Die Koning Van Die Eeue
In Pilatus se Geregsaal
IN die geregsaal van Pilatus, die Romeinse goewerneur, het Christus gestaan, gebind as gevangene. Om Hom was die soldatewag, en toeskouers het vinnig die saal begin vul. By die ingang het die regters van die Sanhedrin gestaan, priesters, owerstes, ouderlinge, en die gepeupel. KE 741.1
Nadat hulle Jesus veroordeel het, het die raad van die Sanhedrin na Pilatus gekom om die vonnis te bekragtig en te laat voltrek. Maar hierdie Joodse beamptes wou nie die Romeinse geregsaal binnegaan nie. Volgens hulle seremoniële wette sou hulle daardeur verontreinig word, en dus nie aan die Pasga kan deelneem nie. In hulle blindheid was hulle onbewus van die moordlustigheid wat hulle harte besoedel het. Hulle het nie besef dat Christus die ware Paaslam was, en dat daardie groot fees, aangesien hulle Hom nou verwerp het, alle betekenis vir hulle verloor het nie. KE 741.2
Toe die Heiland in die geregsaal gebring is, het Pilatus Hom nie met vriendelike oë aangekyk nie. Die Romeinse goewerneur is haastig uit sy slaapkamer ontbied, en hy het besluit om die saak so spoedig moontlik af te handel. Hy sou die gevangene met geregtelike hardheid behandel. Met 'n fronsende gelaat het hy gekyk watter soort man dit was wat hy moes ondersoek, en wat genoodsaak het dat hy so vroeg uit die bed geroep is. Hy het besef dat dit iemand moes wees wat die Joodse gesag baie graag verhoor, en gestraf wou sien. KE 741.3
Pilatus het na die manne gekyk wat Jesus in bewaring gehad het, en toe het sy oë deurdringend op Jesus gerus. Hy het al met baie misdadigers te doen gehad, maar nog nooit tevore is iemand voor hom gebring in wie die tekens van goedheid en edelmoedigheid so duidelik geopenbaar is nie. In Sy gelaat het hy geen tekens van skuld gesien nie, geen uitdrukking van vrees en geen tekens van vermetelheid of uitdaging nie. Hy het 'n man gesien met 'n kalm, waardige hou- ding, wie se gelaat nie die tekens van 'n misdadiger getoon het nie maar die seël van die hemel. KE 742.1
Christus se voorkoms het 'n goeie indruk op Pilatus gemaak.Sy beter self is getref. Hy het gehoor van Jesus en Sy werke. Sy vrou het hom iets vertel van die wonderwerke van die Galilese profeet, wat die siekes gesondgemaak en die dode opgewek het. Dit het nou soos 'n droom in Pilatus se geheue teruggekom. Hy het gedink aan gerugte wat hy uit verskillende oorde gehoor het. Hy het besluit dat hy die Jode sou vra watter aanklagte hulle teen die gevangene gehad het KE 742.2
Wie is hierdie man, en waarvoor het julle Hom hier gebring? het hy gevra. Wat is julle aanklag teen Hom? Dit het die Jode van stryk gebring. Wetende dat hulle die aanklagte teen Christus nie kon bewys nie, wou hulle nie graag 'n openbare verhoor hê nie. Hulle het geantwoord dat Hy 'n bedrieër genaamd Jesus van Nasaret was. KE 742.3
Weer het Pilatus gevra, “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Die priesters het nie sy vraag beantwoord nie, maar in woorde wat hulle gebelgdheid getoon het, het hulle gesê, “As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.” Wanneer diegene van die Sanhedrin, die vernaamste manne van die volk 'n man na u bring wat die doodstraf verdien, is dit dan nodig om te vra wat die aanklag teen hom is? Hulle het gemeen om Pilatus onder die indruk van hulle belangrikheid te bring, en hom dus te beweeg om hulle versoek toe te staan, sonder om op al die besonderhede in te gaan. Hulle was gretig om hulle vonnis bekragtig te sien, want hulle het geweet dat die mense wat Christus se wonderwerke gesien het, n baie ander storie sou vertel as die valse getuienis wat hulle teen Hom sou inbring. KE 742.4
Die priesters het gemeen dat hulle met die swakke en weifelende Pilatus, hulle planne sou kon deurvoer sonder veel moeite. Voorheen het hy reeds doodvonnisse haastig bekragtig, van manne waarvan hulle geweet het dat hulle nie die doodstraf verdien het nie. Vir hom was die lewe van 'n gevangene van min waarde, of hulle skuldig of onskul- dig was, het nie eintlik saak gemaak nie. Die priesters het nou gehoop dat Pilatus die doodvonnis teen Jesus sou bekragtig sonder om Hom te verhoor. Hulle het dit as 'n guns gevra met die oog op hulle groot nasionale fees wat ophande was. KE 743.1
Maar daar was iets omtrent die gevangene wat Pilatus teruggehou het om dit nie te doen nie. Hy het dit nie gedurf doen nie. Hy het die doel van die priesters gelees. Hy het onthou hoedat Jesus, 'n rukkie tevore, vir Lasarus opgewek het —'n man wat reeds vier dae dood was, en nou, vóór hy die doodvonnis bekragtig, wou hy weet wat die aanklag teen Jesus was, en of dit bewys kon word. KE 743.2
As julle uitspraak genoeg is, het hy gesê, waarom bring julle dan die gevangene na my toe? “Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.” Die priesters was nou in die knyp, en het geantwoord dat hulle Hom alreeds gevonnis het, maar dat hulle ook Pilatus se vonnis moet hê om dit wettig te maak. Wat is julle vonnis? het Pilatus gevra. Die doodvonnis, het hulle gesê; maar dit is nie wettig vir ons om enige mens dood te maak nie. Hulle het Pilatus gevra om hulle woord te te neem dat Christus skuldig was, en om hulle vonnis te bekragtig. Hulle sou die verantwoordelikheid neem. KE 743.3
Pilatus was nie n regverdige of pligsgetroue regter nie, maar sedelik swak, soos hy was, het hy geweier om hulle versoek toe te staan. Hy wou Jesus nie veroordeel alvorens daar 'n aanklag teen Hom ingebring is nie. KE 743.4
