Die Koning Van Die Eeue

7/88

Ons het Sy Ster Gesien

“EN toe Jesus op Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode wat gebore is? Want ons het Sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” KE 51.1

Die wyse manne uit die Ooste was filosowe. Hulle het behoort aan 'n groot en invloedryke klas wat manne van die adel ingesluit het en wat die grootste gedeelte van die rykdom en geleerdheid van hulle volk besit het. Onder hulle was daar baie wat die liggelowigheid van die volk uitgebuit het. Sommige was opreg wat die openbarings van die Voorsienigheid in die natuur bestudeer het, en wat geëer was vir hulle opregtheid en wysheid. Die wyse manne wat Jesus kom soek het, was van hierdie klas. KE 51.2

Die lig van God skyn maar altyd in die duisternis van die heidendom. Waar hierdie magiërs die sterrehemel bestudeer en gesoek het om die verborgenheid van hulle verligte bane te peil, het hulle die heerlikheid van die Skepper aanskou. Soekende na meer kennis, het hulle hulle gewend tot die Hebreeuse Skrifte. In hulle eie land is daar profetiese geskrifte gehuldig wat die koms van die goddelike leraar voorspel het. Bileam was 'n magiër, alhoewel hy eentyd 'n profeet van God was; deur die Heilige Gees het hy die voorspoed van Israel en die koms van die Messias voorspel; en sy profesieë is deur die tradisie van eeu tot eeu oorgedra. Maar in die Ou Testament is die koms van die Heiland duideliker voorspel. Die magiërs het met blydskap verneem dat Sy koms naby was, en dat die hele wêreld vervul sou word met 'n kennis van die heerlikheid van God. KE 51.3

Die wyse manne het 'n misterieuse lig aan die hemeltrans gesien daardie nag toe die heerlikheid van God die berge van Betlehem verlig het. Toe die lig verdof het, het daar 'n blink ster verskyn en in die lug gebly. Dit was nie 'n gevestigde ster of 'n planeet nie, en die verskynsel het groot belangstelling opgewek. Daardie ster was 'n aantal blink engele, maar die wyse manne het dit nie geweet nie. Hulle was nogtans onder die indruk dat die ster van spesiale betekenis vir hulle was. Hulle het priesters en filosowe geraadpleeg, en die boekrolle van die ou oorkondes deursoek. Die profesie van Bileam het gelui: “'n Ster kom te voorskyn uit Jakob, en 'n septer kom uit Israel op.” Num. 24: 17. Sou hierdie vreemde ster die voorloper kan wees van die Beloofde Een? Die magiërs het die lig van die hemelse waarheid verwelkom; nou het dit op hulle met helder strale geskyn. In drome is hulle beveel om die nuwe Prins wat gebore is, te gaan opsoek. KE 52.1

Net soos Abraham deur die geloof uitgegaan het op die roepstem van God “sonder om te weet waar hy sal kom” (Heb. 11:8); net soos Israel die wolkkolom gevolg het na die beloofde land, so het hierdie manne uitgegaan om die beloofde Verlosser te gaan soek. Daardie land van die Ooste was ryk aan kostelikhede, en die magiërs het nie met leë hande gegaan nie. Dit was die gebruik om presente te gee aan prinse en persone van hoë rang as 'n huldeblyk, en van die rykste gifte in die land het hulle saamgeneem as offergawe aan Hom in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Dit was nodig vir hulle om in die nag te reis sodat hulle die ster kon sien; hulle het die tyd verdryf deur vir mekaar die oorlewerings en profetiese gesegdes te herhaal aangaande die Een na wie hulle gaan soek het. Waar hulle stilgehou het om te rus, het hulle die profesieë nagegaan, en die oortuiging het by hulle al sterker geword dat hulle op goddelike wyse gelei word. Terwyl hulle die ster voor hulle gehad het as 'n uiterlike teken, het hulle ook die innerlike getuienis van die Heilige Gees gehad, wat 'n indruk op hulle harte gemaak en hulle met hoop besiel het. Die reis, hoewel lank, was 'n genot vir hulle. KE 52.2

Hulle het die land van Israel bereik, en toe hulle die Olyfberg afgaan, met Jerusalem daar voor hulle, het die ster wat hulle op die hele pad gelei het, bokant die tempel stilgestaan, en na 'n tydjie het hulle dit nie meer gesien nie. Met gretige voetstappe is hulle voorwaarts, verwagtende dat almal met blydskap sou praat van die Messias se geboorte. Maar hulle doen tevergeefs navraag. In die heilige stad gekom, is hulle na die tempel. Tot hulle verbasing ontdek hulle dat niemand enige kennis dra van die pasgebore Koning nie. Hulle vrae ontlok geen uitings van blydskap nie, maar eerder verbasing en vrees, gepaard met veragting. KE 53.1

