Die Koning Van Die Eeue

71/88

“Die Geringstes van Hierdie Broeders van My”

WANNEER die Seun van die mens kom in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies bymekaargebring word, en Hy sal hulle van mekaar afskei.” So het Christus op die Olyfberg vir Sy dissipels die toneel van die groot oordeelsdag geskilder. Die uitspraak was afhanklik van een feit: Wanneer die nasies voor Hom vergader is, sal daar net twee klasse wees, en hulle ewige lot sal beslis word deur wat hulle vir Hom gedoen het, of nagelaat het om te doen, in die persoon van die armes en lydendes. KE 653.1

In daardie dag sal Christus nie aan die mense die groot werk voorstel wat Hy vir hulle gedoen het deur Sy lewe te gee vir hulle verlossing nie. Hy praat van die getroue werk wat hulle vir Hom gedoen het. Aan diegene wat Hy aan Sy regterhand gestel het, sê Hy, “Kom, julle geseëndes van My Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My iets gegee om te eet; Ek het dors gehad, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was nakend, en julle het My geklee;” Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.” Maar diegene wat Christus hier prys weet nie van hierdie dinge wat hulle vir Hom gedoen het nie. Op hulle vrae van verbasing antwoord Hy, “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” KE 653.2

Jesus het aan Sy dissipels gesê dat hulle deur alle mense gehaat sou wees, dat hulle vervolg sou word en sou ly. Baie sou uit hulle huise verjaag en in armoede gedompel word. Baie sou in eilende verkeer ten gevolge van siekte en ontbering. Baie sou in die gevangenis gewerp word. Aan almal wat hulle vriende en huise sou verlaat vir Sy ontwil, het Hy in hierdie lewe 'n honderdvoud belowe. Nou het Hy 'n spesiale seën verseker aan almal wat hulle broeders gedien het. In almal wat vir My Naam ontwil ly, het Jesus gesê, moet julle My sien. Net soos julle My sou dien, so moet julle hulle dien. Dit is die bewys dat julle My dissipels is. KE 654.1

Almal wat gebore is in die hemelse gesin is in 'n spesiale sin die broeders van onse Here. Die liefde van Christus is die band wat die lede van Sy gesin saambind, en waar daardie liefde geopenbaar word, daar ook word die goddelike verwantskap geopenbaar. “Elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.” 1 Joh. 4: 7. KE 654.2

Diegene wat Christus sal prys in die oordeel mag maar min teologie geken het, maar hulle het Sy beginsels liefgehad. Onder die invloed van die goddelike Gees was hulle 'n seën vir diegene rondom hulle. Selfs onder die heidene is daar diegene wat die gees van vriendelikheid gekoester het; nog voordat hulle die woorde van die lewe gehoor het, het hulle sendelinge bevriend en hulle gedien in lewensgevaar vir hulleself. Onder die heidene is daar diegene wat God onwetend dien, diegene aan wie die lig nie deur mense gebring is nie, maar hulle sal nie verlore gaan nie. Alhoewel hulle onbekend is met Gods geskrewe wet, het hulle Sy stem in die natuur tot hulle hoor spreek, en hulle het die dinge gedoen wat deur die wet vereis word. Hulle werke getuig dat die Heilige Gees hulle harte aangeraak het, en hulle word erken as kinders van God. KE 654.3

Hoe verras en bly sal die nederiges onder die volke wees, en onder die heidene, om van die lippe van die Verlosser te hoor, “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen”! Hoe bly sal die harte van ewige liefde wees wanneer Sy kinders so verras en bly opkyk as hulle Sy woorde van goedkeuring aanhoor! KE 654.4

Maar Christus se liefde is nie net tot sekere klasse beperk nie. Hy vereenselwig Hom met elke mensekind. Sodat ons lede van die hemelse gesin kan word, het Hy 'n lid van die aardse gesin geword. Hy is die Seun van die mens, en dus 'n broer van elke seun en dogter van Adam. Sy navolgers moet nie voel dat hulle los staan van die verloregaande wêreld rondom hulle nie. Hulle is deel van die groot weefsel van die mensdom; en die Hemel beskou hulle as broers van sowel sondaars as heiliges. Die gevallenes, die dwalendes, en die sondiges, almal word omhels deur Christus se liefde; en elke vriendelike daad vir die opheffing van 'n gevalle siel, elke daad van ontferming, word aangeneem asof dit aan Hom gedoen is. KE 655.1

