Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 58 — Die Koms van ‘n Verlosser
Deur die lang eeue van “...benoudheid en duisternis ... jammernag en donkerheid...” (Jes 8:22) wat die geskiedenis van die mensdom gekenmerk het sedert ons eerste ouers hul Eden- tuiste verbeur het tot op die tyd van die verskyning van die Seun van God as die Verlosser van sondaars, was alle hoop op die koms van ‘n Verlosser om manne en vroue van die slawerny van sonde en die graf te bevry, gesentreer. DVvPEk 535.1
Die eerste aanduiding van daardie hoop is aan Adam en Eva gegee in die vonnis wat oor die slang in Eden uitgespreek is toe die HERE tydens hulle verhoor aan Satan verklaar het: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15) DVvPEk 535.2
Terwyl die skuldige paar na hierdie woorde geluister het, was hulle met hoop besiel; want in die profesie aangaande die verbreking van Satan se mag, het hulle ‘n belofte van verlossing van die verwoesting, wat deur oortreding meegebring is, onderskei. Hoewel hulle onder die mag van hul teëstander sou ly omdat hulle onder sy verleidelike invloed gekom het en gekies het om die eenvoudige opdrag van Jehova te verontagsaam, was dit nie vir hulle nodig om aan totale wanhoop toe te gee nie. Die Seun van God het aangebied om met Sy eie lewensbloed versoening vir hul oortreding te doen. Aan hulle is ‘n proeftydperk verleen waartydens hulle, deur geloof in die krag van Christus om te verlos, weer kinders van God kon word. DVvPEk 535.3
Satan het, as gevolg van sy sukses om die mens van die pad van gehoorsaamheid te laat afwyk, “...die god van hierdie wêreld...” geword (2 Kor 4:4) Die heerskappy wat eers aan Adam behoort het, is aan die indringer oorgedra. Maar die Seun van God was van voorneme om na hierdie aarde kom om die prys van sonde te betaal en sodoende, nie alleen die mens te verlos nie, maar om ook die heerskappy wat verbeur is te herwin. Dit is die herstel waarvan Miga geprofeteer het toe hy gesê het: “En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom.” (Miga 4:8). Die Apostel Paulus het daarna verwys as: “...om sy eiendom te verlos.” (Ef 1:14) En die psalmis het dieselfde finale herstel van die mens se oorspronklike erfenis in gedagte gehad toe hy verklaar het: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Ps 37:29) DVvPEk 535.4
Hierdie hoop op verlossing deur die koms van die Seun van God as Verlosser en Koning, het nooit uit die mens se hart uitgesterf nie. Van die begin af was daar sommiges wie se geloof verby die skadu van die hede na die realiteite van die toekoms gereik het. Adam, Set, Henog, Metusalag, Noag, Sem, Isak en Jakob — deur hierdie en ander waardiges, het die HERE kosbare openbarings van Sy wil bewaar. En so het God aan die kinders van Israel, die uitverkore volk deur wie die beloofde Messias aan die wêreld gegee sou word, die kennis van die vereistes van Sy wet en van die verlossing wat deur die versoeningsoffer van Sy geliefde Seun bereik moes word, deurgegee. DVvPEk 536.1
Die hoop van Israel is vergestalt in die belofte wat tydens die oproep op Abraham gemaak is en daarna keer op keer aan sy nageslag herhaal is: “En in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:3). Soos wat die doel van God vir die verlossing van die mensdom aan Abraham ontvou is, het die Son van Geregtigheid in sy hart geskyn en sy duisternis verdryf. En toe die Verlosser Self uiteindelik onder die mensekinders gewandel en gepraat het, het Hy aan die Jode getuig aangaande die helder hoop op verlossing van die patriarg, deur die koms van ‘n Verlosser: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy My dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.” (Joh 8:56). DVvPEk 536.2
Hierdie selfde salige hoop word in die seën wat die sterwende Jakob oor sy seun Juda uitgespreek het voorspel: DVvPEk 537.1
“Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof.
ou hand sal op die nek van jou vyande wees;
Voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig...