Die priesters was besig met die herhaling van die tradisies. Hulle het hulle eie godsdiens en vroomheid aangeprys, terwyl hulle die Grieke en Romeine uitgeskel het as heidene, en sondaars bo alle ander. Die wyse manne was nie afgodedienaars nie, en in die oë van God staan hulle ver bokant hierdie manne wat voorgee om Sy dienaars te wees; maar die Jode beskou hulle as heidene. Selfs onder die aangestelde bewaarders van die Heilige Godsprake vind hulle navrae geen aanklank nie. KE 53.2

Die gerugte van die aankoms van die magiërs het gou deur Jerusalem versprei. Hulle vreemde sending het opgewondenheid onder die volk verwek, en het ook die paleis van Koning Herodes bereik. Hierdie sluwe Edomiet het dadelik geskrik by die gedagte aan 'n moontlike mededinger. Talryke moorde het sy pad na die troon bevlek. Omdat hy van vreemde bloed was, is hy gehaat deur die volk oor wie hy geregeer het. Sy enigste veiligheid was geleë in die guns van Rome. Maar hierdie nuwe Vors het 'n hoër aanspraak gehad. Hy is erfgenaam van die koninkryk gebore. KE 53.3

Herodes het die priesters verdink dat hulle saam met die vreemde besoekers 'n opstand gesmee het om hom te onttroon. Hy het sy agterdog verberg, maar was vasbeslote om hulle planne in die war te stuur deur sy sluheid. Hy het die owerpriesters en skrifgeleerdes ontbied en hulle ondervra aangaande die leer van hulle heilige boeke met betrekking tot die plek van die Messias se geboorte. KE 54.1

Hierdie navraag van die indringer, en gedoen op versoek van die vreemde besoekers, het die hoogmoed van die Joodse leraars gekwes. Die onverskilligheid waarmee hulle die profetiese rolle nageslaan het, het die jaloerse tiran gebelg. Hy het gedink dat hulle probeer het om hulle kennis van die saak te verberg. Met gesag wat hulle nie durf veronagsaam nie, het hy hulle beveel om deeglike ondersoek in te stel na die geboorteplek van hulle verwagte Koning. “En hulle het vir hom gesê: Op Betlehem in Judea, want so is daar deur die profeet geskrywe: KE 54.2

En jy, Betlehem, land van Judea,
Is volstrek nie die geringste onder die vorste van Judea nie,
Want uit jou sal 'n Leidsman voortkom
Wat vir my volk Israel 'n herder sal wees.”
KE 54.3

Herodes het toe die magiërs uitgenooi tot 'n private onderhoud. Daar het n storm van woede en vrees gewoed in sy hart, maar hy het n kalm uiterlike bewaar, en die vreemdelinge hoflik ontvang. Hy het by hulle verneem watter tyd die ster verskyn het, en gemaak of hy met blydskap die nuus ontvang het van die geboorte van Christus. Hy het aan sy besoekers opdrag gegee: “Gaan doen noukeurige ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” So gesê, het hy hulle laat gaan op weg na Betlehem. KE 54.4

Die priesters en ouderlinge van Jerusalem was nie so onkundig omtrent die geboorte van Christus as wat hulle voorgegee het nie. Die rapport van die engele se besoek aan die skaapwagters is na Jerusalem gebring, maar die rabbi's het dit met veragting bejeën. Hulle self kon Jesus gevind het, en hulle mag gereed gewees het om die magiërs na Sy geboorteplek te lei; maar pleks daarvan het die wyse manne gekom en hulle aandag gevestig op die geboorte van die Messias. “Waar is die Koning van die Jode wat gebore is?” het hulle gevra; “want ons het Sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” KE 55.1

