Die Koning Van Die Eeue

68/88

Wee die Fariseërs

DlT was die laaste dag dat Christus in die tempel geleer het. Die aandag van die groot skare wat in Jerusalem was, was op Hom toegespits; die mense het saamgedrom in die voorhowe van die tempel as toeskouers van die stryd wat aan die gang was, en hulle het gretig elke woordjie opgevang wat van Sy lippe gekom het. Nog nooit tevore is so 'n toneel aanskou nie. Daar het die jong Galileër gestaan, sonder enige aardse of koninklike ereteken. Om Hom was die priesters in hulle pragtige gewaad, owerstes in hulle uitrusting en eretekens wat hulle rang en posisie aangedui het, en die skrifgeleerdes met die rolle in hulle hande, wat hulle kort-kort nageslaan het. Jesus het kalm voor hulle gestaan, met die waardigheid van 'n koning. Soos iemand met gesag van die hemel beklee, het Hy Sy teenstanders onverskrokke aangekyk, wat Sy leer verwerp en verag het, en wat gedors het na Sy bloed. Hulle het Hom in groot getalle aangeval, maar hulle planne om Hom te verstrik en te veroordeel was tevergeefs. Hy het uitdaging na uitdaging aangeneem, en Hy het die reine, skynende waarheid voorgehou in teenstelling met die duisternis en dwaalleer van die priesters en Fariseërs. Hy het aan hierdie leiers hulle ware toestand geopenbaar, en die vergelding wat gewis sou volg as hulle sou volhard in hulle bose weë. Die waarskuwing is getrou gegee. Maar daar was nog 'n werk vir Christus om te doen. Daar was nog 'n doel wat moes bereik word. KE 621.1

Die belangstelling van die mense in Christus en Sy werk het steeds toegeneem. Sy leer het hulle bekoor, maar hulle was ook verwar. Hulle het die priesters en rabbi's gerespekteer vir hulle geleerdheid en skynbare vroomheid. In godsdienssake het hulle nog altyd hulle gesag stip gehoorsaam, maar nou het hulle gesien dat hierdie manne geprobeer het om Jesus in onguns te bring, 'n leraar wie se opregtheid en kennis na elke aanval nog helderder geskyn het. Hulle het die kwaadwillige priesters en ouderlinge aanskou en in hulle gelaat verleentheid en verwarring gesien. Hulle was verwonderd dat die owerstes nie in Jesus wou glo nie, daar Sy leer so duidelik en eenvoudig was. Self het hulle nie geweet watter weg om in te slaan nie. Bekommerd het hulle die bewegings gadegeslaan van diegene wie se raad hulle altyd gevolg het.Met die gelykenisse wat Christus gespreek het, was Sy tweeledige doel om die owerstes te waarsku en om diegene van die volk wat geseglik was, te leer. Maar dit was nou nodig om nog meer reguit te praat. Ten gevolge van hulle eerbied vir die tradisies, en hulle blinde geloof in die verdorwe priesterskap, was die mense verslaaf. Christus moes die kettings breek. Die karakter van die priesters, owerstes, en Fariseërs, moes nog duideliker aan die kaak gestel word. KE 622.1

“Die skrifgeleerdes en die Fariseërs,” het Hy gesê, “sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar moenie volgens hulle werke doen nie, want hulle praat en doen nie.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het aanspraak gemaak op goddelike gesag soos die wat Moses gehad het. Hulle het gemeen dat hulle sy plek ingeneem het as verklaarders van die wet en as regters van die volk. As sulks het hulle van die volk algehele eerbied en gehoorsaamheid geverg. Jesus het Sy toehoorders beveel om te doen wat die rabbi's ooreenkomstig die wet geleer het, maar om nie hulle voorbeeld te volg nie. Hulle het self nie gedoen wat hulle geleer het nie. KE 623.1

