Die Koning Van Die Eeue
“Die Laaste Reis uit Galilea”;
n ander plek vertrek. Herhaaldelik het Hy beveel dat niemand dit moes rugbaar maak dat Hy die Christus is nie. KE 494.1
Tydens die Huttefees het Hy skielik, en in die geheim, na Jerusalem gegaan. Toe Sy broers by Hom aangedring het om Homself in die openbaar voor te stel as die Messias, was Sy antwoord, “My tyd is nog nie daar nie.” Joh. 7: 6. Hy het ongemerk na Jerusalem gereis en die stad onaangemeld binnegegaan, sonder die huldebetoning van die skare.Maar Sy laaste reis was anders. Hy het Jerusalem vir 'n tyd verlaat weens die kwaadwilligheid van die priesters en die rabbi's. Maar Hy was nou voornemens om terug te gaan, in die openbaar en met 'n omweg, en met 'n aankondiging van Sy koms soos nog nooit tevore gedoen is nie. Hy was op weg na die groot offertoneel, en daarop moes die aandag van die mense gevestig word. KE 494.2
“Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word.” Joh. 3: 14. Soos die oe van die hele Israel gevestig is op die verhoogde slang, die simbool vir hulle genesing, so moet alle oë gevestig word op Christus, die offer wat verlossing aan die hele wêreld bring. KE 494.3
Dit was 'n valse begrip van die Messias se werk, en 'n gebrek aan geloof in die goddelike karakter van Jesus, wat Sy broers genoop het om by Hom aan te dring om Homself in die openbaar aan die mense voor te stel op die Huttefees. En nou weer, met 'n dergelike gees, wou die dissipels Hom belet om hierdie reis na Jerusalem te onderneem. Hulle het gedink aan Sy woorde oor wat met Hom daar sou gebeur; hulle het geweet van die verskriklike vyandigheid van die geestelike leiers, en hulle sou graag hulle Meester wou belet om daarheen te gaan. KE 495.1
Vir die hart van Christus was dit bitter om teen die vrees en teleurstelling en ongeloof van Sy dissipels op Sy weg voort te gaan. Dit was swaar om hulle te lei na die angs en wanhoop wat hulle in Jerusalem gewag het. En die Satan was daar om die Seun van die mens tot 'n val te bring met sy versoekings. Waarom sou Hy dan nou na Jerusalem gaan, na 'n gewisse dood? Orals rondom Hom was daar siele wat gesmag het na die brood van die lewe. Aan alle kante was daar lydendes wat gewag het op Sy woord van genesing. Die werk van die evangelie van Sy genade het nou maar net begin. En Hy was nou in Sy volle mannekrag. Waarom nie na die groot sending- velde van die wêreld gaan met Sy boodskap van genade, en Sy helende krag nie? Waarom geniet Hy nie die vreugde om lig en blydskap te bring aan die miljoene wat in duisternis verkeer nie? Waarom sou Hy die insameling van die oes oorlaat aan Sy dissipels wat so swak is in die geloof, so stomp van verstand, en so traag om te handel? Waarom sou Hy nou die dood tegemoetgaan, en die werk in sy beginstadium laat? Hierdie vyand wat voor Christus in die woestyn gestaan het, het Hom nou aangeval met die kwaaiste en listigste versoekings. As Jesus vir een oomblik sou toegee, as Hy in een enkele besonderheid van Sy gekose weg sou afgesien het om Homself te red, sou die Satan die oorwinning behaal en alles verlore gewees het. KE 495.2
Maar Jesus het “Sy gesig gerig om na Jerusalem te reis.” Die een wet van Sy lewe was om Sy Vader se wil te doen. Tydens Sy besoek aan die tempel in Sy kinderjare, het Hy aan Maria gesê, “Het U nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?” Lukas 2: 49. In Kana, toe Maria wou hê dat Hy 'n wonder moes doen, was Sy antwoord, “My uur het nog nie gekom nie.” Joh. 2: 4. Met dieselfde woorde het Hy ook Sy broers geantwoord toe hulle by hom aangedring het om na die fees te gaan. Maar in Gods groot plan was die uur bepaal wanneer Hy Homself sou offer vir die sondes van die mense, en daardie uur sou spoedig slaan. Hy sou nie wankel nie; Sy voete het in die pad gestaan na Jerusalem waar Sy vyande so lank planne gesmee het om Sy lewe te neem; nou sou Hy dit gaan aflê. Hy het Sy gesig gerig om te gaan na vervolging, verloëning, verwerping, veroordeling, en die dood. KE 495.3