Nou het hoogmoed en jaloesie die deur gesluit vir die lig. As daar enige waarheid was in die rapporte van die skaapwagters en die wyse manne, sou dit die priesters en rabbi's in 'n baie ongemaklike posisie plaas, want dit sou hulle aanspraak loënstraf dat hulle die verklaarders van Gods waarheid was. Hierdie geleerde leraars sou hulle nie laat leer deur diegene wat hulle as heidene beskou het nie. Dit kan nie wees, het hulle gesê, dat God hulle sou verbygaan en mededelings sou maak aan ongeleerde skaapwagters en onbesnede heidene nie. Hulle het toe besluit om die rapporte wat Koning Herodes en die hele Jerusalem ontstel het, met veragting te bejeën. Hulle wou nie eens na Betlehem gaan om te sien of hierdie dinge so was nie. Hulle het die volk beïnvloed om die belangstelling in Jesus as fanatieke opwinding te beskou. Hier het die verwerping van Christus deur die priesters en rabbi's begin. Van hierdie punt af het hulle hoogmoed en halsstarrigheid aangegroei tot besliste haat vir die Heiland. Terwyl God besig was om die deur vir die heidene te open, was die Joodse leiers besig om die deur teen hulleself te sluit. KE 55.2

Die wyse manne is alleen van Jerusalem weg. Die skaduwees van die nag het toegesak toe hulle die poorte verlaat het, maar tot hulle groot blydskap het hulle weer die ster gesien, en hulle is na Betlehem gelei. Daar is aan hulle niks meegedeel aangaande die nederige geboorte van Jesus soos aan die skaapwagters nie. Na hulle vermoeiende reis was hulle teleurgestel deur die onverskilligheid van die Joodse leiers, en hulle het Jerusalem verlaat met minder vertraue as wat hulle die stad binnegegaan het. By Betlehem het hulle geen koninklike wag gevind om die pasgebore Koning te beskerm nie. Geeneen van die wêreld se geëerde manne het hulle opwagting daar gemaak nie. Jesus het in die krip gelê. Sy ouers, ongeleerde armes, was Sy enigste beskermers. Kon dit Hy' wees van wie daar geskryf is dat Hy “die stamme van Jakob sou oprig”, en die “gespaardes in Israel” sou terugbring; dat Hy 'n lig vir die nasies sou wees om die saligheid te bring “tot aan die einde van die aarde”? (Jes. 49: 6.) KE 55.3

“Hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gekry en neergeval en Hom hulde bewys.” In die nederige voorkomste van Jesus het hulle die teenwoordigheid van die Godheid erken. Hulle het hulle harte aan Hom oorgegee as hulle Verlosser, en toe het hulle hulle gifte gegee— “goud en wierook en mirre.” Watter sterk geloof was hulle s n! Dit kan van die wyse manne uit die Ooste gesê word soos later van die Romeinse kaptein gesê is, “Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie.” Matt. 8: 10. KE 56.1

Die wyse manne het nie deur Herodes se plan met Jesus gesien nie. Toe hulle die doel van hulle reis bereik het, het hulle aanstaltes gemaak om na Jerusalem terug te keer, met die voorneme om hom te verwittig van hulle sukses. Maar in 'n droom het hulle 'n goddelike boodskap ontvang om nie verder met hom in verbinding te tree nie. Hulle het Jerusalem vermy en na hulle eie land vertrek met 'n ander pad. KE 56.2

Net so ook is Josef gewaarsku om na Egipteland te vlug met Maria en die kindjie. Die engele het aan Josef gesê, “Bly daar totdat ek jou sal sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.” Josef het sonder versuim gehoorsaam, en het in die nag vertrek vir groter veiligheid. KE 56.3

Deur die wyse manne het God die aandag van die Joodse volk gevestig op die geboorte van Sy Seun. Hulle navraag in Jerusalem, die algemene belangstelling wat daar opgewek is, en selfs die jaloesie van Herodes wat die aandag van die priesters en rabbi's afgedwing het, het mense die profesieë aangaande die Messias laat ondersoek en die aandag toegespits op die groot gebeurtenis wat juis toe plaasgevind het. KE 56.4

Die Satan was daarop uit om die goddelike lig van die wêreld weg te hou, en hy het die grootste lis aan die dag gelê om die Heiland dood te maak. Maar Hy wat nooit slaap of sluimer nie, het géwaak oor Sy geliefde Seun. Hy wat die manna uit die hemel aan Israel gegee het, en Elia gevoed het in die tyd van hongersnood, het in 'n heidense land 'n toevlugsoord berei vir Maria en die Kind Jesus. Deur die gifte van die magiërs uit 'n heidense land het die Here die middele voorsien vir die reis na Egipte en die verblyf in die land van vreemdelinge. KE 56.5

