Die Koning Van Die Eeue

38/88

Die Eerste Evangeliste

DIE apostels was lede van die gesin van Jesus, en hulle het Hom vergesel waar Hy te voet gereis het deur Galilea. Hulle het saam met Hom die swaar verduur wat hulle te beurt geval het. Hulle het sy toesprake gehoor, hulle het met die Seun van God gewandel en gepraat, en uit Sy daelikse onderrig het hulle geleer hoe om vir die opheffing van die mensdom te werk. Waar Jesus die groot skares bedien wat om Hom vergader het, was Sy dissipels ook teenwoordig, gretig om Sy bevele uit te voer en Sy werk te verlig. Hulle het die orde onder die mense gehandhaaf, die siekes na die Heiland gebring, en die gerief van almal bevorder. Hulle was op die uitkyk vir belangstellende hoorders, het die Skrifte aan hulle verduidelik, en op verskillende maniere gewerk vir hulle geestelike welsyn. Hulle het geleer wat hulle van Jesus gehoor het, en elke dag is hulle geestelike lewe verdiep. Maar hulle moes ook ondervinding opdoen om alleen te werk. Hulle het behoefte gehad aan nog baie onderrig, baie geduld en tederheid. Terwyl Hy nou nog by hulle was om hulle op foute te wys, en om hulle reg te help en van raad te bedien, het die Heiland hulle uitgestuur as Sy verteenwoordigers. KE 352.1

Terwyl hulle by Hom was, was die dissipels dikwels uit die veld geslaan deur die leer van die priesters en Fariseërs, maar hulle het altyd hulle probleme na Jesus gebring. Hy het die waarhede van die Skrifte aan hulle verduidelik in teenstelling met die oorlewerings. Op hierdie wyse het Hy hulle vertroue in Gods Woord versterk, en het Hy hulle in 'n groot mate bevry van hulle vrees vir die rabbi's en hulle verslaafdheid aan die oorlewering. In die opleiding van die dissipels was die voorbeeld van Christus se lewe baie doelmatiger as blote onderrig van leerstellings. Toe hulle van Hom geskei is, het elke uitdrukking, stembuiging, en woord van Hom weer helder voor die gees gekom. Dikwels, wanneer hulle in botsing gekom het met vyande van die evangelie, het hulle Sy woorde herhaal, en waar hulle die uitwerking daarvan op die mense gesien het, het dit hulle baie blygemaak. KE 352.2

Jesus het die twaalf tot Hom geroep en hulle twee-twee uitgestuur in die stede en dorpe. Nie een is alleen uitgestuur nie, maar broeder het saam met broeder, en vriend saam met vriend gewerk. Op hierdie wyse kon hulle mekaar bemoedig, hulle kon saam beraadslaag en bid, en die een se krag het die ander se swakheid aangevul. Op dieselfde manier het Hy ook later die sewentig uitgestuur. Dit was die Heiland se doel dat die verkondigers van die evangelie op hierdie wyse sou saamwerk. In ons tyd sal die werk van die evangelie baie meer sukses hê as ons ons meer stip by hierdie metode sou bepaal. KE 353.1

Die dissipels se boodskap was dieselfde as die van Johannes die Doper, en Christus self: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Hulle moes in geen stryery met die mense gewikkel raak of Jesus van Nasaret die Messias was, of nie; maar in Sy Naam moes hulle dieselfde werke van barmhartigheid doen as Hy. Hy het hulle beveel, “Maak siekes gesond, reinig melaatse, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet gekry, gee dit verniet.” KE 353.2

In Sy bediening het Jesus meer tyd bestee aan die genesing van siekes as aan prediking. Sy wonderwerke het getuig van die waarheid van Sy woorde dat Hy gekom het, nie om mense se siele te verderf nie, maar te red. Die geregtigheid van die Here het voor Hom uitgegaan, en die heerlikheid van die Here was Sy agterhoede. Waar Hy ook gegaan het, was die berigte van Sy barmhartigheid Hom vooruit. Waar Hy gereis het, het die voorwerpe van Sy ontferming hulle verbly in gesondheid, en hulle nuwe kragte op die proef gestel. Skares het om hulle saamgedrom om van hulle eie lippe te hoor van die wonderwerke van die Here. Sy stem was die eerste geluid wat baie ooit gehoor het; Sy Naam was die eerste woord wat hulle ooit geuiter het; Sy gesig was die eerste wat hulle ooit aanskou het. Waarom sou hulle Jesus dan nie liefhê en Sy lof verkondig nie? Waar Hy deur die stede en dorpe gegaan het, was Hy soos 'n lewegewende stroom wat lewe en vreugde versprei net waar Hy gegaan het. KE 353.3

