Die Koning Van Die Eeue

42/88

Die Krisis in Galilea

TOE Christus die mense belet het om Hom koning te maak, het Hy geweet dat die keerpunt in Sy geskiedenis gekom het. Skares wat Hom vandag wou koning maak, sou more hulle rug op Hom keer. Die teleurstelling van hulle selfsugtige strewe sou hulle liefde in haat laat verander, en hulle lofbetuigings in vervloeking. En nogtans, alhoewel Hy dit geweet het, het Hy geen stappe gedoen om die krisis te vermy nie. Reeds van die begin af het Hy aan Sy navolgers geen hoop op aardse voordeel voorgehou nie. Aan een wat aansoek gedoen het om 'n dissipel te word, het Hy gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie.” Matt. 8: 20. As mense die wêreld saam met Christus kon behou, sou groot getalle getrouheid aan Hom betuig het; maar sulke diens sou Hy nie aanneem nie. Van diegene wat Hom destyds gevolg het, was daar baie wat dit gedoen het met die hoop op 'n wêreldse koninkryk. Hulle moes tot ontnugtering gebring word. Die diep geestelike les van die vermenigvuldiging van die brode is nie begryp nie. Dit moes verduidelik word. En hierdie nuwe openbaring sou 'n nog swaarder toets meebring. KE 386.1

Die wonderwerk in verband met die brode het wyd en syd rugbaar geword, en baie vroeg die volgende more het die mense gestroom na Betsaida om Jesus te sien. Hulle het in groot getalle oor land en oor die meer gekom. Diegene wat Hom die vorige aand verlaat het, het weer teruggekom, verwagtende om Hom nog daar te vind, want daar was geen skuit waarmee Hy oor die meer kon gaan nie. Maar hulle het tevergeefs gesoek, en vele is na Kapernaum om Hom te soek. KE 386.2

In die tussentyd het Hy in Genesaret aangekom, na n afwesigheid van slegs een dag. Sodra dit bekend geword het dat Hy daar aangeland het, het die mense “in daardie hele omtrek rondgeloop en begin om die wat ongesteld was, op bedde rond te dra na die plek waar hulle hoor dat Hy was.” Markus 6: 55. KE 387.1

Na 'n tyd is Hy na die sinagoge, en daar het diegene wat van Betsaida gekom het, Hom gevind. Hulle het van Sy dissipels gehoor hoe Hy oor die meer gekom het. Die kwaai storm, die baie ure van gesukkel teen die wind, die verskyning van Christus lopende op die water, hulle vrees, Sy gerusstellende woorde, die poging van Petrus om op die water te loop en die gevolge, die skielike stilte wat daar gekom het — alles is haarfyn aan die verbaasde skare vertel. Maar nie tevrede daarmee nie, het baie Jesus gevra, “Rabbi, wanneer het U hier gekom?” Hulle het gehoop om van Sy lippe verdere besonderhede van die wonderwerk te hoor. KE 387.2

Jesus het nie hulle nuuskierigheid bevredig nie. Met droefheid het Hy gesê, “Julie soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.” Hulle het Hom nie uit 'n waardige motief gesoek nie, maar daar hulle met die brode gevoed is, het hulle gehoop om nog verdere voordeel te trek deur hulle by Hom te voeg. Die Heiland het aan hulle gesê, “Moenie werk vir die spyse wat vergaan nie, maar vir die spyse wat bly tot in die ewige lewe.” Moenie net stoflike voordeel soek nie. Die vernaamste poging moenie wees om voorsiening te maak vir hierdie lewe nie, maar soek geestelike voedsel, ja, daardie wysheid wat sal duur tot in die ewige lewe. Dit kan alleen die Seun van God gee; “want Hom het God, die Vader, verseël:” KE 387.3

Vir die oomblik is die belangstelling van die hoorders opgewek. Hulle het uitgeroep, “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?” Hulle het baie en swaar werke verrig om hulleself in die guns van God te bring; en hulle was gereed om aandag te skenk aan enige nuwe ding om te onderhou, waardeur hulle groter verdienste sou verkry. Hulle vraag het bedoel: Wat moet ons doen om die hemel te verdien? Wat is die prys wat ons moet betaal om die ewige lewe te verkry? KE 387.4

“Jesus antwoord en sê vir hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” Die prys van die hemel is Jesus. Die weg tot die hemel is deur geloof in “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1: 29. KE 388.1

