Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 39—In die Hof van Babilon*
Onder die kinders van Israel wat aan die begin van die sewentigjaar-ballingskap na Babilon weggevoer is, was Christen-patriotte, manne wat so beginselvas soos staal was, wat nie deur selfsug verdorwe sou word nie, maar wat God ten alle koste sou eer. In die land van hul gevangenskap moes hierdie manne God se doel uitvoer deur aan heidennasies die seëninge, wat deur ‘n kennis van Jehova verkry word, oor te dra. Hulle moes Sy verteenwoordigers wees. Hulle moes nooit met afgodedienaars kompromieë aangaan nie; hulle geloof en hul identiteit as aanbidders van die lewende God moes hulle in ere hooghou. En dit het hulle gedoen. In voorspoed en teëspoed het hulle God geëer en God het hulle geëer. DVvPEk 371.1
Die feit dat hierdie manne, aanbidders van Jehova, gevangenes in Babilon was en dat die heilige voorwerpe uit die tempel van God in die tempel van die Babiloniese gode geplaas is, is deur die oorwinnaars as ‘n bewys dat hulle godsdiens en gebruike verhewe bo die godsdiens en die gebruike van die Hebreërs was, getoon. Tog het God, deur die vernederings, wat die gevolge van Israel se afvalligheid van Hom was, aan Babilon getuienis van Sy Oppermag getoon, van die heiligheid van Sy vereistes en die sekere gevolge van gehoorsaamheid. Hierdie getuienis het Hy op die enigste wyse waardeur dit gelewer kon word, (deur diegene wat aan Hom lojaal was), gelewer. DVvPEk 371.2
Onder diegene wat hul getrouheid aan God gehandhaaf het, was Daniël en sy drie metgeselle - roemryke voorbeelde van wat mense wat met die God van wysheid en mag verenig, kan word. Vanuit die betreklike eenvoud van hul Joodse tuistes, was hierdie jeugdiges van adellike afkoms, na die manjifiekste stede en in die hof van die wêreld se magtigste heerser geneem. Nebukadnesar het “...aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien.” (Dan 1:1,3) DVvPEk 371.3
“Onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja.” (Vers 6) Nebukadnesar het in hierdie jeugdiges die belofte van merkwaardige vermoëns gewaar en bepaal dat hulle opgelei moet word om belangrike poste in sy koninkryk te vul. Sodat hulle ten volle vir hul lewenstaak toegerus kon word, het hy gereël dat hulle die taal van die Chaldeërs aanleer en vir drie jaar die buitengewone opvoedkundige voordele van die vorste van die koninkryk ontvang. DVvPEk 372.1
Die name van Daniël en sy metgeselle is verander na name wat Chaldese gode verteenwoordig. Groot betekenis is aan die name wat Hebreeuse ouers aan hul kinders gegee het, verleen. Dikwels het dit karaktereienskappe voorgestel wat die ouers graag in hulle kinders wou sien ontwikkel. Die vors onder wie se beheer die gevange jeugdiges geplaas was, het aan “...hulle ander name gegee: Daniël het hy Béltsasar genoem en Hanánja Sadrag en Mísael Mesag en Asárja Abednégo.” (Vers 7) DVvPEk 372.2
Die koning het die Hebreeuse jeugdiges nie gedwing om van hulle geloof ten gunste van afgodery af te sien nie, maar hy het gehoop om dit geleidelik te bewerkstellig. Deur aan hulle name wat met afgodery vereenselwig word te gee, hulle daagliks in noue verband met afgodiese praktyke en onder die invloed van verleidelike rituele van heidense aanbidding te bring, het hy gehoop om hulle aan te moedig om af te sien van die godsdiens van hul volk en met die aanbidding van die Babiloniërs te verenig. DVvPEk 372.3
Heel aan die begin van hul loopbane, het hulle voor ‘n beslissende toets van karakter te staan gekom. Daar is voorsiening gemaak dat hulle moes eet en drink van die voedsel en wyn wat van die koning se tafel af kom. Hierin het die koning gemeen om sy guns en besorgdheid vir hul welstand te betoon. Maar met ‘n gedeelte van die voedsel wat aan afgode geoffer was, was die voedsel van die koning se tafel aan afgodery gewy; en iemand wat daarvan gebruik gemaak het, was beskou as iemand wat hulde aan die gode van Babilon bring. Lojaliteit aan Jehova het Daniël en sy vriend verbied om hieraan deel te neem. Om selfs net voor te gee dat hulle die kos eet of van die wyn drink sou ‘n ontkenning van hulle geloof wees. Om dit te doen sou beteken dat hulle hulself met heidendom beklee en die beginsels van God se wet oneer aandoen. DVvPEk 373.1
