Die Koning Van Die Eeue

56/88

Nie Met Sigbare Tekens nie

SOMMIGE van die Fariseërs het na Jesus gekom en gevra “wanneer die koninkryk van God sal kom.” Meer as drie jaar het verloop sedert Johannes die Doper soos met basuingeskal die boodskap deur die hele land laat weerklink het, “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Matt. 3:2. En die Fariseërs het destyds nog geen teken van die oprigting van die koninkryk gesien nie. Baie van diegene wat die boodskap van Johannes verwerp en Jesus op elke stap weerstaan het, het geskimp dat Sy sending 'n mislukking was. KE 514.1

Jesus het geantwoord, “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Die koninkryk van God begin in die hart. Moenie hier of daar kyk vir die openbaring van aardse mag om die koninkryk in te lei nie. KE 514.2

“Daar sal dae kom,” het Hy aan Sy dissipels gesê, “wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. Omdat dit nie met aardse vertoon gepaard gaan nie, loop julle gevaar om nie die heerlikheid van My sending te sien nie. Julle besef nie watter groot voorreg julle nou het om Hom, alhoewel Hy in menslike vlees skuil, onder julle te hê wie die lewe en lig van die mense is nie. Die dae sal kom wanneer julle met verlange sal terugkyk op die geleenthede wat julle nou het om te wandel en gemeenskap te hê met die Seun van God. KE 514.3

Omrede hulle selfsug en aardsgesindheid, het selfs die dissipels van Jesus nie die geestelike heerlikheid begryp wat Hy graag aan hulle wou openbaar nie. Dit was eers ná die hemelvaart van Christus, en die uitstorting van die Heilige Gees op die gelowiges, dat die dissipels ten volle die Heiland se karakter en sending verstaan het. Nadat hulle met die Heilige Gees gedoop is, het hulle begin besef dat hulle werklik in die teenwoordigheid van die Here van die heerlikheid was. Waar hulle herinner is aan die gesegdes van Christus, is hulle verstand geopen om die profesieë te verstaan, en ook die wonderwerke wat Hy gedoen het. Die wonders van Sy lewe het in herinnering gekom, en hulle was soos mense wat uit 'n droom wakkergeskrik het. Hulle het besef dat “die Woord vlees geword en onder ons gewoon [het] — en ons het Sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” Joh. 1: 14. Christus het inderwaarheid van God gekom na 'n sondige wêreld en om die gevalle seuns en dogters van Adam te red. Nou dat die dissipels dit besef het, het hulle hulleself van baie minder belang geag. Hulle het nooit moeg geword om van Sy woorde en werke te praat nie. Sy lesse, wat hulle eers so vaag begryp het, het nou tot hulle met nuwe helderheid gekom. Die Skrifte was vir hulle soos 'n nuwe boek. KE 515.1

Namate die dissipels die profesieë wat van Christus getuig, onder-soek het, is hulle in gemeenskap gebring met die Godheid, en hulle het van Hom geleer wat na die hemel opgevaar het om die werk te volbring wat Hy op die aarde begin het. Hulle het die feit besef dat daar in Hom kennis geskuil het wat geen mens, sonder goddelike hulp, kon verstaan nie. Hulle het die hulp nodig gehad van Hom wat deur konings en profete en regverdige mense voorspel is. Met verbasing het hulle die beskrywing van Sy karakter en werk gelees en herlees. Hoe vaag was hulle begrip van die profetiese skrifgedeeltes! Hoe stadig was hulle om die groot waarhede te verstaan wat getuig het van Christus! Waar hulle Hom aanskou het in Sy vernedering toe Hy as mens onder die mense gewandel het, het hulle nie die misterie van Sy menswording en die dubbele karakter van Sy natuur begryp nie. Hulle oë is gehou sodat hulle nie die godheid in die mensheid ten volle herken het nie. Maar nadat hulle deur die Heilige Gees verlig is, hoe het hulle nie verlang om Hom weer te sien en hulle aan Sy voete neer te werp nie! Hoe het hulle begeer om na Hom te gaan om die Skrifte te verduidelik wat hulle nie kon verstaan nie! Hoe aandagtig sou hulle nie na Sy woorde luister nie! Wat het Christus bedoel toe Hy gesê het, “Nog baie dinge het Ek om vir julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie”? Joh. 16: 12. Hoe graag wou hulle nou alles weet! Hulle was baie spyt dat hulle geloof so swak was, dat hulle idees so verkeerd was, en dat hulle nie daarin geslaag het om die werklikheid te begryp nie. KE 515.2

God het 'n heraut gestuur om die koms van Christus te verkondig, en die aandag van die Joodse volk en die wêreld te vestig op Sy sending, sodat die mense gereed kon wees om Hom te ontvang. Die Wondermens wat Johannes aangekondig het, was reeds in hulle midde vir meer as dertig jaar, en hulle het Hom nie werklik geken as die Een van God gestuur nie. Die dissipels het hulleself verwyt omdat hulle toegelaat het dat die heersende ongeloof hulle opinies beïnvloed en hulle verstand benewel. Die Lig van hierdie donker wêreld het in die duisternis geskyn, en hulle het nie verstaan waarvandaan die strale gekom het nie. Hulle het hulleself afgevra waarom hulle 'n weg ingeslaan het wat dit nodig gemaak het vir Christus om hulle te bestraf. Hulle het dikwels Sy gesprekke herhaal, en gevra: Waarom het ons toegelaat dat aardse beweegredes en die teenstand van die priesters en rabbi's ons verstand benewel sodat ons nie kon besef dat Iemand groter as Moses in ons midde was, en dat Een wyser as Salomo ons geleer het nie? Hoe traag was ons ore! Hoe swak ons verstand! KE 516.1

