Die Koning Van Die Eeue
“U Kan My Reinig”
VAN al die siektes in die Ooste is melaatsheid die meeste gevrees. Die ongeneeslike en aansteeklike aard daarvan, en die verskriklike uitwerking op die slagoffers, het selfs die dapperste mens laat bewe. Die Jode het dit beskou as 'n oordeel op die sonde, en daarom is dit genoem “die plaag,” “die vinger van God.” Diepgewortel, ongeneeslik, dodelik, is dit beskou as 'n simbool van die sonde. Deur die seremoniële wet is die melaatse as onrein verklaar. Soos iemand wat alreeds dood is, is hy verban uit die samelewing. Wat hy ook aangeraak het, was onrein. Die lug is besoedel deur sy asem. As iemand verdink is dat hy die siekte het, moes hy hom aan die priesters gaan toon wat hom ondersoek en uitspraak gegee het. As bevind is dat hy melaats is, is hy van sy gesin geskei, afgesny van die vergadering van Israel, gedoem tot die geselskap van ander wat dieselfde siekte het. Daar kon nie van die vereistes van die wet afgewyk word nie; selfs konings en regeerders is nie vrygestel nie. 'n Koning wat hierdie vreeslike siekte gekry het, moes afstand doen van sy troon en vlug uit die samelewing. KE 258.1
Weg van sy familie en vriende, moes die melaatse die vloek van sy siekte alleen dra. Hy was verplig om sy onreinheid uit te roep. sy klere te skeur, en alarm te maak, om sodoende almal te waarsku om te vlug van sy besoedelende teenwoordigheid. Die geroep,“On rein! onrein!” wat soos 'n klaaglied gekom het van die eensame banneling, was 'n teken wat met vrees en afsku gehoor is. KE 258.2
In die landstreek waar Christus gewerk het, was daar baie van hierdie lydendes, en die gerugte van Sy werk het ook hulle bereik, en n straaltjie van hoop in hulle laat ontvlam. Maar sedert die dae van Elisa, die profeet, is daar nooit weer gehoor van die genesing van iemand wat die vreeslike siekte gehad het nie. Hulle kon dit nie waag om van Jesus te verwag om vir hulle te doen wat Hy nog nooit vir iemand anders gedoen het nie. Daar was egter een in wie se hart geloof begin ontstaan het. Maar hierdie man het nie geweet hoe om by Jesus te kom nie. Afgeskei soos hy was van aanraking met sy medemens, hoe kon hy homself aan die Heelmeester voorstel? En dan nog was dit 'n vraag of Christus hom sou genees. Sou Hy Hom neerbuig tot iemand op wie die oordeel van God geval het? Sou Hy nie ook, soos die Fariseërs, en selfs die geneeshere, 'n vloek oor hom uitspreek en hom waarsku om pad te gee van die plek waar ander mense was nie? Hy het gedink aan alles wat hom van Jesus vertel is. Nie een wat Sy hulp gesoek het, is weggestuur nie. Hierdie ellendige mens het besluit om die Heiland te soek. Alhoewel hy nie die stede kon binnegaan nie, was dit tog moontlik dat hy Hom op n plek daar in die bergpaaie sou teëkom, of Hom miskien kon nader waar Hy buite- kant die dorpe geleer het. Die moeilikhede was groot, maar dit was sy enigste hoop. KE 259.1
Die melaatse is na die Heiland gelei. Jesus was besig om langs die meer te leer, en die mense het om Hom vergader. Die melaatse wat 'n hele ent daarvandaan gestaan het, het n paar van die Heiland se woorde gehoor. Hy sien hoedat Hy Sy hande op die siekes lê. Hy sien hoedat die kreupeles, blindes, verlamdes, en diegene wat aan verskillende soorte kwale ly, in gesondheid opstaan en God loof vir hulle verlossing. Geloof het sy hart versterk. Hy het nader en al nader gekom. Die beperking waaraan hy onderhewig was, die veiligheid van die mense, die vrees waarmee almal hom bejeën het, is vergeet. Hy dink alleen aan die salige hoop op genesing. KE 259.2
Hy is 'n afskuwelike skouspel. Die siekte het hom vreeslik vermink, en sy verrotte liggaam is aaklig om te aanskou. Toe die mense hom sien, het hulle in vrees teruggeval. Hulle vertrap byna mekaar in hulle gretigheid om van hom af weg te kom. Sommige het probeer om hom te belet om Jesus te nader, maar tevergeefs. Hy sien of hoor hulle nie. Hy is doof vir hulle uitroepe van afsku. Hy sien alleen die Seun van God. Hy hoor alleen die stem wat die lewe spreek tot die sterwendes. Hy het na Jesus geloop, hom aan Sy voete neergewerp en uitgeroep, “Here, as U wil, kan U my reinig.” Jesus het geantwoord, “Ek wil; word gereinig!” en Hy het Sy hand op hom gelê.” (Matt. 8:3.) KE 259.3
