Patriarge en Profete
Patriarge En Profete
Voorwoord
DIE uitgewers stuur hierdie werk uit met die oortuiging dat dit ‘n saak van uiterste en universele belang onder die kollig bring, ‘n saak wat gewis opgehelder moet word; dat dit waarhede, waaroor daar te min kennis is, of wat te algemeen verontagsaam word, aanbied. Die groot stryd tussen waarheid en dwaling, tussen lig en duisternis, tussen die krag van God en die gepoogde aanmatiginge van die vyand van alle geregtigheid, is die een groot skouspel waarvan mens met reg kan aanvaar dat dit die aandag van die heelal in beslag moet neem. Dat so ‘n stryd ten gevolge van die sonde bestaan, dat dit deur verskillende stadiums moet vorder en uiteindelik tot eer van God en die verheerliking van Sy getroue diensknegte besleg sal word, is net so seker as wat die Bybel die openbaring van God aan die mensdom is. Daardie Woord openbaar die groot glanspunte van hierdie stryd, ‘n stryd wat die verlossing van die wêreld behels; en daar is besondere tydperke wanneer hierdie vrae buitengewoon belangrik word en dit dringend noodsaaklik word om ons verhouding daartoe te verstaan. PeP .0
Die hede is so ‘n tyd, want alles dui daarop dat ons nou met die volste vertroue die hoop kan koester dat hierdie lang stryd sy einde nader. Nogtans is daar deesdae baie mense wat blykbaar geneig is om daardie deel van die verhaal wat aan ons die stappe waarlangs ons wêreld by hierdie groot strydvraag betrokke geraak het openbaar, as ‘n fabel af te skryf; en daar is ander wat, hoewel hulle hierdie uiterste siening vermy, nogtans geneig is om dit as uitgedien en onbelangrik te beskou en dit om hierdie rede verwaarloos. PeP .0
Maar wie is daar wat nie graag die geheime oorsake van so ‘n vreemde verval wil naspeur nie, nie die gees daarvan wil onderskei, van die gevolge kennis wil neem en wil leer hoe om daardie gevolge te vermy nie? Dit is die onderwerpe waaroor hierdie boek handel. Dit bevorder ‘n lewendige belangstelling in daardie dele van God se Woord wat die meeste verwaarloos word. Dit gee nuwe betekenis aan die beloftes en profesieë van die heilige verhaal, dit regverdig die manier waarop God die opstand hanteer en dit spreek van die wonderlike genade van God deurdat Hy vir die sondige mens ‘n verlossingsplan beraam het. Ons word deur die geskiedenis van hierdie werk meegevoer tot die tyd wanneer die planne en voornemens van God duidelik voor Sy uitverkore volk ontplooi is. PeP .0
Hoewel die boek met sulke verhewe onderwerpe te doen het, onderwerpe wat die hart tot in sy dieptes roer en die lewendigste gemoedstemminge aanwakker, is die styl van die boek helder en die taal PeP .0
duidelik en regult. Ons beveel hierdie boek aan by almal wat hulle verlustig in die studie van die verlossingsplan van God vir die mensdom en wat enigsins belangstel in die verhouding van hulle eie siel tot Christus se versoeningswerk. Ons beveel dit ook by elke ander mens aan, sodat dit belangstelling in hierdie dinge by hom kan opwek. PeP .0
Dat die lees van hierdie boek tot voordeel van elke leser geseën mag wees en dat dit die voete van baie op die weg van die lewe mag bring, is die ernstige bede van die Uitgewers. PeP .0