Die Koning Van Die Eeue

75/88

Getsemane

VERGESEL van Sy dissipels het die Heiland stadig gestap na die tuin van Getsemane. Die paasmaan het vol geskyn in 'n wolke- lose nag. Die stad van pelgrimstente was in stilte gesus. KE 700.1

Jesus het ernstig met Sy dissipels gesels en hulle onderrig; maar toe hulle Getsemane nader, het Hy 'n vreemde stilswye bewaar. Hy het dikwels daardie plek besoek om te peins en te bid; maar nog nooit met 'n hart so vol droefheid as in daardie nag van Sy lyde nie. Deur Sy hele lewe op aarde het Hy in die lig van Gods teenwoordigheid gewandel. In Sy botsings met mense wat besiel was met die gees van die Satan, kon Hy altyd sê, “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.” Joh. 8: 29. Maar nou het dit geskyn asof Hy uitgegesluit was van die lig van Gods behoudende teenwoordigheid. Nou word Hy saamgetel met die oortreders. Hy moes die straf op die sondes van die gevalle mensdom dra. Op Hom, wat geen sonde geken het nie, moet die sondes van ons almal gelaai word. So vreeslik lyk die sonde vir Hom, so verskriklik was die gewig van die sondelas wat Hy moes dra. dat Hy in versoeking gekom het om te vrees dat dit Hom vir ewig van Sy Vader se liefde sou skei. Toe Hy voel hoe vreeslik Gods toorn teen die sonde is, het Hy uitgeroep, “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” KE 700.2

Terwyl hulle die tuin nader, het die dissipels die merkbare verandering gesien wat oor hulle Meester gekom het. Nog nooit tevore het hulle Hom so hartseer en stil gesien nie. Namate hulle voortbeweeg het, het hierdie vreemde droefheid toegeneem; maar hulle het dit nie gewaag om Hom te vra wat die oorsaak was nie. Hy het gewaggel asof Hy wou val. By die tuin gekom, het die dissipels dadelik na die gewone plek van stilte gesoek sodat hulle Meester kon rus. Elke tree wat Hy nou geloop het, het met die grootste inspanning geskied. Hy het hoorbaar gekreun, asof Hy gedruk is deur 'n verskriklike las. Tweemaal moes Sy metgeselle Hom ondersteun anders sou Hy geval het. KE 702.1

Naby die ingang van die tuin het Jesus almal behalwe drie van Sy dissipels agtergelaat, en hulle beveel om vir hulleself en vir Hom te bid. Vergesel van Petrus, Jakobus, en Johannes het Hy na die afgesonderde skuilplek gegaan. Hierdie drie dissipels was Christus se mees vertroude metgeselle. Hulle het Sy heerlikheid op die berg gesien; hulle het gesien hoedat Moses en Elia met Hom praat; hulle het die stem uit die hemel gehoor; en nou, in Sy groot stryd, het Christus hulle teenwoordigheid naby Hom verlang. Dikwels voorheen het hulle die nag saam met Hom op hierdie plek deurgebring. By hierdie geleenthede, het hulle ná 'n tyd van gebed, rustig n endjie van hulle Meester geslaap, totdat Hy hulle in die oggend wakkergemaak het vir 'n nuwe dag se werk. Hy wou hê dat hulle die nag in gebed saam met Hom moes deurbring. Maar Hy kon dit darem nie verdra dat hulle getuies moes wees van die angs wat Hy sou deurmaak nie. KE 702.2

“Bly hier en waak saam met My,” het Hy gesê. KE 702.3

Hy het 'n endjie van hulle af weggegaan—nie so ver dat hulle Hom nie kon sien of hoor nie — en op Sy aangesig geval. Hy het gevoel dat Hy deur die sonde geskei word van Sy Vader. Die kloof was so wyd en swart en diep dat Sy gees gesidder het daarvoor. Hy sou nie Sy goddelike mag gebruik om hierdie lyde te ontwyk nie. As mens moes Hy die gevolge van die mens se sonde dra. As mens moes Hy die toorn van God teen die sonde verdra. KE 702.4