Dadelik het daar 'n verandering in die toestand van die melaatse gekom. Sy vlees het gesond geword, sy senuwees weer gevoelig, en sy spiere ferm. Die growwe, skilferagtige oppervlakte wat kenmerkend van melaatsheid is, het verdwyn, en 'n sagte gloed soos die wat mens op die vel van 'n gesonde kind sien, het die plek daarvan geneem. KE 260.1
Jesus het die man beveel om nie rugbaar te maak wat vir hom gedoen is nie, maar dat hy dadelik sy opwagting by die tempel moes gaan maak met 'n offergawe. So 'n offergawe sou nie aangeneem kon word nie voordat die priesters hom ondersoek en verklaar het dat hy heeltemal vry was van die siekte. Hoe onwillig hulle ook was cm hierdie diens te doen, kon hulle die ondersoek en die uitspraak nie ontduik nie. KE 260.2
Die Skrifwoord, soos dit opgeteken staan, toon aan hoe dringend Christus die man beveel het om stil te bly, en dadelik te handel. En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg en sê vir hom: “Pas op dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het, tot 'n getuienis vir hulle.” As die priesters die feite geweet het aangaande die genesing van hierdie melaatse, kon hulle haat vir Christus hulle beweeg het om 'n valse uitspraak te gee. Jesus wou hê dat die man sy opwagting by die tempel moes gaan maak voordat die priesters die gerugte van die wonderwerk te hore kon kom. Op hierdie manier alleen sou daar 'n onpartydige uitspraak verkry kon word en sou die melaatse toegelaat word om hom weer by sy familie en vriende te voeg. KE 260.3
Maar daar was ook ander redes waarom Christus die man die swye opgelê het. Die Heiland het geweet dat Sy vyande gedurig pogings aangewend het om Sy werk te beperk, en die mense van Hom af te trek. Hy het geweet dat as ander lyers aan die vreeslike siekte sou hoor van die genesing van hierdie melaatse, hulle ook sou toestroom na Hom toe, en die mense sou bang geword het dat hulle sou aansteek. Baie van die melaatses, as hulle sou genees word, sou hulle gesondheid nie tot seën van hulleself en ander gebruik nie. Deur die melaatses na Hom toe te trek, sou Hy die mense kans gee om Hom te beskuldig dat Hy die beperkings wat die rituaal voorskryf, afgebreek het. Op hierdie wyse sou die verkondiging van die evangelie verhinder word. KE 260.4
Christus se vrees was geregverdig, want 'n aantal van die mense het die genesing van die melaatse gesien, en hulle was gretig om te hoor watter uitspraak die priesters sou gee. Toe die man hom weer by sy vriende gevoeg het, was daar groot opgewondenheid. Nieteen- staande die waarskuwing van Jesus het die man nie probeer om sy genesing stil te hou nie. Dit sou ook feitelik onmoontlik gewees het om dit dig te hou, en die melaatse het die saak rugbaar gemaak. Menende dat dit maar deur beskeidenheid was dat Jesus hom die swye opgelê het, het hy rondgegaan en die krag van die Groot Heelmeester verkondig. Hy het nie verstaan dat elke openbaring van sulke krag die priesters en ouderlinge net meer vasberade gemaak het om Jesus te vernietig nie. Die herstelde man het gevoel dat die seën van gesondheid baie kosbaar was. Hy het hom verbly in sy mannekrag, en die feit dat hy weer in sy gesin en die samelewing herstel is; hy kon homself nie bedwing om heerlikheid te gee aan die Geneesheer wat hom gesondgemaak het nie. Maar die feit dat hy alles uitbasuin het, het ten gevolge gehad dat die Heiland se werk verhinder is. Dit het die mense in sulke groot getalle na Hom laat stroom dat Hy vir 'n tyd verplig was om Sy werk te staak. KE 261.1