Maar die mense wou nie hierdie goddelike waarheid aanneem nie. Jesus het juis daardie werk gedoen wat die profesieë voorspel het dat die Messias sou doen; maar hulle het nie die werk gesien wat hulle selfsugtige hoop geskilder het as Sy werk nie. Christus het wel eenmaal die skare met garsbrode gevoed, maar in die tyd van Moses is Israel vir veertig jaar met manna gevoed, en ver groter seëninge word verwag van die Messias. Hulle ontevrede harte het gevra waarom Jesus, aangesien Hy soveel wonderwerke kon doen soos die wat hulle gesien het, nie ook gesondheid, krag, en rykdom aan al Sy volk kon gee, hulle kon bevry van hulle verdrukkers, en hulle tot mag en eer verhef nie? Die feit dat Hy daarop aanspraak maak dat Hy deur God gestuur is, en nogtans geweier het om Israel se koning te wees, was 'n verborgenheid wat hulle nie kon verstaan nie. Sy weiering is verkeerd vertolk. Baie het tot die gevolgtrekking gekom dat Hy dit nie wou waag om Sy aansprake te handhaaf nie omdat Hy self getwyfel het aan die goddelike aard van Sy sending. So het hulle hulle harte oopgemaak vir ongeloof, en die saad wat die Satan gesaai het, het die vrugte gedra van misverstand en afvalligheid. KE 388.2

Nou het 'n rabbi, half spottend gevra, “Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.” KE 389.1

Die Jode het Moses geëer as die gewer van die manna, hulle het die werktuig geloof en Hom uit die oog verloor deur wie die werk gedoen is. Hulle vaders het gemurmureer teen Moses, getwyfel, en sy goddelike sending geloën. Nou, in hierdie selfde gees, het die kinders die Een verwerp wat die boodskap van God aan hulle gebring het. “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie.” Die Gewer van die manna was op daardie oomblik onder hulle. Dit was Christus self wat die Hebreërs deur die woestyn gelei en hulle daeliks gevoed het met die brood van die hemel. Daardie voedsel was 'n sinnebeeld van die ware brood uit die hemel. Die lewegewende Gees, vloeiende van die onmeetbare volheid van God, is die ware manna. Jesus het toe gesê, “Die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.” Joh. 6: 33. KE 389.2

Nog menende dat dit tydelike voedsel was wat Jesus bedoel het, het sommige van Sy toehoorders uitgeroep, “Here, gee ons altyd hierdie brood.” Toe het Jesus reguit aan hulle gesê, “Ek is die brood van die lewe.” KE 389.3

Die beeid wat Christus gebruik het, was 'n bekende een vir die Jode. Moses, onder ingewing van die Heilige Gees, het gesê dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.”' En die profeet Jeremia het geskryf, “Toe U woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en U woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart.” Deut. 8: 3; Jer. 15: 16. Die rabbi's het self 'n gesegde gehad, naamlik dat die eet van brood, in 'n geestelike sin, die studie van die wet en doen van goeie werke was; en daar is dikwels gesê dat die hele Israel gevoed sou word by die Messias se koms. Die leer van die profete het die diep geestelike les van die vermenigvuldiging van die brode verduidelik. Dit was hierdie les wat Christus aan Sy toehoorders in die sinagoge wou ver-duidelik. As hulle die Skrifte verstaan het, sou hulle Sy woorde verstaan het toe Hy gesê het, “Ek is die brood van die lewe.” Net die vorige dag is die groot skare, flou en moeg, gevoed deur brood wat Hy voorsien het. Net soos hulle van daardie brood fisiese krag en verkwikking ontvang het, sou hulle van Christus geestelike krag tot die ewige lewe ontvang. “Wie na My toe kom,” het Hy gesê, “sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie; maar, het Hy daaraan toegevoeg, julle het My gesien” “en tog glo julle nie.” KE 389.4

Hulle het Christus gesien deur die getuienis van die Heilige Gees, en deur die openbaring van God aan hulle siele. Die lewende bewyse van Sy krag was dag na dag voor hulle, en tog vra hulle om nog 'n teken. Al sou hierdie teken gegee gewees het, sou hulle net so ongelowig bly as voorheen. As hulle nie oortuig is deur wat hulle gesien en gehoor het nie, sou dit nutteloos wees om hulle nog meer wonderwerke te toon. Ongeloof sal altyd rede vind om te twyfel, en sal die mees positiewe bewyse weg redeneer. KE 390.1