Hulle het ook nie die uitwerking van luuksheid en verkwisting op hul liggaamlike, verstandelike en geestelike ontwikkeling, durf waag nie. Hulle was vertroud met die geskiedenis van Nadab en Abihu, waarvan die rekord en die gevolge van hul onbeheerstheid in die perkamentrolle van die Pentateug bewaar is; en hulle het geweet dat hul eie liggaamlike en geestelike krag nadelig deur die gebruik van wyn beïnvloed sou word. DVvPEk 373.2
Daniël en sy metgeselle is streng in gewoontes van selfbeheersing deur hul ouers opgevoed. Hulle is geleer dat God hulle aanspreeklik sou hou vir hul vermoëns en dat hulle nooit hulle kragte mag verdwerg of verswak nie. Hierdie opvoeding het, te midde van die demoraliserende invloede van die hof in Babilon, gedien tot die behoud van Daniël en sy vriende. Die versoekings waarmee hulle in daardie korrupte en luukse hof omring was, was sterk, maar hulle het onbesoedeld gebly. Geen mag, geen invloed kon hulle weglei van die beginsels wat hulle in hul jeug deur ‘n studie van die woord en die werke van God geleer het nie. DVvPEk 373.3
Indien Daniël so verkies het, kon hy in sy omstandighede ‘n aanneemlike verskoning om van streng gematigde gewoontes af te wyk, gevind het. Hy kon aangevoer het dat, afhanklik van die koning se guns en onderhewig aan sy mag, daar geen ander koers vir hom was om te volg, as om die koning se voedsel te eet en sy wyn te drink nie; want sou hy getrou aan die Goddelike lering bly, sou hy die koning beledig en moontlik sy pos en sy lewe verloor. Indien hy die gebod van die HERE sou verontagsaam, kon hy die koning se guns behou en vir homself intellektuele voordele en vleiende wêreldse vooruitsigte verseker. DVvPEk 374.1
Maar Daniël het nie geweifel nie. Die goedkeuring van God was vir hom belangriker as die guns van die wêreld se magtigste aardse heerser — meer selfs as sy lewe. Hy het besluit om vas te staan in sy integriteit, ongeag die gevolge. Hy “...het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie.” (Vers 8) In hierdie voorneme was hy deur sy drie vriende ondersteun. DVvPEk 374.2
Met die neem van hierdie besluit, het die Hebreeuse jeugdiges nie met vermetelheid opgetree nie, maar met ‘n vaste vertroue op God. Hulle het nie gekies om uit te staan nie, maar eerder dít as om God oneer aan te doen. Indien hulle in hierdie opsig ‘n kompromie met die verkeerde sou aangaan, sou hulle afwyking van die regte beginsels hulle sin vir wat reg is en hul weersin in die verkeerde verswak het. Die eerste misstap sou na ‘n volgende lei, totdat hulle verbinding met die Hemel verbreek en hulle deur versoeking oorrompel was. DVvPEk 374.3
“En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars...” en die versoek dat hy homself nie wil verontreinig nie, is met respek aanvaar. Tog was die hofdienaar huiwerig om daaraan toe te gee. “Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het...” het hy aan Daniël verduidelik, “...want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?” DVvPEk 374.4
Daniël het hom toe op Melsar, die amptenaar wat spesifiek in beheer van die Hebreeuse jeug was beroep en hom gevra dat hulle vrygestel word om van die vleis van die koning te eet en sy wyn te drink. Hy het versoek dat dit vir ‘n proeftydperk van tien dae getoets word; dat die Hebreeuse jeugdiges in hierdie tyd van eenvoudige voedsel voorsien word, terwyl hulle ander metgeselle aan die koning se lekkernye gesmul het. DVvPEk 375.1
