Die Koning Van Die Eeue
“Laat Julle Hart nie Ontsteld Word nie”
TERWYL Hy Sy dissipels met goddelike liefde en tere medelyde gadegeslaan het, het Christus gesê, “Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.” Judas het die bovertrek verlaat, en Christus was alleen met die elf. Hy wou praat van Sy aanstaande skeiding van hulle; maar voordat Hy dit gedoen het, het Hy verwys na die groot doel van Sy sending. Dit was hieraan wat Hy altyd gedink het. Dit was Sy vreugde dat al Sy vernedering en lyding die Vader se Naam sou verheerlik. Dit was hierop dat Hy eerste van alles die gedagtes van Sy dissipels gevestig het. KE 680.1
Toe het Hy hulle liefderyk aangespreek, “My kinders, nog 'n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie — so sê Ek nou ook vir julle.” KE 680.2
Die dissipels was nie bly toe hulle dit hoor nie. Hulle het bang geword. Hulle het nader aan die Heiland gekom. Hulle Meester en Here, hulle geliefde Leraar en Vriend, Hy was vir hulle dierbaarder as die lewe self. Na Hom het hulle opgesien om hulp in al hulle moeilikhede, vir troos in al hulle droefheid en teleurstelling. Nou sou Hy hulle verlaat, 'n eensame, afhanklike groep. Vrees het hulle harte vervul. KE 680.3
Maar die Heiland se woorde aan hulle was vol hoop. Hy het geweet dat hulle deur die vyand aangeval sou word, en dat die Satan se lis die suksesvolste is teen diegene wat deur moeilikhede terneergedruk is. Daarom wou Hy hulle aandag aftrek van die “sigbare dinge,” en vestig op die “onsigbare” dinge. 2 Kor. 4: 18. Van hulle aardse ballingskap het Hy hulle gedagtes gevestig op die hemelse tuiste. KE 682.1
“Laat julle hart nie ontsteld word nie,” het Hy gesê; “glo in God, glo ook in My. In die huis van My Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” Vir julle ontwil het Ek in die wêreld gekom. Ek werk ten behoewe van julle. Wanneer Ek weggaan, sal Ek nog ywerig vir julle werk. Ek het in die wêreld gekom om Myself aan julle te openbaar sodat julle kan glo. Ek gaan na die Vader om saam met Hom te werk ten behoewe van julle. Die doel van Christus se weggaan was die teenoorgestelde van wat hulle gevrees het. Dit het nie finale skeiding beteken nie. Hy sou weggaan om vir hulle plek te berei, sodat Hy weer kon kom om hulle na Hom toe te neem. Terwyl Hy vir hulle die wonings berei, moet hulle karakters vorm volgens die goddelike voorbeeld. KE 682.2
Nog het die dissipels nie verstaan nie. Thomas wat maar altyd getwyfel het, het gesê, “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus sê vir hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” KE 682.3
Daar is nie baie paaie na die hemel nie. Elkeen kan nie sy eie weg kies nie. Christus het gesê, “Ek is die weg . . . ; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Vandat die eerste evangeliepreek gelewer is, toe daar in Eden gesê is dat die saad van die vrou die kop van die slang sou verbrysel, is Christus verhef as die weg, die waarheid, en die lewe. Hy was die weg toe Adam gelewe het, toe Abel die bloed van die geslagte lam, wat 'n voorstelling was van die bloed van die Verlosser, tot God gebring het. Christus is die weg waardeur die patriarge en profete verlos is. En Hy is die enigste weg waardeur ons tot God kan gaan. KE 682.4
“As julle My geken het,” het Christus gesê, “sou julle My Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” Maar nog het die dissipels nie verstaan nie. “Here, toon ons die Vader,” het Filippus gesê, “en dit is vir ons genoeg.” KE 683.1
Verbaas oor hulle stompsinnigheid, het Christus gesê, “Ek is al so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus?” Is dit moontlik dat jy nie die Vader sien in die werke wat Hy deur My doen nie? Glo jy nie dat Ek gekom het om van die Vader te getuig nie? “Hoe sê jy: Toon ons die Vader?” “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” Christus het nie opgehou om God te wees toe Hy mens geword het nie. Alhoewel Hy Hom verneder het om mens te word, was Hy nog God. Christus alleen kon die Vader aan die mensdom voorstel, en dit was die voorreg van die dissipels om hierdie voorstelling vir meer as drie jaar te aanskou. KE 683.2
“Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My terwille van die werke self.” Hulle kon hulle geloof veilig gevestig het op die bewys van Christus se werke, werke wat geen mens op sigself ooit gedoen het of kon doen nie. Christus se werk het getuig van Sy Godheid. Deur Hom is die Vader geopenbaar. KE 683.3
As die dissipels hierdie lewensband tussen die Vader en die Seun geglo het, sou hulle geloof nie faal wanneer hulle Christus se lyde en dood sien om 'n verloregaande wêreld te red nie. Christus wou hulle uit die toestand van swak geloof lei tot die sterk geloof wat hulle sou hê as hulle ten volle sou besef wat Hy was — God in die menslike vlees. Hy wou hê dat hulle moes sien dat hulle geloof hulle tot God moes lei en in Hom geanker moes wees. Hoe ywerig en volhardend het ons ontfermende Heiland getrag om Sy dissipels voor te berei vir die storm van versoeking wat hulle eerlank sou teister! Hy wou hulle met Hom verberg in God. KE 683.4