Weer het Christus 'n beroep gedoen op hulle trae harte, “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Almal wat Hom in geloof aanneem, het Hy gesê, sou die ewige lewe hê. Nie een kon verlore gaan nie. Daar was geen rede vir Fariseërs en Sadduseërs om te stry oor die toekomstige lewe nie. Mense hoef nie langer te treur in hopelose droefheid oor hulle dode nie. “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” KE 390.2

Maar die leiers van die volk het hulle vererg, “en hulle het gesê; Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal.” Hulle het probeer om vooroordeel op te wek deur smalend te verwys na die nederige geboorte van Jesus. Hulle het met veragting gepraat van Sy lewe as 'n Galilese arbeider, en van Sy familie as arm en eenvoudig. Die aansprake van hierdie ongeleerde timmerman, het hulle gesê, is nie hulle aandag werd nie. En omdat Hy op so 'n geheimsinnige 'wyse gebore is, het hulle geïnsinueer dat Hy oneg was, en het die menslike omstandighede van Sy geboorte as 'n klad op Sy geskiedenis beskou. KE 390.3

Jesus het nie probeer om die geheim van Sy geboorte te verklaar nie. Hy het nie gereageer op die twyfel dat Hy uit die hemel neergedaal het, net soos Hy ook geen antwoord gegee het op die vrae hoe Hy oor die meer gekom het nie. Hy het nie gewys op die wonderwerke wat Sy lewe gekenmerk het nie. Uit eie vrye wil het Hy Hom ontledig en die gestalte van 'n dienskneg aangeneem. Maar Sy woorde en werke het Sy karakter geopenbaar. Almal wie se harte oop was vir die goddelike lig, sou Hom herken as die “Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” Joh. 1: 14. KE 391.1

Die vooroordeel van die Fariseërs het dieper gewortel as wat hulle vrae aangedui het; dit het geskuil in die verdraaidheid van hulle harte. Elke woord en daad van Jesus het teenstand in hulle harte verwek, want die gees wat hulle gekoester het, het geen weerklank in Hom gevind nie. KE 391.2

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die Profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.” Niemand sal ooit na Christus toe kom nie behalwe diegene wat gehoor gee aan die aantrekkingskrag van die Vader se liefde. Maar God trek alle harte tot Hom, en alleen diegene wat Sy aantrekking weerstaan, sal weier om na Christus te kom. KE 391.3

Met die woorde, “Hulle sal almal deur God geleer wees,” het Jesus gesinspeel op die profesie van Jesaja, wat lui: “En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” Jes. 54: 13. Hierdie skriftuur het die Jode op hulleself toe- gepas. Hulle het daarin geroem dat God hulle leraar is. Maar Jesus het bewys hoe hol daardie aanspraak was, want Hy het gesê, “Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.” Alleen deur Christus kon hulle die Vader leer ken. Die mensheid kan nie Sy heerlikheid verdra nie. Diegene wat van God geleer het, het geluister na die stem van Sy Seun, en in Jesus van Nasaret sou hulle Hom herken wat deur die natuur en die openbaring die Vader geopenbaar het. KE 391.4

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo het die ewige lewe.” Deur die geliefde Johannes, wat hierdie woorde gehoor het, verklaar die Heilige Gees aan die kerke, “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en die lewe is in Sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe.” 1 Joh. 5: 11, 12. En Jesus het gesê, “Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Christus het een vlees met ons geword, sodat ons een gees met Hom kan word. Dit is kragtens hierdie verbintenis dat ons uit die graf sal voortkom, nie alleen as 'n openbaring van die krag van Christus nie, maar omdat Sy lewe, deur die geloof, ons s'n geword het. Diegene wat Christus in Sy ware karakter sien en Hom in hulle hart aanneem, het die ewige lewe. Dit is deur die Gees dat Christus in ons woon; en die Gees van God, ontvang in die hart deur geloof, is die begin van die ewige lewe. KE 391.5

Die mense het Christus herinner aan die manna wat hulle vaders in die woestyn geëet het, asof die voorsiening van daardie voedsel 'n groter wonderwerk was as die wat Jesus verrig het; maar Hy wys nou hoe onvoldoende daardie gawe was, vergeleke met die seëninge wat Hy gekom het om te gee. Die manna kon maar net die aardse lewe voed; dit kon nie die dood verhinder of die onsterflikheid gee nie; maar die brood van die hemel sou die siel voed tot die ewige lewe. Die Heiland het gesê, “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.” By hierdie beeld het Christus nou 'n ander gevoeg. Alleen deur te sterf, kon Hy die lewe aan die mens gee, en in die woorde wat volg, wys Hy op Sy dood as die middel tot saligheid. Hy sê, “En die brood wat Ek sal gee, is My vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” KE 392.1

