Die Koning Van Die Eeue
Kom Rus 'n Bietjie
TERUG van hulle sendingtoer, het die apostels “vergader by Jesus en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self apart na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.” KE 363.1
Die dissipels het na Jesus gekom en Hom alles vertel. Hulle noue omgang met Hom het hulle aangemoedig om al hulle ervarings aan Hom te vertel, of dit gunstig of ongunstig was; hulle het vertel van hulle vreugde toe hulle die resultate van hulle werk sien, en van hulle droefheid oor hulle mislukkings, hulle foute, en hulle swakhede. Hulle het foute begaan in hulle eerste poging as evangeliste, en waar hulle Christus openlik vertel het van hulle ondervindings, het Hy gesien dat hulle baie onderrig nodig gehad het. Ook het Hy gesien dat hulle baie afgemat was deur hulle werk en dat hulle rus nodig gehad het. KE 363.2
Maar waar hulle toe was, kon hulle nie privaat wees nie, “want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd om te eet nie. Die mense het om Christus saamgedrom, gretig om genees te word en Sy woorde te hoor. Vele het hulle aangetrokke tot Hom gevoel; want vir hulle was Hy die bron van alle seëninge.” Baie van diegene wat destyds rondom Christus vergader het om die kosbare seën van genesing te verkry, het Hom aangeneem as hulle Verlosser. Nog baie ander wat toe uit vrees vir die Fariseërs bang was om Hom te bely, het tot bekering gekom tydens die uitstorting van die Heilige Gees, en hulle het voor die verwoede priesters en owerstes Hom aangeneem as die Seun van God. KE 363.3
Christus het nou na 'n eensame plekkie verlang, sodat Hy by Sy dissipels kon wees, want Hy het veel gehad om aan hulle te sê. In hulle werk het hulle die toets van die stryd deurgemaak en hulle het teenstand gekry in verskillende vorms. Tot daardie tyd het hulle Christus in alles geraadpleeg, en toe vir 'n rukkie was hulle alleen, en daar was tye dat hulle nie geweet het hoe om te handel nie. Hulle het baie aanmoediging gekry in hulle werk, want Christus het hulle nie uitgestuur sonder Sy Gees nie; deur geloof in Hom het hulle baie wonderwerke verrig, maar nou het hulle weer behoefte gehad aan die Brood van die Lewe. Hulle het behoefte gehad aan afsondering waar hulle gemeenskap met Jesus kon hê, en waar hulle onderrig kon ontvang vir hulle toekomstige werk. KE 364.1
“En Hy sê vir hulle: Kom julle self apart na 'n verlate plek en rus 'n bietjie.” Christus is vol tederheid en ontferming vir almal in Sy diens. Hy wou aan Sy dissipels toon dat God barmhartigheid wil hê en nie offerandes nie. Hulle hele siel was in die werk vir die mense, en dit het hulle liggaamlike en verstandelike kragte uitgeput. Dit was hulle plig om te rus. KE 364.2
Waar die dissipels die sukses van hulle werk gesien het, was daar gevaar dat hulle self alle krediet daarvoor sou neem, geestelik trots sou voel, en so die prooi van die Satan se versoekings sou word. Daar was 'n groot werk voor hulle, en eerste van alles moes hulle leer dat hulle sterkte nie in hulleself is nie, maar in God. Soos Moses in die woestyn van Sinai, soos Dawid in die berge van Judea, of soos Elia by die spruit Krit, het die dissipels behoefte gehad aan afsondering van die tonele van hulle besige lewe, om met Christus te gesels en gemeenskap te hê met die natuur en met hulle eie harte. KE 364.3
Terwyl die dissipels weg was op hulle sendingtoer, het Jesus ander dorpe en stede besoek en die evangelie van die koninkryk verkondig. Dit was in hierdie tyd dat Hy berig ontvang het van die Doper se dood. Hierdie gebeurtenis het Hom baie duidelik laat besef tot watter smartvolle einde Sy voetstappe Hom sou lei. Donker skaduwees het swart op Sy pad begin val. Priesters en rabbi's het hulle kans afgewag om Hom te dood, spioene het Hom gedurig agtervolg, en aan alle kante is daar planne gesmee om Sy ondergang te bewerk. Berigte van die prediking van die apostels in Galilea het Herodes bereik, en dit het sy aandag gevestig op Jesus en Sy werk. Hy het gesê, “Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan,” en hy het die begeerte uitgespreek om Jesus te sien. Herodes het gedurig gevrees dat daar 'n geheime opstand sou plaasvind om hom te onttroon en die Romeinse juk van die Joodse volk af te werp. Onder die volk het daar 'n sterk gees van ontevredenheid en opstand geheers. Dit was duidelik dat Christus se openbare werk in Galilea nie lank meer kon aanhou nie. Die tonele van Sy lyde was nie meer ver nie, en Hy het verlang om vir 'n tydjie afgesonder te wees van die gedrang van die skare. KE 364.4