Die septer sal van Juda nie wyk nie,
Nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit
Totdat Silo kom;
En aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”
DVvPEk 537.2
(Genesis 49:8,10)
En weer, op die grense van die Beloofde Land, is die koms van die Verlosser van die wêreld voorspel in die profesie wat Bileam uitgespreek het: DVvPEk 537.3
“Ek sien Hom, maar nie nou nie, ek aanskou Hom,
Maar nie naby nie:
'n Ster kom te voorskyn uit Jakob en ‘n Septer
Kom uit Israel op,
En Hy verbrysel die slape van die hoof van Moab
En werp al die oorlogsugtiges omvêr.”
DVvPEk 537.4
(Numeri 24:17)
Deur Moses is die doel van God, om Sy Seun as Verlosser van die gevalle ras te stuur, aan Israel voorgehou. By een geleentheid, kort voor sy dood, het Moses verklaar: ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister.” Aan Moses is duidelike opdrag vir Israel aangaande die komende werk van die Messias gegee: “‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is...” was die woorde van Jehova aan sy dienskneg “...en Ek sal My woorde in sy mond lê en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.” (Deut 18:15,18) DVvPEk 537.5
In patriargale tye was die offergawes wat verband gehou het met die Goddelike aanbidding ‘n ewige herinnering aan die koms van ‘n Verlosser en dit het gegeld vir die hele ritueel van die heiligdom in Israel se geskiedenis. In die bediening van die tabernakel en die tempel wat daarna die plek daarvan ingeneem het, was die volk elke dag deur middel van tipes en skadubeelde aangaande die groot waarhede van die koms van Christus as Verlosser, Priester en Koning geleer; en elke jaar is hulle gedagtes vooruitgewys na die slottonele van die groot stryd tussen Christus en Satan, die finale reiniging van die heelal van sonde en sondaars. Die offers en offerandes van die Mosaïese ritueel het altyd na ‘n beter Offer, die Hemelse, gewys. Die aardse heiligdom was “...'n beeld met die oog op die teenwoordige tyd...” waarin beide gawes en offergawes geoffer is; die twee heilige plekke was “...afbeeldinge van die dinge in die hemele...” want Christus, ons Hoëpriester, is vandag “...'n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die HERE opgerig het en nie ‘n mens nie.” (Heb 9:9,23;8:2) DVvPEk 538.1
Vanaf die dag wat die HERE vir die slang in Eden gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad” (Gen 3:15), het Satan geweet dat hy nooit absolute gesag oor die inwoners van hierdie wêreld sou kon besit nie. Toe Adam en sy seuns die seremoniële offers, wat deur God as ‘n tipe van die komende Verlosser georden is, begin bring het, het Satan daarin ‘n simbool van kommunikasie tussen die aarde en hemel onderskei. Gedurende die lang eeue wat gevolg het, het hy voortdurend gepoog om hierdie kommunikasie te onderskep. Onvermoeid het hy gestrewe om God verkeerd voor te stel en die rituele wat op die Verlosser dui, te verdraai en het met ‘n groot meerderheid van die lede van die menslike geslag sukses behaal. DVvPEk 538.2
Terwyl God begeer het om die mens te leer dat die Geskenk wat hulle met Homself versoen uit Sy eie liefde spruit, het die aartsvyand van die mens probeer om God voor te stel as Iemand wat Hom in hul vernietiging verlustig. Die offers en verordeninge wat deur die Hemel ingestel is om Goddelike liefde te openbaar, is dus verdraai om as middele te dien waardeur sondaars tevergeefs gehoop het om die toorn van ‘n beledigde God met gawes en goeie werke te versoen. Terselfdertyd het Satan gepoog om die bose passies van die mens aan te wakker en te versterk, sodat menigtes deur herhaalde oortredings verder van God weggelei kon word en hopeloos met boeie van sonde gebind word. DVvPEk 538.3
