Opvoeding
Verstandelike en Geestelike Kultuur
“EN DEUR KENNIS WORD DIE KAMERS
GEVUL METALLERHANDE
KOSBARE EN LIEFLIKE GOED.”
VIR die verstand en die siel, sowel as vir die liggaam, is dit Gods wet dat krag deur inspanning verkry word. Dit is oefening wat ontwikkel. In ooreenstemming met hierdie wet het God in Sy Woord die middele vir verstandelike en geestelike ontwikkeling voorsien. Op 123.1
Die Bybel bevat al die beginsels wat mense hoef te verstaan om vir of hierdie lewe of die komende lewe toegerus te word. En hierdie beginsels kan deur almal verstaan word. Geeneen met ‘n gesindheid om die Bybel se leer te waardeer, kan ‘n enkele skrifgedeelte lees sonder om die een of ander kosbare gedagte daaruit te put nie. Maar die kosbaarste lesse van die Bybel word nie deur ‘n toevallige of onsamehangende studie verkry nie. Die groot waarheidstelsel daarvan word nie so uiteengesit dat dit deur die haastige of onverskillige leser uitgemaak kan word nie. Baie van sy skatte lê diep onder die oppervlakte en kan net deur ywerige navorsing en volgehoue inspanning verkry word. Die waarhede wat tesame die groot geheel vorm, moet opgespoor en bymekaargemaak word, “hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie” Jesaja 28:10. Op 123.2
Wanneer dit so nagespeur en saamgevoeg word, sal daar bevind word dat dit volmaak inmekaar pas. Elke Evangelie is ‘n aanvulling van die ander, elke profesie ‘n verduideliking van ‘n ander een, elke waarheid ‘n ontwikkeling van ‘n ander waarheid. Op 123.3
Die sinnebeelde van die Joodse stelsel word deur die evangelie duidelik gemaak. Elke beginsel in die Woord van God het sy plek, elke feit sy strekking. En die volledige struktuur getuig, deur sy ontwerp en uitvoering, van sy Outeur. So ‘n struktuur kon geen verstand behalwe die van die Oneindige bedink of gevorm het nie. Op 124.1
Deur die verskillende dele na te speur en hul verband te bestudeer, word die hoogste gawes van die menslike verstand tot intense aktiwiteit aangespoor. Geeneen kan so ‘n studie onderneem sonder om verstandelike krag te ontwikkel nie. Op 124.2
En die verstandelike waarde van Bybelstudie bestaan nie net daarin om waarheid na te speur en saam te stel nie. Dit bestaan ook in die inspanning wat vereis word om die voorgestelde onderwerpe te snap. Die verstand wat net met alledaagse sake besig is, word verdwerg en verswak. As dit nooit ingespan word om groot en verreikende waarhede te begryp nie, raak dit na verloop van tyd sy groeikrag kwyt. As beskerming teen dié ontaarding en ‘n prikker tot ontwikkeling, kan niks die studie van Gods Woord ewenaar nie. As middel tot intellektuele opleiding, is die Bybel doeltreffender as enige ander boek, of alle ander boeke saam. Die grootsheid van sy temas, die waardige eenvoud van sy uitsprake, die prag van sy beeldspraak verlewendig en verhef die gedagtes soos niks anders dit kan doen nie. Geen ander studie kan so ‘n verstandelike krag toebedeel as die inspanning om die ontsaglike waarhede van die openbaring aan te gryp nie. Die verstand wat sodoende met die gedagtes van die Ewige in aanraking gebring word, kan nie anders as om te gedy en sterk te word nie. Op 124.3
En selfs groter is die mag van die Bybel, in die, ontwikkeling van die geestelike natuur. Die mens, vir gemeenskap met God geskape, kan net in sodanige gemeenskap sy ware lewe en ontwikkeling aantref. Omdat hy geskape isom in God sy mees verhewe vreugde te vind, kan hy in niks anders dit vind wat die verlangens van die hart kan stil, wat die honger en dors van die siel kan bevredig nie. Hy wat met ‘n opregte en geseglike gees Gods Woord bestudeer en trag om die waarhede daarvan te begryp, sal met die Outeur in aanraking gebring word; en daar is, behalwe deur sy eie keuse, geen perke aan sy ontwikkelingsmoontlikhede nie. Op 124.4
Binne sy breë bestek van styl en onderwerpe, het die Bybel iets om elke verstand te interesseer en tot elke hart te spreek. Op sy bladsye word die heel oudste geskiedenis aangetref; die lewensgetrouste biografie; regeringsbeginsels vir die beheer van die staat; vir die regulering van die huisgesin - beginsels wat die menslike wysheid nog nooit geëwenaar het nie. Dit bevat die diepsinnigste wysbegeerte, die soetste en verhewenste, die vurigste en hartroerendste poësie. Onvergelyklik meerderwaardig teenoor die voortbrengsels van enige menslike outeur is die Bybelse geskrifte, selfs uit hierdie oogpunt gesien; maar van ‘n oneindig omvattender draagwydte, van oneindig meer waarde is hulle wanneer hul in verhouding tot die grootse sentrale gedagte gesien word. In die lig van dié gedagte beskou, het elke onderwerp ‘n nuwe betekenis. Betrokke by die waarhede wat op die eenvoudigste wyse gestel word, is beginsels wat so hoog soos die hemel is en die ewigheid omvat. Op 125.1
