Die Koning Van Die Eeue

63/88

Die Maaltyd in Simon se Huis

SIMON van Betanië is beskou as 'n dissipel van Jesus. Hy was een van die paar Fariseërs wat openlik by Christus se navolgers aangesluit het. Hy het Jesus erken as 'n leraar, en gehoop dat Hy die Messias mag wees, maar hy het Hom nie aangeneem as Verlosser nie. Sy karakter het nie verander nie, en ook nie sy beginsels nie. KE 565.1

Simon is genees van melaatsheid, en dit was die rede waarom hy hom tot Jesus aangetrokke gevoel het. Hy wou graag sy dankbaarheid toon, en tydens Christus se laaste besoek aan Betanië, het hy 'n maaltyd berei vir die Heiland en Sy dissipels. Die maaltyd het baie van die Jode daar byeengebring. Daar was in hierdie tyd groot opwinding in Jerusalem. Christus en Sy sending het nou meer aandag as tevore getrek. Diegene wat na die maaltyd gekom het, het Sy bewegings stip dopgehou, en sommige van hulle het dit met onvriendelike oë gedoen. KE 565.2

Die Heiland het in Betanië gekom ses dae vóór die Paasfees, en volgens gewoonte het Hy gaan rus by die huis van Lasarus. Die skare van reisigers wat daarlangs is op weg na die stad het die nuus versprei dat Hy op weg was na Jerusalem, en dat Hy vir die Sabbat sou oorbly in Betanië. Daar het groot geesdrif geheers onder die mense. Baie “het na Betanië gestroom, sommige uit medelyde met Jesus, en ander uit nuuskierigheid om die een te sien wat uit die dode opgewek is.” KE 565.3

Baie het verwag om van Lasarus te hoor van wonderbaarlike tonele wat hy gesien het in sy dood. Hulle was verbaas dat hy hulle niks kon vertel nie. Hy het niks gehad om te vertel nie. Die Bybel sê, “Die dooies weet glad niks nie. . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle ywer, het lankal verdwyn.” Pred. 9:5, 6. Maar Lasarus het op wonderbaarlike wyse getuig van die werk van Christus. Hy is uit die dode opgewek vir daardie doel. Met sekerheid en krag het hy verklaar dat Jesus die Seun van God is. KE 566.1

Die berigte wat teruggeneem is na Jerusalem deur die besoekers by Betanië het die opwinding groter gemaak. Die mense was gretig om Jesus te sien en te hoor. Die algemene vraag was of Lasarus Hom sou vergesel na Jerusalem, en of die Profeet tydens die Paasfees gekroon sou word as koning. Die priesters en die owerstes het gesien dat hulle gesag oor die volk nog steeds verminder het, en hulle woede teen Jesus het meer verbitterd geword. Hulle kon skaars wag vir die geleentheid om Hom vir ewig uit die weg te ruim. Met verloop van tyd het hulle begin vrees dat Hy miskien nie na Jerusalem sou kom nie. Hulle het onthou hoeveel maal Hy al hulle moordplanne verydel het, en hulle was bang dat Hy nou weer hulle planne teen Hom agtergekom het, en sou wegbly. Hulle kon hulle angs skaars verberg, en hulle het onder mekaar gevra, “Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?” KE 566.2

Die priesters en Fariseërs het 'n vergadering belê. Sedert die opwekking van Lasarus was die gevoel van die volk so sterk ten gunste van Christus dat dit 'n waagstuk sou gewees het om Hom in die openbaar gevange te neem. Daarom het die gesaghebbendes besluit om Hom heimelik te arresteer en die verhoor so stil moontlik te laat geskied. Hulle het gehoop dat die wispelturige openbare mening weer in hulle guns sou swaai sodra Sy veroordeling bekend word. KE 566.3

Dus het hulle besluit om Jesus te vernietig. Maar solank Lasarus nog lewe, het die priesters en rabbi's gevoel dat hulle posisie nie veilig was nie. Die opwekking van 'n man wat vier dae in die graf was, sou vroeër of later reaksie bring. Die volk sou hulle wreek op hulle leiers omdat hulle die lewe geneem het van die Een wat so 'n wonder kon doen. Die Sanhedrin het derhalwe besluit dat Lasarus ook moet sterf. Dit is die uiterstes waartoe jaloesie en vooroordeel hulle slawe lei. Die haatdraendheid en ongeloof van die Joodse leiers het toegeneem, sodat hulle selfs die lewe sou neem van die een wat deur Gods almag uit die graf verlos is. KE 566.4