Die priesters was in groot verleentheid. Hulle het besef dat hulle hulle huigelary met 'n baie dik mantel moes bedek. Hulle moes dit nie laat blyk dat Christus op godsdienstige aanklagte gearresteer is nie. As hulle dit as rede sou gee, sou hulle verhoor geen invloed by Pilatus gehad het nie. Hulle moes dit so stel asof Jesus die landswette ver onagsaam het; dan sou Hy kon gestraf word as n politieke misdadiger. Onder die Jode was daar gedurig opstande teen die Romeinse gesag. Die Romeine het sulke opstande gewoonlik meedoënloos onderdruk, en hulle was gedurig op hulle hoede om alles te onderdruk wat enig- sins tot 'n opstand kon lei. KE 743.5
Net 'n paar dae vóór Sy gevangeneming het die Fariseërs geprobeer om Jesus te verstrik met die vraag, “Is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal, of nie?” Maar Christus het hulle huigelary aan die kaak gestel. Daar was Romeine teenwoordig en hulle het gesien hoe die samesweerders se stel misluk, en in watter verleentheid Christus se antwoord hulle gebring het: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom.” Lukas 20: 22-25. KE 744.1
Die priesters wou dit nou laat voorkom dat Christus by hierdie geleentheid geleer het wat hulle gehoop het dat Hy sou leer. Om hulleself uit die knyp te help, het hulle die hulp van valse getuies ingeroep, “En hulle begin Hom beskuldig en sê: Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.” Dit is drie beskuldigings, maar elkeen sonder grond. Die priesters het dit geweet, maar hulle was gewillig om vals te sweer as hulle maar hulle doel kon bereik. KE 744.2
Pilatus het deur hulle planne gesien. Hy het nie geglo dat die gevangene sameswerings teen die staat gesmee het nie. Sy sagmoedige en nederige voorkoms het glad nie gestryk met die beskuldigings nie. Pilatus was oortuig dat 'n gemene komplot gesmee is om n onskuldige man uit die weg te ruim wat in die pad gestaan het van die Joodse waardigheidsbekleërs. Hy het hom tot Jesus gewend en gevra, “Is U die Koning van die Jode?” Die Heiland het geantwoord, “U sê dit.” En terwyl Hy gepraat het, is Sy aangesig verlig asof 'n sonstraal daarop geskyn het. KE 744.3
Toe hulle Sy antwoord hoor, het Kajafas en diegene wat by hom was, Pilatus daarop attent gemaak dat Jesus die aanklag erken het wat teen Hom ingebring is. Met groot lawaai het die priesters, skrifgeleerdes, en owerstes geëis dat die doodvonnis oor Hom uitgespreek moes word. Die gepeupel het hulle agterna geskreeu, en die rumoer was oorverdowend. Pilatus was in die war. Toe hy sien dat Jesus niks antwoord op die aanklagte nie, het hy aan Hom gesê, “Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienisse hulle teen U inbring. Maar Jesus het niks meer geantwoord nie.” KE 744.4
Waar Hy daar agter Pilatus gestaan het, sodat almal in die hof Hom kon sien, het Christus die geskel gehoor, maar op al die valse aanklagte teen Hom het Hy nie 'n enkele woord geantwoord nie. Sy hele hou- ding het die indruk geskep dat Hy onskuldig was. Die woede van die golwe wat teen Hom geslaan het, het geen indruk op Hom gemaak nie. Dit was asof die branders van woede wat steeds hoër en hoër gestyg het soos die van die onstuimige oseaan, rondom Hom breek, maar Hom nie kon aanraak nie. Hy het geswyg, maar Sy stilswye was die welsprekendheid self. Dit was soos 'n lig wat geskyn het van die innerlike na die uiterlike mens. KE 745.1
Pilatus was verbaas oor Sy houding. Sou hierdie man die verrigtings veronagsaam omdat Hy nie omgee of Hy Sy lewe red nie? het hy homself afgevra. Waar hy gesien het hoedat Jesus die beledigings en bespottings verdra het sonder om terug te antwoord, het hy gevoel dat Hy nie so ongeregtig en onregverdig kon wees soos die priesters wat so geraas het nie. Hopende om die waarheid van Hom te kry en om van die rumoer van die skare weg te kom, het Pilatus Hom opsy geneem en Hom weer gevra, “Is U die Koning van die Jode?” KE 745.2
Jesus het nie die vraag regstreeks beantwoord nie. Hy het geweet dat die Heilige Gees met Pilatus geworstel het, en Hy het hom geleent- | heid gegee om sy oortuiging uit te spreek. “Sê u dit uit uself,” het Hy gevra, “of het ander dit u van My gesê?” Die vraag was of dit die beskuldigings van die priesters was wat aanleiding gegee het tot Pilatus se vraag, of het hy self begeer om lig van Christus te ontvang ? Pilatus het verstaan wat Christus bedoel het, maar hoogmoed het in sy hart opgewel. Hy wou nie die oortuiging erken wat by hom ontstaan het nie. “Is ek dan 'n Jood?” het hy gevra. “U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?” KE 745.3
Pilatus se gulde geleentheid het verbygegaan, en tog het Jesus hom nie sonder verdere lig gelaat nie. Alhoewel Hy nie Pilatus se vraag regstreeks beantwoord het nie, het Hy Sy eie sending duidelik verklaar. Hy het Pilatus laat verstaan dat Hy nie 'n aardse troon gesoek het nie. KE 745.4
Jesus het hom geantwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as My koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer sou word nie. Maar nou is My koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: U is dan tog 'n koning. Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem.” KE 745.5
Christus het bevestig dat Sy woord self die sleutel is wat die verborgenheid sou ontsluit vir diegene wat bereid is om dit aan te neem. Dit besit 'n selfaanbevelende krag, en dit was die geheim van die uitbreiding van Sy koninkryk van waarheid. Hy wou Pilatus laat verstaan dat sy verdorwe natuur herstel kon word alleen deur die aanname van die waarheid. KE 746.1
