Die Koning Van Die Eeue

67/88

Stryd

DlE priesters en owerstes het in stilte geluister na Christus se bestraffings. Hulle kon nie Sy aanklagte weerspreek nie. Dit het hulle net meer vasberade gemaak om Hom te betrap, en met hierdie doel het hulle spioene na Hom toe gestuur “wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon vang, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.” Hulle het nie die ou Fariseërs gestuur wat Jesus dikwels ontmoet het nie, maar jongmanne wat baie ywerig was, en wat hulle gemeen het nie aan Christus bekend was nie. Hierdie manne was vergesel van sekere Herodiane wat moes luister na Christus se woorde, sodat hulle teen Hom kon getuig by Sy verhoor. Die Fariseërs en Herodiane was bittere vyande, maar nou het hulle saamgestaan in hulle vyandigheid teen Christus. KE 612.1

Dit was maar altyd 'n onaangename saak vir die Fariseërs dat hulle belastings moes betaal aan die Romeine. Hulle het aangevoer dat dit teen die wet van God was vir die Romeine om belastings te hef. Nou het hulle 'n kans gesien om 'n strik vir Jesus te stel. Die spioene het na Hom toe gekom, met geveinsde opregtheid, asof hulle graag wo weet wat hulle plig was, en- hulle het gesê: “Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer — is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal, of nie?” KE 612.2

Die woorde, “Ons weet dat U reguit praat en leer,” sou, as hulle opreg was, 'n wonderbaarlike erkenning gewees het. Maar hulle het hierdie woorde in geveinsdheid gesê; nogtans was hulle getuienis waar. Die Fariseërs het wel geweet dat Christus reg gepraat en geleer het, en deur hulle eie getuienis sou hulle geoordeel word. KE 613.1

Diegene wat die vraag aan Jesus gestel het, het gedink dat hulle hulle doel baie goed bedek het; maar Jesus het hulle harte gelees soos 'n ope boek, en Hy het hulle listigheid gesien. “Waarom versoek julle My?” het Hy gesê, en hulle daarmee 'n teken gegee waarvoor hulle nie gevra het nie, naamlik deur hulle te wys dat Hy hulle bedekte doel geken het. Hulle was nog meer van stryk gebring toe Hy aan hulle sê, “Wys My 'n penning.” Hulle het dit gedoen, en toe het Hy hulle gevra, “Wie se beeid en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser syne.” Wysende na die opskrif op die geldstuk, het Jesus gesê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” KE 613.2

Die spioene het verwag dat Jesus hulle vraag regstreeks sou beantwoord, op die een of ander wyse. As Hy sou sê, Dit is nie geoorloof om belasting aan die keiser te betaal nie, sou hulle Hom aan die Romeinse owerheid rapporteer, en hulle sou Hom in hegtenis neem op aanklag van aanhitsing tot opstand. Maar as Hy miskien sê dat dit geoorloof is om belasting te betaal, sou hulle Hom by die volk aankla dat Hy teen die wet van God is. Nou was hulle heeltemal verbyster en verslaan. Hulle planne is in die war gestuur. Die bondige wyse waarop hulle vraag beantwoord is, het hulle gelaat met niks meer om te sê nie. KE 613.3

Christus se antwoord was nie 'n ontduiking nie, maar 'n eerlike antwoord op die vraag. Terwyl Hy in Sy hand die Romeinse muntstuk gehou het waarop die naam en opskrif van die keiser was, het Hy verklaar dat aangesien hulle nou onder die beskerming van die Romeinst mag lewe, hulle aan daardie mag die ondersteuning moet gee wat hy verlang, solank dit nie in botsing kom met hulle hoër pligte nie. Maar terwyl hulle vreedsaam die wette van die land gehoorsaam, moes hulle ten alle tye hulle eerste trou aan God bewys. KE 613.4

Die Heiland se woorde, “Betaal . . . aan God wat God toekom,” was 'n harde bestraffing vir die konkelende Jode. As hulle getrou hulle verpligtings teenoor God nagekom het, sou hulle nie 'n gebroke volk onder 'n vreemde mag geword het nie. Geen Romeinse vlag sou oor Jerusalem gewapper het, geen Romeinse wag sou in sy poorte gestaan en geen Romeinse goewerneur sou binne sy mure regeer het nie. Die Joodse volk was nou besig om die straf te betaal vir sy afvalligheid van God. KE 614.1

