Die Gelykenisse van Christus

26/61

Hoofstuk 14—“Sal God Dan Nie Reg Doen aan Sy Uitverkorenes Nie?”

Na aanleiding van Lukas 18:1-8

CHRISTUS het pas oor die tydperk net voor Sy wederkoms gepraat, en van die gevare wat Sy volgelinge sou moes beleef. Gedagtig aan daardie tyd het Hy die gelykenis vertel “met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.” DGC 109.1

“Daar was’n regter in ‘n stad,” het Hy gesê, “wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: “Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.” Toe sê die Here: “Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” DGC 109.2

Die regter wat hier uitgebeeld word, het geen ontsag vir reg of medelyde met lyding gehad nie. Hy het die weduwee wat gedurig met haar saak by hom was, gereeld weggestuur. Oor en oor het sy na hom toe gekom om net maar weer met veragting behandel en van die regbank verdryf te word. Die regter het geweet dat haar saak regverdig was, en hy kon oombliklik verligting gegee het, maar hy wou nie. Hy wou sy gesag bewys en dit het hom behaag om haar tevergeefs te laat vra en pleit en soebat. Maar sy wou haar nie laat afwys of mismoedig word nie. Ondanks sy onverskilligheid en die hardheid van sy hart het sy aangehou met haar versoek totdat die regter ingestem het om haar saak te verhoor. “Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen.” Om sy reputasie te red, om publisiteit oor sy partydige, eensydige oordeel te verhoed, het hy aan die volhardende vrou reg gedoen. DGC 109.3

“Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” Christus skilder hier ‘n skerp kontras tussen die onregverdige regter en God. Die regter het uit blote selfsug aan die weduwee se versoek toegegee, sodat hy van haar lastigheid ontslae kon raak. Hy het geen deernis of meegevoel vir haar gehad nie. Haar ellende het hom nie geraak nie. Hoe anders is Gods houding jeens diegene wat Hom soek. Die bedes van die behoeftiges en ellendiges word met oneindige meegevoel deur Hom in ag geneem. DGC 110.1

Die vrou wat die regter om regverdigheid gesmeek het, het haar man deur die dood verloor. Arm en sonder vriende het sy geen manier gehad om haar verlore besittings terug te win nie. So ook het die mens sy verbintenis met God deur sonde verloor. Uit homself het hy geen middel tot saligheid nie. Maar deur Christus word ons digby die Vader getrek. Die uitverkorenes van God is vir Hom dierbaar. Dit is hulle wat Hy uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig, om Sy lof te verkondig, om as ligte in ‘n donker wêreld te skyn. Die onregverdige regter het geen besondere belangstelling in die weduwee gehad wat by hom aangedring het nie, maar tog, om van haar jammerlike geroep ontslae te raak, het hy haar pleidooi aangehoor en reg aan haar gedoen teenoor haar teëparty. Maar God het Sy kinders oneindig lief. Vir Hom is die kosbaarste voorwerp op aarde Sy kerk. DGC 110.2

“Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.” Deut. 32:9,10. “Want so sê die Here van die leërskare: DGC 110.3

Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” Sag. 2:8. DGC 110.4

Die weduwee se versoek, “Doen reg aan my teenoor my teëparty,” stel die gebed van Gods kinders voor. Die Satan is hulle groot teenstander. Hy is die “aanklaer van ons broeders,” wat hulle dag en nag voor God aankla. (Openb. 12:10) Hy werk gedurig om Gods volk verkeerd voor te stel en te beskuldig, te verlei en te vernietig. Dit is om vrymaking van die krag van die Satan en sy werktuie dat Christus in hierdie gelykenis Sy dissipels leer om te bid. DGC 110.5

In die profesie van Sagaria word die Satan se beskuldigingswerk asook die werk van Christus om die teenstander van Sy volk te weerstaan, uitgebeeld. Die profeet sê: “Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die Here staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, Wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie? En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan.” Sag. 3:1-3. DGC 111.1

Die volk van God word hier voorgestel as ‘n misdadiger wat voor die hof verskyn. Josua, die hoëpriester, smeek om ‘n seen vir sy swaar beproefde volk. Terwyl hy voor God pleit, staan die Satan aan sy regterhand as sy teenstander. Hy kla die kinders van God aan en wil hulle saak so hopeloos moontlik voorstel. Hy vertel die Here van hulle verkeerde dade en hulle swakhede. Hy wys ophulle foute en hulle tekortkominge met die hoop dat hulle karakter in die oë van Christus van so ‘n aard sal wees dat Hy geen hulp aan hulle sal verleen in hulle groot behoefte nie. Josua, as die verteenwoordiger van die volk van God, staan veroordeel, met vuil vodde geklee. Hy is bewus van die sondes van sy volk en staan neergebuig van mismoedigheid. Die Satan teister sy siel met ‘n skuldgevoel wat hom byna hopeloos laat voel. Tog staan hy daar as smekeling met die Satan as teenstander. DGC 111.2

