Die Koning Van Die Eeue
Die Paasfees-Besoek
ONDER die Jode is die twaalfde jaar beskou as die skeidingsjaar tussen die kinder- en jongelingsjare. As hy twaalf jaar oud is, is die Joodse seun genoem 'n seun van die wet, en ook 'n seun van God. Dan is aan hom spesiale geleentheid gegee vir godsdiensonderrig, en daar is verwag dat hy moet deelneem aan die heilige feeste en gebruike. Dit was ooreenkomstig hierdie gebruik dat Jesus as jongeling die paasfeesesoek na Jerusalem afgelê het. Soos alle vrome Israeliete sou doen, het Josef en Maria elke jaar na Jerusalem gegaan vir die Paasfees; toe Jesus dus die ouderdom bereik het, het hulle Hom saamgeneem. KE 68.1
Daar was drie jaarlikse feeste, naamlik die Paasfees, Pinksterfees, en die Huttefees, wat al die mans, op bevel van die Here, te Jerusalem moes bywoon. Van al hierdie feeste was die Paasfees die beste bygewoon. Baie het gekom uit alle lande waar die Jode verstrooi was, en uit alle dele van Palestina het die aanbidders in groot getalle opgekom. Die reis van Galilea het etlike dae in beslag geneem, en die reisigers het in groepe gegaan vir geselskap en beskerming. Die vroue en bejaarde manne het op osse of esels gery oor die steil en klipperige paaie. Die sterker mans en die jongmense het te voet geloop. Die Paasfees het aan die einde van Maart of begin van April geval, wanneer die veld vol blomme was en gejuig het van die sang van voëls. Orals langs die pad was daar plekke van geskiedkundige belang vir Israel, en die vaders en moeders het aan die kinders vertel van die wonders wat God gedoen het vir Sy volk in die verlede. Hulle het die reis ligter gemaak met sang en musiek, en dan, wanneer die torings van Jerusalem eindelik in sig gekom het, het almal die lied aangehef: KE 68.2
“Ons voete staan
In jou poorte, o Jerusalem! . . .
Mag daar vrede wees in jou skanse,
Rus in jou paleise!”
KE 69.1
Die viering van die Paasfees het ontstaan by die geboorte van die Hebreeuse nasie. Op die laaste nag van hulle slawerny in Egipte, toe daar nog geen teken van hulle verlossing was nie, het God hulle beveel om klaar te maak vir onmiddellike verlossing. Hy het Farao gewaarsku aangaande die laaste plaag oor Egipteland, en Hy het die Hebreërs beveel om met hulle kinders in hulle eie huise te bly. Nadat hulle die bloed van die geslagte lam aan die deurposte gestryk het, moes hulle daardie lam, oor die vuur gebraai, eet, saam met die ongesuurde brood en die bitter sous. “En so moet julle dit eet:” het Hy gesê, “Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. 'n Pasga van die Here is dit”. Exod. 12: 11. Te middernag is al die eersgeborenes van die Egiptenaars om die lewe gebring. Toe het die koning 'n boodskap aan Israel gestuur, “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, . . . en gaan dien die Here soos julle gespreek het.” Exod. 12: 31. Die Hebreërs het Egipteland verlaat, 'n onafhanklike volk. Die Here het beveel dat hulle die Paasfees elke jaar moes hou. “En as julle kinders julle vra,” het Hy gesê, “wat beteken die diens daar?” KE 70.1
“dan moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenaars getref het maar ons huise gered het.” So moes die verhaal van die wonderbare verlossing van geslag tot geslag vertel word. KE 70.2
Die Paasfees is gevolg deur 'n sewedaagse fees van ongesuurde brood. Op die tweede dag van die fees is die eerstelinggerf van die jaar se oes —'n gerf gars — voor die Here opgehef. Al die seremonies van die fees was tipies van die werk van Christus. Die verlossing van Israel uit Egipte was 'n aanskoulike les van die verlossing deur Christus, en die Paasfees moes altyd daaraan herinner. Die geslagte lam, die ongesuurde brood, en die eerstelinggerf het die Verlosser voorgestel. KE 70.3
