Die Koning Van Die Eeue
By Kapernaum
IN die tye tussen Sy reise heen-en-weer het Jesus in Kapernaum gewoon, en die plek het bekend geword as “Sy eie stad.” Dit was geleë aan die kus van die See van Galilea, op, of baie naby die mooi vlakte van Genesaret. KE 248.1
Omdat die meer so laag geleë was, het die vlakte wat dit omring het, die heerlike klimaat van die suide gehad. In die tyd van Christus het palm- en olyfbome daar weelderig gegroei; daar was boorde, wingerde, groen landerye, en blomme van alle kleure — alles besproei deur die lewende strome uit die klowe. Orals langs die strand van die meer, en teen die berghellings rondom, was daar dorpies. Op die meer was baie visserskuite. Alles was bedrywig met aktiewe lewe. KE 248.2
Kapernaum self was gunstig geleë as sentrum van die Verlosser se werk. Dit was langs die hoofweg van Damaskus na Jerusalem en Egipte, en na die Middellandse See. Mense uit baie lande het deur die stad gereis, of het daar gerus op hulle reise heen-en-weer. Hier kon Jesus alle soorte mense van alle nasies en Stande ontmoet; rykes sowel as armes en nederiges, en hulle sou Sy lesse neem na ander lande en na baie wonings. Op hierdie wyse sou belangstelling in die profesieë opgewek word; die aandag sou gevestig word op die Verlosser, en Sy sending sou onder die aandag van die wêreld gebring word. KE 248.3
Nieteenstaande die optrede van die Sanhedrin teen Jesus, het die mense gretig gewag op die ontwikkeling van Sy sending. Die hele hemel het met belangstelling gewag. Engele het die weg berei vir Sy werk deur in die mense se harte te werk en hulle tot die Heiland te trek. KE 249.1
In Kapernaum het die seun van die edelman, wat deur Jesus genees is, getuig van Sy krag. En die hofdienaar en sy gesin het met blydskap getuig van hulle geloof. Toe dit bekend geword het dat die Meester self in hulle midde was, is die belangstelling van die hele stad opgewek. Skares het na Hom toe gekom. Op die Sabbat het die mense na die sinagoge gestroom sodat groot getalle weggestuur moes word omdat daar nie vir hulle plek was nie. KE 249.2
Almal wat die Heiland gehoor het, “was verslae oor Sy leer, want Sy woord was met gesag.” “Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.” Lukas 4: 32; Matt. 7: 29. Die leer van die skrifgeleerdes en ouderlinge was kil en vormlik, soos 'n les wat uit die hoof geleer is. Vir hulle het die Woord van God geen lewenskrag gehad nie. Hulle het die leer daarvan deur hulle eie idees en tradisies vervang. In hulle gewone diensroetine het hulle voorgegee om die wet te verduidelik, maar geen inspirasie van God het hulle eie harte of die harte van hulle hoorders aangeroer nie. KE 249.3
Jesus het Hom nie bemoei met die verskeie geskilpunte waaroor die Jode gestry het nie. Dit was Sy werk om die waarheid voor te stel. Sy woorde het 'n vloed van lig gewerp op die leer van die patriarge en profete, en die Skrifte het tot die mense gekom as n nuwe openbaring. Nog nooit tevore het Sy hoorders so 'n diep betekenis in die Woord van God gesien nie. KE 249.4
Jesus het die volk op hulle eie grond ontmoet soos iemand wat bekend was met hulle moeilikhede. Hy het die waarheid aanneemlik gemaak deur dit reguit en eenvoudig voor te stel. Sy taal was rein, verfynd, en helder soos 'n stroompie. Sy stem was musiek vir diegene wat gewoond was aan die eentonige stem van die rabbi's. Maar alhoewel Sy leer eenvoudig was, het Hy gepraat soos iemand met gesag. Hierdie eienskap van Sy leer het die kontras duidelik uitgebring. Die rabbi's het aarselend en met twyfel gepraat, asof die Skrifte dan een ding en dan weer iets ande r s beteken het.Die hoorders het by die dag in groter onsekerheid verkeer. Jesus het die Skrifte geleer as van absolute gesag. Wat die onderwerp ook was, het Hy dit met krag voorgestel asof Sy woorde nie weerspreek kon word nie. KE 249.5