Daar was by Pilatus 'n begeerte om die waarheid te ken. Sy verstand was verwar. Gretig het hy die woorde van die Heiland aangeneem, en daar was in sy hart 'n sterk verlange om te weet wat dit werklik was, en hoe hy dit kon verkry. “Wat is waarheid?” het hy gevra. Maar hy het nie gewag vir die antwoord nie. Die rumoer daar buite het hom weer attent gemaak op die werk ophande, want die priesters het geskreeu vir onmiddellike optrede. Hy het na die Jode uitgegaan en met nadruk verklaar, “Ek vind geen skuld in Hom nie.” KE 746.2
Hierdie uitspraak van 'n heidense regter was 'n harde bestraffing van die huigelary en valsheid van die owerstes van Israel wat die aanklagte teen die Heiland ingebring het. Toe die priesters en ouderlinge dit van Pilatus hoor, het hulle teleurstelling en woede geen perke geken nie. Hulle het lank planne gemaak en gewag vir hierdie kans. Toe hulle die moontlikheid besef dat Jesus miskien losgelaat kon word, het dit geskyn of hulle gereed was om Hom in stukke te skeur. Hulle het luidrugtig begin uitvaar teen Pilatus, en gedreig om hom by die Romeinse owerheid aan te kla. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy geweier het om Jesus te veroordeel, wat, soos hulle beweer het, Homself teen die keiser gestel het. KE 746.3
Kwaai stemme is nou gehoor wat gesê het dat die opruiende invloed van Jesus deur die hele land bekend was. Die priesters het gesê, “Hy maak die volk oproerig met Sy leer die hele Judea deur, vandat Hy in Galilea begin het tot hier toe.” KE 746.4
Pilatus het in hierdie tyd nog glad geen plan gehad om Jesus te veroordeel nie. Hy het geweet dat die Jode Hom beskuldig het uit haat en vooroordeel. Hy het geweet wat sy plig was. Die reg het vereis dat Jesus dadelik losgelaat moes word. Maar Pilatus het die misnoeë van die volk gevrees. As hy sou weier om Jesus in hulle hande oor te lewer, sou daar groot oproerigheid wees, en daarvoor was hy bang. Toe hy hoor dat Christus van Galilea was, het hy besluit om Hom na Herodes te stuur, die goewerneur van die provinsie, wat juis toe in Jerusalem was. Deur hierdie gedragslyn het Pilatus gemeen dat hy die verantwoordelikheid van die verhoor van homself sou afskuif op Herodes. Verder het hy ook gemeen dat dit 'n goeie kans was om met Herodes versoen te raak na 'n ou rusie tussen hulle. En so was dit ook. Die twee magistrate het weer vriende geword oor die verhoor van die Heiland. KE 746.5
Pilatus het Jesus weer aan die soldate oorgegee, en onder die geskel en beledigings van die gepeupel is Hy haastig geneem na die geregsaal van Herodes. “Toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly.” Hy het die Heiland nog nie tevore ontmoet nie, maar “hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.” Dit is hierdie selfde Herodes wie se hande bevlek was met die bloed van Johannes die Doper. Toe Herodes die eerste keer van Jesus gehoor het, was hy vreeslik bang, en hy het gesê, “Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan;” “daarom werk die kragte in hom.” Markus 6: 16; Matt. 14: 2. Maar nogtans wou Herodes Jesus graag sien. Nou sou hy die geleentheid hê om die lewe van hierdie profeet te red, en so het die koning gehoop sou hy daardie bloedige hoof wat na hom op 'n skottel gebring is, vir ewig uit sy geheue veeg. Hy het ook gehoop om sy nuuskierigheid te bevredig, en hy het gedink dat as Christus maar enige hoop op loslating gegee word, Hy enigiets sou doen wat van Hom gevra word. KE 747.1
'n Hele aantal van die priesters en ouderlinge is saam met Christus na Herodes. En toe die Heiland ingebring is, het hierdie waardigheidsbekleërs luidrugtig hulle beskuldigings teen Hom ingebring. Maar Herodes het hom min gesteur aan hulle aanklagte. Hy het hulle stilgemaak omdat hy Christus graag wou ondervra. Hy het beveel dat hulle Christus se hande moes losmaak, en het terselfdertyd Sy vyande daarvan beskuldig dat hulle Hom wreed mishandel het. Hy het medelydend gekyk op die vreedsame gelaat van die wêreld se Verlosser, en daar het hy loutere reinheid en wysheid gelees. Hy, sowel as Pilatus, was tevrede dat Christus beskuldig is uit nyd en kwaadwilligheid. KE 748.1
Herodes het Christus omslagtig ondervra, maar die Heiland het doodstil gebly. Op bevel van die koning is die siekes en verminktes ingeroep, en Christus is beveel om Sy aansprake te bewys deur n won derwerk te doen. Die mense sê dat U die siekes kan gesondmaak, het Herodes gesê. Ek wil baie graag die bewys hê dat U groot roem nie op leuens gebaseer is nie. Jesus het nie gereageer nie, en Herodes het nog aangehou: As U wonderwerke vir ander kon doen, doen hulle nou vir U eie verlossing, en U sal nie spyt wees nie. Weer het hy beveel, Gee ons 'n teken dat U die krag het wat die mense sê dat U het. Maar Christus was soos iemand wat nie gehoor of gesien het nie. Die Seun van God het die menslike natuur aangeneem. Hy moes handel soos 'n mens sou doen onder die omstandighede. Hy sou dus nie 'n wonderwerk doen om Homself te verlos van die pyn en vernedering wat 'n mens moet verduur wat in 'n dergelike posisie geplaas is nie. KE 748.2
