Die Koning Van Die Eeue
Wie is My Broers?
DIE seuns van Josef het glad nie saam met Jesus gevoel in Sy werk nie. Die berigte wat hulle bereik het aangaande Sy lewe en werk het hulle met verbasing en ontsteltenis vervul. Hulle het gehoor dat Hy hele nagte in gebed deurgebring het, en dat Hy bedags deur groot skares omring was en dat Hy Hom nie die tyd gegun het om te eet nie. Sy vriende het gevoel dat Hy Homself gedaan gemaak het deur Sy aanhoudende werk. Hulle kon nie Sy houding teenoor die Fariseërs verklaar nie, en daar was sommige wat gevrees het dat Hy verstandelik ongebalanseerd geraak het. KE 323.1
Sy broers het daarvan gehoor, en ook van die beskuldiging van die Fariseërs dat Hy duiwels uitgewerp het deur die mag van die Satan. Hulle het die smaad baie gevoel wat op hulle gekom het deur hulle verwantskap aan Jesus. Hulle het geweet watter opskudding Sy woorde en werke veroorsaak het, en nie alleen was hulle ontsteld oor Sy vry- postige uitlatings nie, maar hulle was gebelgd oor Sy bestraffing van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle het besluit dat Hy oorgehaal of gedwing moes word om hierdie wyse van optrede te staak, en hulle het Maria gevra om saam met hulle te staan, menende dat hulle, deur Sy liefde vir haar, Hom mag oorreed om meer verstandig te wees. KE 323.2
Dit was net 'n rukkie tevore dat Jesus vir die tweede maal die wonderwerk verrig het om 'n man te genees wat blind, en stom, en deur 'n duiwel besete was; en die Fariseërs het die beskuldiging herhaal: “Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.” Matt. 9: 34. KE 323.3
Christus het reguit aan hulle gesê dat, omdat hulle die werk van die Heilige Gees aan die Satan toegeskryf het, hulle hulleself afgesny het van die Bron van seëninge. Diegene wat teen Jesus self gespreek het, en nie Sy goddelike karakter besef het nie, mag nog vergifnis ontvang; want deur die Heilige Gees kon hulle miskien daartoe gebring word om hulle dwaling te sien en hulle te bekeer. Wat die sonde ook is, as die siel glo en tot bekering kom, sal die skuld uitgedelg word deur die bloed van Christus; maar die een wat die werk van die Heilige Gees verwerp, plaas homself in 'n posisie waar bekering en geloof onmoontlik is. Dit is deur die Gees dat God in die hart werk. Wanneer mense moedswillig die Gees verwerp, en sê dat dit van die Satan is, sny hulle hulleself af van die kanaal waardeur God met die mens in verbinding kan tree. Wanneer die Gees finaal verwerp is, is daar niks meer wat God vir die siel kan doen nie. KE 324.1
Die Fariseërs aan wie Christus hierdie waarskuwing gegee het, het self nie die beskuldiging geglo wat hulle teen Hom ingeonng het nie. Daar was nie een van daardie waardigheidsbekleërs wat nie tot die Heiland aangetrokke gevoel het nie. Hulle het die stem van die Gees in hulle eie harte gehoor wat gesê het dat Hy die Gesalfde van Israel is, en wat by hulle aangedring het om Sy dissipels te word. In die lig van Sy teenwoordigheid het hulle hulle eie onheiligheid besef, en hulle het verlang na 'n geregtigheid wat hulle self nie kon skep nie. Maar ná hulle verwerping van Hom, sou dit vir hulle te vernederend wees om Hom aan te neem as die Messias. Nadat hulle hulle voete in die weg van ongeloof geplaas het, was hulle te trots om hulle dwaling te bely. En deur te weier om die waarheid te erken, het hulle met geweld probeer om die Heiland se leer te bestry. Die bewyse van Sy krag en genade het hulle net meer kwaad gemaak. Hulle kon die Heiland nie belet om Sy wonderwerke te doen nie; hulle kon Sy leer nie stilmaak nie; maar hulle het alles in hulle mag gedoen om Hom vals voor te stel en Sy woorde te vervals. Maar nog het die oortuigende Gees van God hulle agtervolg, en hulle moes baie versperrings oprig om Sy krag te weerstaan. Die magtigste werktuig wat in die menslike hart kan werk, was besig om met hulle te werk, maar hulle wou nie toegee nie. KE 324.2
