Patriarge en Profete
Hoofstuk 50—Tiendes en Offergawes
In die Hebreeuse stelsel is een tiende van die volk se inkomste afgesonder vir die instandhouding van die openbare aanbidding van God. Moses het Israel beveel: “Al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die Here; dit is heilig aan die Here.” “Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee-alles wat onder die herderstaf deurgaan-die tiende moet aan die Here heilig wees.” (Levitikus 27:30,32). PeP 505.1
Maar tiende-heffing het nie by die Hebreërs ontstaan nie. Van die heel begin af het die Here ‘n tiende vir Homself toegeëien en is hierdie eis erken en geëerbiedig. Abraham het aan Melgisedek, die priester van die allerhoogste God, tiendes betaal (Genesis 14:20). Op Bet-El het Jakob, toe hy ‘n banneling en ‘n swerwer was, die Here beloof: “Van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (Genesis 28:22). Toe Israel gereed was om as ‘n nasie gevestig te word, is die wet aangaande die heffing van tiendes herbevestig as een van die Goddelike verordeninge waarop, onderhewig aan gehoorsaamheid, hulle voorspoed berus het. PeP 505.2
Die heffing van tiendes en offergawes was bedoel om ‘n groot waarheid in die verstand van die volk in te prent, naamlik dat God die bron van elke seëning aan Sy skepsels is en dat die mens aan Hom die dank vir die goeie gawes van Sy voorsiening verskuldig is. PeP 505.3
Hy gee self “...aan almal lewe en asem en alles...” (Handelinge 17:25). Die Here verklaar: “Al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.” (Psalm 50:10). “Aan My behoort die silwer en aan My die goud.” (Haggai 2:8). En dit is God wat aan die mens die krag gee om rykdom te verwerf. (Deuteronomium 8:18). As erkenning dat alle dinge van Hom af kom, het die Here voorgeskryf dat ‘n deel van Sy oorvloedige voorsiening aan Hom teruggegee word in gawes en offers vir die onderhouding van aanbidding aan Hom. PeP 505.4
“Die tiendes...behoort aan die Here.” Hier word dieselfde uitdrukking as in die wet van die Sabbat gebruik: “Die sewende PeP 505.5
dag is die Sabbat van die Here jou God.” (Exodus 20:10). God het vir Homself ‘n vasgestelde deel van die mens se tyd en middele toegeëien en geen mens kan, sonder skuld, enigeen van die twee vir sy eie belange aanwend nie. PeP 506.1
Die tiende moes uitsluitlik vir gebruik aan die Leviete, die stam wat vir die diens van die heiligdom afgesonder was, gewy word. Maar dit was geensins die perk van die bydrae vir godsdienstige doeleindes nie. Die tabernakel en daarna die tempel, is uitsluitlik uit vrywillige offergawes opgerig; en om te voorsien in die nodige herstelwerk en ander uitgawes, het Moses voorgeskryf dat so dikwels as wat die mense getel word, elk ‘n bydrae van ‘n halwe sikkel maak vir”...die bediening van die tent van samekoms...”. In Nehemia se tyd is daar jaarliks ‘n bydrae vir hierdie doel gemaak. Kyk Exodus 30:12-16; 2 Konings 12:4,5,2; Kronieke 24:4-13; Nehemia 10:32,33. Van tyd tot tyd is daar ook sondoffers en dankoffers aan God gebring. Hierdie offers is in groot getalle tydens die jaarlikse feeste aangebied. En die mees liberale voorsiening is vir die armes gemaak. PeP 506.2
Nog voordat die tiende gereserveer was, was daar ‘n erkenning van die eise van God. Die eerste van elke produk van die land wat ryp geword het, is aan Hom gewy. Die eerste van die wol wanneer die skape geskeer is, van die graan wanneer die koring gedors is, die eerste van die olie en die wyn, is vir God afgesonder. So ook die eersgeborenes van al die diere; en daar moes ‘n losprys vir die eerste seun betaal word. Die eerste vrugte moes voor die Here by die heiligdom aangebied word en is dan vir die gebruik van die priesters gewy. PeP 506.3
Op hierdie wyse is die volk gedurig daaraan herinner dat God die werklike eienaar van hulle lande, hulle kleinvee en hulle kuddes is; dat Hy aan hulle sonskyn en reën tydens saaityd en oestyd gestuur het, en dat alles wat hulle besit het, deur Hom geskep is en dat Hy hulle as rentmeesters oor Sy besittings aangestel het. PeP 506.4
Wanneer die manne van Israel, gelaai met die eerste vrugte van die veld, boorde en wingerd by die tabernakel bymekaar gekom het, is daar ‘n openbare erkenning van God se goedheid gemaak. Wanneer die priester die gawe ontvang het, het die offeraar, asof hy in die teenwoordigheid van Jehova praat, gesê: PeP 506.5
“My vader was ‘n swerwende, Arameër...” en hy het die verblyf in Egipte en die ellende waaruit God Israel verlos het, beskryf: “Die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders.” En hy het gesê: “Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het.” (Deuteronomium 26:5,8-11). PeP 507.1
Die bydrae wat van die Hebreërs vereis was vir godsdienstige-en liedadigheidsdoeleindes het ‘n volle vierde van hulle inkomste beloop. ‘n Mens sou verwag dat so ‘n swaar belasting op die hulpbronne van die mense hulle tot armoede sou stem; maar, inteendeel, die getroue nakoming van hierdie regulasies was een van die voorwaardes van hulle voorspoed. Op voorwaarde van hulle gehoorsaamheid het God hulle beloof: “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie... En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die Here van die leërskare” (Maleagi 3:11,12). PeP 507.2