Toe God se geskrewe woord deur die Hebreeuse profete gegee is, het Satan die boodskappe aangaande die Messias noukeurig bestudeer. Hy het die woorde wat met onmiskenbare duidelikheid die werk van Christus onder die mense as a lydende Offer uiteengesit is, versigtig nagespeur. In die perkamentrolle van die Ou-Testamentiese Geskrifte het hy gelees dat die Een wat sou verskyn, sou wees “...soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word.” “So misvormd was Sy voorkoms, geen mens meer nie en Sy gestalte was nie soos dié van ‘n mensekind nie.” (Jes 53:7;52:14) Die beloofde Verlosser van die mensdom sou “...verag en deur die mense verlaat [word], ‘n Man van smarte en bekend met krankheid ... deur God geslaan en verdruk.” (Jes 53:3, 4) Tog sou Hy ook Sy mag uitoefen ten einde “...aan die ellendiges van die volk reg [te] verskaf...” en “...die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.” (Ps 72:4) Hierdie profesieë het veroorsaak dat Satan gevrees en gesidder het; tog het hy nie van sy doel om, indien moontlik, die genadige voorsiening van Jehova vir die verlossing van die verlore ras teë te staan, afgesien nie. Hy was vasbeslote om die oë van die volk so ver moontlik te verblind vir die ware betekenis van die Messiaanse profesieë, om sodoende die weg voor te berei vir die verwerping van Christus met Sy koms. DVvPEk 539.1
Gedurende die eeue net voor die sondvloed, is Satan se pogings met sukses bekroon om ‘n wêreldwye oormag van rebellie teen God te bewerkstellig. En selfs die lesse van die sondvloed is nie vir lank onthou nie. Met geslepe insinuasies het Satan weer die mense stap vir stap in blatante rebellie ingelei. Dit het gelyk asof hy weer sou seëvier, maar God se doel met die gevalle mens sou nie op hierdie wyse ter verydel word nie. Deur die nageslag van die getroue Abraham, uit die geslagslyn van Sem, sou ‘n kennis van Jehova se heilsame doelwitte tot voordeel van toekomstige geslagte bewaar word. Van tyd tot tyd sou Goddelik-aangestelde boodskappers van die waarheid opgewek word om weer die aandag op die betekenis van die offerstelsel en veral Jehova se belofte aangaande die koms van die Een na wie al die verordeninge van die offerstelsel verwys het, te vestig. Sodoende sou die wêreld van universele afvalligheid bewaar bly. DVvPEk 539.2
Die Goddelike doel is nie sonder die mees doelgerigte weerstand uitgevoer nie. Die vyand van die waarheid en geregtigheid het op elke denkbare wyse te werk gegaan om die nageslag van Abraham te laat vergeet van hul verhewe en heilige roeping en hulle tot die aanbidding van valse gode te wend. En dikwels was sy pogings amper volkome geslaagd. Vir eeue voor Christus se eerste koms, het duisternis die aarde oordek en donker duisternis die mense. Satan het sy helse skaduwee oor die pad van mense gewerp om hulle te verhoed om kennis van God en die toekomstige wêreld op te doen. Menigtes het in die skadu van die dood gesit. Hulle enigste hoop was dat hierdie somberheid verlig sou word sodat God geopenbaar kon word. DVvPEk 540.1
Met profetiese visie het Dawid, die gesalfde van God, vooruitgesien dat die koms van Christus “...soos die môrelig by sonsopgang, ‘n môre sonder wolke...” sou wees (2 Sam 23:4) En Hosea het getuig: “Sy opgang is so seker soos die dagbreek.” (Hos 6:3) Stil en sag breek die daglig oor die aarde, verdryf die skaduwee van duisternis en laat die aarde ontwaak. So sou die Son van Geregtigheid opkom “...met genesing onder sy vleuels.” (Mal 4:2) Die skares wat “...woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” (Jes 9:2) DVvPEk 540.2
Die profeet Jesaja wat in vervoering na hierdie glorieryke verlossing gekyk het, het uitgeroep: DVvPEk 541.1
“Want ‘n Kind is vir ons gebore,
'n Seun is aan ons gegee;
En die heerskappy is op Sy skouer,
En Hy word genoem:
Wonderbaar, Raadsman, Sterke God,
Ewige Vader, Vredevors —
Tot vermeerdering van die heerskappy
En tot vrede sonder einde,
Op die troon van Dawid
En oor Sy koninkryk,
Om dit te bevestig en dit te versterk
Deur reg en deur geregtigheid,
Van nou af tot in ewigheid.
Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
DVvPEk 541.2
(Jes 9:6,7)
In die latere eeue van Israel se geskiedenis, voor die eerste koms, is daar algemeen aanvaar dat daar in hierdie profesie na die koms van die Messias verwys is: “Dit is te gering dat U My Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om My heil te wees tot aan die einde van die aarde.” “En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word...” het die profeet voorspel, “...en alle vlees tesame sal dit sien.” (Jes 49:6; 40:5) Dit was van hierdie Lig van mense wat Johannes so vrymoediglik kon getuig toe hy verkondig het: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die HERE reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.” (Joh 1:23) DVvPEk 541.3
Dit was na Christus wat hierdie profetiese belofte verwys het: “So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ‘n afsku is by die volk ... So sê die HERE: ... Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! ... Hulle sal geen honger en geen dors hê nie en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.” (Jes 49:7-10) DVvPEk 541.4
Die standvastiges onder die Joodse nasie, afstammelinge van daardie heilige geslag deur wie ‘n kennis van God bewaar is, het hul geloof versterk deur, op hierdie en soortgelyke gedeeltes te konsentreer. Met buitengewone vreugde het hulle gelees hoedat die HERE Een sou salf “...om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges ... om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE” (Jes 61:1,2) Tog was hulle harte met droefheid gevul toe hulle gedink het aan die lyding wat Hy sou moes verduur om die Goddelike doel te vervul. Met diepe ootmoed van die siel het hulle die woorde van die profetiese rol nagespeur: DVvPEk 542.1
“Wie het geglo wat aan ons verkondig is?
En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
Hy tog het soos ‘n loot voor Sy aangesig opgespruit
En soos ‘n wortel uit droë grond.
Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad,
Dat ons Hom sou aansien nie,
En geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
Hy was verag en deur die mense verlaat,
'n Man van smarte en bekend met krankheid;
Ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg;
Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem,
En óns smarte — dié het Hy gedra;
Maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag,
Deur God geslaan en verdruk was.
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor,
Ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom,
En deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons almal het gedwaal soos skape,
Ons het elkeen sy eie pad geloop;
Maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal
Op Hom laat neerkom.
Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was,
En Hy het Sy mond nie oopgemaak nie;
Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word
En soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders —
Ja, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie.
Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem;
En onder Sy tydgenote — wie het daaroor gedink
dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes?
Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag
op Hom.
En hulle het Hom Sy graf by die goddelose gegee;
En by ‘n ryke was Hy in sy dood,
Omdat Hy geen onreg gedoen het nie
En geen bedrog in sy mond gewees het nie.
DVvPEk 542.2
(Jesaja 53:1-9)
Van die lydende Verlosser het Jehova Self deur Sagaria verklaar: “Ontwaak, o swaard, teen my herder en teen die man wat my metgesel is!” (Sag 13:7) As plaasvervanger en borg vir die sondige mens moes Christus onder Goddelike geregtigheid ly. Hy moes verstaan wat geregtigheid beteken. Hy moes weet wat dit vir sondaars beteken om sonder ‘n Middelaar voor God te staan. DVvPEk 543.1
Deur die psalmis het die Verlosser van Homself geprofeteer: DVvPEk 543.2
“Die smaad breek My hart,
En ek is verswak;
Ja, ek het gewag op medelyde,
Maar verniet;
En op vertroosters, Maar het hulle nie gevind nie.
