Die Koning Van Die Eeue
Jesus Seën die Kinders
JESUS het altyd die kinders liefgehad. Hy het hulle kinderlike medelyde en hulle hartlike, ongeveinsde liefde aangeneem. Die dankbare lof van hulle reine lippe was soos musiek in Sy ore, en wanneer Hy terneergedruk was na aanraking met sluwe, skynheilige mense, het dit Sy gees verkwik. Waar die Heiland ook gegaan het, het Sy goedige gelaat, en Sy sagmoedige, vriendelike houding, die liefde en vertroue van die kinders gewin. KE 519.1
Onder die Jode was dit die gewoonte om kinders na die een of ander rabbi te bring om hulle te seën deur die oplegging van hande; maar die Heiland se dissipels het gemeen dat Sy werk te belangrik was om op hierdie wyse onderbreek te word. Toe die moeders na Hom toe gekom het met hulle kinders, het die dissipels hulle afkeurend aangekyk. Hulle het gemeen dat die kinders te jonk was om te baat by 'n besoek aan Jesus, en dat hulle aanwesigheid Hom nie sou behaag nie. Maar dit was die dissipels wat Hom mishaag het. Die Heiland was bekend met die sorge en laste van die moeders wat graag hulle kinders wou opvoed volgens die Woord van God. Hy het hulle gebede verhoor. Dit was Hy self wat hulle tot Hom getrek het. KE 519.2
Een moeder het haar huis met haar kind verlaat om na Jesus te gaan. Op weg het sy een van haar bure vertel waarheen sy gaan, en die buurvrou wou graag hê dat Jesus ook haar kinders moes seën. So het verskeie moeders saamgegaan en hulle kinders gebring. Sommige van die kinders was nie meer suigelinge nie, maar het reeds hulle jongelingsjare bereik. Toe die moeders die doel van hulle besoek verduidelik het, het Jesus met medelyde na hulle geluister. Maar Hy het gewag om te sien hoe die dissipels hulle sou behandel. Toe Hy sien dat hulle die moeders wegstuur, dinkende dat hulle Hom daardeur 'n guns bewys, het Hy hulle gewys op hulle fout deur te sê, “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.” Hy het die kindertjies in Sy arms geneem, Sy hande op hulle gelê, en hulle geseën. KE 520.1
Dit het die moeders getroos. Hulle is terug na hulle huise, gesterk en geseën deur die woorde van Christus. Hulle is bemoedig om hulle laste blymoedig te dra, en hoopvol te werk vir hulle kinders. Die moeders van vandag moet Sy woorde met dieselfde geloof aanneem. Christus is vandag nog net so gewis 'n persoonlike Saligmaker as wat Hy was toe Hy as mens onder die mense gewoon het. Hy is nog net so gewis die Helper van moeders as wat Hy was toe Hy die kindertjies in Judea in Sy arms opgeneem het. Die kinders van ons gesinne is net soseer deur Sy bloed gekoop as die kinders van lank gelede. KE 520.2
Jesus ken die sorge van elke moederhart. Hy wat self 'n moeder gehad het wat armoede en ontbering verduur het, het medelyde met elke moeder in haar werk. Hy wat die lang reis onderneem het om die kwelling te stil in die hart van 'n Kanaänitiese vrou, sal net soveel doen vir die moeders van vandag. Hy wat aan die wuduwee van Nain haar enigste seun uit die dode teruggegee het, en wat in Sy foltering aan die kruis aan Sy eie moeder gedink het, word vandag nog geraak deur 'n moeder se droefheid. In elke droefheid en in elke nood sal Hy vertroosting en hulp gee. KE 520.3
Laat moeders na Jesus kom met hulle moeilikhede. Hy sal hulle genoeg genade gee om hulle kinders te regeer. Die poorte is oop vir elke moeder wat haar laste aan die voete van die Heiland wil lê. Hy wat gesê het, “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie,” nooi vandag nog die moeders om die kleintjies te bring sodat Hy hulle kan seën. Selfs 'n baba in sy moeder se arms kan in die skaduwee van die Almagtige skuil deur die geloof van die biddende moeder. Johannes die Doper is met die Heilige Gees vervul by sy geboorte. As ons maar in gemeenskap met God wou lewe, mag ons ook verwag dat die goddelike Gees ons kindertjies sal vorm, selfs van hulle eerste oomblikke af. KE 520.4