Terwyl hulle besig was om hierdie planne te smee in Jerusalem, is Jesus en Sy vriende genooi na die maaltyd by Simon se huis. Aan tafel het die Heiland gesit met Simon wat Hy van melaatsheid genees het aan die een kant, en Lasarus wat Hy uit die dode opgewek het aan die ander kant. Martha het by die tafel bedien, maar Maria het met erns geluister na elke woord van die lippe van Jesus. Deur Sy genade het Jesus haar sondes vergewe; Hy het haar geliefde broer uit die dode opgewek, en Maria se hart was vervul met dankbaarheid. Sy het Jesus hoor praat van Sy naderende dood, en uit haar diepe liefde en droefheid wou sy aan Hom eer bewys. Teen groot persoonlike opoffering het sy 'n albaste-fles “kosbare nardussalf” gekoop om Sy liggaam mee te salf. Maar nou het sy baie mense hoor sê dat Hy as koning gekroon sou word. Haar droefheid het in vreugde verander, en sy wou graag eerste wees om haar Here te vereer. Sy het die fles met salf gebreek en die inhoud daarvan op die hoof en voete van Jesus uitgegiet; en toe het sy, wenende, neergekniel en Sy voete met haar trane natgemaak en dit met haar lang, golwende hare afgedroog. KE 567.1

Sy het geprobeer om dit ongemerk te doen, en miskien sou sy dit reggekry het, maar die heerlike geur van die salf het die hele kamer vervul, en haar daad aan almal verraai. Judas het hierdie daad met misnoeë aanskou. Pleks van te wag en te hoor wat Christus daarvan sou sê, het hy begin kla teenoor diegene langs hom, en hy het Christus dit kwalik geneem omdat Hy sulke verkwisting toegelaat het. Op listige wyse het hy dinge gesê wat moontlik ontevredenheid kon veroorsaak. KE 567.2

Judas het die beurs gedra vir die dissipels, en van die bietjie geld het hy vir homself gesteel, sodat daar vir hulle baie min oor was. Hy was gretig om alles wat hy in die hande kon kry in die beurs te plaas. Daar is dikwels van die geld gebruik om die armes te help, en wanneer iets wat Judas as onnodig beskou het, gekoop is, het hy altyd gesê: Waarom hierdie verkwisting? Waarom is die waarde van die goed nie in die beurs gestort wat ek vir die armes dra nie? Hierdie daad van Maria het so afgesteek by sy selfsug dat hy in die skande gesteek is, en soos hy gewoond was, het hy 'n gegronde rede probeer gee vir sy beswaar teen haar gawe. Hy het hom tot die dis sipels gewend en gevra: “Waarom is hierdie salf nie verkoop vir driehonderd pennings en die geld vir die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy 'n dief was en die beurs gehad het en van die bydraes geneem het.” Judas het geen gevoel vir die armes gehad nie. As Maria se salf verkoop sou gewees het en die geld in sy besit gekom het, sou die armes daar niks van gesien het nie. KE 567.3

Judas het 'n hoë dunk gehad van sy eie bekwaamheid om sake te bestuur. As finansier het hy gemeen dat hy uitgemunt het bokant sy mededissipels, en hy het hulle beweeg om ook so oor hom te dink. Hy het hulle vertroue gewin, en hy het groot invloed oor hulle gehad. Sy geveinsde jammerhartigheid vir die armes het hulle bedrieg, en sy listige skimp het hulle beweeg om Maria se liefde met agterdog te bejeën. Rondom die tafel is daar gemompel, “Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld vir die rmes gegee gewees het.” KE 568.1