Terwyl Christus hierdie woorde gespreek het, het die heerlikheid van God in Sy aangesig gestraal, en almal teenwoordig is vervul met 'n heilige ontsag waar hulle aandagtig na Sy woorde geluister het. Hulle het sterker tot Hom aangetrokke gevoel; en namate hulle met sterker liefde tot Christus getrek is, is hulle nader aan mekaar gebring. Hulle het gevoel dat die hemel baie naby was, en dat die woorde waarna hulle geluister het 'n boodskap van hulle hemelse Vader was. KE 683.5
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle,” het Christus voortgegaan, “wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal Hy ook doen.” Die Heiland wou baie graag hê dat Sy dissipels moes verstaan vir watter doel Sy Godheid met die mensheid verbind was. Hy het na die wêreld gekom om die heerlikheid van God te openbaar, sodat die mens op- gehef kon word deur die herstellende krag daarvan. God is in Hom geopenbaar sodat Hy in hulle geopenbaar kon word. Jesus het geen eienskappe geopenbaar, geen kragte beoefen, wat die mens ook nie deur geloof in Hom kan hê nie. Sy volmaakte mensheid is iets wat al Sy navolgers kan hê as hulle aan God onderworpe is soos Hy was. KE 684.1
“En hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.” Hiermee het Christus nie bedoel dat die dissipels se werk van n meer verhewe aard sou wees as syne nie, maar dat dit van groter omvang sou wees. Hy het nie slegs die doen van wonderwerke bedoel nie, maar alles wat sou plaasvind onder die leiding van die Heilige Gees. KE 684.2
Ná die Here se hemelvaart, het die dissipels die vervulling van Sy belofte ondervind. Die tonele van die kruisiging, die opstanding, en die hemelvaart van Christus was 'n lewende werklikheid vir hulle. Hulle het gesien dat die profesieë letterlik vervul is. Hulle het die Skrifte ondersoek en die leer daarvan aangeneem met 'n geloof en versekering nie voorheen geken nie. Hulle het geweet dat die goddelike Leraar alles was wat Hy gesê het dat Hy is. Waar hulle hulle ervarings vertel, en die liefde van God verhef het, is die harte van mense versag, en menigtes het in Jesus geglo. KE 684.3
Die Heiland se belofte aan Sy dissipels is 'n belofte aan Sy kerk tot die einde van tyd. Dit was nie Gods oogmerk dat Sy wonderbare plan om mense te verlos maar net geringe resultate sou hê nie. Almal wat sal werk, vertrouende nie op wat hulle kan doen nie, maar op wat God vir hulle en deur hulle kan doen, sal sekerlik die vervulling van Sy belofte sien. “Hy sal groter werke doen as dit,” het Hy verklaar, “omdat Ek na My Vader gaan.” KE 684.4
En tog was die dissipels onbekend met die Heiland se onuitputlike bronne van krag. Hy het aan hulle gesê, “Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie.” Joh. 16: 24. Hy het verduidelik dat die geheim van sukses sou wees om krag en genade in Sy Naam te vra. Hy sou teenwoordig wees voor die Vader om namens hulle te vra Die bede van die nederigste bidder sou Hy voorstel as Sy eie ten behoewe van daardie siel. Elke opregte gebed word in die hemel verhoor. Dit mag miskien me vlot uitgedruk wees nie, maar as die hart daarin is, sal dit opstyg na die heiligdom waar Jesus dien, en Hy sal dit aan die Vader voorstel sonder 'n enkele stamelende woord, aangenaam in die soete geur van die wierook van Sy eie volmaaktheid. KE 684.5
Die pad van opregtheid en eerlikheid is nie een wat vry is van moeilikhede nie, maar in elke moeilikheid moet 'n oproep tot gebed gesien word. Daar is niemand wat leef wat enige krag het wat hy nie van God ontvang het nie, en die bron waar dit vandaan kom is oop vir die swakste mensekind. “Wat julle ook al in My Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in My Naam vra, sal Ek dit doen.” KE 685.1
Christus het Sy dissipels beveel om te bid “in My Naam.” In Christus se Naam moet Sy navolgers voor God staan. Kragtens die waarde van die offer wat vir hulle gegee is, is hulle van waarde in die oë van die Here. Ten gevolge van die toegerekende geregtigheid van Christus word hulle as kosbaar gereken. Om Christus ontwil vergewe die Here diegene wat Hom vrees. Hy sien nie in hulle die verwerplikheid van die sondaar nie. Hy sien in hulle die beeid van Sy Seun, in wie hulle glo. KE 685.2
Die Here is teleurgestel wanneer Sy kinders hulleself gering skat. Hy wil hê dat Sy uitverkore erfdeel hulleself moet waardeer volgens die prys wat Hy op hulle geplaas het. God wou hulle hê, anders sou Hy nie Sy Seun op so n duur sending gestuur het om hulle te verlos nie. Hulle is nie vir Hom waardeloos nie, en dit behaag Hom wanneer hulle baie van Hom vra, sodat hulle Sy Naam kan verheerlik. Hulle mag groot dinge verwag as hulle geloof het in Sy beloftes. KE 685.3
Maar om in Christus se Naam te bid, beteken baie. Dit beteken dat ons Sy karakter sal aanneem, Sy Gees sal openbaar, en Sy werke sal doen. Die Heiland se belofte is op een voorwaarde gegee. “As julle My liefhet,” het Hy gesê, “bewaar My gebooie.” Hy red mense, nie in hulle sondes nie, maar van die sonde; en diegene wat Hom liefhet, sal hulle liefde toon deur gehoorsaamheid. KE 685.4