Vir die meeste mense in die tyd van Christus het die viering van hierdie fees ontaard in blote formalisme. Maar dit het betekenis gehad vir die Seun van God! KE 70.4
Vir die eerste maal het die kind Jesus die tempel gesien. Hy het die priesters in wit gekleed gesien, besig met hulle plegtige werk. Hy het die bebloede slagoffer op die brandofferaltaar gesien. Saam met die ander aanbidders het Hy neergebuig terwyl die wolk van wie rook voor God opgestyg het. Hy het die indrukwekkende rituaal in verband met die pasga gevolg. Dag na dag het Hy die betekenis al duideliker gesien. Elke toneel daar, het Hy gevoel, het in noue verband gestaan met Sy eie lewe. Nuwe drange het in Hom wakker geword. Stil en belangstellend, was Hy besig met die ontrafeling van 'n groot probleem. Die Heiland het stadigaan bewus geword van die misterie van Sy sending. KE 70.5
Verdiep in die oorpeinsing van hierdie tonele, het Hy nie aan die sy van Sy ouers gebly nie; Hy het eensaamheid gesoek. Na afloop van die Paasfeesdienste, het Hy nog in die tempelhowe vertoef, en toe die feesgangers uit Jerusalem vertrek het, is Hy agtergelaat. KE 71.1
Met hierdie besoek aan Jerusalem was dit die begeerte van Sy ouers om Hom in aanraking te bring met die leraars in Israel. Hoewel Hy in alle opsigte gehoorsaam was aan die Woord van God, het Hy nie meegedoen aan die rabbynse rites en gebruike nie. Josef en Maria het gehoop dat Hy daartoe gebring sou word om die geleerde rabbi's te eerbiedig, en om ag te slaan op wat hulle vereis het. Maar Jesus is in die tempel deur God geleer. Wat Hy daar ontvang het, het Hy dadelik begin meedeel. KE 71.2
In daardie dae is 'n sekere vertrek van die tempel gebruik as heilige skool, min of meer soos die skool van die profete. Daar het vooraanstaande rabbi's met hulle leerlinge vergader, en daarheen ook het Jesus gegaan. Hy het aan die voete van hierdie ernstige, geleerde manne gaan sit en geluister na hulle onderrig. Soos een wat na kennis soek, het Hy hierdie leraars begin ondervra omtrent die profesieë, en die gebeurtenisse wat in daardie tyd gewys het op die koms van die Messias. KE 71.3
Jesus het daar gesit soos een wat gedors het na 'n kennis van God. Sy vrae het baie diep waarhede aangeraak wat lank verduister maar tog so absoluut nodig was vir die redding van siele. Terwyl dit bewys het hoe eng en oppervlakkig die wysheid van die wyses was, het elke vraag hulle voor 'n goddelike les gebring en die waarheid in n nuwe lig geplaas. Die rabbi's het gepraat van die wonderbare opheffing wat die koms van die Messias aan die Joodse nasie sou bring, maar Jesus het verwys na die profesie van Jesaja, en hulle die betekenis gevra van daardie skrifture wat gewys het op die lyde en dood van die Lam van God. KE 71.4
Die doktore het Hom begin ondervra, en hulle was verbaas oor Sy antwoorde. Met die nederigheid van 'n kind het Hy die woorde van die Skrif aangehaal, en n diepte van betekenis daaraan gegee waarvan die wyse manne nooit gedroom het nie. As hulle dit sou gevolg het, sou die waarhede waarop Hy hulle gewys het, 'n godsdienstige reformasie bewerkstellig het. Daar sou 'n diepgaande belangstelling in geestelike dinge opgewek gewees het, en baie sou bereid gewees het om Jesus aan te neem by die aanvang van Sy openbare bediening. KE 72.1