Christus se houding was nou heeltemal anders as voorheen. Sy lyde kan beste beskryf word in die woorde van die profeet, “Ontwaak, o swaard, teen My herder, en teen die man wat My metgesel is! spreek die Here van die leërskare.” Sag. 13: 7. As plaasvervanger en borg van die sondige mensdom, het Christus gely onder die goddelike gereg- tigheid. Hy het gesien wat geregtigheid beteken. Tot nou toe het Hy gestaan as voorspraak vir ander; nou het Hy na 'n voorspraak vir Homself verlang. KE 702.5

Toe Christus voel dat Sy eenheid met die Vader verbreek word, het Hy gevrees dat Hy in Sy menslike natuur nie in staat sou wees om die aanstaande stryd met die magte van die duisternis te verduur nie. In die woestyn van versoeking was die lot van die mensdom op die spel. Toe was Christus die oorwinnaar. Nou het die versoeker gekom vir die laaste groot worsteling. Hiervoor het hy homself in gereedheid gebring gedurende die drie jaar van Christus se bediening. Wat hom betref het, was alles op die spel. As hy die neerlaag hier ly, sou sy hoop op die oorwinning heeltemal vergaan; die koninkryke van hierdie wêreld sou dan op Christus oorgaan, en hy self sou verslaan en uitgewerp word. Maar as Christus oorwin sou word, sou die aarde die Satan se koninkryk word, en sou die mensdom vir altyd onder sy mag wees. Met die oog op alles wat op die spel was in die stryd, was Christus se siel vervul met die vrees van verwydering van God. Die Satan het aan Hom vertel dat as Hy borg vir 'n sondige wêreld word, sou die verwydering ewig wees. Hy sou geïdentifiseer word met die koninkryk van die Satan, en Hy sou nooit meer een met God wees nie. KE 703.1

En wat sou gewin word deur hierdie opoffering? Hoe hopeloos het die skuld en ondankbaarheid van die mense gelyk! Die Satan het die saak op sy ergste aan die Verlosser voorgestel: Die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle op stoflike en geestelike gebied bo alle ander bevoorreg is, het Jou verwerp. Hulle maak planne om Jou om die lewe te bring — Jy wat die grondslag, middelpunt, en seël is van die beloftes wat aan hulle gegee is as die eiendomsvolk. Een van Jou eie dissipels wat geluister het na Jou leer en aan die voorpunt was in die werk van die kerk, sal Jou verraai. Een van Jou ywerigste volgelinge sal Jou verloën. Almal sal Jou verlaat. Die gedagte was afskuwelik vir Christus. Dat diegene wat Hy gekom het om te red, diegene wat Hy so liefgehad het, saam sou werk om die Satan se planne uit te voer, dit het Sy siel deurboor. Die stryd was verskriklik. Dit was so heftig soos die maat van die skuld van Sy volk, van Sy beskuldigers en verraaier, en die skuld van 'n wêreld wat in die sonde lê. Die sondes van die mense het swaar gedruk op Christus, en die besef van Gods toorn teen die sonde het Sy lewe uit Hom gepers. KE 703.2

Sien Hom daar waar Hy peins oor die losprys vir die menslike siel. In Sy angs klem Hy vas aan die koue grond, asof Hy wou belet dat Hy verder van God verwyder word. Die koue dou van die nag val op Hom waar Hy daar lê, maar Hy voel dit nie. Van Sy bleek lippe kom die woorde van die bitter smeekbede, “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; maar Hy voeg daaraan toe,“ “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. KE 704.1

