Die Verhaal Van Profete en Konings
Inleiding—Die wingerd van die Here
Met die uitsluitlike doel om die beste gawes van die Hemel aan die volke van die aarde te bring, het God Abraham vanuit sy heidense bloedverwante weggeroep en hom versoek om in die land Kanaän te gaan woon. “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees,” het God in Genesis 12:2 gesê. Dit was ‘n groot eer waartoe Abraham geroep was, naamlik om die vader van die volk wat vir eeue die bewaarders en die handhawers van God se waarheid in die wêreld sou wees, te word; die volk deur wie al die nasies van die aarde met die koms van die beloofde Messias geseën sou word. DVvPEk 1.1
Die mens het amper alle kennis van die ware God verloor. Hul intellek is deur afgodediens verduister. Die mens het gepoog om die Goddelike instellings wat “...heilig en regverdig en goed...” is, (Rom 7:12) met wette te probeer vervang wat in harmonie met hul eie wrede doelwitte en hul selfsugtige harte was. Tog het God hulle nie in sy genade summier verdelg nie. Hy het hulle die geleentheid gebied om Hom, deur Sy kerk, te leer ken. Sy doel was dat die beginsels deur Sy volk geopenbaar, die wyse sou wees waarop die morele beeld van God in die mens herstel sou word. DVvPEk 1.2
God se wet moes verhoog word, Sy outoriteit gehandhaaf word; en hierdie groot en verhewe taak is aan die huis van Israel toevertrou. God het hulle van die wêreld afgesonder sodat Hy ‘n heilige verbond met hulle kon sluit. Hy het hulle die bewaarders van Sy wet gemaak en dit was Sy doel om deur hulle, kennis van Homself onder die mensdom te bewaar. Sodoende moes die lig van die hemel, in ‘n wêreld wat in duisternis gehul is, skyn en ‘n stem moes gehoor word wat ‘n beroep op alle mense doen om van afgodery weg te draai om die lewende God te dien. DVvPEk 1.3
“Met grote krag en met ‘n sterke hand...” het God Sy verbondsvolk “...uit Egipteland uitgelei.” (Ex 32:11). “Hy het Moses, sy kneg en Aaron wat Hy gekies het, gestuur. Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.” “En Hy het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het en hulle deur die watervloede laat gaan soos deur ‘n woestyn.”(Ps 105:26,27;106:9). Hy het hulle uit hul slawerny gered sodat Hy hulle na ‘n goeie land kon lei, ‘n land wat Hy, in Sy voorsienigheid, as ‘n toevlugsoord weg van hul vyande voorberei het. Hy sou hulle na Hom toe bring en hulle in Sy ewige arms omvou; en uit dankbaarheid vir sy goedheid en genade moes hulle Sy Naam groot maak en dit oor die hele aarde verheerlik. DVvPEk 2.1
“Want die Here se deel is Sy volk, Jakob is Sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos Sy oogappel. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels — die Here alleen het hom gelei en daar was geen vreemde god by hom nie.” (Deut 32:9¬12). Sodoende het Hy die Israeliete na Homself gebring, sodat hulle mag woon in die skadu van die Allerhoogste. Nadat hulle op wonderbaarlike wyse van die gevare van die wildernis-omswerwing bewaar is, is hulle uiteindelik in die Beloofde Land as ‘n begunstigde volk gevestig. DVvPEk 2.2
Deur middel van ‘n roerende gelykenis, het Jesaja met aangrypende patos die storie van Israel se roeping en opleiding vertel, om in die wêreld as Jehova se verteenwoordiger staande te bly, vrugbaar in elke goeie werk: DVvPEk 3.1
“Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring. (Jes 5:1,2). DVvPEk 3.2
Dit was God se doel om deur hierdie uitverkore nasie, ‘n seën aan die ganse mensdom te bring. “Want die wingerd van die Here van die leërskare,” het die profeet verklaar, “...is die huis van Israel en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging.” (Jes 5:7) DVvPEk 3.3
Die woorde van God is aan hierdie volk toevertrou.Hulle is deur die voorskrifte van Sy wet, die ewige beginsels van waarheid, geregtigheid en reinheid, beskut. Gehoorsaamheid aan hierdie beginsels sou hul beskerming wees, want dit sou verhoed dat hulle hulself met sondige praktyke vernietig. En soos die wagtoring in die wingerd, het God Sy heilige tempel te midde van die Heilige Land geplaas. DVvPEk 3.4
Christus was hul Instrukteur. Soos Hy in die wildernis met hulle was, so was Hy steeds hul Onderwyser en hul Gids. In die tabernakel en in die tempel, het Sy Heerlikheid in die heilige Shekinah bokant die versoendeksel geskyn. Om hulle onthalwe het Hy voortdurend die rykdom van Sy liefde en lankmoedigheid geopenbaar. DVvPEk 3.5
God se doelstellings is deur Moses aan hulle voorgehou en die voorwaardes van hul voorspoed duidelik gemaak. “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” het hy gesê. DVvPEk 4.1
“Vandag het jy die HERE laat verklaar dat Hy vir jou ‘n God sal wees en dat jy in Sy weë moet wandel en Sy insettinge en Sy gebooie en Sy verordeninge moet hou en na Sy stem moet luister. En die HERE het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom ‘n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het en dat jy al Sy gebooie sal onderhou; en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad en dat jy ‘n heilige volk aan die HERE jou God sal wees soos Hy beloof het.” (Deut 7:6;26:17-19) DVvPEk 4.2