En hulle het aan My gal gegee as My spys,
En vir My dors het hulle My asyn laat drink.”
DVvPEk 543.3
(Psalm 69:20,21)
Aangaande die behandeling wat Hy sou ontvang, het Hy geprofeteer: “Want honde het My omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het My omring; hulle het My hande en My voete deurgrawe. Al My beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op My neer! Hulle verdeel My klere onder mekaar en werp die lot oor My gewaad.” (Ps 22:16-18) DVvPEk 544.1
Hierdie uitbeeldings van die bittere lyding en wrede dood van die Beloofde Een, al was dit hartseer, was ryk aan belofte; want van Hom van Wie daar geskryf staan: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel...” en smarte te laat ly, sodat Hy “...'n skuldoffer...” kon word, het Jehova verklaar: DVvPEk 544.2
“Hy [sal] ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng,
En die welbehae van die HERE sal deur Sy hand
voorspoedig wees.
Weens die moeitevolle lyde van Sy siel sal Hy dit sien
en versadig word;
Deur Sy kennis sal My Kneg, die Regverdige, baie
regverdig maak;
En Hy sal hulle skuld dra.
Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes,
En met magtiges sal Hy buit verdeel;
Omdat Hy Sy siel uitgestort het in die dood
En saam met die oortreders getel was,
Terwyl Hy tog die sonde van baie gedra
En vir die oortreders gebid het.”
DVvPEk 544.3
(Jesaja 53:10-12)
Dit was uit liefde vir sondaars dat Christus die prys van verlossing betaal het. “En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het Sy arm Hom gehelp en Sy geregtigheid het Hom ondersteun.” (Jes 59:16) DVvPEk 544.4
“Daar is My Kneg wat Ek ondersteun,
My Uitverkorene in wie My siel ‘n welbehae het.
Ek het my Gees op Hom gelê;
Hy sal die reg na die nasies uitbring.”
DVvPEk 545.1
(Jesaja 42:1).
In sy lewe was daar geen selfhandhawing nie. Die eer wat die wêreld aan posisie, rykdom en talent gee, sou vreemd aan die Seun van God wees. Die Messias sou van geen middele wat die mens aanwend om getrouheid of eerbied af te dwing, gebruik maak nie. Sy volslae selfverloëning is deur die volgende woorde voorspel: DVvPEk 545.2
“Hy sal nie skreeu
Of uitroep
Of Sy stem op die straat laat hoor nie.
Die geknakte riet sal Hy nie verbreek
En die dowwe lamppit nie uitblus nie.”
DVvPEk 545.3
(Verse 2,3)
Die optrede van die Verlosser het ‘n sterk kontras met die leermeesters van Sy tyd gevorm. In sy lewe was daar nooit lawaaierige twis, opruiende aanbidding of enige poging om applous te ontvang waargeneem nie. Die Messias sou in God geborge wees en God sou in die karakter van Sy Seun geopenbaar word. Sonder kennis van God sou die mensdom vir ewig verlore gaan. Sonder Goddelike hulp sou die manne en vroue net laer en laer daal. Lewe en krag moet deur Hom, wat die wêreld gemaak het, oorgedra word. Die mens se behoefte kon op geen ander wyse bevredig word nie. DVvPEk 545.4
Aangaande die Messias is daar verder geprofeteer: “Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op Sy leer.” Die Seun van God sou “...ter wille van Sy geregtigheid ... die onderwysing groot en heerlik ... maak.” (Verse 4,21) Hy sou nie die belangrikheid of bindende aansprake daarvan verlaag nie; Hy sou dit eerder verhef. Terselfdertyd sou Hy die Goddelike voorskrifte van die veeleisende laste wat die mens daarop geplaas het, waardeur baie in hul pogings om God op ‘n aanvaarbare wyse te dien ontmoedig is, bevry. DVvPEk 545.5
Aangaande die sending van die Verlosser was die woorde van Jehova: “Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid en Ek vat U hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit. Ek is die HERE, dit is My Naam; en My eer sal Ek aan geen ander gee, of ook My lof aan die gesnede beelde nie. Kyk, die vorige dinge het gekom en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.” (Verse 6-9) DVvPEk 546.1
