Die Koning Van Die Eeue

41/88

'n Nag op die Meer

SITTENDE daar op die gelyke graspiek, in die skemering van die lente-aand, het die mense die voedsel geëet wat Christus voorsien het. Die woorde wat hulle daardie dag gehoor het, het tot hulle gekom soos die stem van God. Die werke van genesing wat hulle gesien het, was van so 'n aard dat niks anders as goddelike krag dit kon gedoen het nie. Maar die wonderwerk van die vermeerdering van die brode het 'n indruk gemaak op elkeen onder die skare. Almal het daarby gebaat. In die dae van Moses het God Israel met manna in die woestyn gevoed; en wie was hierdie man wat hulle daardie dag gevoed het anders as die Een wat Moses voorspel het? Geen menslike krag kon vyf garsbrode en twee klein vissies vermeerder sodat dit genoeg was om duisende hongerige mense te voed nie. En hulle het vir mekaar gesê, “Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” KE 379.1

Die hele dag al is hulle al meer en meer oortuig. Daardie daad wat die kroon op alles gesit het, is die versekering dat die lang- verwagte Verlosser in hulle midde is. Die hoop van die mense het hoër en hoër gestyg. Dit is Hy wat Judea sal omskep in 'n aardse paradys, 'n land vloeiende van melk en heuning. Hy kan in elke behoefte voorsien. Hy kan die mag van die gehate Romeine verbreek. Hy kan Judea en Jerusalem verlos. Hy kan die soldate wat in die geveg gewond raak, genees. Hy kan die leërs van voedsel voorsien. Hy kan die heidene oorwin en aan Israel die heerskappy gee wat hulle so lank verlang het. KE 379.2

In hulle geesdrif was die mense gereed om Hom sommer dadelik as koning uit te roep. Hulle sien dat Hy geen pogings aanwend om die aandag op Hom te vestig of om eer vir Homself te soek nie. In hierdie opsig verskil Hy wesenlik van die priesters en owerstes, en hulle vrees dat Hy nooit sal aanspraak maak op Sy reg tot die troon van Dawid nie. Na beraadslaging het hulle besluit om Hom met geweld te neem en Hom uit te roep as koning van Israel. Die dissipels staan saam met die skare in die verklaring dat die troon van Dawid die regmatige erfdeel is van hulle Meester. Dit is die beskeidenheid van Christus, sê hulle, wat Hom beweeg om so 'n eer te weier. Laat die mense hulle Verlosser verhoog. Laat die hovaardige priesters en owerstes gedwing word om Hom te eer wat beklee is met die gesag van God. KE 380.1

Gretig besluit hulle cm hulle plan uit te voer, maar Jesus merk wat aan die gang is, en Hy verstaan soos hulle nie kan besef nie wat die gevolge van so 'n daad sou wees. Op daardie oomblik het die priesters en owerstes gesoek om Hom te dood. Hulle beskuldig Hom dat Hy die mense van hulle aftrek agter Hom aan. Opstand en geweld sou die gevolg wees as daar 'n poging is om Hom op die troon te plaas, en die werk van die geestelike koninkryk sou verhinder word. Sonder versuim moes hierdie beweging stopgesit word. Jesus het Sy dissipels geroep en hulle beveel om die skuit te neem en dadelik na Kapernaum terug te keer, en Hom daar agter te laat om die skare uiteen te laat gaan. KE 380.2

Nog nooit het 'n bevel van Christus so onmoontlik gelyk nie. Die dissipels het lank reeds gehoop op 'n volksbeweging om Jesus op die troon te plaas; hulle kon nie daaraan dink dat al hierdie entoesiasme op niks sou uitloop nie. Die skare wat daar begin vergader het vir die Paasfees wou baie graag die nuwe profeet sien. Vir Sy navolgers was dit bepaald die gulde geleentheid om hulle geliefde Meester op die troon van Israel te bevestig. In die gloed van hierdie nuwe plan was dit swaar vir hulle om alleen weg te gaan en Jesus daar op die verlate strand agter te laat. Hulle het beswaar gemaak teen hierdie reëling; maar Jesus het nou met 'n gesag gepraat soos Hy nog nooit teenoor hulle gebruik het nie. Hulle het geweet dat verdere opposisie van hulle kant nutteloos sou wees, en in stilte is hulle weg na die meer. KE 380.3