En hulle het baie dinge geleer wat in stryd was met die Skrifte. Jesus het gesê, “Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit met hulle vinger nie verroer nie.” Die Fariseërs het 'n menigte reëls voorgeskryf wat tradisie as grondslag gehad het, en wat die persoonlike vryheid onredelik aan bande gelê het. En hulle het sekere gedeeltes van die wet so vertolk, dat dit van die mense dinge geverg het wat hulle self in die geheim veronagsaam het, en waarvan hulle, wanneer hulle dit verkies het, vrystelling geëis het. KE 623.2

Om as baie vroom voor te kom, was die doel wat hulle altyd nagestreef het. In verband met Sy gebooie het God aan Moses gesê, “Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees.” Deut. 6: 8. Hierdie woorde het 'n diep betekenis. Namate persone peins oor Gods Woord en dit doen, sal die hele mens veredel word. Deur regverdige en barmhartige handelinge, sal die hande, soos 'n seël, die beginsels van Gods wet openbaar. Hulle sal rein bewaar word van omkoopgeld, en van alles wat verderflik en bedrieglik is. Hulle sal aktief wees in werke van liefde en barmhartigheid. Die oë, gerig op die edele doelwit, sal helder en waaragtig wees. Die gelaatsuitdrukking en die sprekende oë sal getuig van die onbesproke karakter van die een wat Gods Woord vereer en liefhet. Maar die Jode, in die tyd van Christus, het al hierdie dinge nie raakgesien nie. Die gebod van Moses is vertolk om te leer dat die gebooie van die Skrifte op die liggaam van die persoon gedra moes word. Daarom is hulle op strokies perkament geskryf, en gedra op die voorhoof en om die pols waar hulle gesien kon word. Maar dit het nie die wet van God 'n groter plek in die verstand en hart gegee nie. Die perkamentstrokies is bloot as tekens gedra om aandag te trek. Die idee was dat dit aan die draers 'n skyn van vroomheid sou gee wat die respek van die mense sou afdwing. Jesus het hierdie geveinsdheid 'n slag toegedien: KE 623.3

“Hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hulle gedenkseëls breed en die some van hulle klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die marke en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester, Christus, en julle is almal broers. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader — Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester, Christus.” In sulke duidelike woorde het die Heiland die selfsugtige ambisie bestraf wat maar altyd gereik het na die plek van mag en 'n valse nederigheid geopenbaar het, terwyl die hart vol gierigheid en nyd was. Wanneer mense na 'n feesmaal uitgenooi word, is aan die gaste sitplekke aangewys volgens hulle rang, en diegene wat die ere- plekke gekry het, het spesiale aandag en gunste ontvang. Die Fariseërs was altyd daarop uit om hierdie eerbewyse te verkry. Hierdie gewoonte het Jesus bestraf. KE 624.1

Hy het ook die ydelheid bestraf verbonde aan die strewe om die titel rabbi, of meester. Sulke titels, het Hy gesê, kom mense nie toe nie, maar Christus alleen. Priesters, skrifgeleerdes, owerstes, verklaarders en administreerders van die wet, hulle is almal broers, kinders van een Vader. Jesus het dit by die mense beklemtoon dat hulle aan geen mens 'n eretitel moet gee as erkenning van sy gesag oor hulle gewete of geloof nie. KE 624.2

As Christus vandag op die aarde sou wees, omring van diegene wat aangespreek word as “Eerwaarde,” of “Hoog-eerwaarde,” sou Hy nie miskien Sy bestraffing herhaal nie, “Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester, Christus”? Van God sê die Skrifte: “Sy Naam is heilig en vreeslik.” Ps. 111:9. Watter mens het reg op so 'n titel? Hoe min openbaar die mens die wysheid en geregtigheid wat dit omhels! Hoeveel van diegene wat hierdie titel aanneem, stel die Naam en karakter van God vals voor! Helaas, hoe dikwels is wêreldse eersugtigheid, despotisme, en die liederlikste sondes bedek onder die geborduurde kleed van 'n hoë en heilige amp! Die Heiland het voortgegaan: KE 625.1

“Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” Keer op keer het Christus geleer dat die maatstaf van ware grootheid sedelike waarde is. In die berekening van die hemel, bestaan grootheid van karakter in 'n lewe gewy aan die welsyn van ons medemens, en in werke van liefde en barmhartigheid. Christus, die Koning van heerlikheid, was dienaar van die gevalle mensheid. KE 625.2

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes,” het Jesus gesê” “want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.” Deur hulle verdraaiing van die Skrifte, het die priesters en wetgeleerdes die verstand van diegene verblind wat anders 'n kennis van Christus se koninkryk sou verkry het, en daardie innerlike, goddelike lewe wat so nodig is vir ware heiligheid. KE 625.3

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en dit terwyl julle vir die skyn lang gebede doen. Daarom sal julle 'n swaarder oordeel ontvang.” Die Fariseërs het groot invloed by die mense gehad, en dit het hulle vir hulle eie voordeel gebruik. Hulle het die vertroue van vrome weduwees gewin, en dit by hulle as 'n plig voorgestel om hulle eiendom te gee vir godsdienstige doeleindes. Nadat hulle die geld in besit gekry het, het hierdie slinkse konkelaars dit vir hulleself gebruik. Om hierdie oneerlikheid te bedek, het hulle lang gebede in die openbaar gebid, en die skyn van baie groot vroomheid verwek. Hierdie geveinsdheid sou hulle oordeel des te swaarder maak, het Christus gesê. Dieselfde bestraffing tref ook baie wat aanspraak maak op baie groot vroomheid in ons dae. Hulle lewens is besoedel deur selfsug en gierigheid, maar dit alles bedek hulle met 'n oënskynlike heilige kleed, en so bedrieg hulle die mense vir 'n tyd. Maar hulle kan God nie bedrieg nie. Hy lees elke versinsel van die hart, en Hy sal elke mens oordeel volgens sy dade. KE 625.4

Christus het hierdie wangebruike genadeloos veroordeel, maar Hy was versigtig om nie die mens se pligte te verminder nie. Hy het die selfsug veroordeel wat die gawes van weduwees afgepers en misbruik het. Maar terselfdertyd het Hy die weduwee geprys wat haar offergawe in die skatkis van God gestort het. Die mens se misbruik van die gawe sou nie Gods seën weghou van die gewer nie. KE 626.1

Jesus was in die hof waar die skatkiste gestaan het, en Hy het diegene betrag wat hulle gifte kom ingooi het. Baie van die rykes het groot somme gebring wat hulle met groot vertoon ingegooi het. Jesus het hulle met droefheid betrag, maar geen kommentaar gelewer oor hulle milddadige offergawes nie. Skielik het Sy gelaat gestraal, toe Hy 'n arm weduwee aarselend sien naderkom, asof sy bang was dat hulle haar sou opmerk. Terwyl die rykes en hoogmoediges verbygaan om hulle offergawes in te gooi, het sy teruggedeins asof sy dit nie kon waag om nader te kom nie. En tog wou sy ook graag iets doen, min soos dit was, vir die saak wat sy liefhet. Sy het na die geld in haar hand gekyk; dit was uiters min vergeleke met die van die ander rondom haar, maar dit was al wat sy gehad het. Sy het haar kans afgewag, vinnig haar twee geldstukkies ingegooi, en toe omgedraai en haastig weggestap. Toe sy dit doen, het sy die oog van Jesus gevang, wat haar stip aangekyk het. KE 626.2