Melsar, alhoewel hy bang was dat hy, deur aan hierdie versoek te voldoen, die misnoeë van die koning op die hals sou haal, het tog ingestem; en Daniël het geweet dat hy die saak gewen het. Na afloop van die proeftydperk van tien dae, was die resultaat die teenoorgestelde van die vors se vrees: “Hulle voorkoms [het] beter en hulle [het] voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het.” (Vers 15) In voorkoms het die Hebreeuse jeugdiges ‘n merkwaardige voorrang bo hulle ander metgeselle getoon. As gevolg daarvan is Daniël en sy vriende toegelaat om vir die volle duur van hulle opleiding voort te gaan met hul eenvoudige dieet. DVvPEk 375.2
Die Hebreeuse jeugdiges het vir drie jaar gestudeer om “...die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.” (Vers 4) Gedurende hierdie tydperk het hulle getrou aan God gekleef en was voortdurend van Sy krag afhanklik. Hul gewoontes van selfverloëning het met erns van doel, ywer en standvastigheid gepaard gegaan. Dit was nie trots of ambisie wat hulle in die koning se hof, in die teenwoordigheid van diegene wat God nie geken of gevrees het, gebring het nie; hulle was gevangenes in ‘n vreemde land wat deur Oneindige Wysheid daar geplaas is. Afgesonder van huislike invloede en heilige assosiasies, het hulle gepoog om hulself eerbaar te gedra, vir die eer van hul neergewerpte mense en vir die heerlikheid van Hom wie se dienaars hulle was. DVvPEk 375.3
Die Here het die standvastigheid en selfverloëning van die Hebreeuse jeugdiges en hul suiwer motiewe met goedkeuring aanskou; en Sy seëninge het hulle vergesel. “God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.” (Vers 17) Die belofte is vervul: “...want die wat My eer, sal Ek eer.” (1 Samuel 2:30) Soos wat Daniël met onwrikbare vertroue aan God vasgehou het, het die gees van profetiese mag oor hom gekom. Terwyl hy onderrig van die mens aangaande die pligte in die Babiloniese hof ontvang het, is hy deur God geleer om die geheimenisse van die toekoms te lees en om hulle deur beelde en simbole, vir toekomstige geslagte neer te skryf, gebeure wat die geskiedenis van hierdie wêreld tot die einde van tyd gedek het. DVvPEk 376.1
Toe die tyd aangebreek het dat die jeugdiges wat opleiding ontvang het getoets moes word, is die Hebreërs saam met ander kandidate, vir dienslewering in die koninkryk ondersoek. “En ... daar [is] niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie.” Hul skerp begrip, hul wye kennis, hul keurige en presiese taalgebruik, het getuig van die ongeskonde krag en ywer van hul verstandelike vermoëns. “En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.” “So het hulle dan voor die koning gedien.” (Verse 20,19) DVvPEk 376.2
Aan die Babiloniese hof was daar verteenwoordigers van alle lande, manne met uitstaande talente, manne ryklik geseën met natuurlike gawes en in besit van die wydste kultuur wat die wêreld kan bied; maar onder hulle was die Hebreeuse jeug sonder gelyke. In fisiese krag en skoonheid, in geestelike lewenskragtigheid en literêre vermoëns, was hulle sonder gelyke. Hul regop gestalte, ferm en elastiese stap, mooi gelaat, ongerepte sintuie en skoon asem — alles het van goeie gewoontes getuig en was kentekens van die adellikheid waarmee diegene wat die natuurwette gehoorsaam, vereer word. DVvPEk 376.3
