Die Verhaal Van Profete en Konings

28/69

Hoofstuk 24—“Te Gronde Weens Gebrek Aan Kennis”

God se guns teenoor Israel was nog altyd op voorwaarde van hul gehoorsaamheid. Aan die voet van Sinai het hulle ‘n verbondsverhouding met Hom as Syne aangegaan: “My eiendom uit al die volke.” Hulle het plegtig beloof om op die pad van gehoorsaamheid te volg. “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen.” (Ex 19:5, 8). En toe God se Wet ‘n paar dae daarna vanaf Sinai gespreek is en bykomende instruksies in die vorm van insettinge en oordele deur Moses aan hulle meegedeel is, het die Israeliete weer met een stem belowe: “Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.” Met die bekragtiging van die verbond het hulle weereens verenig in die verklaring: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.” (Ex 24:3,7). God het Israel as Sy volk gekies en hulle het Hom as hul Koning gekies. DVvPEk 226.1

Teen die einde van hul omswerwinge in die woestyn is die voorwaardes van die verbond herhaal. By Baal-Peor, op die grens van die Beloofde Land, waar baie die prooi van subtiele verleiding geword het, het diegene wat getrou gebly het, plegtig hul beloftes van trou hernu. Deur Moses is hulle ernstig teen die versoekings wat hulle in die toekoms sou teëkom gewaarsku; en hulle is ernstig gemaan om afgesonder van die omliggende nasies te bly en God alleen te dien. DVvPEk 226.2

“Luister dan nou, Israel...” het Moses aan Israel gesê, “...na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem. Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel ... Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” (Deut 4:1-6) DVvPEk 226.3

Die Israeliete is spesifiek gemaan om nie die gebooie van God te verontagsaam nie, omdat hulle in die onderhouding daarvan krag en seën sou ervaar. DVvPEk 227.1

“Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede...” was die woord van die HERE deur Moses, tot hulle, “...dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.” (Vers 9) Die ontsagwekkende tonele wat verband hou met die gee van die Wet by Sinai, moes nooit vergeet word nie. Die waarskuwings teen die afgodiese gebruike van die omliggende nasies wat aan Israel gegee was, was duidelik en ondubbelsinnig. “Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele ... sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou...” “...dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.” “Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie — ‘n gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het.” (Verse 15,16,19,23) DVvPEk 227.2

Moses het die euwels wat sou volg op die afwyking van God se wette, vooruitgesien. Hy het die hemel en aarde as getuies geroep om te verklaar dat die volk, nadat hulle lank in die Beloofde Land gebly het, korrupte vorms van aanbidding sou inbring en sou neerbuig voor gesnede beelde en weier om tot die aanbidding van die ware God terug te keer; dat die toorn van die HERE opgewek sou word en dat hulle in ballingskap weggevoer en onder die heidene versprei sou word. “... dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem...” het hy hulle gewaarsku. “Julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die HERE sal julle onder die volke verstrooi en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.” (Verse 26-28) DVvPEk 227.3

Hierdie profesie, wat gedeeltelik in die dae van die rigters vervul is, het ‘n meer volledige en letterlike vervulling in die ballingskap van Israel na Assirië en van Juda na Babilon gehad. DVvPEk 228.1

Die afvalligheid van Israel het geleidelik ontwikkel. Van geslag tot geslag het Satan herhaalde pogings aangewend om die uitverkore volk te laat vergeet van “...die gebod, die insettinge en die verordeninge...” wat hulle beloof het om vir ewig te onderhou. (Deut 6:1). Hy het geweet dat as hy Israel net kon verlei om van God te vergeet en om “...agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig... ” dan sou hulle “...sekerlik omkom.” (Deut 8:19) DVvPEk 228.2

Die vyand van God se kerk op aarde het nie rekening gehou met die deernisvolle natuur van Hom wat “...sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie...” maar tog so ‘n “...barmhartige en genadige God [is], lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” (Ex 34:6,7) Ondanks die pogings van Satan om God se doel met Israel te dwarsboom, het die HERE Homself egter, selfs in sommige van die donkerste ure van hul geskiedenis toe dit gelyk het asof die bose magte die oorwinning sou behaal, as genadig geopenbaar. Hy het aan Israel die dinge wat tot die welstand van die volk was, voorgehou. “Ek het hom tien duisende leringe van My wet voorgeskrywe...” het Hy deur Hosea verklaar, “...maar dit word as iets vreemds geag.” “En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.” (Hos 8:12;11:3) Die HERE het hulle met deernis behandel en hulle, reël op reël, gebod op gebod, deur sy profete geleer. DVvPEk 228.3