Jesus het nou die skare gelas om uiteen te gaan; en Sy optrede was so beslis dat hulle nie gedurf het om ongehoorsaam te wees nie. Die woorde van lof en verheffing sterf op hulle lippe. Juis toe hulle vorentoe tree om Hom te gryp, is hulle tot stilstand gebring, en die uitdrukking van vreugde sterf weg op hulle gelaat. Onder daardie skare is daar vasberade manne met 'n onverskrokke gees; maar die koninklike gedrag van Jesus, en Sy paar gebiedende woorde, maak die lawaai stil, en verydel hulle planne. Hulle erken in Hom 'n krag bo alle aardse gesag, en sonder meer gee hulle in. KE 381.1

Toe Hy alleen was, het Jesus “na die berg gegaan om te bid.” Vir ure het Hy met God gepleit. Nie vir Homself nie, maar vir die mense het Hy gebid. Hy het gebid om krag om aan die mense die goddelike karakter van Sy sending te openbaar, sodat die Satan hulle sinne nie mag verblind en hulle oordeel verdraai nie. Die Heiland het geweet dat Sy dae van persoonlike bediening op aarde byna op 'n end was, en dat min Hom sou aanneem as hulle verlosser. In groot sielsangs het Hy vir Sy dissipels gebid. Hulle sou swaar beproef word. Hulle lankgekoesterde hoop, wat berus het op 'n populêre wanbegrip, sou op n baie pynlike en vernederende wyse teleurgestel word. Pleks dat Hy op die troon van Dawid verhoog sou word, sou hulle Sy kruisiging sien. Dit sou inderwaarheid Sy ware kroning wees. Maar hulle het dit nie besef nie, en gevolglik sou hulle in heftige versoekings kom wat hulle kwalik as versoekings sou herken. Sonder die Heilige Gees om hulle verstand te verlig en hulle te help om te begryp, sou die geloof van die dissipels faal. Dit was pynlik vir Jesus dat hulle begrip van Sy koninkryk in 'n groot mate beperk was tot wêreldse voordeel en eer. Die las vir hulle het baie swaar op Sy hart gedruk, en Hy het in bittere angs en trane vir hulle gebid. KE 381.2

Die dissipels het nie dadelik van die land vertrek soos Jesus hulle beveel het nie. Hulle het vir 'n tyd gewag, hopende dat Hy na hulle sou kom. Maar toe hulle sien dat dit vinnig donker word, “het hulle in die skuit geklim,” en “oor die meer gevaar na Kapernaum.” Hulle het Jesus verlaat met ontevrede harte, meer ongeduldig met Hom as nog ooit tevore sedert hulle Hom aangeneem het as hulle Here. Hulle het gemurmureer omdat hulle nie toegelaat is om Hom as koning uit te roep nie. Hulle het hulleself blameer omdat hulle Sy bevel so geredelik gehoorsaam het. Hulle het gemeen dat as hulle nie so maklik ingegee het nie, hulle hulle doel moontlik sou bereik het. KE 381.3

Ongeloof was besig om van hulle verstand en harte besit te neem. Liefde vir eer het hulle verblind. Hulle het geweet dat die Fariseërs Jesus gehaat het, en hulle wou Hom graag verhef sien soos hulle gemeen het dat Hy behoort te wees. Om verbind te wees met 'n leraar wat magtige wonderwerke kon verrig, en tog uitgeskel te word as bedrieërs, was 'n beproewing wat hulle nie langer kon verduur nie. Moes hulle maar altyd beskou word as volgelinge van 'n valse profeet? Sou Christus dan nooit Sy gesag as koning handhaaf nie? Waarom het Hy wat soveel mag het, Homself dan nie geopenbaar in Sy ware karakter en hulle lot draagliker gemaak nie? Waarom het Hy Johannes die Doper nie verlos van 'n gewelddadige dood nie? So het die dissipels geredeneer totdat hulle groot geestelike duisternis op hulleself gebring het. Hulle het gevra: Kan Jesus 'n bedrieër wees soos die Fariseërs beweer? KE 382.1

