Die Koning Van Die Eeue

29/88

Levi-Mattheus

VAN al die Romeinse beamptes in Palestina was niemand meer gehaat as die tollenaars nie. Die feit dat die belastings deur 'n vreemde mag gehef is, was 'n gedurige ergernis vir die Jode, want dit het hulle altyd daaraan herinner dat hulle nie meer onafhanklik was nie. Die tollenaars was nie alleen die werktuie van die Romeinse verdrukkers nie; hulle was afpersers vir hulle eie voordeel, en het hulleself verryk ten koste van die volk. 'n Jood wat hom hierdie werk laat welgeval het, is as verraaier van die eer van sy volk beskou. Hy is verag as 'n afvallige, en is gereken onder die skuim van die samelewing. KE 269.1

Levi-Mattheus het aan hierdie klas behoort, en ná die vier dissipels wat by Genesaret geroep is, was hy die volgende een wat Christus tot Sy diens geroep het. Die Fariseërs het Mattheus geoordeel volgens sy werk, maar Jesus het in hierdie man iemand gesien met 'n hart oop vir die ontvangs van die waarheid. Mattheus het die Heiland se leer gehoor. Namate die Gees van God sy sondigheid geopenbaar het, wou hy graag hulp gaan soek by Christus, maar hy het geweet hoe ongenaakbaar die rabbi's was, en hy het nooit gedink dat hierdie Groot Leraar hom sou opmerk nie. KE 269.2

Terwyl hy eendag by sy tafel gesit het, het die tollenaar Jesus sien aankom. Groot was sy verbasing toe hy aangespreek is met die woorde, “Volg My.” KE 270.1

Mattheus “het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.” Hy het nie geaarsel of vrae gestel of gedink aan sy winsgewende werk wat hy nou sou verruil vir armoede en swaarkry nie. Dit was genoeg vir hom dat hy by Jesus sou wees om Sy woorde te hoor en saam met Hom te werk. KE 270.2

So was dit ook met die dissipels wat voorheen geroep is. Toe Jesus Petrus en sy metgeselle gevra het om Hom te volg, het hulle dadelik hulle bote en nette verlaat. Sommige van hierdie manne het vriende gehad wat van hulle afhanklik was vir onderhoud; maar toe hulle die Here se uitnodiging ontvang het, het hulle nie geweifel en gevra, Hoe sal ek 'n bestaan maak en my gesin onderhou nie? Hulle was die roeping gehoorsaam; en toe Jesus hulle later gevra het, “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en knapsak en skoene, het julle iets kort gekom?” was hulle antwoord, “Niks nie.” Lukas 22: 35. KE 270.3

Tot Mattheus in sy rykdom, en tot Andreas en Petrus in hulle armoede, het dieselfde toets gekom; almal het dieselfde toewyding gemaak. Op die oomblik van sukses, toe die nette vol vis en die drifte van die ou lewe die sterkste was, het Jesus die dissipels by die see gevra om alles te laat staan vir die werk van die evangelie. So word elke siel getoets om te sien of sy begeerte vir stoflike voordeel of vir gemeenskap met Christus die sterkste is. KE 270.4

Beginsel is altyd veeleisend. Geen mens kan slaag in die werk van God tensy sy hele hart in die werk is en hy alle dinge skade ag vir die uitnemendheid van die kennis van Christus nie. Geen mens wat iets terughou, kan 'n dissipel van Christus wees nie, en nog minder kan hy Sy medewerker wees. Wanneer mense die groot verlossing waardeer, sal die selfopoffering wat in Christus se lewe gesien is ook in hulle lewe gesien word. Waar Hy ook al lei, sal hulle volg. KE 270.5

Die roeping van Mattheus as een van Christus se dissipels het groot verontwaardiging veroorsaak. Vir 'n geestelike leraar om n tollenaar te roep as een van sy helpers was 'n misdaad teen die gods-dienstige, maatskaplike, en nasionale gebruike. Deur die vooroordeel van die mense uit te buit, het die Fariseërs gehoop om die openbare mening teen Jesus op te wek. KE 270.6

Daar is groot belangstelling onder die tollenaars opgewek. Hulle harte is getrek tot die goddelike Leraar. In die vreugde van sy nuwe dissipelskap het Mattheus verlang om sy vorige ampsgenote tot Jesus te bring. Om daardie rede het hy 'n groot fees by sy eie huis gereël waarheen hy sy bloedverwante en vriende uitgenooi het. Nie alleen was daar tollenaars nie, maar ook baie ander van twyfelagtige reputasie-mense wat nie gereken is deur hulle preutse bure nie. KE 271.1

