Die Koning Van Die Eeue

43/88

Tradisie

DIE skrifgeleerdes en Fariseërs, in die verwagting dat hulle Jesus by die Paasfees sou sien, het 'n strik vir Hom gestel. Maar Jesus, bewus van hulle plan, het weggebly. “Toe kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus.” Omdat Hy nie na hulle gegaan het nie, het hulle na Hom toe gekom. Vir 'n tyd het dit gelyk of die mense van Galilea Jesus sou aanneem as die Messias, en dat die mag van die priesterheerskappy in daardie streek gebreek sou word. Die sending van die twaalf, wat bewys was van die uitbreiding van Christus se werk, en wat die dissipels ook regstreeks in botsing gebring het met die rabbi's, het opnuut die jaloesie van die leiers in Jerusalem opgewek. Die spioene wat hulle na Kapernaum gestuur het tydens die aanvang van Sy bediening, en wat probeer het om die aanklag van Sabbatont- heiliging teen Hom te bewys, het niks uitgerig nie, maar die rabbi's was vasbeslote om hulle doel te volvoer. Nou het hulle 'n ander afvaardiging gestuur om Sy bewegings dop te hou, en om die een of ander beskuldiging teen Hom in te bring. KE 400.1

Soos voorheen, was die vernaamste klag dat Hy die tradisionele voorskrifte wat die wet van God belemmer, veronagsaam het. Daardie voorskrifte is gegee om die nakoming van die wet te verseker, maar hulle is beskou as heiliger as die wet self. Wanneer hulle in botsing gekom het met die gebooie by Sinai gegee, is die voorkeur gegee aan die rabbynse voorskrifte. KE 400.2

Onder die voorskrifte wat baie stip nagekom is, was dié in verband met seremoniële reiniging. Om nie alles te doen wat voorgeskryf was voor ete nie, is beskou as 'n vreeslike sonde wat gestraf sou word beide in hierdie wêreld en in die hiernamaals; en om die oortreder te dood, is as 'n deug beskou. KE 401.1

Daar was ontelbare reëls in verband met reiniging. Mens sou hulle skaars in 'n hele leeftyd almal kon leer. Die lewe van diegene wat probeer het om die rabbynse vereistes na te kom, was een lang stryd teen seremoniële onreinheid, en daar was 'n eindelose reeks wassinge en reinigings. Terwyl die mense hulle besig gehou het met nietige onderskeidings en dinge wat God nie beveel het nie, is hulle aandag afgewend van die groot beginsels van Sy wet. KE 401.2

Christus en Sy dissipels het nie hierdie seremoniële wassinge nagekom nie, en die spioene het die versuim aangegryp as grond vir hulle beskuldigings. Hulle het egter nie 'n regstreekse aanval op Christus gedoen nie, maar het Sy dissipels gekritiseer. In die teenwoordigheid van die skare het hulle gevra, “Waarom oortree U dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hulle hande as hulle brood eet nie.” KE 401.3

Wanneer die boodskap van waarheid siele oortuig met spesiale krag, wek die Satan sy agente op om 'n argument aan die gang te sit oor die een of ander nietige vraag. So trag hy om die aandag af te trek van die hoofsaak. Wanneer daar 'n goeie werk begin word, is daar altyd vitterige mense wat oor vorms en tegniese puntjies stry en dus die aandag aftrek van die punte wat van werklike belang is. Wanneer dit duidelik is dat God in 'n spesiale sin wil werk vir Sy kinders, moet hulle nie toelaat dat hulle in 'n stryery gewikkel raak wat net die ondergang van hulle siele sal bewerk nie. Die vrae waarmee ons ons moet besig hou, is: Glo ek met 'n reddende geloof in die Seun van God? Is my lewe in harmonie met die goddelike wet? “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” “En hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons Sy gebooie bewaar.” Joh. 3: 36; 1 Joh. 2: 3. KE 401.4

Jesus het geen poging aangewend om Homself of Sy dissipels te verdedig nie. Hy het nie verwys na die beskuldiging teen Hom nie, maar het begin wys op die gees wat hierdie voorvegters van menslike rites besiel het. Hy het hulle 'n voorbeeld gegee van wat hulle herhaaldelik doen, en gedoen het net vóór hulle Hom kom opsoek het. “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit,” het Hy gesê, “en so julle oorlewering te onderhou. Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder, en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: As 'n mens vir vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is, 'n offergawe — dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of moeder te doen nie.” Hulle het die vyfde gebod ter syde gestel as van geen betekenis nie, maar hulle het die tradisies van die ou mense baie stip nageleef. Hulle het die mense geleer dat die besteding van hulle goed aan die tempel 'n heiliger plig was as die onderhouding van hulle ouers; en dat dit, hoe groot die behoefte ook al, heiligskennis sou wees om aan vader of moeder enige deel van die goed te bestee wat so aan die tempel gewy is. 'n Onverskillige kind het maar net nodig gehad om die woord “Korban” uit te roep oor sy eiendom, wat dit dan aan God sou wy, en dan kon hy dit maar hou vir sy eie gebruik gedurende sy leef tyd; na sy dood sou dit gebruik word vir die tempel. So het dit hom dus vry gestaan om, in lewe of dood, sy ouers te onteer en te beroof onder die dekmantel van geveinsde toewyding aan God. KE 401.5