Die dissipels was daardie dag getuie van die wonderwerke van Christus. Dit het geskyn asof die hemel na die aarde gekom het. Die herinnering aan daardie heerlike dag moes hulle met geloof en hoop vervul het. As hulle uit dankbare harte oor daardie dinge gesels het, sou hulle nie in die versoeking gekom het nie. Maar hulle het net gedurig aan hulle teleurstelling gedink. Die woorde van Christus, “Maak die stukke bymekaar . . . sodat niks verlore gaan nie,” daaraan het hulle nie gedink nie. Dit was ure van groot seën vir die dissipels daardie, maar nou het hulle alles vergeet. Hulle was op stormagtige waters. Hulle gedagtes was. stormagtig en onredelik, en die Here het hulle toe iets anders gegee om hulle siele in beproewing te bring en hulle gedagtes besig te hou. God doen dit dikwels wan-neer mense laste en moeilikhede vir hulleself maak. Die dissipels het geen rede gehad om moeilikheid te maak nie, want die gevaar het reeds vinnig genader. KE 382.2

'n Vreeslike storm het hulle stilletjies genader, en hulle was on- voorberei daarvoor. Dit was 'n skielike kontras, want die dag was volmaak; en toe die storm hulle tref, was hulle bang. Hulle het hulle liefdeloosheid vergeet, hulle ongeloof en hulle ongeduld. Almal het gewerk om te belet dat die skuit sink. Dit was maar 'n kort endjie oor die meer van Betsaida af na die punt waar hulle verwag het om Jesus te ontmoet, en in mooiweer sou die reis maar 'n paar uur geneem het; maar hulle het verder en verder gedryf van die punt waarheen hulle gemik het. Tot die vierde nagwaak het hulle geroei, en toe het die flou manne die saak gewonne gegee. In die storm en duisternis het die see hulle hulle eie hulpeloosheid geleer, en hulle het gesmag na die teenwoordigheid van hulle Meester. KE 382.3

Jesus het hulle nie vergeet nie. Die Wagter op die kus het gesien hoe die vreesbevange manne met die storm worstel. Nie vir een oomblik het Hy Sy dissipels uit die oog verloor nie. Met die grootste besorgdheid het Sy oë die dobberende skuitjie met sy kosbare bemanning dopgehou; want daardie manne sou die lig van die wêreld word. Soos 'n moeder in tere liefde waghou oor haar kind, so het die barmhartige Meester waggehou oor Sy dissipels. Toe hulle harte en hulle onheilige ambisie tot bedaring gekom en hulle boetvaardig gebid het om hulp, toe is dit gegee. KE 383.1

Op die oomblik toe hulle gemeen het dat dit klaarpraat met hulle was, het 'n ligstraal 'n geheimsinnige gedaante getoon wat op die water na hulle toe aangekom het. Maar hulle het nie geweet dat dit Jesus was nie. Die Een wat gekom het om hulle te help, het hulle beskou as 'n vyand. Hulle is deur vrees oorweldig. Die hande wat die roeispane vasgehou het met spiere van yster het nou laat los. Die skuitjie word heen-en-weer geslinger deur die branders; alle oë is nou gevestig op die gedaante van 'n man, lopende op die skuimende waters. KE 383.2

Hulle het gedink dat dit 'n voorbode was van hulle einde, en hulle het geskreeu van vrees. Jesus het aangekom asof Hy hulle wou verbygaan; maar hulle het Hom herken, en om Sy hulp geroep. Hulle geliefde Meester draai om; Sy stem verban hulle vrees, “Dis Ek! Moenie skrik nie.” KE 383.3

