Die Koning Van Die Eeue

76/88

Voor Annas en die Hof van Kajafas

OOR die spruit Kedron, verby die tuine en olyfboorde, en deur die stil strate van die slapende stad, het hulle Jesus vinnig geneem. Dit was al ná middernag, en die lawaai van die skreeuende gepeupel I het die stilte van die nag versteur. Die Heiland was gebind en streng f bewaak, en Hy het in pyn geloop. Haastig is Sy bewaarders met Hom na die paleis van Annas, die gewese hoëpriester. KE 714.1

Annas was die hoof van die dienende priestergesin, en uit eerbied vir sy ouderdom is hy deur die volk beskou as hoëpriester. Sy raad is gevra en aangeneem as die stem van God. Hy moes die eerste wees wat Jesus as gevangene van die priesterlike mag sien. Hy moes teen- woordig wees by die ondervraging van die gevangene, uit vrees dat die minder ervare Kajafas nie daarin mag slaag om die doel te bereik waarna hulle gestreef het nie. Sy bedrewenheid, lis, en slinksheid moes vir hierdie okkasie gebruik word, want die veroordeling van Christus moes in elk geval verkry word. Christus sou formeel deur die Sanhedrin verhoor word, maar Hy moes voorlopig voor Annas verskyn. Onder die Romeinse wet kon die Sanhedrin nie die doodvonnis voltrek nie. Al wat hulle kon doen, was om die gevangene te ondersoek en vonnis uit te spreek, wat dan deur die Romeinse gesag sou bekragtig word. Dit was dus noodsaaklik dat daar teen Christus aanklagte gemaak moes word wat as krimineel deur die Romeine beskou sou word. Daar moes 'n aanklag wees wat Hom sou veroordeel in die oë van die Jode, 'n Hele paar van die priesters en owerstes is oortuig deur Christus se leer, en dit was blote vrees dat hulle in die ban gedoen sou word, wat hulle belet het om Hom te bely. Die priesters het die vraag van Nikodemus nog nie vergeet nie: “Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?” Joh. 7: 51. Hierdie vraag het die raad vir 'n tyd opgebreek, en hulle planne in die wiele gery. Josef van Arimathea en Nikodemus was nie nou geroep nie, maar daar was ander wat dit miskien kon waag om te spreek vir die handhawing van die reg. Die verhoor moes so gereël word dat dit die lede van die Sanhedrin sou verenig teen Christus. Daar was twee aanklagte wat die Jode graag wou bewys. As hulle kon bewys dat Jesus 'n godslasteraar is, sou die Jode Hom veroordeel het. As Hy kon veroordeel word vir sedisie, sou dit Sy veroordeling deur die Romeine verseker. Annas het geprobeer om die tweede aanklag eerste te bewys. Hy het Jesus ondervra aangaande Sy dissipels, en Sy leer, hopende dat die gevangene iets sou sê waarop hulle Hom kon vastrek. Hy het geprobeer om n verklaring te verkry wat sou bewys dat Hy besig was om 'n geheime vereniging te stig met die doel om 'n nuwe koninkryk op te rig. Dan sou die priesters Hom aan die Romeine kon uitlewer as iemand wat die vrede verstoor, en 'n opstand wou verwek. KE 714.2

Christus het die doel van die priesters gelees soos 'n ope boek. Asof Hy in die siel van Sy ondervraer gekyk het, het Hy ontken dat daar 'n geheime ooreenkoms of vereniging tussen Hom en Sy volgelinge was, of dat Hy hulle in die geheim en in die duisternis gewerf het om Sy planne te bedek. Hy het geen geheime gehad in verband met Sy planne en leer nie. “Ek het ronduit met die wêreld gespreek”, het Hy gesê. “Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante bymekaarkom; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.” KE 716.1

Die Heiland het Sy eie metode van werk vergelyk met die metodes van Sy aanklaers. Vir maande het hulle Hom agtervolg, hopende om Hom in 'n strik te lei, en Hom voor 'n geheime hof te bring, waardeur hulle valse getuienis kon verkry wat hulle nie op regverdige wyse kon verkry nie. Nou was hulle besig om hulle plan ten uitvoer te bring. Die middernagtelike gevangeneming deur die bende, die bespotting en mishandeling vóór Sy veroordeling, of selfs vóór Sy beskuldiging, dit was hulle metode, nie Syne nie. Hulle handelwyse was teen die wet. Hulle eie wet het gelui dat 'n persoon as onskuldig beskou moes word totdat hy skuldig bewys is. Die priesters het deur hulle eie wette veroordeel gestaan. KE 717.1

Jesus het Hom tot Sy ondervraer gewend en gevra, “Wat ondervra u My?” Het die priesters en owerstes dan nie spioene gestuur om Sy bewegings dop te hou, en verslag te doen van elke woord wat Hy gespreek het nie? Was daardie spioene dan nie teenwoordig op elke byeenkoms van die volk om aan die priesters verslag te doen van al Sy woorde en dade nie? “Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek met hulle gespreek het,” het Jesus geantwoord; “hulle weet tog wat Ek gesê het.” KE 717.2

