Die Koning Van Die Eeue

65/88

'n Gedoemde Volk

DIE triomfantlike intog van Christus in Jerusalem was maar 'n floue skaduwee van Sy koms op die wolke van die hemel met grote krag en heerlikheid, met gejuig van engele en heiliges. Dan sal die woorde van Christus aan priesters en Fariseërs vervul word: “Julie sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.” Matt. 23: 39. In 'n profetiese gesig is aan Sagaria die dag van finale sege getoon; ook het hy die verdoemenis gesien van diegene wat Christus by Sy eerste koms nie wou aanneem nie: “Hulle sal opsien na My wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.” Sagaria 12: 10. Hierdie toneel het Christus voorsien toe Hy die stad gesien en daaroor geween het. In die verwoesting van Jerusalem het Hy die uiteindelike verwoesting gesien van daardie mense wat skuldig was aan die bloed van die Seun van God. KE 590.1

Die dissipels het die haat van die Jode teenoor Christus gesien, maar hulle het nog nie gesien waartoe dit sou lei nie. Hulle het nog nie die ware toestand van Israel besef, of die vergelding verstaan wat Jerusalem sou tref nie. Dit het Christus aan hulle geopenbaar deur 'n voortreflike, aanskouelike les. KE 590.2

Die laaste oproep aan Jerusalem was tevergeefs. Die priesters en die owerstes het gehoor hoedat die volk die profetiese stem van die verlede weer laat weerklink het, in antwoord op die vraag, “Wie is hierdie man?” Maar hulle het dit nie aangeneem as die stem van Inspirasie nie. Met woede en verbasing het hulle geprobeer om die mense stil te maak. Daar was Romeinse offisiere onder die skare, en by hulle het Sy vyande Jesus aangekla as die leier van 'n rebellie. Hulle het gesê dat Hy op die punt gestaan het om die tempel in te neem en as koning in Jerusalem te regeer. KE 591.1

Maar die kalm stem van Jesus het die skare vir 'n oomblik stil- gemaak, toe Hy nog eens verklaar het dat Hy nie gekom het om n aardse koninkryk op te rig nie; dat Hy eerlank na Sy Vader toe sou opvaar, en dat Sy aanklaers Hom nie weer sou sien totdat Hy in heerlikheid sou kom nie. Dan, te laat vir hulle redding, sal hulle Hom erken. Hierdie woorde het Jesus met droefheid en met groot krag gespreek. Die Romeinse offisiere is stilgemaak en tot bedaring gebring. Hulle harte, hoewel hulle nie die goddelike invloed geken het nie, is aangeraak soos nog nooit tevore nie. In die kalm, ernstige gelaat van Jesus het hulle liefde, goedheid, en waardigheid gesien. Hulle is aangeraak deur 'n medelye wat hulle nie kon verstaan nie. Pleks dat hulle Jesus gearresteer het, was hulle meer geneig om Hom hulde te betoon. Hulle het hulle tot die priesters en owerstes gewend en hulle daarvan beskuldig dat hulle die oproer veroorsaak het. Hierdie leiers, gebelg en verslaan, het hulle tot mense gewend met hulle klagtes, en hulle het heftig onder mekaar begin stry. KE 591.2

In die tussentyd het Jesus ongemerk die tempel binnegegaan. Daar was alles stil, want die toneel op die Olyfberg het die mense daarheen gelok. Vir 'n kort tydjie het Jesus in die tempel vertoef en dit met droefheid betrag. Toe het Hy en Sy dissipels na Betanië teruggekeer. Toe die mense Hom soek om Hom op die troon te plaas, kon hulle Hom nie vind nie. KE 591.3

Jesus het daardie hele nag in gebed deurgebring, en die oggend het Hy weer na die tempel teruggegaan. Op weg is hy by 'n vyeboord verby. Hy was honger. “Toe Hy op 'n afstand n vyeboom met blare sien, het Hy daarnatoe gegaan in die hoop om iets daaraan te kry; en toe Hy daarby.kom, kry Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.” KE 591.4

Dit was nie die tyd vir ryp vye nie, behalwe in sekere dele; en op die hooglande rondom Jerusalem kon daar tereg gesê word, “Dit was nie die tyd van vye nie.” Maar in die boord waar Jesus gekom het, het dit gelyk of een van die bome die ander voor was. Dit was alreeds bedek met blare. Dit is die aard van die vyeboom dat die vrug voor die blare verskyn. Hierdie boom wat reeds in volle bloei was, het die vermoede geskep dat daar ook ryp vrugte aan kon wees. Maar sy voorkoms was bedrieglik. Jesus het al die takke deursoek, maar Hy het “niks as blare” gekry nie. Daar was 'n massa van blare, en niks meer nie. KE 592.1

