Die Groot Stryd

36/45

Hoofstuk 34—Spiritisme

DIE bediening van heilige engele soos in die Skrifte voorgestel, is ‘n waarheid wat baie dierbaar en vertroostend is vir elke navolger van Christus. Maar die leer van die Bybel in hierdie verband is bedek en verdraai deur die dwalings van die algemene teologie. Die leerstelling van natuurlike onsterflikheid, van Paganisme geleen, en in die duisternis van die groot afval by die Christelike geloof ingelyf, het die waarheid vervang wat so duidelik in die Skrifte geleer word, naamlik “die dode weet glad niks nie.” Menigtes glo vandag dat die geeste van die dode die “dienende geeste is wat vir diens uitgestuur word terwille van die wat die saligheid sal beërwe.” En dit word geglo, nieteenstaande die getuienis van die Skrifte aangaande die bestaan van hemelse engele en die feit dat hulle genoem word nog voor daar nog ooit ‘n mens gesterf het. GS 623.1

Die leerstelling dat die mens sy bewussyn behou in die dood, en veral die geloof dat die geeste van die afgestorwenes terugkeer om die lewendes te dien, het die weg berei vir hedendaagse Spiritisme. As die dode in die teenwoordigheid van God en die heilige engele toegelaat word en kennis verkry ver bokant as wat hulle voorheen gehad het, waarom sou hulle nie na die aarde terugkeer om die lewendes te verlig en te leer nie? As, soos deur baie teoloë geleer word, die geeste van die dode oor hulle vriende op aarde rondsweef, waarom sou hulle ook nie met hulle kan praat om hulle te waarsku teen kwaad of hulle te vertroos in droefheid nie? Hoe kan diegene wat glo dat die mens sy bewussyn in die dood behou, die dinge verwerp wat aan hulle verkondig word as goddelike lig deur verheerlikte gees-te? Hier het ons ‘n kanaal wat as heilig beskou word, en waardeur Satan werk vir sy eie doeleindes. Die gevalle engele wat sy bevele uitvoer, verskyn as boodskappers uit die geestewêreld. Terwyl hulle voorgee om die lewende in aanraking met die dode te bring, oefen die vors van duisternis sy betowerende invloed uit op hulle. GS 623.2

Hy het mag om skynbaar aan die mens sy afgestorwe vriende terug te bring. Hierdie vervalsing is volmaak; die bekende voorkomste, die woorde, die buiging van die stem, word weergegee met wonderbaarlike juistheid. Vele word vertroos met die versekering dat hulle geliefdes in die hemelse geluksaligheid is; en sonder enige vermoede van gevaar, luister hulle na “verleidende geeste en leringe van duiwels.” GS 624.1

As hulle eers daartoe gebring word om te glo dat die dode werklik kan terugkom om met hulle te praat, dan laat Satan diegene verskyn wat onvoorberei na die graf gegaan het. Hulle gee voor dat hulle gelukkig is in die hemel en dat hulle selfs hoë posisies daar beklee; op hierdie wyse word die dwaalleer wyd en syd verkondig, naamlik dat daar geen verskil is tussen die goddelose en die regverdiges nie. Die sogenaamde besoekers uit die geestewêreld gee dikwels waarskuwings wat waar is. Daarna, wanneer vertroue gewin is, stel hulle leerstellings voor wat regstreeks geloof in die Skrifte ondermyn. Voorgewende om groot belangstelling te hê in die welsyn van hulle vriende op aarde, verkondig hulle die gevaarlikste dwalings. Die feit dat sommige van die dinge wat hulle sê waar is, en dat hulle soms toekomstige dinge kan voorspel, gee ‘n skyn van betroubaarheid aan hulle verklarings; en hulle valse leerstellings word deur die groot meerderheid aangeneem en geglo net so geredelik asof hulle onder die heiligste waarhede van die Bybel was. Die wet van God word ter syde gestel, die Gees van genade word verag, en die bloed van die verbond as onheilig beskou. Die geeste loën die godheid van Christus, en hulle plaas selfs die Skepper op gelyke voet met hulleself. Onder ‘n nuwe dekmantel gaan die groot rebel steeds voort met sy stryd teen God, wat in die hemel begin het en vir byna sesduisend jaar al op die aarde voortgesit word. GS 624.2

