Die Koning Van Die Eeue

48/88

Diens

HULLE het die hele nag op die berg deurgebring, en toe die son opkom, het Jesus en Sy dissipels na die vlakte afgedaal. Besig met hulle eie gedagtes, was die dissipels bang en stil. Selfs Petrus het geen woord te sê gehad nie. Baie graag sou hulle in daardie heilige plek gebly het wat verlig was met die lig van die hemel, en waar die Seun van God Sy heerlikheid geopenbaar het; maar daar was werk om te doen vir die mense wat reeds orals rond gesoek het na Jesus. KE 435.1

By die voet van die berg het 'n groot skare vergader, daarheen gelei deur die dissipels wat agtergebly het—hulle het geweet waarheen Jesus gegaan het. Toe die Heiland naby hulle kom, het Hy Sy drie metgeselle opdrag gegee om niks te sê van wat hulle gesien het nie, en gesê, “Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie” Die openbaring wat aan die dissipels gegee is, moes hulle in hulle eie harte oorpeins, maar dit moes nie rugbaar gemaak word nie. Om dit aan die skare te vertel sou bespotting uitgelok het of ydele nuuskierigheid. En selfs die nege ander apostels sou die verskyning nie verstaan voordat Christus uit die dode opgestaan het nie. Hoe traag selfs die drie begunstigde dissipels was, word gesien in die feit dat hulle, ondanks alles wat Christus gesê het wat Hy moes deurmaak, nog onder mekaar bespreek het wat opstanding uit die dood tog kon beteken. Hulle het egter geen verduideliking van Jesus gevra nie. Sy woorde oor die toekoms het hulle met droefheid vervul; hulle het geen verdere openbaring gevra oor dinge wat hulle gehoop het wat nooit sou plaasvind nie. KE 435.2

Toe die mense op die vlakte Jesus sien, het hulle Hom tegemoet- gegaan, en Hom eerbiedig en blymoedig gegroet. Maar Hy het gou gemerk dat hulle in groot moeilikheid verkeer het. Die dissipels het ontsteld gelyk. Daar het iets gebeur wat hulle groot teleurstelling en vernedering veroorsaak het, KE 436.1

Onderwyl hulle aan die voet van die berg gewag het, het 'n vader sy maansieke seun na hulle gebring vir die uitwerping van die duiwel wat hom gekwel het. Mag oor onreine geeste, om hulle uit te werp, is aan die dissipels gegee toe Jesus die twaalf uitgestuur het om in Galilea te preek. Toe hulle in groot geloof uitgegaan het, het die bose geeste hulle woord gehoorsaam. In hierdie geval het hulle die kwellende gees in die Naam van Christus beveel om uit te gaan uit sy slagoffer, maar die duiwel het hulle bespot met 'n nog groter openbaring van sy krag. Die dissipels, wat nie hulle onmag kon verklaar nie, het gevoel dat hulle oneer gebring het op hulleself en hulle Meester. En onder die skare was skrifgeleerdes wat hulle kans waargeneem het om hulle te verneder. Hulle het hulle om die dissipels geskaar en hulle bestook met vrae, met die doel om te bewys dat hulle en hulle Meester bedrieërs was. Hier, het die rabbi's triomfantlik gesê, is 'n bose gees wat nòg die dissipels nòg Christus kan gebied. Die skare was geneig om kant te kies vir die skrifgeleerdes, en 'n gevoel van veragting het onder hulle geheers. KE 436.2

Maar skielik het hulle hulle beskuldiging gestaak, want Jesus en die drie dissipels het aangekom; die mense het van gevoelens verander en hulle tegemoetgegaan. Die nag van gemeenskap met die hemelse heerlikheid het sy merk op Jesus en Sy metgeselle gemaak. Hulle gesigte het geblink met 'n lig wat eerbied ingeboesem het by die aanskouers. Die skrifgeleerdes het vreesbevange teruggedeins onderwyl die mense Jesus verwelkom het. KE 436.3

Asof Hy alles gesien het wat daar plaasgevind het, het die Heiland in die strydperk verskyn; Hy het Sy oë op die skrifgeleerdes gevestig en gevra, “Waarom redetwis julle met hulle?” KE 436.4