Die Jode sou binnekort die Paasfees te Jerusalem vier om die nag van Israel se verlossing uit Egipte te herdenk, toe die doodsengel die eersgeborenes van Egipte getref het. Dit was Gods doel dat hulle in die paaslam die Lam van God sou sien, en deur daardie simbool sou hulle Hom aanneem wat Homself gegee het vir die lewe van die wêreld. Maar die Jode het die simbool verhef as die allerbelangrikste, terwyl hulle die betekenis daarvan oor die hoof gesien het. Hulle het nie die liggaam van die Here gesien nie. Christus het dieselfde waarheid geleer as wat gesimboliseer is deur die Paasfees, maar nog het die mense dit nie ingesien nie. KE 392.2

Die rabbi's het nou gebelgd uitgeroep, “Hoe kan Hy vir ons Sy vlees gee om te eet?” Hulle het kastig Sy woorde in dieselfde letterlike sin opgeneem as Nikodemus toe hy gevra het, “Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word?” Joh. 3: 4. Hulle het die bedoeling van Jesus in 'n sekere mate begryp, maar hulle wou dit nie erken nie. Deur Sy woorde verkeerd te vertolk, het hulle gehoop om die mense teen Hom te beïnvloed. KE 393.1

Christus het nie Sy simboliese voorstelling nader omskryf nie, maar Hy het die waarheid nog sterker beklemtoon: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julieseif nie. Hy wat My vlees eet en My bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want My vlees is waarlik spys, en My bloed is waarlik drank. Wie My vlees eet en My bloed drink, bly in My, en Ek in hom.” KE 393.2

Om die vlees te eet en die bloed van Christus te drink, beteken om Hom aan te neem as 'n persoonlike Saligmaker, gelowende dat Hy ons sondes vergewe en dat ons volmaak in Hom is. Dit is deur Sy liefde te sien, daaroor te peins, dit in te drink, dat ons Sy natuur deelagtig word. Wat voedsel vir die liggaam is, moet Christus vir die siel wees. Voedsel sal ons niks baat as ons dit nie eet en dit deur ons liggaam opgeneem word nie. So sal Christus ook niks baat as ons Hom nie as persoonlike Saligmaker ken nie. 'n Teoretiese kennis alleen help niks nie. Ons moet op Hom teer, Hom in ons hart ontvang, sodat Sy lewe ons lewe word. Sy liefde, Sy genade moet geassimileer word. KE 393.3

Maar selfs hierdie beeide kan nie die voorreg van die gelowige se verhouding tot Christus volkome voorstel nie. Jesus het gesê, “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.” Soos die Seun van God deur geloof in die Vader geleef het, so moet ons lewe deur geloof in Christus. Jesus het Homself so volkome oorgegee aan die wil van God dat die Vader alleen in Sy lewe geopenbaar is. Alhoewel Hy net soos ons in alle opsigte versoek is, het Hy voor die wêreld gestaan onbesmet deur die sonde wat Hom omring het. Ons moet oorwin net soos Christus oorwin het. KE 393.4

Is u 'n navolger van Christus? Dan is alles wat geskryf is aangaande die geestelike lewe vir u geskryf, en u kan alles verkry deur uself met Jesus te verbind. Het u ywer verswak? Het u liefde afgekoel? Neem dan weer die aangebode liefde van Christus aan. Eet van Sy vlees en drink van Sy bloed, en u sal een word met die Vader en met die Seun. KE 393.5

Die ongelowige Jode wou niks anders as net die letterlike betekenis van Jesus se woorde sien nie. Deur die seremoniële wet is hulle belet om bloed te eet, en hulle het nou Christus se woorde veroordeel as heiligskennis, en onder mekaar daaroor begin redekawel. Ook baie van die dissipels het gesê, “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” KE 394.1

Die Heiland het hulle geantwoord: “Is dit julle tot 'n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewendig maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek vir julle sê, is gees en is lewe.” KE 394.2