Elke daad in Christus se bediening was verreikend in sy doel. Dit het meer ingesluit as wat in die daad self uitgekom het. So was dit ook in die geval van hierdie melaatse. Terwyl Jesus almal gehelp het wat na Hom toe gekom het, wou Hy baie graag ook diegene seën wat nie gekom het nie. Terwyl Hy die tollenaars, die heidene, en die Samaritane getrek het, het Hy ook verlang om die priesters en leraars te bereik wat gebind was deur die bande van vooroordeel en tradisie. Hy het alle middels probeer waardeur hulle bereik mag word. Deur die geneesde melaatse na die priesters te stuur, het Hy aan hulle bewys gegee, bedoel om hulle vooroordeel weg te neem. KE 261.2
Die Fariseërs het beweer dat Christus se leer gekant was teen die wet wat God deur Moses gegee het; maar Sy opdrag aan die gereinigde melaatse om 'n offer te bring yolgens die wet, het hierdie beskuldiging geloënstraf. Dit was genoeg bewys vir almal wat gewillig was om oortuig te word. KE 262.1
Die leiers te Jerusalem het spioene uitgestuur om die een of ander beskuldiging te vind, om Jesus dood te maak. Daarop het Hy geantwoord deur aan hulle bewyse te gee van Sy liefde vir die mensdom, Sy respek vir die wet, en van Sy krag om van die sonde en die dood te verlos. So het Hy van hulle getuig: “En hulle het My kwaad vir goed opgelê en haat vir My liefde.” Ps. 109: 5. Hy wat op die berg die gebod gegee het, “Julle moet jul vyande liefhê,” het self die beginsel toegepas deur nie kwaad met kwaad te vergeld, “of uitskel met uitskel” nie, “maar seën inteendeel.” Matt. 5:44; 1 Pet. 3: 9. KE 262.2
Dieselfde priesters wat die melaatse tot verbanning veroordeel het, het hom as rein gesertifiseer. Die uitspraak, in die openbaar gedoen en geregistreer, was 'n onomstootlike getuienis vir Christus. En waar die gereinigde man herstel is in die vergadering van Israel op grond van die priesters se eie versekering dat daar geen tekens meer van die siekte in hom was nie, was hy self 'n lewende getuie vir sy Weldoener. In vreugde het hy sy offer gebring en die Naam van Jesus groot gemaak. Die priesters was oortuig van die goddelike krag van die Heiland. Dit was 'n geleentheid vir hulle om die waarheid te ken en die lig aan te neem. As hulle dit verwerp, sou dit van hulle wyk om nooit weer terug te kom nie. Die lig is deur vele verwerp, maar nogtans is dit nie tevergeefs gegee nie. Daar is baie harte aangeraak wat vir 'n tyd geen blyk daarvan gegee het nie. Gedurende die Heiland se leeftyd het dit geskyn of Sy sending geen weerklank gevind het in die harte van die priesters en die leraars nie; maar ná Sy hemelvaart het 'n groot menigte van priesters gehoorsaam geword aan die geloof. (Hand. 6: 7.) KE 262.3
Die werk van Christus in die reiniging van die melaatse van sy vreeslike siekte, is 'n illustrasie van Sy werk om die siel te reinig van die sonde. Die man wat na Jesus gekom het, was “vol van melaats-heid.” Die siekte was deur sy hele liggaam. Die dissipels het hulle Meester probeer belet om hom aan te raak, want iemand wat 'n melaatse aangeraak het, het self onrein geword. Maar deur Sy hand op die melaatse te lê, is Jesus nie besoedel nie. Sy aanraking het lewe- gewende krag gegee. Die melaatsheid is gereinig. So is dit ook met die melaatsheid van die sonde; dit is diepgewortel, dodelik, en kan nie deur menslike krag gereinig word nie. “Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe. Jes. 1: 5, 6. Maar Jesus, alhoewel Hy in menslike vlees gewoon het, is nie besoedel nie. Sy teenwoordigheid het helende krag vir die sondaar. Wie gewillig is om aan Sy voete te val en in geloof te se, “Here as U wil, kan U my reinig,” sal die antwoord ontvang, “Ek wil;word gereinig!” Matt. 8: 2, 3. KE 262.4