Alle ware gehoorsaamheid kom uit die hart. Christus se werk het uit Sy hart gekom. As ons Hom wil toelaat, sal Hy Hom vereenselwig met ons gedagtes en oogmerke, en Hy sal ons harte en gedagtes so in ooreenstemming bring met Sy wil, dat ons, wanneer ons Hom gehoorsaam, ons eie planne sal uitvoer. Die wil, verfyn en geheilig, sal sy grootste vreugde vind in Sy diens. Wanneer ons God ken soos dit ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe 'n lewe van gedurige gehoorsaamheid wees. Deur die waardering van die karakter van Christus, deur gemeenskap met God, sal die sonde vir ons haatlik wees. KE 685.5
Net soos Christus die wet in Sy mensheid uitgeleef het, so kan ons dit ook doen as ons die Almagtige sou vra om krag. Maar ons moenie die verantwoordelikheid van ons pligte op ander lê nie, en op hulle wag om ons te sê wat om te doen nie. Ons kan nie vir raad op mense vertrou nie. Die Here sal ons ons pligte leer net so gewilliglik as wat Hy ander sal leer. As ons in geloof tot Hom kom, sal Hy Sy verborgenhede aan ons persoonlik meedeel. Dikwels sal ons harte in ons binneste brand as Hy tot ons genaak om net met ons gemeenskap te hou soos Hy met Henog gedoen het. Diegene wat besluit om in geen opsig iets te doen wat God sal mishaag nie, sal weet, nadat hulle hulle saak voor Hom gelê het, watter koers om in te slaan. En hulle sal nie alleen wysheid ontvang nie, maar ook krag. Krag vir gehoorsaamheid en diens sal aan hulle meegedeel word, soos Christus belowe het. Wat aan Christus gegee is — daardie “alle dinge” om te vöorsien in die behoeftes van gevalle mense — is aan Hom gegee as die hoof en verteenwoordiger van die mensheid. En “wat ons ook bid, ontvang ons van Hom, omdat ons Sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.” 1 Joh. 3: 22. KE 686.1
Voordat Hy Homself gegee het as soenoffer, het Christus gesoek na die nodigste en beste gawe om aan Sy navolgers te gee, 'n gawe wat die eindelose bronne van genade binne hulle bereik sou bring. “Ek sal die Vader bid,” het Hy gesê, “en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid — die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien nie en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Joh. 14: 16-18. KE 686.2
Voor hierdie tyd was die Gees in die wêreld; van die begin van die verlossingswerk af het Hy reeds in die harte van mense gewerk. Maar terwyl Christus op die aarde was, het die dissipels nie 'n ander helper begeer nie. Eers nadat Hy nie meer by hulle teenwoordig kon wees nie, sou hulle hulle behoefte aan die Gees voel, en dan ook sou Hy kom. KE 686.3
Die Heilige Gees is Christus se verteenwoordiger, maar sonder die persoonlikheid van die mensheid en onafhanklik daarvan. Belemmer deur die mensheid kon Christus nie orals persoonlik teenwoordig wees nie. Dit was dus in hulle belang dat Hy na die Vader sou gaan, en die Gees stuur om Sy plaasvervanger op die aarde te wees. Die een persoon sou dan nie bokant die ander bevoordeel wees weens sy woonplek of sy persoonlike kontak met Christus nie. Deur die Gees sou die Heiland toeganklik wees vir almal. In hierdie sin sou Hy nader aan hulle wees as Hy was voor Sy hemelvaart. KE 687.1
“Wïe My liefhet, hom sal My Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” Jesus het die toekoms van Sy dissipels gelees. Hy het gesien hoedat een na die skavot gebring word, een na die kruis, een verban op die eensame rotse van die see, en ander vervolg en gedood. Hy het hulle bemoedig met die belofte dat Hy in elke beproewing met hulle sou wees. Daardie belofte is vandag eweseer van krag. Die Here weet alles omtrent Sy getroue dienaars wat vir Sy ontwil in die gevangenisse is, of na eensame eilande verban is. Hy vertroos hulle met Sy eie teenwoordigheid. Wanneer die gelowige vir die ontwil van die waarheid voor ongeregtige regbanke moet verskyn, staan Christus aan hulle sy. Al die skande wat hy verduur raak ook Christus. Christus word oor en oor veroordeel in die persoon van Sy dissipel. Wanneer iemand in die tronk opgesluit is, vertroos Christus daardie hart met Sy liefde. Wanneer iemand om die lewe gebring word om Sy ontwil, dan sê Christus, “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in ewigheid. . . . Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Openb. 1: 18. Die lewe wat vir My ingeboet word, word bewaar vir die ewige heerlikheid. KE 687.2
Ten alle tye en op alle plekke, in alle droefhede en beproewings, wanneer alles donker en die toekoms moeilik lyk, en ons hulpeloos en alleen voel, sal die Trooster gestuur word in antwoord op die gebed van geloof. Omstandighede mag ons skei van elke aardse vriend; maar geen omstandigheid, geen afstand, kan ons skei van die hemelse Trooster nie. Waar ons ook is, en waar ons mag heengaan, is Hy altyd aan ons regterhand om ons te ondersteun, te onderhou, te bewaar, en op te beur. KE 687.3
Die dissipels het nog nie Christus se woorde in hulle geestelike sin verstaan nie, en weer het Hy verduidelik wat Hy bedoel het. Deur die Gees, het Hy gesê, sou Hy Homself aan hulle openbaar. “Die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer.” Julle sal nie meer sê, Ek kan nie verstaan nie. Julle sal nie langer soos deur 'n spieël in 'n raaisel sien nie. Julle sal in staat “wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref.” Efe. 3: 18, 19. KE 688.1