Christus het die boom as volg vervloek: “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie!” Die volgende more, toe Jesus en Sy dissipels weer op weg was na die stad, het die hangende takke en verlepte blare hulle aandag getrek. “Rabbi,” het Petrus gesê, “kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” KE 592.2

Christus se vervloeking van die vyeboom het Sy dissipels verbaas. Dit was nie Sy manier van handel soos hulle Hom geken het nie. Dikwels het hulle Hom hoor sê dat Hy nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered sou word. Hulle het Sy woorde onthou: “Die Seun van die mens het nie gekom om die mense se siele te verderf nie, maar te red.” Lukas 9: 56. Hy het Sy wonderwerke gedoen om te herstel, maar nooit om te vernietig nie. Die dissipels het Hom geken alleen as die Hersteller en die Geneser. Hierdie daad het alleen gestaan. Wat sou dan die doel daarvan wees? het hulle gewonder. KE 592.3

God het 'n “welbehae in goedertierenheid.” “So waar as Ek leef! spreek die Here Here: Gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie.” Miga 7: 18; Eseg. 33: 11. Vir Hom is die werk van vernietiging en van veroordeling “vreemd.” (Jes. 28: 21.) Maar dit is in genade en liefde dat Hy die sluier van die toekoms wegtrek, en aan mense die gevolge van n loopbaan van sonde toon. KE 593.1

Die vervloeking van die vyeboom was n aanskouelike gelykenis. Daardie boom sonder vrugte, wat met sy bedrieglike blare in die aangesig van Christus gespog het, was 'n simbool van die Joodse volk. Die Heiland wou dit duidelik aan Sy dissipels stel wat die oorsaak van die gewisse verdoemenis van Israel was. Vir hierdie doel het hy sedelike eienskappe aan die boom toegeskryf, en dit gebruik om goddelike waarheid te leer. Die Jode het as 'n afsonderlike volk uitgestaan onder die ander nasies, en het getrouheid aan God bely. Hulle is spesiaal deur Hom begunstig, en bo alle ander volke het hulle aanspraak gemaak op geregtigheid. Maar hulle was verdorwe deur hebsug en liefde vir die wêreld. Hulle het gespog met hulle kennis, maar was onkundig ten opsigte van die vereistes van God, en hulle was vol huigelary. Soos daardie vyeboom sonder vrugte het hulle hulle spoggerige takke in die lug gesteek, vol weelderige blare, en uiterlik baie mooi, maar hulle het “niks as blare” gedra nie. Die Joodse godsdiens, met sy pragtige tempel, sy heilige altare, sy priesters en indruk-wekkende seremonies, was inderdaad uiterlik mooi, maar nederigheid, liefde, en weldadigheid het ontbreek. KE 593.2

Al die bome in daardie vyeboord was sonder vrugte; maar die bladlose bome het nie verwagtings laat ontstaan nie, en dus ook geen teleurstelling nie. Hierdie bome het die heidene voorgestel. By hulle was daar net so 'n gemis aan godsaligheid as by die Jode; maar hulle het nie voorgegee dat hulle God gedien het nie. Hulle het nie gespog met goedheid nie. Hulle was blind vir die werke en weë van God. By hulle was dit nog nie tyd vir vye nie. Hulle het nog gewag op n dag wat lig en hoop aan hulle sou bring. Die Jode wat groter seëninge van God ontvang het, is verantwoordelik gehou vir hulle misbruik van daardie gawes. Die voorregte waarmee hulle gespog het, het hulle skuld net groter gemaak. KE 593.3

Jesus het honger na die vyeboom gekom om voedsel te vind. So het Hy ook na Israel gekom, hongerig om by hulle die vrugte van geregtigheid te vind. Hy het Sy gawes mildelik aan hulle gegee, sodat hulle vrugte kon voortbring vir die seën van die wêreld. Elke kans en geleentheid is aan hulle gegee, en op Sy beurt het Hy van hulle medelyde en samewerking verwag in Sy werk van genade. Hy het verlang om die gees van selfopofïering en barmhartigheid te sien, 'n ywer tot God, en 'n sielsverlange na die redding van hulle medemens. As hulle die wet van God gehou het, sou hulle dieselfde onselfsugtige werke gedoen het wat Christus gedoen het. Maar liefde vir God en mens is verduister deur hoogmoed en selfvoldaanheid. Hulle het hulle eie ondergang bewerk deur te weier om vir ander te werk. Die skatte van waarheid wat God aan hulle toevertrou het, het hulle nie aan die wêreld gegee nie. In daardie boom sonder vrugte kon hulle hulle eie sonde en die straf daarop lees. Verdor onder die vloek van die Heiland, verskroei en verdor van die wortels af op, het die vyeboom getoon wat die Joodse volk sou word wanneer God Sy genade aan hulle onttrek. Deur te weier om hulle seëninge met ander te deel, sou hulle geen seën meer ontvang nie. “Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.” Hosea 13: 9. KE 594.1