Die magiërs was onder die eerstes om die Verlosser te verwelkom. Hulle gifte was die eerste wat aan Sy voete gelê is. En watter voorreg van diens het hulle geniet deur daardie gifte! God vereer graag die offer van die hart wat liefhet, en dit word gebruik vir die beste diens vir Hom. As ons ons harte aan Jesus gegee het, sal ons ook ons gifte bring. Ons goud en silwer, ons kosbaarste aardse besittings, of beste verstandelike en geestelike vermoëns sal vryelik gegee word aan Hom wat ons liefgehad het en Homself vir ons oorgegee het. KE 57.1

Ongeduldig het Herodes in Jerusalem gewag op die terugkoms van die wyse manne. Met verloop van tyd toe hulle nie verskyn het nie, is sy agterdog opgewek. Die onwilligheid van die rabbi's om die geboorteplek van die Messias aan te wys, het skynbaar aangedui dat hulle deur sy planne gesien het en dat die magiërs hom opsetlik vermy het. Die gedagte het hom waansinnig gemaak. Lis het misluk, maar hy kon nog sy toevlug neem tot geweld. Hy sou 'n voorbeeld maak van hierdie Kind-Koning. Hy sou daardie hoogmoedige Jode laat sien wat hulle kan verwag as hulle sou probeer om 'n koning op die troon te plaas. KE 57.2

Soldate is onmiddellik na Betlehem gestuur met opdrag om alle kinders van twee jaar en daaronder dood te maak. Die stil wonings van die stad van Dawid het daardie skriktonele gesien wat seshonderd jaar tevore deur die profeet beskryf is: “'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” KE 58.1

Die Jode was self verantwoordelik vir hierdie ramp. As hulle getrou en nederig voor God gewandel het, sou Hy die woede van die koning van hulle afgewend het. Maar deur hulle sondes het hulle hulleself afgeskei van God, en hulle het Sy Heilige Gees verwerp wat hulle enigste skild was. Hulle het die Skrifte nie ondersoek met 'n begeerte om die wil van God te doen nie. Hulle het die profesieë uitgesoek wat hulle, volgens hulle eie uitleg, as volk verhef het om te wys hoedat God alle ander volke verag het. Hulle het daarmee gespog dat die Messias sou kom as koning, Sy vyande sou oorwin, en die heidene in Sy woede sou vertree. Op hierdie wyse het hulle die misnoeë van hulle regeerders verwek. Deur hulle verkeerde vertolking. van Christus se sending het die Satan probeer om die Heiland om die lewe te bring; maar alles het op hulle eie hoof neergekom. KE 58.2

Hierdie wrede daad van Herodes was een van die laaste wat sy skrikbewind beklad het. Kort ná die slagting van die kindertjies, is hy self opgeëis deur daardie onverbiddelike vyand wat niemand kan afslaan nie — hy het 'n vreeslike dood gesterf. KE 59.1

Josef, wat nog in Egipteland was, is deur die engel van God beveel om terug te keer na die land van Israel. Omdat Josef Jesus beskou het as die troonopvolger van Dawid, was hy van plan om in Betlehem te gaan woon, maar toe hy hoor dat Archelaus in Judea in sy vader se plek geregeer het, was hy bevrees dat hy sy vader se planne teen Christus mag uitvoer. Van al Herodes se seuns was Archelaus die meeste soos sy vader. Sedert sy bestyging van die troon was daar alreeds 'n opstand in Jerusalem, en duisende Jode is deur die Romeinse soldate gedood. KE 59.2

Weer is Josef na 'n plek van veiligheid gelei. Hy het na Nasaret teruggekeer, sy vorige woonplek, en daar het hy vir byna dertig jaar gewoon “sodat vervul sou word wat gespreek is deur die profete dat Hy Nasarener sal genoem word.” Galilea het onder een van die seuns van Herodes gestaan, maar dit het meer uitlandse bewoners gehad as Judea. Om hierdie rede was daar nie so 'n groot belangstelling in Joodse sake nie, en die aansprake van Jesus sou daar nie so maklik die jaloesie van die gesagvoerders opwek nie. KE 59.3

Dit was die ontvangs wat die Verlosser gekry het toe Hy na die aarde gekom het. Skynbaar was daar geen veiligheidsoord of rusplek vir die Kind-Verlosser nie. God kon die mense nie met Sy Seun vertrou selfs toe Hy besig was met die werk van hulle verlossing nie. Hy het aan engele opdrag gee om Jesus te bewaak totdat Sy aardse sending afgehandel sou wees en Hy gedood sou word deur diegene vir wie se redding Hy gekom het.countpara-partofprevious KE 59.4