Die Koning Van Die Eeue

6/88

Die Wyding

SOWAT veertig dae ná die geboorte van Christus, het Josef en Maria Hom na Jerusalem geneem, om Hom aan die Here te wy, en om te offer. Dit het geskied volgens die Joodse wet, en as die plaasvervanger van die mens moes Christus voldoen aan die wet in alle opsigte. Hy het alreeds die rite van die besnydenis ondergaan as pand van Sy gehoorsaamheid aan die wet. KE 43.1

As offerande vir die moeder het die wet 'n jaaroud lam vereis as brandoffer, en ´n jong duif of tortelduif as sondoffer. Maar die wet het gelui dat waar die ouers te arm was om 'n lam te bring, 'n paar tortelduiwe, of 'n paar duiwe — een as brandoffer en een as sondoffer — aanneemlik sou wees. KE 43.2

Die offers aan die Here moes sonder gebrek wees. Hierdie offers het Christus voorgestel, en hieruit kan ons aflei dat Jesus self sonder enige liggaamlike gebrek was. Hy was die “Lam sonder gebrek en vlekkeloos.” 1 Pet. 1: 19. Liggaamlik was Hy deur geen gebrek misvorm nie; Sy liggaam was sterk en gesond. Deur Sy hele lewe het Hy streng ooreenkomstig die wette van die natuur gelewe. Liggaamlik sowel as geestelik was Hy 'n voorbeeld van wat God bedoel het vir die hele mensdom deur gehoorsaamheid aan Sy wette. KE 43.3

Die wyding van die eersgeborene het sy ontstaan in die vroegste tye gehad. God het belowe om die Eersgeborene van die hemel te gee om sondaars te verlos Hierdie gawe moes erken word in elke huisgesin deur die wyding van die eersgebore seun. Hy moes vir die priesterskap opgelei word, as verteenwoordiger van Christus onder die mense. KE 44.1

In die verlossing van Israel uit Egipteland, is die wyding van die eersgeborene weer beveel. Terwyl die kinders van Israel in slawerny verkeer het onder die Egiptenaars, het die Here Moses beveel om na Farao, die koning van Egipte, te gaan en te sê: “So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat My seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy weier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun doodmaak.” Exod. 4: 22, 23. KE 44.2

Moses het hierdie boodskap afgelewer, maar die trotse koning het geantwoord, “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” Exod. 5: 2. Die Here het vir Sy volk deur wonders en tekens gewerk, en het vreeslike oordele op Farao laat kom. Eindelik het die engel van die verderf opdrag gekry om die eersgebore van mens en dier onder die Egiptenaars dood te maak. Sodat die Israeliete gespaar mag bly, is hulle beveel om die bloed van 'n geslagte lam aan hulle deurposte te sprinkel. Elke huis moes so gemerk word, sodat die engel in sy werk van die dood, die huise van die Israeliete mag oorslaan. KE 44.3

Ná Sy oordeel oor Egipte, het die Here aan Moses gesê, “Heilig vir My al die eersgeborenes . . . van mense en van diere, dit is myne:” “Want . . . op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die Here.” Exod. 13: 2; Num. 3: 13. Ná die instelling van die tabernakeldiens, het die Here die stam van Levi gekies in die piek van die eersgeborenes van die hele Israel om in die heiligdom te dien. Maar die eersgeborenes moes nog beskou word as die Here s'n, en hulle moes deur 'n losprys gelos word. KE 44.4

Op hierdie wyse is die wet van die wyding van die eersgeborenes veral belangrik gemaak. Hoewel dit 'n gedenkteken was van die wonderbaarlike verlossing van Israel deur die Here, was dit 'n beeid van 'n nog groter verlossing, wat bewerkstellig sou word deur die eniggebore Seun van God. Soos die bloed aan die deurposte die eersgeborenes van Israel gered het, so het die bloed van Christus krag om die wêreld te red. KE 44.5