Die dissipels moes getuig van die lewe en werk van Christus. Deur hulle woord sou Hy tot alle mense op die hele aardbodem spreek. Maar in die vernedering en dood van Christus sou hulle groot beproe- wing en teleurstelling ondervind. Sodat hulle woorde na daardie ondervinding juis kon wees, het Jesus die Trooster belowe wat hulle sou “herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” KE 688.2
Hy het voortgegaan, “Nog baie dinge het Ek om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, Hy sal julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit homself spreek nie, maar wat Hy hoor, sal Hy spreek, en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Jesus het voor Sy dissipels 'n groot veld van waarheid geopen. Maar dit was baie moeilik vir hulle om Sy lesse apart te hou van die tradisies en gesegdes van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle is geleer om die leer van die rabbi's aan te neem as die stem van God, en dit het nog mag oor hulle gehad wat hulle gedagtes beïnvloed het. Aardse idees, stoflike dinge, het nog 'n groot plek in hulle gedagtes ingeneem. Hulle het nie die geestelike aard van Christus se koninkryk verstaan nie, alhoewel Hy dit so dikwels aan hulle verduidelik het. Hulle was verward. Hulle het nie die waarde van die Skrifte besef wat Jesus aan hulle voorgestel het nie. Baie van Sy lesse het skynbaar geen indruk gemaak op hulle nie. Jesus het gesien dat hulle nie die ware betekenis van Sy woorde begryp het nie. In barmhartigheid het Hy belowe dat die Heilige Gees hulle sou herinner aan Sy woorde. En Hy het geswyg oor baie dinge wat Sy dissipels nie sou kon verstaan nie. Ook dit sou die Heilige Gees aan hulle openbaar. Die Gees sou hulle verstand verlig, sodat hulle die hemelse dinge kon verstaan. “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid,” het Jesus gesê, sal Hy julle in die hele waarheid lei. KE 688.3
Die Trooster is ook genoem “die Gees van die waarheid.” Sy werk is om waarheid te definieer en te handhaaf. Eerste van alles woon Hy in die hart as die Gees van die waarheid, en so word Hy die Trooster. Daar is troos en vrede in die waarheid, maar daar is geen ware vrede of troos in valsheid nie. Dit is deur valse teorieë en tradisies dat die Satan mag kry oor die verstand. Deur die mense te lei tot valse standaarde, vorm hy hulle karakters verkeerd. Die Heilige Gees spreek tot die verstand deur die Skrifte en bring die waarheid in die hart. Op hierdie wyse openbaar Hy die dwaalleer en verdryf dit uit die siel. Dit is deur die Gees van die waarheid, werkende deur die Woord van God, dat Christus Sy uitverkorenes in onderwerping tot Hom bring. KE 689.1
Waar Jesus die werk van die Heilige Gees aan Sy dissipels verduidelik het, wou Hy hulle inspireer met die vreugde en hoop wat Sy eie siel geïnspireer het. Hy het Hom verbly in die genoegsame hulp wat Hy vir Sy werk voorsien het. Die Heilige Gees was die hoogste van al die gawes wat Hy van Sy Vader kon vra vir die verheffing van Sy volk. Die Gees sou gegee word as 'n wederbarende krag, en daar- sonder sou die offer van Christus niks gebaat het nie. Die mag van die boosheid het deur die eeue sterker geword, en die onderwerping van die mens as gevangenes van die Satan was verbasend. Die sonde kon weerstaan of oorwin word alleen deur die magtige werking van die Derde Persoon van die Godheid, wat nie met beperkte mag sou kom nie, maar in die volheid van goddelike krag. Dit is die Gees wat die werk van die wêreld se Verlosser doeltreffend maak. Dit is deur die Gees dat die hart gereinig word. Deur die Gees word die gelowige 'n deelgenoot van die goddelike natuur. Christus het Sy Gees as 'n goddelike krag gegee om alle aangebore en aangeleerde neigings tot die kwaad te oorwin, en om Sy eie karakter op Sy kerk af te druk. KE 689.2
Van die Gees het Jesus gesê, “Hy sal My verheerlik.” Die Heiland het gekom om die Vader te verheerlik deur die demonstrasie van Sy liefde; so sou die Gees Christus verheerlik deur Sy genade aan die wêreld te openbaar. Die beeid van God word herskep in die mensheid. Die eer van God, die eer van Christus is op die spel by die vervolmaking van die karakter van Sy kinders. KE 689.3
“En as Hy [die Gees van die waarheid] kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” Die prediking van die Woord sal niks baat sonder die gedurige teenwoordigheid en hulp van die Heilige Gees nie. Hy is die enigste doeltreffende leraar van goddelike waarheid. Alleen wanneer die waarheid tot die hart gebring word deur die Gees, sal dit die gewete verkwik en die lewe hervorm. 'n Mens mag in staat wees om die letter van Gods Woord voor te dra; jy mag bekend wees met al die gebooie en beloftes; maar tensy die Heilige Gees die waarheid tuisbring, sal geen siele op die Rots val en verbreek word nie. Geen opvoeding, geen voordele, hoe groot ook al, kan van 'n persoon 'n kanaal van lig maak sonder die medewerking van die Gees van God nie. Die saai van die evangeliesaad sal nie 'n sukses wees as daardie saad nie lewendig gemaak word deur die dou van die hemel nie. Voordat een boek van die Nuwe Testament geskryf is, voordat een evangeliepreek gelewer is ná Christus se hemelvaart, het die Heilige Gees neergedaal op die biddende apostels. Toe was die getuienis van hulle vyande, “Julle het Jerusalem met julle leer vervul.” Hand. 5: 28. KE 690.1