Hierdie besliste antwoord het Annas die swye opgelê. Omdat hy gevrees het dat Christus iets mag sê oor sy handelwyse wat hy graag bedek wou hou, het hy Hom niks meer gevra nie. Een van die beamptes, woedend omdat hy gesien het hoe Annas stilgemaak is, het Jesus in die gesig geslaan, en gesê, “Antwoord U die hoëpriester so?” KE 717.3

Kalm het Christus hom geantwoord, “As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” Hy het nie bitsige woorde gespreek nie. Sy kalm antwoord bet uit 'n hart gekom wat sondeloos, lankmoedig, en sagmoedig was, en wat nie uitgetart kon word nie. KE 717.4

Hierdie mishandeling en belediging het Christus baie seergemaak. Van mense wat Hy self geskape het, en vir wie Hy hierdie verskriklike opoffering maak, moes Christus allerhande beledigings verdra. En Hy het gely volgens die maat van Sy heiligheid en verafskuwing van die sonde. Sy verhoor deur mense wat hulle soos duiwels gedra het, was vir Hom 'n gedurige opoffering. Om omring te wees van mense onder die beheer van die Satan was weersinwekkend vir Hom. En Hy het geweet dat Hy deur net vir een oomblik Sy goddelike krag te gebruik, Sy wrede kwellers kon doodmaak. Dit het Sy verhoor nog swaarder gemaak om te verduur. KE 717.5

Die Jode het 'n Messias verwag wat met groot uiterlike vertoon geopenbaar sou word. Hulle het verwag dat Hy, deur middel van Sy magtige wilskrag, die hele gedagtegang van die mense sou verander hulle gemeen, sou Hy Sy eie verheffing verkry en hulle ambisies verwesenlik. Toe Christus dus so met veragting behandel is, het Hy sterk en hulle sou dwing om Sy opperheerskappy te aanvaar. Aldus, het in versoeking gekom om Sy goddelike krag te openbaar. Deur 'n woord, deur 'n blik, kon Hy Sy vervolgers dwing om te erken dat Hy 'n opperheer was bokant konings en heersers, priesters en tempel. Maar dit was Sy moeilike taak om die posisie van eenwording met die mensheid te handhaaf. KE 718.1

Die engele van die hemel het elke beweging gadegeslaan wat gemaak is teen hulle geliefde aanvoerder. Hulle wou Christus baie graag verlos. Onder God is die engele almagtig. By een geleentheid, in gehoorsaamheid aan die bevel van Christus, het hulle in een nag die Assiriese leër van honderd vyf-en-tagtigduisend man gedood. Hoe maklik kon die engele, by die aanskouing van die skandelike verhoor van Christus, bewys gegee het van hulle afkeur deur die vyande van God te verteer! Maar hulle het geen opdrag gehad om dit te doen nie. Hy wat Sy vyande oombliklik kon dood, het hulle wreedheid verdra. Sy liefde vir Sy Vader, en Sy belofte, gemaak by die grondlegging van die wêreld, om die draer van die sonde te word, het Hom die wrede behandeling van die kant van diegene wat Hy kom red het, geduldig laat verdra. Dit was deel van Sy sending om in Sy mensheid al die smaad en mishandeling te verdra wat mense Hom kon aandoen. Die enigste hoop vir die mensdom was dat Christus Hom sou onderwerp aan alles wat Hy moes verduur van mense. KE 719.1

Christus het niks gesê wat Sy aanklaers enige kans teen Hom kon gee nie; nogtans het Hy vasgebind gestaan, om te toon dat Hy veroordeel was. Maar daar moes darem 'n skyn van regverdigheid wees. Dit was nodig dat daar 'n vorm van 'n geregtelike verhoor moes wees, en dit wou die Joodse owerheid verhaas. Hulle het geweet watter hoë agting die mense vir Jesus gehad het, en hulle het gevrees dat as die gevangeneming rugbaar word, die mense sou probeer om Hom vry te stel. En dan weer, as die verhoor en teregstelling nie dadelik geskied nie, sou die saak vir 'n week uitgestel moes word van weë die viering van die Pasga. Dit kon hulle planne verydel. Om die veroordeling van Jesus te verkry, het hulle grotendeels gereken op die geskreeu van die gepeupel, wat uit die skuim van Jerusalem bestaan het. As daar 'n week se uitstel sou wees, sou die opgewondenheid bedaar, en daar mag 'n reaksie kom. Die beter gedeelte van die volk sou reageer ten gunste van Christus; vele sou getuienis aflê in Sy guns, en getuig van die magtige werke wat Hy gedoen het. Dit sou die verontwaardiging van die mense opwek teen die Sanhedrin. Hulle handelwyse sou veroordeel word, en Jesus sou vrygestel word om op nuut die hulde van die skare te ontvang. Die priesters en owerstes het derhalwe besluit dat Jesus in die hande van die Romeine oorgelewer moes word voordat hulle planne bekend word. KE 719.2

