Die Koning Van Die Eeue
Vir Julie 'n Verlosser
DIE Koning van heerlikheid het baie laag gebuk om mens te word. Sy aardse omgewing was onaangenaam en afstootlik. Sy heerlikheid was bedek sodat die majesteit van Sy uiterlike voorkomste nie die aantrekkingskrag sou word nie. Hy het alle uiterlike vertoon verwerp. Rykdom, wêreldse eer, en menslike grootheid kan nooit n siel van die dood red nie. Jesus het besluit dat geen aardse aantrekkingskrag die mense sou beweeg om na Hom toe te kom nie. Alleen die sieraad van hemelse waarheid moes diegene trek wat Hom wou volg. Die karakter van die Messias was lank reeds voorspel in die profesieë, en Hy het verlang dat die mense Hom moes aanneem op die getuienis van die Woord van God. KE 35.1
Die engele het verbaas gestaan oor die heerlike verlossingsplan. Hulle het gekyk hoe die volk van God Sy Seun sou ontvang, gekleed in die kleed van menslike vlees. Engele het gekom na die land van die uitverkore volk. Ander volke het hulle besig gehou met fabels, en het valse gode aanbid. Na die land waar die heerlikheid van God geopenbaar is, en waar die lig van die profesie geskyn het, het die engele gekom. Ongesien het hulle na Jerusalem gekom, na die aangestelde verklaarders van die Heilige Orakels, en die dienaars van Gods huis. Alreeds aan Sagaria, die priester, waar hy by die altaar gedien het, is die nabyheid van die koms van Christus bekendgemaak. Die voorloper was reeds gebore, en sy sending is bevestig deur wonderwerk en profesie. Die nuus van sy geboorte en die wonderbare betekenis van sy sending is wyd en syd verkondig. En nogtans het Jerusalem nie klaargemaak om sy Verlosser te verwelkom nie. KE 35.2
Verstom het die hemelse boodskappers die onverskilligheid van die mense aanskou wat God geroep het om aan die wêreld die lig van die heilige waarheid mee te deel. Die Joodse volk is bewaar as 'n getuie dat Christus sou gebore word uit Abraham se saad en uit die geslag van Dawid, en tog het hulle nie geweet dat Sy koms nou op hande was nie. In die tempel het die more- en die aandoffer daeliks gewys op die Lam van God, maar daar was geen voorbereiding om Hom te ontvang nie. Die priesters en die leraars van die volk het nie geweet dat die grootste gebeurtenis van die eeue op die vooraand van vervulling was nie. Hulle het hulle betekenlose gebede opgesê, en die rituaal van hulle godsdiens afgehandel om van die mense gesien te word, maar in hulle sug na rykdom en wêreldse eer was hulle nie gereed vir die openbaring van die Messias nie. Die- selfde onverskilligheid het oor die hele land van Israel geheers. Harte vol selfsug en vol van wêreldse dinge het onaangeroerd gebly deur die vreugde wat die hemel vervul het. Daar was slegs 'n paar wat verlang het om die Onsienlike te sien. Aan hulle is die afgesante van die hemel gestuur. KE 36.1
Engele het Josef en Maria vergesel op hulle reis van hulle woning in Nasaret na die stad van Dawid. Die dekreet van keiserlike Rome vir die inskrywing van al die mense van sy uitgestrekte ryk het ook die bewoners van die berge van Galilea geraak. Net soos in die ou tyd toe Kores na die troon geroep is van 'n wêreldryk sodat hy die gevangenes van die Here kon vrylaat, so is Keiser Augustus die werktuig gemaak vir die vervulling van Gods doel deur die moeder van Jesus na Betlehem te bring. Sy was uit die geslag van Dawid, en die Seun van Dawid moes in die stad van Dawid gebore word. Uit Betlehem, het die profeet gesê, “sal daar vir My uitgaan een wat 'n heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Miga 5: 1. Maar in die stad van hulle koninklike linie word Josef en Maria nie herken of geëer nie. Moeg en sonder herberg het hulle van die poort van die stad tot by sy oostelike einde die hele lang, nou straat betree om tevergeefs na 'n rusplek vir die nag te soek. In die oorvol herberg was daar vir hulle geen plek nie. In die plekke waar die diere geslaap het, het hulle eindelik 'n toevlugsoord gevind, en daar is die Verlosser van die wêreld gebore. KE 36.2
Die mense het dit nie geweet nie, maar die tyding het die hemel met blydskap vervul. Met 'n dieper en nog groter belangstelling het die heilige wesens van die oord van lig na die aarde gekom. Die hele wêreld is verlig deur Sy teenwoordigheid. Bokant die berge van Betlehem het daar 'n ontelbare skare van engele saamgetrek. Hulle wag op die teken om die blye boodskap aan die wêreld te verkondig. As die leiers van Israel getrou gewees het aan hulle pand, kon hulle ook 'n aandeel gehad het om die geboorte van Jesus te verkondig. Maar nou word hulle verbygegaan. KE 37.1
God verklaar, “Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond.” “Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis.” Jes. 44: 3; Ps. 112: 4. Vir diegene wat na die lig soek en wat dit met blydskap aanneem, sal die helder strale van die troon van God skyn. KE 37.2
In die velde waar die seun Dawid sy kudde gelei het, het skaapwagters nog in die nag waggehou. Deur die stil ure het hulle gepraat van die beloofde Heiland, en gebid vir die koms van die Koning na die troon van Dawid. “En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Verlosser wat Christus, die Here is.” KE 37.3
By hierdie woorde het 'n visie van heerlikheid die harte van die skaapwagters vervul. Die Verlosser het na Israel gekom! Krag, verheffing, en oorwinning gaan gepaard met Sy koms. Maar die engel moet hulle voorberei om die Heiland te herken in Sy armoede en vernedering. “Dit is vir julle die teken:” het hy gesê, “Julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat lê in die krip.” KE 37.4
Die hemelse boodskapper het hulle vrees verban. Hy het hulle gesê hoe om Jesus te vind. Met inagneming van hulle menslike swakheid het hy hulle tyd gegee om gewoond te word aan die goddelike glans. Maar toe kon die vreugde en heerlikheid nie langer beteuel word nie. Die aarde was stil, en die hemel het sy oor geneig om na die lied te luister — KE 37.5
“Eer aan God in die hoogste hemele
en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae”.