Vele trag om spiritistiese verskynsels te verklaar deur alles toe te skryf aan bedrog en kunstigheid aan die kant van die medium. Maar hoewel dit waar is dat behendige kunsies afgesmeer is as egte verskynsels, is daar ook merkwaardige openbarings van bonatuurlike krag. Die geheimsinnige geklop waarmee hedendaagse Spiritisme begin het, was nie die gevolg van menslike bedrog of behendigheid nie, maar dit word regstreeks veroorsaak deur bose engele wat op daardie manier een van die suksesvolste sielvernietigende dwalings ingevoer het. Baie sal verstrik word deur die geloof dat Spiritisme blote menslike bedrog is. As hulle te staan kom voor openbarings van dinge wat hulle nie anders as bonatuurlik kan beskou nie, sal hulle bedrieg word, en hulle sal daartoe gebring word om die verskynsels aan te neem as die openbarings van die krag van God. GS 625.1

Hierdie persone sien die getuienis van die Skrifte oor die hoof aangaande die wonders wat deur Satan en sy werktuie verrig word. Dit was deur sataniese hulp dat die towenaars van Farao die werk van God kon namaak. Paulus verklaar dat daar, voor die wederkoms van Christus, dergelike openbarings van sataniese krag sal wees. Die wederkoms van die Here sal voorafgegaan word deur “die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid.” 2 Thess. 2:9, 10. En die apostel Johannes, in sy beskrywing van die wonderwerkende krag wat in die laaste dae geopenbaar sal word, sê: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is . . . te doen.” Openb. 13: 13, 14. Dit is nie bedrog wat hier voorspel word nie. Die mense word bedrieg deur wonderwerke wat Satan se werktuie werklik doen, en nie wat hulle voorgee om te doen nie. GS 625.2

Die vors van duisternis, wat vir solank reeds die vermoëns van sy meesterverstand gebruik het om te bedrieg, pas sy versoeking behendig aan by alle klasse en toestande. Aan ontwikkelde en verfynde persone stel hy Spiritisme voor in verfynde en intellektuele aspekte, en op daardie manier vang hy hulle in sy net. Die wysheid wat Spiritisme meedeel, word deur die apostel Jakobus beskryf as die wysheid wat nie “van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels.” Jak. 3: 15. Dit, egter, bedek die bedrieër as dit in sy kraam te pas kom. Hy wat voor Christus in die woestyn van versoeking kon verskyn in die gedaante en heerlikheid van ‘n hemelse seraf, verskyn aan die mens so aantreklik moontlik en as ‘n engel van lig. Hy doen ‘n beroep op die verstand deur hoë en verhewe temas voor te stel; hy bekoor die verbeelding met verruklike tonele; en hy win die liefde deur welsprekende beskrywings van liefde en liefdadigheid. Hy laat die verbeelding van mense op hol gaan deur so ‘n groot hoogmoed in hulle te skep oor hulle eie wysheid dat hulle in hulle harte selfs die ewige God verag. Daardie magtige wese wat die wêreld se Verlosser na ‘n hoë berg kon neem en al die koninkryke van die aarde en hulle heerlikheid voor Hom laat verbygaan het, sal sy versoekings aan mense voorstel op ‘n manier wat die sintuie sal bedrieg van almal wat nie deur goddelike krag beskerm is nie. GS 627.1

Satan bedrieg mense vandag net soos hy Eva in Eden bedrieg het, deur vleiery, deur ‘n begeerte te skep vir verbode kennis, en die begeerte tot selfverheffing op te wek. Dit was deur self hierdie dinge te koester wat sy val veroorsaak het, en deur hulle trag hy vandag nog om die ondergang van die mense te bewerk. “Julle sal soos God wees deur goed en kwaad te ken” het hy gesê. (Gen. 3:5.) Spiritisme leer “dat die mens ‘n progressiewe wese is; dat dit sy bestemming is om van sy geboorte af aan vordering te maak—selfs deur die ewigheid heen—om soos die godheid te word.” En weer: “Elke verstand sal homself oordeel en niemand anders nie.” “Die oordeel sal regverdig wees, omdat dit die oordeel van self sal wees. . . . Die troon is binne-in julle.” ‘n Spiritis-leraar het gesê, toe sy “geestelike bewussyn” in hom opgewek is, “my medemense almal was halfgode wat nie geval het nie.” ‘n Ander een het gesê, “Enige regverdige en volmaakte wese is Christus.” GS 627.2