Maar eerste van alles moes hulle 'n aanklag vind. Tot dusver het hulle nog niks uitgerig nie. Annas het beveel dat Jesus voor Kajafas gebring moes word. Kajafas was n Sadduseër, onder wie sommige nou geswore vyande van Jesus was. Hy self, alhoewel hy nie n sterk karakter gehad het nie, was net so hardvogtig, gevoelloos en gewetenloos soos Annas. Hy sou alles in sy vermoë doen om Jesus uit die weg te ruim. Dit was nou vroeg in die oggend en nog baie donker;met die lig van fakkels en lanterns het die gewapende bende met hulle gevangene na die hoëpriester se paleis gegaan. Daar, terwyl die Sanhedrin besig was om te vergader, het Annas en Kajafas Jesus weer ondervra, maar sonder sukses. KE 720.1

Toe die raad in die geregsaal vergader het, het Kajafas die voorsitterstoel ingeneem, en aan beide kante van hom het die regters gesit, en diegene wat belanggestel het in die verhoor. Die Romeinse soldate het Stelling ingeneem op die platform onder die troon. Jesus het aan die voet van die troon gestaan. Die blik van die hele skare daar was op Hom gevestig. Die opgewondenheid was groot. Onder daardie hele skare was Hy die enigste een wat kalm en bedaard was. In die atmosfeer rondom Hom was daar 'n heilige invloed. KE 720.2

Kajafas het Jesus beskou as sy mededinger. Die gretigheid van die mense om na die Heiland te luister, en hulle skynbare bereidwilligheid om Sy leer aan te neem, het die hoëpriester bitter jaloers gemaak. Maar toe Kajafas nou die gevangene betrag het, is hy getref deur Sy edele en waardige houding. Die oortuiging het by hom posgevat dat hierdie man soos God was. Maar die volgende oomblik het hy hierdie gedagte met veragting verwerp. Onmiddellik daarna het hy minag- tend beveel dat Jesus een van Sy magtige wonders voor hulle moes doen. Maar wat die Heiland betref, het sy woorde op dowe ore geval. Die mense het die opgewondenheid en kwaadwillige gedrag van Annas en Kajafas vergelyk met die kalm, majestueuse houding van Jesus. Selfs by daardie geharde skare het die vraag opgekom, Moet hierdie man met so 'n goddelike voorkomste veroordeel word as 'n misdadiger? KE 720.3

Kajafas wat die gevoelens gesien het wat daar geheers het, het die verhoor bespoedig. Die vyande van Jesus was in 'n groot moeilikheid. Hulle was vasberade om Sy veroordeling te verkry, maar hoe, het hulle nie geweet nie. Die raadslede was verdeel in Fariseërs en Sadduseërs. Hulle het vyandig en strydlustig teenoor mekaar gestaan; sekere geskil- punte kon hulle nie waag om aan te roer nie uit vrees vir 'n twis. Met 'n paar woorde kon Jesus 'n saak aangeroer het wat die twee groepe in 'n twis sou wikkel om dus hulle woede van Hom af te wend. Kajafas het dit geweet, en hy wou so 'n stryd vermy. Daar was baie getuies om te bewys dat Christus die priesters en skrifgeleerdes veroordeel het, dat Hy hulle geveinsdes en moordenaars genoem het; maar dit was nie raadsaam om hierdie getuienis voor te lê nie, want die Sadduseërs het, in hulle twiste met die Fariseërs, dieselfde taal gebruik. En sulke getuienis sou van geen waarde wees vir die Romeine wat self die geveinsdheid van die Fariseërs verfoei het nie. Daar was baie getuienis dat Jesus die tradisies van die Jode veronagsaam, en oneerbiedig gespreek het van hulle insettinge; maar wat tradisies betref, het die Fariseërs en Sadduseërs uiters vyandig teenoor mekaar gestaan; en ook daardie getuienis sou geen invloed by die Romeine hê nie. Christus se vyande kon dit nie waag om Hom van Sabbatskending te beskuldig nie, want getuienis in daardie verband kon miskien die aard van Sy werk openbaar. As Sy wonderwerke van genesing aan die lig sou kom, sou die priesters hulle hele doel verydel. KE 721.1

Valse getuies is omgekoop om Jesus te beskuldig van aanhitsing tot rebellie en die strewe na 'n onafhanklike regering. Maar hulle getuienis was vaag en weersprekend. Onder kruisverhoor het hulle hulle eie verklarings weerspreek. KE 721.2