In die kinders wat na Hom toe gebring is, het Jesus die manne en vroue gesien wat die erfgename van Sy genade, en die onderdane van Sy koninkryk sou. wees, en sommige waarvan martelare vir Sy ontwil sou word. Hy het geweet dat daardie kinders na Hom sou luister en Hom sou aanneem as hulle Verlosser meer geredelik as die volwassenes, baie waarvan eiewys en hard van hart was. In Sy leer het Hy afgedaal tot hulle peil. Hy, die majesteit van die hemel, het nie te veel van Homself gedink om hulle vrae te beantwoord en Sy belangrike lesse te vereenvoudig om verstaanbaar te wees vir hulle kindergemoed nie. In hulle harte het Hy die saadjies van die waarheid geplant wat in later jare sou ontkiem en vrugte tot die ewige lewe sou voortbring. KE 522.1
Dit is nog waar dat kinders die vatbaarste is vir die leer van die evangelie; hulle hartjies is oop vir die goddelike invloede, en sterk om die lesse te onthou wat geleer is. Klein kindertjies kan Christene wees, met 'n ervaring volgens hulle jare. Hulle het behoefte aan onderrig in geestelike dinge, en ouers behoort hulle alle hulp te gee, sodat hulle karakters kan vorm volgens die karakter van Christus. KE 522.2
Vaders en moeders behoort hulle kinders te beskou as jonger lede van die Here se gesin, aan hulle toevertrou om opgelei te word vir die hemel. Die lesse wat ons self van Christus leer, behoort ons aan ons kinders te leer; namate die kinderverstand dit kan vat, moet die skoonheid van die beginsels van die hemel aan hulle verduidelik word. Op hierdie manier word die Christelike huis n skool waar die ouers as onderwysers optree, terwyl Christus die opperste leraar is. KE 522.3
Waar ons vir die bekering van ons kinders werk, moet ons nie na die openbaring van emosie kyk as die vernaamste bewys van die oortuiging van sonde nie. Ook is dit nie nodig om presies die tyd te weet wanneer hulle tot bekering gekom het nie. Ons moet hulle leer om hulle sondes na Jesus te bring, Hom om vergifnis te vra, en te glo dat Hy hulle vergewe en hulle aanneem soos Hy die kinders aangeneem het toe Hy hier op aarde was. KE 522.4
Waar 'n moeder haar kinders leer om haar te gehoorsaam omdat hulle haar liefhet, leer sy hulle die eerste lesse van die Christelike lewe. Die liefde van die moeder stel vir die kind die liefde van Christus voor, en die kleintjies wat hulle moeder vertrou en gehoorsaam, leer daardeur om die Heiland te vertrau en te gehoorsaam. KE 523.1
Jesus was 'n voorbeeld vir die kinders, en Hy was ook 'n voorbeeld vir vaders. Hy het gespreek soos iemand wat gesag het, en Sy woord was met krag; maar nogtans, in al Sy aanrakings met onbeskofte en gewelddadige manne het Hy nie een onvriendelike of onhoflike woord geuiter nie. Die genade van Christus in die hart sal 'n hemelse waardigheid en fatsoenlikheid gee. Dit sal alles wat hard is, versag, en alles wat onbeskof en onvriendelik is, onderdruk. Dit sal vaders en moeders beweeg om hulle kinders te behandel as intelligente wesens, net soos hulle self behandel wil wees. KE 523.2
Ouers, by die opleiding van u kinders moet u die lesse studeer wat God in die natuur gegee het. As u 'n roos of lelie of ander soort blom wil kweek, hoe sou u dit doen? Vra die tuinier wat hy doen om elke tak en blad so mooi te laat ontwikkel. Hy sal u vertel dat dit nie deur onverskillige aanraking of swaar werk plaasvind nie, want dit sou net die swak stingeltjies laat knak. Maar dit geskied deur klein, werkies, dikwels gedoen. Hy het die grond klam gemaak, die plantjies beskerm teen die sterk winde en teen die hitte van die skroeiende son, en God het hulle laat groei en die pragtige blomme voortgebring. Waar u met u kinders werk, moet u die metodes van die blommekweker volg. Deur sagte aanraking, deur liefdesdiens, moet u trag om hulle karakters te vorm volgens die patroon van die karakter van Christus. KE 523.3