Satan het dus in die plek van die geregtigheid en volmaaktheid van die ewige God, die ware voorwerp van aanbidding; in die plek van die volmaakte geregtigheid van Sy wet, die ware maatstaf van die mens, die sondige, dwalende natuur van die mense self gestel as die enigste voorwerp van aanbidding, die enigste maatstaf van oordeel en van die karakter. Dit is vordering, nie na bo nie, maar na benede. GS 628.1

Dit is ‘n wet, sowel op intellektuele as geestelike gebied, dat ons deur aanskouing verander word. Die verstand pas hom geleidelik aan by die onderwerpe wat hy bedink; dit neem die dinge op wat dit eer en liefhet. Die mens sal nooit ‘n hoër standaard bereik as die maatstaf van reinheid en goedheid en waarheid wat hy vir homself stel nie. As self sy hoogste ideaal is, sal hy nooit iets hoër bereik as self nie. Hy sal eerder laer en laer sak. Die genade van God alleen het mag om die mens te verhef. Aan homself oorgelaat, sal hy onvermydelik laer sak. GS 628.2

Aan selfverwende, genotsugtige, wellustige persone doen Spiritisme hom minder vermomd voor as aan die verfyndes en geleerdes; in die growwer vorms daarvan vind hulle wat ooreenstem met hulle begeertes. Satan maak ‘n studie van elke aanduiding van menslike swakheid, hy merk die sondes op waartoe persone geneig is, en dan sorg hy dat daar voldoende geleentheid gegee word om die neigings tot sonde te bevredig. Hy verlei mense tot onmatigheid in dinge wat op sigself wettig is, sodat hulle deur die onmatigheid hulle liggaamlike, verstandelike, en sedelike kragte verswak. Hy het duisende vernietig deur hulle tot die botviering van hulle drifte te beweeg, sodat hulle hele natuur verdierlik word, en hy doen dit nog steeds. En om sy werk te volbring verklaar hy, deur die geeste, dat “ware kennis die mens bokant die wet plaas;” en dat “wat is, reg is;” dat “God nie veroordeel nie;” en dat “alle sondes wat gepleeg is onskuldig is.” Waar die mense dus gelei word om te glo dat begeerte die hoogste wet is, dat losbandigheid vryheid is, en dat die mens aan homself alleen verantwoordelik is, is dit nie vreemd dat verdorwenheid en verlaging aan alle kante gesien word nie. Daar is menigtes wat leerstellings aanneem wat hulle nie belet om die inspraak van hulle eie vleeslike harte te gehoorsaam nie. Die teuels van selfbeheersing word aan wellus oorgegee, die vermoëns van verstand en siel word onderwerp aan die dierlike neigings, en triomfantlik vang Satan duisende in sy net, wat voorgee om navolgers van Christus te wees. GS 628.3

Maar niemand hoef bedrieg te word deur die leuenagtige aansprake van Spiritisme nie. God het aan die wêreld genoeg lig gegee om hierdie bedrog te openbaar. Soos ons alreeds aangetoon het, is die teorie wat ten grondslag lê van Spiritisme in stryd met die duidelikste verklarings van die Skrifte. Die Bybel verklaar dat die dode niks weet nie, en dat hulle gedagtes vergaan het: dat hulle geen aandeel meer het in enigiets onder die son nie; en dat hulle niks weet van die vreugde of droefheid van hulle dierbares op aarde nie. GS 629.1