Vroeg in Sy bediening het Christus gesê, “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” In die figuurlike taal van profesie het Hy Sy eie dood en opstanding voorspel. “Maar Hy het oor die tempel van Sy liggaam gespreek.” Joh. 2: 19, 21. Die Jode het hierdie woorde letterlik opgeneem en verstaan dat dit betrekking het op die tempel in Jerusalem. Van alles wat Christus gesê het, kon die priesters niks vind om teen Hom te gebruik behalwe dit nie. Deur 'n verkeerde vertolking van hierdie woorde het hulle gehoop om voordeel te trek. Die Romeine was behulpsaam met die herbou en versiering van die tempel, en hulle was baie trots daarop; enige minagting daarvoor sou hulle gewis verontwaardig het. Daar kon Romeine en Jode, Fariseërs en Sadduseërs op gelyke voet verkeer, want almal het groot eerbied vir die tempel gehad. Op hierdie punt is daar twee getuies gevind wie se getuienis mekaar nie so erg weerspreek het soos in die geval van die ander nie. Een van hulle wat omgekoop was om teen Jesus te getuig, het verklaar, “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God af- breek en dit in drie dae opbou.” So is Christus se woorde verdraai. As hulle weergegee sou gewees het presies soos Hy hulle gespreek het, sou selfs die Sanhedrin Hom nie daarop kon veroordeel het nie. As Jesus maar 'n blote mens was soos die Jode beweer het, kon Sy woorde op die ergste maar grootpratery gewees het; hulle sou nie as godslastering kon beskou word nie. Maar selfs so verdraai soos dit was deur die valse getuies, het Sy woorde niks bevat wat deur die Romeine sou beskou word as 'n misdaad wat die doodstraf verdien nie. KE 721.3

Geduldig het Jesus na die weersprekende getuienis geluister. Hy het geen woord in selfverdediging geuiter nie. Eindelik was Sy beskuldigers deurmekaar, verward, en kwaad. Die verhoor het geen vordering gemaak nie; dit het gelyk of hulle planne sou misluk. Kajafas I was desperaat. Daar was nog net een ding waarop hulle kon terugval; Christus moet gedwing word om Homself te veroordeel. Die hoëpriester het van die regterstoel af opgestaan; sy gelaat was verwronge van woede, en sy stem en houding het duidelik getoon dat indien dit in sy mag was, sou hy die gevangene voor hom platslaan. “Antwoord U niks nie?” het hy uitgeroep. “Wat getuig hierdie manne teen U?” Maar Jesus het stilgebly. “Hy is mishandel hoewel Hy onderworpe was, en Hy het Sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders —-ja, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie.” Jes. 53: 7. KE 723.1

Eindelik het Kajafas, met sy regterhand na die hemel uitgestrek, Jesus aangespreek in die vorm van 'n plegtige eed: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?” KE 723.2

Op hierdie versoek kon Christus nie stilbly nie. Daar was 'n tyd om te swyg, en n tyd om te spreek. Hy het nie gespreek tensy daar regstreeks 'n vraag aan Hom gestel is nie. Hy het geweet dat Sy antwoord nou Sy dood sou verseker. Maar die vraag is gestel deur die hoogste erkende gesag van die volk, en in die Naam van die Allerhoogste. Christus kon nie in gebreke bly om behoorlike respek vir die wet te toon nie. En wat meer is, Sy eie verhouding tot die Vader is betwyfel. Hy moes die aard van Sy sending duidelik verklaar. Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is.” Matt. 10: 32. Nou het Hy hierdie les deur Sy eie voorbeeld herhaal. KE 723.3

Elke oor is gespits, en elke oog op Sy aangesig gevestig, toe Hy antwoord, “U het dit gesê.” Dit het geskyn of 'n hemelse lig Sy bleek gelaat verlig toe Hy verder sê, “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal U die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” KE 723.4

Vir n oomblik het die Godheid van Christus deur Sy mensheid geflits. Die hoëpriester het gesidder voor die deurdringende oë van die Heiland. Dit het geskyn of daardie blik sy geheime gedagtes gelees het, en dit het in sy hart ingebrand. Nooit daarna kon hy daardie deurdringende blik van die vervolgde Seun van God vergeet nie. KE 723.5

“Van nou af,” het Jesus gesê, “sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” In hierdie woorde het Christus die teenoorgestelde van die toneel voorgestel wat nou daar afgespeel het. Hy, die Here van lewe en heerlikheid, sou aan die regterhand van God sit. Hy sal die regter van die hele aarde wees, en teen Sy uitsprake kan daar geen appél aangeteken word nie. Dan sal elke geheime daad geopenbaar word in die lig van Gods aanskyn, en die mens sal geoordeel word volgens sy dade. KE 724.1

Die woorde van Christus het die hoëpriester laat skrik. Die gedagte aan 'n opstanding van die dode, wanneer almal voor die regterstoel van God sal staan om beloon te word volgens hulle werke, was 'n vreeslike gedagte vir Kajafas. Hy wou nie graag glo dat hy in die toekoms geoordeel sal word volgens sy werke nie. In sy verbeelding het hy die tonele van die laaste oordeel gesien. Vir 'n oomblik het hy gesien hoe die grafte oopgaan en die dode uitlewer met die geheime wat, soos hy gehoop het, vir ewig verborge sou wees. Vir 'n oomblik het dit gevoel asof hy voor die ewige Regter staan, wie se oog alle dinge sien, en dat sy siel gelees word, en al die geheime wat met die dood begrawe is, aan die lig gebring word. KE 724.2