Die engele van die hemel word uitgestuur as dienaars van diegene wat die saligheid sal beërf. Ons weet nie nou wie hulle is nie; dit is nog nie geopenbaar wie sal oorwin en wie deelgenote sal word van die erfdeel van die heiliges in die lig nie; maar engele van die hemel deurkruis die lengte en breedte van die aarde, soekende om die treu- rendes te vertroos, die wat in gevaar is, te beskerm, en die harte van mense tot Christus te win. Nie een word verwaarloos of verbygegaan nie. God is nie 'n aannemer van die persoon nie; Hy sorg vir al die siele wat Hy geskape het. KE 655.2

Waar u u deur oopmaak vir Christus se behoeftige en lydende kinders, verwelkom u ook onsigbare engele. U nooi die geselskap uit van hemelse wesens. Hulle bring 'n heilige atmosfeer van vreugde en vrede. Hulle kom met lof op hulle lippe, en daarop word in die hemel antwoord gegee. Elke daad van ontferming maak musiek daar. Daar op Sy troon reken die Vader die onselfsugtige werkers onder Sy kosbaarste skatte. KE 655.3

Diegene aan die linkerhand van Christus, diegene wat Hom verwaarloos het in die persoon van die armes en die lydendes, was nie bewus van hulle skuld nie. Die Satan het hulle verblind; hulle het nie besef wat hulle aan hulle broeders verskuldig is nie. Hulle was selfgtig en het hulle nie gesteur aan die behoeftes van ander nie. KE 655.4

Aan die rykes het God rykdom gegee sodat hulle Sy lydende kinders kon help en vertroos; maar so dikwels staan hulle gevoelloos teenoor die behoeftes van ander. Hulle voel dat hulle beter is as hulle arm broeders. Hulle stel hulle nie in die arm man se plek nie. Hulle verstaan nie die versoekings en stryd van die armes nie, en barmhartigheid sterf uit hulle harte uit. In duur woonhuise en in pragtige kerke sluit die rykes hulle af van die armes; die middels wat God aan hulle gegee het om die behoeftiges te seën, bestee hulle aan hulle eie hoogmoed en selfsug. Die armes word daeliks beroof van die onderrig wat hulle moet kry aangaande die barmhartigheid van God; want Hy het genoegsame voorsiening gemaak sodat hulle die vertroosting van die nodige lewensmiddels kan hê. Hulle word gedwing om die armoede te verduur wat die lewe vereng, en dikwels kom hulle in die versoeking om nydig te wees, en jaloers, en vol bose bedenkinge. Diegene wat self nie die druk van armoede gevoel het nie, bejeën die armes baie dikwels met veragting, en laat hulle voel dat hulle beskou word as bedelaars. KE 655.5

Maar Christus sien alles, en Hy sê, Dit is Ek wat honger en dors was. Dit is Ek wat 'n vreemdeling was. Dit is Ek wat siek was. Dit is Ek wat in die gevangenis was. Terwyl julle lekker geëet het van julle vol tafels, het Ek honger gely, in 'n krot, of dakloos op straat. Terwyl julle in gemak in julle mooi huise gesit het, het Ek geen plekkie gehad om My hoof neer te lê nie. Terwyl julle julle klerekaste vol duur klere gestop het, was Ek nakend. Terwyl julle julle plesier nagejaag het, het Ek gesit en kwyn in die gevangenis. KE 656.1

Het julle besef, toe julle die stukkie brood aan die hongerlydende armes gegee het, en die klere om iemand teen die koue te beskut, dat julle dit aan die Here van heerlikheid gegee het ? Julie hele lewe lank was Ek onder julle in die persoon van daardie beproef des, maar julle het My nie gesoek nie. Julle wou nie in gemeenskap met My kom nie. Ek ken julle nie. KE 656.2

Daar is baie wat voel dat dit 'n groot voorreg sal wees om die tonele van Christus se aardse lewe te besoek, om te loop waar Hy geloop het, om die meer te aanskou waar Hy so graag geleer het, en om te kyk na die berge en dale wat Sy oë so baiemaal aanskou het. Maar ons hoef nie na Nasaret, na Kapernaum, of Betanië te gaan om in die voetspore van Jesus te loop nie. Ons sal Sy voetspore vind by die siek- bed, in die krotte van armoede, in die woelige strate van 'n groot stad, en in elke plek waar daar menslike harte is wat behoefte het aan troosting. As ons sou doen wat Jesus gedoen het op die aarde, dan sal ons in Sy voetstappe wandel. KE 656.3