Dit is nie God wat mense se oë verblind en hulle hart verhard nie. Hy stuur die lig om hulle uit hulle dwaling te help en hulle op veilige paaie te lei; dit is wanneer hulle die lig verwerp dat hulle oë verblind en hulle hart verhard word. Dikwvels geskied die proses geleidelik en byna ongemerk. Lig kom tot die siel deur Gods Woord, deur Sy diensknegte, of deur die regstreekse werking van Sy Gees; maar wanneer een ligstraal veronagsaam word, geskied daar 'n gedeeltelike verduistering van die geestesvermoëns, en die tweede ligstraal word dan nie so maklik gesien nie. So neem die duisternis toe totdat dit nag is in die siel. So het dit gegaan met daardie Joodse leiers. Hulle was oortuig dat daar 'n goddelike krag in Christus was, maar om die waarheid te weerstaan, het hulle die werk van die Heilige Gees aan die Satan toegeskryf. Deur dit te doen, het hulle moedswillig die bedrog gekies; hulle het hulleself aan die Satan oorgegee, en daarna is hulle deur sy mag beheers. KE 325.1
In noue verband met Christus se waarskuwing aangaande die sonde teen die Heilige Gees, staan ook die waarskuwing teen ydele en sondige woorde. Die woorde is 'n aanwysing van wat in die hart is. “Uit die oorvloed van die hart praat die mond.” Maar die woorde is meer as 'n aanduiding van die karakter; hulle het ook krag om in te werk op die karakter. Mense word beïnvloed deur hulle eie woorde. Dikwels, in n driftige oomblik, en besiel deur die Satan, gee hulle uiting aan jaloesie of bose bedenkinge, en sê hulle dinge wat hulle nie werklik glo nie, maar die woorde werk in op hulle gedagtes. Hulle word bedrieg deur hulle eie woorde, en hulle glo dit op ingewing van die Satan. As hulle eenmaal die opinie of gevolgtrekking uitgespreek het, is hulle dikwels te trots om hulle woorde terug te trek, en hulle probeer om te bewys dat hulle reg is totdat hulle dit self glo. Dit is gevaarlik om woorde van twyfel uit te spreek, en gevaarlik om die goddelike lig in twyfel te trek of te kritiseer. Die gewoonte om on- verskillige en oneerbiedige kritiek uit te spreek, werk in op die karakter deur die persoon oneerbiedig en ongelowig te maak. Menige persoon wat hierdie weg ingeslaan het, het daarop voortgegaan onbewus van die gevaar totdat hy sover gegaan het dat hy die plek bereik waar hy die werk van die Heilige Gees gekritiseer en selfs verwerp het. Jesus het gesê, “Elke ydel woord wat die mense praat, daar moet hulle rekenskap van gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” KE 325.2
Toe het Hy 'n waarskuwing gegee aan diegene wat onder die indruk van Sy woorde gekom het, wat Hom met blydskap gehoor, maar hulleself nie oorgegee het vir die inwoning vare die Heilige Gees nie. Dit is nie net deur weerstand wat ´n siel kan verlore gaan nie, maar ook deur nalatigheid. “Wanneer 'n onreine gees uit die mens uitgegaan het,” het Jesus gesê, “gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en kry dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en kry dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar.” KE 326.1
Daar was vele in die tyd van Christus, en vandag nog, by wie die beheer van die Satan skynbaar vir 'n tyd verbreek is; deur die genade van God is hulle bevry van die bose geeste wat oor hulle siel heerskappy gevoer het. Hulle het hulle verbly in die liefde van God; maar soos by diegene by wie die saad op rotsagtige grond geval het, het hulle nie in Sy liefde gebly nie. Hulle het hulle nie daeliks aan God oorgegee sodat Christus in hulle hart kon woon nie; en toe die bose gees terugkom met “sewe ander geeste slegter as hy self, is hulle heeltemal beheers deur die mag van die Bose.” KE 326.2
Wanneer die siel hom aan Christus oorgee, neem 'n nuwe mag besit van die nuwe hart. Daar word 'n verandering bewerk wat die persoon nie self kon bewerk nie. Dit is 'n bonatuurlike werk wat n bonatuurlike element in die menslike natuur bring. Die siel wat aan Christus oorgegee is, word 'n fort van Hom, wat Hy beset in n opstandige wêreld, en dis Sy plan dat geen gesag daarin sal erken word behalwe Sy eie nie. 'n Siel wat so in besit van hemelse kragte is, sal bestand wees teen al die aanvalle van die Satan. Maar tensy ons ons oorgee aan die beheer van Christus, sal ons beheers word deur die Bose. Ons sal onvermydelik onder die beheer wees van die een of die ander van die twee groot magte wat stry om opperheerskappy in hierdie wêreld. Dit is nie nodig om regstreeks die koninkryk van die duisternis te kies om onder sy dominasie te kom nie. 