Die sentrale tema van die Bybel, die tema waarom elke ander een in die hele boek saam tros, is die verlossingsplan, die herstel in die menslike siel van die beeld van God. Vanaf die eerste aanduiding van hoop in die vonnis wat te Eden uitgespreek is, tot daardie laaste heerlike belofte van Openbaring:“En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees” (Openbaring 22:4), is die strekking van elke boek en elke skrifgedeelte die ontplooiing van hierdie wonderbare tema - die mens se opheffingdie mag van God, “wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” 1 Korinthiërs 15:57. Op 125.2
Hy wat hierdie gedagte begryp, het ‘n oneindige studieveld voor hom. Hy het die sleutel wat vir hom die hele skatkamer van Gods Woord sal oopsluit. Op 126.1
Die wetenskap van verlossing is die wetenskap van alle wetenskappe; die wetenskap wat die studie van die engele en al die wesens van die ongevalle wêrelde is; die wetenskap wat die aandag van onse Here en Heiland in beslag neem; die wetenskap wat ingaan op die voorneme wat in die verstand van die Oneindige bepeins is - “die verborgenheid wat eeue lank verswyg is” (Romeine 16:25); die wetenskap wat deur eindelose eeue die studie van Gods verlostes sal wees. Dit is die mees verhewe studie waarmee die mens hom moontlik kan besig hou. Soos geen ander studie dit kan doen nie, verlewendig dit die verstand en verhef die siel. Op 126.2
“Maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.””Die woorde wat Ek tot julle spreek,” het Jesus gesê, “is gees en is lewe.””Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God en Jesus Christus wat U gestuur het.” Prediker 7:12; Johannes 6:63; 17:3. Op 126.3
Die skeppende energie wat die wêrelde tot stand gebring het, is in die woord van God. Hierdie woord verleen krag; dit verwek lewe. Elke bevel is ‘n belofte; as dit deur die wil aangeneem, in die siel ontvang word, bring dit die lewe van die Oneindige daarmee saam. Dit transformeer die natuur en herskep die siel na die beeld van God. Op 126.4
Die lewe wat so toebedeel word, word op dergelike wyse in stand gehou. “Van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéus 4:4) sal die mens lewe. Op 126.5
Die verstand, die siel, word opgebou deur die dinge waarop dit teer; en dit berus by ons om te beslis waarmee dit gevoed sal word. Op 126.6
Dit lê in die mag van elkeen om die onderwerpe te kies wat die denke in beslag sal neem en die karakter sal vorm. Van elke mens wat met toegang tot die Skrifte bevoorreg is, sê God: “Ek het hom tienduisende leringe van Op 127.1
my wet voorgeskrywe.””Roep My aan en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.” Hosea 8:12; Jeremia 33:3. Op 127.2
Met die Woord van God in sy hande, kan elke mens, waar sy lewenslot hom ook al mag bring, die soort geselskap hê wat hy sal kies. Op sy bladsye kan hy in die geselskap van die edelste en beste uit die menslike gesiag verkeer en na die stem van die Ewige luister soos Hy met die mense praat. Soos hy die onderwerpe”waarin die engele begerig is om in te sien”(1 Petrus 1:12), bestudeer en oorpeins, kan hy hulle geselskap geniet. Hy kan die voetstappe van die hemelse Leermeester volg en na Sy woorde luister soos toe Hy op berg en vlakte en by die see geleer het. Hy kan op hierdie aarde in die atmosfeer van die hemel leef en aan die wêreld se treurendes en beproefdes gedagtes van hoop en verlangens na heiligheid meedeel; terwyl hy self tot ‘n steeds inniger gemeenskap met die Onsienlike kom; soos hy wat van ouds met God gewandel en al hoe nader aan die drumpel van die ewige wêreld gekom het, totdat die poorte oopswaai en hy daar sal binnegaan. Hy sal vind dat hy geen vreemdeling is nie. Die stemme wat hom sal begroet, is die stemme van die heiliges, wat, ongesien, op aarde sy metgeselle was - stemme wat hy hier leer onderskei en bemin het. Hy wat deur die Woord van God met die hemel in gemeenskap gelewe het, sal vind dat hy in die hemelse geselskap tuis voel. Op 127.3