Moedig liefde tot God en tot mekaar aan. Die rede waarom daar so baie hardvogtige mense in die wêreld is, is omdat ware liefde as swakheid beskou word en ontmoedig en onderdruk word. Die beter natuur van hierdie mense is in hulle kinderjare gesmoor; en tensy die lig van goddelike liefde hulle kille selfsug laat wegsmelt, sal hulle geluk vir ewig bederf wees. As ons wil hê dat ons kinders die sag- moedige gees van Jesus, en die medelyde wat die engele vir ons aan die dag lê, moet openbaar, moet ons grootmoedige en liefdevolle drifte by ons kinders aanmoedig. KE 523.4
Leer die kinders om Christus in die natuur te sien. Neem hulle uit na buite, na die tuin, onder die bome, en leer hulle om die openbaring van Sy liefde te sien in Sy skepping. Leer hulle dat Hy wat die wette gemaak het wat al die lewende dinge regeer, ook wette vir ons gemaak het, en dat daardie wette vir ons vreugde en geluk daargestel is. Moet hulle nie moegmaak met lang gebede en vervelende prekery nie, maar leer hulle gehoorsaamheid aan die wet van God deur die aanskouelike lesse van die natuur. KE 523.5
Namate u hulle vertroue in u win as navolgers van Christus, sal dit maklik wees om hulle die groot liefde te leer waarmee Hy ons liefgehad het. Waar u trag om die groot waarhede van die verlossing aan hulle te verduidelik, en die kinders te wys op Christus as hulle persoonlike Verlosser, sal engele aan u sy wees. Die Here sal aan vaders en moeders genade skenk om die belangstelling van die kindertjies op te wek in die pragtige verhaal van die Kindjie van Betlehem, wat die hoop van die wêreld is. KE 524.1
Toe Jesus die dissipels beveel het om nie die kinders te belet om na Hom toe te kom nie, het Hy tot Sy navolgers van alle eeue gespreek — tot die beamptes van die kerk, die predikante, die helpers, en alle Christene. Jesus trek die kinders, en Hy sê aan ons: Laat hulle kom; dit is asof Hy wil sê, Hulle sal kom as julle hulle nie verhinder nie. KE 524.2
Moenie u onchristelike karakter Jesus vals laat voorstel nie. Moenie die kleintjies van Hom af weghou deur u kilheid en hardvogtigheid nie. Moet hulle nooit rede gee om te glo dat die hemel nie vir hulle 'n heerlike plek sal wees-as u ook daar is nie. Moenie van die godsdiens praat as iets wat kinders nie kan verstaan nie, en moenie die indruk skep dat daar nie van hulle verwag word om Christus in hulle kinderjare aan te neem nie. Moet hulle nie onder die valse indruk bring dat die godsdiens van Christus 'n swartgallige godsdiens is, en dat hulle, as hulle na die Heiland kom, alles wat die lewe aangenaam maak, sal moet opgee nie. KE 524.3
Namate die Heilige Gees werk in die harte van die kinders, moet u saam met Hom werk. Leer hulle dat die Here hulle roep, en dat niks Hom groter vreugde sal gee as wanneer hulle hulleself aan Hom oorgee in die frisheid van hulle jeug nie. KE 525.1
Die Heiland bejeën met die grootste tederheid die siele wat Hy met Sy eie bloed gekoop het. Sy liefde maak aanspraak op hulle. Hy aanskou hulle met die sterkste verlange. Sy hart gaan uit, nie net tot die kinders wat hulle goed gedra nie, maar ook tot die wat siegte karaktertrekke oorgeërf het. Baie ouers verstaan nie hoe hulle self in 'n groot mate aanspreeklik is vir daardie karaktertrekke in hulle kinders nie. Hulle het nie die sagmoedigheid en wysheid om te werk met die stout kinders wat hulle karakters van hulle ouers geërf het nie. Maar Jesus bejeën hierdie kinders met medelyde. Hy weet waarom die kinders so is. KE 525.2
Die Christenwerker kan 'n werktuig van Christus wees om die kinders tot die Heiland te trek. Deur wysheid en takt kan hy hulle vertroue win; hy kan hulle met moed en hoop besiel, en deur die genade van Christus sal hy sien hoedat hulle van karakter verander, sodat daar van hulle gesê kan word, “Aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.” KE 525.3