Die menslike hart smag na simpatie in lyding. Hierdie verlange het Christus ook in die diepte van Sy wese gevoel. In die groot a g van Sy siel het Hy na Sy dissipels gekom met 'n brandende begeerte om 'n paar woordjies van troos te hoor van diegene wat Hy so dikwels geseën en vertroos en beskerm het in droefheid en eilende. Die Een wat altyd woorde van medelyde vir hulle gehad het, het nou in bomenslike foltering verkeer, en Hy wou graag weet dat hulle besig was om vir Hom en vir hulleself te bid. Hoe donker het die kwaadaardigheid van die sonde gelyk! Verskriklik was die versoeking om die mensdom aan hulle lot oor te laat om die gevolge van hulle eie skuld te dra, terwyl Hy sonder skuld voor God staan. As Hy maar net kon weet dat Sy dissipels dit verstaan en waardeer, sou dit Hom versterk het. KE 704.2

Sukkelende het Hy van die grond af opgestaan en na die plek gewaggel waar Hy Sy metgeselle laat staan het. Maar Hy “kry hu e aan die slaap.” As Hy hulle biddend gevind het, sou dit Hom verligting gegee het. As hulle skuiling in God gesoek het, sodat satamese werktuie nie die oorhand oor hulle mag kry nie, sou Hy vertroos gewees het deur hulle onwrikbare geloof. Maar hulle het nie agges aan op die herhaalde vermaning “waak en bid” nie. Aanvanklik was hulle baie ontstel om hulle Meester, wat gewoonlik so kalm en waar lg was, te sien worstel met 'n droefheid wat onbegryplik was. Hulle het gebid toe hulle die gesmeek van die lyer gehoor het. Dit was nie hulle plan om hulle Here in die steek te laat nie, maar dit was asof hulle verlam was deur 'n bedwelming wat hulle sou kon afgeskud het as hulle aangehou bid het tot God. Hulle het nie die nodigheid om te waak en ernstig te bid om versoeking te weerstaan, besef nie. KE 704.3

Net vóór hulle na die tuin is, het Jesus aan Sy dissipels gesê, “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My.” Hulle het Hom beslis verseker dat hulle in die gevangenis en in die dood met Hom sou gaan. En arme selfvoldane Petrus het bygevoeg, “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.” Markus 14: 27, 29. Maar die dissipels het op hulleself vertrou. Hulle het nie op die magtige Helper vertrou soos Christus hulle vermaan het om te doen nie. En daarom, toe die Heiland hulle simpatie en gebede die meeste nodig gehad het, het Hy hulle aan die slaap gevind. Ook Petrus het geslaap. KE 705.1

En Johannes, die geliefde dissipel wat met sy hoof op Jesus se bors gelê het, was aan die slaap. Die liefde van Johannes vir sy Meester moes hom tog seker wakker gehou het. Hy moes saam gebid het met sy geliefde Heiland in die tyd van Sy groot droefheid. Die Verlosser het hele nagte in gebed deurgebring vir Sy dissipels, sodat hulle geloof nie mag ophou nie. As Jesus nou aan Jakobus en Johannes die vraag gestel het, “Kan julle die beker drink wat Ek aanstonds gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” sou hulle sekerlik nie geantwoord het nie, “Ons kan.” Matt. 20: 22. KE 705.2

Jesus se stem het die dissipels wakker gemaak, maar hulle het Hom skaars geken, want Sy gelaat was so deur die angs verander. Jesus het Petrus aangespreek en gesê: “Simon slaap jy? Was jy nie in Staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Die swakheid van die dissipels het die simpatie van Jesus opgewek. Hy het gevrees dat hulle nie in staat sou wees om die toets te deurstaan wat sou kom ten gevolge van Sy verraad en dood nie. Maar Hy het hulle nie bestraf nie, en net gesê, “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Selfs in Sy lyde, het Hy verskoning gemaak vir hulle swakheid. “Die gees is wel gewillig,” het Hy gesê, “maar die vlees is swak.” KE 705.3

Weer is die Seun van God oorweldig deur 'n bomenslike foltering, en flou en uitgeput het Hy terug gewaggel na die plek van Sy vorige worsteling. Sy lyde was nou groter as ooit. Toe die sielsangs Hom oorval het, het Sy sweet geword “soos bloeddruppels wat op die grond val.” Die sipres- en palmbome was stille getuies van Sy angs. Van hulle takke het die dou gedrup op Sy liggaam, asof die natuur geween het omdat die Skepper daarvan alleen met die magte van die duisternis worstel. KE 705.4