In sommige gevalle van genesing het Jesus nie sommer dadelik die versoek toegestaan nie. Maar in die geval van die melaatsheid is die smeekbede verhoor sodra dit geuiter is. Wanneer ons om aardse seëninge bid, mag die antwoord op ons gebed vertraag word, of God mag ons iets anders gee as waarvoor ons gevra het, maar dit is me die geval wanneer ons bid om verlossing van die sonde nie. Dit is Sy wil om ons van die sonde te reinig, om ons Sy kinders te maak, en ons in staat te stel om 'n heilige lewe te lei. Christus “wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wereld, volgens die wil van onse God en Vader.” Gal. 1:4. En “dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom vra.” 1 Joh. 5: 14, 15. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh. 1:9. KE 263.1
In die genesing van die lam man te Kapernaum, het Christus weer dieselfde waarheid geleer. Die wonderwerk is verrig om Sy vermoë om sonde te vergewe, te openbaar. En die genesing van die lamme illustreer ook ander kosbare waarhede. Dit is vol hoop en bemoediging, en betrag in verband met die haarklowery van die Fariseërs,bevat dit ook 'n waarskuwing. KE 263.2
Net soos die melaatse het die lam man ook alle hoop op herste verloor. Sy siekte was die gevolg van 'n lewe van sonde, en sy lyding is verbitter deur selfverwyt. Lank tevore het hy hom reeds gewend tot die Fariseërs en doktore, hopende om van hulle verligting te kry van sy sielswroeging en liggaamlike pyn. Maar op kille wyse het hulle gesê dat hy ongeneeslik is, en hulle het hom oorgelaat aan die wraak van God. Die Fariseërs het sulke teistering beskou as bewys van goddelike misnoeë, en hulle het weggebly van die siekes en behoef tiges. Maar baiemaal was juis hierdie mense wat hulleself verhef het as heilig, meer skuldig as die lyers wat hulle veroordeel het. KE 263.3
Die lam man was heeltemal hulpeloos, en omdat hy nêrens uitkoms gesien het nie, het hy wanhopig geword. Toe het hy gehoor van die wonderwerke van Jesus. Daar is aan hom vertel dat ander net so sondig en hulpeloos soos hy, genees is; dat selfs melaatses gereinig is. En die vriende wat hierdie dinge aan hom vertel het, het hom aangemoedig om te glo dat ook hy genees kon word as hy na Jesus gebring word. Maar sy hoop het hom begewe toe hy gedink het aan hoe die siekte op hom gebring is. Hy het gevrees dat die reine Heelmeester hom nie in Sy teenwoordigheid sou gedoog nie. KE 264.1
Dit was nie soseer liggaamlike genesing wat hy begeer het as verlossing van die las van die sonde nie. As hy Jesus maar kon sien, en verseker kon word van die vergifnis en vrede van die Hemel, sou hy tevrede wees om te lewe of te sterf volgens Gods wil. Die smeekbede van die sterwende man was, O dat ek in Sy teenwoordigheid mag kom! Daar moes nie versuim word nie, want sy vervalle vlees het reeds tekens van verrotting getoon. Hy het sy vriende gevra om hom met sy bed te dra na Jesus, en dit het hulle vriendelik onderneem om te doen. Maar daar was so 'n menigte in en om die huis waar die Heiland was, dat dit onmoontlik vir die siek man en sy vriende was om Hom te bereik, of selfs so naby te kom dat hulle Sy stem kon hoor. KE 264.2
Jesus het geleer in die huis van Petrus. Volgens gewoonte het Sy dissipels dig om Hom gesit, en ook “Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galilea en Judea en uit Jerusalem, het daar gesit.” Hulle het gekom as spioene om iets te kry waarvan hulle Jesus kon beskuldig. En dan was daar nog die bonte mengelmoes waaronder eerlikes, eerbiediges, nuuskieriges, en ongelowiges was. Verskillende nasionaliteite, en alle Stande uit die samelewing, was daar verteenwoordig. “En daar was krag van die Here om hulle gesond te maak.” Die Gees van die lewe het gesweef oor die vergadering, maar die Fariseërs en doktore het dit nie gemerk nie. Hulle het geen behoefte gevoel, en die genesing was nie vir hulle nie. “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.” Lukas 1:53. KE 264.3
