Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte

138/161

HOOFSTUK VYF-EN-DERTIG—EENHEID ONDER DIE VERSKILLENDE VOLKE

(Deel IX, bls. 179-183.)

“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink.” “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Joh. 7: 37; 4: 14. UG1 242.1

As ons, in weerwil van hierdie beloftes, verkies om droog en verdor te bly weens gebrek aan die water van die lewe, is dit ons eie skuld. As ons tot Christus sou kom soos ‘n kind na sy aardse ouers, en vra om die dinge wat Hy belowe het, en glo dat ons hulle ontvang, sou ons die dinge werklik ontvang. As almal van ons die geloof beoefen het soos ons dit moes gedoen het, sou ons baie groter seëninge van die Gees van God in ons dienste ontvang het as wat werklik die geval was. Ek is bly dat daar nog ‘n paar dae oorbly vir ons dienste. Ons kom nou voor die vraag te staan: Sal ons na die fontein kom en drink? Sal diegene wat leraars van die waarheid is, die voorbeeld stel? Die Here sal groot dinge vir ons doen as ons Hom op Sy woord sou neem. O dat ons hier ‘n algemene verootmoediging van hart mog sien! UG1 242.2

Sedert die aanvang van hierdie dienste, is ek beweeg om nadruk te lê op liefde en geloof. Dit is omdat julle die getuienis nodig het. Sommige wat in hierdie sendingvelde kom diens doen het, het gesê: “Julle verstaan nie hoe om met die Franse te werk nie, ook verstaan julle nie hoe om met die Duitsers te werk nie. Hulle moet so en so bearbei word.” UG1 242.3

Maar ek vra: Verstaan God hulle nie? Is dit nie Hy wat aan Sy diensknegte die boodskap vir die mense gee nie? Hy weet presies wat hulle nodig het; en as die boodskap regstreeks van Hom kom en deur Sy diensknegte aan die volk verkondig word, sou die doel daarmee bereik word; dit sou almal een in Christus maak En hoewel sommige uit en uit Franse is, en sommige Duitsers en sommige Amerikaners, kan hulle nogtans almal Christelik wees. UG1 242.4

Die Joodse tempel is met gekapte klippe gebou wat uit die steengroewe gegrawe is; en elke klip is reggekap, afgewerk en getoets vir ‘n plek in die gebou voordat dit na Jerusalem gebring is. En nadat al die klippe daar op die bouterrein gebring was, is die gebou opgerig sonder geluid van byl en hamer. Hierdie gebou het Gods geestelike tempel voorgestel, wat saamgestel is uit alle volke en tale en stamme — mense van alle stande en range, ryk en arm, hoog en laag, geleerd en ongeleerd. Hulle is nie soos dooi klippe wat met hammer en beitel moet reggekap word nie. Hulle is lewende klippe wat deur die waarheid uit die steengroef van die wêreld gehaal is; en die groot Meester-bouer, die Here van die tempel, is nou besig om hulle reg te kap en af te werk vir hulle spesiale plekke in die geestelike gebou. Wanneer hy klaar is, sal hierdie tempel in alle opsigte volmaak wees en dit sal deur engele en mense bewonder word, want die Bouer en Maker daarvan is God. UG1 243.1

Niemand moet dink dat hy nie regkap nodig het nie. Daar is geen persoon en geen volk wat in gewoontes en gedagtes volmaak is nie. Die een moet van die ander leer. Daarom ook wil God hê dat die verskillende volke met mekaar moet omgaan, sodat hulle een van oordeel en doel kan wees. Dan sal die eenheid wat daar in Christus is, gesien word. UG1 243.2