Herodes het belowe dat as Christus 'n wonderwerk sou doen in sy teenwoordigheid, sou hy Hom loslaat. Christus se aanklaers het met hulle eie oë die magtige werke gesien wat deur Sy krag verrig is. Hulle het gehoor toe Hy die graf beveel het om sy dode op te gee. Hulle het gesien hoedat die dode voortkom op Sy bevel. Met vrees het hulle gedink aan die moontlikheid dat Hy nou 'n wonderwerk sou doen. Wat hulle die meeste gevrees het, was 'n openbaring van Sy mag. So 'n openbaring sou die doodsteek wees van hulle planne, en sou miskien ook hulle eie lewens kos. Nog eens het die priesters en owerstes in die grootste angs, hulle beskuldigings teen Hom geslinger. Met luide stemme het hulle verklaar, Hy is 'n verraaier en 'n godslasteraar. Hy doen Sy wonderwerke deur die krag wat Beëlsebul, die owerste van die duiwels, aan Hom gee. Daar het groot verwarring in die saal geheers; sommige het een ding geskreeu, en 'n ander gedeelte iets anders. KE 748.3
Herodes se gewete was nou nie meer so teer as toe hy met afsku gesidder het toe Herodias hom die hoof van Johannes die Doper gevra het nie. Vir 'n tyd het hy die skerp prikkels van berou gevoel oor sy vreeslike daad; maar sedelik het hy steeds laer en laer gesak ten gevolge van sy losbandige lewe. Nou was sy hart so verhard dat hy selfs gespog het oor wat hy aan Johannes gedoen het omdat hy dit gewaag het om hom te bestraf. Nou het hy ook vir Jesus gedreig, en herhaaldelik gesê dat hy die mag het om Hom los te laat of te veroordeel. Maar Jesus het uiterlik geen teken getoon dat Hy selfs een woord gehoor het nie. KE 749.1
Hierdie stilswye het Herodes vererg. Vir hom was dit 'n bewys van volslae onverskilligheid teenoor sy gesag. Vir hierdie trotse, spog- gerige koning, sou openlike bestraffing minder aanstootlik gewees het as om so geïgnoreer te word. Weer het hy Jesus kwaai gedreig, maar Hy het doodstil gebly. KE 749.2
Dit was nie die sending van Christus in hierdie wêreld om ydele nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het gekom om die gebrokenes van hart te genees. As Hy maar 'n woord kon gespreek het om die kneusplekke van sonde-sieke harte te genees, sou Hy nie geswyg het nie. Maar Hy het geen woorde gehad vir diegene wat die waarheid onder onheilige voete sou vertrap nie. KE 749.3
Christus kon miskien woorde tot Herodes gespreek het wat die ore van daardie verharde koning sou deurdring het. Hy kon hom laat vrees en bewe het deur sy sondige lewe en sy naderende verdoemenis aan hom te openbaar. Maar Christus se stilswye was die hardste bestraffing wat Hy hom kon oplê. Herodes het die waarheid verwerp wat aan hom gebring is deur die grootste van alle profete, en hy sou j geen ander boodskap ontvang nie. Die Majesteit van die hemel het geen woord vir hom gehad nie. Die oor wat altyd oop was vir menslike eilende, was gesluit vir Herodes se bevele. Die oë wat die boetvaardige sondaar altyd met ontfermende, vergewende liefde aanskou het, sou nie eens na Herodes kyk nie. Daardie lippe wat die grootste waarhede geuiter het, en wat op die teerste wyse met die grootste sondaars gepleit het, het niks te sê gehad vir die trotse koning wat geen behoefte aan 'n Verlosser gevoel het nie. KE 749.4
Herodes het woedend geword. Hy het hom tot die skare gewend en Jesus boosaardig uitgeskel as 'n bedrieër. Toe het hy aan Christus gesê, As jy jou aansprake nie kan staaf nie, sal ek jou oorlewer aan die soldate en die mense. Hulle mag dit regkry om jou te laat praat. As jy 'n bedrieër is, dan verdien jy die dood; as jy die Seun van God is,verlos jouself dan deur 'n wonderwerk. KE 750.1
Hierdie woorde was nog skaars koud of daar is op Christus afgestorm. Soos wilde diere het die skare op hulle prooi afgestorm. Jesus is rondgepluk, en Herodes het by die skare aangesluit en meegedoen om die Seun van God te verneder. As die Romeinse soldate nie gekeer en die skare teruggedruk het nie, sou die Heiland in stukke geskeur gewees het.. KE 750.2
“Nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom 'n blink kleed om.” Die Romeinse soldate het ook aan hierdie mishandeling meegedoen. Alles wat hierdie bose, verdorwe soldate kon uitdink, en aangehelp deur Herodes en die Joodse waardigheidsbekleërs, is op die Heiland opgehoop. Maar Sy goddelike geduld het nie opgeraak nie. KE 750.3
Christus se vervolgers het geprobeer om Sy karakter met hulle eie te vergelyk; hulle het Hom voorgestel as net so afskuwelik as hulleself. Maar agter die toneel wat hulle aanskou het, was daar n ander toneel-- -een wat hulle eendag sal sien in al sy heerlikheid. Daar was sommige wat gesidder het in Christus se teenwoordigheid. Onderwyl die gepeupel spottend voor Hom neergebuig het, het sommige wat \ir daardie doel na vore gekom het, teruggedeins, bang en stilgemaak. Herodes is oortuig. Die laaste strale van die lig van genade het in sy sondige hart geskyn. Hy het gevoel dat hy nie met n gewone mens te doen het nie; want die Godheid het deur Sy mensheid geflits. Juis toe Christus omring was van die spotters, hoereerders, en moordenaars, was dit vir Herodes asof hy God op Sy troon aanskou het. KE 750.4
Verhard, soos hy was, het Herodes die veroordeling van Christus nie durf bekragtig nie. Hy wou die vreeslike verantwoordelikheid van hom afskuif, en hy het Jesus teruggestuur na die Romeinse geregsaal. KE 750.5
Pilatus was teleurgestel en baie ontevrede. Toe die Jode terugkom met hulle gevangene, het hy ongeduldig gevra wat hulle wou hê dat hy moes doen. Hy het hulle daaraan herinner dat Hy Jesus reeds ' ondersoek en onskuldig bevind het; hy het hulle meegedeel dat hulle aanklagte teen Hom ingebring het, en dat hulle nie 'n enkele aanklag teen Hom bewys het nie. Hy het Jesus na Herodes gestuur, die viervors van Galilea, en een uit hulle eie volk, en ook hy het niks in Hom gevind wat die dood verdien het nie. “Nadat ek Hom gekasty het,” het Pilatus gesê, “sal ek Hom loslaat.” KE 751.1