Herhaaldelik het die draers van die verlamde man probeer om hulle weg deur die skare te baan, maar tevergeefs. Die siek man het in die grootste angs rondgekyk. Hoe kon hy nou hoop opgee wanneer die hulp waarna hy so verlang het, so naby was? Op sy voorstel het sy vriende hom na die dak van die huis geneem waar hulle 'n gat gemaak, en hom laat afsak het aan die voete van Jesus. Die preek is onderbreek. Die Heiland het die treurige gelaat aanskou; Hy het die smekende oë op Hom gevestig gesien. Hy het die geval verstaan; Hy het daardie verbysterde en twyfelmoedige gees na Hom toe getrek. Terwyl die verlamde nog by sy huis was, het die Heiland hom tot oortuiging gebring. Toe hy berou oor sy sonde gehad het, en in die krag van Jesus geglo het om gesond te maak, toe al het die lewe- gewende genade van die Heiland sy verlangende hart geseën. Jesus het gesien hoedat die eerste vlammetjie van geloof gegroei het tot 'n geloof dat Hy die sondaar se enigste Helper was; Hy het gesien hoedat daardie geloof sterker word met elke poging om in Sy teenwoordigheid te kom. KE 265.1
,Nou, in woorde wat soos musiek in die lyer se ore geklink het, het die Heiland gesê, “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.” KE 265.2
Die wanhoop het uit die siek man se siel gewyk; die vrede van vergifnis het sy gees gekalmeer, en gestraal op sy gelaat. Sy liggaamlike pyn was weg, en sy hele wese is verander. Die hulpelose verlamde is genees! die skuldige sondaar is vergewe! KE 265.3
In kinderlike geloof het hy die woorde van Jesus aangeneem as die seën van 'n nuwe lewe. Hy het niks verder gevra nie, maar salig doodstil gelê, te gelukkig vir woorde. Sy gesig het gestraal met 'n hemelse lig, en die mense het die toneel eerbiedig aanskou. KE 265.4
Die rabbi's het gespanne gewag om te sien wat Christus met die geval sou doen. Hulle het hulle herinner hoe die man hulle gesmeek het om hulp, en dat hulle hom geen hoop gegee, of simpatie betoon het nie. En nie tevrede daarmee nie, het hulle verklaar dat hy deur die vloek van God getref is weens sy sondes. Oor al hierdie dinge het hulle gedink toe hulle die siek man voor hulle gesien het. Hulle het die belangstelling gemerk waarmee almal die toneel gadegeslaan het, en hulle was doodbang dat hulle hulle invloed oor die mense sou verloor. KE 265.5
Hierdie waardigheidsbekleërs het geen woorde met mekaar gewissel nie, maar hulle het dieselfde gedagtes in mekaar se aangesigte gelees, naamlik dat iets gedoen moes word om die vloedgolf van gevoelens te keer. Jesus het verklaar dat die sondes van die verlamde vergewe is. Die Fariseërs het toegeslaan op hierdie woorde as godslastering, en het die gedagte gekry dat hulle dit kon voorstel as n sonde wat die doodstraf verdien. Hulle het in hulle harte gesê, “Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?” Markus 2:7. KE 266.1
Terwyl Hy Sy oë op hulle gevestig het —hulle het teruggedeins onder Sy aanblik — het Jesus gesê, “Waarom bedink julle siegte dinge in julle harte? Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” KE 266.2
Toe het hy wat op 'n draagbaar na Jesus gedra is, op sy voete gestaan met die veerkragtigheid van die jeug. Die lewensbloed het gebruis deur sy are. Elke orgaan in sy liggaam was skielik aktief. Die doodskleur is vervang met 'n lewensgloed. “En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie.” KE 266.3
O die wonderbare liefde van Jesus wat neerbuig om die skuldiges en siekes te genees! Die Godheid bedroef oor die eilende en lyding van die mensheid! O die wonderbare krag wat geopenbaar is vir die mensekinders! Wie kan nog twyfel aan die boodskap van verlossing? Wie kan nog die genade van n barmhartige Verlosser versmaai? KE 266.4
Dit het niks minder as skeppingskrag gekos om daardie verrottende liggaam in gesondheid te herstel nie. Dieselfde stem wat die lewe gespreek het toe die mens gemaak is uit die stof van die aarde, het die woorde van die lewe gespreek tot die sterwende verlamde. En dieselfde krag wat lewe aan die liggaam gegee het, het ook die hart vernuwe. Hy wat by die skepping gespreek het “en dit was, en gebied het,” “en dit staan” (Ps. 33: 9), het lewe tot die siel gespreek wat dood was in oortreding en sonde. Die genesing van die liggaam was die bewys van die krag wat die hart vernuwe het. Christus het die verlamde gebied om op te staan en te loop sodat julle kan weet, het Hy gesê, “dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe.” KE 266.5
