Die Groot Stryd

32/45

Hoofstuk 30—Vyandskap Tussen die Mens en Satan

“EK sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Gen. 3:15. Die goddelike vonnis oor Satan, na die val van die mens, het ook ‘n profesie bevat wat alle eeue insluit tot by die einde van tyd, en dit het die groot stryd voorspel waarin al die geslagte wat op die aarde sou lewe, gewikkel sou word. GS 573.1

God sê, “Ek sal vyandskap stel.” Hierdie vyandskap is nie iets wat van nature in die mens is nie. Toe die mens die goddelike wet oortree het, het sy natuur sondig geword, en hy was in ooreenstemming en nie in stryd met Satan nie. Van nature is daar geen vyandskap tussen die sondige mens en die bewerkers van die sonde nie. Albei het sondig geword weens afval. Die afvallige rus nooit tensy hy medelyde en medewerking verkry in sy oorreding van ander om ook sy voorbeeld na te volg nie. Om hierdie rede, werk bose engele en sondige mense saam in ‘n noodgedwonge vennootskap. As God nie spesiaal tussenbei gekom het nie, sou Satan en die mens ‘n verbond aangegaan het teen die Hemel, en in stede van vyandskap teen Satan te koester, sou die ganse mensdom saam met hom gewerk het teen God. GS 573.2

Satan het die mens tot sonde verlei, en hy het die engele tot opstand beweeg om desdoende hulle medewerking te verkry in sy stryd teen die Hemel. Wat betref hulle haat vir Christus, was daar eenstemmigheid tussen hom en die engele; hoewel hulle dit op alle ander punte oneens was, was hulle onwrikbaar eens in hulle weerstand teen die gesag van die Heerser van die heelal. Maar toe Satan hoor dat daar vyandskap gestel is tussen hom en die vrou, en tussen sy saad en haar saad, het hy geweet dat sy pogings om die menslike natuur te verlaag, onderbreek sou word; hy het geweet dat die mens op die een of ander manier in staat gestel sou word om sy mag te weerstaan. GS 574.1

Satan se vyandskap teen die mens het ontbrand omdat hulle, deur Christus, die voorwerpe is van Gods liefde en genade. Sy bcgeerte is om die goddelike plan vir die redding van die mens in die war te stuur, om God te onteer deur Sy handewerk te skend; en hy sou droefheid in die hemel laat ontstaan en die aarde met ellende en verwoesting vervul. En dan sou hy na al hierdie ellende wys en beweer dat dit die gevolg is van Gods werk in die skepping van die mens. GS 574.2

Dit is die genade wat Christus in die siel bring, wat in die mens vyandskap verwek teenoor Satan. Sonder hierdie reddende genade en vernuwende krag, sou die mens ‘n gevangene van Satan bly, en sy slaaf wat steeds gereed is om sy bevele uit te voer. Maar die nuwe beginsel in die siel verwek ‘n stryd waar daar voorheen vrede was. Die krag wat Christus meedeel, stel die mens in staat om hierdie tiran en indringer te weerstaan. Wie ookal die sonde verfoei in stede van dit lief te hê, en wie daardie drifte weerstaan en oorwin wat binne-in die hart heerskappy voer, toon die werking van ‘n beginsel wat geheelenal van bo kom. GS 574.3

Die vyandigheid tussen die Gees van Christus en die gees van Satan is duidelik geopenbaar in die wêreld se verwerping van Jesus. Dit was nie soseer omdat Hy sonder wêreldse rykdom, prag en praal verskyn het, dat die Jode Hom verwerp het nie. Hulle het gesien dat Hy mag gehad het wat die gebrek aan uiterlike vertoon sou vergoed. Dit was die reinheid en heiligheid van Christus wat die haat van die goddelose uitgelok het. Sy lewe van selfverloëning en sondelose toewyding was ‘n voortdurende bestraffing vir die trotse en sinlike volk. Dit was dit wat die vyandigheid teenoor die Seun van God verwek het. Satan en bose engele het saamgestaan met bose mense. Al die kragte van afvalligheid het saamgesweer teen die Kampvegter vir die waarheid. GS 574.4