'n Kort rukkie tevore het Jesus soos 'n magtige seder gestaan, wat die stormwinde van opposisie wat teen Hom aangewaai, getrotseer het. Halsstarrige wille, en harte vol lis en kwaadwilligheid, het tever-, geefs probeer om Hom in verwarring te bring en te oorweldig. Hy het in Sy goddelike majesteit gestaan as die Seun van God. Maar nou was Hy soos 'n riet, krom gebuig deur die wrede storm. Hy het aan die einde van Sy oorwinningswerk gekom, waar Hy op elke stap die oorwinning oor die magte van die duisternis behaal het. Soos een wat reeds verheerlik was, het Hy aanspraak gemaak op eenheid met God. Sonder om te stamel het Hy Sy lofliedere gesing. Hy het met Sy dissipels gepraat in woorde van bemoediging en teerheid. Nou het Hy gekom tot die uur van die mag van die duisternis. Nou is Sy stem in die stille naglug gehoor, nie oorwinnend nie, maar vol van menslike angs. Die woorde van die Heiland is gedra tot die ore van die lomerige dissipels, “Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” KE 706.1

Die eerste drang by die dissipels was om na Hom toe te gaan, maar Hy het hulle beveel om daar te wag, en te waak en te bid. Toe Jesus by hulle kom, kry Hy hulle nog almal aan die slaap. Weer het Hy verlang na geselskap, en na woorde van Sy dissipels wat verligting sou bring en die duisternis sou verdryf wat Hom so beklem het. Maar hulle oë was swaar van die vaak; “hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.” Sy teenwoordigheid het hulle wakker gemaak. Hulle het gesien dat Sy gesig die merke gehad het van die bloedsweet en die angs; en hulle was bang. Die angs wat Hy verduur het, kon hulle nie verstaan nie. “So misvormd was Sy voorkomste, geen mens meer nie, en Sy gestalte was nie soos die van 'n mensekind nie.” Jes. 52. 14. KE 706.2

Jesus het weggedraai, weer na Sy skuilplek gegaan, en neergeval, oorweldig deur die vrees van die groot duisternis. Die mensheid van die Seun van God het gesidder in daardie vreesfike uur. Nou het Hy nie meer vir Sy dissipels gebid dat hulle geloof nie moes ophou nie, maar vir Sy eie beproefde en angstige siel. Die vreeslike oomblik het gekom — die oomblik wat die lot van die wêreld sou beslis. Die lot van die mensdom was in die weegskaal. Selfs nou nog kon Christus weier om die beker te drink wat ingeskink was vir die skuldige mensdom. Dit was nog nie te laat nie. Hy kon nog die bloedsweet van Sy voorhoof afvee, en die mens maar laat vergaan in sy sonde. Hy kon sê, Laat die oortreder die straf van sy sonde kry, en Ek sal teruggaan na My Vader. Sal die Seun van God die bitter beker van vernedering en loltering drink? Sal die onskuldige die gevolge dra van die vloek op die sonde ten einde die skuldiges te red? Bewend kom die woorde oor die bleek lippe van Jesus, “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” KE 706.3

Driemaal het Jesus hierdie bede gebid. Driemaal het Sy mensheid teruggedeins vir die laaste groot opoffering. Maar nou was dit of die geskiedenis van die mensdom opgedoem het voor die Verlosser van die wêreld. Hy het gesien dat die oortreders van die wet, as hulle aan hulleself oorgelaat word, moet vergaan. Hy sien die hulpeloosheid van die mens. Hy sien die mag van die sonde. Die wee en geween van 'n gedoemde wêreld kom voor Hom op. Hy sien watter lot hulle wag, en Hy neem die besluit. Hy sal die mens red, al kos dit Hom ook wat. Hy aanvaar die bloeddoop sodat verloregaande miljoene deur Hom die ewige lewe mag verkry. Hy het die hemelhowe verlaat, waar alles reinheid en geluk en heerlikheid was, om die een verlore skaap te red, die een wêreld wat in die sonde geval het. En Hy sal nie Sy sending opgee nie. Hy sal die soenoffer word vir 'n geslag wat moeds- willig gesondig het. Sy smeekbede getuig nou van onderwerping: “As hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” KE 707.1