Die onthaal is gegee ter ere van Jesus, en Hy het nie geaarsel om die vriendskap aan te neem nie. Hy het goed geweet dat dit aanstoot sou gee aan die party van die Fariseërs, en dat dit Hom sou kom- promiteer in die oë van die volk. Maar Hy het nie toegelaat dat kwessies van beleid Sy handelwyse beïnvloed nie. By Hom het uiterlike verskille geen gewig gehad nie. Wat by Hom die swaarste geweeg het, was 'n siel wat gedors het na die water van die lewe. KE 271.2

Jesus was 'n geëerde gas aan die tafels van die tollenaars; deur Sy simpatie en sosiale goedgesindheid het Hy getoon dat Hy die waardigheid van die mens erken het; en mense het verlang om Sy vertroue werd te wees. Vir hulle dorstige harte het Sy woorde lewegewende krag gehad. Nuwe drange is wakkergemaak, en daar was die moontlikheid van 'n nuwe lewe vir hierdie uitwerpsels van die samelewing. KE 271.3

By sulke byeenkomste was daar baie wat onder die indruk gekom het van die Heiland se woorde, maar wat Hom eers ná Sy hemelvaart erken het. Toe die Heilige Gees uitgestort is, en drieduisend in een dag tot bekering gekom het, was daar baie onder hulle wat die waarheid aan die tafel van die tollenaars die eerste maal gehoor het, en sommige van hierdie mense het evangeliedienaars geword. Vir Mattheus self was die voorbeeld van Jesus by daardie feesmaal 'n gedurige les. Die veragte tollenaar het een van die mees toegewyde evangeliste geword wat in sy eie prediking nougeset in sy Meester se voetstappe gevolg het. KE 272.1

Toe die rabbi's hoor van Jesus se teenwoordigheid by Mattheus se feesmaal, het hulle gebruik gemaak van die geleentheid om Hom te beskuldig. Maar hulle het verkies om deur Sy dissipels te werk. Deur hulle vooroordeel op te wek het hulle gehoop om hulle van hulle Meester te vervreem. Dit was hulle beleid om Jesus by die dissipels aan te kla, en die dissipels by Christus, en hulle het hulle pyle gemik waar hulle die seerste sou maak. Dit is die manier waarop die Satan gewerk het sedert die tyd van sy ontevredenheid in die hemel, en almal wat op hierdie wyse onmin en vervreemding wil veroorsaak, is besiel met sy gees. KE 272.2

“Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?” het die afgunstige rabbi's gevra. KE 272.3

Jesus het nie op Sy dissipels gewag om die beskuldiging te beantwoord nie, maar self het Hy geantwoord: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Die Fariseërs het daarop aanspraak gemaak dat hulle geestelik gesond was en dus die geneesheer nie nodig het nie, terwyl hulle die tollenaars en heidene beskou het as sterwende aan die siektes van die siel. Was dit dan nie Sy werk, as 'n geneesheer, om juis na daardie klas te gaan wat Sy hulp nodig gehad het nie? KE 272.4

Maar alhoewel die Fariseërs so 'n hoë dunk van hulleself gehad het, was hulle in werklikheid in 'n hagliker toestand as diegene wat hulle verag het. Die tollenaars was minder bekrompe en eiegeregtig, en daarom was hulle meer vatbaar vir die waarheid. Jesus het aan die rabbi's gesê, “Gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.” Hy het dus getoon dat terwyl hulle gesê het dat hulle die Woord van God geleer het, was hulle heeltemal onkundig aangaande die gees daarvan. KE 273.1

Die Fariseërs is vir die tyd stilgemaak, maar dit het hulle net meer vasberade gemaak in hulle vyandskap. Vervolgens het hulle die dissipels van Johannes die Doper opgesoek en probeer om hulle teen die Heiland op te maak. Hierdie Fariseërs het nie die sending van die Doper aangeneem me. Hulle het met veragting gewys op sy lewe van onthouding, sy eenvoudige lewensgewoontes, sy growwe klere, en hulle het hom voorgestel as fanatiek. Omdat hy hulle huigelary veroordeel het, het hulle sy woorde weerstaan en probeer om die mense op te wek teen hom. Die Gees van God het gewerk in die harte van hierdie spotters en hulle oortuig van sonde; maar hulle het die raad van God verwerp en verklaar dat Johannes 'n duiwel gehad het. KE 273.2