KE 39.1
Ag dat die mensdom vandag maar daardie lied kon hoor! Die verklaring toe gedoen, die lied wat toe aangehef is, sal weergalm tot die einde van tyd, en tot die eindes van die aarde. Wanneer die Son van Geregtigheid sal opgaan met genesing onder Sy vleuels, sal daardie lied weer aangehef word deur 'n groot skare, soos die stem van baie waters, wat sê: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.” Openb. 19: 6. KE 39.2
Toe die engele vertrek het, het die lig verdof en het die duisternis van die nag weer oor die berge van Betlehem toegesak. Maar in die geheues van die skaapwagters het die herinnering van die heerlikste prentjie wat menslike oë nog ooit gesien het, gebly. “En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekendgemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.” KE 39.3
Hulle het met groot blydskap weggegaan en die dinge bekendgemaak wat hulle gesien en gehoor het. “En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die skaapwagters aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die skaapwagters het teruggegaan en God verheerlik en geprys”. KE 39.4
Die hemel en die aarde is niks verder van mekaar vandag verwyderd as toe die skaapwagters na die engele se lied geluister het nie. Die mensdom is vandag nog net soseer die voorwerp van die hemel se liefde as toe gewone mense wat 'n gewone beroep gevolg het, die engele in die middag ontmoet, en met die hemelse boodskappers gepraat het in die wingerde en die lande. Vir ons in die gewone beroepe van die lewe, mag die hemel baie naby wees. Engele uit die howe daarbo sal die voetstappe bewaar van diegene wat kom en gaan op Gods bevel. KE 39.5
Die storie van Betlehem is 'n onuitputlike tema. Daarin is opgesluit die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” Rom. 11: 33. Ons staan verbaas oor die Heiland se opoffering toe Hy die troon van die hemel verruil het vir die krip, en die geselskap van aanbiddende engele vir die diere van die stal. Menslike hoogmoed en selfvoldaanheid staan bestraf in Sy teenwoordigheid. En dit was maar die begin van Sy wonderbare toegeeflikheid. Dit sou 'n byna grenslose vernedering vir die Seun van God gewees het om die menslike natuur aan te neem, selfs as Adam nog in sy onskuld in Eden gestaan het. Maar Jesus het die menslike vlees aangeneem toe die menslike geslag deur vierduisend jaar van sonde verswak is. Net soos enige ander kind van Adam het Hy die uitwerking van die groot Wet van oorerflikheid aanvaar. Wat hierdie resultate was, word aangetoon in die geskiedenis van Sy aardse voorouers. Met so 'n erfenis het Hy gekom om te deel in ons ellendes en versoekings, en om ons die voorbeeld te stel van 'n sondelose lewe. KE 40.1
Die Satan in die hemel het Christus gehaat vir Sy posisie in die howe van God. En toe hy onttroon is, het hy Hom nog meer gehaat. Hy het Hom gehaat wat Hom verbind het om 'n geslag van sondaars te red. En nogtans, na hierdie wêreld waar die Satan aanspraak gemaak het op opperheerskappy, het God Sy Seun toegelaat om te kom, 'n hulpelose baba, onderworpe aan al die swakhede van die mensheid. Hy het Hom toegelaat om die gevaar van die lewe te aanvaar net soos enige ander menslike siel, en om die stryd te stry net soos elke mensekind dit moet stry, met die risiko van neerlaag en ewige verlies. KE 40.2
Die hart van 'n aardse vader gaan in liefde uit tot sy seun. Hy kyk in die aangesig van sy kind, en dan sidder hy as hy dink aan die gevare van die lewe. Hy wil graag sy geliefde beskerm teen die mag van die Satan, en hom terughou van versoeking en stryd. Om 'n baie groter stryd te stry, en baie groter gevaar te loop, het God Sy eniggebore Seun gegee, sodat die weg van die lewe verseker kon word vir ons kinders. “Hier is liefde.” Wees verwonderd daaroor, o hemele! staan verbaas daaroor, o aarde! KE 41.1