Daniël en sy vriende was baie meer suksesvol om die wysheid van die Babiloniërs te bekom as hul mede-studente, maar hierdie geletterdheid was nie toevallig nie. Hulle het hul kennis deur die getroue gebruik van hul kragte, onder leiding van die Heilige Gees bekom. Hulle het hulleself met die Bron van alle wysheid verbind en die kennis van God die grondslag van hul opleiding gemaak. In geloof het hulle om wysheid gebid en hul gebede uitgeleef. Hulle het hulself geplaas waar God hulle kon seën. Hulle het die dinge vermy wat hulle kragte kon verswak en het elke geleentheid benut deur kennis op elke gebied op te doen. Hulle het die reëls van die lewe, wat aan hulle krag van intellek sou verskaf, gevolg. Hulle het gestreef om kennis op te doen, met een doel voor oë — dat hulle God mag eer. Hulle het besef dat, om te midde van die valse godsdienste van die heidendom staande te bly as verteenwoordigers van die ware godsdiens, dat hulle helder van verstand moes wees en ‘n Christelike karakter moes vervolmaak. En God Self was hulle Onderwyser. Deur voortdurende gebed, getroue studie en in aanraking met die Ongesiene, het hulle soos Henog van ouds, met God gewandel. DVvPEk 377.1
Ware sukses in enige lyn van werk is nie die resultaat van toeval of ongeluk of noodlot nie. Dit is die uitwerking van God se voorsienigheid, die beloning van geloof en diskresie, deug en deursettingsvermoë. Fyn geestelike eienskappe en ‘n hoë morele gees is nie die resultaat van ‘n ongeluk nie. God voorsien geleenthede; sukses hang af van die gebruik daarvan. DVvPEk 377.2
Terwyl God in Daniël en sy metgeselle gewerk het “...om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae...” het hulle hul eie verlossing bewerk. (Filip 2:13) Hierin word die uitwerking van die Goddelike beginsel van samewerking geopenbaar, waarsonder geen ware sukses behaal kan word nie. Menslike inspanning baat niks sonder Goddelike krag nie; en sonder menslike strewe is Goddelike krag by baie van geen nut nie. Om God se genade ons eie te maak, moet ons ons deel doen. Sy genade word aan ons geskenk om in ons te werk om te wil en te doen, maar nooit as ‘n plaasvervanger vir ons eie inspanning nie. DVvPEk 377.3
Soos wat die HERE met Daniël en sy genote saamgewerk het, net so sal Hy ook saam met almal werk wat daarna streef om Sy wil te doen. En deur die uitstorting van Sy Gees, sal Hy elke opregte doel, elke edele voorneme versterk. Diegene wat die weg van gehoorsaamheid bewandel, sal baie struikelblokke teëkom. Sterk, subtiele invloede mag hulle aan die wêreld verbind; maar die HERE kan elke instrument wat werk vir die ondergang van Sy uitverkorenes nutteloos maak; in Sy krag kan hulle elke versoeking oorkom en elke probleem oorwin. DVvPEk 378.1
God het Daniël en sy vriende in verbinding met die groot manne van Babilon gebring sodat hulle, te midde van ‘n volk van afgodedienaars, Sy karakter sou kon verteenwoordig. Hoe is hulle toegerus vir ‘n posisie van soveel vertroue en eer? Dit was getrouheid in die klein dingetjies wat kleur aan hulle hele lewe verleen het. Hulle het God vereer in die geringste pligte, sowel as in die groter verantwoordelikhede. DVvPEk 378.2
Soos God Daniël geroep het om in Babel vir Hom te getuig, so roep Hy ons vandag om Sy getuies in die wêreld te wees. In die geringste, sowel as die grootste aangeleenthede van die lewe, verwag Hy van ons om die beginsels van Sy koninkryk aan die mense te openbaar. Baie wag vir ‘n groot werk om aan hulle toevertrou te word, terwyl hulle daagliks geleenthede om getrouheid aan God te openbaar, verbeur. Daagliks versuim hulle om heelhartig die geringe pligte van die lewe uit te voer. Terwyl hulle wag op ‘n groot werk, waarin hulle vermoedelik groot talente kan beoefen en sodoende hul ambisieuse verlange bevredig, gaan hulle dae verby. DVvPEk 378.3
In die lewe van die ware Christen is niks onbelangrik nie; in die oë van die Almagtige is elke plig belangrik. Die HERE meet noukeurig elke geleentheid vir diens. Die ongebruikte vermoëns word net soveel in berekening gebring as dié wat gebruik word. Ons gaan geoordeel word volgens wat ons moes gedoen het, maar nie gedoen het nie, omdat ons nie ons kragte gebruik het om God te verheerlik nie. DVvPEk 378.4
