Die Koning Van Die Eeue

62/88

Saggeus

OP weg na Jerusalem het Jesus “in Jerigo gekom en daar deurgegaan.” 'n Paar myl van die Jordaan af, aan die westekant van die vallei wat hier op 'n vlakte uitgeloop het, het die stad gelê te midde van die welige tropiese plantegroei. Met sy palmbome en prag- tige tuine, besproei deur lewende fonteine, het dit soos 'n smarag geglinster tussen die kalkklipberge en droë slote tussen Jerusalem en die stad van die vlakte. KE 559.1

Baie van die karavane op weg na die fees het deur Jerigo gereis. Hulle aankoms was altyd 'n tyd van feesviering, maar nou was daar iets anders waarin die mense belang gestel het. Dit was bekend dat die Galilese Rabbi wat 'n rukkie gelede vir Lasarus uit die dode opgewek het, ook onder die skare was; en alhoewel daar baie fluistergerugte was van die planne van die priesters, was die skare gretig om Hom hulde te betoon. KE 559.2

Jerigo was een van die stede wat in die ou dae afgesonder was vir die priesters, en in hierdie tyd was 'n groot aantal priesters daar woon- agtig. Maar die stad het ook 'n groot bevolking van ander mense gehad. Dit was 'n handelsentrum, en Romeinse beamptes en soldate, en vreemdelinge uit ander dele is daar aangetref; en die invordering van doeanegelde het dit ook die tuiste gemaak van baie tollenaars. KE 559.3

“Saggeus, 'n hoof van die tollenaars,” was daar woonagtig; hy was 'n Jood, en gehaat deur sy landgenote. Sy rang en rykdom was die gevolg van 'n beroep wat hulle verafsku het, en soos hulle gemeen het, was dit net 'n ander naam vir onreg en afpersing. Maar hierdie ryk doeanebeampte was nie heeltemal die verharde man van die wêreld wat hy voorgekom het nie. Onder die oppervlakte van wêreldsgesindheid en hoogmoed was daar 'n hart vatbaar vir goddelike invloede. Saggeus het van Jesus gehoor. Die gerugte van Hom wat so vriendelik en hoflik was teenoor die gehate klasse, het heinde en ver versprei. By hierdie hoof van die tollenaars het daar 'n begeerte ontstaan vir 'n beter lewe. Net 'n paar myl van Jerigo af het Johannes die Doper by die Jordaan gepreek, en Saggeus het die oproep tot bekering gehoor. Die opdrag aan die tollenaars, “Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie” (Lukas 3: 13), alhoewel dit uiterlik veronagsaam is, het 'n indruk op hom gemaak. Hy het die Skrifte geken, en hy het tot die oortuiging gekom dat wat hy gedoen het, nie reg was nie. En nou, toe die woorde van die groot Leraar aan hom oorvertel is, het hy gevoel dat hy 'n sondaar was in die oë van God. Maar wat hy gehoor het van Jesus, het hoop in sy hart laat ontstaan. Bekering, hervorming van die lewe, was moontlik, selfs vir hom. Was een van die nuwe Leraar se betroubaarste dissipels nie 'n gewese tollenaar nie? Saggeus het dadelik begin handel volgens die oortuiging wat by hom posgevat het, en hy het diegene wat hy veronreg het, vergoed. KE 560.1

Hy het alreeds die ander weg ingeslaan toe die nuus deur Jerigo versprei dat Jesus die dorp binnegegaan het. Saggeus het besluit om Hom te sien. Hy het begin besef hoe bitter die vrugte van die sonde is, en hoe moeilik die pad is van die een wat probeer om die ou verkeerde weg te verlaat. Om verkeerd verstaan te wees, en om met agterdog en wantroue bejeën te word in sy pogings om verkeerde dinge reg te maak, dit was swaar vir hom om te dra. Die hoof van die tollenaars het verlang om die aangesig te sien van Hom wie se woorde hoop in sy hart gebring het. KE 560.2

Die strate was vol mense, en Saggeus, wat kort van gestalte was, kon niks oor die hoofde van die mense sien nie. Niemand wou vir hom uit die pad staan nie. Hy het dus 'n endjie voor die skare uit gehardloop tot waar die takke van 'n groot vyeboom oor die pad gehang het; die ryk tollenaar het opgeklim en op een van die takke gaan sit sodat hy die optog kon sien wanneer hulle onder deurloop. Die skare het nader gekom en onder begin verbygaan, en Saggeus het stip gekyk om die gestalte van die Een te sien wat hy so graag wou sien. KE 560.3

Bokant die gepraat van die priesters en rabbi's, en die welkomskrete van die menigte, het die onuitgesproke begeerte van die hooftollenaar tot die hart van Jesus gespreek. Skielik, net onder die vyeboom, het 'n groep tot stilstand gekom, die voor- en die agterhoede van die optog het ook gaan staan, en Iemand wie se blik skynbaar die hart kan lees, het opgekyk. Die man in die boom kon skaars sy eie ore glo toe hy die woorde hoor, “Saggeus, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.” KE 561.1

Die skare het vir hom pad gemaak, en Saggeus, soos iemand wat in 'n droom verkeer, het vooruit geloop na sy eie huis. Die rabbi's het alles met misnoeë gadegeslaan, en ontevrede en minagtend het hulle gekla, “Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.” KE 562.1

