Opvoeding
Gedrag
“DIE LIEFDE... HANDEL NIE
ONWELVOEGLIK NIE ”
DIE waarde van hoflikheid word te min besef. Baie wat vriendelik van hart is, het ‘n gebrek aan vriendelike maniere. Aan baie wat deur hul opregtheid en regskapenheid respek afdwing, ontbreek dit treurig aan hartlikheid. Hierdie gebrek skend hul eie geluk en doen afbreuk aan hul diens vir andere. Baie van die lewe se lieflikste en nuttigste ondervindings word, dikwels bloot weens ‘n gebrek aan bedagsaamheid, deur die onhoflikes opgeoffer. Op 240.1
Veral blymoedigheid en hoflike maniere moet deur ouers en onderwysers aangekweek word. Almal kan ‘n opgewekte gesig, ‘n sagte stem, ‘n hoflike houding besit en dié is magselemente. Kinders voel aangetrokke tot ‘n blymoedige, sonnige geaardheid.Toon vriendelikheid en hoflikheid aan hulle en hulle sal dieselfde gees teenoor u en teenoor mekaar aan die dag lê. Op 240.2
Ware hoflikheid word nie deur die blote nakoming van gedragsreëls geleer nie. ‘n Fatsoenlike houding moet te alle tye gehandhaaf word; waar beginsels nie gekompromitteer word nie, sal bedagsaamheid teenoor andere tot die nakoming van gebruiklike gewoontes lei; maar ware hoflikheid vereis geen opoffering van beginsels aan konvensionele gebruike nie. Dit verontagsaam kaste. Dit leer selfrespek, agting vir die waardigheid van die mens as mens, ‘n eerbied vir elke lid van die groot menslike broederskap. Op 240.3
Daar is ‘n gevaar dat die waarde van bloot uiterlike maniere en vorm oorskat en te veel tyd aan opvoeding in hierdie rigting bestee sal word. Die lewe van kragtige inspanning wat van elke jongmens vereis word, die harde, dikwels onaangename werk wat selfs die lewe se gewone pligte verg en soveel te meer om die wêreld se las van onkunde en ellende te verlig - hierdie dinge bied min ruimte vir konvensionele gedrag. Op 241.1
Baie wat groot nadruk op gedragsreëls lê, toon min respek vir enígiets, hoe voortreflik ook al, wat nie daarin slaag om hulle kunsmatige standaard te bereik nie. Dit is valse opvoeding. Dit koester kritiese hoogmoed en bekrompe eksklusiwiteit. Op 241.2
Die wese van ware beleefdheid is om teenoor andere bedagsaam te wees. Die essensiele, blywende opvoeding is die wat simpatie verbreed en algemene goedhartigheid bevorder. Daardie sogenaamde kultuur wat nie by ‘n jongmens ontsag vir sy ouers inboesem nie, vol waardering vir hul voortreflikhede, verdraagsaam teenoor hul tekortkominge en hulpvaardig in hul behoeftes; wat hom nie hoflik en teer, edelmoedig en behulpsaam teenoor die jonges, die oues van dae en die minder bevoorregtes en beleefd teenoor almal, maak nie, is ‘n mislukking. Op 241.3
Ware verfyndheid van gees en gedrag word eerder in die skool van die Goddelike Onderwyser geleer as deur pasklaar reels na te kom. Sy liefde wat die hart deurtrek, bedeel die karakter toe met daardie verfynende trekke wat dit na die gelykvormigheid van Sy eie fatsoeneer. Hierdie opvoeding verleen ‘n hemelse waardigheid en ‘n aanvoeling vir wat welvoeglik is. Dit skep ‘n lieflike geaardheid en ‘n sagsinnige houding wat nooit deur die oppervlakkige vernis van die deftige kringe geëwenaar kan word nie. Op 241.4
Die Bybel beveel hoflikheid en dit bied baie illustrasies van die onselfsugtige gees, die sagmoedige bekoring, die minsame gemoed wat ware beleefdheid kenmerk. Dié is maar weerkaatsings van die karakter van Christus. Al die werklike teerheid en hoflikheid in die wêreld, selfs onder diegene wat Sy Naam nie huldig nie, is uit Hom. En Hy verlang dat hierdie karaktertrekke volkome in Sy kinders weerkaats moet word. Dit is Sy doel dat die mense in ons Sy skoonheid sal aanskou. Op 241.5
Die waardevolste verhandeling wat ooit oor gedragsreëls op skrif gestel is, is die kosbare onderrig wat deur die Heiland gegee is, in die uitspraak van die Heilige Gees deur die apostel Paulus - woorde wat onuitwisbaar in die geheue van elke mens, jonk of oud, geskryf behoort te word: Op 242.1
“Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Johannes 13:34. Op 242.2
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik;
die liefde is nie jaloers nie;
die liefde praat nie groot nie,
is nie opgeblase nie,
handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
word nie verbitterd nie,
reken die kwaad nie toe nie,
is nie bly oor die ongeregtigheid nie,
maar is bly saam met die waarheid.
Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alle s.