Maria het hierdie woorde van kritiek gehoor. Sy het in haar binneste gebewe. Sy was bevrees dat haar suster haar sou bestraf vir haar spandabelheid. Ook die Meester mag dink dat sy spandabelrig is. Sonder verskoning of ekskuus wou sy wegsluip, toe sy die stem van haar Here hoor, “Laat haar staan, waarom maak julle vir haar dit moeilik?” Hy het gesien dat sy baie verleë en ongemaklik gevoel het. Hy het geweet dat sy deur hierdie daad getuig het van haar dankbaarheid vir die vergifnis van haar sondes, en Hy het haar gerus gestel. Sodat Sy stem gehoor kon word bokant die gemompelde kritiek, het Hy gesê, “Sy het n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al My liggaam vir die begrafnis gesalf.” KE 568.2

Die welriekende gawe wat Maria gemeen het om uit te giet op die lewenlose liggaam van die Hpiland, het sy nou op Sy lewende liggaam uitgegiet. By die begrafnis sou die soete geur maar net die graf vervul het; maar nou het dit Sy hart blygemaak met die versekering van haar geloof en liefde. Josef van Arimathea en Nikodemus het nie hulle liefdegawe aan Jesus geoffer in Sy lewe nie. Met bittere trane het hulle hulle kosbare salf gebring vir Sy koue, lewenlose liggaam. Die vroue wat hulle speserye na die graf gebring het, het dit tevergeefs gedoen, want Hy was nie meer in die graf nie. Maar Maria wat haar liefde aan die Heiland bewys het terwyl Hy dit kon sien, het Hom gesalf vir die begrafnis. Toe Hy in die duisternis van Sy groot beproewing ingaan, het Hy aan daardie daad gedink —'n pand van die liefde van die verlostes wat Syne vir altyd sal wees. KE 568.3

Daar is vele wat hulle kosbare gawes vir die dode bring. Waar hulle by die koue, stille liggaam staan, spreek hulle vryelik woorde van liefde. Tederheid, waardering, liefde — dit alles word uitgestort op een wat niks kan sien of hoor nie. As daardie woorde sou gespreek gewees het toe die vermoeide gees hulle so bitter nodig gehad het, toe die oor nog kon hoor en die hart nog kon voel, hoe kosbaar sou hulle soete geur dan gewees het! KE 570.1

Maria het self nie die volle betekenis van haar liefdedaad begryp nie. Sy sou haar beskuldigers nie kon geantwoord het nie. Sy sou nie kon verklaar waarom sy juis daardie geleentheid gebruik het vir die salwing van Jesus nie. Die Heilige Gees het haar gelei, en sy het Sy leiding gehoorsaam. Die ingewing buig hom nie neer om redes te gee nie. Dit is 'n onsigbare teenwoordigheid wat tot die verstand en die siel spreek en die hart beweeg tot dade. Hy is sy eie regverdiging. KE 570.2

Christus het die betekenis van Maria se daad verklaar, en deur dit te doen, het Hy haar meer gegee as wat Hy ontvang het. “Toe sy hierdie salf op My liggaam uitgegooi het,” het Hy gesê, “het sy dit gedoen met die oog op My begrafnis.” Net soos die albaste-fles gebreek is en die hele huis met die soet geur vervul het, so sou Christus sterf; Sy liggaam sou verbreek word; maar Hy sou uit die graf opstaan en die geur van Sy lewe sou die hele aarde vervul. Christus het ons liefgehad en Hom vir ons oorgegee “as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.” Efe. 5: 2. KE 570.3

“Voorwaar Ek sê vir julle,” het Christus gesê, “orals waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.” Waar Hy in die toekoms gesien het, het die Heiland met sekerheid gepraat aangaande Sy evangelie. Dit sou verkondig word oor die hele wêreld. En so ver as die evangelie verbrei sou word, sou die lieflike geur van Maria se gawe afgegee, en harte geseën word deur haar ongekunstelde daad. Koninkryke sou verrys en ten gronde gaan; die name van konings en veroweraars sou vergeet word; maar die daad van hierdie vrou sou verewig word in die gewyde geskiedenis. Tot die einde van tyd sou die albaste-fles die storie vertel van die grenslose liefde van God vir 'n gevalle geslag. KE 570.4