En wat meer is, God het uitdruklik alle sogenaamde kommunikasie met die geeste van afgestorwenes verbied. In die dae van die Hebreërs was daar mense wat voorgegee het, net soos Spiritiste van vandag, dat hulle in verbinding met die dode kan tree. Maar die “geeste van afgestorwenes,” soos hierdie besoekers van ander wêrelde genoem word, is volgens die Bybel “geeste van duiwels.” (Vergelyk Num. 25: 1-3; Ps. 106: 28; 1 Kor. 10: 20; Openb. 16: 14.) Om met die geeste van afgestorwenes om te gaan, is ‘n gruwel vir die Here, en dit was verbode op straf van die dood. (Lev. 19: 31; 20: 27.) Vandag nog dink mense aan die woord “towery” met veragting. “Die aanspraak dat mense met bose geeste kan praat word beskou as ‘n fabel van die Middeleeue. Maar Spiritisme, wat honderde duisende aanhangers het, ja miljoene, en wat selfs wetenskaplike kringe binnegedring het, ook die kerke, en wat aanhangers het in die wetgewende rade en selfs koninklike howe—hierdie reusebedrog is slegs ‘n herlewing, in ‘n nuwe vermomming, van die towery wat in die outyd verbied en veroordeel is. GS 629.2

As daar geen ander bewyse was van die ware aard van Spiritisme nie, behoort dit vir Christene genoeg te wees dat die geeste geen verskil maak tussen geregtigheid en sonde nie, tussen die edelste en reinste apostels van Christus en die besoedelste diensknegte van Satan nie. Deur te beweer dat die slegste mense in die hemel is en daar hoog aangeskryf staan, sê Satan aan die wêreld: “Dit maak nie saak hoe sleg jy is nie; en of jy God en die Bybel glo of nie. Lewe soos jy wil; die hemel is jou tuiste.” Die spiritistiese leraars sê feitlik, “Elkeen wat kwaad doen is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy ‘n behae; of, anders: Waar is die God van die reg?” Mal. 2: 17. Die woord van God sê, “Wee hulle wat sleg goed noem, en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis.” Jes. 5: 20. GS 630.1

Waar die leuenagtige geeste hulleself voordoen as die apostels, laat hulle die apostels weerspreek wat hulle voorheen onder leiding van die Heilige Gees op aarde geskryf het. Hulle ontken die goddelike oorsprong van die Bybel, en daardeur vernietig hulle die grondslag van die Christen se hoop, en hulle doof die lig uit wat die pad na die hemel aanwys. Satan wil die wêreld wysmaak dat die Bybel ‘n blote verdigsel is, of ‘n boek wat net geskik was vir die kinderjare van die menslike geslag, maar wat sou veronagsaam of verwerp moet word as ouderwets. In die plek van die woord van God bied hy spiritistiese openbarings aan. Hier het ons ‘n kanaal wat totaal onder sy beheersing is; deur middel daarvan kan hy die wêreld laat glo wat hy wil. Die Boek wat hom en sy navolgers veroordeel, skuif hy opsy; die Verlosser van die wêreld word voorgestel as ‘n gewone mens. Net soos die Romeinse wag by die graf van Christus die leuenagtige gerugte versprei het wat die priesters en owerstes in hulle mond gelê het, om Sy opstanding te loënstraf, so ook probeer diegene wat glo in spiritistiese verskynsels om dit te laat blyk dat daar niks bonatuurliks in verband met die Heiland se lewe staan nie. Nadat hulle dus getrag het om Jesus op die agtergrond te stel, vestig hulle die aandag van mense op hulle eie wonderwerke, en hulle verklaar dat dit die werke van Christus ver oortref. GS 630.2

Dit is waar dat Spiritisme tans van gedaante verander, sommige van sy aanstootlikste eienskappe vermom en ‘n Christelike voorkomste aanneem; maar wat hulle gesê en geskryf het, is vir jare reeds aan die publiek bekend, en dit is daarin dat die ware karakter van Spiritisme geopenbaar is. Hierdie leerstellings kan nie ontken of verberg word nie. GS 630.3

Maar in sy huidige vorm, nie dat dit meer aanneemlik as voorheen is nie, is dit baie gevaarliker omdat dit listiger is. Waar dit eers Christus en die Bybel verwerp het, gee dit tans voor om albei aan te neem. Maar die Bybel word uitgelê op ‘n manier wat aanneemlik is vir die onwedergebore hart, terwyl die plegtige en belangrike waarhede daarvan van nul en gener waard gemaak word nie. Liefde word beklemtoon as die hoofeienskap van God, maar dit word verlaag tot ‘n soetsappige sentimentalisme en dit maak maar min verskil tussen goed en kwaad. Gods geregtigheid, Sy veroordelings van die sonde, en die vereistes van Sy heilige wet, word bedek. Die mense word geleer om die Dekaloog as ‘n dooie letter te beskou. Strelende, betowerende fabels vang die mense en lei hulle om die Bybel as die grondslag van hulle geloof te verwerp. Christus word net so gewis verloën as voorheen; maar Satan het die oë van die mense so verblind dat hulle hierdie bedrog nie raak sien nie. GS 631.1