Hy het “boodskappers voor Hom uitgestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.” Maar die mense wou Hom nie ontvang nie, want Hy was op weg na Jerusalem. Hulle het gemeen dat Christus die Jode bo hulle verkies, wat hulle met groot bitterheid gehaat het. As Hy gekom het om die tempel en godsdiens op die berg Gerisim te herstel, sou hulle Hom met oop arms ontvang het; maar Hy was op weg na Jerusalem, en daarom sou hulle Hom geen gasvryheid betoon nie. Min het hulle besef dat hulle hulle deure gesluit het teen die beste gawe van die hemel. Jesus het mense uitgenooi om Hom aan te neem; Hy het gunste van hulle gevra sodat Hy naby hulle kon kom om die rykste seëninge aan hulle te gee. Vir elke guns aan Hom bewys, het Hy 'n kosbare seën gegee. Maar die Samaritane het alles gemis ten gevolge van hulle vooroordeel en bekrompenheid. KE 496.1
Jakobus en Johannes, Christus se boodskappers, het hulle baie vererg oor die belediging van hulle Here. Hulle was verontwaardig oor die onbeskoftheid van die Samaritane teenoor Hom wat hulle vereer het met Sy teenwoordigheid. 'n Rukkie tevore was hulle by Hom op die berg van verheerliking; hulle het gesien hoe God Hom verheerlik het, en hoe Hy geëer is deur Moses en Elia. Hulle het gemeen dat hierdie belediging deur die Samaritane nie verbygegaan behoort te word sonder straf nie. KE 496.2
By Christus gekom, het hulle Hom vertel wat die mense gesê het, en Hom meegedeel dat hulle Hom herberg selfs vir n nag geweier het. Hulle het gedink dat 'n groot onreg Hom aangedaan is, en toe hulle die berg Karmel in die verte sien waar Elia die valse profete gedood het, het hulle gevra, “Wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elia ook gedoen het?” Hulle was verbaas toe hulle sien dat hulle voorstel Jesus pyn aandoen, en nog meer verbaas oor Sy bestraffing, “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om mense se siele te verderf nie, maar te red.” En hulle het na 'n ander dorp vertrek. Dit was geen deel van Christus se sending om mense te dwing om Hom aan te neem nie. Dit is die Satan, en mense besiel met sy gees, wat die gewete wil dwing. Onder die dekmantel van ywer vir die geregtigheid, bring mense wat saamwerk met bose engele groot lyding op hulle medemens met die doel om hulle te bekeer tot hulle idees van die godsdiens; maar Christus betoon gedurig genade en trag steeds om mense te win deur die openbaring van Sy liefde. Hy kan geen mededinger in die siel toelaat nie, en ook nie gedeeltelike diens aanneem nie; Hy verlang alleen vrywillige diens, die vrywillige oorgawe van die hart onder die aantrekkingskrag van liefde. Daar kan geen sterker bewys wees dat ons die gees van die Satan het as die begeerte om diegene leed aan te doen, of te vernietig, wat nie ons werk waardeer of volgens ons idees handel nie. KE 496.3
Elke mens is in liggaam, siel, en gees, die eiendom van God. Christus het gesterf om almal te verlos. Niks is so afskuwelik vir God as wanneer mense deur godsdienstige dweepsug, lyding bring op diegene wat losgekoop is deur die Heiland se bloed nie. KE 497.1
“En Hy het opgestaan en vandaar deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judea gegaan; en weer het 'n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer.” Markus 10: 1. KE 497.2
'n Taamlike gedeelte van die laaste paar maande van Christus se bediening het in Perea geskied —'n provinsie “oorkant die Jordaan” van Judea af. Daar het 'n skare Hom gevolg, net soos in Sy eerste bediening in Galilea, en Hy het baie van Sy onderrig herhaal. KE 497.3