Die rabbi's het geweet dat Jesus nie in hulle skole onderrig is nie; en nogtans het Sy kennis van die profesieë hulle s'n ver oortref. Hierdie skrander Galilese seun het vir hulle veelbelowend gelyk. Hulle wou Hom graag inskryf as student, sodat Hy 'n leraar in Israel kon word. Hulle wou graag Sy opvoeding onderneem, want hulle het gevoel dat 'n verstand wat so oorspronklik was, deur hulle gevorm moes word. KE 73.1
Die woorde van Jesus het hulle harte aangeroer soos geen menslike woorde nog ooit gedoen het nie. God het gesoek om lig aan daardie leiers in Israel te gee, en Hy het die enigste middel gebruik waardeur dit gedoen kon word. In hulle hoogmoed sou hulle geaarsel het om te erken dat iemand anders hulle kon leer. As hulle gedink het dat Jesus hulle wou leer, sou hulle nie na Hom geluister het nie. Maar hulle het hulleself gevlei dat hulle Hom geleer het, of ten minste dat hulle Sy kennis van die Skrifte getoets het. Die kinderlike ingetoënheid en minsaamheid van Jesus het hulle ontwapen van hulle vooroordeel. Onbewus is hulle verstand geopen vir die Woord van God, en die Heilige Gees het tot hulle harte gespreek. KE 73.2
Hulle kon nie help om te sien dat hulle verwagtings in verband met die Messias nie deur die profesieë gestaaf is nie, maar hulle wou nie die teorieë prysgee wat hulle eiewaan so gevlei het nie. Hulle wou nie toegee dat hulle die Skrifte wat hulle kastig geleer het, verkeerd verstaan het nie. Vraend het die een die ander aangekyk, en gesê: Waar kom hierdie jongeling ian die kennis, aangesien Hy nooit geleer het nie? Die lig het in die duisternis geskyn, en “die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Joh. 1: 5. KE 73.3
In die tussentyd het Josef en Maria in die grootste nood verkeer. By hulle vertrek uit Jerusalem het hulle Jesus uit die oog verloor, en hulle het nie geweet dat Hy agtergebly het nie. Die land was destyds dig bewoon, en die karavane van Galilea was baie groot. Daar was groot verwarring toe hulle die stad verlaat het. Op weg terug het die genot om saam met vriende en bekendes te reis hulle so in beslaggeneem dat hulle nie vóór dit begin donker word, opgemerk het dat Jesus nie daar was nie. Toe hulle klaargemaak het om vir die nag te rus, het hulle die helpende hand van hulle kind gemis. Omdat hulle gemeen het dat Hy by hulle reisgeselskap was, het hulle hulle nie bekommer nie. Jonk soos Hy was, het hulle Hom volkome vertrou, verwagtende dat Hy, wanneer dit nodig was, daar sou wees om hulle te help soos Hy altyd gedoen het. Maar nou het hulle onrustig geword. Hulle het die hele reisgeselskap deurgesoek, maar tevergeefs. Hulle het gesidder toe hulle gedink het aan die pogings van Herodes om Hom as suigeling dood te maak. Duistere voorgevoelens het hulle harte vervul. Hulle het hulleself bitterlik verwyt. KE 73.4
Teruggekom in Jerusalem, het hulle hulle soektog voortgesit. Die volgende dag, waar hulle onder die aanbidders in die tempel beweeg het, het 'n bekende stem hulle aandag getrek. Dit was onmiskenbaar; geen ander stem was soos Syne nie, so ernstig en tog so melodieus. KE 74.1
In die skool van die rabbi's het hulle Jesus gevind. Bly soos hulle was, kon hulle nie hulle angs en droefheid vergeet nie. Toe Hy weer by hulle was, het Sy moeder berispend gesê, “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.” KE 74.2