Daar is maar min mense wat ‘n regte besef het van die verleidelike krag van Spiritisme en die gevaarlike invloed daarvan. Baie mense bemoei hulle daarmee uit blote nuuskierigheid. Hulle glo nie eintlik daarin nie, en die gedagte dat hulle hulle oorgee aan die beheersing van geeste, sou hulle met veragting verwerp. Maar hulle waag hulleself op verbode grond, en die magtige verwoester bring hulle teen hulle wil onder sy mag. As hulle maar net eenmaal oorgehaal kan word om hulle gedagtes in sy rigting te laat gaan, vang hy hulle. Dit is vir hulle onmoontlik om in hulle eie krag los te kom van die verleidelike betowering. Niks behalwe die krag van God, gegee in antwoord op die gebed van geloof, kan hierdie verstrikte siele verlos nie. GS 632.1

Almal wat toegee aan sondige neigings, of gewilliglik sonde koester waarvan hulle bewus is, lok die versoekings van Satan uit. Hulle skei hulle af van God en van die beskerming van Sy engele; namate die bose sy verleidings voorstel, is hulle sonder beskerming, en hulle word ‘n maklike prooi. Diegene wat hulle op hierdie manier in sy mag stel, besef nie waar hulle weg sal eindig nie. Nadat hy hulle ondergang bewerk het, sal die ver soeker hulle gebruik as sy werktuie om ander tot ondergang te lok. GS 632.2

Die profeet Jesaja sê: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie? Moet vir die lewende die dode gevra word? Na die wet en na die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” Jes. 8: 19, 20. As mense gewillig was om die waarheid aan te neem, wat so duidelik geleer word in die Skrifte aangaande die natuur van die mens en die staat van die dode, sou hulle in die aansprake en verskynsels van Spiritisme die werking van Satan met krag en tekens en wonders van die leuen sien. Maar liewer as om die vryheid op te gee wat so aanneemlik is vir die vleeslike hart, en die sondes te versaak wat hulle liefhet, sluit menigtes hulle oë vir die lig en hulle gaan voort, ongeag die waarskuwings, terwyl Satan sy strikke vir hulle stel en hulle sy prooi word. “Omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.” daarom “sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.” 2 Thess. 2: 10, 11. GS 632.3

Diegene wat die leerstellings van Spiritisme weerstaan, weerstaan nie mense alleen nie. maar Satan en sy engele. Hulle het ‘n stryd aanvaar teen owerhede, teen die magte, en teen bose geeste in die lug. Satan sal nie ‘n enkele duim grond toegee tensy hy teruggedryf word deur die mag van hemelse boodskappers nie. Die volk van God behoort hom te weerstaan. net soos ons Heiland. met die woorde, “Daar is geskrywe.” Satan kan vandag die Skrit aanhaal net soos in die tyd van Christus, en hy sal die Skrifte verdraai om sy bedrog te bewys. Diegene wat in tye van gevaar wil staande bly, moet self die getuienis van die Skrifte verstaan. GS 633.1

Baie sal te staan kom voor geeste van duiwels wat hulleself voordoen as afgestorwe bloedverwante of vriende, en wat die gevaarlikste dwalings verkondig. Hierdie besoekers sal ‘n beroep doen op ons teerste medelyde, en hulle sal wonderwerke verrig om te bewys wat hulle voorgee. Ons behoort gereed te wees om hulle te weerstaan met die Bybelse waarheid dat die dode niks weet nie, en dat diegene wat hulleself voordoen as die dode, die geeste van duiwels is. GS 633.2