Die waarskuwing geld vir alle tye. Christus se vervloeking van die vyeboom wat deur Sy eie krag gemaak is, staan as waarskuwing vir alle kerke en vir alle Christene. Niemand kan die wet van God uitleef sonder om ander te dien nie. Maar daar is baie wat nie Christus se barmhartige en onselfsugtige lewe uitlewe nie. Sommige wat dink dat hulle uitmuntende Christene is, weet nie waaruit diens vir God bestaan nie. Hulle maak planne en lê hulle daarop toe om hulleself te behaag. Hulle handel alleen om die eie-ek te dien. Die tyd het vir hulle waarde alleen wanneer hulle voordele vir hulleself kan insamel. In al hulle handelinge van die lewe is dit hulle hoofdoel. Hulle werk nie vir ander nie, maar vir hulleself. God het hulle geskape om te lewe in 'n wêreld waar onbaatsugtige diens gedoen moet word. Hy het vir hulle beoog dat hulle hulle medemens op alle ma- niere moet help. Maar die eie-ek het so groot geword dat hulle niks anders meer kan sien nie. - Hulle is nie meer in voeling met die mensdom nie. Diegene wat so vir hulleself lewe, is soos daardie vyeboom wat groot aanspraak gemaak het, maar geen vrugte gedra het nie. Hulle kom die vorm van die godsdiens na, maar is sonder bekering of geloof. Hulle gee voor om die wet van God te eerbiedig, maar hulle gehoorsaam dit nie. Hulle se, maar hulle doen nie. Die oordeel wat oor die vyeboom uitgespreek is, demonstreer hoe haatlik hulle geveinsdheid in Christus se oë is. Hy verklaar dat die volslae sondaar minder skuldig is as diegene wat bely dat hulle God dien en tog geen vrugte tot Sy heerlikheid voortbring nie. KE 594.2

Die gelykenis van die vyeboom, gespreek vóór Christus se besoek aan Jerusalem, staan in regstreekse verband met die les wat Hy geleer het in die vervloeking van die vrugtelose boom. Vir die vrugtelose boom van die gelykenis het die tuinier gepleit: Laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom ander jaar uitkap. Meer sorg sou bestee word aan die vrugtelose boom. Alles moontlik moes daarvoor gedoen word. Maar as dit dan nog geen vrugte dra nie, sou niks dit kon red van vernietiging nie. In die gelykenis word nie vertel wat die uitwerking van die tuinier se verdere sorg was nie. Dit het afgehang van die mense tot wie Christus se woorde gespreek is. Hulle is voorgestel deur die vrugtelose boom, en dit het by hulle berus om hulle eie lot te beslis. Elke seën wat die hemel kon gee, is aan hulle gegee, maar hulle het daardie seëninge nie tot voordeel gebruik nie. Deur Sy vervloeking van die byeboom het Christus die resultaat getoon. Hulle het hulle eie ondergang bewerk. KE 595.1

Vir meer as 'n duisend jaar het die Jode Gods genade misbruik en Sy oordele uitgelok. Hulle het Sy waarskuwings verwerp en Sy profete doodgemaak. Vir daardie sondes het die mense van Christus se tyd hulle ook verantwoordelik gemaak omdat hulle dieselfde weg ingeslaan het. Die skuld van daardie geslag was daarin geleë dat hulle die seëninge en die waarskuwings wat hulle ontvang, verwerp het. Die kettings wat die volk vir eeue gesmee het, het die mense van Christus se tyd aan hulle eie hande geslaan. KE 595.2

In elke eeu word daar aan mense hulle tydperk van verligting en voorregte gegee, 'n proeftyd waarin hulle met God versoen kan raak. Maar daar kom 'n einde aan daardie tyd van genade. Genade mag vir jare aangebied en tog verwerp word; maar daar kom 'n tyd wanneer genade vir die laaste maal pleit. Die hart word so verhard dat dit nie langer gehoorgee aan die Gees van God nie. Daarna pleit daardie soete en minsame stem nie langer meer met die sondaar nie, en die vermanings en waarskuwings hou op. KE 595.3

