Die Koning Van Die Eeue
Die Barmhartige Samaritaan
IN die verhaal van die barmhartige Samaritaan het Christus 'n illus- trasie van ware godsdiens gegee. Hy het aangetoon dat dit nie uit stelsels, leer, of rites bestaan nie, maar in die doen van liefdesdade, die betoning van liefde aan ander, en in ware goedheid. KE 506.1
Terwyl Christus die mense geleer het, “het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Met die grootste belangstelling het die groot skare gewag op die antwoord. Die priesters en rabbi's het gehoop om Christus in 'n strik te lei deur die wetgeleerde hierdie vraag te laat stel. Maar die Heiland het hom nie in 'n stryd laat wikkel nie. Hy het die vraer self sy vraag laat beantwoord, deur te vra: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die Jode het volgehou met hulle beskuldiging dat Jesus die wet, op Sinai gegee, lig opgeneem het; maar Hy het die vraag van die saligheid verbind met die onderhouding van Gods gebooie. KE 506.2
Die wetgeleerde het geantwoord, “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Daarop het Jesus gesê, “Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.” KE 506.3
Die wetgeleerde Die wetgeleerde was nie tevrede met die posisie en werke van die Fariseërs nie. Hy het die Skrifte ondersoek met 'n begeerte om te weet wat alles werklik beteken het. Die saak was vir hom van lewens- belang, en hy het in alle opregtheid gevra, “Wat moet ek doen?” In sy antwoord oor die vereistes van die wet, het hy al die gebooie oor die seremonies en die rituaal laat links lê. Hy het nie waarde daaraan geheg nie, maar hy het die twee groot grondbeginsels genoem waaraan die hele wet en die profete hang. Hierdie antwoord, wat Christus geprys het, het Hom die voorsprong op die rabbi's gegee. Hulle kon Hom nie veroordeel omdat Hy die antwoord goedgekeur het wat deur 'n wetgeleerde gegee is nie. KE 507.1
“Doen dit, en jy sal lewe,” het Jesus gesê. Hy het die wet voorgestel as 'n goddelike geheel, en in hierdie les het Hy aangetoon dat dit nie moontlik is om een gebod te hou en die ander te oortree nie, want dieselfde beginsel geld vir almal. Die mens se ewige lot sal beslis word deur sy gehoorsaamheid aan die hele wet. Volkome liefde vir God, en onpartydige liefde vir die mens, is die twee beginsels wat uitgeleef moet word. KE 507.2
Die wetgeleerde het ontdek dat hy 'n oortreder van die wet was. Hy het tot oortuiging gekom onder Christus se deurdringende woorde. Die geregtigheid van die wet wat hy voorgegee het om te verstaan, het hy nie uitgeleef nie. Hy het nie liefde betoon aan sy medemens nie. Daar was bekering nodig; maar pleks van homself te bekeer, het hy geprobeer om homself te regverdig. Liewer as om die waarheid te erken, het hy geprobeer om te wys hoe moeilik dit is om die gebod te onderhou. So het hy gehoop om oortuiging te ontduik en homself te regverdig voor die mense. Die Heiland se woorde het aangetoon dat sy vraag onnodig was aangesien hy in Staat was om dit self te beantwoord. Maar hy het weer 'n ander vraag gestel, en gevra, “Wie is my naaste?” KE 507.3
Onder die Jode het hierdie vrae eindelose stryery uitgelok. Wat die heidene en die Samaritane betref het, was daar by hulle geen vraag nie; hulle was vreemdelinge en vyande. Maar sou hulle onderskeid maak tussen die mense van hulle eie volk, en tussen die verskillende klasse van die samelewing? Wie moes die priester, die rabbi, en die ouderling beskou as hulle naaste? Hulle het hulle lewens bestee aan 'n reeks seremonies om hulleself rein te maak. Kontak met 'n ongeleerde en onverskillige skare, het hulle gedink, sou hulle besoedel en baie werk kos om weer rein te word. Moes hulle die “onreines” beskou as hulle naaste? KE 507.4