Die kinders van Israel moes die hele gebied wat God aan hulle toegewys het, in besit neem. Daardie nasies wat die aanbidding en diens van die ware God geweier het, moes van hul grond verdryf word. Maar dit was God se doel dat, deur die openbaring van Sy karakter deur Israel, die mens na Hom getrek sou word. Die evangelie-uitnodiging moes aan die ganse wêreld gerig word. Christus moes deur die offerstelsel voor die nasies verhoog word en almal wat na Hom sou opkyk, sou lewe. Almal wat, soos Ragab die Kanaäniet en Rut die Moabiet, van afgodery sou wegdraai na die aanbidding van die ware God, moes hulself met sy uitverkore volk verenig. Soos die bevolking van Israel toegeneem het, moes hulle hul grense uitbrei totdat hulle koninkryk die hele wêreld sou insluit. DVvPEk 4.3
Maar antieke Israel het God se doelwitte nie vervul nie. God het verklaar: “Ek het jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok!” “Israel was ‘n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het.” “Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en My wingerd. Wat is daar meer te doen aan My wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel en die manne van Juda is die tuin van Sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!” (Jer 2:21; Hos 10:1; Jes 5:3-7). DVvPEk 5.1
God het, deur Moses, die gevolge van ontrouheid aan hulle voorgehou. Deur te weier om Sy verbond te onderhou, sou hulle hulself van die lewe van God afsny en Sy seëninge sou nie op hulle uitgestort kon word nie. Somtyds is gehoor aan hierdie vermanings gegee en is ryke seëninge oor die Joodse volk uitgestort en deur hulle, na die omliggende nasies. Maar menigmaal in hul geskiedenis het hulle van God vergeet en die verhewe voorreg om Sy verteenwoordigers te wees uit die oog verloor. Hulle het Hom van die diens wat Hy van hulle verlang het ontneem en het ook hul medemens van godsdienstige leiding en ‘n heilige voorbeeld beroof. Hulle het begeer om die vrugte van die wingerd, waaroor hulle as rentmeesters aangestel was, vir hulself toe te eien. Hul inhaligheid en hebsug het tot gevolg gehad dat hulle selfs deur die heidene verag is. Sodoende is aan die heidense wêreld die geleentheid gebied om die karakter van God en die wette van Sy koninkryk verkeerd te vertolk. DVvPEk 5.2
Met die hart van ‘n Vader het God Sy volk verdra. Hy het met hulle gepleit deur genade te skenk en genade te onttrek. Geduldig het Hy hul sondes aan hulle voorgehou en met verdraagsaamheid op hul erkenning daarvan gewag. Profete en boodskappers is afgevaardig om God se deel van die landbouers te eis; maar in stede daarvan dat hulle verwelkom is, is hierdie manne van onderskeidingsvermoë en geestelike krag soos vyande behandel. Die landbouers het hulle vervolg en gedood. God het nog ander boodskappers gestuur, maar hulle het dieselfde behandeling as die voriges ontvang, behalwe dat die landbouers net meer vasberade haat betoon het. DVvPEk 6.1
Die onttrekking van Goddelike guns tydens die Ballingskap het baie tot bekering gelei, maar na hulle terugkeer na die Beloofde Land, het die Joodse volk weer die foute van die vorige geslagte herhaal en hulself in politieke konflik met die omliggende nasies gebring. Die profete wat God gestuur het om die heersende boosheid te bestraf, is met dieselfde agterdog en minagting bejeën as wat aan die boodskappers van vroeëre tye verleen is en so het die bewakers van die wingerd van eeu tot eeu tot hulle skuld bygevoeg. DVvPEk 6.2
Die goeie wingerd wat die Goddelike Landbouer op die heuwels van Palestina geplant het, is deur die manne van Israel verag en mettertyd oor die muur van die wingerd gewerp; hulle het dit beskadig en onder hul voete vertrap met die hoop dat hulle dit vir altyd vernietig het. Die Landbouer het die wingerd verwyder en dit vir hul aangesig verberg. Hy het dit weer geplant, maar aan die anderkant van die wingerd-muur en op so ‘n wyse dat die wingerdstok nie langer sigbaar was nie. Die lote het oor die muur gehang en ander lote kon daarop ingeënt word, maar die wingerdstok self was buite bereik van die mens geplaas sodat dit nie bereik of beskadig kon word nie. DVvPEk 7.1
Van besondere waarde vir God se kerk op aarde vandag, die bewakers van Sy wingerd, is die boodskappe van raad en vermaning wat deur die profete gegee is, wat Sy ewige doel namens die mensdom duidelik gemaak het. In die leringe van die profete word Sy liefde vir die verlore ras en Sy plan vir hulle redding duidelik geopenbaar. Die verhaal van Israel se roeping, sy suksesse en mislukkings, sy herstel tot Goddelike guns, die verwerping van die Meester van die wingerd en die uiteindelike vervulling van die plan van die eeue deur ‘n geskikte oorblyfsel, aan wie die verbondsbeloftes vervul sou word, was deur die eeue heen die tema van God se boodskappers aan Sy kerk. En vandag is God se boodskap aan Sy kerk, aan hulle wat Sy wingerd soos getroue landbouers versorg, niks anders as wat deur die profeet van ouds uitgespreek is nie: DVvPEk 7.2
“In dié dag sal daar wees ‘n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan! Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie.” (Jes 27:2,3) DVvPEk 8.1
Laat Israel op God hoop. Die Meester van die wingerd samel selfs vandag, vanuit alle volke en nasies, die kosbare vrugte in waarvoor Hy so lank wag. Binnekort sal Hy na Sy eie kom; en op daardie blye dag sal Sy ewige doel vir die huis van Israel tot vervulling kom. “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.” (Vers 6) DVvPEk 8.2