Christus het die Heilige Gees belowe aan Sy kerk, en die belofte I is net soseer aan ons as aan die eerste dissipels. Maar net soos enige ander belofte, is dit belowe op voorwaardes. Daar is vele wat die Here se belofte glo en voorgee dat hulle daarop aanspraak maak; hulle praat van Christus en van die Heilige Gees, maar ontvang niks. KE 690.2
Hulle gee nie die siel oor om gelei en beheer te word deur goddelike kragte nie. Ons kan die Heilige Gees nie gebruik nie. Die Gees moet ons gebruik. Deur die Gees werk God in Sy kinders “om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” Filip. 2: 13. Maar vele wil hulle nie oorgee nie. Hulle wil hulleself bestuur. Dit is om hierdie rede dat hulle nie die hemelse gawe ontvang nie. Alleen aan diegene wat ootmoedig wag op die Here, wat wag op Sy leiding en genade, word die Gees gegee. Die krag van God wag op hulle aansoek en aanname. Hierdie beloofde seën, aangeneem in die geloof, bring alle ander seëninge met hom saam. Dit word gegee volgens die maat van die rykdom van die genade van Christus, en Hy is gereed om aan elke siel te gee volgens die maat waarop hy kan ontvang. KE 690.3
In Sy gesprek met Sy dissipels, het Jesus nie droefgeestig verwys na Sy eie lyde en dood nie. Sy laaste erfenis aan hulle was 'n erfdeel van vrede. “Vrede laat Ek julle na, My vrede gee Ek julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek vir julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” KE 691.1
Voordat hulle die bovertrek verlaat het, het die Heiland en Sy dissipels 'n loflied gesing. Sy stem is gehoor nie in 'n treurlied nie, maar in die juigende Paaslied: KE 691.2
Loof die Here, alle nasies!
Prys Hom, alle volke!
Want Sy goedertierenheid is geweldig oor ons,
En die trou van die Here is tot in ewigheid!
Halleluja!” Psalm 117.
KE 691.3
Na die lied het hulle uitgegaan. Deur die woelige strate het hulle hulle weg gebaan, deur die stadspoort, in die rigting van die Olyfberg. Hulle het stadig geloop, elkeen besig met sy eie gedagtes. Toe hulle begin afdaal het na die berg, het Jesus in die grootste droefheid gesê, “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.” Matt. 26: 31. Die dissipels het met droefheid en verbasing geluister. Hulle het onthou hoe daar in die sinagoge te Kapernaum, toe Christus van Homself gespreek het as die brood van die lewe, vele aanstoot geneem het, en van Hom af weggegaan het. Maar die twaalf het hulleself getrou bewys. Petrus wat namens sy broeders gespreek het, het destyds sy trou aan Christus betuig. Toe het die Heiland gese, “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is 'n duiwel!” Joh. 6: 70. In die bovertrek het Jesus gesê dat een van die twaalf Hom sou verraai, en dat Petrus Hom sou verloën. Maar nou het Sy woorde hulle almal ingesluit. KE 691.4
Petrus het nou heftig geprotesteer, “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.” In die bovertrek het hy gesê dat hy gereed was om saam met Jesus te sterf. Jesus het hom gewaarsku dat hy nog daardie nag sy Heiland sou verloën. Christus het nou weer die waarskuwing herhaal: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan tweemaal kraai, sal jy My driemaal verloën.” Maar Petrus “het nog baie meer aangehou en gesê: Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.” Markus 14: 29-31. In hulle selfvertroue het hulle die woorde ontken van Hom wat geweet het. Hulle was nie voorberei op die toets nie; wanneer die versoeking kom, sou hulle hulle eie swakheid besef. KE 691.5
Toe Petrus verklaar het dat hy saam met sy Here in die gevangenis en die dood sou gaan, het hy dit baie opreg gemeen; maar hy het homself nie geken nie. Diep in sy hart het elemente van boosheid geskuil wat omstandighede sou laat uitkom. Tensy hy gewaarsku word teen die gevaar, sou hierdie dinge sy ewige ondergang bewerkstellig. Die Heiland het hom gesien in sy eieliefde en selfvertroue wat sterker was as selfs sy liefde vir Christus. In sy lewe is daar swakhede, sondes, on- verskilligheid, siegte humeur, en koppigheid geopenbaar. Christus se ernstige waarskuwing was bedoel om hom sy hart te laat ondersoek. Petrus moes homself wantrou, en meer op Christus vertrou het. As hy in nederigheid die waarskuwing aangeneem het, sou hy die Herder van die skape gesmeek het om Sy skape te bewaar. Toe hy op die meer van Galilea wou wegsink, het hy uitgeroep, “Here, red my!” Matt. 14: 30. Toe het Christus Sy hand uitgesteek en sy hand gegryp. En so ook nou, as hy maar net tot Jesus geroep het, Red my van myself, sou hy bewaar gebly het. Maar Petrus het gevoel dat hy nie vertrou word nie, en dit was vir hom 'n wrede gedagte. Hy het reeds aanstoot geneem, en hy het koppiger geword in sy selfvertroue. KE 692.1