'n Edel karakter is nie die resultaat van ‘n ongeluk nie; dit is nie as gevolg van spesiale gunste of gawes van die Voorsienigheid nie. Dit is die gevolg van selfdissipline, van onderworpenheid van die laer natuur aan die hoër natuur en van die oorgawe van die self aan die diens van God en die mens. DVvPEk 379.1
Deur getrouheid aan die beginsels van matigheid, soos deur die Hebreeuse jeugdiges getoon, praat God met die jeug van vandag. Daar is ‘n behoefte aan mense wat, soos Daniël, sal opstaan en waag om reg te laat geskied. Suiwer harte, sterk hande en vreeslose moed is nodig; want die stryd tussen ondeug en deug vra vir voortdurende waaksaamheid. Satan kom na elke siel met verleidelike versoekings ten opsigte van die toegee aan aptyt. DVvPEk 379.2
Die liggaam is die belangrikste medium waardeur die verstand en die siel ontwikkel word om die karakter op te bou. Daarom rig die vyand van siele sy versoekings tot die verswakking en verlaging van die fisiese kragte. Sy sukses hierin beteken dikwels die oorgawe van die hele wese aan die bose. Die neigings van die fisiese natuur, tensy ondergeskik aan die heerskappy van ‘n hoër mag, sal sekerlik dood en verwoesting meebring. Die liggaam moet aan die hoër magte van die wese onderwerp word. Die hartstogte moet deur die wil, wat self onder God se beheer moet wees, beheer word. Die vorstelike mag van rede, geheilig deur Goddelike genade, moet die botoon in die lewe voer. Intellektuele vermoëns, fisiese stamina en lewensduur is afhanklik van onveranderlike wette. Deur gehoorsaamheid aan hierdie wette, kan die mens as veroweraar oor homself staan, oorwinnaar oor sy eie neigings, oorwinnaar oor owerhede en magte van “...die wêreldheersers van die duisternis...” en “...die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) DVvPEk 379.3
In daardie antieke ritueel, wat die simbool van die evangelie is, kon geen onvolmaakte offer na God se altaar gebring word nie. Die offer wat Christus moes verteenwoordig, moes vlekkeloos wees. Die Woord van God verwys hierna as ‘n illustrasie van hoe Sy kinders moet wees: “...'n welgevallige offer...” “...heilig en sonder gebrek...” (Rom 12:1; Ef 5:27) DVvPEk 380.1
Die Hebreeuse waardiges was manne met dieselfde drange as ons, maar ongeag die verleidelike invloede van die Babiloniese hof, het hulle ferm gestaan, omdat hulle van ‘n Oneindige Krag afhanklik was. In hulle het die heidense nasie ‘n illustrasie van die goedheid en weldadigheid van God en die liefde van Christus gesien. En in hulle ervaring het ons ‘n voorbeeld van die oorwinning van beginsel oor versoeking, van reinheid oor verdorwenheid, van toewyding en lojaliteit oor ateïsme en afvalligheid. DVvPEk 380.2
Die jeug van vandag kan ook die gees waaroor Daniël beskik besit; hulle kan uit dieselfde Bron van krag tap, dieselfde mag van selfbeheersing besit en dieselfde genade in hul lewens openbaar, selfs onder sulke ongunstige omstandighede. Al word hulle deur versoekings om toe te gee aan selfbevrediging oorval, veral in die groter stede waar elke vorm van sensuele bevrediging maklik en aanloklik gemaak word, kan hulle doel om God te eer, tog deur Goddelike genade staande bly. Deur sterk voornemens en doelgerigte waaksaamheid kan hulle elke versoeking wat die siel aanval, weerstaan. Maar slegs diegene wat besluit om te doen wat reg is, omdat dit reg is, sal die oorwinning behaal. DVvPEk 380.3
Wat ‘n lewenstaak was dit nie vir hierdie edele Hebreërs nie! Toe hulle afskeid van hul ouerhuise geneem het, het hulle min kon droom wat ‘n hoë lotsbestemming hulle sou oorval. Getrou en standvastig, het hulle hulself aan Goddelike leiding oorgegee, sodat God Sy doel deur hulle kon volbring. DVvPEk 380.4
Dieselfde groot waarhede wat deur hierdie manne geopenbaar was, wil God graag deur vandag se jeug en kinders openbaar. Die lewens van Daniël en sy vriende is ‘n voorbeeld van wat Hy sal doen vir diegene wat hulself aan Hom oorgee en met hul hele hart poog om Sy doel te bereik. DVvPEk 381.1