Soos Hy die twaalf uitgestuur het, het Hy nou “weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.” Lukas 10: 1. Hierdie dissipels was vir 'n tyd reeds by Hom en het opleiding geniet vir hulle werk. Toe die twaalf alleen uitgestuur is op hulle eerste sending, het ander dissipels Jesus vergesel op Sy reis deur Galilea. So het hulle geleentheid gehad. vir noue omgang met Hom, en vir regstreekse, persoonlike onderrig. Nou moes hierdie groter getal ook uitgaan op 'n eie sending. KE 497.4
Die opdrag aan die sewentig het ooreengestem met die wat aan die twaalf gegee is; maar die bevel aan die twaalf om nie na 'n dorp van die heidene of die Samaritane te gaan nie, is nie aan die sewentig gegee nie. Alhoewel Christus so pas afgestoot is deur die Samaritane, was Sy liefde vir hulle onverander. Toe die sewentig in Sy Naam uitgegaan het, het hulle heel eerste die stede van Samaria besoek. KE 498.1
Die Heiland se eie besoek aan Samaria, en later die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, en die verhaal van die dankbare melaatse, 'n Samaritaan en die enigste een onder die tien wat genees is wat Christus kom bedank het — dit alles het groot betekenis gehad vir die dissipels. Die les het hulle diep getref. In Sy opdrag aan hulle, net vóór Sy hemelvaart, het Jesus Samaria genoem, saam met Jerusalem en Judea, as die plekke waar hulle die evangelie die eerste moes verkondig. Die onderrig wat Hy hulle gegee het, het hulle toegerus vir die vervulling van die opdrag. Toe hulle in hulle Meester se Naam na Samaria gegaan het, het hulle gevind dat die mense gewillig was om hulle te ontvang. Die Samaritane het gehoor van Christus se woorde van lof, en van Sy werke van genade vir mense van hulle eie volk. Hulle het gesien dat Hy, ondanks hulle onbeskoftheid teenoor Hom, slegs gedagtes van liefde teenoor hulle gekoester het, en dit het hulle harte gewin. Na Sy hemelvaart het hulle die Heiland se bood- skappers verwelkom, en die dissipels het 'n ryke oes ingesamel onder diegene wat voorheen hulle bitterste vyande was. “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” “En op Sy Naam sal die heidene hoop.” Jes. 42: 3; Matt. 12: 21. KE 498.2
Toe Jesus die sewentig uitgestuur het, het Hy hulle beveel, net soos die twaalf, om hulle nie op mense af te dwing nie as dit blyk dat hulle onwelkom is. “In watter stad julle ook al mag ingaan, en hulle julle nie ontvang nie,” het Jesus gesê, “gaan uit op die strate en sê: Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.” Hulle moes dit nie doen omdat hulle die houding van die mense gelaak het, of cmdat hulle waardigheid gekwes is nie, maar om te wys hoe ernstig 'n saak dit is om die Here se boodskap of Sy boodskappers te weier. Om die Here se dienaars te verwerp, is om Christus self te verwerp. KE 498.3
“Ek sê vir julle,” het Jesus gesê, “vir Sodom sal dit verdraagliker wees in die dag as vir daardie stad.” Toe het Hy teruggedink aan die Galilese stede waar so veel van Sy werk gedoen is. Met droefheid het Hy gesê: “Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.” KE 499.1
Aan daardie besige stede aan die oewers van die meer van Galilea is die hemel se rykste seëninge vryelik aangebied. Dag na dag het die Vors van die lewe daar in en uit gegaan onder die mense. Die heerlikheid van God, wat profete en konings verlang het om te sien, het geskyn op die skares wat die Heiland gevolg het. Maar hulle het die hemelse Gawe van die hand gewys. KE 499.2
