Die Boodskap
Die Opstanding
Oor die oopgerukte graf van Josef het Christus triomfantlik uitgeroep: “Ek is die opstanding en die lewe.” Alleen die Godheid kon so praat. Alle geskape dinge leef deur die wil en mag van God. Almal is afhanklike ontvangers van die lewe van God. Van die hoogste seraf tot die nietigste lewende organisme, almal word gevoed uit die Bron van die lewe. Net Hy wat een met God is, kon sê: “Ek het mag om my lewe neer te lê en Ek het mag om dit weer op te neem.” As God, het Christus die mag gehad om die kettings van die dood te verbreek. DBo 49.1
Christus het uit die dode opgestaan as die eersteling van die wat ontslaap het. Hy was die teenbeeld van die eerstelinggerf en Hy het opgestaan op dieselfde dag wat die eerstelinggerf voor die Here beweeg moes word. Meer as ‘n duisend jaar lank is hierdie simboliese rite volgehou. Die eerste ryp are is van die saailande ingesamel, en wanneer die volk vir die Pasga na Jerusalem gegaan het, is die eerstelinggerf as dankoffer voor die Here beweeg. Nie voor hierdie seremonie kon die sekel ingeslaan en die oes ingesamel word nie. Die gerf wat aan die Here gewy is, het die oes voorgestel. So het Christus as eersteling die groot geestelike oes wat vir die koninkryk van God ingesamel sou word, voorgestel. Sy opstanding is die simbool en waarborg van die opstanding van al die regverdige dode.” Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.” (IThess 4; 14). DBo 49.2
Toe Jesus opgestaan het, het Hy ‘n menigte gevangenes saam uit die graf gebring. Die aardbewing tydens Sy dood het hul grafte oopgeruk, en toe Hy opgestaan het, het hulle saam met Hom opgestaan. Dit was diegene wat mede-arbeiders van God was en wat met hul lewens geboet het vir die waarheid waarvan hulle getuig het. Nou sou hulle getuies wees vir Hom wat hulle uit die dode opgewek het. DBo 49.3
Tydens Sy bediening het Jesus die dode opgewek. Hy het die seun van die weduwee van Nain, die owerste se dogter en Lasarus opgewek. Maar hulle was nie met onsterflikheid beklee nie. Na hul opwekking was hulle steeds aan die dood onderhewig. Maar diegene wat met Christus se opstanding uit die graf uitgekom het, is opgewek tot die ewige lewe. Hulle het saam met Hom opgevaar as trofeë van Sy oorwinning oor die dood en die graf. Hulle, het Christus gesê, is nie langer die Satan se gevangenis nie; Ek het hulle vrygekoop. Ek het hulle uit die graf gekoop as die eerstelinge van My krag, om saam met My te wees waar Ek is en om nooit weer die dood te smaak of leed te ondervind nie. DBo 49.4
Hulle het die stad binnegegaan en aan baie verskyn en verklaar dat Christus uit die dode opgestaan het en hulle saam met Hom. So is die heilige waarheid van die opstanding verewig. Die herrese heiliges het getuig van die waarheid van die woorde: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan.” Hul opstanding was ‘n illustrasie van die vervulling van die profesie: “Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ‘n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk” (Jes. 26:19). DBo 50.1
Vir die gelowige is Christus die opstanding van die lewe. In ons Heiland is die lewe wat deur die sonde verbeur is, herstel; want Hy het lewe in Homself om op te wek wie Hy wil. Hy is met die reg beklee om onsterflikheid te skenk. DBo 50.2
Die lewe wat Hy as mens afgelê het, neem Hy weer op en gee dit aan die mens. “Ek het gekom,” het Hy gesê, “dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” ” EIkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” ” Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 10:10; 4:14; 6:54). DBo 50.3
Vir die gelowige is die dood maar ‘n geringe saak. Christus verwys daarna as van min betekenis. “As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie,““sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie.” Vir die Christen is die dood maar ‘n slaap, ‘n oomblik van stilte en donkerheid. Die lewe is met Christus in God verborge, en “wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” (Johannes 8:51,52; Kolossense 3:4). DBo 50.4
Die stem wat van die kruis af uitgeroep het: “Dit is volbring,” is onder die dode gehoor. Dit het deur grafwande gedring en die slapers beveel om op te staan. So sal dit wees wanneer die stem van Christus uit die hemel gehoor sal word. Daardie stem sal deur grafmure dring en die grafte open, en die dode in Christus sal opstaan. Met die Heiland se opstanding is ‘n paar grafte oopgemaak, maar met Sy wederkoms sal al die kosbare ontslapenes Sy stem hoor en sal hulle verheerlik en onsterflik te voorskyn kom. Dieselfde mag wat Christus uit die dode opgewek het, sal Sy kerk ook opwek, en sal dit saam met Hom verheerlik word, bo alle owerhede en magte, bo elke naam wat genoem word, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomende. (KE. 712-714] DBo 50.5
