Die Koning Van Die Eeue

47/88

Die Verheerliking

DITT het begin aand word toe Jesus drie van Sy dissipels na Hom toe geroep het, naamlik Petrus, Jakobus, en Johannes, en hulle deur die lande heen met 'n klipperige pad na 'n eensame berg gelei het. Die Heiland en Sy dissipels het die dag deurgebring deur te reis en te leer, en om die berg uit te klim, het hulle baie moeg gemaak. Christus het die laste van hart en liggaam van baie lyers verlig; Hy het die lewe laat bons deur hulle verswakte liggame; maar Hy self het in die menslike vlees gewoon, en net soos Sy dissipels het Hy moeg geword van die klim. KE 428.1

Die laaste strale van die son het nog op die berg geskyn, en die paadjie waarmee hulle geklim het, met goud getint. Maar baie gou sterf die lig weg van die berg en sak die son agter die westelike horison, en die reisigers word toegevou in die duisternis van die nag. Die duisternis van hulle omgewing pas by die droefheid in hulle harte waarin die wolke dig begin saampak het. KE 428.2

Die dissipels het nie die moed om Christus te vra waarheen Hy gaan en waarom nie. Hy het dikwels al hele nagte in gebed op die berge deurgebring. Hy deur wie se hande berg en dal gemaak is, voel tuis in die natuur, en geniet die stilte. Die dissipels volg waar Christus lei, maar hulle wonder darem waarom hulle Meester hulle met daardie steil paadjie die berg op lei wanneer hulle reeds so moeg is, en Hy self ook behoefte het aan rus. Eindelik sê Christus dat hulle ver genoeg geklim het. Nadat Hy so 'n endjie opsy gegaan het, het die Man van Smarte met sterk geroep en geween begin bid. Hy bid om krag om ten behoewe van die mensheid te kan staan. Self moes Hy 'n beter houvas kry op die Almagtige, want alleen dan sou Hy die toekoms kon trotseer. En Hy bid vurig vir Sy dissipels, dat hulle geloof in die uur van die mag van die duisternis nie mag faal nie. Sy geboë vorm is nat van die dou, maar Hy kom dit nie agter nie. Die donker skaduwees van die nag is dig om Hom maar Hy slaan nie ag daarop nie. So gaan die ure langsaam verby. Eers het die dissipels saam met Hom gebid in opregte toe- wyding, maar ná 'n tyd was hulle so moeg dat hulle, ten spyte van alle inspanning om belang te stel, aan die slaap geraak het. Jesus het hulle vertel van Sy lyde; Hy het hulle met Hom meegeneem om saam met Hom te bid; op daardie oomblik was Hy besig om vir hulle te bid. Hy het die neerslagtigheid van Sy dissipels gesien, en Hy het verlang om hulle droefheid te verlig met die versekering dat hulle geloof nie tevergeefs was nie. Selfs van die twaalf kon nie almal die openbaring ontvang wat Hy graag wou gee nie. Alleen die drie wat Sy angs in Getsemane sou sien, het Hy gekies om saam met Hom op die berg te gaan. Waarvoor Hy nou gebid het, was dat daar 'n openbaring aan hulle gegee moes word van die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het vóór die grondlegging van hierdie wêreld; dat Sy koninkryk aan menslike oë getoon moes word, en dat Sy dissipels versterk moes word om dit te kan sien. Hy smeek dat hulle 'n openbaring van Sy godheid moet kry wat hulle sou vertroos in die uur van Sy grootste lyde, en hulle die versekering sal gee dat Hy waarlik die Seun van God is, en dat Sy skanddood deel is van die verlossingsplan. KE 428.3