Die navolgers van Christus moet werk soos Hy gewerk het. Ons moet die hongeriges voed, die naaktes klee, en die siekes vertroos. Ons moet diegene wat moedeloos is, help, en diegene wat nie meer hoop het nie, met hoop besiel. Ook in ons geval sal die belofte vervul word, “Jou geregtigheid sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees.” Jes. 58: 8. Die liefde van Christus, geopenbaar in onselfsugtige liefde, sal meer uitrig om die boosdoener te hervorm as die swaard of die geregshof. Daardie dinge is nodig om wetsoortreders die skrik op die lyf te jaag, maar die liefhebbende sendeling kan baie meer uitrig. Dikwels verhard 'n persoon sy hart as hy bestraf word, maar onder die liefde van Christus sal dit versmelt. Nie alleen kan die sendeling liggaamlike siektes genees nie, maar hy kan die sondaar lei tot die Groot Geneesheer wat die siel kan reinig van die melaatsheid van die sonde. Deur Sy diensknegte wil God hê dat die siekes, die ongelukkiges, die duiwelbesetenes, Sy stem sal hoor. Deur Sy menslike werktuie wil Hy vir hulle 'n Trooster wees soos wat hierdie wêreld nie ken nie. KE 354.1

Op hulle eerste sendingtoer moes die dissipels gaan na die “verlore skape van die huis van Israel.” As hulle die evangelie toe sou verkondig het aan die heidene of Samaritane, sou hulle hulle invloed by die Jode verloor het. Deur die vooroordeel van die Fariseërs op te wek, sou hulle in 'n stryd gewikkel raak wat hulle reeds aan die begin van hulle werk sou ontmoedig het. Selfs die apostels was traag om te glo dat die evangelie aan alle volke verkondig moes word. Aleer hulle self hierdie waarheid kon begryp, sou hulle nie gereed gewees het om vir die heidene te arbei nie. As die Jode die evangelie sou aanneem, was dit Gods plan om hulle as Sy boodskappers na die heidene te stuur. Daarom moes hulle eerste die evangelie hoor. KE 354.2

Dwarsdeur Christus se hele arbeidsveld was daar siele wat hulle behoefte besef het, en wat gehonger en gedors het na die waarheid. Die tyd het gekom cm die boodskap van Sy liefde aan hierdie smag- tende harte te verkondig. Na al hierdie mense moes die dissipels gaan as Sy verteenwoordigers. Die gelowiges sou hulle dus aanneem as leraars deur God aangestel, en wanneer die Heiland van hulle weg- geneem sou word, sou hulle nie sonder leraars wees nie. KE 354.3

Op hierdie eerste toer van die dissipels moes hulle alleen na die plekke gaan waar Jesus voorheen was, en waar Hy vriende gemaak het. Hulle voorbereiding vir die reis moes baie eenvoudig wees. Niks moes toegelaat word om hulle aandag van hulle groot werk af te trek, of om enigsins teenstand uit te lok om so die deur vir verdere werk te sluit nie. Hulle moes. nie die kleredrag van die geestelike leraars aanneem nie, of op 'n wyse aantrek wat hulle sou onderskei van die nederige boerestand nie. Hulle moes nie in die sinagoges gaan en die mense byeenroep vir openbare dienste nie; hulle moes van huis tot huis werk. Hulle moes nie tyd verkwis met onnodige groetery, of van huis tot huis gaan om onthaal te word nie; maar op elke plek moes hulle die gasvryheid aanneem van diegene wat waardig was — diegene wat hulle net so hartlik sou verwelkom asof dit Christus self was. Hulle moes die woning binnegaan met die mooi begroeting, “Vrede vir hierdie huis!” Lukas 10: 5. Daardie huis sou geseën word deur hulle gebede, hulle lofliedere, en die studie van die Skrifte met die huis-genote. KE 355.1

