Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte
Voorwoord
Mev. E. G. White (gebore Harmon) is op 26 November 1827, te Gorham in die Staat van Maine, Verenigde State van Amerika, gebore, uit godvresende ouers. ‘n Ernstige ongeluk op die ouderdom van nege jaar het byna haar lewe gekos. Dit was gedurende hierdie tyd van beproewing dat sy haar hart aan die Here gegee het. Etlike jare later het sy, met haar ouers, onder die prediking van William Miller, tot die oortuiging gekom dat die wederkoms van Christus baie naby was, en met ‘n grondige selfondersoek, dog sonder die dweepsugtige buitensporighede waaraan sommige van die adventgelowiges hulleself skuldig gemaak het, het hulle die koms van die Here afgewag. UG1 vii.1
Dit was ‘n groot toets vir hulle toe die tyd verbygegaan en niks gebeur het nie, maar die familie Harmon, saam met ander, het in geloof vas gestaan en ernstig gebid om verdere lig. Nie lank ná die teleurstelling nie, het Ellen Harmon gedurende ‘n biduur, ‘n gesig gesien van die tweede koms van Christus en die verheerliking van die heiliges. Dit het die groep aanwesiges baie bemoedig en hulle het dit beskou as ‘n antwoord op hul gebede. UG1 vii.2
In ‘n tweede gesig, ‘n paar dae daarna, het sy die indruk gekry dat God aan haar ‘n spesiale werk wou toevertrou om onder Sy volk te verrig. Sy was swak, terughoudend, en slegs sewentien jaar oud, en sy het gehuiwer om die verantwoordelikheid te aanvaar, dog ná ‘n heftige sielestryd het sy gehoor gegee aan die goddelike roepstem, en haarself aan haar lewenstaak toegewy. UG1 vii.3
Haar boodskap aan die Adventgelowiges in daardie dae was: “Die beweging wat verby is was van God. Behou julle geloof. Die Here het nog ‘n werk vir Sy volk. Ondersoek die Bybel. Soek in die Woord, en julle sal lig vind.” En so ook gedurende haar vrugbare bediening in die jare wat gevolg het, het sy die kerk aangespoor tot ‘n onafgebroke ondersoek van die Heilige Skrif. UG1 vii.4
Mej. Harmon het van plek tot plek in New England gereis, die verstrooide gelowiges besoek, hulle geloof versterk, en alle soorte fanatisme en dwaalleer teengewerk. UG1 viii.1
In die jaar 1846 het sy met Leraar James White in die huwelik getree, en teen die einde van daardie jaar het hulle in aanraking gekom met Joseph Bates wat hulle gewys het op die feit dat die sewende dag die ware Sabbat van die Here is. Eers het hulle nie die belangrikheid hiervan besef nie, en hulle sou die waarheid verwerp het, maar in ‘n gesig is aan Mev. White getoon dat die waarheid aangaande die Sabbat ‘n deel uitmaak van ‘n groot boodskap wat na die hele wêreld moet gaan voordat Christus kon kom; die boodskap sou ‘n volk uit die wêreld roep wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. UG1 viii.2
Eindelik was die plig van Gods volk duidelik, en Leraar en Mev. White, saam met ander wat die lig aangeneem het, het die boodskap begin verkondig deur woord en geskrif. Baiemaal het hulle te kampe gehad met groot armoede. Die gesondheid van albei was swak, en die teenstand was sterk. Maar steeds het hulle voorwaarts gegaan in belang van die waarheid. UG1 viii.3
As gevolg van leiding aan Mev. White gegee het die boodskap in 1848 in druk begin verskyn, in die vorm van traktaatjies, en ‘n maandblad genoem Present Truth — later vervang deur The Second Advent Review and Sabbath Herald. Daardeur is die waarheid wyer bekend gemaak en groepe Adventiste wat Sabbathou het ook in ander state tot stand gekom. UG1 viii.4