Waar Jesus nou met die mense omgegaan het, etende en drinkende aan hulle tafels, het hulle Hom beskuldig dat Hy 'n vraat en wyn- suiper is. Die mense wat hierdie beskuldigings ingebring het, was juis die skuldiges. Net soos God verkeerd voorgestel, en deur die Satan met sy eie karaktertrekke beklee word, so word die boodskappers van die Here ook vals voorgestel deur bose mense. KE 273.3

Die Fariseërs wou nie in aanmerking neem dat Jesus saam met sondaars en tollenaars geëet het sodat Hy die lig van die hemel kon bring aan diegene wat in die duisternis gesit het nie. Hulle wou nie insien dat elke woord van die goddelike Leraar n lewende saadjie was wat sou ontkiem om vrugte voort te bring tot eer van God nie. Hulle het besluit om nie die lig aan te neem nie; en alhoewel hulle die sending van die Doper verwerp het, het hulle nou vriende gemaak met sy dissipels, hopende om hulle samewerking teen Jesus te verkry. Hulle het aangevoer dat Jesus die tradisies van die ou tyd tot niet gemaak het; en hulle het die Doper se lewe van onthouding en vroomheid vergelyk met die van Jesus wat volgens hulle feesgevier het met tollenaars en sondaars. KE 273.4

Die dissipels van Johannes het destyds in groot droefheid verkeer. Dit was vóór hulle besoek aan Jesus met die boodskap van Johannes. Hulle geliefde leraar was in die tronk, en hulle het hulle dae treurende deurgebring. En Jesus het geen pogings aangewend om die vrylating van Johannes te verkry nie— dit het selfs gelyk of Hy afbreek gedoen het aan sy leer. As Johannes deur God gestuur was, waarom dan het Jesus en Sy dissipels 'n weg ingeslaan wat so heeltemal anders was? KE 274.1

Die dissipels van Johannes het nie 'n duidelike begrip gehad van Christus se werk nie; hulle het gedink dat die Fariseërs miskien grond gehad het vir hulle beskuldigings. Hulle het baie van die voorskrifte van die rabbi's nagekom, en het gehoop dat hulle geregverdig sou word deur die werke van die wet. Die Jode het vas beskou as 'n verdienstelike daad, en die nougesettes onder hulle het tweemaal per week gevas. Die Fariseërs en die dissipels van Johannes was besig om te vas toe laasgenoemdes na Jesus gekom het met die vraag, “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar U dissipels vas nie?” KE 274.2

Baie sagmoedig het Jesus hulle geantwoord. Hy het nie probeer om hulle verkeerde opvatting van vas reg te help nie, maar Hy het hulle reg gehelp in verband met Sy eie sending. En Hy het dit gedoen deur dieselfde beeid as Johannes te gebruik toe hy van Jesus getuig het. Johannes het gesê, “Die een wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.” Joh. 3: 29. Die dissipels van Johannes kon nie help om te dink aan hierdie woorde van hulle leraar nie, daar Jesus die beeld verder gebruik het deur te sê, “Kan die bruilofsgaste dan treur solank as die bruidegom by hulle is?” KE 274.3

Die Vors van die hemel was by Sy volk. Die grootste gawe van God was aan die wêreld gegee. Daar was vreugde vir die armes; want Christus het gekom om hulle erfgename van Sy koninkryk te maak. Daar was vreugde vir die rykes; want Hy sou hulle leer hoe om die ewige rykdom te verkry. Daar was vreugde vir die onkundiges, want Hy sou hulle wys maak tot die saligheid. Daar was vreugde vir die geleerdes, want Hy sou groot verborgenhede aan hulle openbaar — waarhede wat bedek was van die grondlegging van die wêreld af, sou aan mense geopenbaar word deur die Heiland se sending. KE 274.4

Johannes die Doper het hom verbly in die aanskouing van die Heiland. Watter groot geleentheid vir blydskap het die dissipels gehad wat bevoorreg was om te wandel en te praat met die Majesteit van die hemel! Dit was nie nou n tyd vir hulle om te treur en te vas nie. Hulle moes hulle harte oopmaak om die lig van heerlikheid te ontvang, sodat hulle diegene kon verlig wat gesit het in die dal van die skaduwee van die dood. KE 275.1

Dit was 'n heerlike toneel wat Christus voor die gees geroep het, maar daaroor het 'n swart skaduwee geval wat Sy oog alleen gesien het. “Maar daar sal dae kom,” het Hy gesê, “wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.” Waanneer hulle sien dat hulle Here verraai en gekruisig word, dan sal die dissipels treur en vas. In Sy laaste woorde aan hulle in die bo-vertrek, het Hy gesê, “'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.” Joh. 16: 19, 20. KE 275.2