Ek was half bang om na hierdie land te kom, omdat so baie gesê het dat die verskillende volke van Europa hulle eienaardighede het en dat mense hulle net op ‘n sekere manier kon bereik. Maar God belowe wysheid aan diegene wat voel dat hulle behoefte daaraan het en daarom vra. God kan die volk bring waar hulle die waarheid sal ontvang. Laat die Here besit neem van die verstand en dit vorm soos die pottebakker die klei vorm, en dan sal al die verskille uit die weg geruim word. Vestig julle oë op Jesus, broeders; laat Sy Gees julle besiel en dan sal julle geen moeilikheid hê om die ver-skillende klasse te bereik nie. Ons het nie ses patrone, of vyf, om te volg nie; nee, ons het maar net een, en dit is Christus Jesus. As die Italiaanse en die Franse en die Duitse broeders sou trag om soos Hy te wees, sou hulle op dieselfde fondament van waarheid staan; dieselfde gees sou almal besiel, naamlik “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” Ek waarsku julle, broeders en susters, om nie ‘n skeidsmuur op te rig tussen die verskillende volke nie; maar inteendeel, trag om alle skeidsmure wat daar is, af te breek. Ons moet trag om almal te bring tot die eenheid wat daar in Jesus is, en ons moet met die een doel werk, naamlik die saligheid van ons medemense. UG1 243.3

Sal julle, my broeders in die bediening, die heerlike beloftes van God aanneem? Sal julle self op die agtergrond en Jesus op die voorgrond stel? Self sal moet sterf voordat God deur julle kan werk. Dit ontstel my as ek sien hoedat self dan by hierdie een en dan by daardie een sy kop uitsteek. Ek sê aan julle in die naam van Jesus van Nasaret, dat julle wille sal moet sterf; hulle moet soos Gods wil word. Hy wil julle graag louter en van alle smette reinig. Voordat julle met die krag van God vervul kan word, sal daar ‘n groot werk vir julle gedoen moet word. Ek smeek julle, kom tot die Here, sodat julle Sy ryke seëninge kan ontvang voordat hierdie dienste gesluit word. UG1 244.1

By hierdie dienste is daar diegene teenwoordig op wie die lig van waarskuwings en bestraffings geskyn het. Altyd wanneer daar bestraffings gegee word, trag die vyand om ‘n hunkering na medelyde in die menslike hart op te wek. Daarom waarsku ek julle dat julle moet oppas dat julle nie, waar julle die medelyde van ander soek, weer dieselfde foute begaan nie. Die Here lei Sy afgedwaalde kinders telkens oor dieselfde grond, maar as hulle steeds nalaat om die vermanings van Sy Gees aan te neem, as hulle nalaat om die foute uit die weg te ruim, sal Hy hulle eindelik aan hulle eie swakhede oorlaat. UG1 244.2

Ek versoek julle broeders, kom na Christus en drink; drink vryelik van die water van die saligheid. Moenie op julle eie gevoelens agslaan nie. Moenie dink dat sentimentalisme godsdiens is nie. Verwerp alle menslike stutte en steun alleen op Christus. Julle het ‘n nuwe voorbereiding nodig voordat julle geskik sal wees vir die werk om siele te red. Julle woorde en dade oefen ‘n invloed op ander uit, en julle sal moet rekenskap gee van daardie invloed in die dag van die Here. Jesus gê: “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie.” Openb. 3: 8. Daar skyn lig van daardie deur, en dis ons voorreg om die lig te ontvang as ons wil. Laat ons ons oë op daardie geopende deur hou en alles ontvang wat Christus gewillig is om ons te gee. UG1 245.1

Elkeen het ‘n heftige stryd om te stry om die sonde in sy eie hart te oorwin. Met tye is dit ‘n bittere en ontmoedigende werk; en dit is omdat ons, waar ons die gebreke in ons eie karakters sien, ons oë op die gebreke hou liewer as om op Jesus te sien en die kleed van Sy geregtigheid aan te trek. Elkeen wat eendag deur die poorte van die Godstad sal gaan, sal as oorwinnaar binnegaan, en die grootste oorwinning wat hy sal behaal het, sal die oorwinning oor self wees. UG1 245.2

“Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van Sy heerlikheid om met krag versterk te word deur Sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, van julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met ai die heiliges ten voile te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot ai die volheid van God.” Efe. 3: 14-19. UG1 245.3