Die Koning Van Die Eeue
“Hy Moet Meer Word”
VIR 'n tyd was die invloed van die Doper oor die volk groter as die van hulle owerstes, priesters, of vorste. As hy homself sou aangekondig het as die Messias, en 'n opstand teen Rome gelei het, sou die priesters en die volk hulle om hom geskaar het. Alles wat die eersug van wêreldse veroweraars kon streel, was die Satan gereed om aan Johannes die Doper te gee. Maar ten spyte van die bewyse van sy mag, het hy vasberade die omkoopprys van die hand gewys. Die aandag wat op hom gevestig is, het hy op Iemand anders laat val. KE 175.1
Nou het hy gesien hoedat die gety van populariteit van homself af na die Verlosser vloei. Dag na dag het die skare wat hom eers gevolg het, verminder. Toe Jesus van Jerusalem na die Jordaanstreek gekom het, het die mense toegestroom om Hom te hoor. Die getal van Sy dissipels het elke dag vermeerder. Baie het gekom om gedoop te word, en alhoewel Christus self nie gedoop het nie, het Hy Sy dissipels toegelaat om dit te doen. Sodoende het Hy die seël geplaas op die werk van Sy voorloper. Maar Johannes se dissipels het met afguns die toenemende populariteit van Jesus gadegeslaan. Hulle was klaar om Sy werk te kritiseer, en dit was ook nie lank voordat hulle geleentheid gekry het nie. Daar het 'n vraag ontstaan tussen hulle en die Jode of die doop die siel van die sonde reinig; hulle het aangevoer dat die doop van Jesus wesenlik verskil het van die van Johannes. Dit was ook nie lank nie, of hulle was in 'n stryery gewikkel met die dissipels van Jesus aangaande die regte formulier by die doop, en selfs ook of hulle reg het om die doop te bedien. KE 175.2
Die dissipels van Johannes het na hom gekom met hulle klagtes en gesê: “Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.” Deur hierdie woorde het die Satan Johannes in versoeking gebring. Alhoewel Johannes se sending skynbaar byna klaar was, was dit nog vir hom moontlik om die werk van Christus te belemmer. As hy met homself sou gesimpatiseer, en droefheid en teleurstelling geopenbaar het omdat hy vervang is, sou hy die saad van tweedrag gesaai het; dit sou afguns en jaloesie veroorsaak, en dit sou die vooruitgang van die evangelie ernstig gestrem het. KE 176.1
Van nature was Johannes onderhewig aan die foute en swakhede wat alle mense maar het, maar die aanraking van goddelike liefde het hom verander. Hy het beweeg in 'n atmosfeer wat nie besoedel was deur selfsug en eersug nie, en hy het gelewe bokant die walm van jaloesie. Hy het geen simpatie betoon met die ontevredenheid van sy dissipels nie, maar duidelik laat blyk dat hy sy verhouding tot die Messias verstaan het, en ook hoe graag hy die Een verwelkom vir wie hy die weg berei het. KE 176.2
Hy het gesê, “'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie. Julie is self my getuie dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uit gestuur is. Die een wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom.” Johannes het homself voorgestel as die vriend wat as boodskapper optree tussen die verloofde paar, en wat die weg vir die huwelik berei. Wanneer die bruidegom sy bruid ontvang het, is die werk van die vriend klaar. Hy het hom verheug in die blydskap van diegene wie se egverbintenis hy bevorder het. So is Johannes dan geroep om die aandag van die mense op Jesus te vestig, en dit het hom verbly om die sukses van die Heiland se werk te sien. Hy het gesê: “So is dan hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, maar ek minder.” KE 176.3
Siende in geloof op die Verlosser, het Johannes die hoogtepunt in selfverloëning bereik. Hy het nie gestreef om mense tot homself te trek nie, maar om hulle gedagtes hoër en hoër op te hef totdat hulle eindelik sou rus op die Lam van God. Hy self was maar net n stem, 'n stem roepende in die woestyn. Nou het hy met blydskap swygsaamheid en afgesonderdheid aanvaar, sodat die oë van almal die Lig van die lewe mag aanskou. KE 176.4
Diegene wat getrou is aan hulle roeping as boodskappers van God, sal nie vir hulleself eer soek nie. Liefde vir die eie-ek sal verswelg word deur liefde vir Christus. Geen wedywering sal die heerlike saak van die evangelie bederf nie. Hulle sal besef dat dit hulle werk is om aan te kondig, soos Johannes die Doper, “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1: 29. Hulle sal Jesus verhoog, en saam met Hom sal die mensdom verhoog word. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is Sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbry- selde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nede- riges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes. 57: 15. KE 177.1