Toe Hy hierdie besluit geneem het, het Hy sterwende op die grond neergeval vanwaar Hy gedeeltelik orent gekom het. Waar was Sy dissipels nou om hulle hande tederlik onder die hoof van hulle Meester te plaas, en Sy voorhoof te baai? Die Heiland het die wynpers alleen getrap, en van die volk was niemand daar om Hom te help nie. KE 707.2

Maar God het saam met Sy Seun gely. Die engele het die Heiland se lyding gesien. Hulle het hulle Here gesien, omring van legioene van die sataniese magte, Sy liggaam bewende van 'n misterieuse vrees. Daar was stilte in die hemel. Geen harp is aangeraak nie. As sterwelinge maar die verbasing van die engelskare kon sien waar hulle in stille droefheid aanskou het hoedat die Vader Sy strale van lig, liefde, en heerlikheid afgesluit het van Sy geliefde Seun, sou hulle 'n beter besef hê van die afskuwelikheid van die sonde in Sy oë. KE 707.3

Die wêrelde wat nie geval het nie, en die hemelse engele het met die grootste belangstelling toegekyk terwyl die stryd sy einde genader het. Die Satan met al sy bose magte, die legioene van afvalliges, het hierdie groot krisis in die verlossing met die grootste aandag dopgehou. Die magte van goed en kwaad het gewag om te sien watter antwoord daar sou kom op Christus se driemaal herhaalde smeekbede. Engele wou baie graag verlossing bring aan die goddelike Lyer, maar dit kon hulle nie doen nie. Daar was geen uitweg vir die Seun van God nie. In hierdie vreeslike krisis, waarin alles op die spel was, en toe die misterieuse beker gebewe het in die hand van die Lyer, het die hemele oopgegaan, 'n lig het geskyn in die stormagtige duisternis van die krisis-uur, en die magtige engel wat in die teenwoordigheid van God staan, en die plek beklee waaruit die Satan geval het, het na die sy van Christus gekom. Die engel het nie gekom om die beker uit Christus se hand te neem nie, maar om Hom krag te gee om dit te drink, en met die versekering van die Vader se liefde. Hy het gekom om die god-menslike Smekeling te versterk. Hy het Hom gewys na die geopende hemele, en Hom vertel van die siele wat sou gered word ten gevolge van Sy lyde. Hy het Hom verseker dat Sy Vader groter en magtiger is as die Satan; dat Sy dood die Satan heeltemal sou verslaan, en dat die koninkryke van hierdie wêreld gegee sal word aan die heiliges van die Allerhoogste. Hy het Hom vertel dat Hy die moeitevolle arbeid van Sy siel sou sien en versadig sou wees, omdat Hy 'n groot menigte van die mensekinders sou red — vir ewig red. KE 707.4

Christus se lyde het nie opgehou nie, maar die neerslagtigheid en moedeloosheid het Hom verlaat. Die woede van die storm het geen- sins afgeneem nie, maar Hy wat die doelwit daarvan was, is versterk om die woede daarvan te trotseer. Hy het kalm en bedaard te voorskyn gekom. Op Sy bebloede gesig het daar 'n hemelse vrede gerus. Hy het verduur wat geen mensekind ooit kon dra nie, omdat Hy die angste van die dood vir elke mens gesmaak het. KE 709.1