Maria se daad sou baie skerp afsteek by die werk wat Judas op die punt gestaan het om te doen. Hoe hard kon Christus die een bestraf het wat die saad van kritiek en bose gedagtes geplant het in die harte van die dissipels! Met watter regverdigheid kon Hy die aanklaer aangekla het! Hy wat die motiewe van elke hart kan sien, en elke daad verstaan, kon daar by die fees die duister hoofstukke in die lewe van Judas geopenbaar het. Die huigelagtige voorwendsel waarmee die verraaier sy woorde wou stut, kon geopenbaar gewees het; want in stede van werklik met die armes te simpatiseer, het hy die geld gesteel wat vir die leniging van hulle lot bestem was. Gevoelens van verontwaardiging kon teen hom aangeblaas gewees het oor sy verdrukking van die weduwee, die wees, en die dagloner. Maar as Christus Judas ontmasker het, sou dit aangevoer gewees het as die rede vir sy verraad. En al sou hy as dief beskuldig gewees het, sou Judas simpatiseerders gevind het, selfs onder die dissipels. Die Heiland het hom nie beskuldig nie, en so is daar nie aan hom 'n ekskuus gegee vir sy verraad nie. KE 571.1

Maar die deurdringende aanblik van Jesus het Judas oortuig dat die Heiland sy huigelary gesien, en sy gemene, veragtelike karakter gelees het. In die aanprysing van Maria se daad wat so hard veroordeel is, het Christus Judas bestraf. Vóór daardie tyd het die Heiland hom nooit regstreeks bestraf nie. Hierdie bestraffing het hom verbitterd in sy hart laat voel. Hy het besluit dat hy hom op Christus sou wreek. Van die avondmaal is hy reguit na die paleis van die hoë- priester, waar hy die raad in sitting gevind het, en hy het aangebied om Jesus in hulle hande te verraai. KE 571.2

Die priesters was baie bly. Hierdie leiers van Israel het die voorreg gehad om Christus aan te neem as hulle Verlosser, sonder geld en sonder prys. Maar hulle het die kosbare gawe geweier wat hulle aangebied is in die gees van die grootste liefde. Hulle het die verlossing geweier wat kosbaarder is as goud, en hulle het hulle Here gekoop vir dertig silwerstukke. KE 571.3

Judas het so toegegee aan hebsug dat dit alles wat goed was in sy karakter oorwin het. Hy het Christus nie die offergawe gegun wat aan Hom gebring is nie. Sy hart het gebrand van jaloesie dat die Heiland die ontvanger sou wees van 'n gawe geskik vir die konings van die aarde. Vir n bedrag, veel minder as die waarde van die fles nardus- salf, het hy sy Here verraai. KE 571.4

Die dissipels was nie soos Judas nie. Hulle het die Heiland liefgehad. Maar hulle het nie Sy verhewe karakter reg begryp nie. As hulle besef het wat Hy vir hulle gedoen het, sou hulle gevoel het dat niks wat aan Hom gegee word, verkwis is nie. Die wyse manne uit die Ooste, wat so min van Jesus geweet het, het 'n beter besef gehad van die eer wat Hom toegekom het. Hulle het kosbare gawes aan die Heiland gebring en Hom hulde betoon toe Hy nog 'n kindjie was daar in die krip. KE 572.1

Christus waardeer eerbewyse wat uit die hart kom. As iemand Hom 'n guns bewys het, het Hy met hemelse hoflikheid die gewer geseën. Die eenvoudigste blommetjie, gepluk deur kinderhandjies en Hom in liefde aangebied, het Hy nie geweier nie. Hy het die offergawes van die kinders aangeneem, die gewers geseën, en hulle name in die boek van die lewe geskryf. In die Skrifte is Maria se salwing van Jesus aangeteken sodat sy onderskei is van al die ander Marias. Dade van liefde en verering van Jesus is bewys van geloof in Hom as die Seun van God. Die Heilige Gees noem as bewys van 'n vrou se getrouheid aan Christus, die volgende: “As sy . . . die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp het en elke goeie werk na- gestreef het.” 1 Tim. 5: 10. KE 572.2