Die lewe van Christus wat lewe aan die wêreld gee, is in Sy Woord. Dit was deur Sy woord dat Jesus siekte genees, en duiwels uitgewerp het; deur Sy woord het Hy die see stilgemaak, en die dode opgewek; en die mense het getuig dat Sy woord met gesag was. Hy het die woord van God gespreek, net soos Hy ook deur al die profete en leraars van die Ou Testament gespreek het. Die hele Bybel is 'n openbaring van Christus, en dit was die strewe van die Heiland om die geloof van Sy navolgers op Sy Woord te vestig. Wanneer Hy nie meer sigbaar by hulle sou wees nie, moes die Woord hulle bron van krag wees. Soos hulle Meester moes hulle lewe “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Matt. 4: 4. KE 394.3

Net soos ons fisies deur voedsel aan die lewe gehou word, so word ons geestelik deur die Woord van God aan die lewe gehou. En elke siel moet vir homself lewe uit Gods Woord ontvang. Soos ons self moet eet om voeding te verkry, so moet ons ook die Woord vir onsself ontvang. Ons moet dit nie verkry alleen deur die medium van iemand anders se verstand nie. Ons moet die Bybel grondig ondersoek, en God vra om die hulp van die Heilige Gees dat ons Sy Woord mag verstaan. Ons moet een vers neem en onsself dan daarop toelê om die gedagte te kry wat God vir ons daarin geplaas het. Ons moet die gedagte oorpeins totdat dit ons eie geword het en ons weet “wat die Here sê.” KE 394.4

Sy beloftes en waarskuwings het Jesus ook vir my bedoel. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat ek deur geloof in Hom, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Die ervarings wat in Gods Woord beskryf word, moet ook my ervarings wees. Gebed, belofte, voorbeeld, en waarskuwing is vir my. “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat Ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Gal. 2: 20. Waar geloof die beginsels van waarheid so aanneem en assimileer, word hulle deel van die wese en beweegkrag van die lewe. Die Woord van God, in die siel ontvang, vorm die gedagtes, en ontwikkel die karakter. KE 395.1

Deur gedurig op Jesus te sien met die geloofsoog, sal ons versterk word. God sal die heerlikste openbarings gee aan Sy hongerige, dorstige volk. Hulle sal vind dat Christus 'n persoonlike Verlosser is. Namate hulle op Sy Woord teer, sal hulle vind dat dit gees en lewe is. Die Woord vernietig die vleeslike natuur, en deel 'n nuwe lewe mee in Christus Jesus. Die Heilige Gees kom tot die siel as 'n Trooster. Deur Sy wederbarende genade word die beeld van God weer gevorm in die dissipel, en hy word 'n nuwe skepsel. Haat word vervang deur liefde, en die hart word gelykvormig aan die goddelike voorbeeld. Dit is wat dit beteken om te lewe “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” So word die Brood geëet wat uit die hemel neerdaal. KE 395.2

Christus het 'n heilige, ewige waarheid gespreek aangaande die verhouding tussen Hom en Sy navolgers. Hy het die karakter geken van diegene wat bely het dat hulle Sy dissipels is, en Sy woorde het hulle geloof getoets. Hy het gesê dat hulle Sy leer moes glo en daar- volgens moes handel. Almal wat Hom aanneem, sal Sy natuur deelagtig, en aan Sy karakter gelykvormig word. Dit sal beteken dat hulle hulle gekoesterde ambisies sal moet prysgee. Dit verg volkome oorgawe aan Jesus. Hulle is geroep om selfopofferend, en nederig van hart te word. Hulle moet die smal pad betree wat deur die Man van Golgota bewandel is as hulle wil deel in die gawe van die lewe en die heerlikheid van die hemel. KE 395.3

Die toets was te swaar. Die geesdrif van diegene wat Hom met geweld wou neem en koning maak, het afgekoel. Daardie toespraak in die sinagoge, het hulle gesê, het hulle oë oopgemaak. Nou was hulle ontgogel. Vir hulle was Sy woorde 'n regstreekse belydenis dat Hy nie die Messias was nie, en dat daar geen aardse voordeel verwag kon word deur Hom te volg nie. Hulle het Sy wonderwerkende mag verwelkom; hulle wou graag verlos wees van siekte en lyding; maar hulle het nie simpatiek gestaan teenoor Sy selfopofferende lewe nie. Hulle het niks omgegee vir daardie geheimsinnige geestelike koninkryk waarvan Hy gepraat het nie. Die onopregtes, die selfsugtiges, wat Hom gesoek het, het Hom nie langer begeer nie. As Hy nie Sy krag en invloed wou gebruik om hulle te verlos van die Romeine nie, dan wou hulle niks meer met Hom te doen hê nie. KE 395.4