Hier het Pilatus sy swakheid geopenbaar. Hy het verklaar dat Jesus onskuldig was, maar nogtans was hy gewillig om Hom te laat gésel om Sy beskuldigers tevrede te stel. Hy sou geregtigheid en beginsel opoffer ten einde 'n kompromis aan te gaan met die gepeupel. Dit het hom in 'n siegte posisie geplaas. Die skare het sy besluiteloosheid uitgebuit, en hulle het harder geskreeu dat die gevangene moes sterf. As Pilatus van die begin af pal gestaan het, en geweier het om iemand te veroordeel wat hy onskuldig bevind het, sou hy daardie noodlottige ketting verbreek het wat hom in selfverwyt sou bind solank hy geleef het. As hy volgens sy oortuiging van reg gehandel het, sou j die Jode dit nie gewaag het om vir hom voor te skryf wat om te doen nie. Hulle sou Christus tog doodgemaak het, maar Pilatus sou nie die skuld gedra het nie. Pilatus het stap vir stap sy gewete verkrag. Hy het versuim om met reg en geregtigheid te oordeel, en nou het hy homself byna hulpeloos gevind in die hande van die priesters en owerstes. Sy weifeling en besluiteloosheid was sy ondergang. KE 751.2
Selfs nou nog was Pilatus nie alleen gelaat om blindelings te handel nie. n Boodskap van God het hom gewaarsku om nie te doen wat hy wou doen nie. In antwoord op Christus se gebed is Pilatus se vrou deur n engel uit die hemel besoek, en in 'n droom het sy die Heiland gesien en met Hom gepraat. Pilatus se vrou was nie 'n Jodin nie, maar waar sy Jesus in haar droom gesien het, het sy geen twyfel gehad aan Sy karakter en sending nie. Sy het geweet dat Hy die Vors van God was. Sy het Hom gesien waar Hy teregstaan in die geregsaal. Sy het gesien hoe Sy hande vasgebind was soos die van 'n misdadiger. KE 751.3
Sy het gesien hoe Herodes en sy soldate hulle vreeslike werk doen. KE 751.4
Sy het gehoor hoe die priesters en owerstes, vol haat en nyd, beskul- digings teen Hom inbring. Sy het die woorde gehoor, “Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf.” Sy het gesien hoe Pilatus Jesus oorlewer om gegésel te word nadat hy verklaar het, “Ek vind geen skuld in Hom nie.” Sy het Pilatus se uitspraak gehoor en gesien dat hy Christus aan Sy moordenaars oorlewer. Sy het die kruis op Golgota gesien. Sy het gesien hoe die aarde in duisternis gehul word, en sy het die misterieuse woorde gehoor, “Dit is volbring.” Maar sy het nog 'n ander toneel gesien. Sy het Christus sien sit op die groot wit wolk, terwyl die aarde gewaggel het, en Sy moordenaars vir Sy heerlikheid weggevlug het. Met 'n angskreet het sy wakkergeskrik, en dadelik aan Pilatus 'n waarskuwing geskryf. KE 751.5
Terwyl Pilatus nog geaarsel het wat om te doen, het 'n boodskapper deur die skare gedring en die brief van sy vrou aan hom oorhandig,wat as volg gelui het: KE 752.1
“Moet tog niks te doen hê met die regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie gely om Sy ontwil.” KE 752.2
Pilatus het bleek geword. Die teenstrydige emosies in sy binneste het hom heeltemal van stryk gebring. Maar terwyl hy nog geaarsel I het, het die priesters en owerstes nog verder die mense opgesweep.Pilatus is gedwing om te handel. Hy het skielik gedink aan n gewoonte waardeur hy Christus se loslating mag bewerkstellig. Tydens die Paasfees was dit die gebruik om die een of ander gevangene los te laat volgens die keuse van die volk. Hierdie gebruik was van heidense oorsprong; daar was nie 'n greintjie regverdigheid in nie, maar die Jode het dit baie gewaardeer. Die Romeinse owerheid het in hierdie tyd 'n gevangene aangehou, genaamd Barabbas, wat tot die dood veroordeel was. Hierdie man het gesê dat hy die Messias was. Hy het aanspraak gemaak op die reg om 'n ander orde in te stel wat die wêreld dan sou regmaak. Onder die begogeling van die Satan het hy alles wat hy deur diefstal en geweld in hande kon kry, beskou as sy regmatige eiendom. Onder sataniese invloed het hy wonderlike dinge gedoen,en hy het 'n gevolg onder die mense gehad; ook het hy opstand verkondig teen die Romeinse regering. Hy was 'n geharde, waaghalsige misdadiger onder die dekmantel van godsdiensywer, daarop uit om opstand te veroorsaak en wrede dade te pleeg. Deur die mense die keuse te gee tussen hierdie man en die onskuldige Heiland, het Pilatus gehoop om die mense tot regsinnigheid te dwing. Hy het gehoop dat hy hulle medelyde vir Jesus sou opwek teen die priesters en owerstes. KE 752.3
Daarom het hy hom tot die skare gewend, en met groot erns gevra, “Wie wil julle hê, moet ek vir julle loslaat: Barabbas, of Jesus wat genoem word Christus?” KE 753
Die gepeupel het soos wilde diere geskreeu, “Nie Hom nie, maar Barabbas!” Luider en luider het hulle geskreeu, Barabbas! Barabbas! Menende dat die mense nie sy vraag verstaan het nie, het Pilatus gevra, “Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?” Maar hulle het weer geskreeu, “Weg met Hom, en laat vir ons Barabbas los!” Toe het Pilatus gevra, “Wat moet ek dan maak met Jesus wat genoem word Christus?” Weer het die malende skare soos wilde diere gebrul. Duiwels in menslike gedaantes was onder daardie skare, en watter ander antwoord as, “Laat Hom gekruisig word!” kon daar verwag word? KE 753.1
Pilatus was ontstel. Hy het nie geweet dat die saak daardie wending sou neem nie. Hy het teruggedeins om 'n onskuldige man oor te lewer om die skandelikste en wreedste dood te sterf waaraan 'n mens oorgegee kan word. Ná die geskreeu bedaar het, het hy die skare weer toegespreek en gevra, “Watter kwaad het Hy dan gedoen?” Maar praat sou nie meer help nie. Dit was nie bewys van Christus se onskuld wat hulle wou hê nie, maar Sy veroordeling. KE 753.2