Christus het Hom verheug in die ywerige strewe van Maria om die wil van haar Here te doen. Hy het die rykdom van die reine liefde aangeneem wat Sy dissipels nie verstaan het en nie wou verstaan nie. Die begeerte wat Maria gehad het om hierdie werk vir haar Here te doen, was van meer waarde vir Christus as al die kosbare salf in die hele wêreld, want dit het getuig van haar waardering van die Verlosser van die wêreld. Die liefde van Christus was die drang in haar. Die uitnemendheid van die karakter van Christus het haar siel vervul. Die salf was 'n simbool van die hart van die gewer. Dit was die uiterlike demonstrasie van 'n liefde gevoed deur hemelse strome totdat dit die walle oorstroom het. KE 572.3

Die werk van Maria was juis die les wat die dissipels nodig gehad het om aan hulle te toon dat die uitdrukking van hulle liefde vir Chrisstus vir Hom welbehaaglik sou gewees het. Hy was vir hulle alles, en hulle het nie besef dat hulle Hom eerlank nie meer by hulle sou hê nie, en dat hulle dan nie bewys sou kon gee van hulle dankbaarheid vir Sy groot liefde nie. Die eensaamheid van Christus, geskei van die hemelse howe, en lewende soos 'n mens, is nooit deur die dissipels behoorlik verstaan en gewaardeer nie. Hy was dikwels teleurgestel omdat Sy dissipels nie aan Hom gegee het wat Hy van hulle moes gekry het nie. Hy het geweet dat as hulle onder die invloed verkeer het van die hemelse engele wat Hom vergesel het, hulle ook geen offer as van te groot waarde sou geag het om uitdrukking te gee aan die geestelike liefde van hulle harte nie. KE 572.4

Hulle latere kennis het hulle 'n ware besef gegee van baie dinge wat hulle vir Jesus kon gedoen het as bewys van die liefde en waardering van hulle harte terwyl hulle naby Hom was. Toe Jesus nie meer by hulle was nie, en hulle inderwaarheid gevoel het soos skape sonder 'n herder, het hulle begin sien hoe hulle dienste aan Hom kon bewys het wat Sy hart bly sou gemaak het. Hulle het Maria dit nou nie meer kwalik geneem nie, maar die blaam op hulleself geneem. O, as hulle maar net daardie woorde kon terugtrek, waar hulle die armes voorgestel het as meer waardig om die gawe te ontvang as Christus! Hulle het die bestraffing baie diep gevoel toe hulle die gebroke liggaam van hulle Here van die kruishout verwyder het. KE 573.1

Ons sien dieselfde leemte in ons wêreld vandag. Daar is maar min wat alles besef wat Christus vir hulle is. As hulle dit wel besef het, sou liefde soos die groot liefde van Maria weer gesien word, en die salwing sal meer vryelik geskied. Die gawe van die kosbare salf sou nie verkwisting genoem word nie. Niks sou te kosbaar geag word vir Christus nie, geen selfverloëning of opoffering sou as te swaar geag word vir Sy ontwil nie. KE 573.2

Die woorde wat met verontwaardiging gespreek is, “Waarvoor is hierdie verkwisting?” het helder voor Chriscus se gees die grootste opoffering gebring wat nog ooit gemaak is — die gawe van Homself as versoening vir 'n verlore wêreld. Die Here sou so goedgesind wees teenoor die mensekinders dat daar nooit gesê sal kan word dat Hy nog meer kon gedoen het nie. In die gawe van Jesus het God die hele hemel gegee. Uit 'n menslike oogpunt beskou, was so 'n gawe onverantwoordelike verkwisting. Vir die menseverstand is die hele verlossingsplan n verkwisting van genade en rykdom. Selfverloëning en heelhartige opoffering is altyd daar vir ons. Wel mag die leërskare van die hemel met verbasing die mensdom aanskou wat weier om verhef en verryk te word deur die grenslose liefde geopenbaar in Christus. Wel mag hulle uitroep, Waarvoor is hierdie verkwisting? KE 573.3

Maar die versoening vir 'n verlroe wêreld sou volledig, oorvloedig, en volkome wees. Die offer van Christus was so oorvloedig dat dit elke siel wat God geskape het, kon bereik. Dit was so onbeperk dat dit genoegsaam is vir almal wat die groot Gawe wil aanneem. Alle mense word nie gered nie; maar nogtans is die verlossingsplan nie 'n verkwisting omdat dit nie alles doen waarvoor dit so mildelik voorsie- ning maak nie. Daar sou genoeg en meer as genoeg wees. KE 574.1