Jesus het Sy dissipels met liefde gadegeslaan. Hy kan hulle nie verlos van die beproewing nie, maar Hy laat hulle nie troosteloos nie. Hy verseker hulle dat Hy die boeie van die graf sal breek, en dat Sy liefde vir hulle nie sal faal nie. “Nadat Ek opgestaan het,” het Hy gesê, “sal Ek voor julle uit na Galilea gaan.” Matt. 26: 32. Voor die verloëning het hulle die versekering van vergifnis gehad. Na Sy dood en opstanding, het hulle geweet dat hulle vergewe is, en dierbaar vir Christus was. KE 692.2
Jesus en die dissipels was op weg na Getsemane, aan die voet van die Olyfberg, 'n stil plekkie waarheen Hy dikwels gegaan het vir gebed en oorpeinsing. Die Heiland het aan Sy dissipels Sy sending na die wêreld verduidelik, en die geestelike verhouding wat daar tussen Hom en hulle moet wees. Nou het Hy die les geïllustreer. Die maan het helder geskyn en Hy het 'n vrugbare wingerdstok gesien. Hy het die aandag van Sy dissipels daarop gevestig, en dit as simbool gebruik. KE 692.3
“Ek is die ware wynstok,” het Hy gesê. Pleks van die grasieuse palm, die hoë seder, of die sterk eik, het Jesus die wynstok gekies met sy ranke om Homself voor te stel. Die palmboom en seder en eik staan alleen. Hulle het nie ondersteuning nodig nie. Maar die wynstok het 'n traliewerk nodig waarteen dit opklim. So was Christus in Sy mensheid afhanklik van goddelike krag. Hy het gesê, “Ek kan uit Myself niks doen nie.” Joh. 5: 30. KE 693.1
“Ek is die ware wynstok.” Die Jode het altyd die wynstok beskou as die edelste onder die plante, en as tipe van alles wat sterk, voortreflik, vrugbaar was. Israel is voorgestel as 'n wingerd wat God geplant het in die Beloofde Land. Die Jode het hulle hoop op die verlossing gegrond op die feit van hulle verbintenis met Israel. Maar Jesus sê, Ek is die ware wynstok. Moenie dink dat julle deur julle verbintenis met Israel deelgenote van die lewe van God kan word, en erfgename van Sy belofte nie. Geestelike lewe kan alleen deur My ontvang word. KE 693.2
“Ek is die ware wynstok, en My Vader is die landbouer.” Op die berge van Palestina het ons hemelse Vader 'n pragtige Wynstok geplant, en Hy self is die landbouer. Baie het aangetrokke gevoel tot hierdie Wynstok, en het gesê dat dit uit die hemel was. Maar vir die leiers in Israel was dit soos 'n wortel uit die droë grond. Hulle het die Plant geneem en dit verbrysel en onder onheilige voete vertrap. Hulle het gemeen om dit vir ewig te vernietig. Maar die hemelse Landbouer het Sy oog oor Sy Plant gehou. Nadat die mense gedink het dat hulle dit vernietig het, het Hy dit geneem en aan die anderkant van die muur geplant. Die Wynstok sou nie langer sigbaar wees nie. Dit was verberg vir die wrede aanvalle van mense. Maar die ranke van die Wynstok het oor die muur gehang. Hulle moes die Wynstok verteen- woordig. Deur hulle kon ranke nog ingeënt word op die Wynstok. Van hulle is vrugte verkry. Daar was n oes wat die verbygangers gepluk het. KE 693.3
“Ek is die wynstok, julle die lote,” het Christus aan Sy dissipels gesê. Alhoewel Hy eerlank van hulle sou verwyder word, sou hulle geestelike verbintenis met Hom onveranderd bly. Die verbintenis van die loot met die wynstok, het Hy gesê, is n voorstelling van julle verhouding tot My. Die loot word op die lewende wynstok ingeënt, en vesel vir vesel, en aar vir aar, groei dit vas aan die wynstok. Die lewe van die wynstok word die lewe van die lote. So ontvang die siel wat dood is in sondes en oortreding lewe deur verbintenis met Christus. Deur geloof in Hom, as persoonlike Saligmaker, word die verbintenis bewerkstellig. Die sondaar verbind sy swakheid met die krag van Christus, sy leegheid met Christus se volheid, sy nietigheid met Christus se ewigheid. Dan kry hy die gesindheid van Christus. Die mensheid van Christus het ons mensheid geraak, en ons mensheid het Sy Godheid geraak. So word die mens, deur die werking van die Heilige Gees, 'n deelgenoot van die goddelike natuur. Hy word aangeneem in die Geliefde. KE 694.1
Hierdie verbintenis met Christus, as dit eenmaal daar is, moet gehandhaaf word. Christus het gesê, “Bly in My, en Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” Hier word gesin-speel op 'n blywende verbintenis. Die loot word deel van die lewende wynstok. Die mededeling van die lewe, die krag, en die vrugbaarheid van die wortels na die lote, vind ongehinderd en gedurig plaas. Afgesny van die wynstok, kan die loot nie lewe nie. Net so min, het Jesus gesê, kan julle sonder My lewe. Die lewe wat julle van My ontvang het, kan bewaar word alleen deur gedurige gemeenskap. Sonder My kan julle nie een sonde oorwin, of een versoeking weerstaan nie. KE 694.2
“Bly in My, en Ek in julle.” Om in Christus te bly, beteken 'n onafgebroke ontvangs van Sy Gees, 'n lewe van volkome toewyding aan Sy diens. Die kanaal van gemeenskap tussen die mens en sy God moet gedurig oop wees. Net soos die loot gedurig sap trek uit die lewende wynstok, so moet ons aan Jesus vasklem en deur geloof van Hom die krag en volmaaktheid van Sy eie karakter ontvang. KE 695.1
Die wortel stuur voeding deur die loot na die kleinste rankie. So gee Christus die stroom van geestelike krag aan elke gelowige. Solank as die siel met Christus verbind is, is daar geen gevaar dat die loot sal verdor en doodgaan nie. KE 695.2