Dieselfde vyandigheid wat teen hulle Meester geopenbaar is, word vandag geopenbaar teen die navolgers van Christus. Almal wat die afskuwelike aard van die sonde insien en wat deur krag van omhoog versoeking weerstaan, sal sekerlik die woede van Satan en sy onderdane opwek. Haat vir die reine beginsels van waarheid, en verwyt en vervolging van die voorstanders daarvan, sal daar wees solank as daar sondaars is. Die navolgers van Christus en die diensknegte van Satan is altyd in stryd. Die aanstoot van die kruis is nog altyd daar. “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” 2 Tim. 3: 12. GS 575.1

Satan se werktuie is gedurig besig om, onder sy leiding, sy gesag te bevestig en sy koninkryk op te bou in stryd met die regering van God. Met hierdie doel voor oë trag hulle om Christus se navolgers te mislei en ontrou te maak. Net soos hulle leier vertolk hulle die Skrifte verkeerd en verdraai hulle dit om hulle eie doel te bereik. Net soos Satan probeer het om beskuldigings teen God te slinger, so trag sy werktuie ook om Gods volk te beskinder. Die gees wat Christus om die lewe gebring het, beweeg die goddelose om Sy navolgers te vernietig. Al hierdie dinge is voorspel in daardie eerste profesie, “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou” (Gen. 3: 15), en hierdie vyandskap sal voortduur tot die einde van tyd. GS 575.2

Satan roep al sy magte op, en werp alles in die stryd. Waarom is dit dat hy nie groter teenstand ondervind nie? Waarom is dit dat gesante van Christus so lewendig-dood en onverskillig is? Dit is omdat hulle nie in ware verbinding met Christus is nie. Dit is omdat hulle nie Sy Gees het nie. Die sonde is vir hulle nie so afstotend en afskuwelik as dit vir hulle Meester was nie. Hulle weerstaan die sonde nie so beslis as wat Christus gedoen het nie. Hulle besef nie die ontsettende boosheid en afskuwelikheid van die sonde nie, en hulle is blind beide vir die karakter en die mag van die vors van duisternis. Daar is min weerstand teen Satan en sy werke omdat daar sulke groot onkunde heers in verband met sy mag en kwaadwilligheid, asook aangaande die groot omvang van sy stryd teen Christus en Sy kerk. Menigtes word op hierdie punt mislei. Hulle besef nie dat hulle vyand ‘n magtige generaal is wat heerskappy voer oor die bose engele, en wat met weldeurdagte planne en fynuilgewerkte bewegings oorlog voer teen Christus om die verlossing van siele te verhoed nie. Onder belydende Christene sowel as onder evangeliedienaars, word Satan se naam byna nooit genoem nie — behalwe miskien ‘n toevallige verwysing daarna uit die kansel. Hulle sien sy voortdurende bedrywigheid en suksesse oor die hoof; hulle slaan nie ag op die baie waarskuwings teen sy listigheid nie, en dit skyn asof hulle selfs sy bestaan vergeet het. GS 575.3

Terwyl mense onkundig is aangaande sy planne, is hierdie wakker vyand elke oomblik op hulle spoor. Hy dring elke deel van die huishouding binne, elke straat van ons dorpe, die kerke, die raadsvergaderings, en die geregshowe, waar hy bedrieg, verlei, moeilikheid veroorsaak, en orals die siel en die liggaam van mans, vrouens, en kinders verwoes; en hy verbreek gesinne, saai saad van haat, afguns, stryd, sedisie, en moord. Die hele Christenwêreld beskou hierdie dinge asof God hulle beskik het en asof hulle desnoods moet wees. GS 577.1

Satan is gedurig daarop uit om die volk van God te oorwin deur die skeidsmure af te breek wat hulle van die wêreld skei. Israel vanouds is tot die sonde verlok toe hulle hulle op verbode grond begewe het in omgang met die heidene. Op dieselfde manier word hedendaagse Israel verlei. “Die god van hierdie wêreld [het] die sinne verblind, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” 2 Kor. 4: 4. Almal wat nie besliste navolgers van Christus is nie, is diensknegte van Satan. In die hart wat nie wedergebore is nie, is daar ‘n liefde vir die sonde en ‘n gesindheid om dit te koester en dit te verskoon. In die wedergebore hart is daar ‘n haat vir die sonde, en vasberade weerstand daarteen. Wanneer Christene die geselskap soek van goddelose en ongelowiges, stel hulle hulleself bloot aan versoeking. Satan skuil op die agtergrond, en op slinkse wyse trek hy die sluier van bedrog oor hulle oë. Hulle kan nie sien dat sulke geselskap skadelik vir hulle is nie; en terwyl hulle al die tyd gelykvormig word aan die wêreld in karakter, woorde en dade, word hulle steeds meer en meer verblind. GS 577.2

