hy het belang gestel in elke fase van lyding wat onder Sy aandag gekom het, eh aan elke lyer het Hy verligting gebring, want Sy vriendelike woorde was soos balsem. Niemand kon sê dat Hy 'n wonderwerk verrig het nie, maar krag, die genesende krag van liefde, het van Hom uitgegaan tot die siekes en ellendiges. So het Hy, sonder opdringerigheid, gewerk vir die mense van Sy kinderjare af. Dit was om hierdie rede dat so vele, ná Hy Sy openbare bediening begin, na Hom geluister het. KE 86.2
En nogtans het Jesus, as kind, jongeling, en man, alleen gewandel. In Sy reinheid en getrouheid, het Hy die parskuip alleen getrap, en van die volk was daar niemand om Hom te help nie. Hy het die groot verantwoordelikheid van die verlossing van mense gedra. Hy het geweet dat tensy daar 'n bepaalde verandering kom in die beginsels en doelwitte van die menslike geslag, almal verlore sou gaan. Dit was die las van Sy siel, en niemand het die gewig besef wat op Hom gedruk het nie. Vasberade en doelbewus het Hy die patroon van Sy lewe gevolg dat Hy die lig van die mense sou wees. KE 87.1