Die Heiland het Sy dissipels na Hom toe geroep en hulle attent gemaak op die weduwee se armoede. Toe het sy die volgende woorde van aanprysing gehoor: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.” Trane van blydskap het in haar oë opgewel toe sy voel dat haar daad opgemerk en verstaan is. Baie sou haar aangeraai het om haar geldjies te hou vir haar eie gebruik; as sy dit sou gee in die hande van die goedgevoede priesters, sou dit heeltemal verlore geraak het onder daardie baie kostelike gawes wat na die skatkis gebring is. Maar Jesus het haar motief verstaan. Sy het geglo dat die tempeldiens 'n instelling van God was, en sy wou baie graag haar deeltjie tot die onderhoud daarvan bydra. Sy het gedoen wat sy kon, en haar daad sou vir altyd 'n monument tot haar nagedagtenis wees. Haar hart was in haar gawe; die waarde is bereken, nie volgens die waarde van die geldstuk nie, maar volgens die liefde tot God en die belangstelling in Sy werk, wat die motief van die daad was. KE 626.3

Jesus het gesê die arm weduwee “het meer ingegooi as almal.” Die rykes het uit hulle oorvloed gegee, en baie van hulle net om deur die mense gesien en geëer te word. Hulle groot gawes het hulle van geen gerief of weelde beroof nie; dit was nie vir hulle 'n opoffering nie, en in waarde kon dit nie vergelyk word met die weduwee se geld- stukkie nie. KE 627.1

Dit is die motief agter ons dade wat die karakter daaraan gee, òf van onwaardigheid òf van sedelike waarde. Dit is nie die groot dinge wat elke oog sien en elke tong loof wat God noodwendig as kosbaar beskou nie. Die klein pliggies blymoedig gedoen, die klein gifte sonder vertoon gegee, en wat volgens die menslike beskouing waardeloos is, staan dikwels die hoogste in die oë van God. 'n Hart van geloof en liefde is vir God van meer waarde as die kosbaarste gawe. Die arm weduwee het alles wat sy gehad het om van te lewe, gegee. Sy het haarseif aan voedsel ontrief om daardie twee geldstukkies te gee vir die saak wat sy liefgehad het. En sy het dit in geloof gedoen, en geglo dat haar hemelse Vader haar nie sou verlaat in haar groot nood nie. Dit was hierdie onselfsugtige gees en kinderlike geloof wat die oorsaak was dat die Heiland haar geprys het. KE 627.2

Onder die armes is daar baie wat ook graag hulle dankbaarheid wil toon aan God vir Sy genade en waarheid. Hulle wil graag saam met hulle meer voorspoedige broeders 'n aandeel hê in die onderhouding van die diens van God. Hulle moenie geweier word nie. Laat hulle hulle geldstukkies in die bank van die hemel bêre. As hulle dit gee uit 'n hart vol van liefde vir God, sal daardie skynbare nietige gawes geheilig word, kosbare offergawes wat die goedkeuring en seën van God sal wegdra. KE 627.3

Toe Jesus van die weduwee gesê het, “Sy het alles wat sy gehad het,” ingegooi, was Sy woorde waar, nie alleen wat betref die motief nie, maar ook ten opsigte van die gevolge van haar gawe. Die twee geldstukkies, “dit is 'n oortjie,” het in Gods skatkis 'n som geld gebring baie groter in waarde as die bydraes van daardie ryk Jode. Die invloed van daardie klein gawe was soos 'n stroompie, klein waar dit begin, maar wat steeds breër en dieper word namate dit deur die eeue gevloei het. Op 'n duisend maniere het dit bygedra tot die verligting van die lot van die armes, en tot die verbreiding van die evangelie. Haar voorbeeld van selfopofïering het ingewerk op duisende harte in elke land en in elke eeu. Dit het 'n beroep gedoen op beide rykes en armes, en hulle offergawes het die waarde van haar gawe vergroot. God se seën op die oortjie van die weduwee het dit die bron van groot weldadigheid gemaak. So is dit ook met elke gawe en elke daad wat geskied uit 'n opregte begeerte om God te verheerlik. Dit word verbind met die planne van die Almagtige. En geen mens kan die resul-tate ten goede bereken nie. KE 627.4