Deur die beloofde Saad sou die God van Israel verlossing aan Sion bring: “Daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n Seun baar en Hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is.” (Jes 11:1; 14,15) DVvPEk 546.2
“En op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat Sy oë sien nie en nie oordeel na wat Sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van Sy mond en met die asem van Sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van Sy lendene en trou die gordel van Sy heupe wees.” “En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ‘n banier van die volke en Sy rusplek sal heerlik wees” (Jes 11:2¬5; 10) DVvPEk 546.3
“Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit ... Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op Sy troon; ook sal Hy ‘n Priester wees op Sy troon en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.” (Sag 6:12, 13) DVvPEk 546.4
'n Fontein sou oopgestel word “...teen sonde en onreinheid...” (Sag 13:1); die seuns van die mens sou die volgende uitnodiging aanhoor: DVvPEk 547.1
En wie geen geld het nie, kom, koop en eet;
Ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie,
En julle arbeid vir wat nie kan versadig nie?
Luister aandagtig na My en eet die goeie,
En laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
Neig julle oor en kom na My toe, luister,
En julle siel sal lewe;
Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit:
Die bestendige genadebewyse van Dawid.”
DVvPEk 547.2
(Jesaja 55:1-3).
Aan Israel is die belofte gemaak: “Kyk, Ek het hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en ‘n gebieder van die nasies. Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.” (Verse 4,5) DVvPEk 547.3
“Ek bring My geregtigheid naby; dit is nie ver nie en My heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel My heerlikheid” (Jes 46:13) DVvPEk 547.4
In woord en daad sou die Messias die heerlikheid van God die Vader tydens Sy aardse bediening aan die mensdom openbaar. Elke daad van Sy lewe, elke woord wat gespreek is, elke wonderwerk, sou die oneindige liefde van God aan die gevalle mensdom bekend maak. DVvPEk 547.5
“O Sion, verkondiger van goeie boodskap,
Klim op ‘n hoë berg!
O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap,
Hef jou stem op met mag;
Hef dit op, wees nie bevrees nie!
Sê aan die stede van Juda:
Hier is julle God!
“O almal wat dors het, kom na die waters;
Kyk, die HERE HERE sal kom as ‘n Sterke,
En Sy arm sal heers;
Kyk, Sy loon is by Hom,
En Sy beloning is voor Sy aangesig.
Hy sal Sy kudde laat wei soos ‘n herder;
Hy sal die lammers in Sy arm vergader
En aan Sy bors dra;
Die lammerooie sal Hy saggies lei.”
DVvPEk 548.1
(Jesaja 40:9-11).
“En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor,
En uit donkerheid en duisternis sal die oë van die
blindes sien.
En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in
die HERE,
En die behoeftiges onder die mense sal juig in die
Heilige van Israel.
En hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry,
En die murmureerders sal lering aanneem.”
DVvPEk 548.2
(Jesaja 29:18,19,24)
So het God deur patriarge en profete, sowel as deur tipes en simbole, met die wêreld oor die koms van ‘n Verlosser van sonde gepraat... ‘n Lang lyn van geïnspireerde profesieë het verwys na die koms van die “...skatte van al die nasies...” (Hag 2:7) [In die KJV praat dit van “the Desire of all nations.”] Selfs sy geboorteplek en die tyd van sy aankoms was haarfyn gespesifiseer. DVvPEk 548.3
Die Seun van Dawid moet in die stad van Dawid gebore word. Uit Bethlehem, het die profeet gesê: “...uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (Miga 5:2) DVvPEk 549.1
“En jy, Betlehem, land van Juda,
Is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda
nie,
Want uit jou sal ‘n Leidsman voortkom
Wat vir My volk Israel ‘n herder sal wees.”