Die Satan het reeds in die hemel sy rol van aanklaer begin. Vandat die mensdom gesondig het, is dit ook sy werk op aarde en hy sal hom in ‘n besondere sin daarop toelê namate ons nader aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis kom. Namate hy sien dat sy tyd kort is, sal hy met groter erns werk om te verlei en te vernietig. Hy is kwaad wanneer hy ‘n volk op aarde sien wat, selfs in hulle swakheid en sondigheid, ontsag het vir die wet van Jehova. Hy het hom voorgeneem dat hulle God nie sal dien nie. Hy skep behae in hulle onwaardigheid, en het voorbereide planne vir elke siel, om almal te verstrik en van God te skei. Hy probeer om God te beskuldig en te veroordeel, saam met almal wat streef om Sy planne met genade en liefde en medelyde en vergifnis in hierdie wêreld uit te voer. DGC 111.3

Elke openbaring van Gods krag vir Sy volk wek die vyandskap van die Satan op. Elke keer as God vir hulle werk, werk die Satan en sy engele met hernieude krag om hulle ondergang te bewerkstellig. Hy is jaloers op almal wat hulle krag in Christus vind. Sy doel is om kwaad te stig, en as hy slaag, pak hy die skuld op die wat in versoeking is. Hy wys na hulle vuil klere en gebrekkige karakters. Hy wys op hulle swakheid en dwaasheid, hulle sondes van ondankbaarheid, hulle ongelykvormigheid aan Christus wat hulle Heiland oneer aangedoen het. Hy dring daarop aan dat al hierdie dinge ‘n rede is wat hom die reg gee om sy wil uit te voer tot hulle vernietiging. Hy probeer hulle afskrik met die gedagte dat hulle gevalle hopeloos is, dat die vlek van hulle sonde nooit afgewas kan word nie. Hy hoop om hulle geloof te vernietig sodat hulle hulle ten voile aan sy versoekings sal oorgee, en hulle trou aan God sal opsê. DGC 112.1

Die volk van die Here kan nie vanself ‘n antwoord op die Satan se beskuldigings gee nie. Wanneer hulle na hulleself kyk, wil hulle radeloos word. Maar hulle doen ‘n beroep op die Goddelike Voorspraak. Hulle pleit, verlaat hulle op die verdienste van die Heiland. God kan “regverdig... wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (Rom. 3:26) Met vertroue roep die kinders van die Here tot Hom om die Satan stil te maak en sy planne te verydel. “Doen reg aan my teenoor my teëparty”, bid hulle; en met die groot argument van die kruis maak Christus die voorbarige beskuldiger stil. DGC 112.2

“Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” Wanneer die Satan probeer om die volk van God swart te smeer en hulle te vernietig, tree Christus tussenbeide. Hoewel hulle gesondig het, het Christus hulle sondeskuld op Sy eie siel geneem. Hy het die mensdom soos ‘n brandhout uit die vuur geruk. Deur Sy menslike natuur is Hy aan die mens gebind, terwyl Hy deur Sy Goddelike natuur een is met die ewige God. Hulp word nou binne die bereik van sterwende siele gebring. Die teenstander word bestraf. DGC 112.3

“En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Daarop sê ek: DGC 112.4

Laat hulle ‘n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek.” En toe, met die gesag van die Here van die leërskare, het die engel ‘n plegtige belofte aan Josua, die verteenwoordiger van Gods volk gemaak:“As jy in my weë wandel en as jy my verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan” - ja, onder die engele wat die troon van God omring. (Sag. 3:3-7) DGC 113.1

Ondanks die tekortkominge van Gods volk verwerp Christus nie die voorwerpe van Sy sorg nie. Hy het die krag om hulle gewaad te verander. Hy verwyder hulle vuil klere; Hy klee die boetvaardige gelowiges met Sy eie kleed van geregtigheid, en skrywe: “vergewe,” agter hulle name in die hemelse verslagboek. Hy erken voor die hemelse heelal dat hulle Syne is. Die Satan, die teenstander, word as die beskuldiger en verleier aan die kaak gestel. God sal aan Sy eie uitverkorenes reg laat geskied. DGC 113.2