Maar die stemme wat eers so vermetel en uitdagend was, was nou stil. Daar het stilte oor die hele skare gekom. Toe het die bedroefde vader sy weg deur die skare gebaan, en vallende op sy knieë voor Jesus, het hy Hom vertel van sy moeilikheid en teleurstelling. KE 437.1

“Meester,” het hy gesê, “ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom . . . en ek het vir U dissipels gesê om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” KE 437.2

Jesus het rondgekyk op die eerbiedige skare, op die vitterige skrif- geleerdes, en die verbysterde dissipels. Hy het die ongeloof in elke hart gelees; en in droefheid het Hy uitgeroep, “o Ongelowige geslag, hoelank sal Ek by julle wees, hoelank sal Ek julle verdra? Toe het Hy aan die vader gesê, Bring hom na My toe.” KE 437.3

Die seun is gebring, en toe die Heiland se oë op hom val, het die bose gees hom op die grond neergegooi in stuiptrekkings. Daar het hy gelê en vreeslik geskreeu met skuim om sy mond. KE 437.4

Weereens het die Vors van die lewe en die vors van die duisternis teenoor mekaar in die stryd gestaan -— Christus in vervulling van Sy sending om “aan gevangene vrylating te verkondig . . . om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur” (Lukas 4: 19), die Satan soekende om sy slagoffer in sy mag vas te hou. Engele van lig, en leërskare van bose engele het onsigbaar naby gekom om die stryd te aanskou. Vir 'n oomblik het Jesus die bose gees toegelaat om sy mag te toon, sodat die toeskouers die verlossing kon verstaan wat sou plaasvind. KE 437.5

Die skare het met gespanne aandag gestaan en kyk, en die vader in angs van hoop en vrees. Jesus het gevra, “Hoelank is dit al dat dit hom oorgekom het?” Die vader het die verhaal vertel van die lange jare van lyding, en toe, asof hy dit nie langer kon uithou nie, het hy uitgeroep, “As U iets kan doen, help en ontferm U oor ons.” “As U iets kan doen!”—selfs nou nog het die vader getwyfel aan die mag van Christus. KE 437.6

Jesus antwoord, “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Daar is geen tekort aan krag by Jesus nie; die genesing van die seun hang af van die vader se geloof. Die vader het, toe hy sy eie swakheid besef, in trane uitgebars, en homself op Christus se genade beroep en gesê, “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” Jesus het Hom tot die lydende gewend en gesê, “Jou stomme en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Daar was 'n kreet en 'n heftige worsteling. Toe die duiwel uitkom, het dit geskyn of hy die lewe uit sy slagoffer wou skeur. Toe het die seun stil gelê, skynbaar leweloos. Die skare het gefluister, “Hy is dood.” Maar Jesus het hom aan die hand geneem, hom opgerig, en aan sy vader gegee, heeltemal gesond in verstand en liggaam. Vader en seun het die Naam van hulle Verlosser geloof. Die skare “was verslae oor die majesteit van God,” terwyl die skrifgeleerdes, verslaan en bek-af, weggesluip het. KE 437.7

“As U iets kan doen, help ons en ontferm U oor ons.” Hoe baie met sonde belaste siele het al daardie gebed gebid. En aan almal, sê die ontfermende Heiland, “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Dit is geloof wat ons met die hemel verbind en krag bring sodat ons kan staan teen die magte van die duisternis. In Christus is voorsiening gemaak vir die onderdrukking van elke sondige neiging, en om elke versoeking te weerstaan, hoe sterk dit ook al mag wees. Maar vele voel dat hulle nie geloof het nie, en daarom kom hulle nie na Christus toe nie. Laat hierdie siele in hulle hulpelose onwaardigheid hulle op die genade van hulle ontfermende Heiland werp. Moenie na uself kyk nie, maar na Christus. Hy wat die siekes genees, en duiwels uitgewerp het toe Hy onder die mense gewandel het, is vandag nog dieselfde magtige Verlosser. Die geloof kom deur die Woord van God. Neem Sy belofte aan, “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Joh. 6: 37. Werp uself aan Sy voete neer met die smeekbede, “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” U kan nooit vergaan as u dit doen nie — nee, nooit nie. KE 438.1