Die lig en leiding aan Mev. White gegee het van tyd tot tyd in pamflette verskyn en is onder die gemeentes versprei. In 1851 het haar eerste boek, “Experiences and Views,” verskyn, en in 1858 is die eerste deel van “Spiritual Gifts” uitgegee. UG1 viii.5
In die begin het die boodskappe aan indiwidue en aan sekere gemeentes nie in druk verskyn nie, want dit was beskou dat as ‘n boodskap afgelewer is dat die doel dan bereik is, dog met die uitbreiding van die werk het dit geskyn dat die boodskappe, hoewel gerig aan indiwidue, van groot waarde mag wees vir ander. Só het die “Getuienisskrifte vir die Kerk” ontstaan. UG1 ix.1
Al vroeg reeds het Mev. White nadruk gelê op die noodsaaklikheid van organisasie om die werk te stabiliseer. Sy het die broeders beveel om die Woord te ondersoek en die kerk op evangeliese grondslag te bevestig. Die Wêreldkonferensie van Sewende-dag Adventiste is as gevolg hiervan in die lewe geroep. UG1 ix.2
Omtrent dieselfde tyd is Mev. White beweeg om aan die kerk te skrywe in verband met gesondheid en die verhouding daarvan tot die Christelike lewe. Die gelowiges moes inrigtings vir die verpleging van siekes oprig, en ook leesstof uitgee wat onderrig op die gebied van gesondheid bevat. Die goddelike oorsprong van hierdie raad blyk uit die groot werk wat sedertdien gedoen is deur hierdie “regter arm” van die boodskap. UG1 ix.3
Die gebalanseerde, praktiese opvoedingstelsel van Sewende-dag Adventiste, soos dit vandag is, het ook ontstaan as gevolg van die leiding wat deur haar gegee is. UG1 ix.4
In die jaar 1881, is Leraar James White op sestig jarige leeftyd te Battle Creek oorlede. Mev. White het toe na die kus verhuis waar sy veel tyd bestee het aan die skrywe van die getuienisse wat aan haar toevertrou was. UG1 ix.5
Teen 1885 het die adventbeweging in ‘n aantal Europese lande wortel geskied, en alhoewel sy alreeds oor die sestig jaar was, het sy op versoek van die Wêreldkonferensie die gelowiges daar gaan besoek en hulle vir twee jaar aangemoedig en die werk versterk. Later het sy nege jaar in belang van die kerk in Australië gearbei. UG1 ix.6
In 1900, op die leeftyd van drie-en-sewentig jaar, is sy na die Verenigde State terug, maar sy kon haarself nie uit die diens van die Meester onttrek nie en sy het die laaste vyftien jaar van haar lewe deurgebring met skrywe. UG1 ix.7
Na ‘n bedrywige lewe van preek en skrywe in baie lande, is sy op 16 Julie 1915 in haar woning op St. Helena, Kalifornië, sag in die Here ontslape, en is langs haar eggenoot op Battle Creek, Michigan, ter ruste gelê. UG1 x.1
In sy lyksrede het Leraar A. G. Daniells, president van die Wêreldkonferensie, gesê: UG1 x.2
“Ons het miskien nie die wysheid om met sekerheid te sê presies watter deel van Mev. White se lewenswerk van die grootste waarde vir die wêreld was nie, maar dit blyk dat die massa Bybelse lektuur wat sy agtergelaat het van die grootste diens vir die mensheid sal wees.” UG1 x.3
Omdat die geskrifte van Mev. White so ‘n magtige faktor in die verlede was in die opbouing van die kerk en die ontwikkeling van ‘n Christelike karakter, gee ons hierdie versameling uit wat van groot waarde vir hierdie dae blyk. Dit is welliswaar maar net brokkies uit die baie boekdele wat sy agtergelaat het en wat ons by die lesers aanbeveel. Ons versoek in alle erns dat die raad hierin bevat, biddend ondersoek, en met die gehele hart aangeneem sal word, met die vertroue dat die lewens van Gods volk sodoende gereinig, veredel, en versterk sal word om staande te kan bly in die laaste ure van die genadetyd van hierdie wêreld. UG1 x.4
DIE UITGEWERS.