Sy gebed is verhoor. Terwyl Hy nederig neerkniel, op die klip- perige grond, is die hemele skielik geopen, die goue poorte van die godstad is wyd oop, en 'n heilige lig skyn op die berg en verlig die Heiland se gestalte. Sy godheid van binne het deur Sy mensheid geflits en die heerlikheid ontmoet wat van bo af gekom het. Christus het van die grond af opgestaan en in goddelike majesteit gestaan. Die sielelyding was weg. Sy gelaat was “blink soos die son, en Sy klere . . . wit soos die lig.” KE 429.1

Toe die dissipels wakkerskrik, sien hulle 'n gloed van heerlikheid wat die hele berg verlig. In vrees en verbasing aanskou hulle die blinkende gestalte van hulle Meester. Toe hulle oë gewoond raak aan die wonderbare lig, sien hulle dat Jesus nie alleen is nie. Langs Hom is twee hemelse wesens wat druk besig is om met Hom te praat. Die een is Moses wat op Sinai met God gespreek het; die andereen is Elia wat nie die dood gesmaak het nie —'n onderskeiding wat slegs een van die seuns van Adam met hom gedeel het. KE 429.2

Op die Berg Pisga, vyftien eeue tevore, het Moses gestaan en kyk na die Beloofde Land. Maar ten gevolge van sy sonde by Meriba, was dit hom nie vergun om daardie land binne te gaan nie. Hy sou nie die vreugde smaak om die leërskare van Israel in die erfdeel van hulle vaders in te lei nie. Sy smeekbede, “Laat my tog oortrek en 'die goeie land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Libanon” (Deut. 3: 25), is geweier. Die hoop wat vir veertig jaar die duisternis van die woestynomswerwing verlig het, moes geweier word. 'n Graf in die woestyn—dit was die einddoel van daardie jare van sorge en geswoeg. Maar Hy “wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efe. 3: 20), het in 'n mate die gebed van Sy kneg verhoor. Moses moes die dood smaak, maar hy sou nie in sy graf bly nie. Christus self het hom in die lewe teruggeroep. Satan, die versoeker, het aanspraak gemaak op die liggaam van Moses weens sy sonde, maar Christus, die Verlosser, het hom uit die graf opgewek. (Judas 9.) KE 430.1

Op die berg van verheerliking was Moses die getuie van Christus se oorwinning oor die sonde en die dood. Hy stel diegene voor wat uit hulle grafte tevoorskyn sal kom by die opstanding van die regverdiges. Elia, wat na die hemel geneem is sonder om die dood te smaak, het diegene verteenwoordig wat op die aarde sal lewe tydens Christus se tweede koms, en wat verander sal word “in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin;” wanneer “hierdie sterflike . . . met onsterflikheid beklee word,” en “hierdie verganklike ... met onverganklikheid beklee word.” 1 Kor. 15: 51-53. Jesus was geklee in die lig van die hemel, soos Hy sal wees wanneer Hy “vir die tweede maal sonder sonde verskyn . . . tot saligheid.” Want Hy sal kom “in die heerlikheid van Sy Vader met die heilige engele.” Heb. 9: 28; Markus 8: 38. Die Heiland se belofte aan die dissipels is nou vervul. Op die berg is die toekomstige koninkryk van heerlikheid in miniatuur voorgestel — Christus, die Koning, Moses as verteenwoordiger van die opgewekte heiliges, en Elia verteenwoordigende diegene wat verander sal word. KE 431.1

Die dissipels verstaan nog nie die toneel nie, maar hulle verbly hulle daarin dat die geduldige Leraar, die sagmoedige en nederige Een, wat heen en weer gewandel het as 'n hulpelose vreemdeling, nou vereer word deur die bevoorregtes van die hemel. Hulle glo dat Elia gekom het om die Messias se regering aan te kondig, en dat die koninkryk van Christus nou op die aarde opgerig sal word. Die gedagte aan hulle vrees en teleurstelling sou hulle vir ewig verban. Hier, waar die heerlikheid van God geopenbaar is, sou hulle graag wou bly. Petrus roep uit, “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elia een.” Die dissipels is oortuig dat Moses en Elia gestuur is om hulle Meester te beskerm, en om Sy gesag te bevestig as koning. KE 431.2