Hy was ernstig maar nie driftig nie. Hy het gespreek soos iemand wat 'n bepaalde doel nagestreef het. Hy het die werklikheid van die ewige wêreld voorgestel. In al Sy temas is God geopenbaar. Jesus wou die mense bevry van daardie towerkrag wat hulle aan aardse dinge verbind het. Hy het die dinge van hierdie lewe in hulle ware verhouding gestel, as ondergeskik aan die dinge van ewige belang; maar Hy het nie hulle belangrikheid geïgnoreer nie. Hy het geleer dat die hemel en die aarde met mekaar verbind is, en dat 'n kennis van goddelike waarheid mense berei om die pligte van die alledaagse lewe beter te vervul. Hy het gepraat soos iemand wat die hemel geken het, bewus van Sy verwantskap aan God, en tog het Hy Sy eenheid met elke lid van die menslike gesag erken. KE 250.1
Sy boodskappe van genade het afgewissel volgens Sy gehoor. Hy het geweet om “die vermoeide te verkwik met woorde” (Jes. 50: 4); want Sy lippe is met genade gesalf sodat Hy die skatte van die waarheid op die aanloklikste manier aan die mense kon voorstel. Hy het die bevooroordeeldes met takt behandel, en Hy het hulle verras met illustrasies wat hulle aandag geboei het. Hy het die hart deur die verbeelding bereik. Sy illustrasies was deur middel van dinge van die alledaagse lewe, en alhoewel hulle eenvoudig was, het hulle 'n diep betekenis gehad. Die voëls van die hemel, die blomme van die veld, die saad, die herder en sy skape — met hierdie dinge het Christus die ewige waarheid verduidelik; en altyd daarna, wanneer Sy hoorders hierdie dinge van die natuur gesien het, is hulle herinner aan Sy woorde. Christus se illustrasies het gedurig Sy lesse herhaal. KE 250.2
Christus het nooit mense gevlei nie. Hy het nooit dinge gespreek wat hulle eie-dunk en verbeelding vertroetel het, en nooit het Hy hulle slim streke geprys nie; maar diep, onbevooroordeelde denkers het Sy leer aangeneem en gevind dat dit hulle wysheid op die proef gestel het. Hulle was verwonder oor die geestelike waarheid in sulke eenvoudige taal uitgedruk. Selfs die geleerdstes is bekoor deur Sy woorde, en die ongeleerdes het altyd daarby baat gevind. Hy het 'n boodskap vir die ongeletterdes gehad; en Hy het self die heidene laat verstaan dat Hy 'n boodskap vir hulle gehad het. KE 250.3
Sy tere ontferming het moeë en verontruste harte soos balsem verkwik. Selfs in die rumoer van verwoede vyande was Hy omring van 'n atmosfeer van vrede. Die aantreklikheid van Sy gelaat en van Sy karakter, en bo alles, die liefde in Sy blik en stem, het almal na Hom toe getrek wat nie deur ongeloof verhard was nie. As dit nie was vir die vriendelike, simpatieke gees wat uit elke blik en woord gestraal het nie, sou Hy nie die groot skares kon trek wat Hy wel getrek het nie. Die geteisterdes wat na Hom toe gekom het, het gevoel dat Sy belange met hulle s'n verbind was soos die van 'n tere vriend, en hulle wou graag meer van die waarhede weet wat Hy geleer het. Die Hemel is naby hulle gebring. Hulle wou graag in Sy teenwoordigheid bly, sodat hulle gedurig die vertroosting van Sy liefde kon hê. KE 251.1
Jesus het met groot erns die gelaatsverandering van Sy hoorders dopgehou. Die gesigte wat belangstelling en blydskap getoon het, het Hom groot tevredenheid gegee. Namate die pyle van waarheid die siel deurboor, deur die versperrings van selfsug gedring, en berou en eindelik dankbaarheid gebring het, is die Heiland blygemaak. Waar Hy Sy oog so gegooi het oor die skare van toehoorders en Hy gesigte herken wat Hy voorheen gesien het, het Sy aangesig gestraal van vreugde. In hulle het Hy hoopvolle onderdane van Sy koninkryk gesien. Wanneer waarheid, ondubbelsinnig gespreek, 'n gekoesterde afgod getref het, het Hy die gelaatsuitdrukking gemerk, en die frons, wat 'n teken was dat die lig onwelkom was. Wanneer Hy gesien het dat mense die boodskap van vrede verwerp, het dit Sy hart diep seergemaak. KE 251.2