Weer het Jesus geweier om in 'n stryery gewikkel te raak. Hy het nie die bekrompenheid veroordeel van diegene wat op die loer was om Hom te veroordeel nie, maar deur 'n eenvoudige verhaal het Hy voor Sy toehoorders 'n prentjie opgehang van hemelse liefde wat alle harte aangeraak het, en wat die wetgeleerde die waarheid laat bely het. KE 508.1
Die manier om duisternis te verdryf, is deur die lig te bring. Die beste manier om dwaalleer te bestry, is deur die waarheid voor te stel. Dit is die openbaring van Gods liefde wat die verdorwenheid en sonde aantoon van die hart wat net vir homself lewe. KE 508.2
“'n Sekere man,” het Jesus gesê, “het afgegaan van Jerusalem na Jerigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom halfdood lê. En toevallig het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so ook het 'n Leviet by die plek gekom, en hom gesien en anderkant verbygegaan.” Lukas 10: 30-32. Dit was nie 'n denkbeeldige toneel nie, maar 'n werklike gebeurtenis wat bekend was net soos dit voorgestel is. Die priester en die Leviet wat anderkant verbygegaan het, was albei onder die gehoor, en het geluister na Christus se woorde. KE 508.3
Op reis van Jerusalem na Jerigo moes reisigers deur 'n deel van die woestyn van Judea gaan. Die pad het in 'n woeste, rotsagtige kloof afgegaan, waarin rowers skuilgehou het; en dikwels is daar geweld gepleeg. Dit was daar waar die man aangeval, en beroof en verwond en halfdood agtergelaat is. Terwyl hy daar gelê het, het daar 'n priester verbygekom, maar hy het net in die verbygaan na die man gekyk. Toe het daar 'n Leviet gekom; nuuskierig om te weet wat gaande was, het hy gaan staan en het na die verwonde man gekyk. Hy was oortuig van wat hy behoort te doen, maar dit was vir hom nie 'n aangename plig nie. Hy het gewens dat hy liewer nie met daardie pad gekom het en dus nie die verwonde man gesien het nie. Hy het toe besluit dat dit 'n saak was wat hom nie aangaan nie. KE 508.4
Albei hierdie manne was in die heilige bediening, en hulle het voorgegee dat hulle die Skrifte kon verklaar. Hulle was uit 'n klas wat spesiaal gekies is om God onder die mense te verteenwoordig. Hulle moes saamgevoel het “met die onwetendes en dwalendes” (Heb. 5:2), sodat ander Gods groot liefde vir die mensdom kon verstaan. Die werk wat hulle geroep was om te doen, was dieselfde wat Jesus beskryf het as Sy eie toe Hy gesê het, “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangene vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur.” Lukas 4: 18, 19. KE 508.5
Die engele van die hemel sien die droefheid van Gods kinders op die aarde, en hulle is bereid om saam te werk met mense om verdrukking en lyding te versag. In Sy voorsienigheid het God die priester en die Leviet met daardie pad laat loop waar die verwonde gelê het, sodat hulle sy behoefte aan genade en hulp kon besef. Die hele hemel het gewag om te sien of hierdie manne met ontferming bewoë sou word oor menslike lyding. Die Heiland was die Een wat die Hebreërs onderrig het in die woestyn; uit die wolk- en die vuurkolom het Hy hulle 'n les geleer wat baie verskil het van die wat die mense nou van hulle priesters en leraars ontvang het. Die genadige voorskrifte van die wet het selfs ook die diere ingesluit wat nie kan praat en vertel van hulle ontberings en lyding nie. Deur Moses is die volgende voorskrifte aan die kinders van Israel gegee: “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring. As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, dan moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom losmaak.” Exod. 23: 4, 5. Maar in die man wat deur die rowers verwond is, het Jesus die saak van 'n broeder in lyding voorgestel. Hoeveel te meer behoort ons harte in ontferming tot hom uit te gaan as tot 'n stomme lasdier! Deur Moses is die boodskap aan hulle gegee dat die Here hulle God, “die grote, magtige en gedugte God,” reg verskaf “aan die wees en die weduwee” en die vreemdeling liefhet. Daarom het Hy beveel, “moet julle die vreemdeling liefhê.” “Jy moet hom liefhê soos jouself.” Deut. 10: 17-19; Lev. 19: 34. KE 509.1