N’et voor ons is “die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.” Openb. 3: 10. Almal wie se geloof nie bevestig is in die woord van God nie, sal bedrieg en oorwin word. Satan werk “met allerhande verleiding van ongeregtigheid” om die mensekinders te beheers, en sy bedrieëry sal steeds toeneem. Maar hy sal sy doel bereik alleen namate mense vrywillig aan sy versoekings toegee. Diegene wat ernstig soek na ‘n kennis van die waarheid, en wat trag om hulle siele te reinig deur gehoorsaamheid, en wat doen wat hulle kan om hulleself te berei vir die stryd, sal, in die God van waarheid, ‘n vaste vesting he. “Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar,” is die belofte van die Heiland aan ons. (Openb. 3: 10.) Liewer as om een siel wat op Hom vertrou, oor te laat aan die oorwinning van Satan, sal hy al die engele uit die hemel stuur om Sy volk te beskerm. GS 633.3

Die profeet Jesaja beskryf die groot bedrog wat oor die goddelose sal kom en hulle daartoe sal bring om te glo dat die oordele van God hulle nie sal tref nie: “Ons het ‘n verbond met die dood gemaak, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die oorstromende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en in bedrog ons weggesteek.” Jes. 28: 15. In die klas wat hier beskryf word, is ook diegene opgeneem wat in hulle hardnekkige onboetvaardigheid hulleself troos met die versekering dat daar geen straf vir die sondaar sal wees nie; en dat die ganse mensdom, dit maak nie saak hoe sondig hulle is nie, tot die hemel sal verhef word om soos die engel van God te word. Maar op beslister wyse nog maak diegene ‘n verbond met die dood en ‘n ooreenkoms met die hel, wat die waarhede versaak wat die hemel gegee het as ‘n beskutting vir die regverdiges in die dag van benoudheid, en wat die skuilplek van die leuens aanneem wat Satan in die plek daarvan aanbied—naamlik die verleidelike aansprake van Spiritisme. GS 634.1

Onbeskryflik en onverstaanbaar is die blindheid van die mense van hierdie geslag. Duisende verwerp die woord van God as iets wat hulle geloof onwaardig is, en met gretige vertroue aanvaar hulle die bedrog van Satan. Twyfelaars en spotters laak die bekrompenheid van diegene wat stry vir die geloof van die profete en die apostels, en hulle vermaak hulleself deur die plegtige verklarings van die Skrifte aangaande Christus en die verlossingsplan en die vergelding van die verwerpers van die waarheid, te bespot. Hulle maak asof hulle baie jammer is vir mense wat so bekrompe, swak, en bygelowig is as om die aansprake van God te erken en die voorskrifte van Sy wet te gehoorsaam. Hulle is so seker van hulleself dat dit waarlik lyk asof hulle ‘n verbond met die dood en ‘n ooreenkoms met die hel aangegaan het — nes of hulle ‘n onoorkomelike en ondeurdringbare muur gestel het tussen hulle en die wraak van God. Niks kan hulle bang maak nie. So volkome het hulle hulle oorgegee aan die versoeker, so nou is hulle met hom verbind, en so deeglik is hulle besiel met sy gees, dat hulle geen krag of geen lus het om los te breek uit sy strikke nie. GS 634.2

Lank reeds is Satan besig met die voorbereiding vir sy laaste poging om die wêreld te bedrieg. Hy het die grondslag van sy werk gelê met die versekering aan Eva in Eden, “Julle sal gewis nie sterwe nie. ... As julle daarvan eet, [sal] julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Gen. 3:4, 5. Trapsgewyse het dit die weg berei vir sy meesterbedrog in die ontwikkeling van Spiritisme. Hy het nog nie ten voile sy doel bereik nie; maar hy sal dit bereik in die laaste bietjie tyd. Die profeet sê: “Ek het . . . drie onreine geeste soos paddas sien kom. . . . Dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God.” Openb. 16: 13, 14. Behalwe die wat deur geloof in Sy woord, deur die krag van God bewaar word, sal die hele wêreld bedrieg word. Die mense word vinnig aan die slaap gesus deur ‘n valse gerustheid, waaruit hulle alleen gewek sal word deur die uitstorting van die wraak van God. GS 635.1

So sê die Here God: “Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie stand hou nie; as die oorstromende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.” Jes. 28: 17, 18. GS 635.2