Toe die Fariseërs Christus se antwoord hoor, “was hulle verwonderd en hulle het Hom verlaat en weggegaan.” Hy het hulle huigelary en valsheid bestraf, en daarby het Hy 'n groot beginsel neergelê, 'n beginsel wat die mens se pligte teenoor die burgerlike regering, en sy pligte teenoor God, duidelik bepaal. In die harte van baie was hierdie moeilike vraag nou opgelos. Van daardie tyd af het hulle die regte beginsel gehandhaaf. En alhoewel baie ontevrede weggegaan het, het hulle gesien dat die beginsel ten grondslag van die saak duidelik gestel is, en hulle het hulle verwonder oor Christus se diepgaande insig. KE 614.2

Nog skaars was die Fariseërs stilgemaak, of die Sadduseërs het met hulle listige vrae gekom. Daar was 'n bittere stryd tussen hierdie twee partye. Die Fariseërs was onverbiddelike handhawers van tra- disie. Hulle het alle uiterlike seremonies stip nagekom, vreeslik ywerig met die wassinge, vastye, lang gebede, en die gee van aalmoese om gesien te word. Maar Christus het verklaar dat hulle die wet van God kragteloos gemaak het deur leringe te leer wat die gebooie van mense is. As 'n klas was hulle nougeset en geveins; maar daar was onder hulle mense wat opreg vroom was, en wat Christus se leer aangeneem en Sy dissipels geword het. Die Sadduseërs het die oorle weringe van die Fariseërs verwerp. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle die grootste gedeelte van die Skrifte aangeneem het as die maatstaf van hulle lewe; maar werklik was hulle skeptici en materialiste. KE 614.3

Die Sadduseërs het die bestaan van engele, die opstanding uit die dode, en die leer van 'n toekomstige lewe met sy loon en straf geloën. Op al hierdie punte het hulle van die Fariseërs verskil. Tussen die twee partye was die grootste geskilpunt die opstanding uit die dode. Die Fariseërs was volslae gelowiges in die opstanding, maar hulle idees oor die Staat van die mens in die hiernamaals was verward. Die dood was vir hulle 'n onverklaarbare misterie. Die feit dat hulle nie die argumente van die Sadduseërs kon weerlê nie, was oorsaak van gedurige wrywing. Die besprekings tussen die twee partye het gewoonlik uitgeloop op hewige twiste wat die kloof tussen hulle nog groter gemaak het. KE 614.4

Wat getalle betref, het die Sadduseërs nie soveel aanhangers gehad nie en hulle het ook nie so 'n sterk houvas op die gewone mense gehad nie; maar baie van hulle was skatryk, en hulle het die invloed gehad wat met rykdom gepaard gaan. Meeste van die priesters was onder hulle, en uit hulle is die hoëpriester gewoonlik gekies. Dit het egter geskied met die verstandhouding dat hulle nie hulle skeptiese idees op die voorgrond moes stel nie. Weens die getalsterkte en populariteit van die Fariseërs, was die Sadduseërs gedwonge om uiterlik, terwyl hulle die priestersamp beklee het, eersgenoemdes se leer aan te neem; maar juis die feit dat hulle die priestersamp kon beklee, het invloed verleen aan hulle dwaalleer. KE 615.1

Die Sadduseërs het die leer van Jesus verwerp; Hy was besiel met 'n gees wat hulle nie wou erken soos dit deur Hom geopenbaar is nie; en Sy leer aangaande God en die lewe hiernamaals het hulle teorieë geloënstraf. Hulle het in God geglo as die enigste Wese wat bokant die mens gestaan het; maar hulle het aangevoer dat 'n bestierende voorsienigheid en 'n voorkennis van die toekoms sou belet dat die mens 'n vry sedelike wese kan wees, en sou hom verneder tot die posisie van 'n slaaf. Hulle het geglo dat God, na Hy die mens geskape bet, hom aan homself oorgelaat het, onafhanklik van 'n hoër invloed. Hulle het aangevoer dat die mens vry was om sy eie lewe, en beloop van sake in die wêreld te reël; dat sy lot in sy eie hande is. Hulle het ontken dat die Gees van God deur mense of natuurlike middels werk; maar daarby het hulle tog geglo dat die mens, deur die behoorlike gebruik van sy natuurlike kragte, verhef en verlig kon word, en dat sy lewe deur eenvoud en strenge reëls gereinig kan word. KE 615.2