'n Persoon hoef maar net na te laat om homself te verbind met die koninkryk van die lig. As ons nie saamwerk met die hemelse werktuie nie, sal die Satan besitneem van die hart en dit sy woonplek maak. Die enigste verdediging teen boosheid is die inwoning van Christus in die hart deur geloof in Sy geregtigheid. Tensy daar 'n lewende verbintenis met God is, sal ons nooit die onheilige uitwerking van eie-liefde, selfbevrediging, en die versoeking tot die sonde kan weerstaan nie. Ons mag baie siegte gewoontes laat staan, en vir 'n tyd mag ons gemeenskap verbreek met die Satan, maar sonder 'n lewende verbintenis met God deur oorgawe aan Hom van oomblik tot oomblik, sal ons oorwin word. Sonder 'n persoonlike kennis van Christus en gedurige gemeenskap met Hom, sal ons aan die genade van die vyand oorgelaat word, en ons sal sy bevele uitvoer tot die einde toe. KE 326.3
“Die laaste van daardie mens word erger as die eerste. So sal dit ook wees,” het Jesus gesê, “met hierdie bose geslag.” Daar is niemand wat so verhard is as diegene wat die uitnodiging van genade en die Gees van genade versmaai het nie. Die algemeenste sonde teen die Heilige Gees is die gedurige verwerping van die Hemel se uitnodiging tot bekering. Elke stap in die verwerping van Christus is 'n stap in die verwerping van die saligheid, en dit lei tot die sonde teen die Heilige Gees. KE 327.1
Deur Christus te verwerp het die Joodse volk die onvergeeflike sonde gepleeg; en deur die uitnodiging tot genade te versmaai, mag ons dieselfde sonde pleeg. Ons beledig die Vors van die lewe, en steek Hom in die skande voor die sinagoge van die Satan en voor die heelal wanneer ons weier om te luister na Sy boodskappers, en wel luister na afgesante van die Satan wat ons van Christus wil skei. So- lank as 'n persoon dit doen, het hy geen hoop op vergifnis nie en sal hy eindelik geen begeerte meer hê om met God versoen te raak nie. KE 327.2
Terwyl Jesus nog besig was om die mense te leer, het Sy dissipels Hom verwittig dat Sy moeder en broers buite gewag het om met Hom te praat. Hy het geweet wat in hulle harte omgaan en Hy het geantwoord: “Wie is My moeder? en wie is My broers? En Hy steek Sy hand uit oor Sy dissipels en sê: Daar is My moeder en My broers. Want elkeen wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is, die is My broer en suster en moeder.” KE 327.3
Almal wat Christus aanneem deur die geloof, word met Hom verbind deur bande sterker as die van menslike verwantskap. Hulle sal een met Hom word, net soos Hy een met die Vader is. As 'n gelowige en dader van Sy woord was Sy moeder, wat die verlossing betref, nouer met Hom verbind as deur haar natuurlike verwantskap. Sy broers sou geen baat vind deur hulle verwantskap met Hom tensy hulle Hom ook in geloof aanneem as hulle persoonlike Verlosser nie. KE 327.4
Watter steun sou Christus nie gevind het in Sy aardse familie- betrekkings as hulle in Hom sou geglo het as die Een van die hemel gestuur, en as hulle saam met Hom sou gewerk het om Gods wil te doen nie! Hulle ongeloof het 'n skaduwee gewerp oor die aardse lewe van Christus. Dit was deel van daardie bitter beker van droefheid wat Hy vir ons moes drink. KE 328.1
Die vyandskap wat teen die evangelie opgewek is, is diep gevoel deur die Seun van God, en dit was vir Hom die pynlikste in Sy eie huis, want Sy eie hart was vol vriendelikheid en liefde en Hy het liefde verwag van Sy huisgenote. Sy broers wou hê dat Hy moes swig vir hulle idees wanneer so 'n handelwyse heeltemal in botsing sou kom met Sy goddelike sending. Hulle het gemeen dat Hy hulle raad nodig gehad het. Hulle het Hom uit 'n menslike oogpunt geoordeel, en hulle het gedink dat as Hy net die dinge sou spreek wat aanneemlik was vir die skrifgeleerdes en Fariseërs, Hy daardie onaangename stryd sou vermy wat deur Sy woorde opgewek is. Hulle het gemeen dat Hy 'n bietjie ongebalanseerd was omrede Sy aanspraak op goddelike gesag, en deur Homself bokant die rabbi's te stel in die bestraffing van hulle sondes. Hulle het geweet dat die Fariseërs geleentheid gesoek het om Hom te beskuldig, en hulle het gevoel dat Hy hulle genoeg rede daartoe gegee het. KE 328.2