Wanneer Hy uit die graf voortkom, sou hulle droefheid in vreugde verander word. Na Sy hemelvaart sou Hy persoonlik afwesig wees, maar deur die Trooster sou Hy nog by hulle wees, en hulle moes dan nie hulle tyd in droefheid deurbring nie. Maar die Satan wou hê dat hulle moes treur; hy wou hê dat hulle aan die wêreld die indruk moes gee dat hulle bedrieg ep teleurgestel is; maar in die geloof moes hulle na die heiligdom daarbo kyk waar Jesus vir hulle dien. Hulle moes hulle harte oopstel vir die Heilige Gees, Sy verteenwoordiger, en hulle verbly in die lig van Sy teenwoordigheid. Maar daar sou dae van versoeking en beproewing kom wanneer hulle in botsing sou kom met die owerhede van hierdie wêreld, en die leiers van die koninkryk van duisternis; wanneer Christus nie persoonlik by hulle kan wees, en hulle nie die Trooster kan sien nie, dan sou dit meer gepas vir hulle wees om te vas. KE 275.3

Die Fariseërs het gestreef om hulleself te verhef deur die stipte nakoming van vorms, terwyl hulle harte vervul was met twis en afguns. “Kyk,” sê die Skrif, “om te twis en te kyf vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dit die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie, en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die Here welgevallig is?” Jes. 58: 4, 5. KE 275.4

Die ware vas is nie 'n blote vorm nie. Die Skrif beskryf die vas wat God verkies - “dat julle losmaak die goddelose bande, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek;” “en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig.” Jes. 58: 6, 10. Hier het ons die voorstelling van die gees en karakter van die werk van Christus. Sy hele lewe was 'n lewe van opoffering van Homself vir die redding van die wêreld. Of Hy in die woestyn van versoeking gevas, of saam met tollenaars aangesit het aan Mattheus se tafel, Hy was altyd besig om Sy lewe te gee vir die redding van verlorenes. Die ware gees van toewyding word nie geopenbaar in nuttelose vas, die vernedering van die liggaam, en baie offers nie, maar dit word getoon in oorgawe aan gewillige diens vir God en mens. KE 276.1

Voortgaande met Sy antwoord aan die dissipels van Johannes, het Jesus 'n gelykenis gegee, en gesê: “Niemand sit 'n lap van 'n nuwe kleed op 'n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.” Die boodskap van Johannes die Doper moes nie saam ingevleg word met tradisie en bygeloof nie. 'n Poging om die skynheiligheid van die Fariseërs saam te smelt met die toewyding van Johannes, sou die kloof tussen hulle net groter maak. KE 276.2

Die beginsels van Christus se leer kon ook nie verenig word met die Farisese vorms nie. Christus was nie daar om die bres toe te muur wat deur die leer van Johannes gemaak is nie. Hy sou die verskil tussen die oue en die nuwe nog duideliker laat uitstaan. Jesus het hierdie feit verder geïllustreer deur te sê, “Niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.” Die leerbottels wat gebruik is om die nuwe wyn te hou, het na 'n tyd droog en bros en waardeloos geword vir die doel. Met hierdie welbekende illustrasie het Jesus die toestand van die Joodse leiers voorgestel. Priesters en skrifgeleerdes en owerstes was in die groef van seremonies en tradisies. Hulle harte het vereng soos die uitgedroogde leer wynbottels waarmee Hy hulle vergelyk het. Solank hulle tevrede was met 'n wettiese godsdiens was dit onmoontlik vir hulle om die bewaarders te wees van die lewende waarheid van die hemel. Hulle het gemeen dat hulle eiegeregtigheid voldoende was, en hulle het nie 'n nuwe element in hulle godsdiens verlang nie. Die welbehae van God en mens het hulle nie aangeneem as iets buite hulleself nie. Hulle het dit verbind met hulle eie Verdienstes ten gevolge van hulle goeie werke. Die geloof wat deur liefde werk en die siel reinig, kon geen aanknopingspunt vind met die godsdiens van die Fariseërs wat bestaan het uit seremonies en gebooie van mense nie. 'n Poging om die leer van Jesus te verenig met die gevestigde godsdiens sou tevergeefs gewees het. Die lewende waarheid van God, soos die gistende wyn, sou die ou verrotte bottels van Farisese tradisie laat bars. KE 276.3