Simon, die gasheer, was ook beïnvloed deur die kritiek van Judas op Maria se gawe, en hy was verbaas oor die gedrag van Jesus. Sy I'arisese trots is gekwes. Hy het geweet dat baie van sy gaste Christus met agterdog en misnoeë bejeën het. Simon het in sy hart gesê, “Hy, as Hy n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is 'n sondares.” KE 574.2

Deur Simon van sy melaatsheid te genees, het Christus hom gered van 'n lewende dood. Maar nou het Simon getwyfel of die Heiland regtig 'n profeet was. Omdat Christus toegelaat het dat hierdie vrou Hom aanraak; omdat Hy haar nie met verontwaardiging verag het as iemand wie se sondes te groot was om te vergewe nie; omdat Hy nie getoon het dat Hy geweet het dat sy 'n gevalle vrou was nie, was Simon geneig om te dink dat Hy nie n profeet was nie. Jesus weet niks van hierdie vrou wat so vrypostig is nie, het hy gedink, of Hy sou nie toelaat dat sy Hom aanraak nie. KE 574.3

Maar dit was Simon se onkunde van God en Christus wat hom laat dink het soos hy wel gedoen het. Hy het nie besef dat Gods Seun op Gods manier moes handel nie, naamlik met ontferming, tederheid, en genade. Simon se manier was om geen notisie van Maria se boetvaardige diens te neem nie. Dat sy Christus se voete gesoen en gesalf het, het sy harde hart ergerlik laat voel. Hy het gemeen dat as Christus n profeet was, sou hy sondaars herken en bestraf het. KE 574.4

Christus het as volg op hierdie onuitgesproke gedagte geantwoord: “Simon, Ek het iets om jou te sê. . . . 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel die een aan wie Hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.” KE 574.5

Soos Natan met Dawid gehandel het, het Christus hierdie hart- treffer bedek onder die mantel van 'n gelykenis. Hy het die gasheer sy eie vonnis laat uitspreek. Dit was Simon self wat hierdie vrou, wat hy nou verag het, in die sonde gelei het. Hy het haar verskriklik veronreg. Simon en die vrou is voorgestel deur die skuldenaars. Dit was nie Jesus se doel om te leer dat die twee persone dankbaarheid in twee verskillende grade sou voel nie, want elkeen van hulle was dankbaarheid verskuldig wat hulle nooit kon terugbetaal nie. Maar Simon het gevoel dat hy regverdiger was as Maria, en Jesus wou hom laat sien hoe groot sy skuld regtig was. Hy wou hom wys dat sy sonde groter was as hare, soveel groter as die vyfhonderd pennings meer was as die vyftig. KE 575.1

Simon het homself nou in 'n nuwe lig begin sien. Hy het gesien hoe Maria beskou is deur Iemand wat meer as 'n profeet was. Hy het gesien dat Christus met Sy deurdringende profetiese oog haar hart van liefde en toewyding gelees het. Hy het vreeslik skaam gevoel, en hy het besef dat hy in die teenwoordigheid was van Een hoër as hy. KE 575.2

“Ek het in jou huis gekom,” het Christus voortgegaan, “water het jy vir My voete nie gegee nie; maar sy,” wat jy verag, “het met haar trane My voete nat gemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om My voete te soen nie.” Christus het die geleenthede opgenoem wat Simon gehad het om sy liefde vir sy Here te toon, en sy dankbaarheid vir wat vir hom gedoen is. Reguit, maar baie hoflik, het die Heiland Sy dissipels laat verstaan dat Sy hart gegrief voel wanneer Sy kinders nalaat om deur woorde en dade hulle dankbaarheid teenoor Hom te openbaar. KE 575.3

Die Deursoeker van harte het die motief agter Maria se daad gesien, en ook het Hy die gees gesien wat Simon besiel het. “Sien jy hierdie vrou,” het Hy gesê, sy is 'n sondares. “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.” KE 575.4