Thomas wou nie glo alvorens hy sy vinger in die wonde kon steek wat deur die Romeinse soldate gemaak is nie. Petrus het Hom verloën in Sy vernedering en verwerping. Hierdie pynlike herinneringe het helder in hulle geheue gekom. Hulle het met Hom gewandel, maar hulle het Hom nie geken of gewaardeer nie. Maar hoe het hierdie dinge nie nou hulle harte ontroer namate hulle hulle ongeloof besef het nie! KE 516.2

Toe die priesters en owerstes begin saamspan het teen hulle, en hulle voor die raad gebring en in die gevangenis gewerp is, het die navolgers van Christus hulle verbly “dat hulle waardig geag was'om vir Sy Naam oneer te ly.” Hand. 5:41. Hulle was bly om voor mense en engele te getuig dat hulle die heerlikheid van Christus gesien het, en verkies het om Hom te volg al moes hulle ook alle ander dinge skade ly. KE 516.3

Dit is vandag net so waar as in apostoliese dae dat die mens, sonder die verligting van die Heilige Gees, nie die heerlikheid van Christus kan sien nie. Die waarheid en die werk van God word nie waardeer deur 'n wêreldgesinde Christendom nie. Die navolgers van die Meester word nie gevind op die maklike pad of in die weë van aardse eer en gelykvormigheid aan die wêreld nie. Ons sal hulle daar op die voorpunt kry in die weë van werk, vernedering, en smaad, vegtende teen “owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efe. 6: 12. En vandag, net soos in die tyd van Christus, word hulle verkeerd verstaan, en verdruk deur die priesters en Fariseërs van hulle tyd. KE 517.1

Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. Die evangelie van die genade, met sy gees van selfverloëning, kan nooit in harmonie met die gees van die wêreld wees nie. Die twee beginsels is in stryd met mekaar. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie. Want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” 1 Kor. 2: 14. KE 517.2

Maar in die godsdienstige wêreld is daar vandag groot getalle wat, soos hulle glo, werk vir die oprigting van die koninkryk van Christus as 'n aardse, stoflike regering. Hulle wil die Here die koning maak van die aardse koninkryke van hierdie wêreld; regeerder in sy howe en kampe, in sy wetgewende rade, en in sy paleise. Hulle verwag dat Hy sal regeer deur wette, uitgevoer deur menslike gesag. Aangesien Christus nie vandag persoonlik hier is nie, meen hulle om self in Sy plek te handel en om die wette van Sy koninkryk te handhaaf. Die oprigting van so 'n koninkryk is presies wat die Jode in die tyd van Christus begeer het. Hulle sou Jesus aangeneem het, as Hy gewillig was om 'n stoflike koninkryk op te rig, die wette wat hulle beskou het as die wette van God, toegepas, en as Hy hulle as Sy agente en die verklaarders van Sy wil aangestel het. Maar Hy het gesê, “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Joh. 18: 36. Hy wou nie hierdie aardse troon hê nie. KE 517.3

Die regering waaronder Jesus geleef het, was verrot en onder-drukkend; orals was daar skreiende onreg — afpersing, onverdraagsaamheid, en verskriklike wreedheid. En tog het die Heiland nie burgerlike hervormings gemaak nie. Hy het die nasionale onregte nie aangeval, of die nasionale vyande veroordeel nie. Hy het Hom nie bemoei met die gesag en administrasie van die owerheid nie. Hy wat ons voorbeeld was, het Hom nie met aardse regerings ingemeng nie, nie omdat Hy onverskillig gestaan het teenoor die menslike eilendes nie, maar omdat die oplossing nie gevind sou word in bloot menslike en uiterlike maatreëls nie. Om doelmatig te wees, moes die geneesmiddel die indiwidu bereik, en wedergeboorte in die hart bewerk. KE 517.4

Die koninkryk van Christus sal nie opgerig word deur uitsprake van howe, of rade of parlemente nie; ook nie deur die goedgunstigheid van die wêreld se grotes nie, maar deur die inplanting van Christus se natuur in die mens deur die werking van die Heilige Gees. “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is.” Joh. 1: 12, 13. KE 518.1

Hier is die enigste krag wat kan werk vir die opheffing van die mensdom. En die menslike middel vir die volvoering van hierdie werk is die leer en die beoefening van die Woord van God. KE 518.2

Toe die apostel Paulus sy werk in Korinthe begin het, daardie dig- bewoonde, ryk, en bose stad, besoedel deur die veelvuldige euwels van die heidendom, het hy gesê, “Want ek het my voorgeneem om niks onder julle te weet nie, behalwe Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” 1 Kor. 2:2. Toe hy later geskryf het aan sommige wat deur die vuilste sondes besoedel was, kon hy sê, “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” “Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is.” 1 Kor. 6: 11; 1: 4. KE 518.3

Vandag, net soos in die tyd van Christus, is die werk van Gods koninkryk nie by diegene wat aandring op die erkenning en ondersteuning van aardse regeerders en menslike wette nie, maar by diegene wat daardie geestelike waarhede in Sy Naam aan die mense verkondig, wat daardie geestelike ervaring aan die hoorders sal gee wat Paulus gehad het: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Gal. 2: 20. Dan ook sal hulle werk soos Paulus gewerk het vir die seën van mense. Hy het gesê, “Ons tree dan op as gesante om Christus ontwil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus ontwil: Laat julle met God versoen.” 2 Kor. 5: 20. KE 518.4