Maar nog het Pilatus geprobeer om Hom te red. “Vir die derde maal sê hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.” Maar net die gedagte dat Hy losgelaat mag word, het die mense nog waansinniger gemaak. Kruisig Hom! Kruisig Hom! het hulle geskreeu. Feiler en feiler het die storm gewoed wat losgelaat is deur Pilatus se besluiteloosheid. KE 753.3
Swak en moeg en vol wonde soos Hy was, is Jesus geneem en voor die skare gegésel. “Toe lei die soldate Hom weg in die binneplaas, dit is die goewerneur se paleis, en hulle roep die hele leërafdeling by- mekaar en trek Hom 'n purperkleed aan en vleg 'n kroon van dorings en sit dit vir Hom op; en hulle begin Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle . . . spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde.” Verskeie keer het een die riet wat in Sy hand was, gegryp en Hom oor Sy hoof geslaan, sodat die dorings van die kroon in Sy slape gesteek het, en die bloed langs Sy gesig en baard afgedrup het. KE 753.4
Wees verwonderd, o hemele! en staan verbaas, o aarde! Sien die verdrukker en die verdrukte. 'n Waansinnige skare omsingel die Verlosser van die wêreld. Spottaal en hoontaal word afgewissel met vloeke van godslastering. Die gevoellose skare verwyt Hom Sy nederige geboorte en armoedige lewe. Sy aanspraak dat Hy die Seun van God is, word uitgelag, en vuil grappe en beledigings word gemaak. KE 754.1
Die Satan het die wrede gepeupel gelei in hulle mishandeling van die Heiland. Dit was sy doel om Hom tot weerwraak te beweeg indien moontlik, of om Hom daartoe te dryf om 'n wonderwerk te doen om Homself te verlos, om sodoende die verlossingsplan te laat misluk. Net een vlek op Sy menslike lewe, een beswyking van Sy menslike natuur om die vreeslike lyde te verduur, en die Lam van God sou 'n onvolmaakte offer gewees, en die verlossing van die mens misluk het Maar Hy wat deur net een woord die ganse leerskare van die hemel tot Sy hulp kon ontbied; Hy wat daardie gepeupel vreesbevange van Hom kon verjaag het deur net een flits van Sy goddelike majesteit, het Hom met volkome kalmte onderwerp aan die grofste beledigings. KE 754.2
Christus se vyande het aangedring op 'n wonderwerk as bewys van Sy Godheid. Hulle het bewys gehad baie sterker as wat hulle verlang het. Soos hulle wreedheid diegene wat Hom gemartel, verlaag het ver benede die menslikheid tot die ewebeeld van die Satan, so het Sy sagmoedigheid en lankmoedigheid Jesus verhef bokant die menslikheid, en Sy verwantskap met God bewys. Sy vernedering was die pan van Sy verheffing. Die bloeddruppels van foltering wat uit Sy verwonde slape langs Sy gesig en baard afgevloei het, was die pand van Sy salwing met “vreugde-olie” Heb. 1: 9 as ons groot Hoëpriester KE 754.3
Die Satan se woede was groot toe hy sien dat al die mishandeling van die Heiland Hom nie gedwing het om eens eenmaal te kla nie. Alhoewel Hy die menslike natuur aangeneem het, is Hy bewaar deur 'n goddelike moedigheid, en Hy het nooit afgewyk van Sy Vader se wil nie. KE 754.4
Toe Pilatus Jesus oorgelewer het om gegésel en bespot te word, het hy gemeen dat hy daardeur die simpatie van die skare sou opwek. Hy het gehoop dat hulle sou besluit dat Hy genoeg gestraf is. die kwaadaardigheid van die priesters, het hy gehoop, sou bevredig word. Maar met hulle skerpsinnigheid het die Jode die swakheid gesien wat toelaat dat 'n man gemartel word wat onskuldig verklaar is. Hulle het geweet dat Pilatus geprobeer het om die lewe van die gevangene te red, en hulle sou toesien dat Jesus nie vrygelaat word nie. Om ons te behaag en te bevredig, het Pilatus Hom laat gésel, het hulle gedink; en as ons die saak na 'n punt toe dryf, sal ons sekerlik ons doel bereik. KE 754.5
Pilatus het Barabbas nou laat haal en hom in die hof laat inbring. Hy het toe die twee gevangenes langs mekaar laat staan, en wysende na die Heiland het hy smekend gesê, “Daar is die mens!” “Kyk, ek bring Hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie.” KE 755.1
Daar het die Seun van God gestaan, met die spotkleed aan en die doringkroon op Sy hoof. Sy bo-lyf was kaal en die bloed het uit die Strieme op Sy rug gevloei. Sy gesig was met bloed bevlek, en het die tekens getoon van uitputting en pyn; maar nog nooit het dit mooier gelyk as nou nie. Sy voorkomste was nie misvormd voor Sy vyande nie. Elke gelaatstrek het gespreek van sagmoedigheid en onderworpenheid, en van die teerste ontferming vir Sy wrede vyande. Sy gedrag het geen swakheid verraai nie, maar krag, waardigheid, en lankmoedigheid getoon. In groot teenstelling met die voorkomste van die Heiland, was die van die gevangene langs Hom. Die lyne in die gesig van Barabbas het hom verraai as die geharde misdadiger wat hy was. Die kontras was vir almal opvallend. Sommige van die toeskouers het geween. Waar hulle Jesus aanskou het, was hulle harte vol medelyde. Selfs die priesters en owerstes was oortuig dat Hy alles was waarop Hy aanspraak gemaak het. KE 755.2
Die Romeinse soldate wat rondom Christus gestaan het, was nie almal verhard nie; sommige het Hom goed beskou om te sien of hulle enige teken in Sy gesig kon sien dat Hy 'n misdadiger of gevaarlike persoon was. Telkens het hulle omgedraai en met veragting gekyk na Barabbas. Dit het nie groot insig geverg om dwarsdeur hom te sien nie. Dan weer het hulle na die Een gekyk wat tereggestaan het. Hulle het na die goddelike Lyer gekyk met gevoelens van die diepste medelyde. Die stille onderworpenheid van Christus het 'n toneel op hulle ingebrand wat nooit uit hulle geheues uitgewis sou word nie, totdat hulle Hom, òf aanneem as die Christus, óf heeltemal verwerp en dus hulle eie lot beslis. KE 755.3