Gelykvormigheid aan wêreldse gebruike bekeer die kerk tot die wêreld; dit bekeer nooit die wêreld tot Christus nie. Om eie te wees met die sonde sal dit gewis minder afskuwelik laat lyk. Die persoon wat verkies om met die diensknegte van Satan om te gaan, sal baie gou nie meer vrees vir hulle meester hê nie. As ons in die uitvoering van ons plig in beproewing kom, soos byvoorbeeld Daniel aan die koninklike hof, kan ons daarop reken dat God ons sal beskerm; maar as ons onsself in versoeking bring, sal ons vroeër of later val. GS 578.1

Die versoeker werk dikwels met die grootste sukses deur diegene van wie ons die minste verwag dat hulle onder sy mag is. Diegene wat geleerd is en talente het, word bewonder en geëer, asof hierdie hoedanighede hulle gebrek aan die vrees van God kan vergoed of Sy guns kan win. Talente en kultuur is op sigself gawes van God; maar as hierdie dinge in die plek gestel word van godsvrug liewer as middels om die siel nader aan God te bring, sal hulle mens van God weglei en ‘n vloek en ‘n strik word. Baie mense is onder die indruk dat alles wat na hoflikheid of verfyndheid lyk noodwendig iets Christeliks is. Maar nog nooit is daar ‘n groter fout begaan nie. Hierdie hoedanighede behoort die karakter van elke Christen te verfyn, want hulle oefen ‘n groot invloed uit ten gunste van ware godsdiens; maar hulle moet aan God gewy wees, of hulle sal ‘n mag ten kwade wees. Menige man van goeie verstand en aangename maniere, wat hom nie sal begewe tot wat in die omgang bekend is as ‘n onsedelike daad nie, is slegs ‘n verfynde werktuig in die hande van Satan. Die listige en bedrieglike invloed wat hy uitoefen maak hom ‘n gevaarlike vyand van die saak van Christus vir diegene wat onkundig en ongeleerd is. GS 578.2

Deur ernstige gebed en afhanklikheid van God, het Salomo wysheid verkry wat die verbasing en bewondering van die wêreld verwek het. Maar toe hy hom afgekeer het van die Bron van sy krag, en op homself begin vertrou het, het hy die prooi van versoeking geword. Toe het die kragte wat hierdie, die wysste van alle konings gehad het, hom slegs ‘n doeltreffender werktuig gemaak van die sielevyand. GS 579.1

Terwyl Satan steeds trag om hulle oë te verblind vir die feit, moet Christene nooit vergeet nie dat hulle “worstelstryd nie [is] teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, en teen bose geeste in die lug.” Efe. 6: 12. Die waarskuwing wat deur die eeue heen tot ons kom is: “Wees nugter en waak, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” 1 Petrus 5: 8. “Trek die voile wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” Efe. 6: 11. GS 579.2

Van die dae van Adam af tot in ons tyd, beoefen ons groot vyand sy mag om te verdruk en te vernietig. Hy is nou besig met voorbereidings vir sy laaste veldtog teen die kerk. Almal wat graag Jesus wil volg, sal in stryd kom met hierdie meedoënlose vyand. Hoe nader die Christen kom aan die goddelike Voorbeeld, hoe sekerder kan hy daarvan wees dat hy deur die Satan aangeval sal word. Almal wat aktief besig is in die saak van God, wat soek om die bedrog van die bose vyand aan die kaak te stel, en om Christus aan die mense voor te stel, sal saam met Paulus kan getuig waar hy sê dat hy die Here dien met alle nederigheid en baie trane en beproewinge. GS 579.3

Satan het Christus aangeval met sy kwaaiste en listigste versoekings; maar elke keer is hy teruggeslaan. Daardie botsings het ten behoewe van ons plaasgevind; daardie oorwinnings maak dit moontlik vir ons om te oorwin. Christus sal krag gee aan almal wat daarom vra. Geen mens kan ooit sonder sy eie toestemming deur Satan oorwin word nie. Die versoeker het geen mag om die wil te beheers of die siel tot sonde te dwing nie. GS 579.4