Watter groot betekenis het die wyding van Christus dus nie gehad nie! Maar die priester het nie deur die voorhangsel gesien nie; hy kon nie die verborgenheid daar anderkant lees nie. Die wyding van babas was 'n gewone toneel. Dag na dag het die priester die losgeld ontvang waar kindertjies aan die Here gewy is. Dag na dag het hy die roetine van sy werk gevolg, en het maar min aandag aan die ouers en die kinders geskenk, tensy in die gevalle waar hy rykdom en stand by die ouers bespeur het. Josef en Maria was arm; en toe hulle met hulle kind gekom het, het die priesters slegs 'n man en 'n vrou gesien, gekleed soos Galileërs, in die eenvoudigste drag. Daar was niks in hulle voorkomste om die aandag te trek nie, en hulle het die offer van die arm klasse gebring. KE 45.1

Die priester het die seremonie van sy offisiële werk afgehandel. Hy het die kind in sy arms geneem, en hom voor die altaar gehou. Nadat hy hom aan sy ouers teruggegee het, het hy die naam “Jesus” in die register van die eersgeborenes geskryf. Min het hy gedink, toe die baba in sy arms gelê het, dat hy die Majesteit van die hemel was, die Koning van heerlikheid. Die priester was onbewus daarvan dat hierdie baba die een was van wie Moses geskryf het, “Die Here julle God sal vir julle 'n profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle spreek.” Hand. 3: 22. Hy het nie gedink dat hierdie baba die Een was wie se heerlikheid Moses gevra het om te sien nie. Maar iemand baie groter as Moses het in sy arms gelê; en toe hy die kind se naam opgeskryf het, het hy die naam opgeskryf van die Een wat die fondament van die Joodse ekonomie was. Daardie naam sou die doodsbrief van daardie ekonomie wees, want die stelsel van brand- en spysoffers het verouder, die beeld het byna die teenbeeld ontmoet, die skaduwee die voorwerp. KE 45.2

Die heerlikheid het gewyk uit die heiligdom, maar in die Kindjie van Betlehem het die heerlikheid geskuil waarvoor die engele neerbuig. Die stomme Kindjie was die beloofde saad waarna die eerste altaar by die poorte van Eden verwys het. Dit was Silo, die Vredevors. Dit was Hy wat Homself aan Moses voorgestel het as die EK IS. Dit was Hy wat Israel gelei het in die wolkkolom en in die vuurkolom. Dit was Hy wie se koms die sieners so lank voorspel het. Hy was die begeerte van alle nasies, die Spruit uit die stam van Dawid, die Skitterende Morester. Die naam van daardie hulpelose baba, geskryf in die register van Israel, wat Hom daardeur ons broeder gemaak het, was die hoop van die gevalle mensdom. Die kindjie vir wie die losgeld betaal is, was die Een wat die losprys vir die sondes van die hele wêreld sou betaal. Hy was die ware “priester oor die huis van God,” die hoof van “'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie,” die Voorspraak “aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte.” (Heb. 10: 21; 7: 24; 1: 3.) KE 45.3

Geestelike dinge word geestelik beoordeel. In die tempel is die Seun van God gewy aan die werk wat Hy gekom het om te doen. Die priester het Hom gesien soos enige ander kind, maar alhoewel hy niks ongewoons gevoel of gesien het nie, is Gods daad deur Sy Seun aan die wêreld te gee, erken. Hierdie voorval het nie verbygegaan sonder dat iemand Christus herken het nie. “En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Simeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.” KE 46.1

Toe Simeon die tempel binnekom, het hy 'n familie gesien wat hulle eersgebore seun aan die priester gebring het. Hulle voorkomste verraai armoede, maar Simeon het die waarskuwings van die Gees verstaan en hy het diep onder die indruk gekom dat die Kindjie wat op daardie oomblik aan die Here gewy word, die Vertroosting van Israel was, die Een wat hy so verlang het om te sien. Vir die verbaasde priester was Simeon soos iemand in verrukking. Nadat die Kindjie aan Maria teruggegee is, het hy Hom in sy arms geneem en aan God gewy terwyl sy siel met 'n vreugde vervul is wat hy nog nooit tevore geken het nie. Toe hy die Kindjie voor die hemel ophef, het hy gesê: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens U woord, omdat my oë U verlossing gesien het wat U berei het voor die oë van al die volke —'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van U volk Israel.” KE 46.2