In die sinagoge het Jesus gepraat van die koninkryk wat Hy kom oprig het, en van Sy sending om die gevangenes van die Satan vry te laat. Hy is in die rede geval deur 'n kreet van vrees, 'n Duiwel- besetene het uit die gehoor vorentoe gestorm en uitgeroep, “Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus Nasarener? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U wie U is: die Heilige van God!” KE 251.3
Daar het verwarring ontstaan. Die aandag van die mense is van Christus afgetrek, en hulle het nie geluister na Sy woorde nie. Dit was juis met hierdie doel dat die Satan sy slagoffer na die sinagoge gelei het. Maar Jesus het die duiwel bestraf deur te sê, “Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.” KE 251.4
Die verstand van hierdie arme lyer is deur die Satan verduister, maar in die Heiland se teenwoordigheid het 'n ligstraal die duisternis deurdring. By hom is 'n verlange gewek om bevry te word van die mag van die Satan; maar die duiwel het die mag van Christus weerstaan. Toe die man 'n beroep wou doen op Jesus om hulp, het die bose gees woorde in sy mond gelê, en hy het in vrees en angs uitgeroep. Die duiwelbesetene het gedeeltelik besef dat hy in die teenwoordigheid was van iemand wat hom kon vrylaat; maar toe hy probeer het om binne bereik te kom van die magtige hand, het 'n ander se wil hom teruggehou en 'n ander het deur hom gespreek. Die stryd tussen die mag van die Satan en sy eie begeerte vir vryheid was verskriklik. KE 252.1
Hy wat die Satan in die woestyn van versoeking oorwin het, het weer Sy vyand van aangesig tot aangesig ontmoet. Die duiwel het al sy kragte gebruik om sy beheer oor sy slagoffer te behou. Om hier kop te gee, sou 'n oorwinning vir Jesus beteken. Dit het geskyn of die gemartelde man sy lewe sou verloor in sy worsteling met die vyand wat sy manlikheid verwoes het. Maar die Heiland het met gesag gepraat en die gevangene vrygelaat. Die man wat eers 'n besetene was, het nou voor die verbaasde skare gestaan, bly dat hy verlos, en weer by sy volle verstand was. Selfs die duiwel het getuig van die goddelike krag van die Heiland. KE 252.2
Die man het God geloof vir sy verlossing. Die oë wat so kort gelede nog verwilderd gestaar het, het nou met intelligensie gefonkel, en daarin het trane van dankbaarheid opgewel. Die mense was verslae van verbasing. Sodra hulle weer herstel het, het hulle vir mekaar gesê: “Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is?” Markus 1: 27. KE 252.3
Die verborge oorsaak van die beproewing wat hierdie man 'n vreeslike skouspel gemaak het vir Sy vriende, en 'n las vir homself, was in sy eie lewe. Hy is deur die plesier van die sonde aangetrek, en hy het gemeen om die lewe een groot feesviering te maak. Hy het nooit gedroom dat hy 'n vrees vir die wêreld en 'n skande vir sy familie sou word nie. Hy het gedink dat hy maar sy tyd kon deurbring in onskuldige dwaasheid. Maar toe hy eenmaal op die afdraand was, het hy vinnig laer gesink. Onmatigheid en ligsinnigheid het die edele dinge van sy natuur laat ontaard, en die Satan het volkome beheer oor hom gekry. KE 252.4
Berou het te laat gekom. Toe hy sy rykdom en plesier wou opoffer om weer sy verlore manlikheid terug te kry, was hy reeds hopeloos in die greep van die Bose. Hy het homself op die vyand se terrein geplaas, en die Satan het besit geneem van sy verstandelike vermoëns. Die versoeker het hom bekoor met baie heerlike voorstellings, maar toe die ongelukkige man eers eenmaal in sy mag was, was die demoon meedoënloos in sy wreedheid, en vreeslik in sy besoekings. So sal dit ook gaan met almal wat toegee aan die boosheid; die aanloklike plesier van hulle vroeë lewe eindig in die duisternis van wanhoop of in krank- sinnigheid. KE 253.1