Jesus het aan hulle reguit gesê, “Daar is sommige van julle wat nie glo nie” . . . . Om hierdie rede het Ek vir julle gesê, dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur My Vader gegee is nie. Hy wou hulle laat verstaan dat as hulle nie tot Hom aangetrokke gevoel het nie dan was dit omdat hulle harte nie oop was vir die Heilige Gees nie. “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie. Want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” 1 Kor. 2: 14. Dit is deur die geloof dat die siel die heerlikheid van Jesus kan sien. Hierdie heerlikheid is bedek totdat geloof aangesteek is in die siel deur die Heilige Gees. KE 396.1

Deur die openbare bestraffing van hulle ongeloof is hierdie dissipels nog verder vervreem van Jesus. Hulle was baie ontevrede, en omdat hulle die Heiland wou seermaak om die kwaadwilligheid van die Fariseërs te bevredig, het hulle hulle rug op Hom gekeer en Hom met veragting verlaat. Hulle het hulle keuse gedoen — hulle het die leë vorm geneem sonder die gees, die dop sonder die koring. Hulle het nooit later van hulle besluit verander nie, want hulle het nie langer met Jesus gewandel nie. KE 396.2

“Sy gaffel is in Sy hand, en Hy sal Sy dorsvloer deur-en-deur skoonmaak en Sy koring saambring in die skuur.” Matt. 3: 12. Dit was een van die tye van loutering. Deur die woorde van waarheid was Hy besig om die kaf te verwyder van die koring. Omdat hulle te trots en eiegeregtig was om die bestraffing aan te neem, te lief vir die wêreld om 'n lewe van nederigheid aan te neem, het vele Jesus verlaat. Baie doen vandag nog dieselfde. Siele word vandag getoets net soos daardie dissipels in die sinagoge van Kapernaum. Wanneer die hart oortuig word deur die waarheid, sien hulle dat hulle lewe nie in harmonie is met die wil van God nie. Hulle sien die nodigheid van 'n volkome verandering, maar hulle is nie gewillig om die selfopof- ferende taak te aanvaar nie. Daarom is hulle kwaad wanneer hulle sondes geopenbaar word. Hulle gaan gekrenk weg, net soos die dissipels van Jesus, en hulle murmureer en sê, “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” KE 396.3

Lof en vleitaal sou hulle ore streel, maar die waarheid is onwelkom; hulle wil dit nie hoor nie. Wanneer die skare volg, die menigtes gevoed, en die oorwinningskreet gehoor word, kan hulle loftui- tings ook gehoor word; maar wanneer die deurdringende Gees hulle sondes openbaar en hulle versoek om dit te versaak, keer hulle hulle rug op die waarheid en wandel hulle nie meer met Jesus nie. KE 397.1

Toe daardie ontevrede dissipels van Christus weggegaan het, het 'n ander gees van hulle besitgeneem. Hulle kon niks aantrekliks in Hom sien wat hulle eers so interessant gevind het nie. Hulle het Sy vyande opgesoek, want hulle was nou in ooreenstemming met hulle gees en werk. Hulle het Sy woorde verdraai, Sy verklarings vervals, en Sy motiewe betwyfel. Hulle het op daardie weg voortgewandel deur alles te verklik wat teen Hom gebruik kon word; en daar is sulke verontwaardiging veroorsaak deur hierdie valse berigte dat Sy lewe in gevaar was. KE 397.2

Die nuus het vinnig versprei dat Jesus van Nasaret, volgens Sy eie belydenis, nie die Messias is nie. En so is die openbare gevoelens in Galilea teen Hom beïnvloed, net soos dit die vorige jaar in Judea gebeur het. Wee vir Israel! Hulle het hulle Verlosser verwerp omdat hulle 'n veroweraar begeer het wat hulle tydelike mag sou gee. Hulle wou die voedsel hê wat vergaan en nie die wat die ewige lewe kan gee nie. KE 397.3