DVvPEk 549.2
(Mattheus 2:6).
DVvPEk 549.3
“SEWENTIG SEWETALLE IS OOR JOU VOLK EN JOU HEILIGE STAD” 490 JAAR V.C. 457 7WEKEOF 49 JAAR V.C. 408 62 SEWETALLE 434 JAAR N.C. 27 1 WEEK OF 7 JAAR N.C.31 31/2 N.C.34 31/2 1 WEEK OF 7 JAAR Tite 1
'n Kaart van die “sewentig weke” wat oor God se volk bepaal was. Christus se koms het die profesie as waar bewys.
Die tyd van die eerste koms en sommige van die belangrike gebeure rondom die Redder se lewenswerk is deur die engel Gabriël aan Daniël bekend gemaak. “Sewentig sewetalle...” het die engel gesê, “...is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.” (Dan 9:24) ‘n Dag in profesie staan vir een jaar. (Sien Numeri 14:34 en Esegiël 4:6). Die sewentig weke, of vierhonderd-en-negentig dae, verteenwoordig vierhonderd-en-negentig jaar. Die beginpunt vir hierdie tydperk word ook aangedui: “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word... ” (Dan 9:25), nege-en-sestig weke of vierhonderd drie-en-tagtig jaar. Die bevel om Jerusalem te herstel en te herbou, soos omskryf in die dekreet van Artasasta Longimanus, het in die herfs van 457 vC in werking getree. (Sien Esra 6:14;7:1,19). Vanaf hierdie datum strek ‘n periode van vierhonderd drie-en-tagtig jaar tot by 27 ‘n.C. Volgens die profesie sou hierdie tydperk tot by die Messias, die Gesalfde strek. In 27 ‘n.C. het Jesus tydens Sy doop, die salwing van die Heilige Gees ontvang en kort daarna het sy bediening begin. Toe is die boodskap verkondig: “Die tyd is vervul.” (Mark 1:15) DVvPEk 549.4
Toe het die engel gesê: “En Hy sal een week lank [sewe jaar] met baie ‘n sterk verbond sluit.” Vir sewe jaar nadat die Verlosser met sy bediening begin het, sou die evangelie veral aan die Jode verkondig word; drie-en-'n-half-jaar lank deur Christus Self en daarna deur die apostels. “En gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” (Dan 9:27) In die lente van 31 ‘n.C. is Christus, die ware Offer, op Golgota geoffer. Terselfdertyd is die voorhangsel van die tempel in twee geskeur, om aan te dui dat die heiligheid en betekenis van die offerdiens verby is. Die tyd het aangebreek dat die aardse slagoffers en spysoffers gestaak sou word. DVvPEk 550.1
Die een week — sewe jaar — het in 34 ‘n.C. geëindig. Met die steniging van Stefanus het die Jode uiteindelik hul verwerping van die evangelie finaal verseël; die dissipels, wat as gevolg van die vervolging wyd “...verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig...” (Hand 8:4); en kort daarna het Saulus, die vervolger, tot bekering gekom en het hy Paulus, die apostel van die heidene, geword. DVvPEk 550.2
Die vele profesieë aangaande die koms van die Verlosser, het daartoe gelei dat die Hebreërs met ‘n gesindheid van voortdurende afwagting geleef het. Baie het in die geloof gesterf, sonder om die belofte te ontvang. Maar hulle het dit van ver gesien en bely dat hulle vreemdelinge en pelgrims op die aarde was. Sedert die dae van Henog het die beloftes wat deur die patriarge en die profete herhaal is, die hoop van Sy verskyning lewendig gehou. DVvPEk 551.1
God het nie aanvanklik die presiese tyd van die eerste koms geopenbaar nie; en selfs toe dit deur die profesie van Daniël bekend gemaak is, is die boodskap nie heeltemal korrek deur almal vertolk nie. DVvPEk 551.2