Die stille verdraagsaamheid van die Heiland het Pilatus met verbasing vervul. Hy het nie daaraan getwyfel dat die aanskouing van hierdie man, in teenstelling met Barabbas, die Jode tot medelyde sou beweeg nie. Maar hy het nie besef met watter fanatieke haat die priesters Hom gehaat het wat as die Lig van die wêreld, hulle duisternis en dwalings geopenbaar het nie. Hulle het die gepeupel tot waansinnigheid opgesweep, en weer het priesters, owerstes, en die mense geskreeu, “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Eindelik toe Pilatus nie langer hulle gevoellose wreedheid kon uithou nie, het hy wanhopig gesê, “Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie.” KE 756.1
Die Romeinse goewerneur, wat al baie wrede tonele aanskou het, het baie jammer gevoel vir die lydende gevangene wat met bebloede gesig en gestriemde rug, nog die waardigheid van n koning op sy troon gehad het. Die priesters het verklaar, “Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” KE 756.2
Pilatus was ontstel. Hy het nie die regte idee van Christus en Sy sending gehad nie; maar hy het darem 'n vae geloof in God gehad en in wesens wat hoër as die mens staan, 'n Gedagte wat voorheen by hom opgekom het, het nou 'n meer bepaalde vorm aangeneem. Hy het homself afgevra of dit nie miskien 'n goddelike wese was wat voor hom gestaan het nie, geklee in die purper spotmantel, en gekroon met 'n doringkroon. KE 756.3
Hy het teruggegaan na die geregsaal en aan Jesus gevra, “Waar is U vandaan?” Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. Die Heiland het vry met Pilatus gepraat, en Sy sending as getuie vir die waarheid verduidelik. Pilatus het die lig veronagsaam. Hy het die hoë amp van regter misbruik deur sy beginsels en gesag prys te gee op aandrang van die gepeupel. Jesus het geen verdere lig vir hom gehad nie. Vererg oor Sy stilswye, het Pilatus driftig gesê: KE 756.4
“Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” KE 756.5
Jesus het geantwoord, “U sou geen mag teen My he as dit nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” KE 756.6
So het die ontfermende Heiland, in Sy verskriklike lyding en droefheid, soveel moontlik die handelwyse van die Romeinse goewerneur verskoon wat Hom oorgelewer het om gekruisig te word. Wat 'n toneel vir die wêreld vir alle tyd! Wat 'n lig werp dit op die karakter van Hom wat die regter van die hele aarde is! KE 756.7
“Hy wat My aan u oorlewer,” het Jesus gesê, het “groter sonde.” Hier het Christus Kajafas bedoel, wat, as hoëpriester, die verteenwoordiger van die Joodse volk was. Hulle het geweet watter beginsels die Romeinse owerheid beheers het. Hulle het die lig van die profesieë gehad wat van Christus getuig het, en deur Hom het hulle Sy leer en Sy wonderwerke gehad. Die Jode het onmiskenbare getuienis gehad van die Godheid van Hom wat hulle tot die dood veroordeel het. Hulle sal geoordeel word volgens hulle lig. KE 757.1
Die grootste skuld en swaarste verantwoordelikheid sal rus op diegene wat die hoogste plekke onder die volk beklee het, diegene wat die heilige pand in bewaring gehad het wat hulle so snood verraai het. Pilatus, Herodes en die Romeinse soldate was vergelykenderwys onkun- dig aangaande Jesus. Hulle het gemeen dat hulle die priesters en owerstes behaag het deur Hom te mishandel. Hulle het nie die lig gehad wat die Joodse volk in so 'n groot mate ontvang het nie. As daardie lig aan die soldate gegee was, sou hulle Christus nie so wreed behandel het as wat hulle wel gedoen het nie. KE 757.2
Weer het Pilatus voorgestel dat hulle die Heiland moet loslaat. “Maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie.” So het hierdie huigelaars dan geveins dat hulle ywerig was vir die gesag van die keiser. Van al die teenstanders van die Romeinse owerheid, was die Jode die mees verbete. Wanneer dit veilig was vir hulle om dit te doen, het hulle op tiranniese wyse hulle eie nasionale en godsdienswette gehandhaaf; maar as hulle hulle wou wreek op iemand, het hulle die mag van die keiser geloof. Om Christus dood te maak, sou hulle lojaliteit betuig aan die vreemde mag wat hulle gehaat het. KE 757.3
“Elkeen wat homself koning maak,” het hulle gesê, “kom in verset teen die keiser. Dit het Pilatus op 'n baie teer plekkie geraak. Die Romeinse regering het hom reeds verdink, en hy het geweet dat so 'n gerug sy ondergang sou beteken. Hy het geweet dat indien die Jode se planne verydel word, hulle hulle op hom sou wreek. Hulle sou alles in hulle vermoë doen om weerwraak te neem. Voor hom het hy 'n voorbeeld gesien van hulle vasberadenheid om Een uit die weg te ruim wat hulle sonder oorsaak gehaat het. KE 757.4
Pilatus het toe weer op die regterstoel gaan sit, Jesus weer voor die mense gebring, en gese, “Daar is julle Koning!” Weer is die waan sinnige geskreeu gehoor, “Neem weg, neem weg, kruisig Hom!” Met'n stem wat vir almal hoorbaar was, het Pilatus gevra, “Moet ek julle Koning kruisig?” Maar uit onheilige, godslasterende monde het die woorde gekom, “Ons het geen koning nie behalwe die keiser.” KE 758.1
Dus, deur hulle keuse van 'n heidense regeerder, het die Joodse volk hulle onttrek aan die teokrasie. Hulle het God verwerp as hulle koning. Voortaan sou hulle geen verlosser he nie. Hulle het geen koning behalwe die keiser nie. Hiertoe het die priesters en leraars die volk gelei. Daarvoor, en vir die vreeslike gevolge daarvan, was hulle verantwoordelik. Die volk se sonde en die volk se ondergang,was te wyte aan die geestelike leiers. KE 758.2
“Toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gese: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” Met vrees en selfveroordeling het Pilatus die Heiland aanskou. In daardie see van gesigte, was Syne die enigste wat vreedsaam was. Dit was of daar om Sy hoof 'n sagte lig geskyn het. In sy hart het Pilatus gese, Hy is 'n God. Hy het hom tot die skare gewend en gese, Ek is onskuldig aan Sy bloed. Neem julle Hom en kruisig Hom. Maar onthou, julle priesters en owerstes, ek se dat Hy 'n regverdige man is. Mag Hy op wie Hy aanspraak maak as Sy Vader, julle vir hierdie dag se werk oordeel, en nie vir my nie. Toe het hy aan Jesus gese, Vergewe my vir hierdie daad; ek kan U nie red nie. En nadat Hy Jesus weer laat gesel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word. KE 758.3
Pilatus wou Jesus baie graag loslaat. Maar hy het besef dat hy dit nie kon doen en nog sy posisie van eer kon behou nie. Liewer as om sy wereldse mag te verloor, het hy verkies om 'n onskuldige lewe op te offer. Hoeveel is daar nie wat hulle beginsels opoffer om verlies en lyding te ontduik nie. Plig en die gewete wys een pad, terwyl eiebelang na 'n ander wys. Die stroom vloei sterk in die teenoorgestelde rigting, en die een wat 'n kompromis met die kwaad aangaan, word weggevoer in die groot duisternis van die sonde. KE 758.4
Pilatus het toegegee aan die eise van die gepeupel. Liewer as om sy posisie in gevaar te stel, het hy Jesus oorgelewer om gekruisig te word. Maar ten spyte van sy versigtigheid, het juis wat hy gevrees het, later oor hom gekom. Sy eer is hom ontneem, hy het sy hoë pos verloor, en gefolter deur gewetenswroeging en gekweste hoogmoed, het hy kort ná die kruisiging selfmoord gepleeg. So sal almal wat 'n kompromis met die sonde aangaan net verdriet en ondergang oes. “Daar is n weg wat vir n mens reg lyk, maar die end daarvan is weë van die dood.” Spreuke 14: 12. KE 758.5
Toe Pilatus verklaar het dat hy onskuldig was aan die bloed van Christus, het Kajafas uitdagend gesê, “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom.” Hierdie woorde is nageskreeu deur die priesters en owerstes, en ook deur die skare met 'n onmenslike gedreun van stemme. Die hele skare het geantwoord en gesê, “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom.” KE 759.1
Die volk van Israel het sy keuse gemaak. Wysende na. Jesus, het J hulle gesê, “Nie hierdie man nie, maar Barabbas.” Barabbas, die rower en moordenaar, was die verteenwoordiger van die Satan. Christus is verwerp, en Barabbas is aangeneem. Barabbas sou hulle kry. Deur hierdie keuse te doen het hulle hom aangeneem wat van die begin af 'n leuenaar en moordenaar was. Die Satan was hulle leier. As volk sou hulle sy bevele uitvoer. Sy werke sou hulle doen. Sy regering sou hulle moet verduur. Die mense wat Barabbas gekies het in stede van Christus, sou die wreedheid van Barabbas voel solank as tyd sal duur. KE 759.2
Die Jode het die geslaande Lam van God aanskou, en uitgeroep, “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom.” Hierdie vreeslike woorde het tot die troon van God opgestyg. Die vonnis wat hulle op hulleself uitgespreek het, is in die hemel aangeteken. Daardie gebed is verhoor. Die bloed van die Seun van God was op hulle kinders, en hulle kindskinders, tot 'n ewige vloek. KE 759.3
Hulle het dit ondervind in die vreeslike verwoesting van Jerusalem, en ook in die vreeslike lyding van die Joodse volk vir agtienhonderd jaar soos n loot, afgesny van die wynstok, dood, vrugteloos, om versamel en verbrand te word. Van land tot land deur die hele wêreld, van eeu tot eeu sou hulle dood wees, dood in oortreding en sondes! KE 759.4
Op vreeslike wyse sal daardie gebed vervul word in die groot oor-deelsdag. Wanneer Christus weer na die aarde toe terugkom, sal dit nie wees soos n gevangene omring deur die gepeupel nie. Hulle sal Hom sien as die Koning van die hemel. Christus sal kom in Sy eie heerlikheid, en in die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. Tienduisendmaal tienduisend, en duisende en duisende van engele, die heerlike en oorwinnende seuns van God, wat alles oortreffende lieflikheid en heerlikheid besit, sal Hom begelei. Dan sal Hy op Sy heerlike troon sit, en voor Hom sal al die volke vergader wees. Dan sal elke oog Hom sien, ook die wat Hom deurboor het. Pleks van 'n doringkroon, sal Hy 'n kroon van heerlikheid dra —'n kroon binne-in 'n kroon. Pleks van die ou purpur mantel, sal Hy gekleed wees in die reinste wit —“wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.” Markus 9:3. Op Sy kleed en op Sy heup sal die Naam geskryf staan, “Die Koning van die konings en die Here van die here.” Openb. 19: 16. Diegene wat Hom bespot en geslaan het, sal daar wees. Die priesters en die owerstes, sal weer die toneel in die geregsaal sien. Al die besonderhede sal hulle weer sien asof dit in letters van vuur geskryf is. Diegene wat gebid het, “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom,” sal die antwoord op hulle gebed kry. Dan sal die hele wêreld weet en verstaan. Dan sal hulle besef teen wie hulle arme, swak, nietige mense oorlog gemaak het. In vreeslike angs en vrees sal hulle tot die berge en rotse roep, “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam: want die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Openb. 6: 16, 17. KE 759.5