Die Heiland het voortgegaan met Sy veroordeling van die skrifgeleerdes en Fariseërs: “Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, Hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: Elkeen wat sweer by die altaar—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?” Die priesters het Gods vereistes vertolk volgens hulle vals en enge standaard. Hulle het fyn verskille gemaak betreffende die skuld van verskillende sondes, sommige is as lig beskou, en ander wat glad nie ernstig was nie, as onvergeeflik. Vir geld het hulle persone van hulle geloftes onthef. En vir groot somme geld het hulle soms ernstige misdade oor die hoof gesien. Maar terselfdertyd het hierdie selfde priesters en owerstes n harde oordeel uitgespreek oor onbenullige misdade. KE 628.1

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en julle laat na die swaarste van die wet: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” In hierdie woorde het Christus weer eens die misbruik van heilige verpligtings veroordeel. Hy het nie die verpligtings opgehef nie. Die stelsel van die heffing van tiendes is deur God ingestel, en dit is sedert die vroegste tye nagekom. Abraham, die vader van die gelowiges, het tiendes gegee van al sy besittings. Die Joodse regeerders het die verpligting om tiendes te gee, erken en dit was reg; maar hulle het die volk nie gelaat om hulle eie oortuigings aangaande hulle pligte uit te voer nie. Daar is arbitrêre reëls vir hulle opgestel vir elke geval. Die reëls het naderhand so ingewikkeld geword dat dit onmoontlik was om hulle na te kom. Niemand het meer geweet in hoe verre hulle hulle verpligtings nagekom het nie. Soos God dit gegee het, was die stelsel regverdig en redelik; maar die priesters en rabbi's het dit 'n ondraaglike las gemaak. KE 628.2

Alles wat God beveel, is belangrik. Christus het die gee van tiendes as 'n plig beskou; maar Hy het daarop gewys dat die nakoming van hierdie plig geen ekskuus was om ander pligte te verwaarloos nie. Die Fariseërs was baie nougeset om tiendes te gee op tuingoed soos kruisement en anys en koljander; hierdie dinge het hulle min gekos en dit het die skyn gegee dat hulle baie nougeset en heilig was. Maar terselfdertyd het hulle onnodige reëls die mense verdruk, en agting vir die heilige instelling vernietig. Hulle het die mense se gedagtes besig gehou met nietige reëltjies, en hulle aandag afgetrek van die essensiële waarhede. Die swaarste dinge van die wet, soos reg en barmhartigheid en trou, is nagelaat. “Hierdie dinge,” het Christus gesê, “behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” KE 629.1

Nog ander wette is ook deur die rabbi's op dieselfde manier verdraai. In die bevele aan Moses gegee, was dit nie geoorloof om iets te eet wat onrein is nie. Die eet van varkvleis, en die vleis van sekere ander diere was belet, want dit sou die bloed onrein maak en die lewe verkort. Maar die Fariseërs het nie hierdie beperkings gelaat soos God hulle gegee het nie. Hulle het tot onnodige uiterstes gegaan. Onder ander moes die volk alle water deursuig vóór gebruik, sodat daar nie miskien selfs die kleinste insek agterbly wat as onrein geklassifiseer kan word nie. Waar Jesus hierdie nietige bepalings vergelyk het met die grootheid van hulle werklike sondes, het Hy aan die Fariseërs gesê, “Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!” KE 629.2

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is.” Soos die gewitte en uiterlik versierde graf die verrotte oorblyfsels binnekant bedek, so het die uiterlike heiligheid van die priesters en owerstes sondes bedek. Jesus het voortgegaan: KE 629.3

,.Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete, en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders gelewe het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julleself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.” Om hulle agting te toon vir die gestorwe profete, was die Jode baie ywerig om hulle grafte te versier; maar hulle het nie geluister na hulle leer, of aggeslaan op hulle bestraffings nie. KE 629.4