Die toneel het voor die priester vervaag. Christus se woorde het hom, die Sadduseër, baie diep geraak. Kajafas het die leer van die opstanding, die oordeel, en die toekomstige lewe, geloën. Nou is hy aangegryp deur 'n sataniese woede. Was hierdie man, die gevangene, voor hom om sy geliefkoosde teorieë aan te val? Hy het sy kleed geskeur om die mense onder die indruk te bring van sy geveinsde verontwaardiging, en geëis dat die gevangene sonder enige verdere verhoor veroordeel moet word vir godslastering. “Wat het ons nog getuie nodig!” het hy gevra, “julle het die godslastering gehoor; wat dink julle?” Toe het hulle almal Hom veroordeel. KE 724.3

Oortuiging gemeng met woede het Kajafas beweeg om te doen wat hy gedoen het. Hy het homself verfoei omdat hy na Christus se woorde geluister het, en pleks dat hy sy hart geskeur het onder die diep indruk van die waarheid, en bely het dat Jesus die Messias is, het hy sy priesterlike kleed geskeur in vasberade weerstand. Hierdie daad het baie groot betekenis gehad. Min het Kajafas die betekenis besef. In hierdie daad, gedoen om die regters te beïnvloed en Christus se veroordeling te verkry, het die hoëpriester homself veroordeel. Deur die wet van God het hy homself ongeskik gemaak vir die priesterskap. Hy het die doodvonnis oor homself uitgespreek. KE 724.4

Dit was nie vir 'n hoëpriester geoorloof om sy klere te skeur nie. Deur die Levitiese wet was dit strafbaar met die dood. Onder geen omstandighede, en by geen geleentheid, moes die hoëpriester sy kleed skeur nie. Dit was die gebruik onder die Jode om hulle klere te skeur by die dood van vriende, maar die priesters moes dit nie doen nie. Deur die uitdruklike gebod van Christus deur Moses is dit belet. Lev. 10: 6. KE 725.1

Alles wat deur die hoëpriester gedra is, moes heel geweef wees, en sonder gebrek. Deur daardie mooi klere is die karakter voorgestel van die groot teenbeeid, Jesus Christus. Niks behalwe volmaaktheid in klere en gedrag, en in woord en gees, sou vir God aanneemlik wees nie. Hy is heilig, en Sy heerlikheid en volmaaktheid moes voorgestel word in die aardse diens. Niks behalwe volmaaktheid kan die heiligheid van die hemelse diens reg voorstel nie. Die sondige mens mag sy eie hart skeur deur 'n nederige en boetvaardige gees te openbaar. Dit sal God raak sien. Maar die priesterlike kleed moes nie geskeur word nie want dit sou die voorstelling van hemelse dinge bederf. Die hoëpriester wat dit sou waag om sy heilige amp te beoefen in die diens van die heiligdom, met 'n geskeurde kleed, is beskou as iemand wat homself van God afgesny het. Deur sy kleed te skeur, het hy homself afgesny as n verteenwoordigende karakter. Hy was vir God nie langer aanneemlik as dienende priester nie. Die gedrag wat deur Kajafas geopenbaar is, het menslike drifte en menslike onvolmaakt-heid getoon. KE 725.2

Deur sy klere te skeur en die tradisies van mense te volg, het Kajafas die wet van God kragteloos gemaak. Volgens 'n menslike wet kon 'n priester sy klere skeur om sy verfoeiing te toon vir godslastering, en hy sou onskuldig wees. So is die wet van God kragteloos gemaak deur die wette van mense. KE 725.3

Elke daad van die hoëpriester is met belangstelling gadegeslaan deur die mense; en om 'n indruk te maak, het Kajafas hierdie openbaring van sy vroomheid gegee. Maar in hierdie daad, bedoel as 'n beskuldiging teen Christus, het hy die Een beledig van wie God gesê het, “My Naam is in Hom.” Exod. 23:21. Hyself het godslastering gepleeg. Terwyl hy onder die veroordeling van God gestaan het,het hy Christus veroordeel as 'n godslasteraar. KE 725.4

Toe Kajafas sy klere geskeur het, was sy daad n aanduiding van die verhouding waarin die Jode as volk daarna sou staan teenoor God. Die eertydse uitverkore volk van God was besig om hulleself af te j skei van Hom, en Jehova sou hulle nie meer erken nie. Toe Christus aan die kruis uitgeroep het, “Dit is volbring” Joh. 19.30, en toe die voorhangsel van die tempel in twee geskeur is, het die Heilige Wagter verklaar dat die Joodse volk Hom verwerp het wat die teen- beeld van al hulle tipes was, die liggaam van al hulle skaduwees. Israel was geskei van God. Kajafas kon wel sy offisiële kleed skeur, wat die bewys was dat hy voorgegee het om 'n verteenwoordiger van i die groot Hoëpriester te wees; want daardie kleed het vir hom en vir die volk nou nie meer betekenis gehad nie. Wel mag die hoëpriester sy klere skeur in afsku aan homself en aan die hele volk. KE 726.1