Die gees van profesie was oor hierdie man van God vaardig, en onderwyl Josef en Maria daar staan, verwonderd oor Sy woorde, het hy hulle geseën en aan Maria gesê: “Kyk, hierdie kind is bestemd vir 'n val en opstanding van baie in Israel en vir 'n teken wat weerspreek sal word — ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan, sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” KE 47.1

Ook Anna, 'n profetes, het binnegekom en Simeon se getuienis aangaande Christus bevestig. Terwyl Simeon gepraat het, is haar aangesig verlig met die heerlikheid van God, en sy het haar hartlike dank betuig dat sy toegelaat is om Christus die Here te sien. KE 47.2

Hierdie nederige aanbidders het nie die profesieë tevergeefs ondersoek nie. Maar diegene wat owerstes en priesters in Israel was, alhoewel hulle ook die kosbare profesieë gehad het, het nie in die weg van die Here gewandel nie, en hulle is dus nie toegelaat om die Lig van die lewe te aanskou nie. KE 47.3

So is dit vandag nog. Die dinge waarop die hele aandag van die hemel toegespits is, word nie gesien nie; die gebeurtenisse gaan verby sonder dat die geestelike leiers en die aanbidders in Gods huis hulle merk. Die mense erken die geskiedkundige Christus, terwyl hulle hulle rug keer op die lewende Christus. Christus wat ons roep in Sy Woord tot selfopoffering vir die armes en ellendiges wat pleit om verligting, en vir die regverdige saak wat armoede en werk en smaad meebring, word vandag net so min ontvang as wat Hy negentienhonderd jaar gelede was. KE 47.4

Maria het die ingrypende en verreikende profesie van Simeon oorpeins. Toe sy na die kindjie in haar arms kyk, en haar die woorde herinner wat gespreek is deur die skaapwagters van Betlehem, was sy vervul met dankbare blydskap en heerlike hoop. Simeon se woorde het die profetiese voorspellings van Jesaja in haar gedagte gebring: “Daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here. ... En geregtigheid sal die gordel van Sy lende en trou die gordel van Sy heupe wees.” “Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn. . . . Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, ewige Vader, Vredevors.” Jes. 11: 1-5; 9: 1-5. KE 47.5

En tog het Maria nie die sending van Christus begryp nie. Simeon het van Hom geprofeteer as 'n lig wat die nasies sou verlig, en dat Hy die heerlikheid van Israel sou wees. So ook het die engele die geboorte van die Heiland aangekondig as 'n goeie tyding van groot blydskap vir alle volke. God wou die enge Joodse begrip aangaande die werk van die Messias wegruim. Hy wou hê dat die mense Hom moes sien, nie slegs as die Verlosser van Israel nie, maar as die Verlosser van die wêreld. Maar baie jare sou verbygaan voor selfs die moeder van Jesus Sy sending sou begryp. KE 48.1

Maria het uitgesien na die Messias se regering op die troon van Dawid, maar die doop van die lyding waardeur dit gewin sou word, het sy nie gesien nie. Deur Simeon is dit geopenbaar dat die Messias nie onbestrede deur die wêreld sou gaan nie. In sy woorde aan Maria, “'n swaard sal deur jou eie siel gaan,” het God in Sy tere ontferming aan die moeder van Jesus die angs bekendgemaak wat sy reeds begin ondervind het. KE 48.2

“Kyk,” het Simeon gesê, “hierdie Kind is bestemd vir 'n val en opstanding van baie in Israel en vir 'n teken wat weerspreek sal word.” Diegene moet val wat weer wil opstaan. Ons moet op die Rots val en gebreek word voordat Christus ons kan ophef. Die eie-ek moet onttroon word, en hoogmoed moet verneder word as ons die heer-likheid van die geestelike koninkryk wil smaak. Die Jode wou nie die eer aanneem wat deur vernedering kom nie. Daarom wou hulle nie hulle Verlosser aanneem nie. Hy was 'n teken wat hulle weerspreek het. KE 48.3

“Sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.” In die lig van die Heiland se lewe word die gedagtes van alle harte, van die Skepper tot die vors van duisternis geopenbaar. Die Satan het God voorgestel as selfsugtig en 'n verdrukker, iemand wat alles neem en niks gee nie, wat die diens van Sy skepsels verg vir Sy eie heerlikheid, en wat nooit iets opoffer vir hulle voordeel nie. Maar in die gawe van Christus is die Vader se hart geopenbaar. Dit getuig dat die gedagtes wat God teenoor ons koester “gedagtes van vrede en nie van onheil” is nie. Jer. 29: 11. Dit verklaar dat alhoewel Gods haat vir die sonde so sterk as die dood is, Sy liefde vir die sondaar sterker; as die dood is. Hy het ons verlossing onderneem, en Hy sal niks terughou, al is dit ook hoe dierbaar vir Hom, wat nodig mag wees vir die volvoering van Sy verlossingswerk nie. Geen waarheid wat nodig is vir ons redding, word teruggehou nie, geen wonderwerk van genade word versuim, en geen goddelike middel word ongebruik gelaat nie. Guns op guns, en gawe op gawe word vir ons opgehoop. Die hele skatkamer van die hemel is oop vir diegene wat Hy soek om te red. Hy het die rykdom van die heelal versamel, en die bronne van Sy oneindige krag oopgestel, en alles in die hande van Christus gestel en aan Hom gesê, “Dit is alles vir die mens. Bestee hierdie gawes om hom te oortuig dat daar geen groter liefde op die aarde of in die hemel is as Myne nie. Hy sal sy hoogste geluk vind deur My lief te hê.” KE 48.4

By die kruis van Golgota het liefde en selfsug lynreg teenoor mekaar gestaan. Hier sien ons die kroonstuk van die bewys. Christus het gelewe alleen om te vertroos en te seën, en deur Hom om die lewe te bring, het die Satan die venyn van sy haat teen God geopenbaar. Hy het bewys dat die ware doel van sy rebellie was om God te onttroon, en Hom te vernietig deur wie God Sy liefde geopenbaar het. KE 49.1

Deur die lewe en dood van Christus, is die gedagtes van mense blootgestel. Van die krip tot die kruis, was die lewe van Jesus 'n oproep tot selfopoffering en gemeenskap met lyde. Dit het die doelwitte van die mense ontsluier. Jesus het gekom met die waarheid van die hemel, en almal wat geluister het na die stem van die Heilige Gees is tot Hom getrek. Diegene wat die eie-ek aanbid het, het behoort aan die koninkryk van die Satan. In hulle houding teenoor Christus sal almal wys aan wie se kant hulle staan. Op hierdie wyse spreek elkeen die oordeel oor homself uit. KE 49.2

In die dag van die eindoordeel, sal elke verlore siel die aard van sy eie verwerping van die waarheid verstaan. Die kruis sal voorgestel en die ware houding daarteenoor sal gesien word in elke hart wat deur die sonde verblind is. Voor die gesig van Golgota met sy misterieuse Slagoffer, sal sondaars veroordeel staan. Elke leuenagtige ekskuus sal weggeveeg word. Die afvalligheid van die mens sal gesien word in sy ware sondige karakter. Die mense sal sien wat hulle keuse was. Elke vraag oor waarheid en dwaalleer in die lankuitgerekte stryd sal verduidelik word. In die oordeel van die heelal sal God staan,vry gespreek van alle blaam vir die ontstaan en voortduring van die sonde Daar sal gedemonstreer word dat die goddelike dekrete nie die sonde in die hand gewerk het nie. Daar was geen fout in Gods regering geen rede vir ontevredenheid nie. Wanneer die gedagtes van alle harte geopenbaar sal wees, sal getroues sowel as die opstandelinge verklaar: “Regverdig en waaragtig is U weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en U Naam nie verheerlik nie? . . . omdat U regverdige dade openbaar geword het.” Openb. KE 49.3