Job het gesê, “Die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deur het ek oopgemaak na die pad toe.” En toe die twee engele in die vorm van twee manne na Sodom gekom het, het Lot homself na die aarde neergebuig en gesê, “Ag, menere, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor.” Job 31: 32; Gen. 19: 2. Die priester en Leviet was bekend met al hierdie lesse, maar hulle het dit nie in die praktyk gebring nie. Opgelei in die skool van nasionale bekrompenheid, het hulle selfsugtig, eng, en eksklusief geword. Toe hulle die verwonde man gesien het, kon hulle nie vasstel of hy aan hulle volk behoort het nie. Hulle het gedink dat hy moontlik 'n Samaritaan kon wees, en hulle het verbygegaan. KE 509.2
In hulle handelwyse, soos Christus beskryf het, het die wetgeleerde niks gesien wat teenstrydig was met wat hy geleer was oor die vereistes van die wet nie. Maar nou word die toneel verder beskryf: KE 510.1
'n Sekere Samaritaan wat op reis was, het gekom tot die plek waar die verwonde man gelê het; hy het hom gesien en hom oor die man ontferm. Hy het nie gevra of die vreemdeling 'n Jood of heiden was nie. As dit 'n Jood was, het die Samaritaan goed geweet dat, as die skoen aan die ander voet was, die man in sy gesig sou gespuug en hom veragtend sou verbygegaan het. Maar hy het nie ondersoek ingestel nie. Hy het nie aan sy eie gevaar gedink waaraan hy in daardie plek blootgestel was nie. Dit was genoeg vir hom dat daar voor hom n mens was wat in nood en lyding verkeer het. Hy het sy eie kleed uitgetrek om die man te bedek. Die olie en wyn wat hy vir sy eie reis gehad het, het hy gebruik om die man se wonde mee te verbind. Hy het hom op sy esel gehelp en hy is stadig met hom voort, sodat die vreemdeling nie rondgeskud word en dus verdere pyn moes verduur nie. Hy het hom na die herberg gebring, en hom daardie nag versorg en by hom gewaak. Die volgende more was die siek man beter, en die Samaritaan is voort op sy reis. Voordat hy egter vertrek het, het hy die man aan die sorg van die herbergier toevertrou, die verblyfkoste betaal, en nog 'n verdere som aan hom gegee om aan die siek man te bestee; en as daar nog meer onkoste was, het hy aan die herbergier gesê, “Sal ek jou betaal as ek terugkom.” KE 510.2
Aan die slot van die verhaal het Jesus Sy oë op die wetgeleerde gevestig met 'n blik wat skynbaar sy siel gelees het, en gesê, “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Lukas 10: 36. KE 510.3
Selfs nou nog wou die wetgeleerde nie die naam Samaritaan op sy lippe neem nie, en hy het geantwoord, “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Toe het Jesus gesê, “Gaan en doen jy net so.” KE 510.4
So is dan die vraag: Wie is my naaste? vir altyd beantwoord, Christus het aangetoon dat ons naaste nie net persone is wat aan dieselfde kerk behoort as ons nie. Hulle is nie beperk tot ras of kleur of klas nie. Ons naaste is enige persoon wat ons hulp nodig het. Ons naaste is elke siel wat verwond is deur die vyand. Ons naaste is elke mens wat die eiendom van God is. KE 512.1