Maar vóór die kroon moet die kruis kom. Nie die oprigting van n koninkryk nie, maar die dood te Jerusalem — dit is die onderwerp van hulle gesprek met Jesus. Onder die las van die swakheid van die mensdom, en die droefheid en die sonde, het Jesus alleen gewandel onder die mense. Namate die duisternis van die aanstaande lyde Hom beklem het, was Hy in eensaamheid van die gees in 'n wêreld wat Hom nie geken het nie. Selfs Sy geliefde dissipels, verdiep in hulle twyfel- moedigheid, droefheid, en eersugtige hoop, het nie die verborgenheid van Sy sending verstaan nie. Hy het gewoon in die liefde en gemeenskap van die hemel, maar in die wêreld wat Hy gemaak het, was Hy in eensaamheid. Nou het die hemel sy boodskappers na Jesus gestuur; nie engele nie, maar mense wat lyding en verdriet geken het, en wat met die Heiland kon simpatiseer in die beproewing van Sy aardse lewe. Moses en Elia was medewerkers van Christus. Hulle het gedeel in Sy verlange vir die redding van die mens. Moses het gepleit vir Israel: “Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit U boek wat U geskryf het.” Exod. 32: 32. Elia het geweet wat eensaamheid beteken, want gedurende die drie en 'n half jaar hongersnood moes hy die haat en die eilende van die volk verduur. Alleen het hy gestaan op Karmel. Alleen het hy in wanhoop in die woestyn gevlug. Hierdie manne, gekies bo al die engele rondom die troon, het gekom om met Jesus te spreek oor Sy lyde, en om Hom te vertroos met die versekering van die medelyde van die hemel. Die hoop van die wêreld, die saligheid van elke mensekind, dit was die dinge waaroor die onderhoud gegaan het. KE 431.3

Omdat hulle deur die slaap oorval is, het die dissipels min gehoor van wat daar omgegaan het tussen Christus en die hemelse boodskappers. Omdat hulle nagelaat het om te waak en te bid, het hulle nie ontvang wat God hulle graag wou gee nie — naamlik 'n kennis van die lyde van Christus en die heerlikheid daarna. Hulle het die seën gemis wat hulle s'n kon gewees het as hulle in Sy seff opoffering gedeel het. Traag van hart om te glo, was hierdie dissipels, en min het hulle verstaan met watter skat die hemel hulle wou verryk. KE 433.1

Maar nogtans het hulle baie lig ontvang. Hulle is verseker dat die hemel bewus was van die sonde van die Joodse volk in hulle verwerping van Christus. Hulle het 'n dieper insig gekry in die werk van die Verlosser. Hulle het met hulle oë gesien en met hulle ore gehoor, dinge wat bokant die verstand van mense was. Hulle was “aanskouers van Sy majesteit” (2 Pet. 1: 16), en hulle het besef dat Jesus inderwaarheid die Messias is van wie die patriarge en profete getuig het, en dat Hy so erken is deur die hemelse heelal. KE 433.2

Terwyl hulle nog gekyk het na die toneel op die berg, “oordek 'n helder-ligte wolk hulle meteens, en daar sê 'n stem uit die wolk: Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!” Toe hulle die wolk van heerlikheid sien, heerliker as die wat voor die stamme van Israel in die woestyn getrek het, en toe hulle die stem van God hoor spreek in vreeslike majesteit wat die berg laat beef het, het die dissipels op die aarde neergeval. Hulle het plat bly lê, met hulle gesigte bedek, totdat Jesus gekom en hulle aangeraak en hulle vrees verban het met Sy welbekende stem, “Staan op en moenie bang wees nie.” Toe hulle eindelik opkyk, het hulle gesien dat die hemelse heerlikheid weg was, en dat Moses en Elia verdwyn het. Hulle was op die berg, alleen met Jesus. KE 434.1