Die gebed, “Doen reg aan my teenoor my teëparty”, is van toepassing nie net op die Satan nie, maar op die magte wat hy aanhits om die volk van God verkeerd voor te stel, te versoek en te verwoes. Diegene wat besluit het om die gebooie van God te bewaar, sal uit eie ondervinding weet dat hulle teenstanders het wat deur ‘n mag van benede beheers word. Sulke teenstanders het Christus elke tree agtervolg-hoe aanhoudend en met watter vasberadenheid sal geen mens ooit weet nie. Christus se dissipels word net soos hulle Meester deur voortdurende versoeking agtervolg. DGC 113.3

Die Skrifte beskrywe die toestand van die wêreld kort voor Christus se wederkoms. Die apostel Jakobus beskryf die hebsug en onderdrukking wat daar sal heers. Hy sê: “Kom nou, julle rykes. ... Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ‘n slagdag. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.” Jak. 5:1-6. Dit is die prentjie van wat nou gebeur. Deur allerlei onderdrukking en afpersing hoop mense kolossale rykdom op terwyl die geroep van die uitgehongerde mensdom voor God opkom. DGC 113.4

“So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is; kan nie binnekom nie. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder.” Jes. 59:14, 15. Dit is in die lewe van Christus op aarde vervul. Hy was getrou aan die gebooie van God en het die menslike oorleweringe en vereistes wat bo die gebooie verhef is, verwerp. Hieroor is Hy gehaat en vervolg. Hierdie geskiedenis word herhaal. Die wette en oorlewerings van mense word bo die wet van God verhef, en diegene wat getrou is aan Gods gebooie word beskuldig en vervolg. Weens Sy getrouheid aan God, is Christus van Sabbatskending en laster beskuldig. Daar is gesê dat Hy van ‘n duiwel besete was - dat Hy self Beëlsebul is. Op dergelyke wyse word Sy volgelinge beskuldig en verkeerd voorgestel. So wil die Satan hulle laat sondig om oneer op God te bring. DGC 114.1

Die karakter van die regter in die gelykenis, wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie, is deur Christus voorgehou om aan te toon watter soort oordeel in daardie tyd gevel is; wat ook spoedig by Sy eie verhoor sou blyk. Hy wil hê dat Sy volk in alle tye moet insien hoe min mens aardse regeerders en regters in die dag van beproewing kan vertrou. Dikwels moet die uitverkorenes van God voor amptenare staan wat nie volgens die Woord van God handel nie, maar wat hulle eie ongewyde en ongedissiplineerde drifte volg. DGC 114.2

In die gelykenis van die onregverdige regter het Christus aangetoon wat ons moet doen. “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie?” Christus, ons voorbeeld, het niks gedoen om Homself te verdedig of te bevry nie. Hy het Sy saak aan God toevertrou. So moet Sy volgelinge ook nie beskuldig of veroordeel, of hulle toevlug tot geweld neem om hulle te bevry nie. DGC 114.3

Wanneer skynbaar onverklaarbare beproewings kom, moet ons ons nie daaroor verknies nie. Hoe onregverdig ons ook al behandel word, moenie toelaat dat drifte opwel nie. DGC 114.4

Deur wraaksug te koester, benadeel ons net onsself. Ons vernietig ons eie vertroue in God, en bedroef die Heilige Gees. Daar is aan ons sy ‘n getuie, ‘n hemelse boodskapper wat ‘n banier teen die vyand sal oprig. Hy sal ons met die helder strale van die Son van Geregtigheid omsluit. Verder as dit kan die Satan nie indring nie. Hy kan nie by hierdie skild van heilige lig verbykom nie. Terwyl ongeregtigheid in die wêreld toeneem, is daar nie een van ons wat hom durfvlei dat hy geen moeilikhede sal beleef nie. Maar dit is juis hierdie moeilikhede wat ons tot in die teenwoordigheid van die Allerhoogste bring. Ons kan Een raadpleeg wat oneindige wysheid besit. DGC 115.1

Die Here sê: “Roep My aan in die dag van benoudheid.” (Ps. 50:15) Hy nooi ons om Hom van ons moeilikhede en behoeftes te vertel om by Hom Goddelike hulp te soek. Hy sê ons moet in die gebed volhard. Sodra moeilikhede kom, moet ons ons opregte en ernstige gebede tot Hom rig. Deur in die gebed te volhard, bewys ons ons sterk vertroue in God. Omdat ons bewus is van ons behoefte, bid ons ernstig en ons smekinge roer die hemelse Vader. DGC 115.2