Die Sanhedrin het die doodvonnis oor Jesus uitgespreek; maar dit was teen die Joodse wet om 'n gevangene in die nag te verhoor. Geen vonnis kon uitgespreek word behalwe in die dag nie, en dit na n voltallige raadsitting. Maar nieteenstaande dit, is die Heiland nou behandel as 'n veroordeelde misdadiger, en Hy is oorgegee om mishandel te word deur die laagste en vuilste onder die mense. Die paleis van die hoëpriester het 'n binneplaas gehad waarin die soldate en die skare vergader het. Deur hierdie binneplaas is Jesus geneem na die sel, en aan alle kante is Hy gehoon met Sy aanspraak dat Hy die Seun van God was. Sy eie woorde dat Hy sal “sit aan die regterhan van God,” en dat Hy “sal kom op die wolke van die hemel” is spottend herhaal. Terwyl Hy in die sel gewag het op Sy geregtelike verhoor, is Hy nie beskerm nie. Die gepeupel het gesien hoe wreed Hy behandel is voor die raad, en dit het hulle vrypostig gemaak om uiting te gee aan al die sataniese elemente van hulle natuur. Juis die edele en goddelike houding van Christus het hulle waansinnig gemaak. Sy sagmoedigheid, Sy onskuld en Sy geduld het hulle met 'n haat, gebore uit die Satan, vervul. Genade en regverdigheid is vertrap. Nog nooit is 'n misdadiger op meer onmenslike wyse mishandel as wat hulle die Seun van God mishandel het nie. KE 726.2

Maar nog 'n groter angs het Jesus se hart verskeur; die slag wat die meeste pyn veroorsaak het, kon geen vyand se hand toedien nie. Terwyl Hy voor Kajafas verhoor is, is Christus deur een van Sy eie dissipels verloën. KE 727.1

Na hulle hulle Meester in die tuin verlaat het, het twee van Sy dissipels dit gewaag om op n afstand die bende te volg wat Jesus gevangegeneem het. Hulle was Petrus en Johannes. Die priesters het Johannes herken as een van Jesus se welbekende dissipels; hulle het hom in die saal toegelaat, hopende dat hy, waar hy die vernedering van sy Leier sien, die idee sou verwerp dat so iemand die Seun van God kon wees. Op voorspraak van Johannes is Petrus ook in die saal toegelaat. KE 727.2

In die binneplaas het daar 'n vuur gebrand, want dit was die koudste uur van die nag, net vóór dagbreek. Daar was n aantal mense rondom die vuur en Petrus het vermetel ook daar onder hulle gaan staan. Hy wou nie uitgeken wees as 'n dissipel van Jesus nie. Deur ongeërg met die skare te meng, het hy gehoop dat hulle hom sou aansien vir een van die wat Jesus na die saai gebring het. KE 728.1

Maar toe die lig in Petrus se gesig skyn, het 'n vrou wat deurwagter was, hom stip aangekyk. Sy het opgemerk dat hy saam met Johannes ingekom het, sy het gesien hoe neerslagtig hy lyk, en het gedink dat hy moontlik 'n dissipel van Jesus kon wees. Sy was een van die diens- meisies in Kajafas se huis, en sy was nuuskierig om te weet. Sy het aan Petrus gevra, “Is jy tog nie een van Sy dissipels nie?” Petrus was verskrik en verward; skielik was die oë van die hele groep op hom gevestig. Hy het gemaak of hy haar nie verstaan nie; maar sy het aangehou, en aan diegene rondom haar gesê dat hierdie man ook by Jesus was. Petrus was verplig om te antwoord, en hy het bitsig gesê, “Vrou, ek ken Hom nie.” Dit was die eerste verloëning, en dadelik het die haan gekraai. O Petrus, hoe gou is jy skaam vir jou Meester! Hoe gou verloën jy jou Here! KE 728.2

Die dissipel Johannes, toe hy die geregsaal binnegegaan het, het nie geprobeer om die feit te verberg dat hy 'n volgeling van Jesus was nie. Hy het nie aangesluit by die ongemanierde groep wat sy Meester beledig het nie. Hy is nie ondervra nie, want hy het nie geprobeer om homself vals voor te doen en dus agterdog te wek nie. Hy het 'n stil hoekie gesoek, waar die gepeupel hom nie sou sien nie, maar so naby moontlik aan Jesus. Hier kon hy alles hoor en sien wat by die verhoor van sy Here plaasgevind het. KE 728.3

Petrus wou nie die mense laat agterkom wie hy was nie. Deur die onverskillige houding wat hy aangeneem het, het hy hom op die vyand se grond geplaas, en hy het 'n maklike prooi van versoeking geword. As hy geroep was om vir Sy Meester te veg, sou hy 'n dapper soldaat gewees het; maar toe die vinger van veragting na hom gewys is, het hy bewys dat hy 'n lafaard is. Baie wat nie sal terugdeins vir aktiewe stryd vir hulle Here nie, sal onder bespotting hulle geloof verloën. Deur omgang met diegene wat hulle behoort te vermy, stel hulle hulleself in die weg van versoeking. Hulle versoek die vyand om hulle te versoek, en hulle word gelei om dinge te sê en te doen waaraan hulle onder ander omstandighede nooit skuldig sou gewees het nie. Die dissipel van Christus wat in ons tyd sy geloof verberg uit vrees vir lyding of bespotting, verloën sy Here net so gewis soos Petrus daar in die geregsaal. KE 728.4