Eeu na eeu het verbygegaan; uiteindelik het die stemme van die profete stil geraak. Die hand van die onderdrukker het swaar op Israel gerus. Namate die Jode God weggedryf het, het die geloof getaan en die hoop wat die toekoms verlig het, is so te sê uitgedoof. Baie mense het nie die woorde van die profete begryp nie. Baie het die woorde van die profete nie verstaan nie; en diegene wie se geloof sterk moes voortbestaan, was gereed om uit te roep: “Die dae gaan voort en van al die gesigte kom niks nie.” (Eseg 12:22) Maar in die hemelse raad is die uur van Christus se koms vasgestel en “...toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy seun uitgestuur ... om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” (Gal 4:4,5) DVvPEk 551.3
Lesse moet aan die nasies, in die taal van die nasies, gegee word. Die Boodskapper van die verbond moet praat. Sy stem moet in Sy eie tempel gehoor word. Hy, die Outeur van waarheid moet die waarheid, van die kaf van die mens se uitinge wat dit oneffektief gemaak het, skei. Die beginsels van God se regering en die plan van verlossing moet duidelik omskryf word. Die lesse van die Ou Testament moet ten volle voor die mens voorgelê word. DVvPEk 551.4
Toe die Verlosser uiteindelik “...aan die mens gelyk geword het...” (Fil 2:7) en Sy bediening van genade begin het, kon Satan maar net die hakskeen byt, terwyl Christus met elke daad van vernedering of lyding, die kop van die teëstander vermorsel het. Die angs wat sonde meegebring het, is in die boesem van die Sondelose Een gestort; tog, terwyl Christus die weerspreking van sondaars teenoor Hom verduur het, het Hy die skuld van die sondige mens betaal en die band van slawerny waarin die mensdom vasgevang was verbreek. Elke angs- aanval, elke belediging, het bygedra om die verlossing van die ras te bewerkstellig. DVvPEk 552.1
Indien Satan Christus kon oorhaal om aan een enkele versoeking toe te gee, Hom kon gelei het om deur een daad, of selfs ‘n gedagte, Sy perfekte reinheid te besoedel, sou die vors van die duisternis oor die mensdom se Borg geseëvier het en sou hy die hele mensdom vir homself gewen het. Maar, hoewel Satan ellende kan veroorsaak, kan hy nie besmet nie. Hy kan pyn veroorsaak, maar nie besoedeling nie. Hy het Christus se lewe een lang toneel van konflik en beproewing gemaak, maar met elke aanval het hy sy greep op die mensdom verloor. DVvPEk 552.2
In die woestyn van versoeking, in die tuin van Getsémané en aan die kruis, het ons Verlosser die stryd met die vors van die duisternis gevoer. Sy wonde het die trofeë van Sy oorwinnings geword. Toe Christus in foltering aan die kruis gehang het, terwyl bose geeste hulle verheug het en bose mense Hom uitgekryt het, is Hy inderdaad deur Satan aan die hakskeen gebyt. Maar juis deur daardie daad, het Hy die slang se kop vermorsel. Deur Sy dood het Hy “...hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel.” (Heb 2:14) Hierdie daad het die lot van die rebelle-hoof verseël en vir ewig die plan van verlossing bevestig. In die dood het Hy die oorwinning daaroor behaal; en deur weer op te staan, het Hy die poorte van die graf vir sy volgelinge geopen. In daardie laaste groot stryd sien ons die vervulling van die profesie: “Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15) DVvPEk 552.3
“Geliefdes, nou is ons kinders van God en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Joh 3:2) Ons Verlosser het die weg geopen, sodat die sondigste, behoeftigste, mees onderdrukte en veragtelike mens, toegang tot die Vader kan verkry. DVvPEk 553.1
“HERE, U is my God!
U sal ek verhoog;
U Naam sal ek loof;
Want U het wonders gedoen,
Raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.”
DVvPEk 553.2
(Jesaja 25:1)