Toe hulle tot besinning kom en sien dat dit waarlik Hy is, was Petrus byna onkeerbaar van blydskap. Hy kon nog skaars glo, en hy het uitgeroep, “Here, as dit U is, gebied my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom!” KE 383.4

Siende op Jesus, het Petrus veilig op die water geloop; maar toe hy in selftevredenheid omkyk na sy maats in die skuit, het hy sy oë afge wend van die Heiland. - Die wind woed kwaai. Die branders styg hoog en kom tussen hom en die Meester, en hy word bang. Vir 'n oomblik kan hy Christus nie sien nie, en sy geloof begeef hom. Hy begin te sink. Maar in die kake van die dood het Petrus sy oë van die onstuimige waters afgeneem, sy blik op Jesus gevestig, en geskreeu, “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy uitgestrekte hand gegryp en gesê, “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” KE 383.5

Saam het hulle gestap, Petrus se hand in die van sy Meester, en saam in die skuit geklim. Maar Petrus was nou gedwee en stil. Hy het niks gehad waaroor hy voor sy maats kon spog nie, want deur ongeloof en selfverhefung het hy byna sy lewe verloor. Toe hy sy oë van Jesus afgeneem het, het sy voete gewankel en hy het begin sink. KE 384.1

Hoe dikwels is ons soos Petrus wanneer ons in die moeilikheid kom! Ons kyk op die branders pleks van ons oë op die Heiland gevestig te hou. Ons voete begin gly, en die water begin oor ons siele gaan. Jesus het Petrus nie beveel om na Hom te kom sodat hy kon vergaan nie; Hy roep ons nie om Hom te volg en verlaat ons dan nie. “Moenie vrees nie,” sê Hy; “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur die water gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland.” Jes. 43: 1-3. KE 384.2

Jesus het die karakter van Sy dissipels gelees. Hy het geweet hoe kwaai hulle geloof beproef sou word. In hierdie voorval op die water wou Hy aan Petrus sy eie swakheid openbaar — aan hom wys dat sy enigste veiligheid gedurige vertroue op goddelike krag was. Te midde van die storms van versoeking sou hy alleen veilig wees as hy homself heeltemal wantrou en die Heiland alleen vertrau. Petrus was swak op die punt waar hy gedink het dat hy sterk was; en nie alvorens hy sy swakheid besef het, sou hy sy behoefte besef om op Christus te vertrou nie. As hy die les sou geleer het wat Jesus hom in die ondervinding daar op die water wou leer, sou hy nie beswyk het toe hy die groot toets moes deurmaak nie. KE 384.3

Dag na dag leer God Sy kinders. Deur die omstandighede van die daelikse lewe berei Hy hulle voor om hulle rol te speel in die groter toneel waartoe Sy voorsienigheid hulle roep. Dit is die uitslag van die daelikse toets wat hulle oorwinning of neerlaag bepaal in die groot krisis van die lewe. KE 384.4

Diegene wat hulle gedurige afhanklikheid van God nie besef nie, sal oorwin word deur versoeking. Ons mag nou dink dat ons voete vasstaan en dat ons onwankelbaar is. Ons mag met vertroue sê, Ek weet op wie ek vertrou het; niks sal my geloof in God en Sy Woord laat wankel nie. Maar die Satan lê op die loer om gebruik te maak van ons aangebore en aangeleerde karakterneigings, en ons oë te verblind vir ons eie behoeftes en gebreke. Alleen deur 'n besef van ons eie swakheid, en deur ons oë op Jesus gevestig te hou, kan ons veilig wandel. KE 385.1

Jesus het nog skaars Sy plek ingeneem op die skuit of die wind het gaan lê, “en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gaan.” Die nag van angs is vervang deur die lig van die dageraad. Die dissipels en die ander wat aan boord was, het neergebuig aan die voete van Jesus en met dankbare harte gesê, “Waarlik, U is die Seun van God!” KE 385.2