Petrus het geprobeer om geen belang te stel in die verhoor van sy Meester nie, maar dit het sy hart baie seergemaak om die wrede bespotting aan te hoor, en die mishandeling te aanskou wat Hy moes verduur. Maar dit was nie al nie, hy was verbaas en gebelg dat Jesus Homself en Sy volgelinge so verneder het deur Hom te onderwerp aan daardie behandeling. Ten einde sy ware gevoelens te bedek, het hy probeer aansluit by die vervolgers van Jesus in hulle beledigende skertsery. Maar hy het onnatuurlik gelyk. Sy gedrag was teenstrydig met sy oortuiging en terwyl hy geprobeer het om onverskillig te gesels, kon hy nie help om verontwaardiging te toon oor die belediging van sy Meester nie. KE 729.1

Die aandag is vir die tweede maal op hom gevestig, en weer is hy daarvan beskuldig dat hy 'n volgeling van Jesus was. Hy het nou met n eed gesê, “Ek ken die man nie.” Maar daar is nog 'n kans aan hom gegee. 'n Uur het verbygegaan toe een van die knegte van die hoëpriester, wat 'n bloedverwant van die man was wie se oor deur Petrus afgekap is, aan hom gevra het, “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?” “Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galileër en jou spraak is net so.” Dit het Petrus woedend gemaak. Die dissipels van Jesus was bekend vir die kiesheid van hulle taal, en om sy ondervraers heeltemal te mislei en om sy aangenome karakter te regverdig, het Petrus nou sy Meester met verwensings en vloeke verloën. Weer het die haan gekraai. Hierdie keer het Petrus dit gehoor en hy het die woorde van Jesus onthou, “Voordat die haan tweemaal kraai, sal jy My driemaal verloën.” Markus 14: 30. KE 729.2

Toe die verlagende vloeke nog skaars van Petrus se lippe weggesterf het, en toe die gekraai van die haan nog in sy ore weerklink, het die Heiland Sy hoof weggedraai van Sy fronsende regters, en Sy arme dissipel vol in die aangesig gekyk. Terselfdertyd het Petrus se oë die van sy Meester ontmoet. In daardie sagmoedige gelaat het hy groot ontferming en droefheid gelees, maar daar was nie verontwaardiging nie. KE 729.3

Die aanskoue van daardie bleek, lydende gelaat, daardie bewende lippe, daardie blik van ontferming en vergifnis, het sy hart deurboor soos 'n vlym. Sy gewete is wakker gemaak. Sy geheue het aktief geword. Petrus het die belofte onthou wat hy n paar uur tevore gemaak het, dat hy in die gevangenis of in die dood met sy Here sou gaan. Hy het onthou hoe sleg hy gevoel het toe die Heiland hom daar in die bovertrek meegedeel het dat hy Hom nog daardie nag driemaal sou verloën. Petrus het so pas verklaar dat hy Jesus glad nie geken het nie, maar nou het hy met bittere droefheid besef hoe goed sy Here hom geken het, en hoe reg Hy sy hart gelees het, waarvan hy die valsheid self nie geken het nie. KE 730.1

Skielik het hy aan baie dinge gedink. Die Heiland se ontferming, Sy vriendelikheid en lankmoedigheid, Sy sagmoedigheid en geduld teenoor Sy swakke dissipels — al hierdie dinge het hy onthou. Hy het die waarskuwing onthou, “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie mag ophou nie.” Lukas 22: 31, 32. Hy het met afsku gedink aan sy eie ondankbaarheid, sy valsheid, sy leuens. Weer eens het hy na sy Meester gekyk, en toe sien hy hoedat n onheilige hand Hom in die gesig slaan. Nie in staat om die toneel langer te verduur nie, het hy hom met 'n gebroke hart uit die saal gehaas. KE 730.2

Eensaam en in die duisternis het hy voortgestrompel; hy het nie geweet waarheen nie en het ook nie omgegee nie. Eindelik het hy homself weer in Getsemane bevind. Die tonele van n paar uur tevore het helder voor sy gees gekom. Die lydende aangesig van sy Here, verwronge en bevlek met die bloedsweet, het voor hom opgedoem. Met bittere selfverwyt het hy onthou dat Jesus alleen geween en gesmeek het, terwyl hulle wie Hy gevra het om saam met Hom te waak in daardie beproewingsuur geslaap het. Hy het Sy opdrag onthou, “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” Matt. 26: 41. Die toneel in die geregsaal het weer helder voor hom gelewe. Dit was 'n marteling vir sy gebroke hart om te weet dat hy die Heiland se lyde en droefheid nog swaarder gemaak het. Op dieselfde plek waar Jesus Sy smeekgebede tot Sy Vader gebid het, het Petrus op sy aangesig geval, en gewens dat hy kon sterf. KE 730.3