Die slapende dissipels het skielik wakker geword van die lig wat om die Heiland geskyn het. Hulle het die engel gesien wat oor die uitgeputte liggaam van hulle Meester gebuig het. Hulle het gesien hoe hy die Heiland se hoof oplig op sy skoot, en hoe hy na die hemel wys. Hulle het sy stem gehoor, soos die soetste musiek, sprekende woorde van hoop en vertroosting. Die dissipels het die toneel op die berg van verheerliking in herinnering geroep. Hulle het die heerlikheid onthou wat om Jesus geskyn het in die tempel, en die stem van God wat uit die wolk gespreek het. Nou het hulle weer daardie heerlikheid gesien, en hulle het niks meer gevrees vir hulle Meester nie. Hy was in die sorg van God; 'n magtige engel is gestuur om Hom te beskerm. Weer het die dissipels toegegee aan daardie vreemde lomerigheid wat hulle oorweldig het. Weer het Jesus hulle aan die slaap gevind. KE 709.2

Jesus het hulle in droefheid aanskou en gesê, “Slaap maar langer en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.” KE 710.1

Terwyl Hy nog besig was om hierdie woorde te spreek, het Hy die voetstappe van die gepeupel gehoor wat Hom gesoek het, en Hy het gesê, “Staan op, laat ons gaan; hier is hy naby wat My verraai.” KE 710.2

Geen teken van Sy lyding was meer sigbaar toe Jesus Sy verraaier tegemoet gestap het nie. Hy was Sy dissipels n entjie vooruit, en het gevra, “Wie soek julle?” Hulle het geantwoord, “Jesus, die Nasa- rener.” Toe sê Jesus, “Dit is Ek.” Toe Hy hierdie woorde sê, het die engel wat Hom 'n rukkie tevore bedien het, tussen Hom en die skare gekom. n Goddelike lig het die Heiland se gelaat verlig, en die vorm van n duif het Hom oorskadu. In die teenwoordigheid van die goddelike heerlikheid, kon die moorddadige gepeupel nie vir een oomblik staande bly nie. Hulle het teruggesteier. Priesters, ouderlinge, soldate, en selfs Judas het op die grond neergeval soos dooie mense. KE 710.3

Die engel het hom onttrek, en die lig het verdwyn. Jesus het kans gehad om te ontsnap, maar Hy het kalm en vol vertroue gebly. Soos iemand wat verheerlik was, het Hy daar in die midde van daardie geharde groep gestaan, wat nou hulpeloos aan Sy voete gelê het. Die dissipels het toegekyk, stil van verwondering en vrees. KE 711.1

Maar die toneel het vinnig verander. Die bende het opgestaan. Die Romeinse soldate, die priesters en Judas, het Christus omsingel. Dit het geskyn asof hulle skaam was oor hulle swakheid, en bang dat Hy nog sou ontvlug. Weer het die Verlosser die vraag gestel, “Wie soek julle?” Hulle het bewys gehad dat Hy wat voor hulle gestaan het, die Seun van God was, maar hulle wou nie oortuig wees nie. Op die vraag, Wie soek julle? het hulle weer geantwoord, “Jesus, die Nasarener. Toe het die Heiland gesê, “Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan”—Hy het gewys na die dissipels. Hy het geweet hoe swak hulle geloof was, en Hy wou hulle beskerm van versoeking en beproewing. Vir hulle was Hy gereed om Homself op te offer. KE 711.2

Judas die verraaier het nie die rol vergeet wat hy moes speel nie. Toe die bende die tuin binnegegaan het, was hy aan die voorpunt, onmiddellik gevolg deur die hoëpriester. Aan diegene wat Jesus moes vang, het hy 'n teken gegee, en gesê, “Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom.” Matt. 26: 48. Nou het hy geveins asof hy geen deel met hulle gehad het nie. Hy het Jesus genader en Sy hand geneem soos 'n ou vriend. Met die woorde, “Gegroet, Rabbi,” het hy Hom verskeie maal gesoen, en hy het gemaak asof hy ween in medelyde met Hom in Sy gevaar. KE 711.3