Met groot vertoon van wysheid het die rabbi's die mense gewaarsku om die nuwe leer van die nuwe Leraar nie aan te neem nie, want Sy leer en praktyk was nie ooreenkomstig die leer van die vaders nie. Die mense het geglo wat die priesters en Fariseërs geleer het pleks van te soek om die Woord van God vir hulleself te verstaan. Hulle het die priesters en owerstes geëer pleks van God, en hulle het die waarheid verwerp om hulle eie tradisies te behou. Op baie is daar 'n indruk gemaak en hulle is byna oortuig; maar hulle het nie op hulle oortuigings gehandel nie, en hulle het nie die kant van Christus gekies nie. Die Satan het met sy versoekings gekom totdat die lig soos duisternis gelyk het. En so het vele die waarheid verwerp wat hulle siele kon gered het. KE 499.3
Die waaragtige Getuie sê, “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.” Openb. 3: 20. Elke waarskuwing, bestraffing, en smeking in die Woord van God, of deur middel van Sy boodskappers, is 'n geklop aan die deur van die hart. Dit is die stem van Jesus wat vra om toegang. Elke keer as die geklop nie beantwoord word nie, word die begeerte om die deur oop te maak, swakker. As ons die indrukke wat die Heilige Gees vandag maak, veronagsaam, sal hulle more nie meer so sterk wees nie. Die hart is nie meer so vatbaar nie; dit word minder bewus van die kortstondigheid van die lewe, en van die ewigheid daarna. Ons veroordeling in die gereg geskied nie soseer omdat ons dwaalleer aangeneem het nie, maar omdat ons nie gebruik gemaak het van die hemelse geleenthede om die waarheid te leer nie. KE 499.4
Soos die apostels het die sewentig ook bonatuurlike krag ontvang om die seël op hulle werk te druk. Toe hulle taak gedaan was, het hulle met blydskap teruggekom en gesê, “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in U Naam.” Jesus het geantwoord, “Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.” KE 500.1
Die tonele van die verlede en die toekoms het in Jesus se gedagte gekom. Hy het Lucifer gesien soos hy die eerste maal uit die hemel neergewerp is. Hy het vooruitgesien na die tonele van Sy eie lyde, wanneer die karakter van die bedrieër voor al die wêrelde ontsluier sal word. Hy het die uitroep gehoor, “Dit is volbring” (Joh. 19: 30), wat 'n aankondiging was dat die verlossing van die verlore mensdom verseker is, en dat die hemel vir ewig gevrywaar is teen die beskuldi- gings, die bedrog, en die valshede deur die Satan ingegee. KE 500.2
Anderkant die kruis van Golgota, met sy foltering, en skande, het Jesus daardie dag gesien wanneer die vors van die bose magte in die lug, vernietig sal word op die aarde wat hy so lank geskend het deur sy opstand. Jesus het die werk van boosheid vir ewig beëindig gesien, en ook die vrede van God wat hemel en aarde sal vervul. KE 500.3
Voortaan moes die navolgers van Christus aan die Satan dink as n verslane vyand. Aan die kruis sou Jesus die oorwinning vir hulle behaal; daardie oorwinning moet hulle aanneem as hulle eie oorwinning. “Kyk,” het Hy gesê, “Ek gee aan julle mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; niks sal julle ooit skade doen nie.” KE 500.4
Die almag van die Heilige Gees is die beskutting van elke boet-vaardige siel. Christus sal nie een wat in boetvaardigheid en geloof aanspraak maak op Sy beskerming, onder die mag van die vyand laat kom nie. Die Heiland staan aan die sy van Sy versoekte en beproefde kinders. By Hom kan daar nie soiets as mislukking, verlies, onmoontlikheid, of neerlaag wees nie; ons kan alles doen deur Hom wat ons krag gee. Wanneer versoekings en beproewings kom, moet u nie wag om al die moeilikhede uit die weg te ruim nie, maar sien op Jesus, u helper. KE 500.5
Daar is Christene wat heeltemal te veel dink en praat oor die mag van die Satan. Hulle dink oor hulle teenstander, hulle bid oor hom, hulle praat van hom, en hy word al groter en groter in hulle verbeelding. Dit is waar, die Satan is 'n magtige wese; maar, dank die Here, ons het 'n almagtige Verlosser wat die duiwel uit die hemel uit- gewerp het. Die Satan is bly wanneer ons sy mag vergroot. Waarom praat ons nie liewer van Jesus, en vergroot ons nie Sy mag en Sy liefde nie? KE 501.1