Die liefde vergaan nimmermeer”
Op 242.3
1 Korinthiërs 13:48.
'n Ander kosbare voortreflikheid wat versigtig gekoester moet word, is eerbied. Ware eerbied teenoor God word deur ‘n gewaarwording van Sy oneindige grootheid en ‘n besef van Sy teenwoordigheid ingeboesem. Met hierdie gewaarwording van die Onsienlike moet die hart van elke kind diep beíndruk word. Die kind moet geleer word om die tyd en plek van gebed en die dienste van openbare aanbid ding as heilig te beskou, omdat God daar is. En namate eerbied in die houding en gesindheid geopenbaar word, sal die gevoel wat dit in die hand werk, verdiep word. Op 242.4
Dit sou vir jonk en oud betaam om dikwels daardie woorde uit die Heilige Skrif te bestudeer en te oordink en te herhaal wat toon hoe die plek geag moet word wat Gods spesiale teenwoordigheid geniet. Op 243.1
“Trek jou skoene van jou voete af,” het Hy Moses by die brandende bos beveel, “want die plek waar jy op staan, is heilige grond,” Exodus 3:5. Op 243.2
Jakob, nadat hy die visioen van die engele aanskou het, het uitgeroep: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie.... Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie en dit is hier die poort van die hemel.” Genesis 28:16,17. Op 243.3
“Die Here is in sy heilige tempel - swyg voor Hom, o ganse aarde!” Habakuk 2:20. Op 243.4
“Want die Here is ‘n grote God,
ja, ‘n groot Koning bo al die gode....
Kom. laat ons aanbid en neerbuk;
laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het”
“Hy het ons gemaak en ons is syne,
sy volk en die skape van sy weide.
Gaan sy poorte in met lof,
sy voorhowe met lofgesang;
loof Hom, prys sy Naam.”
Op 243.5
Psalms 95:3-6; 100:3,4.
Eerbied moet ook vir die Naam van God betoon word. Op 243.6
Nooit moet daardie Naam ligtelik of onnadenkend uitgespreek word nie. Selfs in gebed moet die veelvuldige of onnodige herhaling daarvan vermy word. “Sy Naam is heilig en vreeslik.” Psalm 111:9. Wanneer engele dit uitspreek, bedek hulle hul aangesigte. Met watter eerbied behoort ons, wat gevalle en sondig is, dit nie op ons lippe te neem nie! Op 243.7
Ons moet Gods Woord eerbiedig. Vir die gedrukte boek moet ons ontsag hê en dit nooit vir alledaagse gebruik aanwend, of dit onverskillig hanteer nie. En nooit moet daar vir die grap uit die Skrif aangehaal, of dele geparafraseer word om ‘n gevatte opmerking kwyt te raak nie.”Elke woord van God is gelouter;””silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.”Spreuke 30:5; Psalm 12:7. Op 244.1
Bowenal, laat kinders geleer word dat ware eerbied deur gehoorsaamheid getoon word. God het niks beveel wat onnodig is nie en daar is geen ander manier om eerbied te openbaar wat Hom so behaag as gehoorsaamheid aan wat Hy gespreek het nie. Op 244.2
Eerbied moet aan Gods verteenwoordigers betoon word - aan predikante, onderwysers en ouers wat geroep is om namens Hom te spreek en op te tree. Deur die respek wat teenoor hulle aan die dag gelê word, word Hy vereer. Op 244.3
En God het veral ‘n tere agting vir die oues van dae beveel. Hy sê:“Grysheid is ‘n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.” Spreuke 16:31. Dit vertel van veldslae wat gelewer en oorwinnings wat behaal is; van laste gedra en versoekings weerstaan. Dit vertel van vermoeide voete na aan hul rus, van plekke wat spoedig leeg sal wees. Help die kinders om hieraan te dink en hulle sal deur hul hoflikheid en respek die weg van die oues van dae gelykmaak en bekoring en skoonheid in hul jong lewens bring soos hulle aan die bevel gehoor gee: “Vir die grys hare moet jy opstaan en die persoon van ‘n grysaard eer.”Levitikus 19:32. Op 244.4
Vaders en moeders en onderwysers moet meer volkome die verantwoordelikheid waardeer wat God op hulle geplaas het, deur hulle, vir die kind, Sy eie verteenwoordigers te maak. Die karakter wat in die kontak van die daaglikse lewe geopenbaar word, sal, ten goede of ten kwade, vir die kind daardie woorde van God vertolk: Op 244.5
“Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” Psalm 103:13. “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.” Jesaja 66:13. Op 244.6
Gelukkig die kind in wie sodanige woorde liefde en dankbaarheid en vertroue wek; die kind vir wie die teerheid, regverdigheid en lankmoedigheid van vader en moeder en onderwyser die liefde, regverdigheid en lankmoedigheid van God vertolk; die kind wat deur vertroue, onderwerping en eerbied teenoor sy aardse beskermers leer om sy God te vertrou, te gehoorsaam en te eerbiedig. Hy wat kind of leerling so ‘n gawe toebring, het aan hom ‘n skat kosbaarder as die rykdom van ai die eeue bemaak - ‘n skat so blywend soos die ewigheid self. Op 245.1