Die lewe van die wynstok sal gesien word in die heerlike trosse aan die lote. “Wie in My bly,” het Jesus gesê, “en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.” Wanneer ons deur geloof in die Seun van God lewe, sal die vrug van die Gees in ons lewens gesien word; nie een sal vermis word nie. KE 695.3
“As iemand in My nie bly nie,” het Christus gesê, “word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” KE 695.4
“Elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” Van die gekose twaalf wat Hom gevolg het, sou een, as 'n verdorde loot, weggeneem word terwyl die ander onder die snoeimes van bittere beproewing sou deurloop. Jesus het teer, dog ernstig, die doel van die Landbouer verduidelik. Die snoei sal pyn veroorsaak, maar dit is die Vader wat die mens hanteer. Hy werk nie onverskillig en gevoelloos nie. Daar is lote wat op die grond sleep; hulle moet Hy los sny van die dinge op die grond waaraan hulle vas is. Hulle moet na bo rank en hulle in God anker. Die oortollige blare trek die lewenssap van die vrugte af weg, en alles moet weggesnoei word. Die groeisel bo-oor moet verwyder word sodat die genesende strale van die Son van Geregtigheid kan indring. Die landbouer sny alles wat nadelig is weg, sodat daar mooier en meer vrugte kan wees. KE 695.5
“Hierin is My Vader verheerlik,” het Jesus gesê, “dat julle veel vrug dra.” God verlang om deur julle die heiligheid, die barmhartigheid, en ontferming van Sy eie karakter te openbaar. Die Heiland het nie aan die dissipels gesê dat hulle moes werk om meer vrugte te dra nie. Hy het aan hulle gesê om in Hom te bly. “As julle in My bly, sê Hy,” “en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” Dit is deur die Woord dat Christus in Sy navolgers; bly. Hierdeur ontstaan dieselfde lewende verbintenis as wat voorgestel is deur Sy vlees te eet en Sy bloed te drink. Die woorde van Christus is gees en lewe. Deur hulle aan te neem, ontvang ons die lewe van die Wynstok. Ons lewe van “elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Matt. 4: 4. Die lewe van Christus in julle bring dieselfde soort vrugte voort as Hy. Lewende in Christus, verbind met Christus, ondersteun deur Christus, gevoed deur Christus, sal julle vrugte dra soos die van Christus. KE 696.1
In hierdie laaste onderhoud met Sy dissipels, het Christus Sy groot begeerte uitgespreek dat hulle mekaar moet liefhê soos Hy hulle liefgehad het. Herhaaldelik het Hy hiervan gespreek. “Dit gebied Ek julle,” het Hy telkens gesê, “dat julle mekaar moet liefhê.” Sy eerste woorde aan hulle daar alleen in die bovertrek was, “'n Nuwe gebod gee Ek vir julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Vir die dissipels was dit 'n nuwe gebod; want hulle het mekaar nie liefgehad soos Christus hulle liefgehad het nie. Hy het gesien dat 'n nuwe gesindheid in hulle harte moet kom; dat hulle nuwe beginsels in die praktyk moet bring; deur Sy lewe en dood sou hulle 'n nuwe besef van liefde kry. Die gebod om mekaar lief te hê, het 'n nuwe betekenis gekry in die lig van die opoffering van Homself. Die hele werk van die genade is 'n onafgebroke diens van liefde, van selfverloëning, en van selfopoffering. Gedurende elke uur van Christus se verblyf op die aarde het die liefde van God uit Hom gevloei in strome wat nie gekeer kon word nie. Almal wat besiel is met Sy Gees sal liefhê soos Hy liefgehad het. Die beginsel wat Christus besiel het, sal ook hulle besiel in hulle omgang met mekaar. KE 696.2
Hierdie liefde is die bewys van hulle dissipelskap. “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is,” het Jesus gesê, “as julle liefde onder mekaar het.” Wanneer mense verbind is, nie deur dwang of eiebelang nie, maar deur liefde, is dit bewys van die werking van 'n invloed wat bokant menslike invloede is. Waar hierdie eenheid bestaan, is dit bewys dat die beeld van God herstel word in die mensheid, dat 'n nuwe lewensbeginsel ingeplant is. Dit toon dat daar krag is in die goddelike natuur om die bonatuurlike magte van ongeregtigheid te weerstaan, en dat die genade van God die selfsug van die natuurlike hart kan onderdruk. KE 696.3
Hierdie liefde, in die kerk geopenbaar, sal sekerlik die woede van die Satan opwek. Christus het nie vir Sy dissipels 'n maklike pad aangewys nie. “As die wêreld julle haat,” het Hy gesê, “moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: 'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie, As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My woord bewaar het, sal hulle julle woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen om My Naam ontwil, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.” Die evangelie moet verkondig word deur 'n aggressiewe stryd te midde van opposisie, gevaar, verlies, en lyding. Maar diegene wat hierdie werk doen, volg maar net in die voetstappe van hulle Meester. KE 697.1