Daardie dag het vir Jerusalem aangebreek. Jesus het in droefheid geween oor die gedoemde stad, maar Hy kon haar nie red nie. Hy het alles gedoen wat Hy kon. Deur die waarskuwings van Gods Gees te verwerp, het Israel sy enigste redmiddel verwerp. Daar was geen ander mag waardeur hulle verlos kon word nie. KE 596.1

Die Joodse volk was 'n simbool van die mense van alle eeue wat die pleitstem van Ewige Liefde verag. Die trane van Christus, toe Hy oor Jerusalem geween het, was vir die sondes van alle eeue. In die oordele wat oor Israel uitgespreek is, mag ook diegene wat die waarskuwing van Gods Heilige Gees verwerp, hulle eie veroordeling lees. KE 596.2

In hierdie geslag is daar baie wat dieselfde grond betree as die on- gelowige Jode. Hulle het die openbarings van Gods krag gesien; die Heilige Gees het tot hulle harte gespreek; maar hulle volhard in hulle ongeloof en weerstand. God stuur aan hulle waarskuwings en bestraffings, maar hulle is onwillig om hulle foute te erken, en hulle verwerp Sy boodskap en Sy boodskapper. Die juiste middel wat Hy gebruik vir hulle bekering, word vir hulle 'n steen des aanstoots. KE 596.3

Afvallige Israel het die profete van God gehaat omdat hulle ver-borge sondes deur die profete geopenbaar is. Agab het Elia beskou as sy vyand omdat die profeet getrou was om die koning se geheime sondes te bestraf. So ook vandag het die dienaar van Christus, die bestraffer van die sonde, te kampe met veragting en beledigings. By- belse waarheid, die godsdiens van Christus, moet stry teen 'n sterk stroom van sedelike onreinheid. Vooroordeel is vandag selfs sterker in die harte van mense as in die tyd van Christus. Christus het nie die verwagtings van mense vervul nie; Sy lewe was 'n bestraffing van hulle sondes, en hulle het Hom verwerp. En so ook vandag stem die waarheid van Gods Woord nie ooreen met die handelwyse van mense en hulle natuurlike neigings nie, en duisende verwerp die lig daarvan. Mense, aangepor deur die Satan, betwyfel Gods Woord en verkies hulle eie onafhanklike oordeel. Hulle verkies die duisternis liewer as die lig, maar hulle doen dit met lewensgevaar vir hulle eie siele. Diegene wat fout gesoek het met Christus se woorde, het steeds meer rede gesoek vir vitterigheid totdat hulle uiteindelik hulle rug gekeer het op die Waarheid en die Lewe. So gaan dit vandag ook. God is nie voornemens om elke beswaar uit die weg te ruim wat die vleeslike hart teen Sy waarheid mag inbring nie. Vir diegene wat die kosbare lig- strale weier wat die duisternis vir hulle sou verlig het, bly die verbor- genhede van Gods Woord vir altyd onopgelos. Die waarheid is vir hulle bedek. Hulle wandel soos blindes, onbewus van die ondergang wat hulle wag. KE 596.4

Vanaf die top van die Olyfberg het Christus die wêreld van alle eeue gesien; en Sy woorde is toepaslik op elke siel wat die pleitstem van goddelike genade veronagsaam. Veragter van Sy liefde, Hy spreek tot jou vandag. Dit is jy, “ja ook in hierdie dag van jou,” wat die dinge moet weet wat tot jou vrede dien. Christus stort bitter träne oor jou jy wat geen trane het om oor jouself te stort nie. Daardie dodelike hardheid van hart wat die ondergang van die Fariseërs was, is ook in jou. En elke bewys van Gods genade, elke straal van goddelike lig, is òf besig om jou hart te smelt en te versag, òf om dit in hopelose onboetvaardigheid te bevestig. KE 597.1

Christus het voorsien dat Jerusalem verhard en onboetvaardig sou bly; maar al die skuld, en al die gevolge van genade wat verwerp is, daarvoor was hy self verantwoordelik. So sal dit ook wees met elke siel wat dieselfde weg bewandel. Die Here het gesê: “Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.” “Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na My woorde het hulle nie geluister nie, en My wet, die het hulle verwerp.” Hosea 13: 9; Jer. 6: 19. KE 597.2