Hulle idees van God het ook vorm gegee aan hulle eie karakters. Omdat Hy, soos hulle gemeen het, geen belang in die mens stel nie, het hulle ook min agting vir mekaar gehad; daar was feitlik geen band tussen hulle nie. Omdat hulle die invloed van die Heilige Gees op die mens se doen en late ontken het, het hulle Sy krag in hulle eie lewens gemis. Soos die res van die Jode was hulle baie trots op hulle geboortereg as kinders van Abraham, en op hulle noulettende nalewing van die wet; maar die ware gees van die wet, en die geloof en goedheid van Abraham — dit het hulle nie gehad nie. Hulle lewe was baie eng. Hulle het geglo dat dit moontlik was vir alle mense om die genot en seëninge van die lewe te hê, en die lyding en behoeftes van ander het hulle derhalwe koud gelaat. Hulle het net vir hulleself gelewe. KE 615.3

Deur Sy woorde en werke het Christus getuig van 'n goddelike krag wat bonatuurlike resultate lewer, van 'n lewe hiernamaals, van God as Vader van die mensekinders, en dat Hy hulle belange op Sy hart dra. In Sy goedheid en ontferming wat 'n bestraffing was van die selfsugtige afsydigheid van die Sadduseërs, het Hy getuig van die werking van 'n goddelike krag. Hy het geleer dat God, beide vir die tydelike en ewige goed van die mens, in sy hart werk deur die Heilige Gees. Hy het gewys op die dwaling van vertroue op menslike krag vir daardie verandering van karakter wat alleen deur die Gees van God kan bewerk word. KE 616.1

Die Sadduseërs was daarop uit om hierdie leer te ondermyn. Deur twis te soek met Jesus, was hulle seker dat hulle Hom in onguns sou bring, al sou hulle dan nie Sy veroordeling kon verkry nie. Hulle het dus besluit om Hom te ondervra oor die opstanding. As Hy miskien met hulle sou saamstem, sou Hy die Fariseërs nog verder aanstoot gee. As Hy van hulle sou verskil, sou hulle Sy leer as belaglik voorstel. KE 616.2

Die Sadduseërs het geargumenteer dat as die liggaam moet bestaan uit dieselfde materie in sy onsterflike vorm as in sy sterflike vorm, sal dit, wanneer dit uit die dode opgewek word, vlees en bloed moet hê en die lewe wat hier op die aarde onderbreek is, in die hiernamaals moet hervat. In daardie geval, het hulle aangevoer, sou die aardse verhouding ook hervat moet word; man en vrou sou herenig moet word; huwelikke sal voltrek moet word, en alles sal moet aangaan net soos vóór die dood, met die bestendiging van die swakhede en hartstogte van hierdie lewe. KE 616.3

In antwoord op hulle vrae het Jesus die sluier van die toekomstige lewe n bietjie gelig. “In die opstanding,” het Hy gesê, “trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos die engele van God in die hemel. Hy het aangetoon dat die Sadduseërs verkeerd was in hulle geloof. Hulle grondstellings was verkeerd. “Julie dwaal,” het Hy gesê, “omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” Hy het hulle nie van huigelary beskuldig soos in die geval van die Fariseërs nie, maar van dwaling en ongeloof. KE 616.4

Die Sadduseërs het hulle daarop beroem dat hulle, van alle mense, die Skrifte die stipste nagevolg het. Maar Jesus het getoon dat hulle nie die ware betekenis daarvan verstaan het nie. Daardie kennis moet in die hart gebring word deur die verligting van die Heilige Gees. Hy het gesê dat hulle onkunde van die Skrifte en die krag van God, die oorsaak was van hulle geloofsverwarring, en beneweide verstand. Hulle het getrag om die verborgenhede van God binne die grense van hulle eie beperkte verstand te bring. Christus het 'n beroep op hulle gedoen om hulle harte oop te stel vir daardie heilige waarhede wat hulle verstand sou verruim en versterk. Duisende word ongelowig omdat hulle beperkte verstand nie die verborgenhede van God kan verstaan nie. Hulle kan nie die wonderbaarlike openbaring van goddelike krag in Sy voorsienigheid verklaar nie, daarom verwerp hulle die bewyse van sulke krag, en skryf dit toe aan natuurlike werkinge wat hulle nog minder kan verstaan. Die enigste sleutel tot die verborgenhede rondom ons, is om in alles die teenwoordigheid en krag van God te erken. Die mense moet God aanneem as die Skepper van die heelal, die Een wat alles beveel en ten uitvoer bring. Hulle het behoefte aan 'n wyer begrip van Sy karakter, en die verborgenheid van Sy werkinge. KE 617.1