Nóg deur woord en nóg deur daad het Jesus die mens se verantwoordelikheid verminder om offergawes aan God te gee. Dit was Christus wat al die voorskrifte van die wet gegee het in verband met tiendes en offergawes. Toe Hy op aarde was, het Hy die arme wedu- wee geprys wat al haar geld in die skatkis van die tempel gegooi het. Maar die skynbare ywer vir God van die kant van die priesters en rabbi's was slegs 'n dekmantel om hulle hebsug te bedek. Die mense is deur hulle om die bos gelei. Hulle moes swaar laste dra wat God nie opgelê het nie. Selfs die dissipels van Christus was nie heeltemal vry van die juk wat op hulle gelê is deur oorgeërfde vooroordeel en rab- bynse gesag nie. Nou, deur die ware gees van die rabbi's aan die kaak te stel, wou Jesus almal wat regtig begeer het om God te dien, vrymaak van die slawerny van tradisie. KE 402.1

“Geveinsdes,” het hy aan daardie listige spioene gesê, “tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk kom na My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” Die woorde van Christus was 'n aanklag teen die ganse Farisese stelsel. Hy het verklaar dat die rabbi's deur hulle voorskrifte te verhef bokant die goddelike gebooie, hulleself bo God verhef het. KE 402.2

Die afgevaardigdes van Jerusalem was woedend. Hulle kon Christus nie beskuldig as 'n oortreder van die wet by Sinai gegee nie, want Hy het dit verdedig teen hulle tradisies. Die groot gebooie van die wet, wat Hy voorgestel het, het in duidelike kontras uitgestaan teen die nietige reëls van mense. KE 403.1

Aan die skare, en later meer volledig aan Sy dissipels, het Jesus verduidelik dat onreinheid nie van buite nie, maar van binne kom. Reinheid en onreinheid het te doen met die siel. Dit is die sondige daad, die sondige woord, die sondige gedagte, die oortreding van die wet van God, en nie die versuim om uiterlike, menslike seremonies na te kom nie, wat die mens besoedel. KE 403.2

Die dissipels het die woede van die spioene gesien toe hulle valse leer aan die kaak gestel is. Hulle het die kwaai blik gesien en die gemompel van ontevredenheid en wraak gehoor. Hulle het vergeet hoe dikwels Christus al bewys gelewer het dat Hy die menslike hart kon lees soos 'n ope boek, en het Hom vertel van die uitwerking van Sy woorde. Hopende dat Hy Hom met die verontwaardigde beamptes sou versoen, het hulle aan Jesus gevra, “Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?” KE 403.3

Hy het geantwoord, “Elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.” Die gebruike en tradisies wat so hoog gewaardeer is deur die rabbi's, was van hierdie wêreld en nie van die hemel nie. Hoe groot hulle gesag onder die volk ook mag wees, sou hulle nie die toets van God kon deurstaan nie. Elke menslike uitvindsel wat gestel is in die plek van die gebooie van God, sal nutteloos wees in daardie dag wanneer God elke werk sal bring “in die oordeel wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” Pred. 12: 14. KE 403.4

Die vervanging van die gebooie van God deur die gebooie van mense het nog nie opgehou nie. Selfs onder Christene vind ons instellings en gebruike wat geen beter fondament het nie as die tradies van die vaders. Sulke instellings, rustende op bloot menslike gesag, het goddelike gebooie vervang. Mense klem vas aan hulle tradisies en aanbid hulle gebruike, en hulle haat diegene wat hulle op hulle dwa- lings wys. In ons tyd, wanneer ons die aandag van mense moet vestig op die gebooie van God en die geloof in Jesus, sien ons dieselfde vyandigheid as wat geopenbaar is in die tyd van Christus. Van die oorblyfsel van God staan daar geskryf, “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te maak met haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Openb. 12: 17. KE 403.5

“Elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.” God beveel ons om in die plek van die gesag van die sogenaamde vaders van die kerk, die Woord van die ewige Vader, die Here van hemel en aarde, aan te neem. Daar alleen sal ons die onvervalsde waarheid vind. Dawid het gesê, “Ek is verstandiger as al my leermeesters, want U getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar U bevele.” Ps. 119: 99, 100. Laat almal wat menslike gesag aanneem, die gebruike van die kerk, of die tradisies van die vaders, ag slaan op die waarskuwing van Christus, “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” KE 404.1