Met droewige harte het die dissipels van Johannes sy verminkte lig- gaam weggeneem om te begrawe. Toe het hulle “gegaan en dit aan Jesus vertel.” Hierdie dissipels was eers jaloers op Christus toe dit geskyn het dat Hy die mense van Johannes afgetrek het. Hulle het gemene saak gemaak met die Fariseërs toe hulle Hom beskuldig het dat Hy met die tollenaars saam geëet het by Mattheus se feesmaal. Hulle het Sy goddelike sending betwyfel omdat Hy nie die Doper uit die gevangenis verlos het nie. Maar nou dat hulle leraar dood was, en hulle na vertroosting verlang het in hulle groot droefheid, en om leiding in hulle toekomstige werk, het hulle na Jesus gekom en by Hom aangesluit. Ook hulle het behoefte gehad aan 'n stil tydjie vir gemeen- skap met die Heiland. KE 365.1
Naby Betsaida, aan die noordelike end van die meer, was daar 'n verlate plek, mooi groen omdat dit lente was, wat 'n welkome rus- plek sou wees vir Jesus en Sy dissipels. Hulle het na daardie plek vertrek, en het die meer oorgesteek in 'n skuit. Hier sou hulle weg wees van die hoofweë van die verkeer en die rumoer van die stede. Die natuurtonele was op sigself 'n bron van rus, strelend vir die gemoed. Hier sou hulle na die woorde van Christus luister, sonder die steuring van twis, en die tussenwerpsels en beskuldigings van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hier kon hulle 'n kort tydjie onderlinge gemeenskap geniet in die geselskap van hulle Here.Die rus wat Christus en Sy dissipels geneem het, was nie sommer 'n luilekker rus nie. Die tyd wat hulle daar in afsondering deurgebring het, is nie aan plesier bestee nie. Hulle het gesels oor die werk van God, en die moontlikheid om dit op doeltreffender wyse te doen. Die dissipels het saam met Christus gewerk, en hulle kon Hom verstaan; dit was nie nodig om tot hulle in gelykenisse te spreek nie. Hy het hulle op hulle foute gewys, en die regte manier om mense te nader aan hulle verduidelik. Hy het in groter besonderhede die kosbare skatte van die goddelike waarheid geopenbaar. Hulle is versterk deur goddelike krag, en besiel met hoop en moed. KE 365.2
Hoewel Jesus wonderwerke kon doen en ook aan Sy dissipels krag gegee het om wonders te verrig, het Hy Sy afgematte dienaars beveel om na 'n stil plekkie te gaan om te rus. Toe Hy gesê het dat die oes groot is, en die arbeiders min, het Hy nie die dissipels beveel om onafgebroke te werk nie, maar Hy het gesê, “Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in Sy oes mag uitstuur.” Matt. 9: 38 God het aan elke mens sy werk gegee, volgens sy bekwaamheid (Efe. 4: 11- 13), en Hy sou nie toelaat dat sommige swaar laste dra terwyl ander niks doen en geen verantwoordelikhede het nie. KE 366.1
Christus se woorde van ontferming is gegee ook vir Sy werkers vandag, net so gewis as aan Sy dissipels vanouds. “Kom julle self apart . . . en rus 'n bietjie,” sê Hy aan almal wat moeg en afgemat is. Dit is nie verstandig om altyd te swoeg en in spanning te verkeer nie, en dit geld ook vir diegene wat geestelike werk doen; want sonder rus word die persoonlike geestelike lewe verwaarloos en die kragte van liggaam, verstand, en gees word ooreis. Selfverloëning word vereis in die dissipels van Christus, en hulle moet gewillig wees om opoffe- rings te maak, maar hulle moet hulleself nie ooreis sodat die Satan miskien voordeel kan trek uit hulle swakheid, en die werk van God belemmer word nie. KE 366.2