Hierdie dissipels moes die heroute van die waarheid wees om die weg te berei vir die koms van hulle Meester. Hulle boodskap was die woord van die ewige lewe, en die lot van die mense sou bepaal word deur hulle aanname of verwerping daarvan. Om die mense onder die indruk te bring van die erns van die boodskap, het Jesus aan Sy dissipels gesê, “En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” KE 355.2

Nou het die Heiland se oog die toekoms deurboor; Hy sien die groter arbeidsvelde waar Sy dissipels, ná Sy dood, vir Hom sou getuig. Sy profetiese blik sien die ervarings van Sy diensknegte deur die eeue totdat Hy die tweede maal sou kom. Hy toon aan Sy navolgers die stryd wat hulle sou voer; Hy openbaar die karakter en die plan van die stryd. Hy wys hulle op die gevare waarin hulle sou kom, en die selfverloëning wat nodig sal wees. Hy wil hê dat hulle die koste moet bereken, sodat hulle nie onverwags deur die vyand oorval word nie. Hulle stryd sal nie wees tefn vlees en bloed nie, maar teen “die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efe. 6: 12. Hulle sou stry teen bonatuurlike magte, maar aan hulle is die belofte van bonatuurlike hulp gegee. Al die wesens van die hemel is in hierdie leer. En meer as engele is in die geledere. Die Heilige Gees, die verteenwoordiger van die Here se Leërowerste, kom persoonlik af om in die stryd te help. Ons swakhede mag baie wees, en ons sondes en foute groot, maar die genade van God is daar vir almal wat dit boetvaardig soek. Die krag van die Almagtige is beskikbaar ten behoewe van diegene wat op God vertrou. KE 355.3

“Kyk,” het Jesus gesê, “Ek stuur julle soos skape onder wolwe; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Christus self het nie een woord van waarheid agter gehou nie, maar Hy het dit altyd in liefde gespreek. Hy het die grootste takt aan die dag gelê, en in Sy omgang met die mense was Hy altyd vriendelik en bedagsaam. Hy was nooit onbeskof, nooit het Hy onnodig harde woorde gesê, en nooit het Hy 'n gevoelige siel onnodig seergemaak nie. Hy het nie die menslike swakhede bestraf nie. Huigelary, ongeloof, en sonde het Hy sonder vrees veroordeel, maar Hy het Sy meedoënlose bestraffings in trane gegee. Hy het geween oor Jerusalem, die stad wat Hy liefgehad het, en wat geweier het om Hom, die Weg en die Waarheid en die Lewe, aan te neem. Hulle het Hom verwerp, die Verlosser, maar Hy het hulle met tere ontferming bejeën, en 'n droefheid so groot dat dit Sy hart gebreck het. Elke siel was kosbaar in Sy oë. Terwyl Hy Homself altyd met goddelike waardigheid gedra het, het Hy die grootste barmhartigheid betoon aan elke lid van die gesin van God. In alle mense het Hy gevalle siele gesien wat Hy gekom het om te red. KE 356.1

Die diensknegte van Christus moet nie handel volgens die insprake van hulle natuurlike hart nie. Hulle het behoefte aan noue gemeen- skap met God om te verhoed dat die eie-ek, by aanleiding weer die oorhand kry en 'n stortvloed van woorde uiter wat onbetaamlik is, en wat nie soos dou en sagte reënbuie verwelkte plante sal verkwik nie. Dit is wat die Satan wil hê dat hulle moet doen; want dit is sy metodes. Dit is die draak wat toornig is; dit is die gees van die Satan wat geopenbaar word in woede en beskuldigings. Godsdiens knegte moet Hom reg verteenwoordig. Hy wil hê dat hulle moet handel alleen met die munt van die hemel, naamlik die waarheid wat Sy eie beeid en opskrif dra. Die krag waardeur hulle die bose moet oorwin, is die krag van Christus. Die heerlikheid van Christus is hulle krag. Hulle moet hulle oë vestig op Sy lieflikheid. Dan sal hulle die evangelie kan verkondig met goddelike takt en sagmoedigheid. En die gees wat sagmoedig bly by aanleiding sal met meer krag ten gunste van die waarheid kan getuig as enige argument, al is dit ook hoe sterk. KE 356.2