Die reënboog van belofte rondom die troon daarbo is 'n ewige getuienis dat God die wêreld so liefhet, “dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh. 3: 16. Dit getuig vir die heelal dat God nooit Sy kinders sal verlaat in hulle stryd teen sonde nie. Dit is aan ons die versekering van krag en beskerming solank as die troon self standhou. KE 501.2
Jesus het laat volg: “Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.” Moet julle nie verbly oor die besit van mag nie, sodat julle nie miskien julle afhanklikheid van God uit die oog verloor nie. Pas op dat selfvoldaanheid nie insluip en julle in julle eie krag werk, liewer as in die krag en gees van julle Meester nie. In enige mate van sukses in die werk is die eie-ek maar altyd gereed om aanspraak te maak op al die eer. Die eie-ek word gevlei en verhef, en ander word nie onder die indruk gebring dat God alles in alles is nie. Die apostel Paulus het gesê: “As ek swak is, dan is ek sterk.” Kor. 12: 10. Wanneer ons besef hoe swak ons is, sal ons leer om te vertrou op 'n mag buitekant ons. Niks kan 'n mens se hart so vasgryp as die besef van ons verantwoordelikheid aan God nie. Niks beïnvloed ons doen en late so sterk as die besef van die vergewende liefde van Christus nie. Ons moet in aanraking met God kom, dan sal ons met Sy Heilige Gees vervul word, wat ons sal help om in aanraking met ons medemens te kom. Verbly julle dat julle deur Christus met God verbind is, en lede van die hemelse gesin is. Terwyl u van die eie-ek weg kyk na omhoog, sal u gedurig die swakheid van die mensheid besef. Hoe minder u op uself vertrou, hoe vollediger sal u begrip word van die uitnemendheid van u Verlosser. Hoe nouer u u verbind met die bron van lig en krag, hoe meer lig sal daar op u val en hoe groter sal u krag wees om vir God te werk. Verbly uself daarin dat u een is met God, en een met Christus en die hele hemelse gesin. KE 501.3
Terwyl die sewentig geluister het na die woorde van Christus, het die Heilige Gees hulle onder die indruk gebring van lewende werklikhede, en die waarheid is geskryf op die tafels van die siel. Alhoewel hulle van 'n skare omring was, was dit of hulle saam met God ingesluit was. KE 502.1
Wetende dat hulle onder die inspirasie van die uur was, het “Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit U welbehae. Alles is aan My oorgegee deur My Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” KE 502.2
Die geëerde manne van die wêreld, die sogenaamde grotes en wyscs, met hulle geroemde kennis, kon nie die karakter van Christus verstaan nie. Hulle het Hom na die uiterlike geoordeel, en volgens die vernedering wat Hy moes verduur as mens. Maar aan vissers en tollenaars is dit gegee om die Onsienlike te sien. Selfs die dissipels het nie alles verstaan wat Jesus aan hulle geopenbaar het nie; maar van tyd tot tyd, namate hulle hulleself oorgegee het aan die werking van die Heilige Gees, is hulle verstand verlig. Hulle het besef dat die almagtige God, in die menslike vlees, in hulle midde was. Jesus het Hom verheug dat alhoewel die wyse en verstandiges nie hierdie kennis gehad het nie, dit tog aan hierdie nederige manne geopenbaar is. Dikwels wanneer Hy die Ou Testamentiese Skrifte verklaar en hulle toepassing op Hom en Sy verlossingswerk aangetoon het, het Sy Gees hulle aangewakker en hulle tot 'n hemelse atmosfeer verhef. Van die geestelike waarhede waarvan die profete gespreek het, het hulle 'n beter begrip gehad as die oorspronklike skrywers self. Voort- aan sou hulle die Ou-Testamentiese Skrifte lees, nie as die leerstellings van skrifgeleerdes en Fariseërs nie, nie as die gesegdes van wyse manne lank reeds dood nie, maar as 'n nuwe openbaring van God. Hulle het Hom gesien “wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” Joh. 14: 1 KE 502.3