As Israel op die boodskappe van die profete ag geslaan het, 297 sou hulle die vernedering wat gevolg het, gespaar gewees het. Dit was vanweë hul volgehoue wegdraai van Sy wet, dat God gedwing was om hulle in ballingskap te laat wegvoer. Deur Hosea het Hy verklaar: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, ... omdat jy die wet van jou God vergeet het.” (Hos 4:6) DVvPEk 229.1

In elke eeu word die oortreding van God se wet deur dieselfde resultate gevolg. In die dae van Noag, toe elke beginsel van korrekte optrede oortree is en die ongeregtigheid so diep en wydverspreid geraak het dat God dit nie langer kon duld nie, het die dekreet uitgegaan: “Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.” (Gen 6:7). In Abraham se tyd, het die mense van Sodom, God en Sy gebod openlik verontagsaam en het dieselfde korrupsie en dieselfde onbeheerste oorgawes as in die tyd voor die sondvloed nagevolg. Die inwoners van Sodom het die grense van Goddelike verdraagsaamheid oorskry en die vuur van God se wraak het teen hulle ontvlam. DVvPEk 229.2

Die tyd wat die ballingskap van die tien stamme van Israel voorafgegaan het, was een van soortgelyke ongehoorsaamheid en boosheid. God se wet is geheel en al verontagsaam en ‘n vloedgolf van ongeregtigheid is oor Israel uitgestort. “Want die HERE het ‘n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak...” het Hosea verklaar. (Hos 4:1, 2) DVvPEk 229.3

Die profesieë van oordeel wat deur Amos en Hosea gelewer is, het ook gepaardgegaan met voorspellings van toekomstige glorie. Aan die tien stamme, lank reeds opstandig en onboetvaardig, was geen belofte van algehele herstel van hul vorige mag in Palestina gegee nie. Tot aan die einde van tyd sou hulle “...rondswerwe onder die nasies.” Maar deur Hosea is ‘n profesie gegee wat aan hulle die voorreg om deel te wees van die finale herstel van God se volk aan die einde van geskiedenis van die aarde voorgehou het, wanneer Christus as Koning van die konings en HERE van die here sal verskyn. “Want die kinders van Israel sal ‘n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna...” het die profeet verklaar, “...sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning en met siddering aankom na die HERE en na Sy goedheid in die laaste van die dae.” (Hos 3:4,5) DVvPEk 229.4

In simboliese taal het Hosea aan die tien stamme God se plan vir die herstel van elke berouvolle siel wat met sy kerk op aarde sou verenig, dieselfde seëninge wat Israel in die Beloofde Land geniet het in die dae toe hulle lojaal aan Hom was, voorgehou. Die HERE het na Israel verwys as iemand teenoor wie Hy verlang het om barmhartigheid te betoon: “Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het. En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baal [my Heer] nie. Dan verwyder Ek die name van die Baals uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.” (Hos 2:14¬17) DVvPEk 230.1

In die laaste dae van die aarde se geskiedenis, sal God se verbond met Sy volk wat Sy gebooie bewaar, hernu word. “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ‘n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land en Ek sal hulle in veiligheid laat rus. En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.” DVvPEk 230.2

“En in dié dag sal Ek verhoor, spreek die HERE, Ek sal die hemel verhoor en dié sal die aarde verhoor. En die aarde sal die koring verhoor en die mos en die olie en dié sal Jisreël verhoor. DVvPEk 231.1

En Ek sal haar vir My saai in die land en My oor Lo-Rugáma ontferm en aan Lo-Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God!” (Verse 18-23) DVvPEk 231.2

“En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, ... steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid” (Jes 10:20). Vanuit al die “...nasies en stamme en tale en volke...” sal daar diegene wees wat met blydskap op die boodskap reageer. “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.” Hulle sal van elke afgod wat hulle aan die aarde vasbind wegdraai en sal “...Hom [aanbid] wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Hulle sal hulself bevry van elke verstrengeling en sal as monumente van God se genade voor die wêreld staan. Gehoorsaam aan die Goddelike vereistes, sal hulle deur mense en engele erken word as diegene “...wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” (Op 14:6,7,12) DVvPEk 231.3

“Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. DVvPEk 231.4

En Ek sal die lot van my volk Israel verander en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.” (Amos 9:13-15) DVvPEk 231.5