Christus het opgevaar na die hemel met ‘n geheiligde en heilige menslike natuur. Hy het die menslike natuur saam met Hom geneem na die hemelse howe, en sal dit deur die eindelose eeue dra as die Een wat elke mensekind in die Godstad verlos het, die Een wat voor die Vader gepleit het” Ek het hulle op My handpalms gegraveer.” Die palms van Sy hande dra die merke van die wonde wat Hy ontvang het. [SDABC 5/1125 (RH Maart, 9,1905)] DBo 51.1
Maar die Here is bekleed met Krag. Hy kan diegene wat dood is in oortreding en sonde neem, en deur die werking van die Gees, wat Jesus uit die dode opgewek het, die karakter verander en die verlore beeld van God in die siel herstel. [FE. 332] DBo 51.2
Die ganse hemel het gewag om die Heiland in die hemelse howe te verwelkom. Al opvarende was Hy aan die spits, terwyl die menigte gevangenes wat met Sy opstanding vrygelaat is, gevolg het. Die hemelse leerskare het die blye optog met gejuig en lof en engelesang begelei. DBo 51.3
Toe hulle voor die Godstad kom, het die begeleidende engele uitgeroep: DBo 51.4
“Hefop julle hoofde, o poorte, ja, verhefjulle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!” DBo 51.5
Vol vreugde antwoord die poortwagte: DBo 51.6
“Wie is tog die Erekoning?” DBo 51.7
Hulle vra dit nie omdat hulle nie weet wie Hy is nie, maar om die lofbetuiging uit te lok: DBo 51.8
“Die Here, sterk en geweldig, die Here, geweldig in die stryd. Hefop julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan.” DBo 51.9
Weer klink die uitdaging op: “Wie is tog die Erekoning?” want die engele raak nooit moeg daarvan om te hoor hoe Sy Naam geloof word nie. Die begeleidende engele antwoord: DBo 51.10
“Die Here van die leërskare - Hy is die Erekoning/” (Psalm 24:7-10) DBo 51.11
Dan word die poorte van die Godstad wyd oopgegooi en die engeleskaar stryk deur die poorte onder die verruklikste musiek. DBo 51.12
Daar is die troon en rondom die reënboog van belofte. Daar is gerubs en serafs. Die aanvoerders van die engeleheer, die seuns van God, die verteenwoordigers van die sondelose wêrelde, is byeen. Die hemelse raad voor wie Lucifer God en Sy Seun beskuldig het, die verteenwoordigers van al die sondelose ryke waaroor die Satan gehoop het om sy heerskappy te vestig — is almal daar om die Verlosser te verwelkom. Hulle is gretig om Sy oorwinning te vier en hul Koning te verheerlik. DBo 51.13
Maar Hy beduie hulle om te wag. Nie nou al nie; Hy kan nie nou al die kroon van die heerlikheid en die koninklike kleed ontvang nie. Hy begeef Hom in die teenwoordigheid van Sy Vader. Hy wys na Sy verwonde hoof, die deursteekte sy, die deurboorde voete; Hy hef Sy hande omhoog met die spykermerke nog daarin. Hy wys na die simbole van Sy oorwinning; Hy bied God die beweegoffer-aan die wat saam met Hom opgestaan het as verteenwoordigers van die groot menigte wat by Sy wederkoms uit hul grafte sal kom. Hy nader die Vader by wie daar vreugde is oor een sondaar wat hom bekeer het; wat oor Hom sing met gejubel. Nog voor die grondlegging van die wêreld het die Vader en die Seun ‘n verbond aangegaan om die mens te verlos indien hy deur die Satan oorwin sou word. Hulle het die hande saamgevou in ‘n plegtige gelofte dat Christus borg sou staan vir die mens. Hierdie gelofte het Christus nou nagekom. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring” het Hy die Vader aangespreek. Die ooreenkoms is ten volle nagekom. Nou verklaar Hy: “Vader dit is volbring. Ek het U wil gedoen, 0 My God. Ek het die verlossingstaak voltooi. As U geregtigheid bevredig is, wil Ek, dat waar Ek is, hule wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” (Joh. 19:30; 17:24). DBo 52.1
Die stem van God verkondig dat aan die geregtigheid voldoen is. Die Satan is verslaan. Christus se swoegende, worstelende volgelinge op aarde is begenadig “in die Geliefde” (Efésiërs 1:6). Voor die hemelse engele en die verteenwoordigers van die sondelose wêrelde word hulle as geregverdig verklaar. Waar Hy is, sal Sy kerk ook wees. “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede kus mekaar” (Psalm 85:11). Die Vader omhels Sy Seun en die bevel weerklink; “Al die engele van God moet Hom aanbid” (Hebreërs 1:6). DBo 52.2
Met onuitspreeklike blydskap erken die owerhede die opperheerskappy van die Vors van die lewe. Die engeleheer val voor Hom neer terwyl die hemelhowe weergalm van die blye geroep: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openbaring 5:12). DBo 52.3
Die oorwinningsliedere smelt saam met die musiek van engeleharpe totdat die ganse hemel skyn oor te loop van vreugde en lof. Die liefde het oorwin. Die verlorenes is gevind. Die hemele weerklink van die magtige geluid van stemme wat roep:“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openbaring 5:13). DBo 52.4
Van daardie toneel van hemelse vreugde, slaan ‘n weerklank van Christus se eie wonderbaarlike woorde neer na die aarde: “Ek vaar op na My Vader en My God en julle God.” (Johannes 20:17). Die hemelse gesin en die aardse gesin het een geword, want ons Here het opgevaar en vir ons leef Hy. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25) [KE 757-759] DBo 53.1
__________