“Waarom het u My gesoek?” het Jesus geantwoord. “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?” Toe dit lyk of hulle Sy woorde nie verstaan het nie, het Hy na bo gewys. Op Sy gesig was 'n glans waaroor hulle verwonder was. Sy godheid het deur Sy mensheid geflits. Toe hulle Hom in die tempel gevind het, het hulle geluister na wat tussen Hom en die rabbi's aangegaan het, en hulle was verbaas oor Sy vrae en antwoorde. Sy woorde het 'n gedagtegang laat ontstaan wat hulle nooit sou vergeet nie. KE 74.3
En Sy vraag aan hulle het 'n les bevat. “Het u nie geweet,” het Hy gevra, “dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?” Jesus was besig met die werk waarvoor Hy na hierdie wêreld gekom het, maar Josef en Maria het hulle s'n verwaarloos. God het groot eer aan hulle bewys deur Sy Seun aan hulle toe te vertrou. Heilige engele het die voetstappe van Josef gerig om die lewe van Jesus te bewaar, maar vir 'n hele dag het hulle Hom, wie hulle nie vir een oomblik moes vergeet nie, uit die oog verloor. En toe hulle kwelling op 'n end was, het hulle hulleself nie bestraf nie, maar die skuld op Jesus gewerp. KE 74.4
Dit was natuurlik vir die ouers van Jesus om Hom te beskou as hulle eie kind. Hy was daeliks by hulle, in menige opsig was Sy lewe net soos die van ander kinders, en dit was moeilik vir hulle om te besef dat Hy die Seun van God was. Hulle het gevaar geloop om die seën van die teenwoordigheid van die Verlosser van die wêreld nie te waardeer nie. Die droefheid wat Sy afwesigheid veroorsaak het, en die sagte bestraffing wat Sy woorde ingehou het, was bedoel om hulle onder die indruk te bring van die heiligheid van die pand wat aan hulle toevertrou was. KE 75.1
In Sy antwoord aan Sy moeder het Jesus vir die eerste maal getoon dat Hy Sy verhouding tot God verstaan het. Vóór Sy geboorte het die engel aan Maria gesê, “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van Sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid.” Lukas 1: 32, 33. Maria het hierdie woorde in haar hart oorpeins; maar hoewel sy geglo het dat haar kind die Messias van Israel sou wees, het sy nie Sy sending verstaan nie. Nou het sy nie Sy woorde verstaan nie, maar sy het geweet dat Hy Sy verwantskap aan Josef verwerp en Sy seunskap van God betuig het. KE 75.2
Jesus het nie Sy verwantskap aan Sy aardse ouers veronagsaam nie. Van Jerusalem is Hy saam met hulle huis toe, en het hulle gehelp met hulle swaar werk. Die verborgenheid van Sy sending het Hy in Sy eie hart bewaar, geduldig wagtende op die bepaalde tyd wanneer Hy Sy werk sou aanvaar. Vir agtien jaar nadat Hy besef het dat Hy die Seun van God was, het Hy die band erken wat Hom gebind het aan Sy ouerhuis in Nasaret, en Hy het Sy pligte as seun, broer, vriend, en burger nagekom. KE 75.3
Toe Jesus 'n besef gekry het van Sy sending daar in die tempel, het Hy kontak met die menigtes vermy. Sy begeerte was om stil uit Jerusalem te vertrek, in geselskap van diegene wat die geheim van Sy lewe geken het. Deur die dienste van die Paasfees wou God Sy volk aftrek van hulle aardse sorge, en hulle herinner aan hulle wonderbare verlossing uit Egipte. In hierdie werk wou Hy hulle die belofte van verlossing van die sonde laat sien. Net soos die bloed van die geslagte lam die huise van Israel bewaar het, so sou die bloed van Christus hulle siele red; maar hulle kon deur Christus gered word alleen namate hulle Sy lewe hulle eie maak. Die simboliese diens het waarde gehad alleen in die mate dat dit die oë van die aanbidders gevestig het op Christus as hulle persoonlike Saligmaker. God het bedoel dat hulle biddend die sending van Christus sou ondersoek en oorpeins. Maar wanneer die skares Jerusalem weer verlaat het, was hulle so volkome in beslag geneem deur die reis en sosiale omgang met hulle reisgenote, dat die diens wat hulle so pas by gewoon het heeltemal vergeet is. Die Heiland het Hom nie aangetrokke gevoel tot hulle reisgeselskap nie. KE 75.4