Christus het aan Sy toehoorders gesê dat as daar geen opstanding uit die dode was nie, sou die Skrifte wat hulle voorgegee het om te glo, vir hulle van geen waarde wees nie. Hy het gesê, “En wat die opstanding van die dode betref, het julle nie gelees die woord wat vir julle deur God gesê is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob ? God is nie n God van die dode nie, maar van die lewende.” God beskou die dinge wat nie is nie asof hulle is. Hy sien die einde van die begin af, en Hy sien die resultate van Sy werk asof dit alreeds gedaan is. Die dierbare dode, van Adam af tot by die laaste heilige wat sterwe, sal die stem van die Seun van God hoor, en sal voortkom uit die graf tot die ewige lewe. God sal hulle God wees, en hulle sal Sy volk wees. Daar sal n noue en tere band wees tussen God en Sy opgewekte heiliges. Hierdie toestand sien Hy asof dit alreeds 'n bestaande werklikheid is. Vir Hom lewe die dode. KE 617.2

Deur die woorde van Christus is die Sadduseërs die swye opgelê. Hulle kon Hom nie antwoord nie. Nie een woord is gesê waarvan hulle Hom kon beskuldig tot Sy veroordeling nie. Sy teenstanders het niks gewin behalwe die veragting van die volk nie. KE 618.1

Die Fariseërs, egter, het nog nie hoop opgegee dat hulle Hom iets sou laat sê wat hulle teen Hom kon gebruik nie. Hulle het 'n sekere bekwame skrifgeleerde oorgehaal om Jesus te vra watter van die tien voorskrifte van die wet die belangrikste is. KE 618.2

Die Fariseërs het die eerste vier gebooie verhef, wat wys op die mens se plig teenoor sy Skepper, en gesê dat hulle baie belangriker is as die orige ses wat die mens wys op sy pligte teenoor sy naaste. Ten gevolge daarvan het hulle ver kortgeskiet ten opsigte van prak- tiese godsaligheid. Jesus het die mense op hulle groot tekortkominge gewys, en het die noodsaaklikheid van goeie werke geleer, en verklaar dat 'n mens 'n boom aan sy vrugte ken. Dit is om hierdie rede dat Hy beskuldig is dat Hy die laaste ses gebooie verhef het bokant die eerste vier. KE 618.3

Die wetgeleerde het Jesus genader met 'n direkte vraag: “Wat is die eerste gebod van almal?” Die antwoord van Christus was reguit en kragtig: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here. En: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” Die tweede is soos die eerste, het Christus gesê, want dit vloei voort daaruit, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as die nie.” “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” KE 618.4

Die eerste vier van die Tien Gebooie is opgesom in die een groot gebod, “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart.” Die laaste ses is saamgevat in die ander een, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Beide hierdie gebooie is 'n uitdrukking van die beginsel van liefde. Die eerste kan nie gehou word terwyl die tweede verbreek word nie, en nog minder kan die tweede gehou word terwyl die eerste verbreek word. Wanneer God Sy regte plek kry op die troon van die hart, sal ons naaste ook sy regte plek kry. Ons sal hom liefhê soos onsself. Alleen wanneer ons God liefhet bo alles, sal dit moontlik wees om ons naaste onpartydig lief te hè. KE 618.5

En aangesien al die gebooie saamgevat is in liefde tot God en liefde tot die mens, volg dit dat nie een gebod verbreek kan word sonder om hierdie beginsel te oortree nie. Christus het Sy toehoorders dus geleer dat die wet van God nie uit 'n aantal afsonderlike gebooie bestaan waarvan sommige baie belangrik is, en ander van minder belang is, en maar ongestraf oortree kan word nie. Die Here het die eerste vier en die laaste ses gebooie as 'n goddelike geheel voorgestel, en geleer dat liefde tot God betoon sal word deur gehoorsaamheid aan al Sy gebooie. KE 618.6