As Verlosser van die wêreld, het Christus telkens voor skynbare mislukking gestaan. Hy, die boodskapper van genade aan die wêreld, het oënskynlik min van die reddings- en opheffingswerk gedoen wat Hy so graag wou doen. Sataniese invloede het gedurig Sy werk teen- gestaan. Maar Hy wou nie toegee aan moedeloosheid nie. Deur die profesie van Jesaja het Hy verklaar, “Tevergeefs het Ek My vermoei, My krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is My reg by die Here, en My loon is by My God. ...” Dit is aan Christus wat die belofte gegee is, “So sê die Here, die Verlosser van Israel, Sy heilige, vir die diep veragte, vir Hom wat 'n afsku is by die volk. . . . So sê die Here: . . . Ek behoed U en gee U as 'n verbond van die volk om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê vir die gevangene: Gaan uit! vir hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn. . . . Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woes- tyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.” Jes. 49: 4, 5, 7-10. KE 697.2
Jesus het Hom in hierdie woord berus, en Hy het die Satan geen kans gegee nie. Toe Christus die laaste endjie van die weg van vernedering sou bewandel; toe die grootste angs Sy siel beklem het, het Hy aan Sy dissipels gesê, “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.” “Die owerste van hierdie wêreld geoordeel.” Nou sal hy uitgewerp word. Joh. 14: 30; 16: 11; 12: 31. Met 'n profetiese oog het Christus die tonele gesien van Sy laaste groot stryd. Hy het geweet dat die ganse hemel 'n triomfkreet sou aanhef wanneer Hy uitroep, “Dit is volbring.” Sy oor het die musiek en oorwinningskreet in die hemelse howe gehoor. Hy het geweet dat die doodsklok van die Satan se ryk sou lui, en dat die Naam van Christus van wêreld tot wêreld in die groot heelal uitgeroep sou word. KE 698.1
Christus het Hom daarin verbly dat Hy meer vir Sy navolgers kon doen as wat. hulle ooit kon dink of vra. Hy het met versekering gespreek, wetende dat 'n almagtige dekreet gegee is voordat die wêreld gemaak is. Hy het geweet dat die waarheid, gewapen met die almag van die Heilige Gees, sou oorwin in die stryd teen die sonde; en dat die met bloedbevlekte banier oorwinnend sou wapper oor Sy navolgers. Hy het geweet dat die lewens van Sy vertrouende dissipels soos Syne sou wees, naamlik 'n reeks oorwinnings, wat nie so hier gesien word nie, maar wel in die hiernamaals. KE 698.2
“Dit het Ek aan julle gesê,” het Hy verklaar, “dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Christus het nie gefaal nie, ook was Hy nie moedeloos nie, en Sy navolgers moet dieselfde volhardende geloof openbaar. Hulle moet lewe soos Hy gelewe het, en werk soos Hy gewerk het, omdat hulle op Hom vertrou as die groot Meesterwerker. Moed, energie, en volharding is die dinge wat hulle moet hê. Al sou skynbaar onoorkomelike moeilikhede hulle weg versper, moet hulle deur Sy genade voorwaarts gaan. Pleks van te kla oor moeilikhede moet hulle dit te bowe kom. Hulle moet niks hulle laat moedeloos maak nie, en hulle moet vir die beste hoop. Met die goue ketting van Sy weergalose liefde het Christus hulle gebind aan die troon van God. Dit is Sy doel dat die sterkste invloed in die heelal, wat vloei uit die Bron van alle krag, hulle s'n sal wees. Hulle sou krag hê om die Bose te weerstaan, krag wat nóg die aarde, nóg die dood, en nóg die hel kan oorwin; krag wat hulle in staat sal stel om te oorwin soos Christus oorwin het. KE 698.3
Dit is Christus se plan dat die orde van die hemel, die hemel se regeringsplan, die hemel se goddelike eenheid ook in Sy kerk op die aarde gesien moet word. So sal Hy in Sy kinders verheerlik word. Deur hulle sal die Son van Geregtigheid helder skyn op die wêreld. Christus het aan Sy kerk voldoende fasiliteite gegee, sodat Hy 'n groot inkomste van heerlikheid mag ontvang van Sy verloste, vrygekoopte eiendom. Hy het aan Sy kinders vermoëns en seëninge geskenk sodat hulle Sy eie volmaaktheid kan verteenwoordig. Die kerk, beklee met die geregtigheid van Christus, is die plek waar die rykdom van Sy genade, barmhartigheid en liefde ten volle geopenbaar moet word. Christus sien die reinheid en volmaaktheid van Sy kinders as die loon van Sy vernedering, en die aanvulling van Sy heerlikheid — Christus die middelpunt uit wie al die heerlikheid straal. KE 699.1
Met kragtige, hoop-inboesemende woorde het die Heiland Sy lering beëindig. Toe het Hy Sy siel uitgestort in smeking vir Sy dissipels. Hy het Sy oë na die hemel gerig en gebid: “Vader, die uur het gekom; verheerlik U Seun, sodat U Seun U ook kan verheerlik — soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” KE 699.2
Christus het die werk volbring wat aan Hom gegee is. Hy het God op die aarde verheerlik. Hy het die Vader se Naam geopenbaar. Hy het diegene uitverkies wat Sy werk onder die mense moes voortsit. En Hy het gesê, “Ek is in hulle verheerlik. En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in U Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.” “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees; . . . net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” KE 699.3
So het Christus in die taal van een wat goddelike gesag het, Sy uit- verkore kerk in die Vader se arms gegee. As 'n geheiligde hoëpriester het Hy voorbidding vir Sy kinders gedoen. Soos 'n getroue herder het Hy Sy kudde vergader in die skaduwee van die Almagtige, die sterkste veiligheidsoord. Vir Hom het die stryd teen die Satan gewag, en Hy het dit tegemoetgegaan. KE 699.4