Volgens die mening van die rabbi's het die som van die godsdiens in groot doenigheid en bedrywigheid bestaan. Om hulle groot vroomheid te toon, moes daar die een of ander uiterlike werk wees. So het hulle hulle siele van God afgeskei, en het hulle in selfvoldaanheid berus. Dieselfde gevare bestaan vandag nog. Namate bedrywigheid toeneem en mense sukses behaal in die een of ander werk vir God, loop hulle gevaar om te vertrou op menslike planne en metodes. Daar is 'n neiging om minder te bid en minder geloof te hê. Soos die dissipels loop ons gevaar om ons afhanklikheid van God uit die oog te verloor. en ons bedrywigheid ons verlosser te maak. Ons oë moet gedurig op Jesus wees met die besef dat dit Sy krag is wat die werk doen. Hoewel ons baie ernstig moet werk vir die redding van sondaars, moet ons ook tyd neem vir oorpeinsing, gebed, en die studie van Gods Woord. Alleen die werk wat verrig is met veel gebed en geheilig is deur die Verdienstes van Christus, sal op die ou end die beste resultate lewer. KE 366.3
Geen ander lewe was so vol werk en verantwoordelikheid as die van Jesus nie; en tog, hoe dikwels het Hy gebid! Hoe onafgebroke was Sy gemeenskap met God! Keer op keer in die geskiedenis van Sy aardse lewe vind ons aantekeninge soos hierdie: “En vroeg in die more, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid.” “En groot menigtes het byme- kaar gekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word. Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.” “En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en het die nag in die gebed tot God deurgebring.” Markus 1: 35; Lukas 5: 15, 16; 6: 12. KE 367.1
In 'n lewe heeltemal gewy aan die welsyn van ander, het die Heiland dit nodig gevind om Hom te onttrek aan die gedrang van die hoofverkeersweë, en aan die skare wat Hom dag na dag gevolg het. Hy het nodig gehad om Hom te onttrek aan 'n lewe van onafgebroke aktiwiteit en kontak met menslike behoeftes, sodat Hy afgesonderd kon wees, en onverstoorde gemeenskap met Sy Vader kon hê. As iemand wat een met ons was, wat gedeel het in ons behoeftes en swakhede, was Hy heeltemal afhanklik van God, en in die binnekamer van gebed het Hy goddelike krag gesoek sodat Hy kon uitgaan, versterk vir werk en beproewings. In 'n wêreld van sonde moes Jesus 'n groot sielstryd voer. In gemeenskap met God kon Hy die laste wat Hom so swaar gedruk het voor Hom lê. Daar sou Hy vertroosting en vreugde vind. KE 367.2
In Christus het die roepstem van die mensheid die Vader van oneindige ontferming bereik. As mens het Hy tot die troon van God gebid totdat Sy mensheid gelaai was met 'n hemelse stroom wat die mensheid met die godheid sou verbind. Deur gedurige gemeenskap het Hy lewe van God ontvang, sodat Hy lewe aan die wêreld kon meedeel. Sy ondervinding moet ook ons s'n wees. KE 367.3
“Kom julle self apart;” sê Hy aan ons. As ons Sy woord maar wou gehoorsaam, sou ons baie sterker en meei bruikbaar wees. Die dissipels het na Jesus gekom en Hom alle dinge vertel, en Hy het hulle bemoedig en onderrig. As ons vandag tyd sou neem om na Jesus te gaan en Hom van al ons behoeftes te vertel, sou ons nie teleur- gestel wees nie; Hy sal aan ons regterhand wees om ons te help. Ons het meer eenvoud nodig, en ons moet groter vertroue in ons Heiland hê. Hy wat genoem word “Sterke God, Ewige Vader, Vredevors; Hy van wie daar geskryf is, “Die heerskappy is op Sy skouer;” Hy is die wonderbare Raadsman. Ons word genooi om van Hom wysheid te vra. Hy sal “vir almal eenvoudig gee sonder om te verwyt.” Jes. 9: 5; Jak. 1: 5. KE 368.1
In almal wat onder leiding van God staan, sal 'n lewe geopenbaar word wat nie in harmonie met die wêreld en sy gewoontes en gebruike is nie; en elkeen moet 'n daadwerklike kennis hê van die wil van God. Elkeen van ons moet Hom persoonlik tot ons hart hoor spreek. Wanneer elke ander stem stil is, en ons in stilte voor Hom wag, sal die stilte van die siel die stem van God meer hoorbaar maak. Hy beveel ons, “Laat staan en weet dat Ek God is.” Ps. 46: 11. Daar alleen sal ware rus gevind word. En dit is die nodige voorbereiding vir almal wat vir God werk. Te midde van die gejaag en die spanning van die lewe sal die siel wat so verkwik is, omring wees van 'n atmosfeer van lig en vrede. Die lewe sal 'n soete geur versprei, en 'n goddelike krag openbaar wat mense se harte sal aanraak. KE 368.2