Dieselfde bose gees wat Christus in die woestyn versoek het, en wat in die duiwelbesetene van Kapernaum was, het die ongelowige Jode beheers. Maar in hulle geval het hy die rol van vroomheid aangeneem en hulle bedrieg ten opsigte van hulle motiewe in die verwerping van die Heiland. Hulle toestand was nog hopeloser as die van die duiwelbesetene, want hulle het geen behoefte gevoel aan Christus nie, en was dus vas in die mag van die Satan. KE 253.2
Die periode van Christus se persoonlike bediening onder die mense, was die tyd van die grootste bedrywigheid vir die magte van die koninkryk van duisternis. Vir eeue het die Satan en sy bose engele getrag om die siel en liggaam van die mense te kontroleer om hulle in die sonde en ellende te dompel; en hy het altyd gesê dat God vir die lyding verantwoordelik is. Jesus het aan die mens die karakter van God geopenbaar. Hy was besig om die Satan se mag te breek en die gevangenes vry te laat. Nuwe lewe van liefde en krag het gewerk in die harte van die mense, en die vors van boosheid het geveg om die heerskappy van sy koninkryk te handhaaf. Die Satan het al sy magte opgeroep, en hy het die werk van Christus stap vir stap beveg. KE 253.3
So sal dit ook gaan in die groot en laaste stryd tussen geregtigheid en sonde. Terwyl nuwe lewe en lig en krag uit die hemel neergedaal het op die dissipels van Christus, het daar ook nuwe lewe van benede ontstaan wat al die werktuie van die Satan besiel het. Intensiteit het besit geneem van elke aardse element. Met 'n listigheid wat hy deur die stryd van die eeue geleer het, doen die vors van boosheid hom nie in sy ware kleure voor nie. Hy kom in die gedaante van 'n engel van die lig, en menigtes luister na “verleidende geeste en leringe van duiwels.” 1 Tim. 4: 1. KE 253.4
In die tyd van Christus was die leiers en leraars van Israel magte- loos om die werke van die Satan te weerstaan. Hulle het die enigste middele verwerp waardeur hulle die bose geeste kon weerstaan. Dit was deur die Woord van God dat Christus die bose oorwin het. Die leiers van Israel het voorgegee om verklaarders van die Woord van God te wees, maar hulle het dit ondersoek alleen om hulle eie tradisies te staaf, en hulle menslike gebruike te handhaaf. Deur hulle vertolking het hulle dit dinge laat leer wat God nooit beveel het nie. Deur hulle mistiese vertolking het hulle dinge benewel wat Hy baie duidelik gemaak het. Hulle het gestry oor onbenullige tegniese puntjies, en het die belangrikste waarhede in die praktiese lewe verloën. So is ongeloof gesaai. Gods Woord is beroof van sy krag, en bose geeste het na hartelus gewerk. KE 253.5
Die geskiedenis is besig om homself te herhaal. Met die ope Bybel voor hulle, en 'n belydenis dat hulle die leer daarvan eerbiedig, is daar baie geestelike leiers van ons tyd wat geloof daarin as die Woord van God, vernietig. Hulle hou hulleself besig met die ontleding van die Woord en hulle stel hulle eie opinies bokant die duidelikste verklarings daarvan. In hulle hande verloor Gods Woord sy wederbarende krag. Dit is daarom dat ongeloof so welig tier, en die sonde so toeneem. KE 254.1
Wanneer die Satan die mens se geloof in die Bybel ondermyn het, lei hy hom na ander bronne vir lig en krag. So kry hy toegang tot hulle harte. Diegene wat die duidelike leer van die Skrifte, en die oortuigende krag van Gods Heilige Gees verwerp, stel hulleself bloot aan die beheer van duiwels. Kritiek van, en spekulasie aangaande die Skrifte, het die weg geopen vir spiritisme en teosofie — hierdie moderne vorme van die outydse heidense geloof — om selfs die belydende kerke van onse Here Jesus Christus binne te dring. KE 254.2