In die verhaal van die barmhartige Samaritaan, het Jesus ons ´n beeld van Homself en Sy werk gegee. Die mens is bedrieg, verwond, beroof en geruïneer deur die Satan, en aan sy lot oorgelaat; maar die Heiland het Hom ontferm oor ons ellende. Hy het Sy heerlike woning verlaat en tot ons hulp gekom. Hy het ons sterwende gevind, en Hy het ons saak opgeneem. Hy het ons wonde verbind. Hy het ons bedek met Sy kleed van geregtigheid. Hy het vir ons 'n toevlugsoord geword, en volkome voorsiening gemaak vir ons onderhoud. Hy het Sy lewe gegee om ons te verlos. Wysende na Sy eie voorbeeld, sê Hy aan Sy navolgers, “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.” “Soos Ek julle lief gehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”Joh. 15: 17; 13: 34. KE 512.2
Die wetgeleerde se vraag aan Jesus was, “Wat moet ek doen?” En Jesus, wat liefde tot God en naasteliefde erken as die samevatting van geregtigheid, het gesê, “Doen dit, en jy sal lewe.” Die Samaritaan het gehandel uit 'n vriendelike en liefdevolle hart, en daarin het hy homself bewys as 'n onderhouer van die wet. Christus het die wetgeleerde beveel, “Gaan en doen jy net so.” God verwag van Sy kinders om nie net te sê nie, maar ook om te doen. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” 1 Joh. 2: 6. KE 512.3
Die les is vandag nog net so nodig in die wêreld as toe Christus dit I gegee het. Selfsug en kille vormdiens het die vlam van die liefde bykans uitgeblus, en die deugde verdring wat die karakter 'n soete I geur sou gemaak het. Baie wat Sy Naam bely, het die feit uit die oog verloor dat Christene Christus moet verteenwoordig. Tensy daar daadwerklike selfopoffering vir ander is in die gesin, in die buurt, in die gemeente, of waar ons ook al is, is ons nie Christene nie, al bely ons ook wat. KE 512.4
Christus het Sy belange met die van die mensdom verbind, en Hy vra ons om onsself met Hom te vereenselwig in die redding van die mensdom. “Julie het dit verniet gekry,” het Hy gesê, “gee dit verniet.” Matt. 10: 8. Die sonde is die grootste van alle euwels, en ons moet ons oor die sondaar ontferm en hom help. Daar is baie wat sondig en hulle baie skaam daaroor. Hulle verlang na woorde van bemoediging. Hulle dink oor hulle foute en dit maak hulle byna wanhopig. Ons moet hierdie siele help. As ons Christene is, sal ons nie aan die anderkant verbygaan en onsself sover as ons maar kan van hierdie mense verwyder wat juis ons hulp so nodig het nie. Wanneer ons mense in eilende sien, of dit deur siekte of sonde veroorsaak is, moet ons nooit sê, Dit gaan my nie aan nie. KE 512.5
“As 'n mens ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reg help met die gees van sagmoedigheid.” Gal. 6:1. Die vyand moet teruggedruk word deur geloof en gebed. Spreek woorde van geloof en aanmoediging wat soos genesende balsem sal wees vir die verwonde. Vele, vele het moed opgegee in die groot stryd van die lewe, wanneer een woordjie van aanmoediging hulle krag sou gegee het om te oorwin. Ons moet nooit 'n lydende siel verbygaan sonder om hom aan te moedig met die troos waarmee God ons vertroos nie. KE 513.1
Dit alles is slegs 'n vervulling van die beginsel van die wet — die beginsel wat toegelig is deur die verhaal van die barmhartige Samaritaan, en geopenbaar in die lewe van Jesus. Sy karakter openbaar die ware betekenis van die wet, en toon aan wat bedoel word met naasteliefde. En wanneer die kinders van God barmhartigheid, vriendelikheid, en liefde openbaar teenoor alle mense, dan getuig hulle vir die aard van die verordeninge van die hemel. Hulle bevestig die feit dat “die wet van die Here volmaak [is]: dit verkwik die siel.” Ps. 19: 8. En wie nalaat om hierdie liefde te betoon, breek die wet wat hy voorgee om te eerbiedig. Want die gees wat ons openbaar teenoor ons broeders, verkondig wat ons gees teenoor God is. Liefde tot God in ons harte is die enigste bron van liefde vir ons naaste. “As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” “As ons mekaar liefhet, dan bly God in i ons en het Sy liefde in ons volmaak geword.” 1 Joh. 4: 20, 12. KE 513.2