Saggeus was oorweldig, verbaas, en sprakeloos toe hy die liefde van Christus sien, so neerbuigend as om Hom tot hom te wend wat so on- waardig was. Nou het liefde en getrouheid aan sy nuwe Meester sy mond ontsluit. Hy sal in die openbaar belydenis doen en sy bekering toon. KE 562.2

In die teenwoordigheid van die skare het Saggeus “gestaan en vir die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbeld terug.gestaan en vir die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbeld terug. KE 562.3

“Toe sê Jesus vir hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.” KE 562.4

Toe die ryk jong owerste van Jesus weggegaan het, was die dissipels verbaas oor hulle Meester se woorde, “Hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!” Hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Nou het hulle 'n demonstrasie gesien van die waarheid van Christus se woorde, “Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.” Markus 10: 24, 26; Lukas 18: 27. Hulle het gesien hoedat, deur die genade van God, 'n ryk man in die koninkryk kan ingaan. KE 562.5

Voordat Saggeus die aangesig van Christus nog gesien het, het hy al met die werk begin wat bewys het dat hy waarlik berou gehad het. Voordat hy deur die mense beskuldig is, het hy sy sonde bely. Hy het gehandel op die oortuiging van die Heilige Gees, en het begin om die leer te gehoorsaam wat vir Israel van ouds geskryf is sowel as vir ons. Lank gelede het die Here beveel: “As jou broer by jou verarm en behoeftig word, dan moet jy hom ondersteun, as vreemdeling en by- woner, dat hy by jou kan lewe. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie op wins gee nie.” “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God.” Lev. 25: 35-37, 17. Hierdie woorde het Christus self gespreek toe Hy in die wolkkolom was, en die eerste reaksie van Saggeus op die liefde van Christus was om hom te ontferm oor die armes en lydendes. KE 562.6

Onder die tollenaars was daar 'n verbond om mekaar te ondersteun in hulle afpersing en hulle verdrukking van die mense. Deur hulle afpersing het hulle slegs gedoen wat destyds al byna 'n algemene gebruik was. Selfs die priesters en rabbi's wat hulle verag het, was self skuldig aan die verryking van hulleself deur oneerlike gebruike onder die dekmantel van hulle heilige roeping. Maar sodra Saggeus hom onderwerp het aan die invloed van die Heilige Gees, het hy elke oneerlike gebruik versaak. KE 563.1

Geen bekering is opreg as dit nie ook hervorming bewerkstellig nie. Die geregtigheid van Christus is nie 'n mantel om sondes wat nie versaak is, te bedek nie; dit is 'n beginsel van die lewe wat die karakter verander en 'n mens se dade beheers. Heiligheid is heel- hartigheid vir God; dit is die volkome oorgawe van die hart en lewe vir die inwoning van die beginsels van die hemel. KE 563.2

In sy besigheidslewe moet die Christen aan die wêreld toon hoe sy Here besigheid sou doen. In elke transaksie moet dit duidelik blyk dat God sy leraar is. “Heilig aan die Here,” moet geskryf wees in hulle grootboeke, in hulle dokumente, op hulle kwitansies en op hulle bewyse. Diegene wat bely dat hulle navolgers van die Here is, en wat onregverdig handel, getuig vals teen die karakter van 'n heilige, regverdige, en genadige God. Elke bekeerde siel sal, soos Saggeus, getuig dat Christus in sy hart gekom het, deur die versaking van die onregverdige praktyke wat eers sy lewe gekenmerk het. Soos die hoof van die tollenaars, sal hy bewys lewer van sy opregtheid deur vergoeding te doen. Die Here sê, “Gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie — ... al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; . . . hy sal sekerlik lewe.” Eseg. 33: 15, 16. KE 563.3

As ons ander benadeel het deur onregverdige besigheidstransaksies, as ons oneerlik was in die handel, of enige persoon bedrieg het, al was dit ook binne die perke van die wet, behoort ons die verkeerde dinge te bely, en sover as ons dit nog kan doen, moet ons vergoeding doen. Dit sal niks minder as reg wees as ons nie net teruggee wat ons geneem het nie, maar ook alle wins wat daar sou gewees het gedurende die tyd wat die goed in ons besit was. KE 563.4

Aan Saggeus het die Heiland gesê, “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom.” Nie alleen is Saggeus self geseën nie, maar ook sy hele huis saam met hom. Christus het na sy huis gegaan om hom lesse van waarheid te gee en om sy huisgesin te onderrig in die dinge van die koninkryk. Hulle was uit die sinagoges geban deur die minagting van die rabbi's en die aanbidders; maar nou, die mees begunstigde gesin in die hele Jerigo, het hulle in hulle eie huis om die goddelike Leraar gesit en vir hulleself die woorde van die lewe gehoor. KE 564.1

Dit is wanneer Christus aangeneem word as persoonlike Verlosser dat die saligheid tot die siel kom. Saggeus het Jesus ontvang in sy huis, nie slegs as verbygaande gas nie, maar om in sy sieltempel te woon. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het hom veroordeel as sondaar; hulle het gekla omdat Christus in sy huis as gas gegaan het, maar die Here het hom erken as 'n kind van Abraham. Want “die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” Gal. 3: 7. KE 564.2