Die Groot Stryd (1911)

1/44

Die Groot Stryd (1911)

Voorwoord

Hierdie boek, geagte leser, is nie uitgegee om ons te vertel dat daar sonde, wee en ellende in die wêreld is nie. Ons weet dit maar alte goed. Hierdie boek is ook nie uitgegee om ons mee te deel dat daar ‘n onversoenbare stryd tussen duisternis en lig, sonde en geregtigheid, verkeerd en reg, dood en lewe is nie. In die diepte van ons wese weet ons dit en ons weet dat ons deelnemers, akteurs, in die stryd is. GS .0

Maar by elkeen van ons is daar soms ‘n verlange om meer van die groot stryd te wete te kom. Hoe het dit begin? Of was dit maar altyd daar? Watter elemente is by hierdie uiters komplekse aspek betrokke? Hoe is ek daaraan verwant? Wat is my verantwoordelikheid? Ek bevind myself in hierdie wêreld deur geen keuse van my eie nie. Hou dit vir my goed of kwaad in? GS .0

Wat is die belangrikste beginsels hierby betrokke? Hoe lank sal die stryd voortduur? Wat sal die einde daarvan wees? Sal hierdie aarde, soos sommige wetenskaplikes beweer, in die dieptes van ‘n sonlose, bevrore, ewige nag wegsink? Of wag daar ‘n beter toekoms? GS .0

Die vraag gaan nog dieper: Hoe kan die stryd in my eie hart, die stryd tussen die instroom van selfsug en uitgaande liefde, in die oorwinning van die goeie en vir ewig besleg word? Wat sê die Bybel? Wat wil God ons aangaande hierdie vraag van ewige belang leer? GS .0

Dit is die doel van hierdie boek, leser, om die verontruste siel te help met die regte oplossing vir al hierdie vraagstukke. Dit is geskryf deur iemand wat gevind het dat God goed is en wat in gemeenskap met God en die bestudering van sy Woord gevind het dat die verborgenheid van die Here met diegene is wat Hom vrees en dat Hy Sy verbond aan hulle sal openbaar. GS .0

Sodat ons die beginsels van hierdie allerbelangrikste stryd waarin die lewe van ‘n heelal betrokke is, beter kan verstaan, het die skryfster aan ons die groot konkrete voorwerplesse van die afgelope twintig eeue voorgelê. GS .0

Die boek begin met die tragiese slottonele van die geskiedenis van Jerusalem, die stad van God se uitverkore volk, na hulle verwerping van die Man van Golgota, wat gekom het om hulle te verlos. Vandaar verder, op die groot snelweg van die nasies en beskryf dit die vervolging van God se kinders in die eerste eeue; die groot afvalligheid wat in Sy kerk gevolg het, die wêreld-ontwaking deur die hervorming waarin sommige van die groot beginsels van die stryd duidelik geblyk het; die skrikwekkende les van die verwerping van regte beginsels deur Frankryk; die herlewing en die verheffing van die Skrif en die weldadige, lewensreddende invloed daarvan; die godsdienstige ontwaking van die laaste dae; die stralende fontein van God se Woord ontseël, met sy wonderlike openbarings van lig en kennis om die dreigende uitborreling van die bron van elke dwaling van die duisternis te konfronteer. GS .0

Die huidige dreigende konflik, met die belangrike beginsels daaraan verbonde, waarin niemand neutraal kan wees nie, word eenvoudig, duidelik en kragtig uiteengesit. GS .0

Laastens, word ons vertel van die ewige en heerlike oorwinning van goed oor kwaad, reg oor verkeerd, lig oor duisternis, vreugde oor droefheid, hoop oor wanhoop, heerlikheid oor skande, lewe oor dood en ewige, lankmoedige liefde oor wraaksugtige haat. GS .0

Vanaf die eerste uitgawe (1888), gevolg deur ‘n hersiene weergawe van die skryfster (1911), het hierdie uitmuntende werk wêreldwye sirkulasie behaal, deur baie uitgawes en vertalings. Die leser sal agterkom dat die outeur openhartig en kragtig skryf, foute uitwys en oplossings wat op die onfeilbare Woord van God gebaseer is voorstel. En hoewel daar die afgelope paar dekades verskuiwings en aanpassings in die sosiaal-godsdienstige wêreld plaasgevind het, behou die hooftema en die toekomstige projeksies wat in hierdie boek aangebied word, die volle tydigheid en absorberende belangstelling. GS .0

Voormalige uitgawes van hierdie boek het al baie siele na die Ware Herder gebring; en dit is die gebed van die uitgewers dat hierdie uitgawe nog meer vrugbaar tot ewige deug mag wees. GS .0

Die Uitgewers