“n Treffende voorbeeld van die gevolge van die selfsugtige weerhouding van selfs vrywillige offergawes vir die saak van God, is in die dae van die profeet Haggai gegee. Nadat hulle uit hulle Babiloniese ballingskap teruggekeer het, het die Jode onderneem om die tempel van die Here te herbou; maar omdat hulle hardnekkige teenstand van hulle vyande ondervind het, het hulle die werk gestaak; en ‘n groot droogte wat hulle in werklike armoede gedompel het, het hulle oortuig dat dit vir hulle onmoontlik was om die herbouing van die tempel te voltooi. Hulle het gesê: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die Here gebou moet word nie.” Maar ‘n boodskap is aan hulle deur die Here se profeet gestuur: “Is dit vir julleself wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die Here van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek.” (Haggai 1:2-6). Dan word die rede PeP 507.3
verstrek: “Julle het uitgesien na baie en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.” (Verse 9-11.) “In die tyd het iemand gekom by ‘n koringmied van twintig maat en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep en daar was maar twintig. Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael-al die werk van julle hande.” (Haggai 2:16,17). PeP 508.1
Aangewakker deur hierdie bestraffing, het die volk hulle weer voorgeneem om die huis van God te begin bou. Toe kom die woord van die Here tot hulle: “Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die Here gelê het;...van hierdie dag af sal Ek seën.” (Verse 18,19). PeP 508.2
Die wyse man sê: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” (Spreuke 11:24). En dieselfde les word in die Nuwe Testament deur die apostel Paulus geleer: “Wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” “God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” (2 Korinthiërs 9:6,8). PeP 508.3
God wou hê dat Sy volk Israel die ligdraers aan alle bewoners van die aarde moes wees. Deur Sy openbare aanbidding te onderhou, het hulle van die bestaan en soewereiniteit van die lewende God getuig. En dit was hulle voorreg om hierdie aanbidding te onderhou, as ‘n uitdrukking van hulle getrouheid en liefde vir Hom. Die Here het georden dat die verspreiding van lig en waarheid op aarde afhanklik sal wees van die pogings en offergawes van diegene wat deelgenote aan die hemelse gawe is. Hy kon engele aangestel het as gesante van Sy waarheid; Hy kon Sy wil, soos op Sinai, PeP 508.4
met Sy eie stem bekend gemaak het; maar in Sy oneindige liefde en wysheid het Hy mense geroep om Sy medewerkers te wees, deur hulle te kies om hierdie werk te doen. PeP 509.1
In die dae van Israel was die tiende en die vrywillige offergawes nodig om die ordinansies van Goddelike diens te onderhou. Behoort die volk van God in hierdie eeu dan minder te gee? Die beginsel wat deur Christus neergelê is, is dat ons offers aan God in verhouding met die lig en voorregte wat ons geniet behoort te wees. “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word.” (Lukas 12:48). Toe die Verlosser Sy dissipels uitgestuur het, het Hy aan hulle gesê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” (Mattheus 10:8). Namate ons seëninge en voorregte toeneem-bo alles omdat ons die ongeëwenaarde offer van die glorieryke Seun van God voor ons het-behoort ons dankbaarheid nie met ruimer offergawes, aan ander te getuig van die verlossingsboodskap nie? Namate die evangeliewerk uitbrei, vereis dit ook groter ondersteuning as in die antieke tyd en dit maak die wet van tiendes en offergawes ‘n dringender noodsaaklikheid as selfs in die dae van die Joodse bedeling. As Sy volk Sy saak ruim deur middel van hulle vrywillige offergawes sou ondersteun, in stede daarvan om onchristelike en onheilige metodes aan te wend om die skatkis te vul, sou God vereer word en baie meer siele sal vir Christus gewen word. PeP 509.2
Moses se plan om middele vir die bou van die tabernakel in te win, het uitmuntend geslaag. Geen aansporing was nodig nie. Hy het ook nie enige van die metodes aangewend waarna soveel kerke in ons tyd hulle wend nie. Hy het geen groot fees gehou nie. Hy het die mense nie na tonele van vrolikheid, danse of ander openbare vermaaklikhede genooi nie; ook het hy nie van loterye of enige ander onheilige aard gebruik gemaak om middele in te win vir die oprigting van die tabernakel van God nie. Die Here het Moses beveel om die kinders van Israel te nooi om hulle offergawes te bring. Hy moes geskenke van elkeen wat dit vrywilliglik, uit sy hart gee, aanvaar. En daar het soveel offergawes ingekom dat Moses die volk moes aansê om nie meer te bring nie, want hulle het meer gegee as wat gebruik kon word. PeP 509.3
God het mense as Sy rentmeesters aangestel. Die besittings wat Hy in hulle hande toevertrou het, is die middele wat Hy voorsien het vir die verspreiding van die evangelie. Aan diegene wat bewys dat hulle getroue rentmeesters is, sal Hy ‘n groter pand toevertrou. Die Here sê: “Die wat My eer, sal Ek eer.” (1 Samuel 2:30). “God het ‘n blymoedige gewer lief...” en wanneer Sy volk hulle geskenke en offergawes uit dankbare harte aan Hom gee, “...nie met droefheid of uit dwang nie...” sal Hy hulle seën soos Hy beloof het. “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.” (Maleagi 3:10). PeP 510.1