Terwyl die evangelie verkondig word, is daar ook werktuie besig wat dien as die medium van leuenagtige geeste. Menige persoon het hom al met hierdie dinge bloot uit nuuskierigheid bemoei, maar wanneer hy bewyse sien van die werking van bonatuurlike magte, word hy aangelok totdat hy deur 'n wil beheers word sterker as sy eie. Hy kan hom nie ontworstel aan daardie geheimsinnige mag nie. KE 254.3
Die skanse van die siel is afgebreek. Hy het geen versperring teen die sonde nie. Wanneer die weerhoudende krag van Gods Woord en Sy Gees eenmaal verwerp is, kan geen mens sê tot watter dieptes van vernedering hy mag sak nie. Boesemsonde of ontug mag hom net so hopeloos gevange hou soos die duiwelbesetene van Kapernaum. Maar nogtans is sy posisie nie hopeloos nie. KE 254.4
Die middel waarmee ons die Bose kan oorwin, is dieselfde as die waarmee Christus oorwin het — naamlik die krag van die Woord. God beheers nie ons verstand sonder ons toestemming nie; maar as ons begeer om Sy wil te ken en te doen, dan kan ons aanspraak maak op Sy beloftes: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet.” Joh. 8: 32; 7: 17. Deur geloof in hierdie beloftes kan enige mens verlos word van die strikke van dwaalleer en die mag van die sonde. KE 255.1
Dit staan elke mens vry om die mag te kies wat hy wil hê om oor hom te regeer. Niemand het so laag gesak, of is so sondig, dat hy nie deur Christus verlos kan word nie. Die duiwelbesetene kon, pleks van 'n bede, alleen die woorde van die Satan uiter, maar nogtans is die onuitgesproke smeekbede van sy hart verhoor. Geen roepstem van 'n siel in nood, al kan hy dit nie in woorde uitdruk, sal onverhoor bly nie. Diegene wat gewillig is om 'n verbond met die God van die hemel te maak, word nie aan die mag van die Satan oorgelaat, of aan die swakheid van hulle eie natuur nie. Die Heiland nooi hulle uit, “Hulle moet My beskutting aangryp, vrede met My maak.” Jes. 27: 5. Die geeste van die duisternis sal veg vir die siel wat eenmaal in hulle mag is, maar die engele van God sal vir daardie siel stry met oorwinnende krag. Die Here vra, “Sal van 'n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangene van 'n regverdige ontvlug? . . . So sê die Here: Ja, die gevangene van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ek bestry en jou kinders sal Ek verlos.” Jes. 49: 24, 25. KE 255.2
Terwyl die gemeente in die sinagoge nog stom van verbasing was, het Jesus vertrek na die huis van Petrus om 'n bietjie te rus. Maar ook op daardie huis het 'n skaduwee gerus. Petrus se skoonmoeder was siek aan 'n “hewige koors.” Jesus het die siekte bestraf, en die sieke het opgestaan en die Meester en Sy dissipels bedien. KE 255.3
Die gerugte oor die wonderwerke van Christus het vinnig deur die hele Kapernaum versprei. Uit vrees vir die rabbi's kon die mense dit nie waag om vir genesing op die Sabbat te kom nie; maar die son was nog skaars onder of daar was groot bedrywigheid. Van die huise, die winkels, die mark, het die inwoners van die stad gestroom na die eenvoudige huis waar Jesus was. Die siekes is op draagbare gebring; sommige het gekom leunende op kieries; of ondersteun deur vriende, het hulle aangesukkel om in die teenwoordigheid van die Heiland te kom. KE 255.4
Uur na uur het hulle gekom en gegaan, want hulle het nie geweet of die Geneesheer more nog by hulle sou wees nie. Nog nooit tevore het Kapernaum so iets beleef nie. Die lug het weergalm soos die verlostes hulle stemme in dankbaarheid verhef het. Die Heiland het Hom verbly in die vreugde wat Hy gebring het. Waar Hy die lyding gesien het van diegene wat na Hom toe gekom het, is Sy hart deur medelyde ontroer, en Hy het Hom verbly in Sy krag om hulle in gesondheid en geluk te herstel. KE 256.1