Diegene wat vir hulle geloof beskuldig en vervolg word, kom dikwels in die versoeking om te dink dat God hulle verlaat het. Mense sien hulle vir die minderheid aan. Oënskynlik seëvier hulle vyande oor hulle. Maar hulle moet nie hulle gewetens verkrag nie. Hy wat namens hulle gely het en wat hulle smarte en beproewings gedra het, het hulle nie verlaat nie. DGC 115.3

Die kinders van God word nie weerloos alleen gelaat nie. Gebed beweeg die arm van die Almagtige. Gebed het “koninkryke oorweldig ... geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus” - ons sal weet wat dit beteken wanneer ons hoor van martelare wat vir hulle geloof gesterf het - dryf “leers van vreemdes op die vlug.” (Heb. 11:33, 34) DGC 115.4

As ons ons lewens aan Sy diens wy, kan ons nooit in omstandighede beland waarvoor God geen voorsiening gemaak het nie. Wat ons omstandighede ook al mag wees, ons het ‘n Gids wat die weg aanwys; wat ons moeilikhede ook al is, ons het ‘n onfeilbare Raadsman; al ken ons watter droefheid of leed of eensaamheid, ons het ‘n Vriend wat met ons saamvoel. As ons in ons onkunde verkeerde stappe neem, verlaat Christus ons nie. Sy stem, helder en duidelik, sê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” (Joh. 14:6) “Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie.” Ps. 72:12. DGC 115.5

Die Here verklaar dat Hy vereer sal word deur diegene wat tot Hom nader, wat getrou Sy diens doen. “U sal ‘n standvastige gesindheid in voile vrede bewaar, want hulle vertrou op U”. Jes. 26:3. Die arm van die Almagtige is uitgestrek om ons verder en steeds verder te lei. Gaan voorwaarts, sê die Here, Ek sal aan jou hulp stuur. Dit is tot verheerliking van My Naam dat jy vra, en jy sal ontvang. Ek sal geëer word voor diegene wat op jou neerlaag wag. Hulle sal sien hoe heerlik My woord triomfeer. “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” Matt. 21:22. DGC 116.1

Laat almal wat geteister of onregverdig behandel word tot die Here roep. Keer u af van diegene wie se harte soos staal is en rig u versoeke tot u Skepper. Hy wys niemand weg wat in nederigheid van hart voor Hom kom nie. Nie een opregte gebed is tevergeefs nie. Te midde van die lofliedere van die hemelse koor hoor God die geroep van die swakste mensekind. Ons stort ons hartsverlange in ons binnekamers uit, ons adem ‘n gebed as ons langs die weg wandel, en ons woorde bereik die troon van die Koning van die heelal. Hulle kan vir mense ore onhoorbaar wees, maar hulle kan nie in die stilte wegsterf nie, nog minder kan hulle te midde van die drukte van die dagtaak verlore raak. Niks kan die sielsverlange smoor nie. Dit styg bokant die lawaai op straat, bo die verwarring van die menigte, op na die hemelhowe. Dit is God met wie ons praat, en ons gebed word verhoor. DGC 116.2

U wat die onwaardigste voel, moenie vrees om u saak aan God toe te vertrou nie. Toe Hy Homself in Christus vir die sonde van die wêreld gegee het, het Hy die saak van elke siel onderneem. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8:32. Sal Hy nie die genadewoord wat vir ons bemoediging en krag aan ons gegee is, tot vervulling bring nie? DGC 116.3

Daar is niks wat Christus meer verlang as om Sy erfenis van die heerskappy van die Satan te red nie. Maar voordat ons van die Satan se uitwendige mag verlos kan word, moet ons van sy innerlike magte verlos word. Die Here laat beproewings toe sodat ons van aardsgesindheid, van selfsug, van harde, onchristelike karaktertrekke gereinig kan word. Hy laat toe dat die diep waters van verdrukking oor ons siele stroom sodat ons Hom kan ken en Jesus Christus wat Hy gestuur het, sodat ons diep in ons harte kan verlang om van besoedeling gereinig te word, en reiner, heiliger, gelukkiger uit die beproewing kan kom. Dikwels gaan ons met donker, selfsugtige siele in die vuuroond van beproewing in, maar as die vuurproef geduldig verduur word, sal ons die karakter van God weerspieël wanneer ons daar uitkom. Wanneer Sy doel met die beproewing verwesenlik is, sal Hy “jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.” (Ps. 37:6) DGC 116.4