In die tyd van Christus is daar 'n bygelowige agting gekoester vir die rusplekke van die dode, en groot somme geld is bestee aan die versiering van hulle grafte. In die oë van God was dit afgodediens. In hulle oordrewe agting vir die dode, het die mense getoon dat hulle God nie bo alles liefgehad het nie, of hulle naaste soos hulleself nie. Ons sien dieselfde soort afgodery ook vandag. Baie is skuldig daaraan dat hulle die weduwees, wese, die siekes en armes verwaarloos, sodat hulle duur monumente kan oprig vir die dode. Tyd, geld, en arbeids- kragte word vryelik bestee vir hierdie doel, terwyl die pligte aan die lewendes — pligte wat Christus duidelik opgedra het — nie nagekom word nie. KE 630.1

Die Fariseërs het die grafte van die profete gebou, en dit versier, en vir mekaar gesê: As ons in die dae van ons vaders gelewe het, sou ons nie saam met hulle die bloed van Gods dienaars vergiet het nie. Maar terselfdertyd het hulle planne gesmee om die lewe van Sy Seun te neem. Dit behoort 'n les vir ons te wees. Dit behoort ons oë te open vir die mag van die Satan om die hart te bedrieg en af te wend van die lig van die waarheid. Baie volg in die voetstappe van die Fariseërs. Hulle vereer diegene wat vir hulle geloof gesterf het. Hulle is verwonderd oor die blindheid van die Jode in hulle verwerping van Christus. As ons in Sy dae gelewe het, sê hulle, sou ons Sy leer met blydskap aangeneem het; ons sou nooit deelgenote gewees het aan die skuld van diegene wat die Heiland verwerp het nie. Maar wanneer gehoorsaamheid aan God selfverloëning en vernedering verg, sal daardie selfde persone hulle oortuigings smoor en gehoorsaamheid weier. So openbaar hulle dieselfde gees as die van die Fariseërs wat deur Christus veroordeel is. KE 630.2

Min het die Jode besef watter vreeslike gevolge hulle verwerping van Christus sou hê. Van die tyd af dat die eerste onskuldige bloed vergiet is, toe die regverdige Abel neergevel is deur die hand van Kain, is dieselfde geskiedenis herhaal met toenemende skuldigheid. In elke eeu het profete hulle stem verhef teen die sondes van konings, regeerders, en die volk, en het hulle die woorde gespreek wat God aan hulle gegee het, en in lewensgevaar Sy wil gehoorsaam. Van geslag tot geslag is die vreeslike straf opgegaar vir die verwerpers van lig en waarheid. Die vyande van Christus was nou besig om dit op hulle eie hoofde te bring. Die sondes van die priesters en owerstes was groter as die van die vorige geslag. Deur hulle verwerping van die Heiland, het hulle hulleself aanspreeklik gemaak vir die bloed van al die regverdiges wat om die lewe gebring is, van die tyd van Abel af tot by Christus. Hulle het op die punt gestaan om hulle beker van on- geregtigheid tot oorlopens toe te vul. Baie gou sou dit in vergelding op hulle eie hoofde uitgegiet word. Daarvan het Jesus hulle gewaarsku: “Sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Zagaria, die seun van Beregja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.” KE 630.3

Die skrifgeleerdes en Fariseërs wat na Jesus geluister het, het geweet dat Sy woorde waar was. Hulle het geweet hoe die profeet Sagaria vermoor is. Terwyl die woorde van waarskuwing van God nog op sy lippe was, het 'n sataniese woede die afvallige koning vervul, en op sy bevel is die profeet gedood. Sy bloed het die stene van die voorhof van die tempel bevlek, en dit kon nie afgewas word nie; dit het daar gebly om te getuig teen afvallige Israel. Solank as die tempel sou staan, sou die vlekke van daardie regverdige bloed bly, roepende tot God om vergelding. Terwyl Jesus verwys het na hierdie vreeslike sondes, het daar 'n rilling van vrees deur die skare gegaan. KE 631.1

Vooruitsiende, het Jesus verklaar dat die onboetvaardigheid van die Jode, en hulle onverdraagsaamheid teenoor Gods dienaars, in die toe- koms net so sal wees as in die verlede: KE 631.2