In daardie kort tydjie het die begunstigde dissipels die uiterstes van heerlikheid en van vernedering gesien. Hulle het die mens gesien soos verander in die beeld van God, en soos verlaag tot die beeid van die Satan. Van die berg waar Hy in gesprek was met die hemelse bood- skappers, en aangekondig is as die Seun van God deur die stem uit die heerlikheid, het hulle Jesus gesien afdaal om die mees weersin- wekkende skouspel te sien, die maansieke seun, met verwronge gesig, knersende tande, en in stuiptrekkings waaruit geen menslike mag hom kon verlos nie. En hierdie magtige Verlosser, wat slegs 'n paar uur tevore voor Sy verbaasde dissipels verheerlik is, buig nou neer om die slagoffer van die Satan op te rig van die grond waar hy gelê het, gesond in verstand en liggaam, om hom aan sy vader en sy huis terug te gee. KE 438.2

Dit was 'n aanskoulike les van die verlossing — die goddelike Een wat gekom het van die Vader se heerlikheid, neerbuigende om die verlorene te red. Dit was ook 'n voorstelling van die sending van die dissipels. Nie net daar op die top van die berg, in tye van geestelike verligting, moet die diensknegte van Christus dien nie. Daar is werk vir hulle om te doen ook onder in die vlaktes. Siele wat in die mag van die Satan is, wag op die woord van geloof en gebed om hulle vry te maak. KE 439.1

Die nege dissipels het nog steeds gepeins oor die bittere feit van hulle onmag; en toe hulle weereens by Jesus alleen was, het hulle Hom gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” Jesus het hulle geantwoord, “Deur julle ongeloof; want voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad, sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” Hulle ongeloof wat hulle weggehou het van daardie dieper gemeenskap met Christus, en die onverskilligheid waarmee hulle die heilige werk opgeneem het wat aan hulle gegee is — dit was die oorsaak van hulle onmag in die stryd met die magte van die duisternis. KE 440.1

Die woorde van Christus wat verwys het na Sy dood, het droefheid en twyfel veroorsaak. En die keuse van die drie dissipels om saam met Jesus op die berg te gaan, het jaloesie onder die nege laat ontstaan. Pleks van hulle geloof te versterk deur vas en gebed en bepeinsing van die woorde van Christus, het hulle gedink aan hulle teleurstelling en hulle persoonlike griewe. In daardie toestand van duisternis het hulle die stryd met die Satan aangeknoop. KE 440.2

Om die oorwinning te behaal in so 'n stryd sal hulle in 'n ander gees te werk moet gaan. Hulle geloof moet versterk word deur vurige gebed en vas en verootmoediging. Hulle moet ontledig wees van selfsug, en vervul wees met die Gees en krag van God. Ernstige volharding in geloof en smeking tot God — geloof wat volkome vertrou op God, en 'n algehele toewyding aan Sy werk — dit alleen sal die hulp van die Heilige Gees aan mense bring in hulle stryd teen owerhede en magte en werkers van die duisternis van hierdie eeu, en teen bose magte in die lug. KE 440.3

“As julle geloof het soos 'n mosterdsaad,” het Jesus gesê, “sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan.” Hoewel die mosterdsaad so klein is, het dit nogtans daardie misterieuse groeikrag wat dit laat ontwikkel tot 'n groot boom. Wanneer die mosterdsaad in die grond kom, maak die kiem gebruik van al die elemente wat God daargestel het vir sy voeding, en dit groei vinnig. As lí geloof soos 'n mosterdsaad het, sal u Gods Woord aanneem en gebruik maak van al die hulpmiddels wat Hy voorsien het. So sal u geloof sterk word en aan u die hulp van die mag van die hemel bring. Die struikelblokke wat die Satan in u weg lê, al lyk hulle ook so onoorkomelik soos die ewige berge, sal verdwyn voor sulke geloof. “Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” KE 440.4