Eers toe die laaste lydende gehelp is, het Jesus Sy werk gestaak. Dit was al diep in die nag toe die skare uiteen is, en stilte het neergesak op die huis van Simon. Die lang dag van opwinding was verby, en Jesus het rus gesoek. Maar terwyl die stad nog geslaap het, het die Heiland “opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid.” KE 256.2
So het Jesus die dae van Sy aardse lewe deurgebring. Hy het dikwels Sy dissipels verlof gegee om hulle huise te besoek en te rus; maar Hy het hulle pogings om Hom af te trek van Sy werk, weerstaan. Bedags het Hy die hele dag gewerk deur die onkundiges te leer, die siekes gesond te maak, die gesig van die blindes te herstel, en die skare te voed; en saans, of vroeg in die more, het Hy gegaan na 'n heiligdom in die berge vir gemeenskap met Sy Vader. Dikwels het Hy die hele nag in gebed en oorpeinsing deurgebring, en met dagbreek na Sy werk onder die mense teruggekom. KE 256.3
Vroeg in die more het Petrus en van sy maats na Jesus gekom en gesê dat die mense van Kapernaum alreeds na Hom soek. Die dissipels was bitter teleurgesteld oor die manier wat Jesus voorheen ontvang is. Die owerhede te Jerusalem het gesoek om Hom te dood; selfs die mense van Sy eie dorp het probeer om Sy lewe te neem; maar in Kapernaum is Hy met groot geesdrif ontvang, en daar het weer nuwe hoop in die harte van die dissipels ontvlam. Dit kon wees dat die ondersteuners van die nuwe koninkryk gevind sou word onder die vryheidliewende Galileërs. Dit was met verbasing dat hulle Christus hoor sê het, “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” KE 256.4
In die opwinding wat daar geheers het in Kapernaum was daar gevaar dat die doel van Sy sending uit die oog verloor sou word. Jesus was nie tevrede om die aandag van die mense op Hom te vestig slegs as 'n wonderwerker en iemand wat siektes genees het nie. Hy wou die mense trek om Hom as Verlosser aan te neem. Hoewel die mense gretig was om te glo dat Hy gekom het as koning om n aardse koninkryk op te rig, wou Hy hulle gedagtes aftrek van die aardse en vestig op die geestelike. Bloot wereldlike sukses sou Sy werk strem. KE 257.1
En die verbasing van die onverskillige menigte het op Sy senuwees gewerk. In Sy lewe was daar geen plek vir die verheffing van die eie-ek nie. Die hulde wat die wêreld bring aan posisie, of rykdom, of talent, was iets waarmee die Seun van die mens Hom nie opgehou het nie. Jesus het nie een van die middels gebruik waarmee mense gewoonlik trou en hulde verkry het nie. Eeue voor Sy geboorte is daar van Hom geprofeteer, “Hy sal nie skreeu of uitroep of Sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word totdat Hy die reg op die aarde gegrond het nie.” Jes. 42: 2-4. KE 257.2
Die Fariseërs het eer gesoek deur hulle gehegtheid aan seremomes, hulle vertoon met die godsdiens, en hulle aalmoes. Hulle wou hulle ywer vir die godsdiens bewys deur gedurig besprekings daaroor te voer. Die gestry onder die verskillende sektes was lank uitgerek en luidrugtig, en dit was nie 'n ongewone ding om die geleerde doktore van die wet op die strate te hoor stry nie. KE 257.3
In skerp teenstelling was die lewe van Christus. In Sy lewe was daar geen harde disputasies, geen vertoon by die aanbidding, en geen daad om applous uit te lok nie. Christus was in God verborge, en God is geopenbaar in die karakter van Sy Seun. Jesus wou die aandag en hulde vari die mense op daardie openbaring toespits. KE 257.4
Die Son van Geregtigheid het nie skielik oor die wêreld opgegaan om die sinne te verblind met Sy heerlikheid nie. Aangaande Christus staan daar geskryf, “Sy opgang is so seker as die dagbreek.” Hosea 6:3. Die dag breek stil en saggies oor die aarde, verban die skaduwees van die nag en wek die wereld tot lewe. So ook het die Son van Geregtigheid opgegaan met “genesing onder Sy vleuels.” Mal. 4:2. KE 257.5