Diegene wat in stryd kom met die vyande van die waarheid, kom te staan, nie net teen mense nie, maar teen die Satan en sy werktuie. Hulle moet die Heiland se woorde onthou, “Ek stuur julle soos skape onder wolwe.” Lukas 10: 3. Laat hulle rus in die liefde van God, en die gees sal kalm bly selfs onder persoonlike beledigings. Die Here sal hulle versterk met 'n goddelike krag. Sy Heilige Gees sal hulle verstand en hart beïnvloed sodat hulle stemme nie ook deur die getjank van die wolwe sal beïnvloed word nie. KE 357.1

Voortgaande met Sy onderrig van die dissipels het Jesus gesê, “Pas op vir die mense.” Hulle moes nie absolute vertroue stel in diegene wat God nie ken, en hulle planne nie aan hulle bekendmaak nie; dit sou die werktuie van die Satan 'n voorsprong gee. Die mens se planne ry dikwels Gods planne in die wiele. Diegene wat die tempel van die Here bou, moet bou volgens die plan wat op die berg gegee is — volgens die goddelike patroon. God word onteer, en die evangelie word verraai wanneer Sy diensknegte afhanklik is van die raad van mense wat nie onder die leiding van die Heilige Gees staan nie. Die wysheid van die wêreld is dwaasheid by God. Diegene wat daarin vertrou, sal sekerlik dwaal. KE 357.2

“Hulle sal julle oorlewer aan regbanke, . . . en ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot 'n getuienis vir hulle en die heidene.” Matt. 10: 17, 18. Vervolging sal die lig versprei. Die diensknegte van Christus sal gebring word voor die groot manne van die wêreld, wat andersins die evangelie miskien nooit sal hoor nie. Die waarheid is in 'n verkeerde lig aan hierdie manne voorgestel. Hulle het geluister na valse voorstellings van die geloof van Christus se dissipels. Baiemaal is die enigste manier waarop hulle die ware aard van die geloof kan leer, die getuienis van diegene wat verhoor word vir hulle geloof. Tydens die verhoor word die beskul- digdes ondervra, en moet die regters luister na hulle getuienis. In tye van nood sal God Sy genade skenk aan Sy diensknegte. “Dit sal julle,” het Jesus gesê, “in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” Namate die Gees van God die verstand van Sy diensknegte verlig, sal die waarheid in sy goddelike krag en heerlikheid voorgestel word. Diegene wat die waarheid verwerp, sal die dissipels beskuldig en verdruk. Maar onder lyding, selfs tot die dood, moet die kinders van die Here die sagmoedigheid van hulle goddelike Voorbeeld openbaar. So sal die kontras uitstaan tussen die werktuie van die Satan en die verteenwoordigers van Christus. Die Verlosser sal verhoog word voor die regeerders en die mense. KE 357.3

Die dissipels word nie vervul met die moed en volharding van die martelaars voordat sulke genade nodig is nie. Dan eers sal die Heiland se belofte vervul word. Toe Petrus en Johannes getuig het voor die Sanhedrin, is “hulle as metgeselle van Jesus herken.” Hand. 4: 13. Van Stefanus staan daar geskryf, “Terwyl almal wat in die Raad sit, hulle oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig was soos die gesig van 'n engel.” Maar “hulle kon die wysheid en die gees waarmee hy gespreek het, nie weerstaan nie.” Hand. 6:15, 10. En waar Paulus van sy verhoor skryf in die keiserlike hof, sê hy: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. . . . Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.” 2 Tim. 4: 16, 17. KE 358.1

Die dienaars van Christus moes nie 'n toespraak vooraf berei om te lewer by hulle verhoor nie. Daardie voorbereiding moes hulle elke dag maak deur die kosbare waarhede van Gods Woord in hulle harte te bêre, en hulle geloof deur gebed te versterk. Wanneer hulle verhoor word, sal die Heilige Gees die waarhede wat nodig is in herinnering bring. KE 358.2