Die wetgeleerde wat Jesus ondervra het, het die wet baie goed geken, en hy was verbaas oor die antwoord. Hy het nie verwag dat Jesus so 'n diepgaande en deeglike kennis van die Skrifte sou hê nie. Hy het nou 'n beter begrip gekry van die beginsels ten grondslag van die goddelike gebooie. In die teenwoordigheid van die vergaderde priesters en owerstes het hy eerlik erken dat Christus die regte vertolking van die wet gegee het, en hy het gesê: KE 619.1

“Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagofïers.” KE 619.2

Die wysheid van Christus se antwoord het die skrifgeleerde tot oortuiging gebring. Hy het geweet dat die Joodse godsdiens bestaan het uit uiterlike seremonies liewer as innerlike vroomheid. Hy het n taamlike besef gehad van die waardeloosheid van blote seremoniële offers, en die gelooflose vergieting van bloed vir die uitwissing van die sonde. Liefde en gehoorsaamheid aan God, en onselfsugtige agting vir die mens, het vir hom voorgekom as van meer waarde as al daardie seremonies. Die gereedheid van hierdie man om die korrektheid van Christus se antwoord te erken, en sy besliste getuienis voor die mense, het 'n gees geopenbaar, heeltemal anders as die van die priesters en owerstes. Jesus het baie jammer gevoel vir hierdie eerlike skrifgeleerde wat nie bang was om die oortuiging van sy hart uit te spreek voor die fronsende priesters en die dreigemente van die owerstes nie. “Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.” KE 619.3

Die skrifgeleerde was naby die koninkryk van God omdat hy besef het dat dade van geregtigheid meer aanneemlik vir God is as brandoffers en slagofïers. Wat hy nodig gehad het, was om die goddelike karakter van Christus te erken, en om deur geloof in Hom krag te ontvang om die werke van geregtigheid te doen. Die rituaal was van geen waarde sonder verbintenis met Christus deur 'n lewende geloof nie. Selfs die sedewet sal sy doel nie bereik, tensy dit verstaan word in sy verhouding tot die Heiland nie. Christus het herhaaldelik getoon dat Sy Vader se gebooie baie meer was as bloot gesaghebbende bevele. In die wet is dieselfde beginsel vervat as wat geopenbaar word in die evangelie. Die wet wys die mens op sy plig, en wys sy skuld aan. Hy moet tot Christus kom om vergifnis en om krag om te doen wat die wet vereis. KE 619.4

Die Fariseërs het baie naby rondom Jesus gestaan toe Hy die vraag van die wetgeleerde geantwoord het. Nou het Hy omgedraai en 'n vraag aan hulle gesteh “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Die doel van die vraag was om hulle geloof aangaande die Messias te toets — om te sien of hulle Hom bloot as mens beskou het, ot as die Seun van God. 'n Hele koor van stemme het tegelyk geantwoord, “Dawid syne.” Dit was die titel wat die profesie aan die Messias gegee het. Toe Jesus Sy Godheid geopenbaar het deur Sy magtige wonderwerke; toe Hy die siekes genees en die dode opgewek het, het die mense onder mekaar gevra, “Is dit nie die Seun van Dawid nie?” Die Siro-Feniciese vrou, die blinde Bartimeus, en baie ander het tot Hom geroep om hulp: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid!” Matt. 15:22. Onderwyl Hy Jerusalem binne- gery het, het die juigende skare Hom begroet, “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Matt. 21:9. Klein kindertjies het daardie dag in die tempel Hom met dieselfde Naam begroet. Maar vele wat Jesus die Seun van Dawid genoem het, het nie Sy Godheid erken nie. Hulle het nie verstaan dat die Seun van Dawid ook die Seun van God was nie. KE 620.1

In antwoord op die verklaring dat Christus die Seun van Dawid was, het Jesus gesê, “Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees die Gees van inspirasie deur God Here noem, toe Hy gesê het: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan My regterhand tot Ek U vyande gemaak het 'n voetbank van U voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun ? En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” KE 620.2