Daar is geen gevaar dat God die gebede van Sy volk sal verwaarloos nie. Die gevaar is dat hulle onder versoeking en beproewing moedeloos sal word en nie in gebed sal volhard nie. DGC 117.1

Die Heiland het Goddelike medelye aan die Siro-Feniciese vrou bewys. Sy hart is aangeraak toe Hy haar droefheid sien. Hy het daarna verlang om haar onmiddellik die versekering te gee dat haar gebed verhoor is, maar Hy wou Sy dissipels ook‘n les leer, en dit het eers gelyk asof Hy die geroep van haar gepynigde hart verontagsaam. Toe dit duidelik word dat sy glo, het Hy haar geprys en weggestuur met die gawe waarna sy gesoek het. Die dissipels het die les nooit vergeet nie, en dit is opgeteken om van die gevolge van volhardende gebed te getuig. DGC 117.2

Christus het self daardie onverskrokke volharding in die moederhart ingeplant. Dit was Christus wat aan die weduwee wat voor die regter gestaan en pleit het moed en deursettingsvermoë gegee het. Dit was Christus wat Jakob eeue tevore in die geheimsinnige stryd by die Jabbok met dieselfde volhardende geloof besiel het. En Hy het nie nagelaat om die vertroue wat Hy self ingeboesem het, te beloon nie. DGC 117.3

Hy wat in die hemelse heiligdom woon, oordeel regverdig. Hy het meer behae in Sy volk wat in ‘n sondige wêreld met versoeking worstel, as in die engeleleër wat Sy troon omring. DGC 117.4

Die hemelse heelal toon die grootste belangstelling in hierdie stippeltjie van ‘n aarde; want Christus het ‘n onberekenbare prys betaal vir die siele van sy inwoners. Die Verlosser van die wêreld handhaaf die verbindingslyne tussen die hemel en die aarde, want die verlostes van die Here is hier. Hemelse wesens besoek die aarde nog steeds soos in die dae toe hulle met Abraham en Moses gewandel en gepraat het. Te midde van die besige doenigheid van ons groot stede, te midde van die menigtes wat saamdrom op die paaie en in ons markte waar mense hulle van die oggend tot die aand gedra asof besigheid en sport en vermaaklikheid alles is wat in die lewe tel, waar so min die onsigbare werklikhede bedink - selfs hier het die hemel nog sy wagters en sy heiliges. Daar is onsigbare magte wat elke woord en daad van die mens waarneem. In elke byeenkoms vir sake of vermaaklikheid, in elke samekoms vir aanbidding, is daar meer luisteraars as wat met die natuurlike oog gesien kan word. Soms trek die hemelse boodskappers die gordyn wat die onsigbare wêreld versluier opsy, sodat ons gedagtes weggetrek kan word van die gejaag en drukte van die lewe om na te dink oor die feit dat daar onsigbare getuies is wat alles weet wat ons doen of sê. DGC 117.5

Ons het ‘n beter begrip nodig van die sending van besoekende engele as wat ons nou het. Ons moet onthou dat hemelse wesens in al ons werksaamhede met ons saamwerk. Onsigbare leërmagte van lig en krag vergesel die sagmoediges en nederiges wat die beloftes van God glo en daarop aanspraak maak. Gerubs en Serafs en kragtige engele - tienduisend maal tienduisend en duisende van duisende - staan aan Sy regterhand, “almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe.” (Heb. 1:14) DGC 118.1

Hierdie engelboodskappers hou ‘n noukeurige verslag van die woorde en dade van die mensekinders. Elke daad van wreedheid en onreg teenoor Gods volk, alles wat hulle deur die mag van bewerkers van ongeregtigheid moet ly, word in die hemel opgeteken. DGC 118.2

“Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” DGC 118.3

“Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.” Heb. 10:35-37. DGC 118.4

“Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.” Jak. 5:7, 8. DGC 118.5

Die lankmoedigheid van God is wonderlik. Die reg wag lank terwyl genade met die sondaar pleit. Maar “geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.” (Ps. 97:2) “Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.” Nahum 1:3. DGC 119.1