Jesus het aan hom gesê, “Vriend, waarvoor is jy hier?” Sy stem was gebroke van droefheid toe Hy verder vra, “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?” Hierdie woorde moes die gewete van die verraaier wakker gemaak, en sy harde hart aangeraak het; maar eer, trou, en menslike tederheid het van hom gewyk. Hy het uitdagend daar gestaan, en geen teken van vriendelikheid getoon nie. Hy het homself aan die Satan oorgegee, en hy het geen krag gehad om hom te weerstaan nie. Jesus het nie die verraaier se kus geweier nie. KE 711.4

Die bende het vrypostig geword toe hulle sien dat Judas die lig- gaam aanraak van Hom wat net 'n rukkie tevore voor hulle oë verheerlik was. Hulle het Jesus nou gepak en daardie dierbare hande wat gedurig gebruik is om goed te doen, vasgebind. KE 712.1

Die dissipels het gemeen dat hulle Meester nie sou toelaat dat hulle Hom gevangeneem nie. Want dieselfde mag wat die bende teen die grond geslinger het as dooie mense, kon hulle hulpeloos hou sodat Jesus en Sy metgeselle kon ontsnap. Hulle was teleurgestel en verontwaardig toe hulle sien dat daar toue tevoorskyn gebring word om die hande van Hom wat hulle liefhet, vas te bind. In sy woede het Petrus sy swaard uitgetrek en geprobeer om sy Meester te verdedig, maar al wat hy uitgerig het, was om die oor van die hoëpriester se kneg af te kap. Toe Jesus sien wat hy gedoen het, het Hy Sy hande losgemaak, alhoewel hulle styf in die greep van die Romeinse soldate was, en Hy het gesê, “Hou op, dit is genoeg!” Hy het die verwonde oor aangeraak, en dit is' dadelik genees. Toe het Hy vir Petrus gesê, “Steek jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou My Vader kan bid, en Hy sal vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar stel nie?”—'n legioen in die plek van elkeen van die dissipels. Waarom tog, het die dissipels gedink, red Hy Homself en ons nie? Jesus het hulle onuitgesproke gedagte geantwoord deur by te voeg, “Hoe sou die Skrifte dan vervul word, dat dit so moet gebeur?” “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” KE 712.2

Die offisiële waardigheid van die Joodse leiers het hulle nie belet om aan te sluit by die bende wat Jesus gevange geneem het nie. Sy gevangeneming was 'n te belangrike saak om aan ondergeskiktes oorgelaat te word; die listige priesters en ouderlinge het aangesluit by die tempelpolisie, en die gepeupel en Judas na Getsemane gevolg. Wat 'n bende vir daardie waardigheidsbekleërs om by aan te sluit —'n bende wat begerig was om 'n oproer te sien, en gewapen met allerhande soorte wapens, asof hulle jag gemaak het op 'n wilde dier! KE 712.3

Christus het Sy deurdringende blik gevestig op die priesters en ouderlinge. Die woorde wat Hy tot hulle gerig het, sou hulle nooit vergeet solank hulle leef nie. Dit was soos die skerp pyle van die Almagtige. Met waardigheid het Hy gesê: Julle het teen My uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke. Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel. Julle het alle geleentheid gehad om My gevange te neem, maar julle het niks gedoen nie. Die nag is beter geskik vir julle werk. “Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.” Die dissipels was vreesbevange toe hulle sien dat Jesus toelaat dat hulle Hom vang en vasbind. Hulle was verontwaardig dat Hy hierdie vernedering van Homself en hulle toelaat. Hulle kon Sy gedrag nie begryp nie, en hulle het Hom dit kwalik geneem dat Hy Hom aan die bende oorgegee het. In hulle verontwaardiging en vrees, het Petrus voorgestel dat hulle hulleself moes red. Hulle het gehandel op sy voorstel, en toe “het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.” Maar Christus het hierdie verlating voorspel, “Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar sal gejaag word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat staan; tog is Ek nie alleen nie, omdat My Vader met My is.” Joh. 16: 32. KE 712.4