Daelikse ernstige strewe om God te ken, en Jesus Christus wat Hy gestuur het, sal krag en doeltreffendheid aan die siel gee. Die kennis wat verkry word deur 'n ywerige ondersoek van die Skrifte sou in die geheue geflits word op die regte tyd. Maar as iemand versuim het om bekend te raak met die woorde van Christus, en nie 'n proefondervindelike kennis van Sy genade het nie, kan hy nie verwag dat die Heilige Gees Sy woorde in herinnering sal bring nie. Hulle moet God elke dag dien met 'n onverdeelde liefde, en dan verder op Hom vertrou. KE 358.3

So verbitterd sou die vyandskap teen die evangelie wees dat dit alle aardse bande sou veronagsaam. Die dissipels van Christus sou in die dood verraai word deur hulle eie huisgenote. “Julle sal deur almal gehaat word terwille van My Naam,” het Hy gesê, “maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Markus 13: 13. Maar Hy het hulle vermaan om nie onnodig vervolging uit te lok nie. Hy self het dikwels van een arbeidsveld na die ander gegaan om weg te kom van diegene wat gesoek het om Hom te dood. Toe Hy in Nasaret verwerp is en Sy eie dorpsgenote Hom wou doodmaak, het Hy na Kapernaum gegaan, en daar was die mense verwonderd oor Sy leer, “want Sy woord was met gesag.” Lukas 4: 32. Sy dienaars moet dus nie ontmoedig word deur vervolging nie, maar hulle moet 'n plek soek waar hulle nog kan werk vir die redding van siele. KE 359.1

Die dienskneg is nie bo sy meester nie. Die Vors van die hemel word genoem Beëlsebul, en Sy dissipels sou op dieselfde manier vals voorgestel word. Maar wat ook al die gevaar, Christus se navolgers moet getuig vir hulle beginsels. Hulle moet niks bedek nie. Hulle kan nie stilbly totdat dit eers veilig is vir hulle om die waarheid te verkondig nie. Hulle is aangestel as die wagters om mense te waarsku van hulle gevaar. Die waarheid van Christus geleer, moet aan almal meegedeel word, vry en openlik. Jesus het gesê, “Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.” KE 359.2

Jesus self het nooit die vrede verseker deur 'n kompromis nie. Sy hart het oorgeloop van liefde vir die hele mensdom, maar Hy het nooit hulle sondes deur die vingers gesien nie. Hy was 'n te opregte vriend om stil te bly terwyl hulle voortgaan op 'n weg wat die ondergang van hulle siele sou beteken — siele wat Hy deur Sy eie bloed losgekoop het. Hy het gewerk sodat die mens getrou kon wees aan homself, getrou aan sy hoër en ewige belange. Die dienaars van Christus is geroep om dieselfde werk te doen, en hulle moet oppas dat hulle nie die waarheid prysgee waar hulle strewe om die vrede te bewaar nie. Hulle moet die dinge najaag “wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” (Rom. 14: 19.) Maar ware vrede kan nooit verkry word deur beginsels te kompromitteer nie. En geen mens kan getrou wees aan beginsel sonder om teenstand uit te lok nie. KE 359.3

Diegene wat opregte Christene wil wees, sal beveg word deur die kinders van ongehoorsaamheid. Maar Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie.” Diegene wat getrou is aan God hoef nie te vrees vir die krag van mense of die vyandskap van die Satan nie. In Christus is die ewige lewe vir hulle verseker. Al wat hulle hoef te vrees, is dat hulle miskien die waarheid sal opgee en dus die vertroue sal verraai wat God in hulle gestel het. KE 360.1

Dit is die werk van die Satan om mense se harte te vervul met twyfel. Hy lei hulle om God te beskou as 'n meedoënlose regter. Hy versoek hulle tot die sonde en maak hulle dan wys dat hulle te afskuwelik is om hulle hemelse Vader te nader, en dat hulle Sy ontferming verbeur het. Die Here verstaan dit alles. Jesus het Sy dissipels verseker van Gods medelyde met hulle in hulle behoeftes en swakhede. Elke versugting en pyn en droefheid word gevoel in die Vader se hart. KE 360.2