Die Fariseërs het gemeen dat hulle te volleerd was om behoefte te hê aan onderrig, te regverdig vir behoefte aan die saligheid, en te geëerd vir behoefte aan die eer wat van Christus kom. Die Heiland het Hom van hulle afgewend om ander te vind wat die boodskap van die hemel sou aanneem. In die ongeleerde vissers, die tollenaar op die mark, in die vrou van Samaria, die gewone mense wat graag na Hom geluister het, het Hy die nuwe bottels vir die nuwe wyn gevind. Die werktuie wat gebruik sal word in die evangeliewerk is die siele wat met blydskap die lig aanneem wat God aan hulle gee. Hulle is die werktuie wat 'n kennis van die waarheid aan die wêreld sal gee. As Sy volk deur die genade van Christus gewillig is om die nuwe bottels te wees, sal Hy hulle met nuwe wyn vul. KE 277.1

Alhoewel die leer van Christus as nuwe wyn voorgestel is, was dit nie 'n nuwe leer nie, maar 'n openbaring van wat van die begin af geleer is. Maar vir die Fariseërs het die waarheid van God sy oorspronklike betekenis en skoonheid verloor. Vir hulle was die leer van Christus nuut in byna alle opsigte, en dit is nie herken en erken nie. KE 277.2

Jesus het gewys op die krag van valse leer om die begeerte vir die waarheid weg te neem. “Niemand wat ou wyn gedrink het,” het Hy gesê, “wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.” Al die waarheid wat aan die wêreld gegee is deur die patriarge en profete het met 'n nuwe heerlikheid geskyn in die mond van Christus. Maar die skrifgeleerdes en Fariseërs het geen begeerte gehad vir die heerlike nuwe wyn nie. Aleer hulle die ou tradisies, gewoontes en gebruike opgee, sou daar geen plek in hulle verstand of hart wees vir die leer van Christus nie. Hulle het vasgeklem aan dorre vorms, en hulle afgekeer van die lewende waarheid en die krag van God. KE 277.3

Dit was juis hierdie ding wat die ondergang van die Jode bewerk het, en dit sal ook die ondergang van baie siele in ons tyd bewerkstellig. Duisende begaan dieselfde fout as die Fariseërs wat Christus by Mattheus se feesmaal bestraf het. Liewer as om hulle eie idees op te gee of om 'n geliefkoosde opinie te versaak, is daar vele wat die waarheid verwerp wat kom van die Vader van die lig. Hulle vertrou op hulleself, steun op hulle eie wysheid, en besef nie hulle geestelike bankrotskap nie. Hulle wil op die een of ander manier gered word waar hulle self iets belangriks doen. Wanneer hulle sien dat daar geen manier is om die eie-ek ook in die werk in te vleg nie, verwerp hulle die saligheid wat voorsien is. KE 278.1

'n Wettiese godsdiens kan nooit siele tot Christus lei nie, want dit is 'n liefdelose godsdiens, sonder Christus. Vas en gebed wat vloei uit 'n eiegeregtige gees is afskuwelik in die oë van God. Die byeenkoms vir aanbidding, die reeks godsdienstige seremonies, die uiterlike vernedering, die groot offer wat gebring word — alles verkondig dat die dader van hierdie dinge homself beskou as regverdig en geregtig op die hemel; maar dit is alles bedrog. Ons kan nooit die saligheid met ons eie werke verdien nie. KE 278.2

Soos dit in die dae van Christus was, so is dit ook vandag; die Fariseërs ken nie hulle geestelike bankrotskap nie. Tot hulle kom die boodskap, “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaens- waardig en arm en blind en nakend is nie. Ek raai jou om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie.” Openb. 3: 17, 18. Geloof en liefde is die goud deur vuur gelouter. Maar in die geval van vele het die goud verdof, en die ryke skat het verlore gegaan. Die geregtigheid van Christus is 'n kleed wat hulle nie dra nie, 'n fontein waaruit hulle nie drink nie. Aan hulle word gesê, “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” Openb. 2:4, 5. KE 278.3

“Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” Ps. 51: 19. Die mens moet van die eie-ek ontledig word voordat hy, in die volste sin, n gelowige in Jesus kan wees. Wanneer die eie-ek gekruisig is, dan kan die Here van hom 'n nuwe skepsel maak. Nuwe bottels kan die nuwe wyn hou. Die liefde van Christus sal die gelowige met 'n nuwe lewe besiel. In die een wat op die Leidsman en Voleinder van ons geloof sien, sal die karakter van Christus geopenbaar word. KE 278.4