Waar Jesus alleen uit Jerusalem sou terugkeer met Josef en Maria, het Hy gehoop om hulle aandag te vestig op die profesieë met betrekking tot die lyde van die Verlosser. By Golgota het Hy getrag om Sy moeder se droefheid te versag. Hy het nou aan haar gedink. Maria sou Sy laaste foltering sien, en Jesus wou hê dat sy Sy sending moes verstaan sodat sy krag sou hê om uit te hou wanneer die swaard haar siel deurboor. Net soos Jesus van haar geskei was en sy Hom drie dae lank in droefheid gesoek het, so sou Hy weer, wanneer Hy vir die sondes van die wêreld geoffer word, drie dae vir haar verlore wees. En wanneer Hy uit die graf sou voortkom, sou haar droefheid weer in vreugde verander. Maar hoeveel beter sou sy die angs van Sy dood kon verduur het as sy maar die Skrifte verstaan het waarop Hy nou haar aandag wou vestig! KE 76.1
As Josef en Maria hulle vertroue op God sou gestel het deur gebed en oorpeinsing, sou hulle die heiligheid besef het van die pand wat aan hulle toevertrou was, en hulle sou Jesus nie uit die oog verloor her nie. Deur een dag se agtelosigheid het hulle die Heiland uit die oog verloor, en dit het hulle 'n soektog van drie dae gekos om Hom weer te vind. So ook met ons; deur ydele geklets, kwaadsprekery, of die verwaarlosing van gebed, mag ons in een dag die teenwoordigheid van die Heiland verbeur, en dit mag 'n gesoek van baie dae in droefheid kos om Hom weer te vind, en die vrede wat ons verloor het. KE 76.2
In ons omgang met mekaar, moet ons daarteen waak dat ons Jesus nie vergeet, en voortgaan, nie wetende dat Hy nie by ons is nie. Wanneer ons soveel aandag skenk aan wêreldse dinge dat ons geen tyd het om te dink aan Hom op wie ons hoop vir die ewige lewe is nie, dan skei ons onsself af van Jesus en van die hemelse engele. Hierdie heilige wesens kan nie bly waar die Heiland se teenwoordigheid nie begeer word en waar Sy afwesigheid nie opgemerk word nie. Dit is juis om hierdie rede dat daar so dikwels moedeloosheid heers onder die belydende navolgers van Christus. KE 76.3
Baie woon godsdiensoefeninge by, en hulle word verkwik en vertroos deur die Woord van God; maar deur nie te peins, te waak, en te bid nie, mis hulle die seën, en vind hulle dat hulle armer is as voor hulle dit ontvang het. Dikwels voel hulle dat God hulle hard behandel het. Hulle sien nie dat dit hulle eie skuld is nie. Deur hulleself af te skei van Jesus, het hulle die lig van Sy teenwoordigheid uitgesluit. KE 77.1
Dit sou baie goed wees vir ons om vir 'n uur elke dag te peins oor die lewe van Christus. Ons moet dit punt vir punt neem sodat ons verbeelding elke toneel kan inneem, veral die slottonele. Waar ons so peins oor Sy soendood vir ons, sal ons vertroue op Hom standvastiger, ons lewe verkwik, en ons meer deur Sy Gees vervul word. As ons eindelik gered wil wees, moet ons die les van boetvaardigheid en ootmoed aan die voet van die kruis leer. KE 77.2
Waar ons met mekaar omgaan, kan die een vir die ander 'n seën wees. As ons aan Christus behoort, sal ons soetste herinneringe van Hom wees. Ons sou graag van Hom praat, en waar ons met mekaar van Sy liefde praat, sal ons harte weekgemaak word deur goddelike invloede. Deur die sieraad van Sy karakter te aanskou, sal ons “van gedaante verander na dieselfde beeid, van heerlikheid tot heerlikheid.” 2 Kor. 3: 18. KE 77.3