Die enigste manier waarop ons 'n beter begrip van die waarheid kan kry, is deur die hart teer en stil te hou deur die werking van die Gees van Christus. Die siel moet gereinig word van ydelheid en hoogmoed; alles moet uitgewerp word wat dit in beslag gehad het, en Christus moet daar op die troon geplaas word. Die menslike wetenskap is te beperk om die verlossing te verstaan. Die verlossingsplan is so allesomvattend dat die filosofie dit nie kan begryp nie. Dit sal altyd 'n misterie bly wat die grootste verstand nie kan peil nie. Die wetenskap van die verlossing kan nie verklaar word nie; maar dit kan ondervind word. Alleen die persoon wat sy eie sondigheid besef, kan die onskatbare waarde van die Verlosser sien. KE 504.1
Baie leersaam was die lesse wat Christus geleer het waar Hy langsaam Sy weg van Galilea na Jerusalem gebaan het. Gretig het die mense na Sy woorde geluister. In Perea, net soos in Galilea, was die mense minder onder die invloed van Joodse bekrompenheid as in Judea, en Sy leer het weerklank gevind in hulle harte. KE 504.2
Gedurende hierdie laaste maande van Sy bediening, het Christus baie van Sy gelykenisse geleer. Die priesters en rabbi's het Hom met toenemende bitterheid agtervolg, en Hy het Sy waarskuwings aan hulle in simboliese taal geuiter. Hulle kon nie Sy bedoeling misverstaan nie, maar in Sy woorde kon hulle niks vind om 'n aanklag op te grond nie. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, het die bede van selfvoldaanheid, “O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie,” skerp afgesteek by die boetvaardige se gebed, “O God, wees my, sondaar, genadig!” Lukas 18: 11, 13. So het Christus die skyn- heiligheid van die Jode bestraf. En met die beeide van die ver-droogde vyeboom, en die groot maaltyd, het Hy die ondergang voorspel van die onboetvaardige volk. Diegene wat die uitnodiging tot die evangeliefees veronagsaam het, het die waarskuwing gehoor: “Want Ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, My maaltyd sal smaak nie.” Lukas 14: 24. KE 504.3
Baie leersaam was die onderrig wat aan die dissipels gegee is. Die gelykenis van die onregverdige regter, en van die onbeskaamde vriend wat te middernag brood kom leen het, het nuwe krag aan Sy woorde gegee, “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Lukas 11:9. Dikwels is hulle wankelende geloof versterk deur die herinnering aan die woorde van Christus, “Sal God dan .nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” Lukas 18:7, 8. KE 504.4
Die mooi gelykenis van die afgedwaalde skaap het Christus herhaal. En Hy het die les nog verder toegelig met die gelykenis van die verlore penning, en die verlore seun. Die dissipels kon nie toe die volle krag van hierdie lesse verstaan nie, maar ná die uitstorting van die Heilige Gees, toe hulle die insameling van die heidene en die woede van die Jode gesien het, het hulle die gelykenis van die verlore seun, en die woorde van Christus, beter verstaan toe Hy gesê het, “Ons moet tog vrolik en bly wees;” “want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.” Lukas 15: 32, 24. En waar hulle uitgegaan het in die Naam van hulle Meester, en smaad, armoede, en vervolging getrotseer het, het hulle hulle harte dikwels versterk deur die herhaling van Sy trooswoorde op Sy laaste reis, “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoes; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief bykom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Lukas 12: 32-34 KE 505.1