Die siel van die profeet, ontledig van die eie-ek, was vervul met goddelike lig. Waar hy getuig het van die Verlosser se heerlikheid, was sy woorde byna net soos die wat Christus self gespreek het in Sy onderhoud met Nikodemus. Johannes het gesê, “Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. . . . Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.” Christus sê, “Ek [soek] nie My eie wil nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” Joh. 5: 30. Aan Hom is gesê: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, U God U gesalf met vreugde-olie bo U metgeselle.” Heb. 1: 9. Die Vader “gee Hom die Gees nie met mate nie.” KE 177.2
So ook met die navolgers van Christus. Ons kan die lig van die hemel ontvang alleen namate ons gewillig is om van die eie-ek ontledig te word. Ons kan nie die karakter van God sien, of Christus deur die geloof aanneem, tensy ons gewillig is om elke gedagte gevange te gee in gehoorsaamheid aan Christus nie. Aan almal wat dit doen, word die Heilige Gees sonder maat gegee. In Christus “woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom.” Kol. 2:9, 10. KE 177.3
Die dissipels van Johannes het verklaar dat al die mense na Christus toe kom; maar met 'n meer helder insig het Johannes gesê, “Niemand neem Sy getuienis aan nie;” want so min was gereed om Hom aan te neem as die Verlosser van die sonde. Maar “wie Sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waar is.” Joh. 3: 33. “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe.” Dit was onnodig om te stry oor wie se doop, òf die van Christus òf die van Johannes van die sonde gereinig het. Dit is die genade van Christus wat lewe aan die siel gee. Sonder Christus is die doop, soos enige ander diens, 'n waardelose vorm. “Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” Die sukses van Christus se werk wat Johannes met soveel vreugde aangeneem het, is ook gerapporteer aan die owerhede te Jerusalem. Die priesters en rabbi's was jaloers op die invloed van Johannes toe hulle sien dat die mense die sinagoges verlaat en na die woestyn stroom, maar hier was nou Iemand wat nog groter krag gehad het om die skares te trek. Daardie leiers in Israel was nie gewillig om saam met Johannes te sê nie, “Hy moet meer word, maar ek minder.” Hulle het nou met nog groter vasberadenheid besluit om 'n end te maak aan die werk wat die mense van hulle af weggelok het. KE 177.4
Jesus het geweet dat hulle alle pogings sou aanwend om onenigheid te saai tussen Sy dissipels en die van Johannes. Hy het geweet dat die storm gebroei het wat een van die grootste profete wat die wêreld nog ooit gesien het, sou wegveeg. Omdat Hy geen geleentheid vir misverstand of onenigheid wou gee nie, het Hy stil Sy werk gestaak en na Galilea vertrek. Ook ons, terwyl ons getrou aan die waarheid bly, moet alles vermy wat onenigheid of misverstand kan veroorsaak, want waar sulke dinge ontstaan, is die gevolg verlies aan siele. As daar omstandighede ontstaan wat dreig om 'n skeuring te veroorsaak; moet ons die voorbeeld van Jesus en Johannes die Doper volg. KE 179.1
Johannes is geroep om leiding te gee as hervormer. Ten gevolge hiervan was die gevaar daar dat sy dissipels hulle aandag op hom sou vestig en voel dat die sukses van die werk van sy arbeid af- hanklik was, en dat hulle sou vergeet dat Hy slegs 'n werktuig was deur wie God gewerk het. Maar die werk van Johannes was nie genoeg om die fondament van die Christelike kerk te le nie. Ná sy sending vervul was, moes daar 'n ander werk gedoen word wat sy prediking nie sou kon teweegbring nie. Sy dissipels het dit nie verstaan nie. Toe hulle sien dat Christus inkom om daardie werk te doen, het hulle jaloers en ontevrede geword. KE 179.2
Dieselfde gevare bestaan vandag nog. God roep 'n man om n sekere werk te doen, en wanneer hy dit so ver gedryf het as waartoe hy bekwaam is, dan bring die Here ander om dit nog verder voort te sit. Maar, net soos die dissipels van Johannes, is daar baie wat voel dat die sukses van die werk afhanklik is van die eerste werker. Die aandag word gevestig op die menslike liewer as op die goddelike, daar ontstaan jaloesie, en die werk van God ly skade. Die persoon wat dus te veel vereer word, begin op homself te vertrou; hy besef nie sy, afhanklikheid van God nie. Die mense word geleer om op 'n mens te vertrou vir leiding, en so dwaal hulle af, weg van God af. KE 179.3
Die werk van God moet nie die beeld en opskrif van 'n mens dra nie. Van tyd tot tyd sal die Here verskillende werktuie gebruik waardeur Sy raadsbesluite uitgevoer sal word. Gelukkig is diegene wat gewillig is om die eie-ek op die agtergrond te stel en saam met Johannes die Doper sê, “Hy moet meer word, maar ek minder.” KE 179.4