“Daarom kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg.” Profete en wyse manne, vol geloof en van die Heilige Gees — Stefanus, Jakobus, en baie ander — sou veroordeel en gedood word. Met die hand opgehef na die hemel, en 'n goddelike lig rondom Sy gestalte, het Christus gespreek soos 'n regter van diegene voor Hom. Sy stem, wat so dikwels gehoor is in sagmoedigheid en smeking, was nou hard in bestraffing en veroordeling. Die toehoorders het gebewe. Nooit sou die indruk van Sy woorde en Sy gelaatsuitdrukking uitgewis kon word nie. KE 631.3

Christus se verontwaardiging was teen die huigelary, die growwe sondes, waardeur mense hulle eie siele vernietig, die mense bedrieg, en God onteer het. In die listige, bedrieglike redenasies van die priesters en owerstes het Hy die werking van sataniese magte gesien. Skerp en reguit was Sy veroordeling van sonde; maar Hy het geen woorde van weerwraak gespreek nie. In Hom was daar 'n heilige woede teen die vors van die duisternis; maar Hy het geen kwaadaardigheid geopenbaar nie. So sal ook die Christen wat in harmonie met God lewe, wat dieselfde eienskappe van liefde en genade het, 'n regverdige verontwaardiging teenoor die sonde voel; maar hy sal nie kwaad word en diegene uitskel wat hom uitskel nie. Selfs wanneer hy te staan kom teen diegene wat besiel is met duiwelse mag om valsheid te handhaaf, sal hy in Christus kalm bly en homself nie te buite gaan nie. KE 632.1

Daar was goddelike ontferming in die gelaat van die Seun van God, terwyl Hy 'n laaste blik op die tempel, en daarna op Sy toehoorders gewerp het. In 'n stem vol innige aandoening, en met bitter trane het Hy uitgeroep: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is — hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” Dit is die afskeidsworste- ling. In die weeklag van Christus is die hart van God uitgestort. Dit was die misterieuse vaarwel van die lankmoedige liefde van die Godheid. KE 632.2

Beide Fariseërs en Sadduseërs is stilgemaak. Jesus het Sy dissipels geroep, en het klaargemaak om die tempel te verlaat, nie as een wat verslaan en gedwing is om die teenwoordigheid van Sy teenstanders te verlaat nie, maar as iemand wie se werk gedaan is. Hy het teruggetrek as oorwinnaar in die stryd. KE 632.3

Die kostelike waarhede wat daardie gedenkwaardige dag van Christus se lippe geval het, is as 'n skat bewaar in baie harte. Vir hulle het nuwe gedagtes tot die lewe ontkiem, 'n nuwe strewe het ontwaak, en 'n nuwe geskiedenis begin. Na die kruisiging en opstanding van Christus, het hierdie persone na vore gekom, en het hulle goddelike op- drag vervul met 'n wysheid en ywer ooreenkomstig die grootheid van die werk. Hulle het 'n boodskap gedra wat ingang gevind het in die harte van mense, en hulle het die ou bygelowe verswak wat vir so lank die lewens van duisende vereng het. Voor hulle getuienis het menslike teorieë en redenasies soos nietige fabels geword. Magtig was die resultate wat gevloei het van die woorde van die Heiland aan daardie verbaasde, verskrikte skare in die tempel van Jerusalem. KE 632.4

Maar Israel, as 'n volk, het hom geskei van God. Die natuurlike takke van die olyfboom is afgebreek. Jesus het vir die laaste maal die binnekant van die tempel aanskou, en weemoedig gesê, “Kyk julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julie sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Tot op daardie tydstip het Hy die tempel die huis van Sy Vader genoem; maar nou, waar die Seun van God daardie gebou sou verlaat, sou Gods teenwoordigheid ook vir altyd onttrek word aan die tempel wat tot Sy eer gebou is. Van nou af sou die seremonies betekenloos, en die dienste 'n klug wees. KE 633.1