Daar is werk te doen vir almal. “Die armes het julle altyd by julle” Joh. 12: 8, het Jesus gesê, en niemand hoef te voel dat daar geen plekkie is waar hulle vir Hom kan werk nie. Daar is miljoene en miljoene siele wat op die punt staan om te beswyk, gebonde in die kettings van onkunde en sonde, en wat nog nooit gehoor het van Christus se liefde vir hulle nie. As ons met hulle plekke kon omruil, wat sou ons verlang dat hulle vir ons moet doen? Dit alles, sover ons by magte is om dit te doen, is ons onder verpligting om vir hulle te doen. Christus se lewensreël, waarby ons sal staan of val in die oordeel, is, “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen —net so moet julle aan hulle ook doen.” Matt. 7: 12. KE 657.1

Die Heiland het Sy kosbare lewe gegee om 'n kerk te stig wat in Staat sal wees om te sorg vir treurende, versoekte siele, 'n Groep gelowiges mag arm wees, ongeleerd, en onbekend; maar in Christus kan hulle 'n werk in die huis, in die buurt, en in die kerk doen, en selfs ook in “plekke anderkant hulle,” die gevolge waarvan so verreikend kan wees soos die ewigheid. KE 657.2

Dit is omdat hierdie werk verwaarloos word dat so baie jong dissipels nooit verder kom as die alfabet van die Christelike lewe nie. Die lig wat in hulle eie harte gebrand het toe Jesus aan hulle gesê het, “Jou sondes is jou vergewe,” kon hulle brandend gehou het deur die behoeftiges te help. Daardie rustelose energie wat so dikwels 'n bron van gevaar is vir jongmense, kan in kanale gestuur word wat in strome van seën sal vloei. Die eie-ek sal vergeet word in ernstige werk om goed te doen aan ander. KE 657.3

Diegene wat ander dien, sal bedien word deur die Opperherder. Hulle sal self drink van die lewegewende water en versadig word. Hulle sal nie hunker na opwindende plesier of vir 'n verandering in hulle lewe nie. Die onderwerp van die grootste belang sal wees hoe om die siele te red wat op die punt staan om te vergaan. Sosiale omgang sal voordelig wees. Liefde vir die Verlosser sal harte saam- snoer. KE 657.4

Wanneer ons besef dat ons medewerkers van God is, sal ons nie Sy beloftes in onverskilligheid verkondig nie. Hulle sal in ons harte brand en as vurige kole oor ons lippe kom. Aan Moses, wat geroep was om 'n onkundige, ongedissiplineerde, en opstandige volk te dien, het God die vraag gestel, “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?” En Hy het gesê, “Ek sal met jou wees.” Exod. 33: 14; 3: 12. Hierdie belofte geld vir almal wat in die plek van Christus werk vir Sy beproefde, lydende kinders. KE 657.5

Liefde vir die mens is die aardse openbaring van die liefde van God. Dit was om hierdie liefde in ons harte te bring, om ons kinders van een gesin te maak, dat die Koning van heerlikheid een met ons geword het. Wanneer Sy afskeidswoorde gehoorsaam word, “dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” Joh. 15: 12; wanneer ons die wêreld liefgehad het soos Hy dit liefgehad het, dan is Sy sending vir ons volbring. Ons is geskik vir die hemel, want ons het die hemel in ons harte. KE 658.1

“Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel — hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! — sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat jou lewe behoed, sal Hy dit nie weet nie? Want Hy vergeld die mens na sy werk.” Spreuke 24: 11, 12. In die groot oordeelsdag sal diegene wat nie vir Christus gewerk het nie, diegene wat deur die lewe gegaan en net aan hulleself gedink en vir hulleself gesorg het, deur die Regter van die hele aarde gestel word saam met die wat ongeregtigheid gedoen het. Dieselfde vonnis word oor hulle uitgespreek. KE 658.2

Aan elke siel is 'n pand toevertrou. Van elkeen sal die Opperherder verantwoording eis, “Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?” En: “Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees?” Jer. 13: 20, 21. KE 658.3