Met hulle kort meetsnoer kon hulle nie die sending verstaan wat Hy kom vervul het nie, en om daardie rede kon hulle nie met Hom simpatiseer in Sy beproewings nie. Hulle harde, onvriendelike woorde het getoon dat hulle 'n verkeerde begrip van Sy karakter gehad het, en nie besef het dat daar 'n vereniging van die goddelike met die menslike was nie. Hulle het Hom dikwels in groot droefheid gesien, maar pleks van Hom te troos, het hulle gees en hulle woorde net Sy hart verwond. Sy gevoelige natuur is gemartel, Sy motiewe is nie verstaan, en Sy werk nie begryp nie. KE 328.3
Sy broers het dikwels die filosofie van die Fariseërs aangevoer, stokoud en verslete, en hulle het gemeen dat hulle Hom kon leer — Hy wat al die waarheid verstaan en al die verborgenhede geweet het. Wat hulle nie kon verstaan nie, het hulle sommer alles veroordeel. Hulle verwyte het Hom diep seergemaak en Sy siel was moeg en ongelukkig. Hulle het geloof in God betuig en het gedink dat hulle God geregverdig het, maar God was al die tyd by hulle in die vlees en hulle het Hom nie geken nie. KE 328.4
Hierdie dinge het Sy pad met dorings besaai. Die misverstand in Sy eie huis het Christus so gegrief dat dit vir Hom 'n verligting was om nie daar te wees nie. Daar was een huis wat Hy baie graag besoek het — die huis van Lasarus, Maria en Martha; want in die atmosfeer van liefde het Hy rus vir Sy gees gevind. Maar daar was nogtans niemand op aarde wat Sy goddelike sending kon verstaan, of geweet het van die las wat Hy ten behoewe van die mensdom gedra het nie. Dikwels kon Hy net in eensaamheid verligting kry, en in gemeenskap met Sy Vader. KE 329.1
Diegene wat geroep is om vir die ontwil van Christus te ly, wat misverstaan en gewantrou word selfs in hulle eie huis, kan vertroosting vind in die gedagte dat Jesus net so moes ly. Hy is met ontferming bewoë oor hulle. Hy gebied hulle om gemeenskap met Hom te soek, en verligting te vind waar Hy dit gevind het, naamlik in gemeenskap met die Vader. KE 329.2
Diegene wat Christus aanneem as hulle persoonlike Saligmaker, word nie as wese gelaat om die beproewings van die lewe alleen te dra nie. Hy neem hulle aan as lede van die hemelse gesin; Hy laat hulle Sy Vader, hulle Vader noem. Hulle is Sy “kleintjies,” dierbaar vir die hart van God, en met Hom verbind met die teerste en blywendste bande. Net soveel hoër as wat die goddelike as die menslike is, is Sy gevoel teenoor ons ook baie sterker as die van ons vader of moeder in ons hulpeloosheid. KE 329.3
In die wette soos aan Israel gegee, het ons 'n pragtige illustrasie van Christus se verhouding teenoor Sy volk. As 'n Hebreër deur armoede genoodsaak was om afstand te doen van sy erfdeel, en homself moes verkoop, dan het die plig om hom en sy erfdeel weer los te koop, geval op sy naaste bloedverwant. (Sien. Lev. 25: 25, 47-49; Rut 2: 20.) So ook het die werk om ons en ons erfdeel weer los te koop, wat ons deur die sonde verbeur het, geval op Hom wat ons “naas- bestaande” is. Dit was om ons los te koop dat Hy ons naasbestaande geword het. Baie nader aan ons as vader, moeder, broer, vriend, of beminde, is die Here ons Verlosser. “Wees nie bevrees nie,” sê Hy, “want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” “Omdat jy kostelik is in My oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.” Jes. 43:1-4 KE 329.4
Christus het die hemelse wesens lief rondom Sy troon; maar hoe sal ons die groot liefde verklaar waarmee Hy ons liefgehad het? Ons kan dit nie verstaan nie, maar in ons eie lewe kan ons ondervind dat dit waar is. En as ons Sy naasbestaandes is, met watter liefde behoort ons diegene te bejeën wat broeders en susters van ons Heiland is! Behoort ons nie die eerste te wees cm die aansprake van goddelike bloedverwantskap te erken nie? Aangeneem in die gesin van God, behoort ons nie ons Vader en ons naasbestaandes te eer nie? KE 330.1