Met 'n verlangende hart het Jesus gesien hoedat hulle wat eers Sy dissipels was, Hom, die Lewe en die Lig van die mense, verlaat. Die besef dat Sy barmhartigheid ongewaardeer, Sy liefde onbeantwoord, Sy genade versmaai, en Sy verlossing verwerp is, het Hom met 'n on- beskryflike droefheid vervul. Dit was sulke gebeurtenisse soos hierdie wat Hom die man van smarte, bekend met krankheid, gemaak het. KE 397.4

Sonder 'n poging om diegene wat Hom verlaat het te verhinder, het Jesus Hom na die twaalf gewend en gevra, “Wil julle nie ook weggaan nie?” KE 397.5

Petrus het geantwoord deur te vra, “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons glo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” KE 398.1

“Na wie toe sal ons gaan?” Die leraars van Israel was slawe van formalisme. Die Fariseërs en Sadduseërs het gedurig getwis. Om Jesus te verlaat, sou beteken om te verval onder die dwepers vir rites en seremonies, en manne wat hulle eie eer wou bevorder. Die dissipels het meer vrede en vreugde gevind as ooit voorheen vandat hulle Christus aangeneem het. Hoe kon hulle teruggaan na diegene wat die Vriend van sondaars gesmaad en vervolg het? Hulle het lank reeds gewag vir die Messias; nou het Hy gekom, en hulle kon nie Sy teen- woordigheid verlaat en gaan na diegene wat Sy dood gesoek, en hulle vervolg het omdat hulle Sy dissipels geword het nie. KE 398.2

“Na wie toe sal ons gaan?” Nie van die leer van Christus, van Sy lesse van liefde en genade, na die duisternis van ongeloof, en die boosheid van die wêreld nie. Terwyl die Heiland verlaat is deur vele wat Sy wonderwerke gesien het, het Petrus die geloof van die dissipels betuig met die woorde: “U is die Christus. Net die gedagte daaraan dat hulle hierdie anker van hulle siel sou verloor, het hulle met vrees en pyn vervul. Om sonder 'n Verlosser te wees, is soos 'n drenkeling op die donker, stormagtige see.” KE 398.3

Baie van die woorde en handelinge van Jesus lyk soos verborgenhede vir die beperkte menslike verstand, maar elke woord en daad het 'n bepaalde doel in ons verlossing; elkeen is bestem om bepaalde resultate te hê. As ons in staat sou wees om al Sy raadsbesluite te verstaan, sou alles belangrik, volkome, en in harmonie met Sy sending blyk. KE 398.4

Hoewel ons nie nou die werke en weë van God kan verstaan nie, kan ons Sy groot liefde sien wat al Sy handelinge met mense ten grondslag lê. Die persoon wat naby Jesus bly, sal baie verstaan van die verborgenheid van die godsaligheid. Hy sal die genade begryp wat vermaan, die karakter beproef, en die bedoelings van die hart openbaar. KE 398.5

Toe Jesus die toetswaarheid gegee het wat oorsaak was dat so baie van Sy dissipels Hom verlaat het, het Hy geweet wat die uitwerking van Sy woorde sou wees; maar Hy het 'n doel van genade gehad om te vervul. Hy het voorsien dat elkeen van Sy dissipels baie swaar sou beproef word in die uur van versoeking. Sy angs in Getsemane, Sy verraad en kruisiging, sou vir hulle 'n verskriklike toets wees. As hulle geen vorige toets gehad het nie, sou vele wat Hom slegs uit selfsugtige motiewe gevolg het, nog by hulle gewees het. Toe hulle Here in die geregsaal veroordeel is; toe die skare wat Hom as hulle koning gegroet, Hom gesmaad en uitgeskel het; toe die smalende menigte uitgeroep het, “Laat Hom gekruisig word!”—toe hulle wêreldse ambisies teleur- gestel is, sou daardie selfsugtige mense, deur hulle trou aan Jesus op te sê, die dissipels, met al hulle hartseer oor die verydeling van hulle gekoesterde hoop, in hartverskeurende droefheid gedompel het. In daardie donker uur, sou die voorbeeld van diegene wat van Hom weggegaan, miskien ander met hulle meegevoer het. Maar Jesus het hierdie krisis laat ontstaan terwyl Hy deur Sy persoonlike teenwoordigheid die geloof van Sy ware volgelinge nog kon versterk. KE 398.6

Ontfermende Verlosser, wat in die volle kennis van die vreeslike lot wat Hom gewag het, die pad vir Sy dissipels gelykgemaak het, hulle voorberei het vir hulle uiterste beproewings, en hulle versterk het vir die finale toets! KE 399.1