Dit was deur te slaap, nadat Jesus hom vermaan het om te waak en te bid, dat Petrus die weg oopgemaak het vir sy groot sonde. Deur op daardie kritieke uur te slaap, het al die dissipels 'n groot verlies gely. Christus het geweet van die groot beproewing wat hulle sou moes deurmaak. Hy het geweet hoe die Satan sou werk om hulle gevoelens te verstomp sodat hulle nie gereed sou wees vir die beproewing nie. Dit is daarom dat Hy hulle gewaarsku het. As Petrus daardie ure in die tuin sou gewaak en gebid het, sou hy nie later op sy eie swakke krag moes steun nie. Hy sou sy Here nie verloën het nie. As die dissipels saam met Christus sou gewaak het in Sy lyde, sou hulle voorbereid gewees het om Hom te sien sterf aan die kruis. In 'n sekere mate sou hulle Sy oorweldigende angs verstaan het. Hulle sou herinner gewees het aan Sy voorspelling van Sy lyde, Sy dood, en Sy opstanding. In die duisternis van daardie vreeslike uur, sou ligstrale die duisternis verlig en hulle geloof versterk het. KE 730.4

Sodra dit dag geword het, het die Sanhedrin weer vergader, en weer is Jesus in die raadsaal gebring. Hy het verklaar dat Hy die Seun van God is, en hulle het daardie verklaring die aanklag teen Hom gemaak. Maar hulle kon Hom nie op hierdie aanklag veroordeel nie, want baie van hulle was nie op daardie nagsitting teenwoordig nie, en hulle het nie Sy woorde gehoor nie. Ook het hulle geweet dat die Romeinse geregshof Hom nie op daardie aanklag tot die dood sou veroordeel nie. As hulle egter weer daardie woorde uit Sy eie mond kon hoor, mag hulle hulle doel bereik. Sy aanspraak op die Messiasskap sou hulle miskien kon voorstel as 'n oproerige politieke aanspraak. KE 731.1

“As u die Christus is, sê vir ons,” het hulle gesê. Maar Christus het geswyg. Hulle het aangehou om Hom te bestook met vrae. Eindelik het Hy droewig gesê: “As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie. En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.” Maar sodat hulle sonder verskoning kon wees, het Hy die plegtige waarskuwing gegee, “Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.” KE 731.2

“Is U dan die Seun van God?” het hulle tegelyk gevra. En Hy het hulle geantwoord, “U sê dat Ek is.” Toe het hulle uitgeroep, “Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit Sy mond gehoor.” KE 731.3

En so sou Jesus op hierdie derde veroordeling van die Joodse gesag sterf. Al wat nou nog nodig was, het hulle gemeen, was dat KE 731.4

Toe het die derde toneel van mishandeling en bespotting afgespeel, baie erger as die wat Hy ontvang het van die gepeupel. In die teenwoordigheid van die priesters en owerstes, en met hulle goedkeuring het dit plaasgevind. Alle gevoel van medelyde en van menslikheid het uit hulle harte gewyk. As hulle argumente swak was en nie daarin geslaag het om Hom stil te maak nie, het hulle ander wapens gehad —- daardie wapens wat deur die eeue gebruik is om ketters die swye op te lê, naamlik die wapens van foltering, geweld en die dood. KE 732.1

Toe die regters hulle uitspraak teen Jesus gegee het, het 'n sataniese woede die mense beetgepak. Die gebulder van stemme was soos die van wilde diere. Die skare het op Jesus afgestorm en geskreeu: Hy is skuldig, maak Hom dood! As dit nie vir die Romeinse soldate was nie, sou Jesus nie geleef het om aan die kruis van Golgota genael te word nie. Hy sou verskeur gewees het voor Sy regters, as die Romeinse gesag nie tussenbei getree en deur wapengeweld die skare teëgehou het nie. KE 732.2

Die heidense manne was verontwaardig oor die brutale behandeling van iemand teen wie niks bewys is nie. Die Romeinse offisiere het verklaar dat die Jode in hulle veroordeling van Jesus inbreuk gemaak het op die gesag van die Romeinse owerheid, en dat dit selfs teen die Joodse wet was om iemand tot die dood te veroordeel op sy eie getuienis. Hierdie optrede het die verrigtings onderbreek; maar die Joodse leiers was dood vir jammerte of skaamtegevoel. KE 732.3

Die priesters en owerstes het die waardigheid van hulle posisie vergeet, en hulle het geskel op die Seun van God. Hulle het Hom beledig in verband met Sy geboorte. Hulle het verklaar dat Sy aanmatiging deur te sê dat Hy die Messias is, 'n skanddood verdien. Selfs die laagste manne daar het deelgeneem aan die mishandeling. Daar is 'n ou kleed oor Sy hoof gegooi, en Sy vervolgers het Hom in die gesig geslaan en gesê: “Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” Toe hulle die kleed weer aftrek, het een van hulle in Sy gesig gespuug. KE 732.4

Die engele van God het getrou elke woord en daad en blik van minagting teen hulle geliefde Aanvoerder opgeskryf. Eendag sal diegene wat die bleek gelaat van Christus verag en daarop gespuug het, Hom aanskou in 'n heerlikheid wat die van die son oortref. KE 732.5