Die Bybel toon ons 'n God wat woon in die hoë en heilige plek, nie ledig en stil en alleen nie, maar omring van tienduisendmaal tien- duisend en duisende en duisende heilige wesens, almal gretig om Sy wil te doen. Deur kanale wat ons nie kan sien nie is Hy in daad- werklike verbinding met elke deel van Sy groot heelal. Maar dit is in hierdie nietige ou wêreldjie, in die siele waarvoor Sy eniggebore Seun gesterf het, waar Sy belangstelling en die belangstelling van die ganse hemel gekonsentreer is. God buig neer op Sy troon om die geroep te hoor van die ellendiges. Op elke opregte gebed antwoord Hy, “Hier is Ek.” Hy hef die lydendes en ellendiges op. In al ons benoudhede is Hy benoud. In elke versoeking en beproewing is die engel van Sy aangesig naby om ons uit te red. KE 360.3

Selfs nie 'n mossie val op die grond sonder dat die Vader dit weet nie. Die Satan se haat van God beweeg hom om elke voorwerp van die Heiland se sorg te haat. Hy strewe om die handewerk van God te skend, en hy skep behae daarin om selfs stomme diere te vernietig. Dit is deur Gods beskermende genade dat die voëltjies bewaar word om ons bly te maak met hulle sang. Maar Hy vergeet selfs nie die mossies nie. “Moet dan nie bang wees nie: julle is meer werd as baie mossies.” KE 360.4

Jesus het voortgegaan: Soos julle My bely voor die mense, so sal Ek julle bely voor God en die heilige engele. Julle is My getuies op die aarde, kanale waarlangs My genade kan vloei vir die genesing van die wêreld. So sal Ek julle verteenwoordiger in die hemel wees. Die Vader sien nie julle karakter vol gebreke nie, maar Hy sien julle, beklee met My volmaaktheid. Ek is die kanaal waardeur die seë- ninge van die Hemel tot julle sal kom. En elkeen wat My bely deur deel te hê aan My opoffering vir die wat verlore is, sal Ek bely om te deel in die heerlikheid en vreugde van die verlostes. KE 361.1

Diegene wat Christus bely, moet Christus wonende in hulle hê. Niemand kan meedeel wat hy nie ontvang het nie. Die dissipels mag baie welsprekend wees oor die leerstellings, en hulle mag die woorde van Christus kan herhaal; maar as hulle nie Christelike sagmoedigheid en liefde het nie, dan bely hulle Hom nie. n Gees wat teenstrydig is met die gees van Christus sal Hom verloën, wat die belydenis ook mag wees. Mense kan Christus verloën deur kwaadpratery, ydelheid, en woorde wat onwaar en onvriendelik is. Hulle mag Hom verloën deur die laste van die lewe te vermy en deur sondige plesier na te jaag. Hulle mag Hom verloën deur gelykvormig te word aan die wêreld, deur onhoflikheid, deur liefde vir hulle eie opinies, deur eiegeregtigheid, deur twyfel, deur moeilikheid te soek, en deur in die duisternis te woon. Op al hierdie maniere kan hulle verklaar dat Christus nie in hulle woon nie. En “elkeen wat My verloën voor die mense,” sê Hy, “hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemele is” KE 361.2

Die Heiland het aan Sy dissipels gesê om nie te hoop dat die wêreld se vyandskap teen die evangelie oorwin sou word en dat alle teenstand na n tyd sou ophou nie. Hy het gesê, “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Hierdie skepping van onenigheid is nie die uitwerking van die evangelie nie, maar die gevolg van teenstand daarteen. Van alle vervolging is onenigheid tuis die swaarste om te verduur, die vervreemding van die dierbaarste aardse vriende. Maar Jesus verklaar, “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie werd nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie werd nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie werd nie.” KE 361.3

Die werk van Christus se dienaars is 'n hoë eer en 'n heilige pand. ,.Wie julle ontvang,” het Hy gesê, “ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” Geen betoning van vriendelikheid teenoor hulle in Sy Naam sal onbeloon bly nie. Selfs die swakste en geringste van die gesin van God sal dieselfde erkenning kry. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies”— diegene wat nog kinders in hulle geloof en kennis van Christus is —“net 'n beker koue water laat drink in die naam van 'n dissipel, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” KE 362.1

So het die Heiland Sy onderrig afgesluit. In die Naam van Christus het die gekose twaalf uitgegaan, soos Hy gegaan het, “om die evangelie aan die armes te bring ... om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangene vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” Lukas 4: 18, 19. KE 362.2