Die wêreld het vermetel geword in die oortreding van Gods wet. Weens Sy langdurige verdraagsaamheid het die mensdom Sy gesag vertrap. Hulle het mekaar in verdrukking en in wreedheid teenoor Sy erfenis gesterk, en gesê, “Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees? (Ps. 73:11) Maar daar is perke wat hulle nie kan oorskry nie. Die tyd is naby wanneer hulle die vooraf bepaalde perke sal bereik het. Selfs nou reeds het hulle byna die grenslyne van die lankmoedigheid van God, die perke van Sy genade, van Sy ontferming oorskry. Die Here sal ingryp om Sy eie eer te handhaaf, om Sy volk te red, en om die opkomende gety van ongeregtigheid te keer. DGC 119.2

In die tyd van Noag het die mensdom die wet van God geminag totdat byna elke herinnering aan die Skepper van die aarde verdwyn het. Hulle ongeregtigheid het sulke hoogtes bereik dat die Here‘n watervloed op die aarde gebring en die bewoners daarvan uitgewis het. DGC 119.3

Van eeu tot eeu het die Here die manier waarop Hy te werk gaan, bekend gemaak. In ‘n krisis het Hy Hom geopenbaar en ingegryp om die voltrekking van die Satan se planne te verhinder. Met nasies, met gesinne, met enkelinge het Hy dikwels toegelaat dat sake‘n krisis bereik sodat mense van Sy tussenkoms kennis kon neem. Dan het Hy dit duidelik laat blyk dat daar ‘n God in Israel is wat Sy wet sal handhaaf en Sy volk sal verdedig. DGC 119.4

In hierdie tyd van heersende ongeregtigheid kan ons weet dat die laaste groot krisis ophande is. Sodra Gods wet feitlik orals getrotseer word, wanneer Sy volk deur hulle medemense verdruk en geteister word, sal die Here intree. DGC 119.5

Die tyd is naby wanneer Hy sal sê: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.” Jes. 26:20,21. Mense wat voorgee om Christene te wees, kan die armes nou bedrieg en onderdruk; hulle kan weduwees en wese beroof; hulle kan hulle Sataniese haat koester omdat hulle die gewetens van Gods volk nie kan beheers nie, maar vir al hierdie dinge sal God hulle in die oordeel bring. “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie.” Jak.2:13. Dit sal nie lank wees voordat hulle voor die Regter van die hele aarde sal staan om rekenskap te gee van die leed wat hulle die liggame en siele van Sy erfdeel aangedoen het nie. Hulle kan nou nog valse beskuldigings maak, hulle kan diegene bespot wat God aangestel het om Sy werk te doen, hulle kan Sy gelowiges aan die gevangenis, die kettinggangers, ballingskap of die dood oorgee, maar vir elke smart, vir elke traan sal hulle verantwoording moet doen. God sal hulle dubbel vergeld vir hulle sondes. Aangaande Babilon, die simbool van die afvallige kerk, sê Hy aan die bedienaars van die oordeel: DGC 119.6

“Haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het.” (Openb. 18:5, 6.) DGC 120.1

Uit Indië, uit Afrika, uit China, uit die eilande van die see, van die vertrapte miljoene van die sogenaamd Christelike lande styg die geroep van menslike lyding op tot God. Daardie geroep sal nie lank onbeantwoord bly nie. God sal die aarde van sy sedelike korrupsie reinig, nie deur ‘n watervloed soos in Noag se dag nie, maar deur‘n vlammesee wat geen mens sal kan blus nie. DGC 120.2

“Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” Dan. 12:l. DGC 120.3

Uit solderkamers, uit krotte, uit kerkers, van skavotte, uit berge en woestyne, uit die spelonke van die aarde en dieptes van die see, sal Christus Sy kinders bymekaarmaak. Op die aarde was hulle verlate, geteister en gefolter. Miljoene het belaai met skande na hulle grafte gegaan omdat hulle geweier het om voor die misleidings van die Satan te swig. Menslike howe het bevind dat die kinders van God die laagste misdadigers was. Maar die dag is naby en “God staan gereed om te oordeel.” (Ps. 50:6) Dan sal die aardse besluite nietig verklaar word. “Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem.” Jes. 25:8. Witklere sal aan elkeen van hulle gegee word. (Openb. 6:11) “En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here.” Jes. 62:12. DGC 120.4

Wat ook al die kruis wat hulle moes dra, wat ook al die verlies wat hulle moes ly, wat ook al die vervolging wat hulle moes verduur, tot selfs die verlies van hulle tydelike lewe, word die kinders van God ruim vergoed. “Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.” Openb. 22:4. DGC 121.1