Simon se kilheid en sy versuim teenoor die Heiland het getoon hoe min hy die genade waardeer het wat hy ontvang het. Hy het gemeen dat hy Jesus vereer het deur Hom na sy huis te nooi. Maar nou het hy homself gesien soos hy werklik was. Terwyl hy gedink het dat hy sy Gas opgesom het, het sy Gas hom opgesom. Hy het gesien hoe waaragtig Christus se beoordeling van hom was. Sy godsdiens was slegs die mantel van fariseïsme. Hy het die genade van Christus verag. Hy het Hom nie erken as die Verteenwoordiger van God nie. Terwyl Maria 'n begenadigde sondares was, was hy 'n onvergewe sondaar. Die onbuigbare maatstaf van geregtigheid wat hy teen haar toegepas wou sien, het homself veroordeel. KE 576.1

Simon is getref deur die vriendelikheid van Jesus om hom nie openlik voor sy gaste te bestraf nie. Hy is nie behandel soos hy graag wou sien dat Maria behandel moes word nie. Hy het gesien dat Jesus nie graag sy sondes voor ander wou openbaar nie, maar getrag het om deur 'n waaragtige voorstelling van die saak sy hart te oortuig en deur ontfermende vriendelikheid sy hart wou versag, 'n Harde bestraffing sou Simon verhard het om hom nie te bekeer nie, maar die lankmoedige vermaning het hom oortuig van sy fout. Hy het gesien hoe vreeslik baie hy sy Here verskuldig was. Sy hoogmoed is verneder, hy het tot inkeer gekom, en die trotse Fariseër het 'n nederige, selfopofferende dissipel geword. KE 576.2

Maria is beskou as 'n groot sondares, maar Christus het geweet wat- ter omstandighede daartoe gelei het. Hy kon elke vonkie van hoop uit haar siel geblus het, maar Hy het nie. Dit was Hy wat haar opgehef het uit wanhoop en ondergang. Sewemaal het sy gehoor hoe Hy die duiwels bestraf wat haar hart en verstand beheers het. Sy het Sy harde geroep tot Sy Vader vir haar gehoor. Sy het geweet hoe afskuwelik die sonde is vir Sy onbevlekte reinheid, en in Sy krag het sy oorwin. KE 576.3

Toe haar saak uit 'n menslike oogpunt hopeloos geskyn het, het Christus Maria se goeie hoedanighede gesien. Hy het die beter nei- gings van haar karakter gesien. Die verlossingsplan gee aan die mense- kinders groot moontlikhede, en by Maria sou daardie moontlikhede werklikhede word. Deur Sy genade het sy 'n deelgenoot geword van die goddelike natuur. Die een wat gevalle was, en wie se hart die woonplek van duiwels was, is baie naby die Heiland gebring in ge meenskap en diens. Dit was Maria wat aan Sy voete gesit en van Hom geleer het. Dit was Maria wat op Sy hoof die kosbare salf uitgegiet en Sy voete met haar trane gewas het. Maria het by die kruis gestaan en Hom na die graf gevolg. Maria was die eerste by die graf ná Sy opstanding. Dit was Maria wat eerste 'n verrese Heiland verkondig het. KE 576.4

Jesus ken die omstandighede van elke siel. U mag sê, Ek is sondig, baie sondig. Dit mag wees; maar hoe sondiger u is, hoe meer het u Jesus nodig. Hy sal geen wenende, boetvaardige sondaar wegstuur nie. Hy openbaar nie aan enigeen van ons alles wat Hy omtrent ons openbaar kan maak nie, maar Hy vervul elke bange siel met hoop. Almal wat na Hom toe kom vir vergifnis en herstelling, sal Hy vryelik vergewe. KE 577.1

Christus mag die engele beveel om die beker van Sy wraak op die aarde uit te giet, en om diegene te vernietig wat vervul is met haat teenoor God. Hy mag hierdie donker klad uitveeg uit Sy heelal. Maar Hy doen dit nie. Hy staan vandag by die wierook-altaar en stel aan God die gebede voor van diegene wat vra om Sy hulp. KE 577.2

Die siele wat hulle toevlug tot Hom neem, verhef Jesus bokant die beskuldigings en geklets van tonge. Geen mens of engel kan hierdie siele aankla nie. Christus verbind hulle met Hom deur Sy eie God-mens natuur. Hulle staan langs die groter Draer van die sonde, in die lig wat skyn van die troon van God. “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God ? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Rom. 8: 33, 34. KE 577.3