Die verlamde het in Christus genesing vir beide siel en liggaam gevind. Die geestelike genesing is gevolg deur die liggaamlike gesondmaking. Ons moenie hierdie les oor die hoof sien nie. Daar is vandag duisende wat aan liggaamlike ongesteldheid ly, en wat, soos die verlamde, verlang na die boodskap, “Jou sondes is vergewe. Die las van die sonde met sy onrus en onversadigde verlangens, is die fondament van baie siektes. Hulle kan geen verligting kry totdat hulle na die Heelmeester van die siel gekom het nie. Die vrede wat Hy alleen kan gee, sal lewenskrag in die siel en gesondheid tot liggaam bring.” KE 267.1
Jesus het gekom om “die werke van die duiwel te verbreek.' “In Hom was lewe,” en Hy het gesê, “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Hy is “'n lewendmakende Gees.” 1 Joh. 3: 8; Joh. 1:4; 10: 10; 1 Kor. 15: 45. Hy is vandag nog dieselfde lewe- gewende mag as toe Hy op aarde die siekes gesondgemaak en son- daars vergewe het. Dit is Hy wat “al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees.” Ps. 103: 3. KE 267.2
Die uitwerking op die mense tydens die genesing van die verlamde was asof die hemel oopgegaan en die heerlikhede van n beter wêreld geopenbaar is. Toe die man wat genees is, al lowende deur die skare gegaan het met sy las so lig asof dit 'n veer was, het die mense teruggestaan om vir hom pad te maak, verskrik het hulle hom aangestaar en onder mekaar gefluister, “So iets het ons nog nooit gesien nie!” KE 267.3
Die Fariseërs was stom van verbasing en verslae deur die nederlaag. Hulle het besef dat dit hier geen geleentheid was vir jaloesie om die skare kwaad te maak nie. Die wonder wat geskied het in die man wat hulle oorgegee het aan die wraak van God, het so n indruk op die mense gemaak dat hulle vir n tyd die rabbi s heeltemal vergeet het. Hulle het gesien dat Christus krag het wat hulle uitsluitlik aan God toegeken het; en nogtans het Sy beskeie waardigheid so afgesteek by hulle eie trotse houding. Hulle was ontsteld en skaam, en he besef, hoewel hulle dit nie erken het nie, dat hulle in die teenwoordigheid was van 'n hoër wese. Hoe sterker die getuienis was dat Jesus mag gehad het om sondes te vergewe, hoe meer het hulle hulle verhard in ongeloof. Van die huis van Petrus, waar die verlamde deur Sy woord herstel is, het hulle weggegaan om nuwe planne uit te dink om die Seun van God stil te maak. KE 267.4
Fisiese siekte, hoe kwaadaardig en diepgewortel dit ook mag wees, is genees deur die krag van Christus; maar die siekte van die siel het sy greep nog vaster geslaan op diegene wat hulle oë gesluit het vir die lig. Melaatsheid en verlamming was nie so vreeslik as bekrompenheid en ongeloof nie. KE 268.1
In die huis van die geneesde verlamde was daar groot blydskap toe hy na sy gesin teruggekom het, en self die bed dra waarop hy met moeite gedra is so 'n kort rukkie tevore. Hulle het om hom gestaan met trane van vreugde, en kon skaars hulle eie oë glo. Hy het voor hulle gestaan in sy volle mannekrag. Die arms wat eers so lewenloos was, kon hy nou maklik gebruik. Sy verrimpelde vel wat so bleek was, was nou helder en rooi. Hy het met ferme tred gestap. Vreugde en hoop het uit sy hele gelaat gestraal; en 'n uitdrukking van reinheid en vrede het die merktekens van sonde en lyding uitgewis. Daar is danksegging gehoor in daardie huis, en God is verheerlik deur Sy Seun, wat hoop aan die hopelose, en krag aan die sieke gegee het. Hierdie man en sy gesin was gereed om hulle lewe te gee vir Jesus. Geen twyfel het hulle geloof verdof nie, en geen ongeloof het hulle getrouheid aan Hom verswak wat weer lig in hulle verdonkerde huis gebring het nie. KE 268.2